Die skepping van Adam en Eva

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.
Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het. – Génesis 2:4

I. INLEIDING: GÉNESIS 2:4
In Génesis 2:4 kry ons vir die eerste keer in die Bybel die gebruik van die saamgestelde naam, JHWH Elohim of HERE God, waar God se eienaam, HERE, en die woord vir God, Elohim, saam gebruik word. Hierdie vorm kom in totaal negentien keer in hoofstukke 2-3 voor; dan kom dit nog net een keer voor in die die Torah, of die Wet, in Exodus 9:30. Buiten vir die vyf Boeke van Moses, kom dit omtrent twintig keer voor, hoofsaaklik in I en II Samuel, I en II Konings, en I en II Kronieke.

Let op dat die frase lees: Die dag toe. Die Hebreeuse woord vir dag is yom. Wanneer dit op hierdie manier op sy eie gebruik word, kan yom verwys na ’n periode wat langer is as vier-en-twintig uur; dis net wanneer yom saam met ’n getal gebruik word, dat dit altyd na ’n vier-en-twintig uur tydperk moet verwys. In hierdie vers verwys die dag toe hulle geskape is, inderdaad na die vorige ses Skeppingsdae. Dit is egter nie ’n bewys vir enige “dag-jaar” teorie nie, want in Génesis 1 is die woord dag saam met ’n getal gebruik, en daarom moes dit ses afsonderlike vier-en-twintig uur tydperke gewees het.

Vers 4 dien as die inleiding tot ’n hele gedeelte wat strek tot en met Génesis 4:26. Hierdie gedeelte bevat die Gegewens van Adam, wat ons vertel wat gebeur het met die hemel en die aarde wat God geskape het. Uiteindelik is hulle vervloek as gevolg van ongehoorsaamheid, wat verval onder die mensdom vinnig laat toeneem het. Die Skeppingsverhaal sê dat God drie keer geseën het, en vervolgens, in hoofstukke 3-4, het Hy drie keer vervloek.

Hoewel vers 4 ’n inleiding is tot ’n hele gedeelte wat strek tot en met Génesis 4:26, word hierdie studie beperk tot die mense in die tuin in verse 5-25. Die teologie van hierdie gedeelte leer vir ons ses punte.

Een, die mens het die vermoë om God te dien. Twee, die mens is verantwoordelik om die Woord van die Here, waardeur die heelal geskape is, te gehoorsaam. Drie, die instelling van die huwelik is gegrondves. Vier, die mens word aangewys as heerser oor die algemene skepping, daarom word die besonderhede van die mens se skepping sowel as die mens se natuur volgens die beeld van God, vir ons gegee. Vyf, ons word vertel van God se besondere versorging en voorsiening vir die mens. Uit die hand van God het ’n tuin gekom om in te woon. Met betrekking tot Adam, was die naamgewing van die diere ’n besonderse werk; en daar was die voorsiening van Eva. En ten slotte, die teologie leer dat God nie Sy Skepping in die steek sal laat nie.

Ons vind dikwels in die Bybel ’n beginsel wat bekend staan as die Wet van Herhaling. Die Wet van Herhaling verwys na ’n patroon waar een afdeling van die Skrif die chronologiese orde van gebeure van begin tot einde gee. Dit word gevolg deur ’n tweede afdeling van die Skrif wat teruggaan na vroeëre dele van die eerste afdeling, om dit aan te vul met besonderhede. Hierdie gedeelte, Génesis 2:5-25, volg die Wet van Herhaling. Dit gaan terug na ’n vroeëre segment van die eerste afdeling in Génesis 1:1-2:3, in besonder na die sesde dag van die Skepping, en gee vir ons meer inligting oor presies hoe Adam en Eva geskape is en hoe die orde daarvan verloop het.

II. DIE SKEPPING VAN DIE MENS: GÉNESIS 2:5-7

A. Die Agtergrond: Génesis 2:5-6
Hierdie skrifgedeelte begin met spesifieke gegewens oor die skepping van die mens, en gee die agtergrond deur ’n beskrywing van die oertoestand van die aarde in vers 5: [Daar was] nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.

Die toestand was dat iets kortgekom het, iets was nie daar nie. Wat kortgekom het, was dat daar nog geen struike in die veld op die aarde was nie. Die Hebreeuse woord vir nog geen, beteken daar was “nog nie” struike nie, en die woord struike verwys na wilde woestynplante, ’n woord wat net op drie ander plekke in die Bybel voorkom (Gen. 21:15; Job 30:4, 7). Die punt is dat daar nog geen struike in die veld op die aarde [was] nie. Dit lyk asof dit Génesis 1:9-13 weerspreek, wat duidelik sê dat allerlei plante reeds gevestig was. Dit is nie ’n weerspreking nie, want Génesis 1:9-13 beskryf die aarde in die algemeen, waar die plante van die veld op daardie tydstip inderdaad reeds voortgespruit het. Génesis 2:5, egter, beskryf spesifiek die Tuin van Eden. Daar was nog nie enige plante binne-in die tuin nie, want God begin nou eers hierdie tuin ontwikkel as die plek waar Adam en Eva sal woon.

Die eerste rede hoekom daar geen plante of struike was nie, is omdat die HERE God nog nie laat reën [het] op die aarde nie. Die eerste keer wat dit ooit op die aarde sou reën, sou in die tyd van Noag wees, met die Sondvloed. Tweedens, daar was geen mens om die grond te bewerk nie, dit wil sê die grond in die Tuin van Eden. Adam is nie opdrag gegee om die hele aarde te bewerk nie, net om die Tuin van Eden te bewerk. Weer eens, hierdie feite het betrekking op die Tuin van Eden; daar is dus geen teenstrydigheid met Génesis 1:9-13 nie. Dit is die agtergrond vir die skepping van menslike lewe.

