Die tien fasette van ons redding

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. – Romeine 5:8

Daar is ’n aantal terme en beskrywings wat waarhede tuisbring omtrent redding. Sommige hiervan is Bybels en sommige is teologies, maar almal beskryf die verskillende fasette van redding. Dit is goed om hierdie fasette te leer ken, om sodoende ’n groter waardering te kry vir die Woord van God, om toe te neem in genade, en om die dinge wat God gedoen het in Sy voorsiening vir ons redding, beter te verstaan.

I. VERNUWING
Die eerste faset van ons redding is vernuwing. Hierdie faset sal in ses afdelings bespreek word: die betekenis van die woord, die gebruik van die woord, die ander terme wat gebruik word, die middele tot vernuwing, die wese van vernuwing, en die uitvloeisels van vernuwing.

A. Die Betekenis van die Woord
’n Ietwat teologiese dog eenvoudige definisie van die woord “vernuwing” is soos volg: Vernuwing is die daad van God waardeur die beginsel van die nuwe lewe in ’n mens ingeplant en die heersende disposisie van die siel geheilig word.

Hierdie definisie van vernuwing val in drie dele uiteen: Eerstens, vernuwing beteken “die daad van God wat die ewige lewe verleen.” Tweedens, vernuwing beteken “om van bo gebore te word.” En derdens, vernuwing beteken “om weer gebore te word.”

B. Die Gebruik van die Woord
Die tweede afdeling van die faset van vernuwing, het betrekking op die gebruik van die woord “vernuwing” soos dit in die Bybel voorkom. In die hele Bybel word die woord “vernuwing” net twee keer gebruik, en albei kere is dit in die Nuwe Testament.

Die eerste keer wat dit voorkom, is dit nie met betrekking tot ons redding nie, maar dit het ’n eskatologiese of profetiese betekenis, in Matthéüs 19:28: En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte (NAV: wanneer alles nuut gemaak word) wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. Hierdie vers praat van die wedergeboorte van die hemele en die aarde, in die sin van die nuutmaking van die aarde en die hemele ter voorbereiding van die Messiaanse Koninkryk. Die wedergeboorte (d.w.s. die nuutmaking) van Matthéüs 19:28 is dieselfde nuutmaking van Jesaja 65:17, waar Jesaja profeteer: Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde. In die konteks van hierdie skrifgedeelte (verse 17-25), praat Jesaja nie van die ewige hemele en aarde nie, maar van die nuwe hemele en nuwe aarde in die Millennium, en dit is dieselfde as die wedergeboorte in Matthéüs 19:28. Dus, die wedergeboorte of nuutmaking in die genoemde skrifgedeeltes in Matthéüs en Jesaja, handel nie oor vernuwing as ’n faset van ons redding nie.

Die tweede plek waar die woord “vernuwing” gevind word, is in Titus 3:5b: Na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. In hierdie skrifgedeelte praat Paulus van vernuwing as ’n faset van ons redding, waar vernuwing beteken dat die gelowige ingeplant is met nuwe lewe, wat uitloop op redding. Dit is die een vers in die hele Bybel waar die term “vernuwing” waarlik in sy soteriologiese betekenis (verlossing in Christus) gebruik word en verbind word met die Heilige Gees.

C. Die Ander Terme wat Gebruik Word
Die derde afdeling van die faset van vernuwing, handel oor die konsep van vernuwing soos dit in ander terme gebruik word. Hoewel die term “vernuwing” as sodanig, net twee keer in die Nuwe Testament voorkom, en net een daarvan in verband staan met die mens se redding, word die konsep van vernuwing ingesluit in ses ander terme wat in die Skrif voorkom.

Die eerste term is die uitdrukking om “nuut gebore” of “weer gebore” te wees. Dit is ’n meer algemene term as “vernuwing”, maar om weer gebore te wees beteken dieselfde as om vernuwe te wees (Joh. 3:3, 7; I Pet. 1:3, 23).

’n Tweede term in die Bybel wat vernuwing uitdruk, is die bewoording “om uit God gebore te wees”. Omdat die gelowige uit God gebore is, is daar nuwe lewe in hom ingeplant, die ewige lewe. Om uit God gebore te wees, beteken dat die gelowige vernuwe is. Dit is ’n algemene uitdrukking van die apostel Johannes (Joh. 1:13; I Joh. 2:29; 3:9; 4:7; 5:1, 4, 18).

’n Derde term wat dieselfde konsep van vernuwing uitdruk, is “kinders van God”, want gelowiges word die kinders van God op grond van vernuwing (I Joh. 3:1-2).

’n Vierde term is die uitdrukking, “ ’n nuwe skepsel” (II Kor. 5:17). Omdat die gelowige vernuwe is, word hy beskou as ’n nuwe skepsel.

’n Vyfde term word in die Afrikaanse Bybel vertaal met “om lewend te maak”. Die gelowige word lewend gemaak op grond van vernuwing (Joh. 6:63; Rom. 8:1-10; Ef. 2:1, 5).

Die sesde term is “voortgebring”, wat ook die konsep van vernuwing uitdruk (Jak. 1:18).

D. Die Bemiddelinge tot Vernuwing
Die vierde afdeling van die faset van vernuwing, handel oor die vier bemiddelinge tot vernuwing. Al vier bemiddelinge werk hand aan hand, en al vier vind plaas op dieselfde tyd. Dit gebeur nie dat party mense op een manier, en ander mense op ’n ander manier, vernuwe word nie.

Daar is basies vier bemiddelinge tot vernuwing: die wil van God, die Heilige Gees, die Woord van God, en geloof. Op hierdie punt moet kennis geneem word daarvan, dat een ding wat nooit as ’n bemiddeling tot vernuwing dien nie, die doop is. Daar is ’n leerstelling wat bekend staan as “doopvernuwing”, wat leer dat ’n mens nie vernuwe word voordat jy gedoop is nie; en dat die doop daarom nodig is vir redding. Daar is egter geen bybelse basis vir vernuwing deur die doop nie. Inteendeel, die doop is eers iets wat gebeur nádat ’n mens die Here aangeneem het en reeds gered is.

1.Die Wil van God
Die eerste bemiddeling tot vernuwing, is die wil van God, wat die bron is van vernuwing; die gelowige word vernuwe deur die wil van God (Joh. 1:13; 5:21; II Kor. 5:17-18; Jak. 1:18).

2. Die Heilige Gees
Die tweede bemiddeling tot vernuwing, is die Heilige Gees. Hy is die ware bemiddeling; Hy is die wesenlike bemiddeling, want die Heilige Gees is die Een wat wesenlik die werk van vernuwing doen. Dit is die wil van God die Vader, maar dit is die Heilige Gees wat wesenlik die werk van vernuwing doen (Joh. 3:5-6; Tit. 3:5).

3. Die Woord van God
Die derde bemiddeling tot vernuwing, is die Woord van God waarin die inhoud van geloof voorsien word. Voordat die gelowige vernuwe kan word, moet hy glo. Die Woord van God leer hom wat hy moet glo sodat hy vernuwe kan word, sodat hy ’n kind van God kan word, sodat hy weer gebore kan word (Tit. 3:5; Rom. 10:17).

4.Geloof
Die vierde bemiddeling tot vernuwing, is geloof, in die sin dat geloof as die verantwoordelikheid van die mens, die vereiste is wat die Heilige Gees in staat stel om die wedergeboorte teweeg te bring. Die wedergeboorte of vernuwing sal nie plaasvind sonder geloof nie. Hierdie feit word geleer in twee skrifgedeeltes.

Die eerste skrifgedeelte is Johannes 1:12a: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word.

Die tweede skrifgedeelte waar hierdie Bybelse waarheid geleer word, is Galásiërs 3:26: Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus.

E. Die Wese van Vernuwing
Die vyfde afdeling van die faset van vernuwing, handel oor die wese van vernuwing. Die wese van vernuwing omvat elf hoof elemente.

Die eerste element is dat vernuwing noodsaaklik is, omdat ’n geestelik dooie persoon nie kan reageer nie. Elke mens word geestelik dood gebore; daarom moet hy vernuwe word, om lewend gemaak te word (Joh. 6:44, 65; Rom. 8:8).

Die tweede element van die wese van vernuwing, is die konsep van geboorte, naamlik dat die gelowige “uit God gebore” is (Joh. 1:13). Die aktiewe agent (bemiddelaar) van hierdie nuwe geboorte, is die Heilige Gees (Joh. 3:5-6).

Die derde element van die wese van vernuwing, is dat die basis van vernuwing die bloed van Christus is. ’n Mens word vernuwe deur die demonstrasie van geloof, maar die basis daarvan, die rede dat God selfs die besluit neem om iemand te vernuwe wat glo, is op grond van die bloed van Christus (I Pet. 1:17-19).

Die vierde element van die wese van vernuwing, is dat dit ’n betoning is van die mag van God. Niemand behalwe God kan vernuwe nie. Niemand behalwe God kan die ewige lewe gee nie. Hierdie slotsom word bereik deur die vergelyking van twee skrifgedeeltes: I Petrus 1:3 met Romeine 1:4.

Die vyfde element van die wese van vernuwing, is dat dit ’n fundamentele verandering is: die inplanting van die beginsel van ewige geestelike lewe. Daar is ’n fundamentele verandering in die karakter van die persoon, sodat daar onmiddellik ’n diep kloof ontstaan tussen mense wat in ’n ongelowige, ongeredde toestand verkeer en mense wat in ’n gelowige, geredde toestand verkeer.

Die sesde element van die wese van vernuwing, is dat dit ook ’n oombliklike verandering is, nie ’n werk wat trapsgewys tot bekering lei nie. Dis nie ’n proses wat tot heiligmaking lei nie. Trouens, die mens is passief in hierdie ervaring; dit is ’n oombliklike verandering wat teweeg gebring word deur die mag van God deur middel van die Heilige Gees op die basis van ’n mens se demonstrasie van geloof.

Die sewende element van die wese van vernuwing, is dat dit onweerstaanbaar is (Joh. 3:8). Die punt is dat, sodra ’n mens geglo het, jy nie kan sê, “Moenie my vernuwe nie.” Die oomblik wanneer ’n persoon glo, vind vernuwing outomaties plaas; dit is onweerstaanbaar, onkeerbaar.

