Die plek van die dooies

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. – Lukas 16:22

INLEIDING
Hierdie onderwerp oor die plek van die dooies word bespreek in vyf hoof kategorieë.

I. DIE ONSIGBARE WÊRELD
Die eerste hoof kategorie is die onsigbare wêreld

In die Hebreeuse Ou Testament en die Griekse Nuwe Testament is daar in totaal dertien verskillende terme wat die onsigbare wêreld beskryf. Hierdie terme moet verstaan word om die plek van die dooies en die onsigbare wêreld ten volle te begryp.

A. Sheol
Die eerste term is die Hebreeuse woord Sheol. In die Afrikaanse Bybel word dit vertaal as die doderyk.

1. Die Skrifte
In die Ou Testament is daar in totaal vier-en-sestig verwysings na hierdie plek, en die term Sheol word dus omvangryk gebruik. Al vier-en-sestig skrifgedeeltes kan nie hier opgenoem word nie, maar dit kom regdeur die Ou Testament voor, en dit is nie beperk tot net sekere skrywers of ’n spesifieke tydsperiode nie. In die Boeke van Moses word Sheol genoem in Génesis, Númeri, en Deutoronómium. In die historiese Boeke word dit genoem in I Samuel, II Samuel, en I Konings. In die poëtiese Boeke word dit genoem in Job, Psalms, Spreuke, Prediker, en Hooglied van Salomo. In die Groot Profete word dit gevind in die Profesieë van Jesaja en Eségiël. Onder die Klein Profete word dit genoem in Hoséa, Amos, Jona, en Hábakuk. Sheol is ’n plek wat bekend is van die begin tot die einde van die Ou-Testamentiese geskiedenis.

2. Die Afleidings
Uit hierdie vier-en-sestig skrifgedeeltes kan ses afleidings gemaak word oor wat Sheol was.

Een, in die Ou-Testamentiese tyd was Sheol ’n plek waar sowel die regverdiges as die onregverdiges verwag het om heen te gaan wanneer hulle sterf (Ps. 89:49). Die regverdiges, die heiliges van die Ou Testament, het verwag om na Sheol neer te daal in Génesis 37:35; 42:38; 44:29, 31; Job 14:13; Psalm 16:10; en Jona 2:2. Die onregverdiges het ook verwag om na Sheol neer te daal in Númeri 16:30, 33; Job 24:19; Psalm 9:18; 49:14; en Eségiël 32:21.

Die tweede afleiding is dat dit vir die ongelowige ’n plek van groter afgryse was as vir die gelowige. Hoewel gelowiges sowel as ongelowiges neergedaal het na Sheol in die Ou Testament, was dit baie meer afgryslik vir die ongelowiges as vir die gelowiges (Job 24:19; Ps. 9:18; 49:15).

Die derde afleiding is dat daar verskillende vlakke of kompartemente in Sheol is. Die feit dat daar verwysings is na die doderyk diep daaronder, leer die feit dat daar verskillende vlakke of verskillende kompartemente in Sheol is (Deut. 32:22; Ps. 86:13).

Die vierde afleiding omtrent Sheol, is dat die koers van Sheol altyd na benede is. Wanneer mense van Sheol gepraat het, het hulle daarna verwys as ’n plek waarheen afgedaal of neergedaal word (Gen. 37:35; 42:38; 44:29, 31; Num. 16:30, 33; I Sam. 2:6; I Kon. 2:6, 9; Job 7:9; 11:8; 17:16; 21:13; Ps. 30:4; Spr. 5:5; 7:27; 15:24; Jes. 5:14; 14:9; Eseg. 32:21; Amos 9:2).

Die vyfde afleiding is dat Sheol ’n plek van bewustheid was. Die wat na Sheol afgegaan het, was in ’n staat van bewustheid (Jes. 14:9-10; Joh. 2:2).

Die sesde afleiding omtrent Sheol, is dat Sheol nie afgesny was van God se jurisdiksie nie (Job 26:6; Ps. 139:8; Deut. 32:22).

Sheol was dus ’n hoof term vir die onsigbare wêreld.

B. Hades
Die tweede term vir die onsigbare wêreld, is die woord Hades. Dit is ’n Griekse woord, en daarom word dit net in die Nuwe Testament aangetref, waar dit in die Afrikaanse Bybel, net soos Sheol, ook vertaal word as die doderyk.

1. Die Skrifte
Die Griekse woord Hades kom voor in tien Nuwe-Testamentiese skrifgedeeltes.

Matthéüs 11:23: jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.

Matthéüs 16:18: die poorte van die doderyk.

Lukas 10:15: jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.

Lukas 16:23: toe hy in die doderyk sy oë ophef.

Handelinge 2:27 kwoteer Psalm 16:10: U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie.

Handelinge 2:31: dat sy siel nie in die doderyk verlaat is … nie.

In Openbaring 1:18 verklaar die opgestane Christus, Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

Openbaring 6:8: sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg.

Openbaring 20:13: die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was.

En Openabring 20:14: die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.

2. Die Afleidings
Uit hierdie tien verwysings omtrent Hades in die Nuwe Testament, kan sewe afleidings gemaak word.

Een, Hades is dieselfde as Sheol. Hades is die Griekse term vir die Ou-Testamentiese Hebreeuse term Sheol, en alles wat waar is van Sheol, is dus outomaties waar van Hades. Dit is duidelik uit die feit dat, hoewel Psalm 16:10 die term Sheol gebruik, dit Hades genoem word wanneer dit in die Nuwe Testament aangehaal word in Handelinge 2:27, 31. Sheol en Hades is dus presies dieselfde, met Sheol wat die Hebreeuse term is en Hades wat die Griekse term is.

Die tweede afleiding is dat dit ’n plek was vir sowel die regverdiges as die onregverdiges. In Lukas 16:19-31 is die onregverdige ryk man in Hades. Maar volgens Handelinge 2:27, 31, was die Regverdige Een, Jesus Christus, ook in Hades.

Drie, Hades het bestaan uit twee hoof kompartemente (Luk. 16:19-31). Die afdeling vir die ongelowige was die eintlike Hades, en die afdeling vir die gelowige was bekend as die boesem van Abraham. Later in hierdie studie sal daar meer hieroor gesê word.

Die vierde afleiding is dat, hoewel beide gelowiges en ongelowiges na Hades neergedaal het, dit vir die ongelowiges besonder skrikwekkend was (Matt. 11:23; Luk. 10:15; 16:19-31).

Die vyfde afleiding is dat die koers van Hades altyd na benede was, nooit na bo nie (Matt. 11:23; Luk. 10:15).

Die sesde afleiding is dat dit ’n plek was van bewustheid, nie ’n plek van onbewustheid nie (Luk. 16:19-31).

Die sewende afleiding is dat Hades ’n tydelike staat is. Dit is nie die ewige staat nie, dit is net ’n tydelike staat (Op. 20:11-15).

C. Abaddon
Die derde Bybelse term vir die onsigbare wêreld is Abaddon. Dit is ’n Hebreeuse woord wat “vernietiging” beteken, en in die Afrikaanse 1933/53 vertaling van die Bybel, word dit vertaal as die plek van vertering. Aangesien dit ’n Hebreeuse term is word dit, met een uitsondering, net in die Ou Testament gevind.

1. Die Skrifte
In totaal word dit sewe keer in die Bybel gebruik.

Job 26:6: Naak lê die doderyk voor hom en die plek van vertering het geen bedekking nie.

Job 28:22: Die plek van vertering en die dood sê.

Job 31:12: ’n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet.

Psalm 88:12: Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?

Spreuke 15:11: Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die Here.

Spreuke 27:20: Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie.

En Openbaring 9:11 noem die engel van die afgrond op sy Hebreeuse naam, Abáddon, en gee ook sy Griekse naam, Apóllion. Die Griekse woord beteken dieselfde as die Hebreeuse woord: Vernietiging.

