Die sondeval

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. – Génesis 2:16-17

I. DIE STAAT VAN ONSKULD
Die eerste kategorie handel oor die staat van onskuld; die mens se staat voor die Sondeval. Vier spesifieke sake word behandel: die mens se oorspronklike staat, die mens se oorspronklike omgewing, die mens se oorspronklike verantwoordelikheid, en die mens se proeftydperk.

A. Die Mens se Oorspronklike Staat
Daar is vier aspekte ten opsigte van die mens se oorspronklike staat: sy onbevestigde heiligheid (hy moes nog getoets word om te sien of hy sou sondig), sy vryheid van keuse, sy heerskappy oor die Skepping, en sy gemeenskap met God.

1. Sy Onbevestigde Heiligheid
Die staat waarin die mens geskape is, was ’n staat van volwassenheid en volmaaktheid. Die mens, in die staat van onskuld, het twee dinge gehad: aanvanklike geregtigheid en die beeld van God.

Aanvanklike geregtigheid het drie dinge behels: een, alles in die mens se samestelling het gespreek van volkome harmonie en inskiklikheid; twee, dit het kennis, geregtigheid en heiligheid ingesluit (Ef. 4:24; Kol. 3:10); en drie, dit het morele kwaliteite ingesluit wat basies passief was. Dit beteken dat die mens in sy oorspronklike staat onskuldig was en geen kwaad kon doen nie. Teologies word dit genoem “onbevestigde skepselheiligheid”. Hy was heilig geskape, maar die heiligheid was nog nie getoets nie; daarom was dit ’n onbevestigde heiligheid. Verder, dit was nie die heiligheid van die Skepper, wat nie die vermoë het om te sondig nie, maar dit was die heiligheid van die skepsel wat die opsie van ongehoorsaamheid gehad het en die vermoë om te sondig. God kan nie sondig nie, maar die mens, in sy oorspronklike staat, kon sondig. Sy heiligheid as skepsel was nog onbevestig. Adam het ’n onskuldige, morele karakter gehad, wat nog nie op die proef gestel was nie.

Die beeld van God in die mens sluit sekere fasette van die uiterlike beeld, sowel as die innerlike beeld in, en daar moet op vier dinge gelet word: een, dit verwys na daardie eienskappe van God wat ook waar is van die mens; twee, daar is een eienskap wat nie langer bestaan nie, en dit is onbevestigde skepselheiligheid, wat verbeur is met die Sondeval; drie, daar is steeds ander eienskappe wat God en die mens in gemeen het, en die mens het dus steeds die beeld van God in hom, maar dit is geskend; en vier, hoewel dit geskend is, is daar steeds genoeg daarvan oor dat die mens opdrag het om sy medemens daarvolgens te respekteer. Die inhoud van die beeld van God in die mens is nie ’n fisiese gelykenis nie, maar dit is ’n persoonlike gelykenis, ’n geestelike gelykenis, ’n morele gelykenis, ’n sosiale gelykenis, en ’n gesagdraende gelykenis.

2. Sy Vryheid van Keuse
’n Tweede aspek van Adam in die staat van onskuld, is dat hy die vermoë gehad het om te sondig of nie te sondig nie. Teologies word dit genoem “die vryheid van keuse”, die vermoë om teen ’n mens se natuur in te kies. Adam was heilig en volmaak, maar hy het die vermoë gehad om ’n onheilige en onvolmaakte keuse uit te oefen. Selfs God het nie hierdie vermoë nie. Die Bybel leer duidelik dat God se natuur van so ’n aard is dat Hy nie by magte is om te sondig nie. Dit is ’n karaktereienskap van God. Maar Adam, in sy oorspronklike staat, het die vermoë gehad om te sondig of nie te sondig nie.

3. Sy Heerskappy oor die Skepping
’n Derde aspek van die mens in die staat van onskuld, was dat hy geheers het oor die Skepping. Oorspronklik was dit Satan wat heerskappy oor hierdie aarde gehad het, maar met sy val het hy dit verloor. As gevolg daarvan het God toe ’n nuwe ras geskep, die mens, aan wie Hy hierdie heerskappy gegee het. God het vir Adam heerskappy oor die aarde gegee; hy is aangestel oor die Skepping (Gen. 1:26; Ps. 8:5-9; Heb. 2:5-8).