Die agtste element van die wese van vernuwing, is dat dit ook ’n verborgenheid is. Daar is geen manier waarop verklaar kan word hoe ’n mens wat op pad was Hel toe vir die ewigheid in die Poel van Vuur, skielik ’n oombliklike, fundamentele verandering kan ondergaan wat hom in ’n staat van die ewige lewe plaas nie. Ewe skielik verander daardie persoon se hele ewige lot; dit is ’n verborgenheid, ’n misterie. Dit is ’n waarheid wat net eenvoudig geleer word in die Woord van God.

Die negende element van die wese van vernuwing, is dat dit onderskei moet word van bekering. Bekering is die menslike kant van vernuwing. Bekering sal later bespreek word, aangesien dit ’n ander faset van ons redding is. Mense verwar soms vernuwing met bekering, maar dit is nie dieselfde ding nie. Die wese van vernuwing as ’n daad van God, moet onderskei word van bekering, wat die menslike kant van vernuwing is.

Die tiende element van die wese van vernuwing, is dat geloof en vernuwing gelyktydig plaasvind. Hoewel geloof die vereiste is vir vernuwing om plaas te vind, demonstreer ’n mens nie geloof op een punt en word dan op ’n ander punt vernuwe nie. Die gelowige word ook nie eers vernuwe en dan demonstreer hy geloof nie. Nee, geloof en vernuwing moet gesien word as ’n gelyktydige gebeurtenis. Op die oomblik wanneer ’n persoon glo, op daardie presiese oomblik, vind vernuwing plaas.

En die elfde element van die wese van vernuwing, is die verhouding daarvan met betrekking tot kragdadige genade. Kragdadige genade veroorsaak nie vernuwing nie; dit is, ook, slegs ’n gelyktydige daad saam met vernuwing.

F. Die Uitvloeisels van Vernuwing
Die sesde afdeling met betrekking tot die faset van vernuwing, handel oor die uitvloeisels daarvan. Daar is ses spesifieke uitvloeisels van vernuwing.

Die eerste uitvloeisel is die wedergeboorte; die gelowige word weer gebore op grond van vernuwing (Joh. 1:13; 3:7; Jak. 1:18).

Die tweede uitvloeisel is dat die gelowige nou ’n nuwe natuur het. Hierdie natuur is nie dood in sy oortredinge en sondes nie, maar ’n natuur wat vernuwe is, wat lewend gemaak is, wat nou sensitief is ten opsigte van geestelike dinge, wat nou ingestel is op God se leringe. Die gelowige is verander; hy is vernuwe, en die uitvloeisel daarvan is ’n nuwe natuur (II Kor. 5:17; Gal. 6:15; Ef. 4:24).

Die derde uitvloeisel van vernuwing, is die gelowige se geestelike opwekking. Net soos wat gelowiges eenmaal geestelik dood was, is hulle nou, noudat hulle vernuwe is, geestelik opgewek. Geestelike opwekking sal eendag ook die basis wees van die gelowige se fisiese opwekking tot die ewige fisiese lewe. Terwyl die ewige fisiese lewe op die Wegraping wag, het die gelowige nóú reeds ewige geestelike lewe. Dit is nou al reeds ’n feit dat die nie-stoflike deel van die gelowige vir ewig sal lewe, omdat die gelowige geestelik al reeds opgewek is. Die gelowige se geestelike opwekking is ’n teenswoordige realiteit hoewel sy fisiese opwekking nog moet plaaavind (Joh. 5:25; Rom. 6:13; Ef. 2:5).

Die vierde uitvloeisel van vernuwing, is ’n nuwe skepsel, ’n nuwe skepping. Die gelowige word gesien as van nuuts af geskape, omdat die verandering wat vernuwing bring, so radikaal is. Daar is só ’n esseniële verandering in die hele wese van die gelowige, dat die Bybel dit ’n nuwe skepping noem (II Kor. 5:17; Ef. 2:10; 4:24).

Die vyfde uitvloeisel van vernuwing, is ewige sekerheid. Vernuwing is ’n werk wat nie ongedaan gemaak kan word nie. Net soos wat liggaamlike geboorte nie ongedaan gemaak kan word nie – ’n mens kan nooit weer teruggaan in die skoot van jou moeder en vir altyd daar bly nie – net so kan die werk van die geestelike geboorte nie ongedaan gemaak word nie; dit kan nie omgekeer word nie (Fil. 1:6).

Die sesde uitvloeisel van vernuwing, is dat die gelowige iets nuuts beleef; hy beoefen nou ’n nuwe leefstyl (I Joh. 2:29; 3:9; 4:7; 5:14, 18). Hierdie nuwe belewenis help die gelowige nou om verleiding te weerstaan (I Joh. 5:4, 16, 18). Deur hierdie nuwe belewenis kry die gelowige nou ’n ander gesindheid (I Joh. 4:19; 5:1-2). Hierdie nuwe belewenis beteken dat die gelowige nou ’n erfgenaam is wat sekere dinge gaan erf (Rom. 8:16-17).

II. BEKERING
Die tweede faset van die gelowige se redding is bekering. Hierdie faset sal in vyf afdelings bespreek word: die betekenis van die woord, die soorte bekerings, die bemiddeling tot bekering, die onderafdelings van bekering, en die voorbeelde van bekering.

A. Die Betekenis van die Woord
Een definisie van bekering as ’n faset van ’n gelowige se redding, lees: Bekering is die daad van God waarmee Hy die nuutgemaakte sondaar beweeg om hom bewustelik in geloof en berou tot God te keer. Logies, dus, volg bekering op vernuwing. Nog ’n manier om bekering te definieer, is dat bekering die voortspruitende bewuste daad van die nuutgemaakte sondaar is waardeur hy, deur die genade van God, hom na God keer in geloof en berou.

Die fundamentele, basiese grondbetekenis van bekering, is die woord “draai”. Sommige mense praat van ’n “bekeerde Jood”, en bedoel daarmee ’n Jood wat opgehou het om ’n Jood te wees en ’n nie-Jood geword het, maar dit is nie hoe die term “bekering” in die Skrif gebruik word nie. Bekering is: om te draai, en het sowel ’n negatiewe as ’n positiewe aspek. Negatief, beteken bekering ’n wegdraai van sonde af; positief beteken dit om na God toe te draai. Bekering beteken nie dat ’n mens ophou om ’n Jood te wees en ’n nie-Jood word nie. Bekering is om jou weg te draai van sonde af en jou na God toe te draai. Wegdraai van sonde af onderstreep berou; draai na God toe onderstreep geloof. Hierdie omdraai dus, hierdie bekering, is die begryp van, en die verstandelike instemming tot, sekere basiese feite aangaande die persoon en die werk van die Messias: dat Hy vir ons sondes gesterf het; dat Hy begrawe is; en dat Hy uit die dood uit opgestaan het. Dit kulmineer in ’n verbintenis van ’n mens se hele wese met die Persoon oor wie hierdie feite getuig.

Om bekering te verstaan, moet die drie elemente van die wese van bekering, verstaan word. Die eerste element is kennis; ’n mens moet weet waarvan jy jou wegdraai en waarnatoe jy jou draai. Die tweede element is instemming; ’n mens erken dat die feite die waarheid is. En die derde element is vertroue; ’n mens vertrou, glo, en demonstreer ware geloof in die feite van die evangelie. Elke keer wanneer die Bybel praat oor bekering, is dit altyd ’n wegdraai van sonde af, en dit is berou, en ’n draai na God toe, en dit is geloof (Hand. 9:35; 11:21; 15:19; 26:20; I Pet. 2:25).

B. Die Soorte Bekerings
Die tweede afdeling van die faset van bekering, handel oor die soorte bekerings. In die Bybel word daar van vier soorte bekerings gepraat.

Die eerste soort bekering is dié van ’n nasionale bekering. Een voorbeeld in die Bybel is die nasionale bekering van die stad Ninevé toe die hele stad Ninevé berou gedemonstreer het (Jona 3:10). Eendag sal daar ook ’n nasionale bekering van Israel wees, en die hele Israel sal gered word (Rom. 11:24-26).

’n Tweede soort bekering staan bekend as tydelike (verbygaande) bekering, maar tydelike bekering is nie ware soteriologiese (reddende) bekering nie. In so ’n geval het ’n mens die eerste twee elemente van bekering van toepassing gemaak: kennis en instemming, maar nooit die derde element nie: vertroue. Daar is mense wat tydelike bekering kon ervaar het op grond van hulle kennis van die inhoud van die evangelie, en selfs erken het dat die feite van die evangelie regtig waar is, maar hulle het nooit daardie derde element hulle eie gemaak en werklik vertrou, of werklik geloof gedemonstreer nie. Dus, tydelike bekering is nie ware verlossende bekering nie. Die punt is dat, hoewel mense die waarheid erken het, hulle nooit geloof gedemonstreer het deur die waarheid aan te neem nie, en dit beteken hulle was nooit regtig gered nie. Dit word sterk betwyfel of daar enige voorbeelde van hierdie tydelike bekering in die Bybel voorkom, maar ’n paar moontlikhede mag wees: Handelinge 8:9-24; I Timótheüs 1:19-20; II Timótheüs 2:18; en 4:10. Hierdie is moontlike, maar nie definitiewe voorbeelde nie, van wat bedoel word met tydelike bekering.

’n Derde soort bekering staan bekend as ware bekering, bekering wat uitloop op redding. Ware bekering is ’n bekering wat plaasvind wanneer iemand waarlik al drie elemente van bekering beleef: kennis, instemming, en vertroue. Ware bekering word net ondergaan deur mense wat werklik al drie elemente ervaar het: hulle ken die feite, hulle erken dat die feite die waarheid is, en dan demonstreer hulle vertroue. Hulle vertrou hierdie feite vir hulle redding, daarom ondergaan hulle ’n ware bekering wat uitloop op redding.

Daar is ’n vierde soort bekering, wat bekend staan as herhaalde bekering. Dit beteken nie dat ’n gelowige sy redding verloor en dit herhaaldelik terugvind nie, want hierdie konsep word nêrens in die Bybel geleer nie. Nee, herhaalde bekering beteken dat die nuwe lewe ’n verswakking ondergaan het, ’n terugval, ’n effense ommeswaai, maar dan word dit weer hernu. Maar selfs al val ons nie terug nie, moet ons lewens weer en weer vernuwe word; dit is wat bedoel word met die konsep van herhaalde bekering. Herhaalde bekering moet nooit misverstaan word as sou ’n mens jou redding verloor en dit dan weer terugkry nie; nee, dit is ’n vernuwing van die redding wat ’n mens al reeds het (Luk. 22:32; Op. 2:5, 16, 21-22; 3:3, 19). Herhaalde bekering is nie soteriologies nie, dit handel oor heiligmaking.