2. Die Afleidings
Uit hierdie sewe gebruike van die woord, kan drie afleidings gemaak word.

Een, in drie van sewe gevalle, word dit parallel met Sheol gebruik (Job 26:6; Spr. 15:11; 27:20). Al ses verwysings in die Ou Testament kom voor in poëtiese Boeke. Hebreeuse poësie is nie gebaseer op ritme of rym nie, maar op parallelisme. In hierdie drie gevalle, is Sheol gevolglik parallel met Abaddon of Abaddon is parallel met Sheol.

Die tweede afleiding is dat die term net in ’n negatiewe sin gebruik word. Daar is nie een enkele positiewe verwysing na Abaddon nie; almal van hulle het ’n negatiewe konnotasie.

Die derde afleiding is dat Abaddon ’n Hebreeuse naam is vir die ongelowiges se kant van Sheol of Hades. Dit is reeds uitgewys dat Hades uit twee hoof kompartemente bestaan: ’n kant vir die regverdiges en ’n kant vir die onregverdiges. Die term Abaddon was ’n Hebreeuse naam vir die onregverdige of die ongelowige se kant van Sheol of Hades.

D. Die Put
Die vierde term vir die onsigbare wêreld, is die uitdrukking die put. Dit is ook ’n Ou Testamentiese naam vir die onsigbare wêreld.

1. Die Skrifte
In totaal is daar drie-en-twintig verwysings na die put. Nie almal van hulle sal hier opgenoem word nie, maar die boeke waar dit aangehaal word, is Job, Psalms, Spreuke, Jesaja, en Eségiël.

2. Die Afleidings
Uit hierdie drie-en-twintig verwysings kan drie afleidings gemaak word.

Een, soos Abaddon, word dit altyd in negatiewe terme gebruik. Daar is nooit enigiets positiefs omtrent die put nie, alles is net negatief.

Twee, die koers is altyd na benede, nooit na bo nie.

Die derde afleiding is dat die term, die put, ’n beskrywende naam is vir die onregverdiges se kant van Sheol of Hades en dus is die term put sinoniem met die term Abaddon. Abaddon is die eienaam en die put is ’n beskrywende naam.

E. Die Afgrond
Die vyfde term vir die onsigbare wêreld, is die woord afgrond. Die wortel van die woord afgrond, handel oor konsepte soos “onderwêreld” of “bodemloos.” Afgrond is ’n Griekse woord en word daarom net in die Nuwe Testament gevind.

1. Die Skrifte
Hierdie woord word gevind in nege skrifgedeeltes, waarvan sewe in Openbaring voorkom.

Lukas 8:31: dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.

Romeine 10:7: Wie sal in die afgrond neerdaal?

Openbaring 9:1: die sleutel van die put van die afgrond.

Openbaring 9:2: hy het die put van die afgrond oopgemaak.

Openbaring 9:11: die engel van die afgrond.

Openbaring 11:7: die dier wat uit die afgrond opkom.

Openbaring 17:8: Die dier … sal uit die afgrond opkom.

Openbaring 20:1: die sleutel van die afgrond.

En Openbaring 20:3: en hom in die afgrond gewerp.

2. Die Afleidings
Uit hierdie nege verwysings na die afgrond, kan drie afleidings gemaak word.

Die eerste afleiding is dat die koers altyd na benede is.

Twee, dit word nooit geassosieer met mense nie; dit word altyd, met uitsondering van die Antichris, geassosieer met gevalle engele. Omdat die Antichris deur die mag van Satan verwek sal word, word hy verbind met engele en daarom ook met die afgrond.

Die derde afleiding wat ten opigte van die afgrond gemaak kan word, is dat die afgrond daardie gedeelte van Sheol of Hades is wat die tydelike plek van gevangeskap vir die gevalle engele is. Wanneer demone uit mense uitgedryf word, bring hulle soms ’n tydelike periode in die afgrond deur en dan word hulle vrygelaat. Dit is dus altyd ’n tydelike plek van gevangeskap. Satan sal in die afgrond gevange gehou word, maar selfs vir hom is dit tydelik, naamlik ’n 1,000-jaar lange tydperk (Op. 20:3).

F. Tartarus
Die sesde term ten opsigte van die onsigbare wêreld, is die Griekse woord Tartarus.

1. Die Skrifgedeelte
Die woord kom net in een skrifgedeelte voor, naamlik II Petrus 2:4: Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word.

2. Die Afleidings
Uit hierdie een vers kan vyf afleidings gemaak word.

Eerstens word dit kettings van duisternis genoem, en dit gee dus daaraan ’n negatiewe gevoelswaarde.

Twee, dit is ’n plek vir gevalle engele.

Drie, dit word verbind met gevalle engele in assosiasie met Noag. Waar die afgrond in die algemene sin met gevalle engele verbind word, word Tartarus geassosieer met engele wat op een of ander wyse met die tyd van Noag verbind word.

Die vierde afleiding is dat die engele wat in hierdie vers genoem word, duidelik dieselfde engele is as die waarvan Judas 6-7 praat. Op grond van die samehang van II Petrus 2:4 en Judas 6-7, is hierdie engele dieselfde as die seuns van God in Génesis 6 wat met menslike vrouens ondertrou het om die saad van die vrou te verderwe.

Die vyfde afleiding is dat Tartarus daardie afdeling van Sheol of Hades is wat die permanente plek van gevangeskap is vir daardie gevalle engele wat in Génesis 6 gesondig het. Terwyl die afgrond in die algemeen ’n tydelike plek van gevangeskap vir gevalle engele is, ’n plek waar gevalle engele of demone vir sekere tydsperiodes kom en gaan, is Tartarus verskillend; dit is ’n permanente plek van gevangeskap. Hierdie engele sal nooit uit hierdie gevangenis vrygelaat word nie, maar sal uiteindelik van Tartarus af na die Poel van Vuur gaan. Hierdie engele sal nooit weer vry wees nie. Die rede hoekom hierdie engele in ’n uitgesonderde plek, Tartarus, aangehou word, en nie in die afgrond nie, is vanweë die besondere aard van hulle sonde. Hulle is die engele wat in Génesis 6 manlike vorms aangeneem en met menslike vrouens ondertrou het met die doel om die saad van die vrou van Génesis 3:15 te verderwe. Wat hulle voortgebring het, was ‘n groteske ras. Dit is as gevolg van die bestaan van daardie groteske ras, dat die boosheid van die mens sy toppunt bereik het, en dat dit ’n wêreldwye vloed genoodsaak het om alle mense, met die uitsondering van een familie – die familie van Noag – te vernietig.

Dus, Tartarus is daardie afdeling van Sheol of Hades wat ’n permanente plek van gevangeskap is vir daardie engele wat in Génesis 6 gesondig het.

G. Die Hel
1. Die Oorsprong van die Woord

Die sewende term is “die Hel.” Die Afrkaanse woord “Hel” kom van ’n Germaanse wortel wat beteken “om weg te steek” of “om te bedek.” In die Bybel is daar geen spesifieke Hebreeuse of Griekse term vir die woord “Hel” nie. Hel was waarskynlik nie die beste term om mee vorendag te kom nie, maar dit is die term waarmee die Afrikaanssprekende wêreld bekend is, en moet dus so gebruik word. Maar net weer, nie in die Hebreeus óf die Grieks bestaan daar ’n enkele term wat “Hel” beteken nie. Die konsep van die Hel is ingesluit in sommige van die konsepte van Sheol en Hades, en word volledig omvat in die konsepte van Abaddon en die put. Hoewel die Bybel dus nie as sodanig ’n spesifieke term vir “die Hel” gebruik nie, is die konsepte van die Hel definitief Bybels. Dit wat ons “die Hel” noem, is wat in die Ou Testament Abaddon of die put genoem word, die onregverdige kant van Sheol of Hades.

Op grond van dit wat reeds verklaar is omtrent die kant van Sheol of Hades vir die onregverdiges, en dit wat verklaar is omtrent Abaddon of die put, is daar in die Hel net ongeredde mense. In die Hel is daar nie gevalle engele nie, want gevalle engele is in twee ander plekke, naamlik die afgrond of Tartarus. Terwyl die Hel sekere konsepte van Sheol of Hades bevat en die volle konsepte van Abaddon en die put, sluit dit die konsepte van die afgrond en Tartarus uit, want hierdie plekke is net vir gevalle engele.