Vers 6 behandel die benatting van die aarde: Maar ’n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. Die Hebreeuse woord hier vir mis, is eid; dit word net op een ander plek in die Hebreeuse Bybel gevind, naamlik Job 36:27. Die punt is dat ’n mis uit die aarde opgekom het en die aarde bevogtig het om plantlewe voort te bring, en so het dit aanhou gebeur tot met die Sondvloed.

B. Die Formering van die Mens (Man): Génesis 2:7

1. Die Stoflike Deel van die Mens: Génesis 2:7a

En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde.

Die formering van die mens begin met die skepping van die mens se stoflike deel in vers 7a: En die Here God het die mens geformeer. Die Hebreeuse woord hier vir formeer is yatzar en beteken “om te vorm” of “om volgens ontwerp te fatsoeneer”. Génesis 1:26-27 gebruik die woord bara, wat beteken “Hy het geskep”. Dit verwys na ’n werk wat net God kan doen: skepping uit niks uit. In die geval van Adam se skepping, onderskryf die woord yatzar nie ’n werk uit niks uit nie, maar ’n werk uit iets uit. Al is dit ’n werk uit iets uit, is dit ook ’n werk wat net God kan doen. Die Hebreeuse woord beteken “om te vorm” of “om te fatsoeneer uit ’n sekere stof”. Dit word byvoorbeeld gebruik vir ’n pottebakker wat kleiware fatsoeneer in II Samuel 17:28; Jesaja 29:16; en Jeremia 18:1-17. Dit word ook gebruik vir ’n goudsmid wat afgode maak in Jesaja 44:9 en Hábakuk 2:18. In Jesaja 49:5, word dit gebruik vir die formering van die Messias se liggaam in die moederskoot. Ons word inderdaad vertel dat God dinge vorm: Psalm 33:15 praat van God wat die harte formeer; in Psalm 94:9 formeer God die oog; in Psalm 119:73 het God se hande die mens gemaak. God het dus die menslike liggaam gevorm, gefatsoeneer.

Verder, die mens is geformeer uit die stof van die aarde. Die Hebreeuse woord wat gebruik word, is nie aphar nie, wat stof beteken, maar adamah, wat aarde beteken. Die mens is geskape uit die aarde self. Die beeld is van iets wat uit klei gemaak is, en dit word ook elders herbevestig: in Job 4:19 word gepraat van mense wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is; in Job 10:8-9 het God se hande die mens soos klei gevorm en kan Hy die mens tot stof laat terugkeer; in Job 33:6 sê dit mooi, dat die mens van klei afgeknyp is; in Jesaja 45:9 word die mens uit klei gevorm. Dit onderstreep die nederige oorsprong van die mens, en die naam van die eerste man, Adam, is inderdaad verwant aan die woord vir aarde. In Hebreeus is sy naam Adam en die aarde is adamah. Die beste manier om hierdie stylfiguur te vertaal, is: “God het die aardbewoner uit die aarde geformeer”, wat baie mooi reflekteer dat God vir Adam uit die adamah geskep het.

Die feit dat dit die nederige oorsprong van die mens onderstreep, word gesien in drie maniere waarop die woord elders gebruik word.

Soms word die woord simbolies gebruik vir iets wat min werd is: Génesis 18:27: alhoewel ek stof en as is; Josua 7:6: en hulle het stof op hulle hoofde gegooi; I Samuel 2:8: Hy rig die geringe op uit die stof; I Konings 16:2: Omdat Ek jou uit die stof opgehef [het]; II Konings 13:7: hulle gemaak soos stof as gedors word; Job 2:12: en stof op hul hoofde gestrooi na die hemel toe; Job 16:15: my horing [hoof] in die stof gesteek; Job 42:6: het berou in stof en as; Psalm 18:43: ek [het] hulle vermaal soos stof voor die wind … uitgegooi soos modder van die strate; Psalm 72:9: sy vyande sal die stof lek; Psalm 103:114: Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is; Psalm 119:25: My siel kleef aan die stof; Klaagliedere 2:10: hulle het stof op hul hoof gegooi; Klaagliedere 3:29: Laat hy sy mond in die stof steek; Eségiël 27:30: hulle sal stof op hul hoofde gooi; Miga 1:10: ek [het] my in die stof gewentel; Openbaring 18:19: hulle het stof op hul hoofde gegooi.

’n Tweede manier waarop dit gebruik word, is as ’n simbool van oordeel: vir die slang in Génesis 3:14: stof moet jy eet al die dae van jou lewe; Jesaja 65:25: stof sal die voedsel van die slang wees.

Die derde manier waarop dit gebruik word, is as ’n simbool van die dood: Génesis 3:19: stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer; Job 7:21: Want weldra sal ek in die stof lê; … ek sal daar nie wees nie; Job 17:16: Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof; Job 20:11: Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof; Job 21:26: Saam lê hulle in die stof, en die wurms oordek hulle; Psalm 22:16: U lê my neer in die stof van die dood; Psalm 22:30: almal wat in die stof neerdaal, … en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie; Jesaja 26:19: julle wat in die stof woon; en Daniël 12:2: die wat in die stof van die aarde slaap.

In die rabbynse tradisie, het die rabbi’s geleer dat die stof uit alle dele van die wêreld versamel is om Adam te maak, en stof is ook bymekaargemaak by die toekomstige plek van die Altaar om te simboliseer dat die Altaar versoening sou bring vir die mens se sonde.

Vers 7a handel dus oor die skepping van die stoflike deel van die mens.

2. Die Onstoflike Deel van die Mens: Genesis 2:7b

en in sy neus die asem van die lewe geblaas.