4. Sy Gemeenskap met God
Die vierde aspek van die mens in die staat van onskuld, was dat hy gemeenskap met God gehad het. Génesis 3:8 sê: En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die koel aandwindjie.

Gereeld, op ’n daaglikse basis, in die koel aandwindjie, dit wil sê wanneer die son besig is om onder te gaan, het God op een of ander sigbare manier aan Adam en Eva verskyn en in gemeenskap met hulle verkeer. Die mens, in sy oorspronklike staat van onskuld, het onverbreekte gemeenskap met God gehad, beoefen in ’n ontmoeting van aangesig tot aangesig, gereeld, op ’n daaglikse basis.

B. Die Mens se Oorspronklike Omgewing
Die mens se oorspronklike omgewing in die staat van onskuld, word beskryf in Génesis 2:8-15: Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. En daar het ’n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

Die mens se omgewing was die Tuin van Eden. In hierdie tuin was daar voedsel in oorvloed in die vorm van die verskeie vrugtebome om die mens te onderhou en ook die boom van die lewe om die essensie van lewe te onderhou. Verder, hoewel arbeid deel was van die oorspronklike omgewing, was dit nie moeisame arbeid nie. Arbeid was nodig, maar dit was van ’n ligte aard.

C. Die Mens se Oorspronklike Verantwoordelikheid
Die mens, in sy staat van onskuld, het ’n verantwoordelikheid gehad wat in twee punte opgesom kan word: een, hy was verplig om die tuin te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15); en twee, hy moes aan God gehoorsaam wees (Gen. 2:16-17).

D. Die Mens se Proeftyd
Die mens, in sy staat van onskuld, was in ’n proeftyd. Hierdie proeftyd het drie dinge behels: die toets, die duur, en die oogmerk.

1. Die Toets
Drie sake is betrokke by die toets: die objek, die aard, en die doel van die toets.

a. Die Objek van die Toets
Die objek van die toets was die twee bome in die middel van die tuin. Een boom was die boom van die lewe, waardeur die ewige lewe verkry kon word. As Adam die toets in sy proeftydperk sou geslaag het, sou hy toegelaat gewees het om van die Boom van die Lewe te eet, en hy sou van toe af ewige lewe gehad het en nooit gesterf het nie. Die ander boom was die boom van die kennis van goed en kwaad. Deur van hierdie boom te eet, sou Adam en Eva deur eie ervaring kennis verkry het van die verskil tussen goed en kwaad. Dit sou ervaringskennis wees, nie slegs verstandskennis nie. Deur ongehoorsaamheid sou hulle deur eie ervaring en bittere ondervinding te wete kom wat kwaad is en hoe dit van goed verskil. As hulle eers van hierdie boom geëet het, sou hulle die mag hê om kwaad te doen, maar nie die mag om die goeie te doen wat vir hulle regverdiging voor God sou verseker nie.

b. Die Aard van die Toets
Die tweede saak was die aard van die toets self, wat in Génesis 2:16-17 gegee word: En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Die aard van die toets was eenvoudig: Met uitsondering van een boom, was die mens toegelaat om van elke ander boom van die tuin te eet. Dit het die Boom van die Lewe ingesluit, hoewel dit duidelik is dat hy op daardie stadium nog nie van die Boom van die Lewe geëet het nie, en waarskynlik so vroeg in sy bestaan nie nodig gehad het om dit te doen nie. Hy het net een verbodsbevel gekry: van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie.

Die omvang van die toets was baie beperk. Byvoorbeeld, geen hebsug kon betrokke gewees het nie, want hy was baas van die aarde. Verder, daar kon geen immoraliteit gewees het nie, want hy was getroud met die enigste vrou op aarde. Die enigste moontlikheid van mislukking, het gelê in die verwerping van die wil van God. Hy sou die toets faal ten opsigte van gehoorsaamheid aan God. Die omvang van die toets was dus grootliks beperk. Daar was geen rede waarom hy nie die toets sou kon slaag nie.

c. Die Doel van die Toets
Die doel van die toets was om binne ’n sekere tydperk sy onbevestigde skepselheiligheid op die proef te stel.