C. Die Bemiddeling tot Bekering
Die derde afdeling aangaande die faset van bekering, handel oor die bemiddeling tot bekering. Daar is drie elemente van die bemiddeling tot bekering.

Eerstens, God is die doelmatige bemiddeling of die doelmatige oorsaak van bekering. God is die Een wat die werk van bekering doen (Jer. 13:23; Joh. 1:13; Rom. 9:16).

Die tweede element is die inbeweegstellende of die aktiewe oorsaak van bekering. Die inbeweegstellende oorsaak van bekering, is die wil van God (I Kor. 6:9-11; Ef. 2:3-6).

Die derde element van bekering, is die bydraende bemiddeling of die bydraende oorsaak, naamlik die Woord van God (Rom. 10:17; I Kor. 3:5; Gal. 3:2).

D. Die Onderafdelings van Bekering
Die vierde afdeling van die faset van bekering, handel oor die onderafdelings daarvan. Daar is vier hoof onderafdelings van bekering.

Die eerste subdivisie van bekering, is die Outeur. God is altyd die Outeur van bekering (Hand. 11:18; II Tim. 2:25).

Die tweede subdivisie van bekering, is dat die mens moet saamwerk in bekering deurdat hy die een is wat hom moet wegdraai van sonde af na God toe. In die Ou Testament word die woord “bekering” vyftien keer gebruik met betrekking tot God wat die werk doen, maar vier-en-sewentig keer met betrekking tot die mens wat dit doen. In die Nuwe Testament word dit slegs twee of drie keer van God gebruik, maar ses-en-twintig keer van die mens. Dit toon dat die mens moet saamwerk in bekering (Jes. 55:7; Jer. 18:11; Hand. 17:30).

Die derde subdivisie van bekering, is die drie elemente van bekering. Hierdie drie elemente is: intellek, emosie, en wil. Intellektueel moet daar ’n verandering van sienswyse of perspektief wees (Rom. 3:20). Emosioneel is daar ware berou (II Kor. 7:9-10). Wat die wil betref, is daar ’n verandering van ’n mens se wil, van ’n mens se doelwit (Hand. 2:38; Rom. 2:4).

Die vierde subdivisie van bekering, kom na vore in Psalm 119:59-60: Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. Die stellings in hierdie skrifgedeelte leer drie dinge. Eerstens, ter voorbereiding vir bekering, moet daar grondige selfondersoek gedoen word oor ’n mens se eie weë en God se weë (vs. 59a). Tweedens moet daar, as ’n daad van bekering, ’n beslissende draai wees na die Een toe van wie die Woord getuig (vs. 59b). En derdens, die bewys van bekering is gehoorsaamheid; gehoorsaamheid is nie die middel tot bekering nie, maar die bewys daarvan (vs. 60).

E. Die Voorbeelde van Bekering
Die vyfde afdeling van die faset van bekering, handel oor ’n paar voorbeelde van bekering waar ’n besliste wegdraai van sonde af na God toe, gesien kan word. Daar is drie duidelike voorbeelde in die Bybel: Paulus in Handelinge 9:1-28; Lídia in Handelinge 16:13-15; en die tronkbewaarder in Filíppi in Handelinge 16:19-34.

III. GELOOF
Die derde faset van die gelowiges se redding is geloof. Hierdie faset word bespreek in vyf afdelings: die betekenis van die woord, die soorte geloof, die wese van geloof, die waarborg vir geloof, en die eienskappe van geloof.

A. Die Betekenis van die Woord
Daar is twee aspekte ten opsigte van die betekenis van geloof.

Die eerste aspek is dat geloof die oortuiging is van die waarheid wat gebaseer is op getuienis. Om geloof te kan demonstreer, moet ’n mens weet wat om te glo. Daar moet kennis wees, en dan moet daar die oortuiging wees dat dit waarvan ’n mens intellektueel kennis dra, regtig waar is (Luk. 24:48; Joh. 3:11, 31-33; Hand. 2:32; 3:15; 5:32; 10:39-43).

Die tweede aspek is dat geloof beteken “om te glo”, nie net in die sin van glo dat die feite waar is nie, maar glo in die sin van vertrou op daardie waarheid vir ’n mens se redding.

B. Die Soorte Geloof
Die tweede afdeling van die faset van geloof, handel oor die verskillende soorte geloof. Die Bybel praat van vyf verskillende soorte geloof.

1. Teoretiese of Dooie Geloof
Eerstens is daar teoretiese of dooie geloof. Teoretiese of dooie geloof is om die waarheid te glo sonder om die waarheid vir jouself toe te eien. Dit kan “ingeënte geloof” genoem word. Byvoorbeeld, as ’n mens ingeënt word teen ’n siekte, ontvang jy net ’n klein hoeveelheid van die inentingsmiddel, net genoeg om nooit regtig die siekte self te kry nie.

In teoretiese of dooie geloof het ’n persoon net ’n klein bietjie geloof gekry, maar die volle mate van geloof ontwyk hom altyd. Daar is historiese en intellektuele aanneming van die waarheid sonder enige ware morele of geestelike respons (Hand. 26:27-28; Jak. 2:19). ’n Mens het ingestem tot die waarheid van die evangelie, maar nie die waarheid vertrou vir jou redding nie.

2. Tydelike Geloof
Die tweede soort geloof is tydelike (of verbygaande) geloof. Tydelike geloof is wanneer ’n persoon glo as hy gekonfronteer word, maar hy groei nooit regtig in die geloof nie. Dit is in werklikheid net ’n emosionele reaksie, en nie uit ware vertroue tot redding nie. Hy ontvang die waarheid op grond van sy gewete, maar nie op grond van vertroue nie, en daarom is daar nooit ware vernuwing nie. Hy is nie weer gebore nie, en daar is ook geen bekering nie, geen wegdraai van sonde af na God toe nie (I Joh. 2:19).

3. Reddende Geloof
Die derde soort geloof is reddende geloof, en dit is hierdie soort geloof wat ’n mens waarlik nodig het. Reddende geloof is die soort geloof wat die ewige lewe verseker. Reddende geloof is ’n positiewe oortuiging wat die Heilige Gees in die hart teweeg bring dat die evangelie die waarheid is; dit is ’n hartsvertroue in God se belofte dat Hy ons in Christus sal red. Dit is ware reddende geloof. Dit is die geloof wat uitloop op die ewige lewe.

4. Lewende Geloof
Die vierde soort geloof waarvan die Bybel praat, is lewende geloof. Lewende geloof is die geloof waardeur ’n mens ’n geestelike lewe lei, die lewe as ’n gelowige (Hand. 26:18; Gal. 2:20; Heb. 12:1-2; I Pet. 1:5). Lewende geloof is die bewys van reddende geloof. Lewende geloof toon dat ’n mens nie net op grond van genade deur geloof gered is nie, maar dat ’n mens ook op grond van genade deur geloof moet lewe.

5. Wondergeloof
Die vyfde soort geloof is wondergeloof. Wondergeloof is die oortuiging dat God ’n wonderwerk vir jou sal laat gebeur. Dit kan, of kan ook nie, saamhang met reddende genade (Matt. 8:13; 17:20; Mark. 16:17-18; Joh. 11:22, 40). Om net geloof te hê dat God enige wonderwerk sal laat gebeur, waarborg niks nie. ’n Mens kan besluit jy wil ’n wonderwerk hê sonder om God eers daaroor te raadpleeg, en God kan besluit om nie vir jou daardie wonderwerk te gee nie.

Wondergeloof beteken dat as God Self belowe het om ’n wonderwerk te doen, ’n mens dan in so ’n geval vas glo dat dit sal gebeur. Toe God vir Moses gesê het Hy sou water in bloed verander en Hy sou ’n staf in ’n slang verander, het Moses geglo dat God dit werklik sou doen, en dit was wondergeloof. Wondergeloof is nie ’n geloof waar ’n mens self wonderwerke uitdink of besluit watter wonderwerke God gaan doen nie. Inteendeel, God is die Een wat verklaar of Hy ’n wonderwerk sal laat gebeur of nie, en as ’n mens God glo, dan is dit wondergeloof. Wondergeloof is nie ’n manier waarop ’n mens God kan beweeg om wonderwerke te doen nie; wondergeloof is dat ’n mens God glo wanneer Hy openbaar dat Hy ’n wonderwerk sal doen.

C. Die Wese van Geloof
Die derde afdeling van die faset van geloof, handel oor die wese van geloof. Drie dinge aangaande die wese van geloof moet genoem word. Al drie dinge moet aanwesig wees vir ware geloof om reddende geloof te wees.

Die eerste ding is kennis. Daar moet kennis wees, want die evangelie moet verstaan word. Dit is noodsaaklik vir geloof, en dit moet kennis wees wat ervaar word (Rom. 10:14-17).

Die tweede ding omtrent die wese van geloof, is dat geloof oortuiging of instemming is. Oortuiging is die erkenning van die waarheid. Die evangelie moet as waar bevestig word; die evangelie moet as waar verklaar word.

Die derde ding omtrent die wese van geloof, is vertroue. Vertroue is ’n verbintenis tot die waarheid. Vertroue vir redding is in ’n persoon, en daardie persoon is die Messias.

D. Die Waarborg vir Geloof
Die vierde afdeling van die faset van geloof, handel oor die waarborg vir geloof. Op watter basis berus die leer dat ’n mens moet glo om gered te word? Hier moet twee dinge genoem word.

Eerstens is daar die universele aanbod van die evangelie. Die feit dat die Bybel die evangelie universeel aan almal aanbied, is die waarborg vir geloof. Die evangelie word aan alle mense verkondig, en leer hulle dat as hulle glo, sal hulle gered word (Matt. 11:28; 28:19; Hand. 17:30-31).

Die tweede waarborg vir geloof, is die toereikendheid van Christus se verlossingswerk. Die feit dat Hy in staat is om almal te red, is nog ’n waarborg vir geloof (Matt. 11:28; Joh. 6:37).

E. Die Eienskappe van Geloof
Die vyfde en laaste afdeling van die faset van geloof, handel oor die eienskappe van geloof. Daar is sewe eienskappe van geloof.

Een, geloof is die positiewe element van bekering. Die negatiewe element van bekering is berou, of ’n wegdraai van sonde af, maar die positiewe element van bekering is om jou, deur geloof, na God toe te draai.