Die skepping van die onstoflike deel van die mens is in die eerste deel van vers 7b: en in sy neus die asem van die lewe geblaas. Die Hebreeuse woord vir asem is neshamah, en dit word vyf-en-twintig keer in die Ou Testament gebruik. Hier bring dit lewe, en maak van die mens ’n lewende siel. In Job 32:8 word dit gebruik om geestelike begrip te bring: Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak. Die uitvloeisel van hierdie neshamah Elohim, hierdie neshamah van God, is dat dit aan die mens ’n morele vermoë gee.

Die laaste deel van vers 7 sê: So het dan die mens ’n lewende siel geword. Die Hebreeuse woord vir siel of gees is ruach. Hierdie woord word gebruik vir God, vir die mens, vir diere, en selfs vir vals gode. Die woord neshamah word net gebruik vir God en die mens, met een uitsondering, Génesis 7:22, waar dit vaagweg na diere verwys. Dit is hierdie neshamah wat lewe in die mens voortbring. As God Sy Gees, Sy ruach, en Sy asem, Sy neshamah, sou terugtrek, verklaar Job 34:14-15: dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer; Psalm 104:29: U neem hulle asem [neshamah] weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof; Jesaja 2:22: die mens wie se asem [neshamah] in sy neus is; want hoe min is hy werd! Die lewe wat in die mens is, word toegeskryf aan hierdie beginsel van neshamah.

Maar wat van mense in vergelyking met diere? Die woord neshamah as ’n woord vir lewe, word wel een keer gebruik met verwysing na diere (Gen. 7:22), maar dit is slegs aan die mens wat hierdie neshamah direk gegee word. Die punt is, hoewel die mens en die dier albei die asem van die lewe in hulle het, is net die mens ewig, want dit is uniek aan die mens gegee. Wanneer diere doodgaan, bestaan hulle nie meer nie. Die onstoflike deel van die mens bly egter voortbestaan na die dood, hoewel die stoflike deel van die mens gesterf het. Dit alles beteken dat die mens gees is. Die gevolg van God se neshamah is dat die mens ’n lewende siel geword het.

Daar is twee Hebreeuse woorde vir lewende siel: die eerste, nephesh, wat “siel” beteken; en die tweede, chayah, wat “lewe”of “lewendig” beteken. Hoewel nephesh chayah in die mens is, is dit ook in diere. Die plekke waar nephesh chayah met betrekking tot diere voorkom, is Génesis 1:24, 30; en 2:19. Weer eens, die verskil is dat die lewende siel van die dier verbind is met die tydelike lewe van die dier se liggaam; sodat, wanneer die liggaam doodgaan, daar geen voortsetting is van die beginsel van lewe of die gees van lewe nie. Met die mens is dit anders. Die mens se siel is ’n ewige siel, ’n voortgaande lewende gees. Wanneer die fisiese of stoflike deel van die mens finaal sterf, bly die onstoflike of geestelike deel van die mens aanhou bestaan. Soos die mens se liggaam, is sy sielegees baie meer kompleks as dié van die dier. Dit is ewig, wat nie die geval is met die beginsel van dierelewe, die dieresiel of dieregees, nie. Hierdie punt word herbevestig in I Korinthiërs 15:45: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.

Weer eens, hierdie terme of kombinasie van terme, word vir sowel die mens as die dier gebruik. Die verskil is dat dit by die dier tydelik is en saam met die liggaam sterf. By die mens is dit ewig; die liggaam sal sterf, maar die onstoflike deel van die mens sal aanhou bestaan. Wat is die ware verskil dan, aangesien die beginsel van sielegees op albei van toepassing is? Die hoof verskil wat die mens ewig maak en die dier verganklik, is die mens se uniekheid wat lê in die feit dat hy die beeld van God het. Diere was nie geskape na die beeld van God nie. Dit is dus hierdie kern onderskeiding wat die mens ewig maak. Verder, beide die mens en die dier het stoflike eienskappe, en albei se stoflike eienskappe sal sterf. Maar die ander fundamentele verskil is dat die liggame van diere nooit opgewek sal word nie, want hulle het nie ewige siele nie. Omdat diere nie ewige siele het nie, is dit toelaatbaar om hulle te slag en te eet as voedsel vir die mens, iets wat later met die Noagitiese Verbond in Génesis 9 gesê sal word. Wat die mens betref, sal die liggame van sowel gelowiges as ongelowiges eendag opgewek word, natuurlik tot twee verskillende bestemmings, maar die feit is, albei sal uit die dood uit opgewek word. Weer eens, watter ooreenkomste daar ookal mag wees in die stoflike en onstoflike deel van die mens en die dier, die verskil is dat die mens ewig sal lewe, omdat net die mens na die beeld van God geskape is.

III. DIE TUIN IN EDEN: GÉNESIS 2:8-149

A. Die Aanplanting van die Tuin: Génesis 2:8-9
Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee.

Vanuit hierdie perspektief, sal in die Ooste Mesopotamië beteken, die oostelike deel van Eden. Adam was wes van Eden geformeer en nou plant God ’n tuin in Eden, in die Ooste, in vers 8a. Die HERE God [het] ’n tuin geplant, ’n regstelling van die vroeëre stand van sake in vers 5, toe daar nog geen groen plante in die tuin was nie. Deur Sy daad, is plante nou in volle bloei. Hoewel ons dit “die Tuin van Eden” noem, is dit eintlik ’n tuin in Eden, wat ’n spesifieke plek is. Die grondbetekenis van Eden is “benatting”. Die implikasie van die wortelbetekenis kan gesien word in Psalm 36:9. In sy enkelvoudvorm kom dit dertien keer voor in die Ou Testament; in sy meervoudsvorm kom dit drie keer voor. Die etimologiese betekenis is, “’n plek waar volop water is”, soos gesien kan word in Génesis 13:10. Drie keer word ons duidelik gesê dat die tuin as sodanig, van Eden onderskei word (Gen. 2:8, 10; 4:16). Weer eens, dit is nie die Tuin van Eden nie, maar die tuin in Eden.