2. Die Omstandighede in die Hel
Die omstandighede van die wat in die Hel is, kan afgelei word op grond van die kennis wat ons van Abaddon of die put het.

Een, hulle bestaan as skimme, net skimme en niks meer as skimme nie. Wanneer die Bybel die mense beskryf wat alreeds in die onregverdige kant van Sheol is, word hulle beskryf deur ’n Hebreeuse term wat “skimme” beteken (Spr. 9:18; Jes. 14:9).

Twee, hulle verkeer in smarte (Luk. 16:23-25). Op grond van die kennis ten opsigte van Abaddon en die put, kan drie dinge oor die Hel gesê word. Eerstens is daar ’n totale afwesigheid van geregtigheid. Tweedens is dit ’n plek wat afgeskei is van God. Derdens is dit ’n plek van oordeel.

H. Gehenna
Die agtste term vir die onsigbare wêreld, is die woord Gehenna, wat ‘n Griekse term is. Drie dinge omtrent hierdie plek moet genoem word.

1. Oorsprong van die Konsep van Gehenna
Die eerste saak handel oor die oorsprong van die konsep. Hoewel die term Gehenna Grieks is, kom die oorsprong van die konsep van Hebreeus af. Dit is eintlik ’n kombinasie van twee Hebreeuse woorde. Die eerste woord is Gei en die tweede woord is Hinnom; Gei Hinnom beteken “die Vallei van Hinnom,” ’n vallei buite die mure van Jerusalem. Die Vallei van Hinnom lê sirkelvormig om Jerusalem al langs die westekant van die muur af tot by die suidekant, waar dit aansluit by ’n ander vallei wat bekend is as die Kidronvallei, wat afloop vanaf die oostekant van die stad.

In die Ou Testament is die Vallei van Hinnom die plek waar sommige van die bose konings van Israel menslike offers gebring het. Die praktyk van mense-offers beteken dat dit ’n plek was waar mense verbrand is (II Kon. 23:10; II Kron. 28:3; 33:6; Jes. 30:33; Jer. 7:31-32; 19:1-15). Die oorsprong van Gehenna in die Nuwe Testament kom dus van die Hebreeuse woorde Gei Hinnom. Die Ou-Testamentiese konsep van die verbranding van mense beweeg fisies in die Nuwe Testament in met die woord Gehenna, en beskryf die onsigbare wêreld en die ewige verbranding van mense.

2. Die Skrifte
Die tweede saak omtrent Gehenna, is die Skrifte. Daar is twaalf verwysings na Gehenna. Elf van hierdie verwysings is in die Evangelies en een is buite die Evangelies.

Matthéüs 5:22: elkeen wat sê: jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

Matthéüs 5:29: nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

Matthéüs 5:30: nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

Matthéüs 10:28: vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

Matthéüs 18:9: in die helse vuur gewerp te word.

Matthéüs 23:15: ’n kind van die hel.

Matthéüs 23:33: hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Markus 9:43: om twee hande te hê en in die hel te gaan.

Markus 9:45: om twee voete te hê en in die hel gewerp te word.

Markus 9:47: om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.

Lukas 12:5: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp.

En Jakobus 3:6: en word uit die hel aangesteek.

3. Die Afleidings
Die derde saak omtrent Gehenna, is dat vier afleidings gemaak kan word uit hierdie twaalf verwysings in die Griekse Nuwe Testament.

Een, Gehenna is die ewige verblyf van die verlorenes, engele sowel as mense.

Die tweede afleiding omtrent Gehenna, is dat die straf beide die siel en die liggaam insluit. Dit is hoekom Gehenna nie as “Hel” vertaal behoort te word nie en ook nie met die Hel gelyk gestel moet word nie. Die Hel, soos aangetoon sal word, is ’n tydelike plek en dit is daar alleenlik vir die siel, maar Gehenna is ’n ewige plek en dit sluit sowel die siel as die liggaam in.

Die derde afleiding is dat dit ’n ewige smart is. Die Hel is tydelik, maar Gehenna gaan vir ewig wees.

Die vierde afleiding is dat Gehenna met vuur geassosieer word, en vuur is die bron van die smarte.

I. Die Poel van Vuur
Die negende term vir die onsigbare wêreld, is die poel van vuur.

1. Die Skrifte
Dit word in vier skrifgedeeltes gevind, al vier in Openbaring:

Openbaring 19:20, wat praat van die dier en die valse profeet wat lewend gewerp is in die vuurpoel wat met swawel brand.

Openbaring 20:10, wat verklaar dat die duiwel in die poel van vuur en swawel gewerp is.

Openbaring 20:14, wat sê: die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.

En Openbaring 21:8, wat verklaar: die poel wat brand met vuur en swawel is die tweede dood.

2. Die Afleidings
Uit hierdie vier verwysings in Openbaring kan vier afleidings gemaak word.

Een, die poel van vuur is die ewige verblyf van alle verlorenes, engele sowel as mense.

Twee, die straf sluit beide die siel en die liggaam in. Sowel die dood as die doderyk word in die poel van vuur gewerp. Die dood verwys na die stoflike deel van die mens, die liggaam; die doderyk verwys na die nie-stoflike deel van die mens, die siel en die gees. Die poel van vuur is die straf vir beide die liggaam en die sielegees.

Die derde afleiding is dat die poel van vuur dieselfde is as Gehenna. Gehenna is een term en die poel van vuur is ’n ander term wat albei verwys na dieselfde ding.

Die vierde afleiding is dat die poel van vuur geassosieer word met vuur en swawel as die bron van die smarte.

J. Die Boesem van Abraham
Die tiende term, is die boesem van Abraham.

1. Die Skrifgedeelte
In die rabbynse geskrifte is dit ’n baie algemene term, maar in die Bybel word dit net een keer aangetref, in Lukas 16:22-23: En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

2. Die Afleidings
Hoewel dit net in hierdie twee verse voorkom, kan daar nietemin ses dinge uit hierdie twee verse afgelei word.

Een, die boesem van Abraham is net vir die regverdiges; daar is geen onregverdiges in die boesem van Abraham nie.

Twee, dit is ’n gebied aangrensend aan die Hel. Dit is nie in die Hel nie, maar dit is gesetel naby die Hel, sodat die wat in die Hel is, soos die ryk man, kan sien wat in die boesem van Abraham aan die gebeur is, hoewel daar geen manier is waarop hulle daar kan kom nie.

Die derde afleiding is dat, hoewel die Hel en die boesem van Abraham langs mekaar is, hulle van mekaar geskei word deur ’n onoorbrugbare kloof. Hoewel elke kant die ander kant en die wat daarin is, kan sien en met mekaar gesprek kan voer, kan hulle nie van die een kant na die ander kant toe oorgaan nie.

Die vierde afleiding is dat die boesem van Abraham die gedeelte van die doderyk is wat die plek was vir die regverdiges, terwyl die Hel die plek was vir die onregverdige mense.

Die vyfde ding omtrent die boesem van Abraham, is dat die term beeldspraak is; in hierdie twee verse is dit die beskrywing van ’n gas by ’n fees wat teen die bors van sy buurman lê. Net soos wat Johannes in die Evangelie van Johannes teen Jesus se bors gelê het tydens die Fees van die Pasga, het Lasarus hier teen die bors van Abraham gelê. Dit is beeldspraak vir ’n gas by ’n fees wat teen die bors van sy buurman of gasheer lê.

Die sesde ding omtrent die boesem van Abraham, is dat dit geseëndheid na die dood gesimboliseer het. Terwyl Lasarus nie die goeie van die materiële wêreld ervaar het toe hy gelewe het nie, het hy na sy dood inderdaad in ’n staat van geseëndheid verkeer.

K. Die Paradys
Die elfde term met betrekking tot die onsigbare wêreld, is die Paradys. Die Griekse woord en sy Hebreeuse ekwivalent beteken “ ’n koninklike park of “ ’n tuin.”