Die tweede eienskap van geloof, is dat dit die menslike vereiste is vir redding; dit is wat die mens moet doen om gered te word.

Die derde eienskap van geloof, word bespreek ten opsigte van die oorsprong daarvan. Vier dinge moet genoem word omtrent die oorsprong van geloof. Eerstens, geloof is ’n geskenk van God (Ef. 2:8; Kol. 2:12; II Pet. 1:1). Tweedens, die bemiddeling van hierdie geskenk, kom deur die oortuiging van die waarheid, en dit word gegee deur die Heilige Gees (Joh. 16:8; I Kor. 2:14; I Joh. 2:20, 27). Derdens, dit is die demonstrasie van menslike handeling, die menslike verantwoordelikheid (Rom. 10:9: I Kor. 2:5; Kol. 1:23; I Tim. I:5; 6:11). En vierdens, dit is die Woord van God wat die inhoud gee van dit wat ’n mens moet glo (Joh. 5:47; Hand. 4:4; Rom. 10:14, 17).

Die vierde saak met betrekking tot die eienskappe van geloof, is dat die objek van geloof, God en Sy algehele openbaring is. Die gelowige glo God; hy glo Sy openbaring, Sy Woord, wat aan gelowiges bekend gemaak is.

Die vyfde eienskap van geloof, is die inhoud van geloof: wat ’n mens omtrent Christus moet glo. Daar is spesifiek drie dinge omtrent Hom wat ’n mens moet glo: eerstens, dat Hy vir ons sondes gesterf het; tweedens, dat Hy begrawe is; en derdens, dat Hy op die derde dag opgestaan het (Joh. 3:15-16, 18, 36; 6:29, 40, 47-51; Hand. 10:43; Rom. 3:22; I Kor. 15:1-4; Gal. 2:16).

Die sesde eienskap van geloof, handel oor die drie elemente van geloof. Eerstens, die intellektuele element; daar moet kennis wees, ’n positiewe herkenning van die waarheid. Tweedens, die emosionele element; daar moet instemming wees, oortuiging, van die belangrikheid van hierdie waarheid. En derdens, die element van die wil; ’n mens moet die wil hê om daardie feit te kies of om in daardie feit te glo.

Die sewende eienskap van geloof, is die verhouding ten opsigte van geloof en gevoel. Geloof kan nie gedefinieer word op die basis van gevoel nie of gebaseer wees op gevoel nie. Geloof is nie noodwendig verbind met gevoel nie. Reddende geloof is nie slegs instemming tot die waarheid nie, maar ware vertroue daarin, en geen gevoel van enige aard hoef betrokke te wees nie.

IV. BEROU
Die vierde faset van ons redding is berou. Hierdie faset word in drie afdelings bespreek: die betekenis van die woord, die Hebreeuse en Griekse woorde vir berou, en die eienskappe van berou.

A. Die Betekenis van die Woord
Berou beteken “die verandering wat in die bewuste lewe van die sondaar teweeg gebring word waardeur hy hom wegdraai van sonde.” Mense verwar dikwels die begrip vir berou met “spyt wees oor sonde”. Maar berou beteken nie om “spyt te wees” oor jou sonde nie. Die basiese betekenis van berou is eintlik “ ’n verandering van denke.” Berou is die verandering wat teweeg gebring word in die bewuste lewe, in die verstand van die sondaar, wanneer hy sy denke verander oor waar hy geestelik staan, en hom wegdraai van sonde.

B. Die Hebreeuse en Griekse Woorde
Die tweede afdeling van die faset van berou, is die bespreking van die verskillende Hebreeuse en Griekse woorde waarvan die konsep van bekering afgelei is.

1. Die Hebreeuse Woorde
Twee basiese Hebreeuse woorde moet genoem word.

Die eerste Hebreeuse woord is nicham, wat beteken, “om berou te hê” (Gen. 6:6-7; Ex. 32:14; Rigt. 2:18; I Sam. 15:11).

Die tweede Hebreeuse woord is shuv, wat beteken, “om te draai”, “om om te draai”, “om terug te draai”, “om terug te keer”. Dit is die hoof Hebreeuse woord vir Ou-Testamentiese berou.

2. Die Griekse Woorde
Daar is drie Griekse woorde wat in Afrikaans vertaal word as “berou”.

Die eerste Griekse woord is metanoia, wat letterlik beteken, “om agterna te weet” of “nákennis”. Dit beteken om ’n mens se denke te verander as die resultaat van nákennis. Dit is ’n verandering wat toekomstige gedrag sal bepaal. In hierdie sin kom hierdie Griekse woord metanoia ooreen met die eerste Hebreeuse woord, nicham. Dit beteken “berou met geloof” (Luk. 24:47; Hand. 2:38; 3:19; 5:31; 11:18; 26:20; Rom. 2:4; II Kor. 7:10; II Tim. 2:25; Heb. 6:1; II Pet. 3:9).

Die tweede Griekse woord wat die konsep van berou dra, is epistrepho, wat beteken, “om terug te draai”, “om om te draai”, “om terug te keer”. Dit kom ooreen met daardie tweede Hebreeuse woord, shuv, en dit beteken ook “berou met geloof” (Hand. 15:3; 26:20; I Thess. 1:9).

Die derde woord wat soms as “berou” vertaal word, is die Griekse woord metamellomai, wat beteken, “om agterna vir ’n mens ’n bron van kommer te word”, “om spyt te wees oor hoe ’n mens opgetree het”. Dit verwys na jammer voel oor iets. Dit is berou sonder geloof, en dis belangrik om dit te verstaan. Terwyl die eerste twee woorde “berou met geloof” beteken, beteken hierdie een “berou sonder geloof” (Matt. 21:29, 32; 27:3; Heb. 7:21). Dit is dieselfde woord wat vir Judas gebruik word nadat hy besef het hy was verkeerd om die Messias te verraai. Matthéüs 27:3 verklaar dat Judas berou gehad het; daarom vra mense, “Beteken die feit dat Judas berou gehad het dat hy gered is?” Die antwoord is, “Nee,” want die Griekse woord wat vir Judas se berou gebruik word, is nie die eerste Griekse woord, metanoia nie, en dit is ook nie die tweede Griekse woord, epistrepho nie, maar dit is hierdie derde Griekse woord, metamellomai, wat slegs beteken dat Judas spyt gekry het. Hy was jammer, hy het homself verwyt, maar dit was nie reddende berou nie, dit was berou sonder geloof. Die antwoord is dus, “Nee, Judas is nie gered nie.”

C. Die Eienskappe van Berou
Die derde afdeling van die faset van berou, handel oor die eienskappe van berou. Agt eienskappe sal genoem word.

1. Die Negatiewe Element
Een, berou is die negatiewe element van bekering; dit beteken om jou weg te draai van sonde (Hand. 5:31; Heb. 6:1). Die positiewe element van bekering, om jou na God toe te draai, is geloof.

2. Die Finale Daad van Bekering
Die tweede eienskap van berou, is dat dit die finale daad van bekering is.

3. ’n Nuwe Verhouding
Die derde eienskap van berou, is die konsep van draai, in die sin dat dit ’n nuwe verhouding daarstel waardeur ’n mens se optrede in ’n ander, teenoorgestelde rigting begin beweeg.

4. Ekwivalent van Geloof
Die vierde eienskap van berou, is dat dit somtyds gebruik word as ’n ekwivalent van, en in wisselwerking met, geloof. Vier dinge kan gesê word omtrent die feit dat berou somtyds dieselfde is as geloof.

Eerstens, berou is ’n verandering van denke omtrent die geopenbaarde waarheid van God se Woord (Luk. 24:46-48; Hand. 11:18; 20:21; 26:20; Rom. 2:4; II Pet. 3:9)

Tweedens, die evangelie is ’n evangelie van berou en bekering.

Derdens, Johannes die Doper se boodskap was ’n boodskap van bekering aan Israel. Toe Johannes die boodskap van bekering verkondig het, het hy gesê hulle moet hulle denke verander aangaande die bron van, en bemiddeling tot, geregtigheid. Hulle Fariseërskap was nie die bemiddeling tot geregtigheid nie, maar die Messias was die bemiddeling tot geregtigheid (Matt. 3:2; 4:17).

Vierdens, ’n mens moet berou hê en jou denke omtrent die Messias verander (Hand. 2:38; 3:19).

5. Die Bronne van Berou
Die vyfde eienskap van berou, handel oor die bron van berou. Daar is ’n goddelike kant en ’n menslike kant. Van die goddelike kant, is berou ’n geskenk (Hand. 5:31; 11:18; II Tim. 2:25). Van die menslike kant, is daar vier dinge omtrent die bron van berou waarvan daar kennis geneem moet word.

Die eerste is die Woord van God, wat vir ’n mens die kennis gee van hoekom en hoe hy berou moet hê (Luk. 16:30-31).

Die tweede ding is die verkondiging van die evangelie, wat mense vermaan om berou te hê, om hulle denke omtrent Jesus te verander, en om die evangelie te glo (Matt. 12:41; Luk. 24:47; Hand. 2:37-38; II Tim. 2:24- 25).

Die derde ding is die goedheid van God, naamlik wanneer ’n mens oor die goedheid van God besin, behoort dit die ongelowige tot berou te lei (Rom. 2:4; II Pet. 3:9).

En die vierde ding is tugtiging; soms sal God mense tugtig om hulle tot berou te beweeg. Dit is een doel van tugtiging (Heb. 12:10-11; Op. 3:19).

6. Onderskeie van Redding
Die sesde eienskap van berou, is die verhouding van berou en redding soos dit gestel word in I Thessalonicense 1:9: hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien. Waarna opgelet moet word, is dat berou ’n stap is in glo, maar dit is nie ’n afsonderlike daad nie. Om te glo, moet ’n mens jou denke verander, en dit is berou. Dit is dus so dat redding voorafgegaan word deur berou of deur ’n verandering van denke, net soos wat dit voorafgegaan word deur geloof, maar hoewel dit onderskeie is van mekaar, moet dit nie gesien word as twee afsonderlike entiteite nie.

7. Spesifieke Uitvloeisels van Berou
Die sewende eienskap van berou, handel oor die uitvloeisels van berou vir die gelowige en vir die ongelowige. Vir die ongelowige, sal berou uitloop op redding. Vir die gelowige, sal berou uitloop op die herstel van gemeenskap met gelowiges (II Kor. 7:8-10).