Die teks vervolg in vers 8b: en [Hy het] daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee. Die mens is daar geplaas om daar te woon; dit sou sy woonplek wees tydens sy staat van onskuld. Ander name vir Eden en die tuin sluit in: die tuin van die HERE (Gen. 13:10; Jes. 51:3) en die tuin van God (Eseg. 28:13; 31:9). Hou in gedagte dat dit nooit die Tuin van Eden genoem word nie, maar dit is ’n tuin in Eden.

In vers 9 word Adam nou vertel van die bome in die tuin: En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Vir elke boom was daar twee vereistes. Eerstens, elke boom moes begeerlik wees om te sien, dit moes estetiese waarde hê; en tweedens, elke boom moes goed wees om van te eet, dit moes voedingswaarde hê.

Die eerste boom, wat die boom van die lewe genoem is, was ook in die middel van die tuin. Hierdie boom sou lewe voorsien in ’n staat van volgehoue saligheid. Dit sou die mens vir alle ewigheid in sy fisiese lewe bekragtig het. Deur van hierdie boom te eet, sou dit onmoontlik wees om fisies te sterf. Dit was geplaas in die middel van die tuin in Eden. Ander verwysings na dieselfde boom word gevind in Génesis 3:22, 24; Spreuke 3:18; 11:30; 13:12; 15:4; en Openbaring 2:7; 22:2 en 14. In Openbaring 22:19 word daar ook met betrekking tot die ewige lewe, verwys na die boek van die lewe.

’n Tweede boom word dan genoem: die boom van die kennis van goed en kwaad. Hier, en dan weer in Génesis 2:17, is die enigste twee plekke waar hierdie boom genoem word. Die konsep is dat ’n mens die mag het om self te besluit wat in jou beste belang is en wat nie, byvoorbeeld om soos God te wil wees. Deutoronómium 1:39 gebruik hierdie konsep met verwysing na klein kindertjies wat reeds oud genoeg is om aanspreeklik te wees; I Konings 3:9 pas dit toe ten opsigte van die neem van verantwoordelike besluite. Die konsep van goed en kwaad hou in dat ’n mens die mag het om besluite te neem vir jou eie beswil of tot jou eie nadeel. In die Christelike tradisie word daar dikwels na die boom verwys as ’n appelboom, maar die Bybelteks sê nie dat die vrug ’n appel is nie.

Wat is die rabbynse siening omtrent die boom? Daar was verskillende sieninge onder die rabbi’s. Party het gevoel dit was die wynstok, want nie een ander vrug veroorsaak soveel swaarkry en ellende nie. Ander rabbi’s het gedink dit was koring, want in daardie tyd het hulle gedink koring groei aan bome. Koring verteenwoordig kennis, en ’n kind begin eers te leer wanneer hy oud genoeg is om koring te eet. ’n Derde rabbynse siening was dat dit ’n vyeboom was, omdat die blare gebruik is om hulle naaktheid te bedek. Nog ’n siening is dat dit die sitroen was, of in Hebreeus, die etrog, omdat Eva gesien het dat dit goed was om van te eet (Gen. 3:6); dit verwys na die smaaklike deel, wat in rabbynse tradisie die etrog is. [Die HAT omskryf sitroen as ’n “Geel vrug wat soos ’n suurlemoen lyk, maar minder skil het.”]

B. Die Riviere van die Tuin: Génesis 2:10-14
Hierdie afdeling bevat besonderhede van die spesifieke riviere van die tuin. Eerstens lees ons van die oorsprong van die vier riviere in vers 10: En daar het ’n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. ’n Enkele rivier het uit die land van Eden in die tuin ingegaan. Sodra dit die tuin ingegaan het, het dit in vier riviere verdeel, en dan word elke rivier in die teks beskryf.

Die eerste rivier se naam is in verse 11-12: Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. Hierdie rivier is vandag onbekend, maar volgens die rabbynse tradisie is dit die Nylrivier. Die land Háwila wat in Génesis 25:18 voorkom, is vandag Sentraal-Arabië, oos van Israel. Ons weet waar die land Háwila is, maar ons ken nie die ligging van die rivier in die land nie. Verse 11b-12 sê dis ’n plek waar die goud is. En die goud van dié land is goed. In hierdie plek is daar ook balsemgom, ’n soetruikende aromatiese gom afkomstig van die kamferplant. Dit word ook genoem dat daar onikssteen is, wat klem lê op die rykdom van die land in sowel water as edelgesteentes. Hierdie edelgesteentes is oorblyfsels uit die tyd voor Satan se val. Voor die val van Satan was hierdie aarde bedek met verskillende edelgesteentes, soos genoem in Eségiël 28:13.

Die tweede rivier se naam is in vers 13: En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. Hierdie rivier is ook vandag aan ons onbekend. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. Die woord Kus word dikwels in verband gebring met Ethiopië, maar in hierdie konteks lewer dit ’n geografiese probleem op. Daar is nog ’n land wat bekend staan as Kus, naamlik die land van die Kussiete, ook bekend as die Kusseane. Dit is geleë oos van Mesopatamië en oos van die Tigrisrivier. Dit is hierdie spesifieke Kus wat bedoel word, want dit pas baie goed in by die geografiese gegewens.

Die derde rivier word genoem in vers 14a: En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. Vandag is hierdie rivier bekend as die Tigrisrivier. Dit is hy wat oos van Assur loop; die Tigrisrivier is in Assirië, wat die moderne Noord-Irak is.

En die vierde rivier is die Frat (beter bekend as die Eufraat) in vers 14b. Hierdie rivier is vandag welbekend; dit is geleë in antieke Babel, vandag bekend as die moderne Suid-Irak.

Dit is die vier riviere, twee wat aan ons bekend is en twee wat onbekend is. Die geografiese verskille is heelwaarskynlik toe te skryf aan die gevolge van die Sondvloed wat in die tyd van Noag die geografie verander het.

Om die beskrywing van die tuin in Eden op te som, dit was ’n tuin waar baie water was. Adam moes die grond bewerk en hy sou nie baie ver moes gaan om water te vind nie. Verder was daar alreeds bome daar geplant, wat mooi was vir die oog en goed om van te eet. Wat ons leer met betrekking tot die bome van die tuin, is dat God doelbewus ’n plek geskep het vir lewensonderhoud sowel as skoonheid wat geniet kon word.

IV. DIE EDENIESE VERBOND: GÉNESIS 2:15-17
Daar is twee dele van die Edeniese Verbond. Die eerste deel word gevind in Génesis 1:28-30 en omvat die eerste vier stipulasies: eerstens, om die aarde te bevolk; tweedens, om gesag oor die stoflike wêreld uit te oefen; derdens, om gesag oor die diereryk te hê; en vierdens, om ’n vegetariese dieet te volg. Hierdie studie behandel die tweede deel van die Edeniese Verbond en die oorblywende drie stipulasies: die fisiese arbeid in die tuin; die toegelate voedsel en die verbode voedsel in die tuin; en die straf vir ongehoorsaamheid.

A. Fisiese Arbeid in die Tuin: Génesis 2:15
Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

Die vyfde stipulasie van die Edeniese Verbond het betrekking op fisiese arbeid in die tuin: om dit te bewerk en te bewaak. Die handeling was: Toe het die HERE God die mens geneem uit die eintlike plek waar hy geskape is, en hom in die tuin van Eden gestel; Adam was buite die tuin geskape en toe daarin gestel. Die Hebreeuse woord vir “stel” beteken letterlik “om te rus”. God het hom in die tuin in Eden gestel “om te rus”, want die tuin was God se rus net soos die Beloofde Land in Psalm 95:11.

Die doel was tweevoudig: om dit te bewerk, wat beteken “om te werk” en “om te dien”. Neem kennis dat fisiese aktiwiteit deel was van die oorspronklike skepping. Arbeid het nie ná die Sondeval eers gekom nie, dit was reeds daar voor die Sondeval. Fisiese aktiwiteit was geestelike diens tot God. Die mens is daar, nie om gedien te word nie, maar om ’n dienaar te wees. Dan sê die vers: en [dit] te bewaak. Dit is ’n Hebreeuse woord wat beteken “om te bewaak” soos wat dit gebruik word in Génesis 3:24. Dit beteken “om gehoorsaam te bly”, “om groot sorg uit te oefen oor tot op die punt van waghouding”. Die bewaking van die tuin sou ’n daad wees van gehoorsaamheid aan God.

Weer eens, arbeid was ’n integrale deel van die volmaakte staat. Op daardie stadium, egter, was die arbeid lig, en die aarde het maklik vrug opgelewer. Dit was nie moeitevolle arbeid nie, nie arbeid wat laat sweet het nie. Dit is eers hoe dit na die Sondeval sou wees.

C. Toegelate Voedsel en Verbode Voedsel in die Tuin – Génesis 2:16-17a

En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet.

Die sesde stipulasie in die Edeniese Verbond is die voedsel wat toegelaat was om te eet en die voedsel wat verbode was. Die eerste opdrag in die Bybel is in vers 16a: En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê. Eers handel Hy met dit wat toegelaat word in vers 16b: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet. Die mens moes toe nog streng vegetaries wees; hy kon van al die vrugte en groente eet.

Dan volg die een verbod in vers 17a: maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie. Hierdie verbod was die een toets om te sien hoe die mens sou reageer ten opsigte van die wil van God. Dit was ’n toets vir die erkenning van en die onderwerping aan die wil van God. Die mens moes nie aanvaar, net omdat hy oor die aarde aangestel was, dat hy onafhanklik van God was en vrygestel was van God se wet nie.

Die vraag is, “Sal die mens, soos Satan, God se reg om te regeer verwerp, deur homself onafhanklik van God te verklaar?” Hierdie toets was net vir ’n proeftydperk. Die mens was geskape in ’n staat van onbevestigde skepselheiligheid, wat beteken dat hy heilig geskape is, maar op daardie stadium was die heiligheid nog nie bevestig nie. Die mag van vrye keuse is aan die mens gegee: die vermoë om teen sy natuur in te kies. Hy was volmaak en heilig, maar hy het die vermoë gehad om ’n onvolmaakte en onheilige keuse uit te oefen. Die mens moet self, uit eie keuse, besluit om God lief te hê en te gehoorsaam. As die mens hierdie toets geslaag het, sou sy heiligheid, sonder die vermoë om te sondig, op die lang duur bevestig gewees het.

’n Soortgelyke ding het met die engele gebeur. Met die opstand van Satan, het die engele ’n keuse gekry. Hulle het die mag van vrye keuse gehad, en die wat dus vir Satan gevolg het, is in hulle boosheid bevestig en nou kan hulle nie anders as om te sondig nie. Die engele wat nie vir Satan gekies het nie, is in hulle heiligheid bevestig en het nie meer die vermoë om te kies om te sondig nie. Hulle heiligheid is bevestig. As die mens na ’n proeftydperk die toets sou geslaag het, sou hy ook in sy heiligheid bevestig gewees het. In stede daarvan, is hy bevestig in sy onheiligheid; hy het ’n sondige natuur; hy kan nie anders as om sonde te doen nie. Die mens sal in daardie toestand verkeer totdat God ’n verandering instel. Dié van ons wat gelowiges is, sal ons opgestane liggame hê; dan, met ons regverdigmaking bevestig, sal ons nie langer die vermoë hê om te sondig nie.