1. Die Skrifte
Dit is net ’n Nuwe-Testamentiese term en word aangetref in drie skrifgedeeltes.

Die eerste is Lukas 23:43, waar Jesus vir die ander sterwende persoon aan die kruis gesê het: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.

’n Tweede skrifgedeelte is II Korinthiërs 12:4, wat sê dat Paulus weggeruk is in die Paradys of te wel die Derde Hemel (sien I.N.3 Die Hemel
en III.A.3. Die Hemelvaart van die Messias).

Die derde skrifgedeelte is Openbaring 2:7, wat van die toekoms sê: die boom van die lewe sal binne-in die paradys van God wees.

2. Die Afleidings
Uit hierdie skrifgedeeltes kan vier afleidings omtrent die Paradys gemaak word.

Een, dit is ’n term wat die woonplek van die regverdiges beskryf, ongeag van waar daardie woonplek op enige tydstip mag wees. In Lukas 23:43, is dit dieselfde as die boesem van Abraham, want op daardie tydstip het al die regverdiges neergedaal na die regverdige afdeling van Sheol of Hades, wat bekend was as die boesem van Abraham of die Paradys. Die Paradys was in die boesem van Abraham tot met die dood van Jesus.

Twee, volgens II Korinthiërs 12:4, is die Paradys tans in die Hemel. Na Jesus se Hemelvaart was die boesem van Abraham uitgeskakel. Gelowiges daal nie meer neer na die boesem van Abraham nie, maar gaan nou direk na die Hemel toe. Tans is die gelowiges se woonplek in die Hemel, en die Paradys is dus tans in die Hemel.

Die derde skrifgedeelte, Openbaring 2:7, praat van die toekoms wanneer die Paradys in die nuwe Jerusalem sal wees, wat beteken dat die Paradyswoning weer sal verander. Aangesien die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde, ná die Messiaanse Koninkryk die woonplek van alle gelowiges sal wees, sal die Paradys dus ook in die nuwe Jerusalem wees.

Om op te som, vanaf Adam tot met Jesus se Hemelvaart, was die Paradys in die boesem van Abraham. Vanaf Jesus se Hemelvaart tot aan die einde van die Millennium, is die Paradys in die Hemel. Dan, na die Millennium en tot in alle ewigheid, sal die Paradys in die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde wees.

L. Die Hemel
Nog ’n term vir die onsigbare wêreld, is “die Hemel.” Die Hemel sal in drie punte bespreek word.

1. Die Onderskeidings
Die eerste punt is dat die Bybel van drie verskillende hemele praat. Nie al drie het te doen met die onsigbare wêreld nie.

Die eerste hemel is die atmosfeer, want dit is die hemel waarin voëls rondvlieg (Gen. 1:20, 26; Jer. 4:25; Hag. 1:10; Matt. 8:20; 13:32; Hand. 10:12; 14:17).

Die tweede hemel staan bekend as “die hemelruim.” Dit is die hemel waar die son, maan, en die sterre is (Gen. 1:14-18; 22:17; 26:4; Matt. 24:29; Heb. 11:12; Op. 6:13). Die eerste en tweede hemele is nie deel van die onsigbare wêreld nie; hulle is sigbaar.

Die Derde Hemel egter, is deel van die onsigbare wêreld. Dit is die woonplek van God; dit is waar God vertoef (II Kor. 12:1-4).

2. Die Skrifte
Die tweede punt omtrent die Hemel is dat daar in totaal nege-en-dertig skrifgedeeltes is wat praat van die Derde Hemel. In die Ou Testament word dit gevind in die Boeke van Génesis, Deutoronómium, I Konings, II Kronieke, Job, Psalms, Prediker, Jesaja, Daniël, en Amos. In die Nuwe Testament kom die Derde Hemel voor in die Evangelies van Matthéüs, Markus, Lukas, en Johannes, in Handelinge, II Korinthiërs, Efésiërs, Kolossense, I Thessalonicense, Hebreërs, en I Petrus.

3. Die Afleidings
Uit hierdie nege-en-dertig verwysings na die Derde Hemel, kan ’n totaal van agt afleidings gemaak word.

Een, die bestaan van die Derde Hemel, die woonplek van God, is deur ooggetuies bevestig, want daar is ooggetuies wat die Derde Hemel gesien het. Jesus, wat daarvandaan gekom het, het van die bestaan daarvan getuig (Joh. 6). Paulus is in die Derde Hemel weggeruk om besondere openbaring te ontvang (II Kor. 12:1-4). Die apostel Johannes het ’n visioen gehad van die Derde Hemel en is selfs beveel om soontoe op te gaan sodat die dinge wat nog moet gebeur aan hom gewys kon word (Op. 4:1). Hy was getuie van dinge in die Hemel en het in die Boek van Openbaring daaroor geskryf. Dat dit bestaan, is dus bevestig deur ooggetuies.

Die tweede afleiding omtrent die Derde Hemel, is dat dit die woonplek van God is; dit is waar God woon.

Die derde afleiding is dat dit ook die woonplek is van die uitverkore engele. Dit is waar die goeie, uitverkore, heilige, nie-gevalle engele ook woon.

Die vierde afleiding is dat die Hemel waar is en dat dit ’n definitiewe plek is.

Die vyfde afleiding is dat die Hemel altyd bo is. Dit is bo die aarde, dit is bo die lug, dit is bo ruimte. Dit is bo die aarde, bo die eerste hemel en bo die tweede hemel.

Die sesde afleiding is dat dit ook die plek is vanwaar God regeer. Dit is waar God heers in Sy voorsienigheid, heers in Sy almag; elke aspek van Sy heerskappy is vanaf die Derde Hemel.

Die sewende afleiding is dat dit die plek is waar God aanbidding ontvang.

En die agtste afleiding is dat dit nou die woning is van die gestorwe heiliges. Gelowiges daal nie meer neer na die boesem van Abraham nie; hulle gaan nou direk Hemel toe. Dit is die tuiste van die gestorwe heiliges.

M. Die Nuwe Jerusalem
Die derde term wat gebruik word om die onsigbare wêreld te beskryf, is die Nuwe Jerusalem.

1. Die Skrifte
Die Nuwe Jerusalem word genoem in drie skrifgedeeltes.

Die eerste is Galásiërs 4:26, waar dit verklaar word dat Jerusalem wat daarbo is, vry is, anders as die Jerusalem wat op die aarde is en gebonde is.

Die tweede skrifgedeelte is Hebreërs 12:22-24, wat praat van die hemelse Jerusalem wat die woonplek is van God, die uitverkore engele, en die verloste mense.

Die derde skrifgedeelte is Openbaring 21:1-22:5, wat leer dat die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde sal wees en ’n aantal beskrywings gee van hoe die nuwe Jerusalem dan sal wees.

2. Die Afleidings
Bogenoemde is die drie hoof skrifgedeeltes oor die Nuwe Jerusalem waaruit ses afleidings gemaak kan word.

Een, tans is dit bo die aarde; dit bestaan reeds en dit is nou in die Derde Hemel.

Die tweede afleiding is dat dit die woonplek is van die Drie-Enige God; dit is die woonplek van die Vader, die Seun, en die Gees.

Die derde afleiding is dat dit ook die woonplek is van die uitverkore engele; dit is waar die nie-gevalle engele woon.

Die vierde afleiding is dat dit ook die woonplek is van die verloste heiliges; dit is waar die verloste heiliges nou is.

Vyf, die Nuwe Jerusalem is sinoniem met die Hemel; hulle is een en dieselfde. ’n Mens kan ook sê dat die Nuwe Jerusalem nou in die Hemel is, maar hoe mens dit ookal uitdruk, hulle is in dieselfde plek en is min of meer sinonimies.

Die sesde afleiding is dat die Hemel of die Nuwe Jerusalem op die aarde sal neerdaal in daardie toekomstige tyd wanneer die nuwe aarde geskep gaan word. Die ewige woning van die Drie-Enige God, die uitverkore engele, en die verloste mensdom, sal in die Nuwe Jerusalem op die nuwe aarde wees. Om te onderskei tussen die Hemel en die Nuwe Jerusalem, kan ’n mens sê dat gelowiges tans na die Nuwe Jerusalem in die Hemel gaan, en uiteindelik sal die Nuwe Jerusalem, wanneer die nuwe aarde ná die Messiaanse Koninkryk geskep gaan word, op die nuwe aarde geplaas word.