8. Drie elemente van Berou
En die agtste eienskap van berou, is dat daar drie elemente van berou is. Die eerste element is intellektueel; ’n mens moet erken dat jou vroeëre lewe ’n lewe van sonde was (Rom. 1:32; II Tim. 2:25). Die tweede element is emosioneel; ’n mens moet spyt wees oor jou sonde. Weer eens, om net spyt te wees is nie berou nie, want berou is om ’n mens se denke te verander, maar die verandering van denke moet ook spyt oor ’n mens se sonde insluit (II Kor. 7:9-10). Die derde element is die wil; ’n mens moet die wil hê om jou doelwit te verander (Hand. 2:38; 8:22; Rom. 2:4).

V. BELYDENIS
Die vyfde faset van die gelowige se redding is belydenis. Belydenis wat uitloop op redding, word in drie afdelings bespreek: die betekenis van die woord, die eienskappe van belydenis, en die Skrifte met betrekking tot belydenis.

A. Die Betekenis van die Woord
Wat word bedoel met die woord “belydenis” in soverre dit ’n faset is van ’n mens se redding? Uit daardie oogpunt, is belydenis die verwoording van die inhoud van geloof wat red: dat Christus vir die gelowige se sondes gesterf het, begrawe is, en weer opgestaan het volgens die Skrifte.

As deel van ’n mens se redding, moet die inhoud van geloof op een of ander manier verwoord word. Dit kan hardop uitgespreek word of soos meer dikwels gebeur, stilswyend verwoord word. Konsepte word verstaan deur woorde, en ’n mens verstaan die inhoud van die evangelie deur woorde. Wanneer daardie woorde geglo word, is dit belydenis.

B.Die Eienskappe van Belydenis
Die tweede afdeling van belydenis met betrekking tot redding, is die eienskappe daarvan. Twee eienskappe sal genoem word.

Eerstens, negatief, belydenis is nie ’n “openbare verklaring van geloof” nie. Die belydenis waarvan hier gepraat word, is nie wanneer iemand opstaan voor ’n gehoor en bely dat hy in Jesus Christus glo nie. Dít is nie belydenis met betrekking tot redding nie. ’n Mens word nie gered deur voor ’n groep op te staan en te sê wat hy glo nie. Op daardie stadium is hy al reeds gered. Wat meer is, dit het niks te doen met die afloop van die paadjie tot voor in die kerk nie. Wanneer die Bybel praat van belydenis as ’n faset van ons redding, staan daar niks geskryf van afloop met die paadjie nie. Die persoon wat met die paadjie afloop, is dalk glad nie eens gered nie, want dit kan moontlik net ’n emosionele reaksie van sy kant wees. Aan die ander kant kan hy reeds gered wees voordat hy met die paadjie begin afloop, want hy het al reeds geloof gedemonstreer.

Die tweede eienskap is dat belydenis positief op redding uitloop slegs in soverre dit deel uitmaak van glo. Om te glo beteken om geloof te hê en geloof het inhoud; gestalte moet gegee word aan die inhoud van geloof. Weer eens, belydenis is die verwoording van die inhoud van geloof. Belydenis wat uitloop op redding, is nie om voor ’n gehoor op te staan en “Jesus te bely” nie, en dit is ook nie om met die paadjie af te stap nie. Nee, belydenis loop uit op redding slegs in soverre dit deel uitmaak van geloof.

C. Die Skrifgedeeltes met betrekking tot Belydenis
Die derde afdeling van belydenis as ’n faset van redding, is die Skrif. Daar is twee hoof skrifgedeeltes wat gaan oor belydenis.

1. Matthéüs 10:32
Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. In hierdie konteks onderskei Jesus tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Die wat glo, is dié wat woordeliks sal bely dat Jesus die Messias is. Maar hier loop belydenis uit op redding net omdat dit op hierdie punt, deel uitmaak van geloof. Die vers verklaar wat die persoon moet glo.

2. Romeine 10:9-11
Die tweede hoof skrifgedeelte wat belydenis met redding verbind, is Romeine 10:9-11. Hierdie belydenis is nie iets wat apart staan van glo sodat belydenis ’n voorvereiste vir redding word nie; want dit sou beteken dat redding deur werke verkry word. Hier gebruik Paulus die woorde bely en glo wisselwerkend. Hy gebruik albei woorde twee keer, maar hy wissel hulle met mekaar af. Een keer gebruik hy die een woord eerste; later gebruik hy die ander woord eerste in ’n stylfiguur wat bekend staan as ’n “kruisstelling.” Op hierdie manier word aangetoon dat dit wat Paulus bedoel met belydenis wat red, slegs daardie belydenis is wat dieselfde is as om te glo. In vers 9 skryf hy: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. In hierdie vers beteken bekering eenvoudig die verwoording van die derde punt van die evangelie: dat Jesus opgewek is uit die dood. Wat red, is om die evangelie te glo. In vers 9 gebruik Paulus “bely” eerste en “glo” tweede. Dan, in vers 10, verander Paulus die orde van die woorde, en gebruik “glo” eerste en dan “bely”: Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Weer eens verwoord hy eenvoudig die inhoud van geloof wat red. In vers 11 val die klem net op glo: Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Uit hierdie verse is dit duidelik dat belydenis net uitloop op redding in soverre dit deel uitmaak van glo.

VI. VERGIFNIS
Die sesde faset van ons redding is vergifnis. Hierdie faset word in drie afdelings behandel: die betekenis van die woord, die woorde met betrekking tot vergifnis, en die onderafdelings van vergifnis.

A. Die Betekenis van die Woord
Die eerste afdeling handel oor die vraag: Wat beteken vergifnis? Vergifnis beteken “om nie ’n mens se sondes in ag te neem nie.” Wanneer God nie die gelowige se sondes in ag neem nie, is hy deur God vergewe.

B. Die Woorde met betrekking tot Vergifnis
Die tweede afdeling van die faset van vergifnis, handel oor die woorde wat gebruik word om vergifnis uit te druk.

In die Ou Testament word die woord “vergewe” in totaal een-en-vyftig keer gebruik, en die woord “kwytskeld” word twintig keer gebruik, en almal onderstreep die aspek van vergifnis.

In die Nuwe Testament is daar twee hoof Griekse woorde wat klem lê op hierdie waarheid.

Die eerste Griekse woord is aphieimi, wat beteken “om weg te stuur”, “te laat gaan”, “te bevry”. Dit word agt-en-vyftig keer vertaal deur die Afrikaanse woord “vergewe” en elf keer deur die woord “kwytskeld”. Hierdie spesifieke woord beklemtoon wat met ’n mens se sondes gebeur wanneer dit vergewe word: dit word weggestuur; dit word laat gaan, en die gelowige is bevry daarvan (Rom. 4:7).

Die tweede hoof Griekse woord is charizomai, wat beteken “om volkome oor te sien”. Hierdie woord is gebaseer op die wortel vir die woord “genade”. Dit benadruk wat dit is wat vergifnis moontlik gemaak het: God se genade (Luk. 7:42; II Kor. 2:7, 10; 12:13).

C. Die Onderafdelings van Vergifnis
Die derde afdeling van die faset van vergifnis, handel oor die onderafdelings daarvan; daar is twee onderafdelings.

Die eerste subdivisie is dat ’n regter nie ’n misdadiger kan kwytskeld of vergewe nie. Slegs ’n hoër gesag kan dit doen. Wanneer ’n misdadiger dus voor ’n regter staan, moet die regter op een of ander manier die misdade straf wat deur die misdadiger gepleeg is.

Die tweede subdivisie is dat ’n mens daarom regverdigmaking nodig het, wat beteken “om regverdig verklaar te word.” Wanneer ’n mens vergewe is, verkry hy regverdigmaking, hy is vrygespreek van sy sondes. ’n Mens het regverdigmaking nodig, want ’n regter kan nie ’n misdadiger kwytskeld of vergewe nie; daarom moet hy óf die misdadiger, óf ’n plaasvervanger straf. In die gelowige se geval, is Jesus daardie plaasvervanger.

VII. TOEREKENING
Die sewende faset van die gelowige se redding is toerekening. Hierdie faset word in drie afdelings behandel: die betekenis van die woord, die drie toerekeninge, en die bemiddeling tot toerekening.

A. Die Betekenis van die Woord
As ’n faset van redding, beteken toerekening “om aan iemand anders oor te dra of toe te reken” of “om op iemand anders se rekening te plaas.” ’n Goeie voorbeeld waar die konsep van toerekening in die sin van nie-redding gebruik word, is Filémon 17-18: As jy my dan vir ’n metgesel hou, neem hom aan net soos vir my. En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op mý rekening. Paulus skryf hier aan Filémon oor ’n ontsnapte slaaf met die naam van Onésimus. Hy sê aan Filémon dat aangesien hierdie wegloper slaaf nou ’n gelowige geword het, Filémon hom as ’n broer moet terug verwelkom. As hy iets gesteel het, sê Paulus: sit dit op mý rekening. Met ander woorde, “as hy jou enigiets skuld, wis dit uit sy rekening uit, en sit dit op my rekening.” Wat toerekening beteken, is “om aan ’n mens oor te dra of toe te reken”, “om op ’n mens se rekening te sit.” Hier word dit gebruik in die nie-reddende betekenis.

B. Die Drie Toerekeninge
Die tweede afdeling van die faset van toerekening, handel oor die drie groot toerekeninge, wat almal betrekking het op redding.

Die eerste groot toerekening is die toerekening van Adam se sonde aan die hele mensdom (Rom. 5:12-14). As gevolg van die eerste groot toerekening van Adam se sonde aan sy nageslag, word alle mense beskou as deelgenote van daardie eerste sonde van Adam, en die skuld wat gevolg het op daardie sonde word deur alle mense gedra. Dit is die rede waarom fisiese dood deel is van die hele menslike geskiedenis.

Die tweede groot toerekening is die toerekening van die mensdom se sonde aan die Messias. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die sonde van die wêreld geneem en dit op Hom geplaas; die sonde van die mensdom is oorgedra op die rekening van die Messias. Die tweede groot toerekening is oor die Messias geprofeteer in Jesaja 53:1-6, en die vervulling daarvan is opgeteken in II Korinthiërs 5:21 en I Petrus 2:24-25.

Die derde groot toerekening is die belangrikste een in soverre dit ’n faset is van ons redding: die toerekening van Christus se geregtigheid aan die gelowige. As gevolg van die sonde van die mensdom wat aan Christus toegereken word, word Christus se geregtigheid toegereken aan hulle wat in Hom glo (Rom. 3:21-22; 10:4; II Kor. 5:21; Fil. 3:8-9).