2. Die Duur
Die proeftyd was tydelik. Na verloop van ’n sekere tyd sou die verbod verval het.

3. Die Oogmerk
Die oogmerk van die proeftyd was om sy heiligheid as skepsel te bekragtig sodat hy van die vermoë om te sondig kon oorgaan tot die vermoë om nie te sondig nie.

Die proeftyd kan in twee punte opgesom word. Een, as die mens die toets sou geslaag het, sou die proeftyd op ’n sekere stadium verstryk het. Twee, as hy hom daartoe sou verbind het om Satan se versoeking te weerstaan, sou die mens vanuit die proeftyd oorgegaan het tot ’n posisie van permanente seunskap deur van die Boom van die Lewe te eet. Dit is wat sou gebeur het as Adam nie van daardie boom geëet het nie.

II. DIE VERSOEKING
Die tweede kategorie ten opsigte van die Sondeval is die versoeking waardeur die Sondeval teweeggebring is. Dit sal in drie afdelings bespreek word: die Skrif, die aard van die versoeking, en die rede vir die straf.

A. Die Skrif
Die skrifgedeelte wat die besonderhede van die versoeking beskryf, is Génesis 3:1-6: Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

B. Die Aard van die Versoeking
Met betrekking tot die aard van die versoeking, kan drie sake genoem word: die verloop, die gebiede van versoeking, en die opwekking van verkeerde begeertes.

1. Die Verloop
Eerstens, die verloop was in drie fases. Die eerste fase was die bevrediging van onskuldige behoeftes. Génesis 3:1 sê: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? Daar was niks verkeerd met eet nie; om te eet is ’n onskuldige behoefte. God het inderdaad vir hulle gesê hulle mag van enige boom in die hele tuin eet – behalwe een! Die tweede fase in die verloop, was die oordra van twyfel in God se Woord, “Het God regtig so ’n ding gesê?” Skielik was daar ’n sweem van twyfel oor God se Woord. Die twyfel oor God se Woord het gelei na die derde fase in die verloop, waar daar ’n ontkenning van God se Woord was in vers 4: Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie. In Génesis 2:17 het God gesê as hulle van hierdie boom sou eet, sou hulle sekerlik sterf; maar hier in vers 4 is daar ’n ontkenning van wat God gesê het, ’n ontkenning van die Woord van God.

Inderwaarheid is dit vir alle mense die tipiese verloop van enige versoeking. Dit begin met die bevrediging van ’n onskuldige behoefte. Daar is ’n verkeerde manier en ’n regte manier om ’n onskuldige behoefte te bevredig. As ’n mens eers aan die verkeerde maniere van bevrediging begin dink, begin jy twyfel aan die Woord van God, en uiteindelik lei dit waaroor mens slegs getwyfel het, na ’n besliste ontkenning van God se Woord. Dit was die verloop van hierdie versoeking.

2. Die Gebiede van Versoeking
Die tweede saak omtrent die aard van die versoeking, is dat dit op drie gebiede was, soos opgeteken in I Johannes 2:14-16: die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe. Die versoeking het inderdaad plaasgevind op al drie hierdie spesifieke gebiede, in vers 6.

Eerstens, op die gebied van die begeerlikheid van die vlees, Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet. Daar was baie bome in die Tuin van Eden en as sy honger was, kon sy na enige een van hulle toe gegaan het om haar honger te stil. Daardie boom was goed om van te eet, maar al die ander bome was ook. Meteens het die begeerlikheid van die vlees na vore gekom, en sy het gevoel sy kon hierdie vleeslike begeerte net bevredig met daardie spesifieke vrug, en met geen een van die ander nie.