Bogenoemde is die dertien terme wat gebruik word om die onsigbare wêreld te beskryf. Om ’n volledige begrip te vorm, moet ’n mens bekend wees met al dertien woorde en weet hoe om hulle te onderskei en met mekaar in verband te bring.

N. Gevolgtrekkings
1. Die Terme Sheol en Hades

Een, Sheol en Hades is presies dieselfde. Sheol is die Hebreeuse term en Hades is die Griekse term vir een en dieselfde ding, naamlik die doderyk. Die setel van Sheol of Hades is in die middelpunt van die aarde en dit kan op drie maniere gesien word. Eerstens, in die Ou Testament word Sheol “die onderste plekke van die aarde” genoem (Eseg. 26:20; 31:14, 16, 18; 32:18, 24). Tweedens, in Efésiërs 4:9-10, word Hades “die onderste dele van die aarde” genoem. Die Hades in die onderste dele van die aarde kom dus ooreen met die Sheol in die onderste plekke van die aarde. Derdens, in Matthéüs 12:40 word van Hades gesê dat dit in die “hart” van die aarde is. Dus, wat betref die setel, is Sheol of Hades gesetel in die hart of die middelpunt van die aarde. Dit is een van die redes waarom Sheol of Hades tydelik is, want wanneer hierdie aarde sal verbygaan aan die einde van die Messiaanse Koninkryk, sal Sheol of Hades nie meer bestaan nie.

Die tweede saak omtrent Sheol of Hades, is dat dit twee hoof kompartemente het. Een hoof kompartement was vir die regverdiges, en hierdie regverdige kant het bekend gestaan as die boesem van Abraham. Tussen Adam en Jesus se Hemelvaart, was die Paradys gesetel in die boesem van Abraham. Die tweede hoof kompartement was vir die onregverdiges, engele sowel as mense. Hierdie tweede kompartement het drie afdelings. Wat die onregverdige mense betref, hulle is in die eintlike Hades, wat onder vandag se gelowiges beter bekend is as die Hel. Hierdie eerste afdeling staan ook bekend onder twee ander name: Abaddon (die plek van vertering) en die put. Die ander twee afdelings in die onregverdige kant, is vir die gevalle engele. Een hiervan is die afgrond, wat ’n tydelike plek van gevangeskap is vir hierdie gevalle engele. Die ander een is Tartarus, wat die plek van gevangeskap is vir die engele wat gesondig het in Génesis 6 in die tyd van Noag. Dus: Sheol of Hades het twee hoof kompartemente gehad. Die regverdige kant was bekend as die boesem van Abraham. Die onregverdige kant was verdeel in drie onderafdelings: Hades of die Hel vir mense, ook bekend as Abaddon of die put; en die afgrond en Tartarus vir die gevalle engele.

2. Die Terme Gehenna en Die Poel van Vuur
Die tweede gevolgtrekking wat gemaak word, is dat Gehenna en die Poel van Vuur na een en dieselfde plek verwys. Dit is die finale verblyfplek van die onregverdiges, engele sowel as mense. Hou in gedagte dat Sheol of Hades ’n tydelike plek is, ongeag of dit die kant vir die regverdige of die onregverdige mense is. Die regverdige kant van Sheol of Hades is alreeds met die Hemelvaart van die Messias uitgeskakel. Die onregverdige kant is ook tydelik, want die ewige blyplek vir die onregverdiges sal nie die Hel of die afgrond of Tartarus wees nie, maar dit sal Gehenna wees, die Poel van Vuur.

3. Die Hemel
Die Hemel is die woonplek van God; dit is die woonplek van die uitverkore of goeie engele; dit is die woonplek van gestorwe gelowiges; en dit is die woonplek van die gestorwe heiliges. Dit is die huidige plek van die Paradys. Eens op ’n tyd was die Paradys gesetel in die boesem van Abraham, maar tans is die Paradys in die Hemel. Die Hemel is of dieselfde as die Nuwe Jerusalem of die Nuwe Jerusalem is in die Hemel.

II. DIE PLEK VAN DIE DOOIES IN DIE OU TESTAMENT
A. Die Skrifgedeelte

Die tweede hoofkategorie is die plek van die dooies in die Ou Testament. Die beste enkele skrifgedeelte wat duidelik uitbeeld wat die situasie was voor die dood, Opstanding en Hemelvaart van Jesus, is waarskynlik Lukas 16:19-31. Dit is die verhaal van die ryk man en Lasarus. Neem kennis daarvan dat hierdie verhaal nie ’n gelykenis is nie. Jesus het dit nie ’n gelykenis genoem nie. In gelykenisse kom eiename nie voor nie. Dit is ’n ware verhaal wat deur Jesus vertel is.

Wat in Lukas 16:19-31 beskryf word, is die situasie soos wat dit begin met Adam tot met die Hemelvaart van Jesus. Wanneer daar gepraat word van die plek van die dooies in die Ou Testament, beteken dit nie net Ou-Testamentiese geskiedenis nie, maar dit sluit Ou-Testamentiese geskiedenis dwarsdeur evangeliese geskiedenis tot met die Hemelvaart van Jesus in. Die skeidslyn tussen dit wat geld vir die plek van die dooies vir die Ou-Testamentiese heiliges en die plek van die dooies vir die Nuwe-Testamentiese heiliges, is die Hemelvaart van Jesus.

B. Die Omstandighede vanaf Adam tot met die Hemelvaart van die Messias
Uit Lukas 16:19-31 kan vier dinge uitgewys word omtrent die plek van die dooies tot met die Hemelvaart van Jesus.

Een, elke persoon wat gesterf het, hetsy regverdige of onregverdige, het neergedaal na Sheol of Hades wat, soos reeds aangetoon, in die middelpunt of die “hart” van die aarde is.

Twee, die regverdiges wat gesterf het, het na die boesem van Abraham gegaan, waar die Paradys op daardie tydstip gesetel was. Hoewel die diere-offers genoegsaam was om die Ou-Testamentiese heiliges uit die Hel te hou, was dit nie voldoende om hulle in die Hemel te kry nie. Die Ou-Testamentiese heiliges was op dieselfde manier gered as gelowiges van vandag, naamlik op grond van genade deur geloof.

In albei gevalle egter, is die element van bloed teenwoordig. Tot met die dood van Jesus was die bloedoffer wat vereis was, die bloed van diere en die offerstelsel van die Wet van Moses. Omdat dit dierebloed was, het die bloedoffers net die sondes van die heiliges “oordek,” maar dit nie weggeneem nie. Soos Hebreërs 10:4 dit benadruk, [kan] die bloed van stiere en bokke [die bloed van diere] onmoontlik die sonde wegneem. Die rede hoekom die bloedoffers wel genoegsaam was om die Ou-Testamentiese heiliges uit die Hel te hou maar nie voldoende was om hulle in die Hemel te kry nie, is omdat die bloed net die sondes oordek het, maar dit nie weggeneem het nie. Nietemin was die boesem van Abraham, waar die Paradys gesetel was, ’n plek van geluksaligheid vir die nie-stoflike deel of die siel van die Ou-Testamentiese heilige.

Die derde saak omtrent die plek van die dooies in die Ou Testament, het te doen met die onregverdiges. Die onregverdiges het na die eintlike Hades gegaan, beter bekend as die Hel of Abaddon of die put. Anders as die boesem van Abraham, was die eintlike Hades of die Hel, ’n plek van smarte.

Die vierde saak wat uitgewys moet word omtrent die plek van die dooies in die Ou Testament, is dat daar ’n onoorbrugbare kloof was tussen die twee kompartemente van Sheol of Hades. Dit was moontlik om oor hierdie kloof te kon sien, dit was moontlik om oor hierdie kloof ’n gesprek te kon voer, maar dit was onmoontlik om van die een kant af na die ander kant toe oor te gaan. Dis voor die hand liggend dat, as dit moontlik sou gewees het, die oorganery net in een rigting sou plaasgevind het, want niemand wat in die boesem van Abraham was sou na die Hel toe wou gegaan het nie, terwyl die wat in die Hel was definitief sou begeer het om in die boesem van Abraham te kom.