C. Die Straf vir Ongehoorsaamheid – Génesis 2:17b

want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Die sewende stipulasie van die Edeniese Verbond is die straf: geestelike dood. Die dood sou intree op dieselfde dag as die oortreding: die dag as jy daarvan eet. Dis duidelik dat dit na geestelike dood verwys, want Adam het nie fisies gesterf die dag toe hy geëet het nie. Hy het wel geestelik gesterf, wat beteken, skeiding van God. Die Hebreeuse frase is mot tamut, die gebruik van dieselfde wortel twee keer saam, om dit baie nadruklik te maak; ’n letterlike vertaling sou wees, “sterwend sal jy sekerlik sterf”. Hierdie vorm kom veertien keer voor: Génesis 2:17; 3:4; 20:7; I Samuel 14:44; 22:16; I Konings 2:37, 42; II Konings 1:4, 6, 16; Jeremia 26:8; Eségiël 3:18; 33:8 en 14. Dit voorveronderstel die aankondiging van ’n doodsvonnis deur goddelike of koninklike verordening. In die konteks van die Boek van Génesis is dit ’n goddelike verordening, dus, hier het ons die konsep van die erfsonde.

Die Judaïsme glo natuurlik nie in die beginsel van die erfsonde nie, so hoe verduidelik hulle hierdie vers? Daar is ten minste vier rabbynse sieninge. Een, sommige rabbi’s sê die dag toe Adam geëet het, het hy nie gesterf nie, hy het net sterflik geword. Twee, ander glo dat God vir Adam, uit jammerte, een van God se dae of eenduisend jaar, laat leef het. Adam het natuurlik net negehonderd-en-dertig jaar geleef, so nou leer die rabbi’s dat die laaste sewentig jaar van Adam se lewe vir Dawid gegee is, wat andersins doodgebore sou gewees het. Die derde rabbynse siening is dat die frase die dag net verwys na die dag van die week waarop Adam uiteindelik sou sterf. Die vierde perspektief is dat Adam net op die dag sou sterf indien hy nie tot insig sou kom nie, maar hy het tot insig gekom. Deur al sulke verdraaiings probeer die rabbi’s om die konsep van die erfsonde weg te redeneer.

V. DIE SKEPPING VAN DIE VROU – GÉNESIS 2:18-25

A. Die Situasie in die Tuin – Génesis 2:18
Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.

Die laaste segment begin met die uitlê van die situasie: Ook het die HERE God gesê. Weer het ons ’n goddelike uitspraak. Sy verordening hier, is in vers 18a: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Dit is die enigste ding wat God gesê het nie goed is nie, in teenstelling met al die goeie dinge wat Hy uitwys ten opsigte van die ses dae van die Skepping, soos: die hemel van Génesis 1:8 is voltooi met die ligte van verse 14-18 en die voëls van vers 20; die see van vers 10 is voltooi met die visse van verse 20-21; die aarde van vers 10 is voltooi met die diere en die mens van verse 24-26; en, nou, in Génesis 2:18, is die man nie voltooi sonder die vrou nie. Die woord goed beskryf wat paslik of behoorlik is binne die wil van God. Dit was nie God se doel vir die man om alleen te wees nie.

God sê in vers 18b: Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas. Dit verwoord die behoefte vir ’n helper vir Adam. In ons moderne tyd sal party mense dit seker as ’n neerhalende term beskou. Dit is nie. Daar word na God Self verwys met dieselfde Hebreeuse woord, eizer, wat “helper” beteken. Dit word in die volgende skrifgedeeltes gebruik om God te beskryf: Exodus 18:4; Deuteronómium 33:7, 26, 29; I Samuel 7:12; Psalm 20:3; 33:20; 46:2; 70:6; 115:9-11; 124:8; en 146:6. Dit word van God gebruik, wat wys dis nie bedoel om negatief opgeneem te word nie. Wanneer Hy sê: vir hom ’n hulp, word die woord kenegdo gebruik. Waar dit net hier en in vers 20 voorkom, beteken kenegdo letterlik “ ’n hulp soos in voor hom”. Dit benadruk dit wat opvallend is, dit wat in vol sig is, dit wat reg voor hom is. As al hierdie betekenisse saamgeneem word, sluit die basiese betekenis in: ’n hulp soos hy; ’n hulp wat gepas is vir hom; ’n hulp wat hom werd is; ’n hulp wat met hom ooreenstem; ’n hulp as sy teenoorgestelde; ’n hulp as sy ekwivalent. Wat die man ookal ontvang het op die dag van sy skepping, die vrou sou dit ook ontvang. Sy is iemand wat die man perfek sal voltooi, iemand wat sal aanvul wat in die man kortkom, iemand wat kan doen wat die man nie alleen kan doen nie. Die man is op so ’n manier geskape dat hy die hulp van ’n maat nodig het, en sy beantwoord fisies, sosiaal en geestelik. Daar was hoofskap voor die Sondeval, maar dit was komplementerend, nie kompeterend nie.

B. Die Ontdekking van Adam se Behoefte – Genesis 2:19-20
God het alreeds Adam se behoefte geken, maar Hy wou seker maak dat Adam self sy gemis sou besef. God doen dit nogal op ’n unieke manier deur vir Adam aan te stel om vir die diereryk name te gee: En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens [vir homself] het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.

Die oorsprong van die diereryk word gegee in vers 19a: En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld. Dit is die wilde diere, want volgens vers 20 was daar alreeds mak diere in die tuin. God het ook al die voëls van die hemel geformeer. Die oorsprong van die diereryk en die oorsprong van die mens is dieselfde: uit die aarde.

Die diereryk word na Adam toe gebring in vers 19b: na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. Dit wys dat die mens geskape is met die vermoë om die Hebreeuse taal te praat. Twee hoof redes kan hiervoor aangevoer word. Een, alle name voor die Toring van Babel is Hebreeuse name en het betekenisse slegs in Hebreeus al het die Joodse volk toe nog nie bestaan nie. Dit is nie met alle name ná die Toring van Babel die geval nie, toe daar ook nie-Hebreeuse name was. Tweedens, voor Babel, maak al die woordspelings in die Bybel net sin in Hebreeus. Génesis 2:23; 3:20; 4:1, en 25, is almal voorbeelde van Adam en Eva se gebruik van woordspelings wat net sin maak in Hebreeus, en dit bewys dat Adam se taal Hebreeus was.

Die mens begin om sy heerskappy oor die diereryk uit te oefen deur die diere name te gee in vers 19c: En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.

Naamgewing is ’n daad van gesag. In Númeri 32:37-38 het die Rubeniete gesag uitgeoefen deur die benoeming en herbenoeming van stede wat hulle ingeneem net. In II Konings 23:34 het Farao Nego sy gesag oor Juda uitgeoefen deur die naam van Éljakim te verander na Jójakim; In II Konings 24:17 het die Koning van Babel sy gesag oor Juda uitgeoefen deur die naam van Mattánja te verander na Sedekía. Naamgewing van iets of iemand is ’n daad van gesag. Die woorde: so moes hulle naam wees, het die mens se gesag oor die diereryk bevestig. Soos wat hy hulle in Hebreeus genoem het, so was die naam in Hebreeus.

Vers 20a sê: So het die mens dan name gegee aan drie kategorieë van diere: eerstens, aan al die vee, die mak diere, wat toon dat hulle alreeds in die tuin was en nie na die mens toe gebring moes word nie; tweedens, aan die voëls van die hemel; en, derdens, aan al die wilde diere van die veld, die wilde diere. Dit was die uitvoering van die mens se heerskappy oor die diere van die diereryk. Die laaste gedeelte van vers 20b gee die rede hoekom God wou hê dat Adam name vir al die diere moes gee: maar vir die mens [homself] het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie. Adam kon nou uit eie ervaring sien dat niks in die diereryk sy behoefte sou aanspreek nie, dit wil sê hom sou aanvul (voltooi) nie. Hierdie proses, dan, het sy eensaamheid onderstreep. Sover dit die mens aangegaan het, kon hy nie ’n skepsel vind wat werd was om sy hulp te wees, wat as sy ekwivalent beskou kon word, en vir wie hy daarom ’n naam sou kon gee wat met Adam sou ooreenstem nie.

C. Die Formering van die Vrou – Génesis 2:21-22
Toe het die HERE God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens.

Die formering van die vrou kom in vers 21a: Toe het die HERE God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap … Die Hebreeuse woord hier is tardeimah, wat beteken, ’n diepe slaap deur God aangebring. Die rabbi’s se interpretasie hiervan is dat dit ’n man sou leer om nie gedurig met sy vrou te baklei nie; as sy iets doen wat hom mishaag, moet hy dit ignoreer of “daaroor slaap” – ’n oulike toepassing, maar nie juis die eksegetiese betekenis van die vers nie!

Dan volg die heel eerste operasie wat ooit uitgevoer is in vers 21b: … het Hy een van sy ribbebene geneem … Die Hebreeuse woord hier is tzeila; dit beteken nie letterlik “ribbebeen” nie, maar “kant”, en verwys na Adam se sy. Dit is dieselfde woord wat gebruik word vir die sykante van die Ark (Ex. 25:12, 14; 37:3, 5); dit word ook gebruik vir die kante van ’n gebou (Ex. 26:20; 36:25); dit was gebruik vir die sykamers van die Tempel (Eseg. 41:5-8); dit word gebruik vir die kam of die kant van ’n heuwel (II Sam. 16:13). Dit is net hier waar die woord as “ribbebeen” vertaal word, maar om konsekwent te wees, behoort dit beskou te word as Adam se sy. Dit beteken dat die vrou uit ’n onbenoemde deel van die man se liggaam geformeer was. Dit sluit sowel vleis as been in, want God het ook die vleis wat aan die been was gebruik, soos gesien kan word in vers 23; dit was uit Adam se sy geneem om die vrou se stand van gelykheid te toon. Vervolgens het God die plek daarvan met vlees toegemaak, en Adam ná die operasie onmiddellik genees.

Die skepping van Eva volg dan in vers 22: En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou; met ander woorde, iets is uit Adam se sy geneem wat sowel vleis as been bevat het.

Die rabbi’s probeer om die rede vir God se keuse van die sy of ribbebeen, op die volgende maniere te verduidelik: God het nie ’n deel van Adam se kop gevat sodat sy hovaardig sou wees nie; ook nie van sy oog sodat sy ’n dwalende oog sou hê nie; ook nie van die oor nie, anders sou sy na alles wou geluister het; ook nie van die mond sodat sy dalk te veel sou praat nie; ook nie van die hart sodat sy jaloers sou wees nie; ook nie van die hand sodat sy alles sou wou gryp nie; ook nie van die voet nie, anders sou sy dalk ’n wegloper gewees het; daarom was dit uit die ribbebeen, wat nie eens sigbaar is wanneer ’n man naak is nie. En nadat hulle dit alles gesê het, was die rabbi’s se gevolgtrekking, dat niks daarvan gehelp het nie!

Die laaste frase van vers 22 sê: bou die rib … tot ’n vrou, wat beteken “om te bou”. ’n Paar Nuwe Testamentiese leringe wat gebaseer is op hierdie skrifgedeelte van Génesis, is: I Korinthiërs 11:8: Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man; en I Timothéüs 2:13: Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.

Die teks eindig met: en bring haar na die mens.

So was Eva dan God se geskenk aan Adam: Sy was die hulp … wat by hom pas.

D. Adam se Reaksie – Génesis 2:23
Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.

Adam se reaksie is: Toe sê die mens. Dit was Adam se onmiddellike reaksie, wat terloops, die eerste opgetekende woorde van die mens is. Met hierdie woorde was daar insig oor waar Eva vandaan kom. Adam se uitroep is: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Dit word gebruik as ’n verbondsformule in II Samuel 5:1, toe die Tien Stamme hulle gelofte van trou aan Dawid gemaak het. Hierdie frase is ’n verbondsverklaring van die verbintenis in die huwelik; van hier af komplementeer sy hom; sonder haar is hy onvoltooid.

Adam se verklaring is: Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Hierdie benoeming van Eva beeld nog ’n woordspeling uit. In Hebreeus is dit, “Sy sal ishah genoem word, want sy is uit ish geneem”. Dit wys weer eens dat Hebreeus die eerste taal was, want hierdie woordspeling werk net in Hebreeus. Die vrou is uit die man gemaak, vir die man gemaak, vir die man gegee, en deur die man benoem. Volgens rabbynse tradisie is albei geskape op die ouderdom van twintig.

E. Die Beginsel van die Huwelik – Génesis 2:24
Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Hierdie vers verklaar die beginsel van die huwelik: Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat. Die Hebreeus benadruk dat dit die grondslag vir die huwelik is. As hy sy vader en moeder verlaat, word bande verbreek, hy beweeg van onderdanigheid na ’n posisie van eer; nie soseer ’n fisiese wegbeweeg nie, meer ’n verstandelike en emosionele wegbeweeg. Verlaat of alleen laat beteken nie wegbeweeg in ’n negatiewe sin nie, maar in ’n positiewe sin; dit is om ’n mens se lojaliteit van die een na die ander te verskuif.

En dan moet hy sy vrou aankleef. Hy verskuif sy lojaliteit van sy ouers na sy vrou. In hierdie frase beteken die Hebreeuse woord vir aankleef, “om soos gom te klou”. Dit word dikwels gebruik om die nakoming van ’n verbond aan te dui (Deut. 4:4; 10:20; 11:22; 13:4; 30:20). Daar is nou ’n nuwe lojaliteit; sy lot is nou verbind aan haar lot, nie aan die lot van sy ouers nie. Die skepping van die mens het sy doel bereik in die komplementerende vennootskap van die man en vrou.

Dan verklaar Hy: En hulle sal een vlees wees. Die eenwording word bereik deur seksuele vereniging. Adam is volgens verbond met Eva verenig; hulle het een vlees geword, geïnisieer deur die eerste seksuele vereniging.

F. Die Beginsel van Intimiteit – Génesis 2:25
En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Hierdie gedeelte eindig met hulle onskuld. Dit is die beginsel van intimiteit. Hulle kon mekaar se naaktheid sien sonder wellus. Hulle was gemaklik by mekaar. Daar was deursigtigheid, niks om weg te steek nie. Daar was geen vrees vir die ontginning van boosheid nie. Daar was absolute ontbloting, maar geen skaamte nie. Hulle was sonder skaamte naak voor God en voor mekaar, want hulle het niks verkeerds gedoen nie. Op hierdie stadium was daar geen wellus wat teen die siel gestry het nie. Met hierdie vereniging, kom ons by die slot van die verhaal van die skepping van Adam en Eva.
[end]

Inhoud van hierdie artikel.
I. INLEIDING — GÉNESIS 2:4
II. DIE SKEPPING VAN DIE MENS — GÉNESIS 2:5-7
    A. Die Agtergrond — Génesis 2:5-6
    B. Die Formering van die Mens (Man) — Génesis 2:7
       1. Die Stoflike Deel van die Mens — Génesis 2:7a
       2. Die Onstoflike Deel van die Mens — Génesis 2:7b
III. DIE TUIN IN EDEN — GÉNESIS 2:8—14
    A. Die Aanplanting van die Tuin — Génesis 2:8-9
    B. Die Riviere van die Tuin — Génesis 2:10-14
IV. DIE EDENIESE VERBOND — GÉNESIS 2:15—17
    A. Fisiese Arbeid in die Tuin — Génesis 2:15
    B. Toegelate Voedsel en Verbode Voedsel in die Tuin — Génesis 2:16-17a
    C. Die Straf vir Ongehoorsaamheid — Génesis 2:17b
V. DIE SKEPPING VAN DIE VROU — GÉNESIS 2:18—25
    A. Die Situasie in die Tuin — Génesis 2:18
    B. Die Ontdekking van Adam se Behoefte — Génesis 2:19-20
    C. Die Formering van die Vrou — Génesis 2:21-22
    D. Adam se Reaksie — Génesis 2:23
    E. Die Beginsel van die Huwelik — Génesis 2:24
    F. Die Beginsel van Intimiteit — Génesis 2:25

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat word met Adam en Eva se onbevestigde heiligheid bedoel? Wat was God se doel met die toets wat Adam en Eva in die tuin in Eden moes slaag? En wat sou gebeur het as hulle die toets geslaag het? Hierdie studie van die 24 verse van Genesis 3 ontleed in detail die versoeking, sondeval, geestelike dood, God se besoek aan die mens ná die sondeval – asook die effek hiervan op die bepalings in die Adamiese verbond.