Tweedens, op die gebied van die begeerlikheid van die oë, was die boom ’n lus vir die oë. Voor die versoeking, sou sy dalk nooit opgelet het dat hierdie boom noodwendig mooier as enige van die ander was nie. Heelwaarskynlik was dit nie regtig mooier as die ander bome nie, maar skielik het dit wat verbode was, die heel mooiste geword.

Die derde gebied was die grootsheid van die lewe, dit was ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry. Daar was ander maniere om verstand te verkry, maar nou wou sy net soos God wees. Dit is die begeerte wat Satan se val veroorsaak het. Hy het sy begeerte uitgespreek in Jesaja 14:14: Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Nou het Eva dieselfde begeerte uitgespreek; sy wou soos God wees, deur goed en kwaad te ken.

3. Die Opwekking van Verkeerde Begeertes
Die derde saak omtrent die aard van die versoeking, is dat dit verkeerde begeertes opgewek het. Hier kan ook weer drie dinge genoem word.

Eerstens, dit het ’n begeerte opgewek om te hê wat God verbied het (verse 1-3). God het hierdie spesifieke boom verbied; nou het hulle dit begeer.

Tweedens, dit het in hulle die begeerte opgewek om te wees wat God nie bedoel het hulle moes wees nie (verse 4-5). God het nie bedoel dat hulle soos Hy moes wees nie; Hy het hulle geskape om menslik te wees, nie goddelik nie.

Derdens, hierdie versoeking het ’n begeerte opgewek om te weet wat God nie geopenbaar het nie (vers 6). Dit was ’n poging om verborge kennis te verwerf, en vir die eerste keer is die wêreld van die okkulte betree met die begeerte om ongeopenbaarde of verborge kennis te verkry. Hier, soos altyd in die okkulte wêreld, is Satan in wese self teenwoordig.

C. Die Rede vir So ’n Groot Straf
Hoekom so ’n groot straf vir een enkele sonde van ongehoorsaamheid aan een opdrag? Vier punte moet uitgelig word.

Eerstens, dit was ’n geringe opdrag, maar dit was ’n toets vir die gees van gehoorsaamheid. As hulle God nie in ’n geringe opdrag kon gehoorsaam nie, hoe kon hulle vertrou word om ’n veel groter opdrag te gehoorsaam?

Tweedens, die eksterne opdrag was nie arbitrêr of niksbeduidend nie, maar ’n konkrete voorlegging aan die menslike wil, van God se eis ten opsigte van Sy domein en absolute eienaarskap. Dit was nie ’n niksbeduidende of arbitrêre opdrag nie. Dit was ’n toets om te sien of die menslike wil homself aan die heerskappy van God sou onderwerp.

Derdens, die sanksie (vergeldingsmaatreël) wat saam met die opdrag gekom het, wys dat die mens nie in die duister gelaat was omtrent die betekenis en belangrikheid daarvan nie. Die mens het nie gefaal as gevolg van onkunde nie. Hy het presies geweet wat die opdrag was, en ook wat die gevolge sou wees as hy hierdie spesifieke verbod sou oortree. Die sanksie gekoppel aan die opdrag, wys dat die mens nie onkundig was omtrent die betekenis of belangrikheid van die opdrag nie.

Vierdens, die daad van ongehoorsaamheid was die openbaring van ’n wil wat van God vervreem was en wat verdorwe / omkoopbaar was; dit was ’n wil wat rebels was. Die rede waarom die straf en die boete so groot was, is omdat die daad van ongehoorsaamheid ’n openbaring was van ’n wil wat van God vervreem en verdorwe was, ’n wil wat rebels was.

III. DIE SONDEVAL
Die derde kategorie handel oor die Sondeval as sodanig, en daar sal na vier punte verwys word. Die Bybelse rekord, selfregverdiging, die gevolge, en die dispensasionele gevolge.

A. Die Bybelse Rekord
Die Sondeval is ’n baie beslissende deel van die bybelse rekord. Dit is onmoontlik om die Bybel sinvol te verstaan as die Sondeval weggeneem word. Dit vorm ’n definitiewe integrale deel van die bybelse rekord. ’n Paar voorbeelde ná die Boek van Génesis, in sowel die Ou as die Nuwe Testamente, sluit in:

Job 15:14: Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ’n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?