Dit is hoe die situasie was van die tyd van Adam af tot met die Hemelvaart van Jesus.

III. DIE PLEK VAN DIE DOOIES TANS
Die derde hoof kategorie is die plek van die dooies tans. Dit sal bestudeer word ten opsigte van die gelowiges en die ongelowiges.

A. Die Gelowiges
Wat die gelowiges betref: die werk van die Messias het die hele situasie vir gelowiges verander. Daar is in die besonder drie gebeurtenisse wat die verandering teweeg gebring het.

1. Die Dood van die Messias
Toe Jesus gesterf het, het Hy vir al ons sondes gesterf. Hy het ook gesterf vir al die sondes van die hele wêreld vir alle tye, dié wat voor Sy dood gepleeg is en dié wat na Sy dood gepleeg is. Dit was ook Jesus se dood wat die sondes van die Ou-Testamentiese heiliges weggeneem het.

2. Die Neerdaling van die Messias
Toe Jesus gesterf het, het Sy siel, Sy nie-stoflike deel, neergedaal na die regverdige afdeling van Sheol of Hades.

In Matthéüs 12:40 het Jesus voorspel dat Hy sou moes neerdaal na die hart van die aarde waar Sheol of Hades gesetel is.

Efésiërs 4:9 verklaar dat Hy neergedaal het in die onderste gedeeltes van die aarde.

I Petrus 3:18-19 wys uit dat Jesus, in Sy gees, gepreek het vir die geeste in die gevangenis. Hierdie geeste was die onregverdiges in die Hel. Daar is mense wat hierdie vers verkeerd verstaan het en geleer het dat Hy, aangesien Hy gepreek het, die evangelie vir hulle gepreek het en hulle ’n tweede kans gegee het om gered te word. Die Griekse woord wat egter hier gebruik word, is nie die Griekse woord wat beteken “om die evangelie te preek” nie, maar dit is ’n Griekse woord wat net beteken “om ’n aankondiging te maak.” Wat gebeur het toe Jesus neergedaal het, is dat Sy gees ’n aankondiging gemaak het dat Sy dood die oordeel van die ongereddenes waarborg. Jesus het hierdie aankondiging gemaak vir die geeste in die Hel. Op grond hiervan het sommige mense aangeneem dat Hy neergedaal het na die Hel, maar dit Hy het nie gedoen nie. Vir die sterwende dief aan die kruis het Hy gesê dat albei van hulle, op daardie selfde dag, in die Paradys sou wees, nie in die Hel nie. Toe Jesus gesterf het, het Sy gees neergedaal na die regverdige kant van Sheol of Hades, die boesem van Abraham. Soos reeds aangetoon, kon iemand wat in die boesem van Abraham was, dié sien wat in die Hel was en ’n gesprek voer met dié wat in die Hel was. Die gees van Jesus het dus neergedaal na die boesem van Abraham, vanwaar Hy die aankondiging aan die geeste in die Hel gemaak het dat die dood van die Messias hulle toekomstige oordeel gewaarborg het. Die wat voordeel sou trek uit Jesus se dood, was net die siele in die boesem van Abraham, nie die siele in die Hel nie.

3. Die Hemelvaart van die Messias
Toe die Messias na die Hemel opgevaar het, het Hy die siele van die Ou-Testamentiese heiliges saam met Hom geneem; Hy het die gevangenes gevange geneem (Ef. 4:8-10). Die wat gevange gehou was binne die beperkinge van die boesem van Abraham, is nou uit die boesem van Abraham weggeneem. Al die regverdige siele wat gesterf het voor die dood van Jesus, het saam met Hom in die Hemel opgevaar. Gevolglik is die boesem van Abraham, die regverdige kant van Sheol of Hades, uitgeskakel en die Paradys is nou nie meer in die boesem van Abraham nie. Die Paradys is nou in die Derde Hemel (II Kor. 12:1-4).

Die gevolg van hierdie drie handelinge van die Messias, is dat die siele van die heiliges vandag onmiddellik Hemel toe gaan. Daar is nie meer ’n tydelike “terughou patroon” nie. Die oomblik wanneer die gelowige sterf, gaan hy oombliklik in die teenwoordigheid van God in. II Korinthiërs 5:6-8 leer, dat om afwesig van die liggaam te wees, is om teenwoordig by die Here te wees, en die Here is in die Derde Hemel. Filippense 1:21-23 verklaar dat om in die dood heen te gaan, is om met die Messias te wees, en die Messias is in die Derde Hemel, waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader.

B. Die Ongelowiges
Wat die ongelowiges betref: niks het vir hulle verander nie. Wat vandag met ongelowiges gebeur, is ’n voortsetting van dit wat gebeur het voor die Hemelvaart van Jesus. Die siele van ongelowiges gaan steeds af na die eintlike Hades of die Hel.

IV. DIE PLEK VAN DIE DOOIES IN DIE TOEKOMS
Die vierde hoof kategorie is die plek van die dooies in die toekoms. Dit word ingedeel in twee afdelings: die toekoms van die gelowiges en die toekoms van die ongelowiges.

A. Die Toekoms van die Gelowiges
Die studie ten opsigte van die dood van die gelowiges word in twee tydfases ingedeel.

1. Die Messiaanse Koninkryk
Johannes beskryf die heiliges wat deel gaan hê in die Millenniumryk van die Messias, in Openbaring 20:4-6.

Wat die Kerkheiliges betref, leer vers 4 dat hulle aan wie die oordeel gegee is, opgewek sal word met die Wegraping. Die oordeel waarvan hier gepraat word, is die Regterstoel van Christus, die oordeel oor die gelowiges se werke, wat hulle posisie in die Koninkryk bepaal. Die Kerkheiliges sal dan saam met Christus terugkeer by die Wederkoms en hulle sal saam met Hom op die aarde regeer vir die 1,000 jaar van die Koninkryk.

Die heiliges van die Verdrukking wat onthoof is oor die getuienis van Jesus, sal ook opgewek word na die Wederkoms. Net soos die Kerkheiliges, sal hulle ook vir 1,000 jaar saam met die Messias regeer.

Wat die Ou-Testamentiese heiliges betref: hulle sal eers na die Wederkoms opgewek word (Jes. 26:19; Dan. 12:2), en hulle sal binne-in die Beloofde Land wees tydens die Koninkryk. Die Ou-Testamentiese heiliges sal die hele Beloofde Land beërwe.

2. Die Ewige Orde
Die tweede fase van die toekoms van die gelowiges, sal die Ewige Orde of die Ewige Staat wees, wat in die Nuwe Jerusalem sal wees. Die Nuwe Jerusalem, wat nou in die Derde Hemel is, of wat dieselfde is as die Derde Hemel, sal neerkom op die aarde wat God sal skep na die Messiaanse Koninkryk (Op. 21:1-22:5). Op daardie tydstip sal die Paradys in die Nuwe Jerusalem op die nuwe aarde wees (Op. 2:7). Die uiteindelike toekoms van die gelowiges, in die Ewige Staat, sal in die Nuwe Jerusalem wees op die nuwe aarde wat God in daardie tyd sal skep.

B. Die Toekoms van die Ongelowiges
Ten opsigte van die toekomstige staat van die gestorwe ongelowiges, sal ses punte gemaak word.