C. Die Bemiddeling tot Toerekening
Die derde afdeling van die faset van toerekening, handel oor die bemiddeling tot toerekening: Christus se plaasvervanging. Dit is teweeg gebring deur Christus se plaasvervangende offer aan die kruis (Heb. 9:14; 10:14).

VIII. AANNEMING
Die agtste faset van die gelowige se redding is aanneming. Die faset van aanneming sal in vier afdelings bespreek word: die betekenis van die woord, die Griekse woord vir “aanneming”, die onderafdelings van aanneming, en die effekte of uitvloeisels van aanneming.

A. Die Betekenis van die Woord
Aanneming beteken om ’n kind wat volwassenheid bereik het, in ’n posisie van mag en bevoorregting te plaas (Rom. 9:4; Gal. 4:1-5). As ’n faset van redding, beteken aanneming dat die verloste persoon ’n seun of ’n dogter van God word met al die voorregte wat ’n posisie in die familie van God meebring. Johannes 1:12 verklaar: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.

B. Die Griekse Woord vir “Aanneming”
Die tweede afdeling van die faset van aanneming, handel oor die kern woord wat gebruik word. Die Griekse woord huiothesia word in Afrikaans vertaal met die woord “aanneming”. Hierdie spesifieke woord beteken letterlik “om as ’n seun te plaas.” Dit word in totaal vyf keer in die Nuwe Testament gebruik, met drie onderskeidende gebruike.

Die eerste gebruik is dié van Israel se aanneming as ’n nasie, as die nasionale volk van God (Rom. 9:4).

Die tweede gebruik is dié van die teenswoordige aanneming van die individuele gelowige in die familie van God (Rom. 8:15; Gal. 4:5; Ef. 1:5).

En die derde gebruik is dié van die uiteindelike aanneming wanneer die gelowige verheerlik sal word. Die finale aanneming is die verheerlikte toestand (Rom. 8:23).

C. Die Onderafdelings van Aanneming
Die derde afdeling van aanneming as ’n faset van redding, handel oor die vier onderafdelings daarvan.

Een, kindskap is ’n effek van vernuwing. Vernuwing as die eerste faset van die gelowige se redding, is vroeër bespreek.

Die tweede subdivisie van aanneming, is dat dit saamhang met die ontvang van die Heilige Gees. Wanneer ’n mens in Jesus Christus glo, ontvang hy die Heilige Gees. Op een of ander manier is aanneming verbind met die Heilige Gees wat in ‘n mens kom woon wanneer jy glo (Rom. 8:15-16; Gal. 4:6).

Die derde subdivisie is dat, in aanneming, word God die Vader. Dit het betrekking op God die Vader veral omdat Hy, deur aanneming, die Vader word van die gelowige. Die Eerste Persoon van die Drie-Eenheid is nie net die Vader van die Here Jesus Christus nie, Hy is ook die God en die Vader van die gelowige (Joh. 20:17). Dit is een van verskeie redes dat die naam “Vader” ’n onderskeidende naam is van die Eerste Persoon van die Drie-Eenheid.

Die vierde subdivisie aangaande aanneming, is om die drie terme uit te wys wat gebruik word om hierdie aspek van aanneming te beskryf. Een, ’n mens lees van “die God en Vader van onse Here Jesus Christus” (Rom. 15:6; II Kor. 11:31; Ef. 1:3; Kol. 1:3; I Pet. 1:3). ’n Tweede term is eenvoudig “God die Vader”, onderskeie van die Seun (Gal. 1:1; Ef. 6:23; Fil. 2:11; I Thess. 1:1; II Thess. 1:2; I Tim. 1:2; Tit. 1:4; I Pet. 1:2; II Pet. 1:17; II Joh. 3; Jud. 1; Op. 1:6). ’n Derde term onderskei die Seun van die Vader. In hierdie gevalle word die Seun onderskei van die Vader, terwyl die Vader in die vorige kategorie onderskei was van die Seun (Rom. 1:7; I Kor. 1:3; II Kor. 1:2; Gal. 1:3; Ef. 1:2; I Thess. 1:3; 3:11, 13; II Thess. 1:1-2; 2:16).

D. Die Effekte of Uitvloeisels van Aanneming
Die vierde afdeling van die faset van aanneming, is die bespreking van die effekte of uitvloeisels van aanneming. Daar is sewe effekte of uitvloeisels van aanneming.

Die eerste effek of uitvloeisel is dat, aangesien die gelowige nou ’n kind van God is, hy die ontvanger word van God se barmhartigheid en versorging (Luk. 11:11-13). Dit is die positiewe uitvloeisel van aanneming.

Die tweede effek of uitvloeisel is dat, aangesien dissipline deel is van die verhouding tussen ’n vader en ’n kind, word die gelowige ook onderwerp aan teregwysing. Dit is die negatiewe uitvloeisel van aanneming (Heb. 12:5-11).

Die derde effek of uitvloeisel, is dat die gelowige deur aanneming nou die reg het om met vrymoedigheid na God te gaan. Aanneming beteken dat die gelowige in die familie van God ingebring is met sekere regte en voorregte. Een van hierdie voorregte is om met vrymoedigheid voor die troon van God te kom (Heb. 4:14-16).

Die vierde effek of uitvloeisel van aanneming, is toenemende vorming na die beeld van die Seun van God. Deel van die werk wat die Heilige Gees in die lewe van die gelowige doen soos wat hy groei in die familie van God, is om hom meer en meer te omvorm na die beeld van die Seun.

Die vyfde effek of uitvloeisel van aanneming, is dat gelowiges erfgename en mede-erfgename van Christus is. Christus is die natuurlike Seun van God die Vader, maar gelowiges is die aangenome seuns (en dogters). As aangenome kinders, word gelowiges mede-erfgename van Christus (Rom. 8:17; Gal. 4:7).

Die sesde effek of uitvloeisel van aanneming, is dat gelowiges Christus se broers en susters word. Deur aanneming in die familie van God, is gelowiges die broers en susters van Jesus in Sy mensheid (Heb. 2:11).

Die sewende effek of uitvloeisel van aanneming, is vryheid. Die voorreg van vryheid funksioneer binne die sfeer van genade (Rom. 8:14-15; Gal. 4:6-7).

IX. VERSEKERDHEID
Die negende faset van die gelowige se redding is versekerdheid. Versekerdheid is nie heeltemal dieselfde as ewige sekerheid nie. Ewige sekerheid beteken dat ’n mens nooit jou redding kan verloor as jy eenmaal gered is nie; dit is wat die Woord van God ons leer. Of ’n mens in ewige sekerheid glo en of jy nie daarin glo nie, jy is steeds gered; ook vir mense wat dink hulle kan hulle redding verloor, geld die feit dat hulle dit nie kan verloor nie. Selfs as hulle dink hulle kan die werk van vernuwing ongedaan maak, kan hulle nie. Versekerdheid is egter ’n ander saak. Versekerdheid is wanneer die gelowige daarvan seker kan wees dat hy gered is; hy kan weet dat hy gered is. Hy hoef nooit te twyfel aan sy redding nie.

Versekerdheid as ’n faset van redding, sal in vyf afdelings bespreek word: die kwessie van versekerdheid, die beginsels aangaande versekerdheid, die bronne van versekerdheid, die toetse van versekerdheid, en die Skrifte met betrekking tot versekerdheid.

A. Die Kwessie van Versekerdheid
Aangesien versekerdheid nie dieselfde is as ewige sekerheid nie, is die vraag of dit moontlik is vir enige persoon om vir seker te weet, om die vrede van sekerheid te hê, dat hy gered is en Hemel toe sal gaan? Dit is die kwessie.

B. Die Beginsels aangaande Versekerdheid
Die tweede afdeling van die faset van versekerdheid, is om sekere beginsels te verstaan. Om versekerdheid as ’n faset van reddding te verstaan, moet ’n mens kennis dra van drie kern beginsels.

Die eerste beginsel is om die wese van redding te verstaan. Die wese van redding behels drie dinge. Een, redding is ’n gratis geskenk van God en word nie verdien nie; daar is niks lofwaardigs wat ’n mens kan doen om dit te verkry nie; daarom is daar ook niks onlofwaardigs wat ’n mens kan doen om dit te verloor nie. Die tweede ding omtrent die wese van redding wat verstaan moet word, is dat redding ’n werk is van God vir die mens, nie ’n werk wat die mens kan doen nie. Al wat die mens kan doen, is om dit uit geloof aan te neem. Die derde ding wat verstaan moet word omtrent die wese van redding, is dat die werk van Christus aan die kruis volmaak volbring is; Hy het die werk volbring, dit is afgehandel. Dus, die eerste beginsel om die wese van redding te verstaan, is dat dit ’n geskenk is wat nie verdien kan word nie; dat dit ’n werk is van God vir die mens, en dat dit ’n afgehandelde werk is, volbring deur Christus aan die kruis.

Die tweede beginsel aangaande versekerdheid as ’n faset van redding, is die bevestigende getuienis van die gelowige se ervaringslewe (II Kor. 13:5). As ’n mens waarlik gered is, sal daar bevestigende getuienis wees van geloofservarings.

Die derde beginsel is die aanvaarding van die geloofwaardigheid of die juistheid van die beloftes van die Bybel (I Joh. 5:13). Die Bybel sê ’n mens kan glo dat jy gered is; daarom moet ’n mens die beloftes van God glo.

C. Die Bronne van Versekerdheid
Die derde afdeling van die faset van versekerdheid, is die bron. Drie dinge omtrent die bron van versekerdheid sal bespreek word.

Die eerste bron is die Woord van God. As die Woord van God leer dat iets die waarheid is, en ’n mens glo dat dit die waarheid is, dan sal ’n mens die versekerdheid van redding hê (Joh. 1:12: Rom. 10:13; I Joh. 2:7). Byvoorbeeld, die Bybel leer dat almal wat in God glo, God se kinders is; as hulle glo wat hierdie vers sê, dan moet dit uitloop op versekerdheid.

Die tweede bron van versekerdheid is die werke van die gelowige se lewe. ’n Persoon wat waarlik gered is, sal dit beslis op een of ander manier uitleef in sy werke. Hoewel werke nie red nie, sal reddende geloof werke voortbring, en hierdie werke is ’n versekerdheid van ons redding (I Joh. 2:3-5).

Die derde bron van die gelowige se versekerdheid, is die Heilige Gees. Die Bybel leer dat die Heilige Gees die werk van versekerdheid doen; Hy getuig saam met die gelowiges se gees dat hulle God se kinders is (I Joh. 2:27-29; 4:13).

D. Die Toetse van Versekerdheid
Die vierde afdeling aangaande die faset van versekerdheid, is die toetse van versekerdheid. Weer eens, selfs as ’n persoon nie versekerdheid het nie, beteken dit nie dat hy nie gered is nie; hy kan wel gered wees, maar het nie die versekerdheid daarvan nie. As hy nie versekerdheid van redding het nie, maar hy wil dit hê, is daar veertien toetse wat hy kan toepas. Dertien van hierdie toetse is gebaseer op die Eerste Brief van Johannes, want dit is die Eerste Brief van Johannes wat die meeste aandag gee aan die versekerdheid van redding. Johannes het probeer om aan die mense te verduidelik hoe hulle kon weet dat hulle wel God se kinders is, en deur hierdie versekerdheid te hê, kon hulle groei in hulle geestelike lewe.

Die eerste toets is in I Johannes 1:3-4: Is dit vir jou lekker om in gemeenskap met God te verkeer? ’n Ware gelowige geniet dit om gemeenskap met God te hou. As die antwoord op hierdie vraag “ja” is, kan jy die versekerdheid van jou redding hê.

Die tweede toets is in I Johannes 1:5-10: Is jy sensitief ten opsigte van sonde? As jy meen jy is wel sensitief ten opsigte van sonde, as growwe sonde jou “laat afskakel”, as jy sleg voel of as jou gewete jou pla wanneer jy sondig, kan dit, ook, dien as versekerdheid van jou redding.

Die derde toets is in I Johannes 2:3-5: Lewe jy in gehoorsaamheid aan God se gebooie? ’n Ware gelowige sal die gebooie van die Here gehoorsaam. Lewe jy in gehoorsaamheid? As dit so is, kan jy dit, ook, sien as ’n bewys van versekerdheid van redding.

Die vierde toets is in I Johannes 2:15: Wat is jou houding teenoor die wêreld? Vind jy dat jy die wêreld baie liewer het as wat jy God liefhet? Of is God meer die middelpunt van jou lewe as wat die wêreld is? As dit God is, kan dit, ook, vir jou dien as versekerdheid van jou redding.

Die vyfde toets is in I Johannes 3:2-5: Het jy Jesus Christus lief en sien jy uit na Sy wederkoms? As jy “ja” kan sê, is dit, ook, versekerdheid van jou redding.

Die sesde toets is in I Johannes 3:4: Doen jy sonde? Is sonde ’n gewoonte in jou lewe? Alle mense doen sonde, maar dit is ’n probleem as sonde ’n gewoonte in jou lewe is; as dit nie is nie, dan is dit, ook, versekerdheid van jou redding.

Die sewende toets is in I Johannes 3:14: Spoor jy mense aan om mekaar lief te hê? As jy ’n verdelende faktor in die Liggaam van Christus is, is daar sekere vrae wat jy jouself moet afvra; as jy nie ’n verdelende element is nie, maar ander mense aanspoor tot liefde, kan dit, ook, gebruik word as ’n punt van versekerdheid van jou redding.

Die agtste toets is in I Johannes 3:22 en 5:15: Ervaar jy dat jou gebede beantwoord word? As daar nog nooit in jou hele geestelike lewe enige gebed van jou verhoor is nie, moet jy dalk ondersoek instel oor jou redding. Maar as jy God sien werk het in jou lewe, as jy ervaar het hoe God gebed in jou lewe verhoor, kan dit, ook, vir jou dien as versekerdheid van jou redding.

Die negende toets is in I Johannes 3:24 en 4:13: Het jy die innerlike getuienis van die Heilige Gees? Die Gees getuig in die harte van gelowiges dat hulle God se kinders is. As jy hierdie innerlike getuienis het, kan dit, ook, jou verseker van jou redding.

Die tiende toets is in I Johannes 4:1-6: Het jy die vermoë om te onderskei tussen geestelike waarheid en geestelike dwaasheid? As jy glad nie daardie onderskeidingsvermoë het nie, sal sekere vrae gevra moet word om vas te stel of jy ooit werklik gered is. As jy hierdie vermoë het om geestelike waarheid te onderskei van geestelike dwaasheid, as jy die vermoë het om vals lering uit te ken, kan dit, ook, vir jou dien as versekerdheid van redding.

Die elfde toets is in I Johannes 4:1: Glo jy in die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof? Hoewel daar sekere dinge is waaroor gelowiges onder mekaar kan verskil, is daar ’n aantal fundamentele leerstellings waaroor alle gelowiges onderling saamstem; daar word dikwels hierna verwys as “die basis van ons geloof.” Ten opsigte van hierdie fundamentele leerstellings is daar geen verskil van mening nie. As jy dus worstel met die fundamentele leerstellings van die geloof, mag daar ’n groot probleem wees; maar as jy wel glo in die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof, kan dit, ook, dien as versekerdheid van jou redding.

Die twaalfde toets is in I Johannes 3:19-20: Het jy innerlike vrede? Die soort vrede wat dikwels in die Bybel genoem word, het niks te doen met die neem van besluite oor God se wil in jou lewe nie. Nee, dit het te doen met jou verhouding tot God, met die wete dat jou sondes vergewe is en dat God nie meer toornig is op jou nie. As jy nie hierdie innerlike vrede ervaar nie, moet sekere vrae dalk gevra word; maar as jy wel hierdie innerlike vrede het, kan ook dit vir jou versekerdheid gee van jou redding.

Die dertiende toets is in I Johannes 2:7-11 en 3:11-18: Het jy jou broers en susters in Christus lief? Is daar liefde in jou hart vir jou medegelowiges? As jy aanhoudend swaarde kruis met al jou medegelowiges, as jy selfs vyandigheid en haat teenoor die medegelowiges ervaar, is dit dalk ernstig te betwyfel of jy waarlik gered is. As dit vir jou lekker is om saam met medegelowiges te wees, as jy die gemeenskap met hulle geniet, daarna uitsien om saam met hulle te vergader, kan dit ook dien as versekerdheid van jou redding.

In die veertiende toets sal ’n paar ander toetse wat op ander skrifgedeeltes in die Bybel gebaseer is, bespreek word. Daar is nog vier toetse behalwe dié wat vroeër genoem is, maar in sommige gevalle is daar oorvleuelende vrae.

Die eerste toets is die liefde vir die medegelowiges in Johannes 13:35. As jy die medegelowiges liefhet, kan dit dien as versekerdheid van jou redding.

Die tweede toets is om mekaar lief te hê, in Johannes 15:17. Dit is net soos die eerste een, en die feit dat dit herhaal word, wys inderdaad dat die grootste bewys van ’n mens se redding, die liefde is wat gelowiges aan mekaar bewys.

Die derde toets is die getuienis van die Heilige Gees, in Romeine 8:16. Die Heilige Gees getuig trouens saam met die gees van die gelowige dat hy ’n kind van God is. Ware gelowiges het die inwonende Heilige Gees wat saam met hulle nuutgebore gees getuig dat hulle God se kinders is.

En die vierde toets is ’n selfopgelegde toets in II Korinthiërs 13:5: Ondersoek julself of julle in die geloof is. Ondersoek jouself, veral voordat jy die nagmaal gebruik, soos wat Paulus die gelowiges in I Korinthiërs 11:28 aangemoedig het, en kyk of jy leerstellig, moreel, en geestelik, in die waarheid is. As jy is, is dit, ook, ’n bewys van redding.

E. Die Skrifte met betrekking tot Versekerdheid
Die vyfde afdeling van die faset van versekerdheid, is om te kyk na Skrifte waar die wesenlike aspek van versekerdheid duidelik uitgelig word. Daar is vier hoof skrifgedeeltes in die Bybel wat definitief die kwessie van versekerdheid aanspreek.

1. Johannes 20:31
maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam. Volgens hierdie vers, het Johannes sy Evangelie geskryf sodat ’n mens kan glo dat Jesus die Messias, die Seun van God is, en omdat jy dit glo, kan jy weet dat jy die ewige lewe het in Sy naam.

2. Kolossense 2:2
dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus. Een van die dinge wat God wil hê gelowiges moet besit, is alle rykdom van die volle versekerdheid van insig. God wil hê daar moet volle versekerdheid wees van redding, volle versekerdheid van die werk van die Messias in die gelowige wat hom in die wêreld bevind. Dit is werklik God se wil dat die gelowige volle versekerdheid van redding moet hê; Hy wil nie hê die gelowige moet in twyfel lewe nie. Die gelowige moet seker wees van sy redding en moet van daar af aanbeweeg tot by volwassenheid.

3. I Thessalonicense 1:5
Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. In hierdie skrifgedeelte wil God hê die gelowige moet volle versekerdheid hê van sy redding. Hy wil hê die gelowige moet in die versekering lewe dat hy die kind van God is.

4. Hebreërs 6:17-19
Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel. Die klem hier is dat, deur te rus in God se onveranderlike beloftes, kan gelowiges ’n anker van die siel hê, ’n anker van versekerdheid dat hulle die kinders van God is.

X. VERHEERLIKING
Die tiende faset, die een toekomstige faset van ons redding, is verheerliking. Terwyl die ander nege fasette hier en nou waar is, is die tiende faset nog in die toekoms. Hierdie faset van redding word bespreek in vier afdelings: die betekenis van die woord, die Skrif met betrekking tot verheerliking, die wese van verheerliking, en die onderafdelings van verheerliking.

A. Die Betekenis van die Woord
Die basiese betekenis van verheerliking is die “toestand van volmaaktheid.” Dit wys na die toekomstige staat in die Hemel wanneer gelowiges ’n toestand van volmaaktheid sal bereik. Die gelowige sal nie meer onderworpe wees aan die sondige natuur nie. Die gelowige sal selfs nie eens meer die vermoë hê om te sondig nie.

B. Die Skrif met betrekking tot Verheerliking
Die tweede afdeling van die faset van verheerliking, handel oor die Skrif. Die kern skrifgedeelte oor verheerliking is Romeine 8:28-30: En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. In hierdie skrifgedeelte noem Paulus sommige van die teenswoordige fasette van die gelowige se redding. Dan wys hy uit dat, net soos wat die gelowige die teenswoordige fasette van redding ervaar, so sal hy sekerlik die toekomstige faset van sy redding ervaar: verheerliking, wanneer hy die staat binnegaan waar die gelowige die toestand van volmaaktheid bereik.

C. Die Wese van Verheerliking
Die derde afdeling van die faset van verheerliking, handel oor die wese van verheerliking. Sewe dinge aangaande hierdie faset sal bespreek word.

1. Heiligheid
Die eerste ding omtrent die wese van verheerliking, is dat dit heilig is. Wanneer die gelowige die verheerlikte staat binnegaan, sal hy volmaak geheilig wees, nie meer onderworpe aan die sonde nie (Kol. 1:22). Die gelowige sal nie eens daartoe in staat wees of die vermoë hê om te kan sondig nie.

2. Vry van Struikeling
Die tweede ding omtrent die wese van verheerliking, is dat die gelowige verlos sal wees van struikeling (Fil. 1:10). Daar sal geen struikelblokke meer wees nie, geen terugval nie; nie een van hierdie dinge sal meer bestaan nie, want nie eens die vermoë om te kan sondig, sal daar wees nie.

3. Rein
Die derde ding omtrent die wese van verheerliking, is dat die gelowige getoets en gereinig sal wees (Fil. 1:10). Reiniging sal alle onreinhede uitwis; daar sal hoegenaamd geen hout, strooi, of kaf in ons oorbly nie. Die gelowige sal inderdaad ’n toestand van volmaaktheid bereik het.

4. Onberispelik
Die vierde ding omtrent die wese van verheerliking, is dat die gelowige onbesproke of onberispelik sal wees (I Kor. 1:8). Daar sal niks slegs wees wat enigiemand sal kan sê oor die gelowige nie; hy sal onberispelik wees.

5. Foutloos
Die vyfde ding omtrent die wese van verheerliking, is dat die gelowige foutloos sal wees; hy sal geen foute hê nie (I Thess. 3:13; 5:23). Die gelowige sal geen fout met homself vind nie, en ook sal niemand anders enige fout met hom kan vind nie. Wanneer die gelowige daardie toestand van volmaaktheid bereik, sal hy waarlik foutloos wees, in sy eie oë, in die oë van ander, en in die oë van God.

6. Vlekloos
Die sesde ding omtrent die wese van verheerliking, is dat die gelowige sonder enige vlek of rimpel sal wees (Ef. 5:25-27). Sonder vlek beteken dat daar hoegenaamd geen gebrek sal wees nie; sonder rimpel beteken dat daar geen teken van die verouderingsproses sal wees nie. Hierdie skrifgedeelte leer dat een van die doelstellings van die huidige proses van heiligmaking, is om die Kerk, die Liggaam van Christus, in ’n verheerlikte toestand voor Hom te stel. Die verheerlikte toestand vereis dat die Liggaam, sowel as die individu, vry moet wees van enige gebreke: sonder vlek of rimpel of iets dergeliks. Die gelowige sal inderdaad bevry wees van al hierdie dinge.

7. Volmaakte Kennis
En die sewende ding omtrent die wese van verheerliking, is die volle kennis waarvan Paulus praat in I Korinthiërs 13:9-12. In vers 12 skryf Paulus: maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. Dit word soms verstaan as dat die gelowige net so veel soos God sal weet. Dit sal egter nooit gebeur nie, want God is alwetend, maar gelowiges self sal nooit alwetend wees nie. As die gelowige alwetend sou wees, sou dit beteken het dat hy God sou moes word. Die gelowige sal nooit alles kan doen wat God kan doen nie, hy sal nooit so magtig kan wees soos God nie, hy sal nooit so baie kan weet soos wat God weet nie.

Wat hierdie skrifgedeelte beteken, is dat die gelowige homself ten volle sal ken; hy sal homself nie meer verras met sekere van die dinge wat hy doen nie. Hy sal homself ten volle ken, net soos wat God wat elke ding omtrent hom weet, hom al reeds ten volle ken. Hierdie skrifgedeelte beteken, dat wanneer die gelowige die staat van verheerliking binnegegaan het, die staat van volmaaktheid, sal hy die toppunt van menslike kennis bereik het, die hoogste kennis wat enige mens kan hê. Die mens sal egter nooit die toppunt van die Skepper se kennis kan bereik nie. Alwetend sal hy nie wees nie, maar hy sal homself ten volle ken, net soos wat hy ten volle geken is.

D. Die Onderafdelings van Verheerliking
Die vierde afdeling van die faset van verheerliking, handel oor die onderafdelings daarvan. Daar is vyf onderafdelings van verheerliking.

Die eerste subdivisie is dat verheerliking oor die opgewekte liggaam gaan (Rom. 8:23; I Kor. 15:50-58; II Kor. 4:17; 5:1-5; Fil. 3:20-23). Die nie-stoflike deel van die mens sal ten tyde van die dood verheerlik word en volmaak gemaak word; maar terwyl die nie-stoflike deel van die mens Hemel toe gaan, is dit nie die geval met die stoflike deel van die mens nie. Die stoflike deel van die mens sal begrawe word; dit sal verrotting ondergaan en disintegreer totdat dit uiteindelik stof sal word. Eers sodra daardie stoflike liggaam uit die dood uit opgewek word, kom dit ook in die verheerlikte staat. Dit is op daardie punt dat volle verheerliking van sowel die siel as die liggaam bereik word. Die eerste subdivisie van die gelowige se verheerliking, is dus dat dit in die besonder, die opwekking van die fisiese liggaam behels.

Die tweede subdivisie is dat verheerliking die volle regverdigmaking van gelowiges sal wees (Rom. 8:31-39). Op daardie punt sal alles waarop gelowiges aanspraak gemaak het, alles wat gelowiges geglo het, alles waarop gelowiges gehoop het, ten volle verwerklik wees. Daarom vra Paulus in vers 33: Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? En die antwoord sal wees, “Niemand.”

Die derde subdivisie is dat verheerliking verbind word met die wegdoening van die huidige skepping (Rom. 8:20-22). Die teenswoordige skepping sal uiteindelik verwyder moet word voordat die finale verheerlikte staat met die nuwe hemele en die nuwe aarde bereik word.

Die vierde subdivisie is dat die Heilige Gees die onderpand (of die deposito) is van die gelowiges se toekomstige verheerliking (II Kor. 1:22; 5:5; Ef. 1:14). Byvoorbeeld, wanneer iemand ’n vooruitbetaling of ’n deposito vir ’n huis neersit, sê hy daarmee dat hy gereed is om die ooreenkoms in goeie geloof te sluit; volgens al die berekenings sal hy uiteindelik die huis ten volle afbetaal. Die Heilige Gees is by wyse van spreke, die deposito wat die gelowige verseker dat God bedoel om die saak deur te voer, dat God bedoel om die belofte wat Hy gemaak het dat die gelowige eendag verheerlik sal wees, na te kom. Daarom het gelowiges nou die Heilige Gees wat by hulle inwoon as die onderpand (of die deposito) van hulle toekomstige verheerliking. Die feit dat Hy in die gelowige woon, is die waarborg dat hulle in die toekomstige lewe die staat van volmaaktheid sal binnegaan.

En die vyfde subdivisie van verheerliking, is dat dit verwesenlik sal word op die tyd van die gelowige se erfenis (Ef. 1:13-14; I Pet. 1:3-5). Wanneer die gelowige sy finale erfenis sal ontvang, is dit ook die tyd wanneer hy ten volle verheerlik sal wees.

[end]

Inhoudsopgawe

I. VERNUWING
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Gebruik van die Woord
     C. Die Ander Terme wat Gebruik Word
     D. Die Bemiddelinge tot Vernuwing
         1. Die Wil van God
         2. Die Heilige Gees
         3. Die Woord van God
         4. Geloof
     E. Die Wese van Vernuwing
     F. Die Uitvloeisels van Vernuwing
II. BEKERING
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Soorte Bekering
     C. Die Bemiddeling tot Bekering
     D. Die Subdivisies van Bekering
     E. Die Voorbeelde van Bekering
III. GELOOF
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Soorte Geloof
         1. Teoretiese of Dooie Geloof
         2. Tydelike Geloof
         3. Reddende Geloof
         4. Lewende Geloof
         5. Wondergeloof
     C. Die Wese van Geloof
     D. Die Waarborg vir Geloof
     E. Die Eienskappe van Geloof
IV. BEROU
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Hebreeuse en Griekse Woorde
         1. Die Hebreeuse Woorde
         2. Die Griekse Woorde
     C. Die Eienskappe van Berou
         1. Die Negatiewe Element
         2. Die Finale Daad van Bekering
         3. ’n Nuwe Verhouding
         4. Ekwivalent van Geloof
         5. Die Bronne van Berou
         6. Onderskeie van Redding
         7. Spesifieke Uitvloeisels van Berou
         8. Drie elemente van Berou
V. BELYDENIS
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Eienskappe van Belydenis
     C. Die Skrifgedeeltes met betrekking tot Belydenis
         1. Matthéüs 10:32
         2. Romeine 10:9-11
VI. VERGIFNIS
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Woorde met betrekking tot Vergifnis
     C. Die Subdivisies van Vergifnis
VII. TOEREKENING
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Drie Toerekeninge
     C. Die Bemiddeling tot Toerekening
VIII. AANNEMING
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Griekse Woord vir ”Aanneming”
     C. Die Subdivisies van Aanneming
     D. Die Effekte of Uitvloeisels van Aanneming
IX. VERSEKERDHEID
     A. Die Kwessie van Versekerdheid
     B. Die Beginsels aangaande Versekerdheid
     C. Die Bronne van Versekerdheid
     D. Die Toetse van Versekerdheid
     E. Die Skrifte met betrekking tot Versekerdheid
         1. Johannes 20:31
         2. Kolossense 2:2
         3. I Thessalonicense 1:5
         4. Hebreërs 6:17-19
X. VERHEERLIKING
     A. Die Betekenis van die Woord
     B. Die Skrif met betrekking tot Verheerliking
     C. Die Wese van Verheerliking
         1. Heiligheid
         2. Vry van Struikeling
         3. Rein
         4. Onberispelik
         5. Foutloos
         6. Vlekloos
         7. Volmaakte Kennis
     D. Die Subdivisies van Verheerliking

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Kan ’n gelowige sy redding verbeur, hetsy deur ’n sondige daad of deur op te hou glo? Hierdie onderwerp oor ewige sekerheid sal in vier hoofkategorieë verdeel word, naamlik die betekenis van ewige sekerheid, die beginsels van ewige sekerheid, die bewyse van ewige sekerheid gevolg deur ‘n bespreking van problematiese teksgedeeltes oor ewige sekerheid.