Job 20:4-5: Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is: dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir ’n oomblik?

Job 31:33: … as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek.

Prediker 7:29: Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.

Romeine 5:12-21: DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het – want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat ’n voorbeeld is van Hom wat sou kom. Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur die een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

I Korinthiërs 15:21-22: Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

II Korinthiërs 11:3: Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.

I Timótheüs 2:13-15: Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.

Uit hierdie voorbeelde is dit heeltemal duidelik dat die Sondeval selfs ná die Génesis rekord, ’n baie definitiewe deel is van die bybelse rekord in sowel die Ou as die Nuwe Testamente. So baie wat in die Skrifte gebeur, is gebaseer op die feit van die Sondeval. Die bediening van Jesus maak net sin in die lig van die Sondeval.

B. Die Selfregverdiging
Die tweede punt oor die Sondeval is die proses wat die mens gebruik het om sy dade in Génesis 3:6 te regverdig: Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Eva het die eet van die vrug op drie maniere geregverdig. Eerstens, sy het gesien dat die boom goed was om van te eet, en gesê, “Dit is goed om van te eet en daar is geen rede waarom ek dit nie sou eet nie.” Tweedens, dit [was] ’n lus vir die oë, dit het estetiese waarde gehad. Toe sê sy, “Hoekom sal ons nie die mooi dinge van die lewe geniet nie?” Derdens, dit was ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry, en toe sê sy, “Wat is daarmee verkeerd om meer kennis te wil hê?” Op hierdie drie maniere het Eva die eet van die vrug geregverdig, maar daardie daad van eet was ’n daad van ongehoorsaamheid. Vervolgens gee [sy] ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

C. Die Onmiddellike Gevolge
Die derde punt omtrent die Sondeval is dat daar vier onmiddellike gevolge was.

Een, daar was ’n oombliklike gevoel van skuld en skaamte in vers 7. Hulle was nog die hele tyd naak, maar vir die eerste keer het dit nou vir hulle ’n probleem geword.

Twee, daar was ’n begeerte en ’n poging om vir God weg te kruip in vers 8. Voorheen het hulle nie probeer om vir God weg te kruip toe Hy op ’n gereelde basis op een of ander sigbare manier in die koel aandwind na hulle toe gekom het nie. Nou, vir die eerste keer, toe hulle die stem van God hoor, was daar skielik ’n begeerte en ’n poging om vir Hom weg te kruip.

Die derde onmiddellike gevolg was oordeel, wat oor vier wesens gekom het: oor die slang wat toegelaat het dat Satan hom gebruik, oor Satan, oor die man, en, oor die vrou.

Die vierde onmiddellike gevolg was uitsetting uit die Tuin van Eden.

D. Die Dispensasionele Gevolge
Die vierde punt omtrent die Sondeval, is dat daar ook sekere dispensasionele gevolge was.

Een, die Sondeval het ’n oorgang gebring vanaf die eerste dispensasie, die Dispensasie van Onskuld, na die tweede dispensasie, die Dispensasie van die Gewete.

Die tweede dispensasionele gevolg is dat dit die beëindiging van die Edeniese Verbond kenmerk. Op hierdie tydstip is die eerste van die agt verbonde van die Bybel verbreek en beëindig.

Die derde dispensasionele gevolg was die instelling van die Adamiese Verbond, wat die tweede van die agt verbonde van die Bybel is.

IV. DIE RESULTATE
Die finale kategorie aangaande die Sondeval, is die resultate van die effek daarvan op die mens se verhoudings op ses gebiede: sy verhouding tot God, tot sy omgewing, tot sy liggaam, tot sy natuur, tot sy skuld, en tot sy straf.

A. Die Mens se Verhouding tot God
Die eerste resultaat was die effek op sy verhouding tot God. Dit was op hierdie punt dat die beeld van God in die mens geskend is.

B. Die Mens se Verhouding tot sy Omgewing
Die tweede resultaat was die effek op sy verhouding tot sy omgewing, wat op twee maniere verander het.