1. Die Ewige Staat
Die ongelowiges gaan in Sheol of Hades bly tot aan die einde van die 1,000-jarige Messiaanse Koninkryk. Dit is eers aan die einde van die 1,000 jaar dat die siele van die ongelowiges uit Hades of die Hel geneem sal word (Op. 20:11-15). Hierdie wegneem van die siele uit die Hel, is bekend as die Tweede Opstanding, want al die liggame van die ongelowiges sal dan opgewek word, en al die siele van die ongelowiges sal uit die Hel weggeneem word, en op hierdie punt sal die Hel dus uitgeskakel word. Na die Tweede Opstanding, wanneer die siele van die ongelowiges uit die Hel weggeneem word en die liggame van die ongelowiges opgewek word en met daardie siele verenig word, sal al hierdie ongelowiges dan voor die Groot Wit Troon Oordeel staan. Die doel van die Groot Wit Troon Oordeel is nie om vas te stel of hulle gered of ongered is nie; dít word by die dood vir ewig vasgestel. Die doel van hierdie Groot Wit Troon Oordeel is om die graad van straf vas te stel, want sommiges sal meer smarte verduur as andere.

Ná die Groot Wit Troon Oordeel sal alle ongelowiges in hulle finale blyplek wees, naamlik Gehenna of die Poel van Vuur.

2. Die Skrifte
Die tweede punt handel oor die skrifgedeeltes. Die skrifgedeeltes oor Gehenna en die Poel van Vuur is reeds vroeër bespreek. Uit hierdie skrifgedeeltes kon dit vasgestel word dat die ewige verblyf van die ongelowige die Poel van Vuur is.

3. Die Beskrywende Frases
Die derde punt omtrent die plek van die ongelowige dooies in die toekoms, is om aandag te gee aan sekere beskrywende skrifgedeeltes wat handel oor hierdie ewige staat. Daar is nege frases wat die ewige staat van die ongelowige beskryf.

Die eerste is “die helse vuur” (Matt. 5:22; 18:9).

Die tweede is “die oordeel van die hel” (Matt. 23:33).

Derde is “die buitenste duisternis.” Dit is die teenoorgestelde van die plek van lig, dit is die plek hierdie van die duisternis daar buite (Matt. 8:12; 22:13; 25:30).

Vierde is die onuitbluslike vuur. Die poel van vuur brand vir ewig, en dit is dus die onuitbluslike vuur (Matt. 3:12; Mark. 9:43; Luk. 3:17).

Vyfde is die ewige vuur. Dit onderstreep die ewiglikheid van die Poel van Vuur (Matt. 25:41; Jud. 7).

Sesde is ’n ewige verderf (II Thess. 1:9). Weer eens, dit is die beeld van ’n voortdurende, ewige, onophoudelike vernietiging; dit is inderdaad ’n plek van smarte.

Sewende is die vuuroond. Die term vuur kom dikwels voor, want dit is die werktuig wat die smarte veroorsaak (Matt. 13:42, 50).

Agtste is die donkerheid van die duisternis, weer eens ’n beklemtoning van die teenoorgestelde van lig (II Pet. 2:17; Jud. 13).

En negende is die tweede dood. Die eerste dood is fisiese dood en die tweede dood is ewige, geestelike dood in die Poel van Vuur (Op. 2:11; 20:14; 21:8).

4. Die Staat van die Ongelowige in die Poel van Vuur
Die vierde punt omtrent die plek van die ongelowige dooies in die toekoms, is die staat van die ongelowige in die Poel van Vuur. Dit is ’n rook van … pyniging (Op. 14:10-11). Dit is ’n vuur wat nie uitgeblus kan word nie (Mark. 9:48). Dit is ’n staat van geween en gekners van die tande (Matt. 8:12; 13:42, 50; 22:13; 24:51; 25:30; Luk. 13:28). Dit is ’n plek van onheilige assosiasies (Op. 21:8; 22:15). Dit is ’n staat waar die ewige toorn van God verduur word (Joh. 3:36).

5. Die Afleidings
Agt afleidings kan gemaak word omtrent die plek van die ongelowige in die toekoms: Een, dit is ’n totale ontbering van goddelike guns; twee, dit is ’n onophoudelike versteuring van die lewe; drie, dit is ’n tyd van pyn in liggaam en siel; vier, daar is gewetenswroeging; vyf, dit is foltering; ses, dit is ’n plek van desperaatheid; sewe, dit is smartlik; en agt, dit is ’n ewige staat van bewustheid.

6. Die Duur
Die duur van hierdie soort pyniging is ewig (Op. 14:11). Die duur is dieselfde as die duur van die ewige geluksaligheid vir die heiliges (Matt. 25:46). Dit word verklaar dat “hulle wurm nooit sterf nie” (Mark. 9:48).

Die ewige staat van die ongelowige is die negatiewe aspek. As ’n mens sien wat die Bybel sê oor die ewige staat van die ongelowige, behoort ’n mens soveel meer dankbaar te wees vir dit waarvan Jesus die gelowige gered het deur Sy eie dood.

V. VERKEERDE SIENINGS OMTRENT DIE PLEK VAN DIE DOOIES
Die vyfde hoof kategorie is die verkeerde sienings omtrent die plek van die dooies. Daar is twee hoof verkeerde sienings en Rooms Katolisisme is die primêre oorsprong van albei van hulle.

A. Die Leer omtrent Limbus Infantum
Die eerste verkeerde siening staan bekend as Limbus Infantum. Dit het te doen met diegene wat in hulle kleintyd sterf. Die woord limbus is ’n Latynse woord wat “rand” beteken. In Katolisisme, is die Limbus Infantum ’n plek aan die rand van die Hel; dit is ’n plek waarheen ongedoopte klein kindertjies gaan. As ’n klein kindjie wat nie gedoop is nie sterf, sal hy nie Hel toe gaan nie, want hy was ’n klein kindjie, maar hy sal ook nie Hemel toe gaan nie, want hy was nie gedoop nie. Daar is egter, volgens hulle, ’n spesiale plek aan die rand van die Hel waarheen ’n klein kindjie gaan. Hy verduur geen straf nie, maar hy is uitgesluit van die seëninge van die Hemel.

Dit is een van die verkeerde leringe omtrent die plek van die dooies en dit kan gekritiseer word deur twee punte uit te wys.

Een, hierdie hele siening is gebaseer op ’n ander vals leerstelling wat bekend staan as Doopvernuwing, en wat beteken dat ’n mens gered kan word deur met water gedoop te word. Hulle glo dat as ’n klein kindjie gedoop is, kan daardie paar druppels water die kindjie geestelik red. Omdat hulle in Doopvernuwing glo, omdat hulle glo die doop red ’n kindjie maar sonder die doop is hy ongered, het hulle vorendag gekom met ’n plek wat nóg die Hemel nóg die Hel is, maar wel ’n plek is aan die rand van die Hel waarheen klein kindertjies gaan.

Die tweede punt van kritiek is dat die Bybel nêrens van so ’n plek praat nie. In die Bybel is daar glad nie sprake van so ’n plek nie. Dit is slegs ’n tradisie en ’n mens moenie jou teologie ontwikkel op grond van kerktradisies nie. Die Bybel is die enigste outoriteit vir alle sake van geloof sowel as die beoefening van geloof.

B. Die Leer omtrent die Vaevuur
Die tweede verkeerde siening omtrent die plek van die dooies, is die leer oor die Vaevuur. Dit is ’n meer algemene verkeerde lering. Dit word in drie dele behandel.

1. Die Konsep van die Vaevuur
Die woord “vaevuur” kom van ’n Latynse woord wat beteken “om te suiwer.” Die Vaevuur, volgens Katolisisme, is ’n plek van suiwering vir diegene wat nie sleg genoeg is om Hel toe te gaan nie, maar nie goed genoeg is om Hemel toe te gaan nie. Iemand bring dus ’n tyd van suiwering in die Vaevuur deur en kan dan uiteindelik Hemel toe gaan.

“Maar hoe lank moet hulle in die Vaevuur bly?” Hulle antwoord is dat dit verskil, afhangende van die behoeftes van die individu. Die tyd in die Vaevuur kan verkort word deur gebede, deur goeie werke, deur die bywoning van die Mis, deur boetedoening, en deur aflaatgeld te betaal.

2. Die Pogings van Steun vir die Vaevuur
“Waarmee ondersteun hulle hierdie lering?” Eerste van alles, probeer hulle hierdie lering uit die Skrif verdedig. Daar is ses skrifgedeeltes wat hulle aanvoer.

Jesaja 4:4 praat van die bloedskulde van Jerusalem wat afgewas word.

