Die samestellende dele en inhoud van gebed

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. – 1 Johannes 3:22

Hierdie Messiaanse Bybelstudie is ’n voortsetting van die studie “Die voorwaardes van gebed”. In die eerste gedeelte het ons “Die subjektiewe voorwaardes van gebed” behandel.

I. DIE OBJEKTIEWE VOORWAARDE VAN GEBED
A. Die beginsel
Die beginsel van die objektiewe voorwaarde is dat gebed gerig moet wees aan die Vader, deur die Seun en deur middel van die Heilige Gees.

In Efésiërs 2: 18 staan: Want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
Al drie lede van die Drie-eenheid kom in hierdie vers voor: Want deur Hom [die Seun] het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. Gebed geskied aan die Vader, deur die Seun en deur middel van die Heilige Gees.

Die tweede gedeelte in hierdie verband is Efésiërs 3:14-17: Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is.

Hier word al drie Lede van die Drie-eenheid weer genoem en die punt daarvan is dieselfde: Gebed geskied aan die Vader, deur die Seun en deur middel van die Heilige Gees.

Die derde gedeelte wat ook vir ons van hierdie beginsel leer, is: Kolossense: 3:17: En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Hier word net twee lede van die Drie-eenheid genoem, maar die punt is dieselfde: Ons gebede is aan God die Vader, maar deur die Seun.

B. Die rol van die Vader
Alle gebede moet aan God die Vader gerig word. In hierdie verband is daar drie dinge waarvan ons melding moet maak.

1. Die enigste Aangeroepene: God die Vader
Eerstens moet gebede nie aan die Seun of aan die Gees of aan enigiemand anders gerig word nie. Party mense reken dit is toelaatbaar om ons gebede aan die Seun te rig op grond van Handelinge 7:59 waar daar staan: En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!

Stéfanus het hier natuurlik direk met die Here Jesus gepraat. Maar eintlik is Handelinge 7:59 nie ’n gebed nie, maar ’n toewyding van Stéfanus se siel en gees in sy sterwensoomblik. Verder het Stéfanus op daardie oomblik regtig vir Jesus in ’n visioen gesien. Dit is dus nie regtig ’n gebed nie, en gevolglik is daar geen voorbeeld van enige gebed wat aan die Seun gerig word nie.

Gebed word ook nie aan die Heilige Gees gerig nie. Daar is geen Bybelse rekord van gebede wat aan die Heilige Gees gerig word nie. Verder moet ons ook nooit ons gebede aan engele of heiliges rig nie. Dit druis ook in teen die Skrif. Gebede mag nie aan die Seun of die Heilige Gees gerig word nie, en ook nie aan engele of heiliges nie.

2. Die Ou-Testamentiese gebede
Die tweede kwessie aangaande die feit dat gebed slegs aan die Vader gerig mag word, is die feit dat gebede in die Ou Testament aan God in die algemeen gerig was. In die Ou Testament was daar nie ’n duidelike begrip van die Drie-eenheid nie. Psalm 5:3 lui byvoorbeeld: Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.

Psalm 42:9 sê: … ’n gebed tot die God van my lewe.

In Psalm 69:14 staan daar: Maar ek – my gebed is tot U, o Here.

En in Jeremia 29:7 lees ons: … bid daarvoor tot die Here.

In die Ou Testament is gebede eenvoudig aan God in die algemeen gerig.

3. Die Nuwe-Testamentiese gebede
Die derde kwessie is dat die Nuwe Testament se openbaring ons leer dat gebed nou direk aan die Vader gerig moet word. Dit is die manier waarop alle Nuwe-Testamentiese gebede gerig word.

In Matteus 6:9 staan daar byvoorbeeld: Onse Vader wat in die hemele is.

In Lukas 11:2 word die gebed gerig aan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.

In Johannes 15:16 en 16:23 het Jesus gesê: wat julle die Vader … vra.

In Handelinge 4:24 staan daar: En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God.

In Efésiërs 1:16-17 het Paulus sy gebed gerig aan: die Vader van die heerlikheid.

In Efésiërs 3:14 staan daar: Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus.

Efésiërs 5:20 lui: … terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus.

Die Nuwe Testament leer ons baie duidelik dat ons gebede aan God die Vader gerig moet word.

Ons kry ons beste voorbeeld van gebedslewe by Jesus Self. Jesus sou weliswaar nie ’n gebed aan Homself rig nie, maar Hy sou wel sy gebede aan die Heilige Gees kon rig as dit die regte manier was. Hy het egter nooit ’n gebed aan die Heilige Gees gerig nie; al sy gebede was direk aan God die Vader gerig.

In een hoofstuk van Johannes is daar ses voorbeelde hiervan. Jesus het op ses verskillende geleenthede sy gebed aan God die Vader gerig – in Johannes 17:1, 5, 11, 21, 24 en 25.