Een, in die diereryk het ’n lyn van diere ontwikkel wat vleisetend geword het. Tot met die Sondeval het alle diere ’n vegetariese dieet gehad. Hierdie diere het alreeds bestaan, maar nou het hulle vleisetend geword.

Die tweede effek op sy verhouding tot sy omgewing, was die vervloeking van die stoflike wêreld en die natuur. As gevolg hiervan het arbeid ’n moeisame aspek ontwikkel. In die plek van ligte arbeid het harde arbeid gekom. In plaas van maklike opbrengs, sou die aarde nou moeilik vrug voortbring en die mens sou moes worstel met dorings en distels, droogtes en vloede, in verse 17-19.

C. Die Mens se Verhouding tot sy Liggaam
’n Derde resultaat van die Sondeval is die effek op die mens se verhouding tot sy liggaam.

Eerstens was hy nou onderworpe aan fisiese ongesteldhede, swakheid, en siektes. Dit vorm deel van menslike broosheid. Dit is verkeerd om te leer dat elke ongesteldheid of siekte die werk van ’n demoon is. Party is, maar nie almal nie. Dikwels is siekte, swakheid en ongesteldheid suiwer uit menslike broosheid as gevolg van die Sondeval.

Tweedens, die mens was nou onderworpe aan fisiese dood; nou sou hy op ’n sekere stadium sterf.

D. Die Mens se Verhouding tot sy Natuur
Die vierde resultaat was die effek op sy verhouding tot sy natuur, naamlik geestelike dood. Die mens was nou geestelik dood en het nie langer in ’n lewenskragtige, lewende, geestelike verhouding of gemeenskap met God verkeer nie.

Daar is twee aspekte van geestelike dood: totale verdorwenheid en totale onvermoë.

Die eerste aspek, totale verdorwenheid, kan gedefinieer word in terme van beide wat dit is en wat dit nie is nie. Negatief, beteken totale verdorwenheid nie dat die mens so sleg is as wat hy kan wees nie; hy kan selfs nog slegter wees. Totale verdorwenheid beteken nie dat die mens sonder enige gewete is of geen goeie kwaliteite het nie. Dit beteken nie dat die mens deel het aan elke sonde nie, en dit beteken ook nie dat hy niks goeds kan doen nie. Positief, beteken totale verdorwenheid dat die mens in staat is tot elke sonde. Hy is sonder liefde en sonder gehoorsaamheid aan God soos wat die wet van God vereis. Hoewel die mens nie skuldig is aan elke sonde nie, reik die sonde, weens totale verdorwenheid, tot in elke onderdeel van die mens. Totale verdorwenheid beteken dat die mens ’n slaaf is van die sonde, en dat die mens dood is in sy oortredinge en sonde. Sonde het elke deel van sy wese aangetas (Joh. 5:42; 8:34; Rom. 7:23; Ef. 2:1; 4:18).

Die tweede aspek van geestelike dood is totale onvermoë. Dit beteken dat die mens nie meer die vryheid van keuse het wat hy voor die Sondeval gehad het nie. In sy staat van onskuld, was Adam heilig en volmaak; hy kon kies om gehoorsaam te wees of nie. Maar as ’n gevolg van totale verdorwenheid, was daar nou ook totale onvermoë. Geen mens het nou meer die mag van vrye keuse om teen sy natuur in te kies nie; hy is steeds in staat om te kies, maar net in ooreenstemming met sy natuur, wat die slaaf is van die sonde. Hy is dood in oortredinge en sonde (Ef. 2:1). Totale onvermoë beteken dus dat die sondaar nie deur een enkele daad of wilsbesluit, sy karakter en lewe in volmaakte ooreenstemming met God se wet kan bring nie. Hy kan nie sy fundamentele voorkeur vir sonde verander ten gunste van die liefde vir God nie. Die mens, in sy natuurlike, gevalle staat, is onbekwaam om teenoor God te reageer, en daar is ook geen handeling wat hy kan uitvoer wat hom voor God regverdig sal maak nie (Joh. 6:44; Rom. 7:18; 8:7; I Kor. 2:14).