Miga 7:8: al sit ek in duisternis, die HERE is ’n lig vir my.

Sagaría 9:11: jou gevangenes loslaat uit die put sonder water.

Maleági 3:2: Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.

I Korinthiërs 3:13-17 praat van die vuur by die Regterstoel van die Messias.

En I Korinthiërs 15:29 praat van die doop van die dode.

Dit is die ses “bewyse” uit die Bybel wat hulle aanvoer om die leer van die Vaevuur te probeer regverdig. In werklikheid egter, leer nie een van hierdie skrifgedeeltes enigsins die konsep van die Vaevuur nie.

Hulle hoof aanspraak kom eintlik uit die Apokriewe. Die sleutelbewys kom uit die Apokriewe boeke, nie uit die Bybel nie. Die spesifieke deel wat hulle gebruik, is II Makkabeërs 12:41-45 (in hierdie vertaling aangehaal uit: Apokriewe Ou en Nuwe Testament, Jan van der Watt en Francois Tolmie, 2005, pp. 427-428): “Hulle het die Here geloof, want Hy is ’n regverdige regter. Hy bring die dinge wat weggesteek is aan die lig. Weer het hulle gebid en God gevra om hierdie sondes heeltemal te vergeet. Die edel Judas het sy soldate gewaarsku om van die sonde af weg te bly. Hulle kon nou met hulle eie oë sien wat gebeur as ’n mens sonde doen. Hy het toe ’n kollekte onder sy manne opgeneem. Die 2000 silwer dragmas het hy Jerusalem toe gestuur om vir ’n offer te betaal sodat hulle sonde vergewe kon word. Wat hy gedoen het, was baie goed en edel. Hy het in gedagte gehou dat dooies weer opgewek gaan word. Immers, as hy nie verwag het dat daardie dooie manne weer lewendig sou word nie, sou dit geen sin gemaak het om vir die dooies te bid nie. Dit sou eintlik belaglik gewees het. Maar as hy dit gedoen het met die oog op die wonderlike beloning wat op die vroom mense wag wat reeds dood is, is dit ’n heilige en baie goeie daad. Daarom het hy ’n offer gebring sodat hulle sondes vergewe kon word en hulle weer God se vriende kon wees.”

Dit is die hoof bewys wat deur die Rooms Katolieke Kerk aangevoer word om die Leer van die Vaevuur te verkondig. Dit is hoekom hulle verkies het om die twee Makkabeër boeke as deel van die Bybel te inkorporeer, hoewel dit nooit deur die Jode aanvaar is nie, en die twee Makkabeër boeke in die tyd van Jesus nooit geklassifiseer is as deel van die erkende Skrifte nie.

3. ’n Kritiek op die Leer van die Vaevuur
Drie punte van kritiek kan teen die Leer van die Vaevuur ingebring word.

Een, nie een van die ses skrifgedeeltes wat hulle aanhaal, leer dat daar so ’n plek soos die Vaevuur is nie. Jesaja 4:4 praat oor die vergifnis van die sondes van Jerusalem aan die einde van die Groot Verdrukking. Miga 7:8 is ’n geestelike waarheid, naamlik dat selfs wanneer die gelowige in ’n plek van duisternis gedwing word, God vir hom ’n lig sal wees. Hierdie skrifgedeelte sê nie dat die betrokke persoon in die Vaevuur is nie. Sagaría 9:11 praat van ’n toekomstige opstanding en nie van die Vaevuur nie. Maleági 3:2 praat van die oordele van die Groot Verdrukking en nie van die Vaevuur nie. I Korinthiërs 3:13-17 praat van die Regterstoel van die Messias ná die Wegraping Hemel toe, nie van die Vaevuur nie. Wat I Korinthiërs 15:29 betref, kan gesê word dat wat die doop van die dode ookal mag beteken, daar in hierdie vers nie eens ’n sweem van ’n verwysing is na ’n plek van suiwering in die Vaevuur nie. Dus, nie een van die skrifgedeeltes wat hulle aanhaal, leer dat daar so ’n plek soos die Vaevuur is nie.

Die tweede punt van kritiek is dat die Katolieke Kerk heeltemal te veel probeer haal uit die apokriewe sitaat soos bo aangehaal, want die spesifieke sonde in daardie gedeelte, was die sonde van afgodery. En in Katolisisme is afgodery een van die “sewe doodsondes” waarvoor net die Hel geld, nie die Vaevuur nie. Hulle gebruik van die sitaat uit die Makkabeër boek, bewys dus nie hulle aanspraak op die Leer van die Vaevuur nie omdat die sonde in die sitaat afgodery was, en selfs in Katolisisme is die oplossing vir die sonde van afgodery nie die Vaevuur nie, maar die Hel.

Die derde punt van kritiek is dat die konsep van die Vaevuur ’n baie direkte ontkenning is van die volbragte werk van die Messias. Die leer van die Nuwe Testament is duidelik: toe Jesus aan die kruis gesterf het, was dit ’n volbragte werk en die werk wat die Messias volkome volbring het, beteken dat die gelowiges vir eens en vir altyd van hulle sondes gereinig is.

Die gelowige hoef nie ’n tydperk van suiwering en reiniging in die Vaevuur deur te maak nie (Tit. 2:14: Heb. 1:3). Die werk van die Messias is volbring, en dit sluit die volkome vergifnis van sondes in, sodat die gelowige nie deur ’n tydelike periode van suiwering in die Vaevuur moet gaan voordat hy die Hemel kan binnegaan nie.

[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
I. DIE ONSIGBARE WÊRELD
     A. Sheol
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     B. Hades
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     C. Abaddon
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     D. Die Put
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     E. Die Afgrond
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     F. Tartarus
         1. Die Skrifgedeelte
         2. Die Afleidings
     G. Die Hel
         1. Die Oorsprong van die Woord
         2. Die Omstandighede in die Hel
     H. Gehenna
         1. Oorsprong van die Konsep van Gehenna
         2. Die Skrifte
         3. Die Afleidings
     I. Die Poel van Vuur
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     J. Die Boesem van Abraham
         1. Die Skrifgedeelte
         2. Die Afleidings
     K. Die Paradys
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     L. Die Hemel
         1. Die Onderskeidings
         2. Die Skrifte
         3. Die Afleidings
     M. Die Nuwe Jerusalem
         1. Die Skrifte
         2. Die Afleidings
     N. Gevolgtrekkings
         1. Die Terme Sheol en Hades
         2. Die Terme Gehenna en die Poel van Vuur
         3. Die Hemel
II. DIE PLEK VAN DIE DOOIES IN DIE OU TESTAMENT
     A. Die Skrifgedeelte
     B. Die Omstandighede vanaf Adam tot met die Hemelvaart van die Messias
III. DIE PLEK VAN DIE DOOIES TANS
     A. Die Gelowiges
         1. Die Dood van die Messias
         2. Die Neerdaling van die Messias
         3. Die Hemelvaart van die Messias
     B. Die Ongelowiges
IV. DIE PLEK VAN DIE DOOIES IN DIE TOEKOMS
     A. Die Toekoms van die Gelowiges
         1. Die Messiaanse Koninkryk
         2. Die Ewige Orde
     B. Die Toekoms van die Ongelowiges
         1. Die Ewige Staat
         2. Die Skrifte
         3. Die Beskrywende Frases
         4. Die Staat van die Ongelowige in die Poel van Vuur
         5. Die Afleidings
         6. Die Duur
V. VERKEERDE SIENINGS OMTRENT DIE PLEK VAN DIE DOOIES
     A. Die Leer omtrent Limbus Infantum
     B. Die Leer omtrent die Vaevuur
         1. Die Konsep van die Vaevuur
         2. Die Pogings van Steun vir die Vaevuur
         3. ’n Kritiek op die Leer van die Vaevuur

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat is die wegraping van die Kerk, wie gaan weggeraap word en wanneer gebeur dit? In hierdie artikel word die Voorverdrukking wegraping perspektief behandel. Ander aspekte soos die regterstoel van Christus en die moontlike krone wat gelowiges kan ontvang word ook aangeraak.