Die resultate van die Messias se dood

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. – Romeine 10:4

INLEIDING
Een van die grootste dade van God se genade was die Messias se dood, wat tien spesifieke resultate tot gevolg gehad het.

I. DIE EINDE VAN DIE WET VAN MOSES
Die eerste resultaat was dat dit die einde van die Wet van Moses aangedui het. Hierdie feit tree in teksgedeeltes soos Handelinge 15:10-11 na vore: Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ’n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.

Die konteks van hierdie teksgedeelte handel oor die wyse waarop ’n nie-Jood gered word. Word hulle streng uit genade deur geloof gered, of moet hulle ook die Wet van Moses nakom? Die Raad van Jerusalem se gevolgtrekking was dat hulle nie die Wet hoef na te kom nie, maar dat hulle suiwer uit genade deur geloof gered word, sonder enigiets wat bykom. As die nie-Jode nie nodig gehad het om die Wet na te kom nie, beteken dit dat die Messias se dood die Wet tot ’n einde gebring het; as die Wet nog steeds gegeld het, sou die nie-Jode verplig gewees het om dit te hou.

Dieselfde stelling word verskeie kere in die boek Romeine gemaak. Die eerste voorbeeld is in Romeine 3:21-22: MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie …

Tweedens sê Paulus in vers 31: Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

Later skryf Paulus die volgende in Romeine 4:13-16: Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal …

Nog ’n gedeelte in die boek Romeine voer dieselfde argument; daardie verwysing is Romeine 10:4: Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

Die punt van hierdie teksgedeeltes is dat die Messias se dood die einde van die Wet van Moses aangekondig het. Geen beloftes word vandag nog deur die Wet vervul nie; die beloftes word eerder uit genade deur geloof ontvang. Die Messias het die Wet op ’n einde gebring deur dit te vervul.

II. DIE OORDEEL VAN DIE SONDIGE NATUUR
Jesus se dood het die sondige natuur se mag tot heerskappy ongedaan gemaak. Jesus se dood het die sondige natuur se gesag en mag om oor die gelowige te heers ongedaan gemaak, met die gevolg dat hy dood is vir die sonde, oftewel vry van die sondige natuur se oorheersing. Die sondige natuur is nie dood nie, maar die gelowige het dit afgesterf in soverre hy nie meer verplig is om die sondige natuur se eise te gehoorsaam, soos wat hy moes doen voor hy gered was, nie.

Paulus wei breedvoerig hieroor uit in Romeine 6:1-8:13. Hierdie lang teksgedeelte kan in vier punte opgesom word. Eerstens, die Messias het gesterf vir sonde. Tweedens het die Messias se plaasvervangende dood beteken dat hy vir die sondige natuur én vir persoonlike sondes gesterf het; dit is die hoofbetoog van hoofstuk 6. Derdens het die hele merietestelsel met sy beroep op mense se dade en pogings soos dit in die Wet-verhouding beliggaam is, vir die gelowige verbygegaan; diegene wat hierdie stelsel van werke in eie krag probeer inspan, sal misluk weens hul onvermoë om die sondige natuur te hanteer: dit is die hoofbetoog van hoofstuk 7. Paulus het self die waarheid hiervan bewys toe hy, as ’n jong, onvolwasse baba-gelowige die Wet probeer gebruik het as ’n vertrekpunt om die sondige natuur te tem en ’n geestelike lewe te leef. Hy het toe geleer dat die geestelike lewe in geloof geleef moet word, net soos wat verlossing ook deur geloof verkry word. Vierdens is daar die triomfantelike oorwinning wanneer die hele wil van God ín die gelowige vervul word, maar nooit déúr die gelowige nie, want hy het eenvoudig nie daardie tipe krag nie; dít is die hoofbetoog van hoofstuk 8.

III. DIE GRONDSLAG VIR VERGIFNIS EN REINIGING
Die Messias se dood is nie net die grondslag vir sondevergifnis in die verlossende sin van die woord nie; dit is ook die grondslag vir sondevergifnis ná gelowigwording in die familievergifnis-konteks (1 Joh 1:1-2:2). Die rede waarom ’n gelowige se sondes voortdurend gereinig word, is dus omdat die Messias se dood die grondslag vir die gelowige se vergifnis en reiniging vorm.

IV. DIE GRONDSLAG VIR DIE UITSTEL VAN REGVERDIGE GODDELIKE OORDEEL
Die Messias se dood is die rede waarom regverdige goddelike oordeel uitgestel is. Dit tree in Romeine 2:4-5 op die voorgrond: Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God …

Die mens se sonde is van só ’n aard dat God heeltemal daarop geregtig is om hom onmiddellik te oordeel. Maar die oordeel word vertraag, dit word uitgestel danksy die Messias se dood, sodat die mens langer geleentheid het om God se vrye genade te aanvaar.

Paulus het dieselfde punt gemaak in Romeine 9:22: En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het …

Weer eens, God het die volste reg om die mens dood te slaan die oomblik wat hy sy eerste sonde begaan. Maar die oordeel word uitgestel op grond van die Messias se dood.

Petrus het hierdie lering van Paulus beaam. In 1 Petrus 3:20 staan: … wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is …

Petrus roep hier ’n ander geleentheid in herinnering toe God sy oordeel uitgestel het; in Noag se tyd het Hy die Vloed 120 jaar lank uitgestel. Die toepassing is dat Hy nog steeds sy oordeel uitstel op grond van die Messias se dood.

Petrus het hierdie waarheid weer in 2 Petrus 3:9 opgehaal: Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Later skryf hy in vers 15: En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het …

Petrus gryp hier terug na Paulus se woorde om dieselfde punt te beklemtoon: dat die oordeel uitgestel word danksy die Messias se dood.

V. DIE WEGNEEM VAN SONDES WAT VOOR DIE KRUIS GEPLEEG IS
Jesus het nie net gesterf vir die sondes wat ná sy dood gepleeg is nie, maar ook vir die sondes wat vóór sy dood gepleeg is. Hy het nie net vir die Nuwe-Testamentiese gelowiges se sondes gesterf nie, maar ook vir die Ou-Testamentiese gelowiges s’n. God kon die Ou-Testamentiese gelowiges onmiddellik geoordeel het, maar Hy het hul oordeel uitgestel tot die kruis. Daar het die oordeel op die Messias neergekom in sy hoedanigheid as die Ou-Testamentiese gelowiges én die Nuwe-Testamentiese gelowiges se plaasvervanger. Dit is hoe hul sondes weggeneem is.

Dit is wat Handelinge 17:30 ons leer: God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer …

Paulus het dieselfde punt in Romeine 3:25 tuisgebring: Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God …

Hy het weer daarop gewys dat die sondes wat voor die Messias se dood gepleeg is, onmiddellik geoordeel sou kon word, maar dat dit tot die dood van die Messias as hul plaasvervanger uitgestel, tydelik oorgesien of “oorgeslaan” is.

In Hebreërs 10:4 sê die skrywer: … want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.

Diereoffers kon nie die Ou-Testamentiese gelowiges se sondes wegneem nie, en het dit trouens nie gedoen nie; dit het die sonde bloot tydelik bedek. Eers toe die Messias gesterf het, is hul sondes ook weggeneem.

VI. DIE ONDERGANG VAN OWERHEDE EN MAGTE
Jesus se dood het nie net resultate in die menslike sfeer teweeg gebring nie; dit het ook ’n uitwerking op die engelesfeer gehad, veral die sfeer van gevalle engele en demone. Die Messias se dood het die ondergang van die owerhede en magte beteken. Dit raak op verskillende maniere duidelik. Jesus sê byvoorbeeld in Johannes 12:31: Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.

Volgens hierdie vers het Jesus se dood twee dinge bereik: eerstens, die oordeel van hierdie wêreld; en tweedens, ook die uitdrywing van die owerste van hierdie wêreld.

Later, in Johannes 16:11, spreek Jesus hierdie woorde: … en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.

Die dood van Jesus het beteken dat Satan individueel geoordeel is; dit het daartoe gelei dat Satan self geoordeel is. Nie net Satan nie, maar ook sy hele demoniese afdeling, is volgens Kolossense 2:14-15 geoordeel: … en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

VII. DIE SUIWERING VAN DINGE IN DIE HEMELE
Dit was nie net dinge op aarde – soos die gelowiges – wat deur die Messias se dood gesuiwer is nie; dinge in die Hemel is ook daardeur gesuiwer. Die volgende word byvoorbeeld in Romeine 8:21-23 genoem: … dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.

Die hele skepping – insluitend die aarde en die hele hemelse sfeer, die hemelliggame of die eerste en tweede hemele – is deur die Messias se dood gereinig.

Dieselfde argument word in Hebreërs 9:11-12 gevoer: Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring.

Later voeg die skrywer hierdie woorde by in Hebreërs 9:21-24: En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn …

In hierdie teksgedeeltes word die stelling gemaak dat Jesus dinge in die hemele self gereinig het. Die vraag bly egter: Waarom was dit nodig om hemelse dinge te reinig? ’n Mens moet onthou dat Satan se val in die Hemel plaasgevind het. Te wyte aan sy val is sonde in die Hemel ingebring, en is die hemelse heiligdom – waarvan Satan eens ’n priester was – ontheilig. Die hemelse heiligdom, net soos die aardse een, moes dus deur bloed gereinig word. Hoewel dierebloed voldoende was om die aardse heiligdom te reinig, was dit nie voldoende om die hemelse heiligdom te reinig nie. Dít het beter bloed geverg: die Messias se bloed. Jesus se bloed is dus gebruik om die hemelse heiligdom te reinig.

VIII. DIE GRONDSLAG VIR VREDE
Jesus se dood vorm die grondslag vir vrede in drie realms. Eerstens is dit die rede vir vrede tussen God en die mens, soos omskryf in Romeine 5:1: OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus …

Tweedens vorm Jesus se dood ook die grondslag vir vrede tussen Jode en nie-Jode. Dit word geïllustreer deur Efésiërs 2:11-16, asook Kolossense 3:11, wat sê: … waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

Derdens bied Jesus se dood ’n grondslag vir vrede in die heelal, volgens Kolossense 1:20: … en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

IX. DIE GRONDSLAG VIR DIE NASIONALE REDDING VAN ISRAEL
Die Messias se dood is die rede waarom daar eendag ’n nasionale redding van Israel sal wees. Die hele Israel gaan eendag in Hom glo. Dít leer ons in die Ou Testament in Deuteronómium 30:3 en Jeremia 31:31-34. In die Nuwe Testament word hierdie stelling gemaak in Romeine 11:25-29. Hierdie resultaat van die Messias se dood – die toekomstige nasionale redding van Israel – is ook die voorvereiste vir die Wederkoms.

X. DIE GRONDSLAG VIR DIE VESTIGING VAN DIE MESSIAANSE KONINKRYK
Openbaring 5:8-14 maak die stelling dat die Millenniumkoninkryk nie gevestig kan word as dit nie vir die dood van die Messias was nie. Sy dood vorm die grondslag vir die vestiging van die Millennium- of Messiaanse Koninkryk.

Inhoudsopgawe
I. DIE EINDE VAN DIE WET VAN MOSES
II. DIE OORDEEL VAN DIE SONDIGE NATUUR
III. DIE GRONDSLAG VIR VERGIFNIS EN REINIGING
IV. DIE GRONDSLAG VIR DIE UITSTEL VAN REGVERDIGE GODDELIKE OORDEEL
V. DIE WEGNEEM VAN SONDES WAT VOOR DIE KRUIS GEPLEEG IS
VI. DIE ONDERGANG VAN OWERHEDE EN MAGTE
VII. DIE SUIWERING VAN DINGE IN DIE HEMELE
VIII.DIE GRONDSLAG VIR VREDE
IX. DIE GRONDSLAG VIR DIE NASIONALE REDDING VAN ISRAEL
X. DIE GRONDSLAG VIR DIE VESTIGING VAN DIE MESSIAANSE KONINKRYK

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Tot watter mate (indien enigsins) behoort vandag se gelowiges die Wet van Moses te onderhou? Hierdie vraag is veral vir Joodse gelowiges ’n probleem. Die doel van hierdie studie is om die Wet van Moses en die Wet van Christus vanuit sowel ’n Joodse as ’n Christelike oogpunt uit die Skrif te behandel.