Vers 1: Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik.

Vers 5: En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.

Vers 11: En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.

Vers 21: … dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Vers 24: Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.

Vers 25: Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het.

As ons Jesus se gebedslewe as ons voorbeeld beskou, moet elke gebed aan God die Vader gerig word. ’n Gebed wat aan God die Vader gerig is, is ’n korrekte, aanneemlike gebed.

C. Die rol van die Seun
Die rol van die Seun is dat gebed deur die Seun, oftewel in die Naam van die Seun, moet geskied. Wat dit betref, is daar vier dinge waarvan ons moet kennis neem.

1. Die betekenis
Wat beteken dit om “in die Naam van Jesus” te bid? Hy is die middel tot ons gebed. Gebed geskied deur die Seun. Om in sy Naam te bid beteken “om in sy gesag te bid”. Ons het die reg om tot God die Vader te nader. Jesus het ons daardie reg gegee. Daarom bid ons in die Naam van Jesus.

Ons bid ook “om sy ontwil”, wat volgens Kolossense 3:17 “tot sy eer” beteken. Om in Jesus se Naam te bid beteken dus om in sy gesag, sowel as om sy ontwil en tot sy eer te bid.

Dit beteken ons moet agting hê vir die Persoon in Wie se Naam ons iets vra. Dit is ook op grond hiervan wat ons versoek beantwoord word. As ons tot God die Vader in die Naam van Jesus nader, vra ons vir God om ons gebed te beantwoord – nie op grond van ons eie verdienste nie, maar op grond van Jesus, in Wie se Naam ons bid, se verdienste. Ons vra God om ons gebed te beantwoord as gevolg van ons verhouding met Jesus, die Seun.

Ons vra dit van God die Vader op grond van die feit dat ons “in die Messias bly” – want dít is ons posisie sedert ons verlossing. Ons moet op grond van ons nuwe en verheerlikte posisie in die Messias bid.

As ons in Jesus se Naam bid, beteken dit dus ons bid in sy gesag, om sy ontwil en tot sy eer.

2. Die skrifgedeeltes
Die tweede kwessie oor die rol van die Seun is dat ons ses keer vermaan word om in die Naam van Jesus te bid. Al ses voorbeelde kom uit die Evangelie van Johannes.

a. Johannes 14:13
Eerstens is daar Johannes 14:13: En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

In hierdie vers word gebed direk gekoppel aan die beantwoording daarvan. Daar is ’n voorwaardeklousule: Ons gebede sal slegs beantwoord word as ons in die Naam van Jesus bid.

b. Johannes 14:14
Die tweede voorbeeld is Johannes 14:14: As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Die woord dit verwys na ’n spesifieke gebedsversoek. As dit volgens die voorwaarde gevra word, sal dit verhoor word. Die voorwaarde is dat daar in sy Naam gebid moet word, want dan sal Jesus Self die antwoord gee.

c. Johannes 15:16
Die derde voorbeeld is Johannes 15:16: … sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

In hierdie geval word die gebed aan die Vader gerig, in die Naam van Jesus. God skik sy reaksie op grond daarvan dat daar in die Naam van Jesus gevra is.

d. Johannes 16:23
Die vierde voorbeeld is Johannes 16:23: Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.

e. Johannes 16:24
Die vyfde voorbeeld is Johannes 16:24: Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Hier het ons te doen met ’n nuwe bedeling. Tot op hierdie punt het mense nie in Jesus se Naam gebid nie, maar nou moes hulle wel. Dit is deel van die bedelingsoorgang tussen die Oue en die Nuwe, die Bedeling van die Wet en die Bedeling van Genade.

f. Johannes 16:26
Die sesde vermaning is Johannes 16:26: In daardie dag sal julle in my Naam bid …

Dit benadruk ook die bedelingsverandering.

3. ’n Sleutelvoorbeeld
Die derde kwessie wat die rol van die Seun betref, is die sleutelvoorbeeld van iemand wat in Jesus se Naam gebid het.

Dit word in Efésiërs 5:20 gevind: … terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus.

Let daarop dat die gebed gerig is aan God die Vader, maar gebid word in die Naam van onse Here Jesus Christus.

4. Ons Hoëpriester van gebed
Die vierde kwessie oor die rol van die Seun is dat die Messias nou ons Hoëpriester van gebed is. Daar is twee skrifgedeeltes wat dit vir ons leer.

a. Hebreërs 4:14-16
Die eerste is Hebreërs 4:14-16: Die punt van vers 14 is dat ons nou ’n Hoëpriester in die hemel het. Die punt van vers 15 is dat hierdie Hoëpriester wat ons nou in die hemel het, weet hoe dit vir mense op aarde voel.

Vers 16 lui: Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

b. 1 Johannes 2:1-2
Die tweede gedeelte is 1 Johannes 2:1-2, wat sê dat ons nou ’n Voorspraak by die Vader het.

D. Die rol van die Heilige Gees
Die punt is hier dat die gebed “in die Heilige Gees” moet wees. Gebed moet dus deur middel van die Heilige Gees geskied. Hier is ook vier dinge waarvan ons moet kennis neem.

1. Die betekenis
Eerstens vra ons: Wat beteken dit om deur middel van, of “in die Heilige Gees”, te bid? Dit beteken dat ons dieselfde soort gebed as die Heilige Gees moet bid – oor dieselfde dinge en in dieselfde Naam. Ons moet oor dieselfde dinge bid as wat die Heilige Gees bid. Die rede waarom die verhoring van sulke gebede gewaarborg is, is omdat ons dieselfde gebed as Hy bid. As ons dit nie doen nie, word ons gebede dalk nie beantwoord nie.

2. Die skrifgedeeltes
Die tweede punt waarop ons moet wys, is die Skrifgedeeltes wat te doen het met die Heilige Gees se rol in gebed. Daar is drie Skrifgedeeltes wat hieroor handel.

a. Efésiërs 5:18-20
Die eerste is Efésiërs 5:18-20. Vers 18 lui: Word met die Gees vervul. Hy sê nie ons moet tot die Heilige Gees bid nie, maar as ons met die Heilige Gees vervul is, bid ons met die regte mate van afhanklikheid van Hom. In vers 20 word daar dus gesê ons moet God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus.

Ons gebede moet aan God die Vader gerig wees, in die Naam van die Seun, maar dit moet in ooreenstemming met die Heilige Gees wees.

b. Efésiërs 6:18
Die tweede gedeelte is Efésiërs 6:18 wat lui: … terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees.

Die konteks van hierdie gedeelte is om in die sfeer van geestelike oorlogvoering te bid.

c. Judas 20
Die derde gedeelte is Judas 20, waar staan: in die Heilige Gees bid. Die agtergrond hiervan is die opbou van ons geloof. As ons in die Heilige Gees bid, bou ons ons geloof op.

3. Die gebed van die Heilige Gees vir ons
Die derde kwessie oor die rol van die Heilige Gees is dat die Heilige Gees vir en saam met ons bid. Romeine 8:26-27 sê die Gees bid om ons swakhede te hulp te kom. Die Griekse woord wat hier vir “hulp” gebruik word, word slegs hier en in Lukas 10:40 gebruik. Dit verwys na praktiese hulp. Die Heilige Gees gee vir ons praktiese hulp in ons gebedslewe.

Die probleem is egter dat ons nie weet hoe ons veronderstel is om te bid nie. Die oplossing is dat die Gees self … vir ons in[tree] met onuitspreeklike sugtinge (Rom 8:26).

Die gevolg is dat Hy [die Vader] wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is. Die Vader antwoord altyd die gebede van die Heilige Gees. Die rede vir die antwoord is omdat Hy [die Gees self] ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree (Rom 8:27).

Galasiërs 4:6 leer ons ook dat God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur [het], en Hy roep: Abba, Vader!

Die Heilige Gees bid vir ons en saam met ons.

4. Die implikasies
Vierdens is die implikasie van die Heilige Gees se rol tweeledig. Eerstens sal ons nie vir God vra om iets te doen wat Hy nie wil doen nie. Die tweede implikasie is dat gebed in die Gees die teenoorgestelde is van gebed in die vlees.
[end]

Inhoudsopgawe

I. DIE OBJEKTIEWE VOORWAARDE VAN GEBED
     A. Die beginsel
     B. Die rol van die Vader
         1. Die enigste Aangeroepene: God die Vader
         2. Die Ou-Testamentiese gebede
         3. Die Nuwe-Testamentiese gebede
     C. Die rol van die Seun
         1. Die betekenis
         2. Die skrifgedeeltes
             a. Johannes 14:13
             b. Johannes 14:14
             c. Johannes 15:16
             d. Johannes 16:23
             e. Johannes 16:24
             f. Johannes 16:26
         3. ’n Sleutelvoorbeeld
         4. Ons Hoëpriester van gebed
             a. Hebreërs 4:14-16
             b. 1 Johannes 2:1-2
     D. Die rol van die Heilige Gees
         1. Die betekenis
         2. Die skrifgedeeltes
             a. Efésiërs 5:18-20
             b. Efésiërs 6:18
             c. Judas 20
         3. Die gebed van die Heilige Gees vir ons
         4. Die implikasies

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat het die Kerk van die Jode ontvang? Wat het dit die Kerk gekos om die evangelie van Jode te weerhou? En wat is die Kerk se plig teenoor Jode? Hierdie studie behandel elk van hierdie drie vrae.