E. Die Mens se Verhouding tot sy Skuld
Die vyfde resultaat van die Sondeval is die effek op die mens se verhouding tot sy skuld. Skuld beteken dat die mens verdien om gestraf te word. Skuld beteken dat daar ’n verpligting is om God se geregtigheid te bevredig volgens God se wet. Die feit dat die mens skuldig verklaar is, hou die verpligting in om God se geregtigheid te bevredig vir die selfgekose oortreding van God se wet.

As ’n mens skuldig verklaar word aan ’n misdaad, beteken die feit van die skuldigverklaring dat hy verdien om gestraf te word. Daarom is hy verplig om die vereistes ten opsigte van die wet wat oortree is, na te kom. Vir ‘n spesifieke oortreding dus, kan die nakoming van die wetlike vereistes byvoorbeeld ’n paar jaar tronkstraf of selfs teregstelling beteken. Skuld is die objektiewe resultaat van sonde (Rom. 1:18; 3:19; Ef. 2:3).

F. Die Mens se Verhouding tot sy Straf
Die sesde resultaat van die Sondeval is die effek daarvan op die mens se verhouding tot sy straf. Die straf beteken die pyn of verlies wat direk of indirek deur die wetgewer opgelê word in die handhawing van sy geregtigheid. Dit is die natuurlike uitwerking van die skuldigverklaring. Die inhoud van die straf vir sonde, is die dood (Rom. 6:23). Die straf vir die sonde het fisiese dood, geestelike dood, en ewige of die tweede dood, ingesluit. Die enigste manier waarop enige mens aan fisiese dood, geestelike dood, en die ewige dood kan ontkom, is om iemand anders se betaling van die prys vir die straf te aanvaar. Jesus, aan die kruis, het die straf van die Wet op Homself geneem. As ons Jesus aanneem, dan het Hy die straf in ons plek gedra en dan hoef ons dit nie te dra nie. Maar, as ons die Messias verwerp, dan sal ons self hierdie straf moet dra.
[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE STAAT VAN ONSKULD
    A. Die Mens se Oorspronklike Staat
        1. Sy Onbevestigde Heiligheid
        2. Sy Vryheid van Keuse
        3. Sy Heerskappy Oor die Skepping
        4. Sy Gemeenskap met God
    B. Die Mens se Oorspronklike Omgewing
    C. Die Mens se Oorspronklike Verantwoordelikheid
    D. Die Mens se Proeftyd
        1. Die Toets
           a. Die Objek van die Toets
           b. Die Aard van die Toets
           c. Die Doel van die Toets
        2. Die Duur
        3. Die Oogmerk
II. DIE VERSOEKING
    A. Die Skrif
    B. Die Aard van die Versoeking
        1. Die Verloop
        2. Die Gebiede van Versoeking
        3. Die Opwekking van Verkeerde Begeertes
    C. Die Rede vir So ’n Groot Straf
III. DIE SONDEVAL
    A. Die Bybelse Rekord
    B. Die Selfregverdiging
    C. Die Onmiddellike Gevolge
    D. Die Dispensasionele Gevolge
IV. DIE RESULTATE
    A. Die Mens se Verhouding tot God
    B. Die Mens se Verhouding tot sy Omgewing
    C. Die Mens se Verhouding tot sy Liggaam
    D. Die Mens se Verhouding tot sy Naam
    E. Die Mens se Verhouding tot sy Skuld
    F. Die Mens se Verhouding tot sy Straf

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie uitgebreide studie oor wat die Bybel aangaande sonde leer, skop af met ‘n ontleding van die verskillende Hebreeuse en Griekse woorde wat vir verskillende tipe sonde gebruik word. ‘n Definisie van sonde word verskaf, sonde se oorsprong word geïdentifiseer en die mens se toestand in ‘n domein onder sonde word verduidelik. Verder word die sondenatuur van die mens, erfsonde, persoonlike sonde, toegerekende sonde asook sonde in die gelowige se lewe bespreek. Die Bybel leer ook dat die dag sal kom wanneer gelowiges finale oorwinning oor alle sonde sal hê – en dít op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus.