Die universele Kerk

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.-Lukas 16:22

Hierdie Messiaanse Bybelstudie sal in agt dele verdeel word: die inleiding, die definisie, die begin, die samestelling, die fondament, die bestaansredes, die simboliese illustrasies en die toekomstige lotsbestemming van die universele kerk.

INLEIDING
Die universele kerk staan soms in kontras met die plaaslike gemeente of die sigbare kerk as die onsigbare kerk bekend. Die eerste afdeling van die studie oor die universele kerk handel ter inleiding oor ’n verduideliking van die woord “kerk” en die verskeie gebruike daarvan.

A. Die woord ekklesia
Die Griekse woord wat as “kerk” vertaal word, is ekklesia. Etimologies gesproke, bestaan hierdie woord uit ’n kombinasie van twee woorde, naamlik: ek, wat beteken “vanuit”, en kaleo, wat beteken “om te roep”. Die woord ekklesia beteken dus “ ’n vergadering wat uitgeroep is”, ’n groep wat uit die massa geroep is om op sy eie ’n afsonderlike groep te vorm.

In die antieke sekulêre Griekse literatuur het ekklesia altyd na die samekoms self verwys, nooit na die mense wat aan die samekoms deelgeneem het nie. In die Septuagint, ’n Griekse vertaling van die Ou Testament wat omtrent in 250 v.C. gedoen is, is die Hebreeuse woord kahal, wat na die gemeente van Israel verwys het, met ekklesia vertaal. Maar ook dít het nie na die mense self verwys nie. Die woord ekklesia is eers in die Nuwe Testament gebruik om te verwys na mense wat aan hierdie “uitgeroepte” groep behoort.

Ekklesia is nooit in die Griekse Nuwe Testament gebruik op die vyf maniere waarop mense deesdae die woord “kerk” gebruik nie. Dit was in die eerste plek nooit gebruik om na ’n gebou te verwys nie. Mense sê dikwels dat hulle “kerk toe gaan” wanneer hulle van ’n spesifieke gebou praat waar hulle eredienste hou. Die Skrif gebruik egter nooit die woord ekklesia vir ’n gebou nie. Tweedens was dit nooit gebruik vir ’n kerkgenootskap nie. Vandag gebruik mense die woord om na kerkgenootskappe soos die Baptistekerk, die Lutherse Kerk en die Episkopaalse Kerk te verwys, maar in die Skrif word dit nooit op daardie manier gebruik nie. In die derde plek was dit nooit gebruik om ’n nasionale kerkvorm te beskryf nie. Vandag kry ’n mens die Church of England of die Noorweegse Kerk, maar in die Bybel is dit nooit vir ’n nasionale kerk gebruik nie. Vierdens is die woord ook nooit gebruik om na God se Koninkryk te verwys nie. Die Koninkryk van God staan apart van die Kerk. Vyfdens was die woord “kerk”, met verwysing na die Liggaam van die Messias, ook nooit gebruik om na Israel as sulks te verwys nie. Hoewel teoloë lief is daarvoor om dit op hierdie manier te gebruik en graag na die “ou kerk” en die “nuwe Kerk”, die “ou Israel” en die “nuwe Israel” verwys, het die Bybel self nooit die term met betrekking tot Israel gebruik soos wat party teoloë deesdae doen wanneer hulle na die Kerk verwys nie.

Die woord “kerk” is nooit in die Nuwe Testament gebruik om na ’n gebou, ’n kerkgenootskap, ’n nasionale kerk, God se Koninkryk of na Israel te verwys nie; dit word gebruik om te verwys na die mense self wat aan hierdie uitgeroepte groep of gemeente behoort.

B. Gebruiksgereeldheid
Die woord ekklesia word altesaam 114 keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit kom slegs drie keer in die evangelies voor – al drie kere in Matthéüs: een keer in 16:18 en twee keer in 18:17. Die ander 111 kere wat hierdie woord gebruik word, is in die boek Handelinge, die sendbriewe en die boek Openbaring. Buiten die Evangelies, word ekklesia op sewe uitsonderings na in elke boek van die Nuwe Testament aangetref: 2 Timótheüs, Titus, 1 en 2 Petrus, 1 en 2 Johannes, en Judas. Uit al die kere wat die woord gebruik word, verskyn dit 79 keer in die enkelvoud, en 35 keer in die meervoud.

Uit die 114 keer wat ekklesia gebruik word, word dit 109 keer met verwysing na die Kerk gebruik soos wat gelowiges dit verstaan: ’n uitgeroepte groep of gemeente. Die orige vyf keer word dit nie met verwysing na die Nuwe-Testamentiese Kerk gebruik nie, maar in die woord se klassieke Griekse betekenis – samekoms – of in navolging van die Septuagint om na die volk Israel te verwys. Die vyf uitsonderings waar die woord ekklesia nie na die Nuwe-Testamentiese Kerk verwys nie, kom voor in Handelinge 7:38; 19:32, 39, 41 en Hebreërs 2:12.

C. Gebruikskategorieë
Die woord ekklesia word in vier kategorieë gebruik. Die eerste kategorie is die klassieke Griekse gebruiksvorm, die manier waarop dit die meeste in sekulêre Griekse literatuur gebruik is. In hierdie sin verwys ekklesia na ’n byeenkoms van dorpsbewoners wat uitgeroep is vir ’n politieke vergadering. Dit word drie keer op hierdie manier gebruik: in Handelinge 19:32, 39 en 41.

In die tweede kategorie word dit gebruik om na die Joodse volk in die woestyn te verwys. Hierdie gebruiksvorm weerspieël die betekenis wat dit in die Septuagint het. Dit word twee keer op hierdie manier gebruik: Handelinge 7:38 en Hebreërs 2:12.

Die derde kategorie waarvoor dit gebruik word, is om te verwys na die universele kerk, die Kerk in sy geheel wat na alle gelowiges oral verwys. Aangesien hierdie gelowiges nie almal sigbaar is nie, word daar soms na die universele kerk as die “onsigbare kerk” verwys. Dít is die onderwerp van hierdie manuskrip, en dit is hierdie aspek van die woord – die verwysing na die universele kerk – wat in hierdie studie ondersoek sal word.

Die vierde gebruiksvorm is ’n verwysing na die plaaslike gemeente. Omdat die plaaslike gemeente plekgebonde en sigbaar is, verwys mense soms daarna as “die sigbare kerk”.

Soos vroeër genoem, word die woord ekklesia of “kerk” in die meervouds- én in die enkelvoudsvorm gebruik. Die woord word in die enkelvoud- sowel as die meervoudvorm gebruik om na die plaaslike gemeente te verwys; dit hang net af of die skrywer van een plaaslike gemeente of baie plaaslike gemeentes praat. Waar die woord ekklesia na die universele kerk verwys, word dit slegs in die enkelvoud gebruik, want daar is slegs een universele, onsigbare kerk.

I. DIE DEFINISIE VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die tweede afdeling in die studie van die universele kerk is gemoeid met ’n definisie van die onderwerp: Wat word bedoel met die universele kerk? ’n Baie eenvoudige definisie is: “Die universele kerk is die geestelike organisme waarvan die Messias die Hoof is, en dit bestaan uit alle gelowiges, van Pinkster af tot en met die Wegraping.” Ons sal vier punte van die definisie behandel.

A. Die implikasies
Hierdie definisie het vier implikasies wat in diepte bespreek behoort te word. Eerstens is dit die Messias se Kerk; dit is ’n Kerk wat aan die Messias behoort. Hierdie punt word gemaak in die heel eerste verwysing na die Kerk (Matt 16:18) toe Jesus vir Petrus gesê het: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou. Jesus het met die gebruik van die besitlike voornaamwoord my gesê dat die Kerk wat Hy sal bou, sy persoonlike Kerk sal wees.

Die feit dat dit die Messias se kerk is, kan op vyf maniere gesien word. In die eerste plek was Hy die Een wat die Kerk se eerste leiers onderrig het en hulle voorberei het vir hul rolle in die Kerk. Een van die beste leringsessies wat hulle vir hul toekomstige rolle voorberei het, was die gesprek in die Bovertrek (Joh 14-16). In die tweede plek was Hy die Een wat die Heilige Gees gestuur het om in sy Kerk te kom woon (Hand 2:33). Derdens was Jesus die Een wat geestelike gawes voorsien het deurdat Hy die Heilige Gees gestuur het om die gawes van die Gees te gee (Ef 4:8-11). Waar ’n individu in die Kerk funksioneer, hang af van die geestelike gawe wat hy ontvang het. In die vierde plek is die Kerk die Messias s’n omdat Hy Hoof is van hierdie Kerk (Ef 1:20-23; Kol 1:18). Vyfdens berei Hy die Kerk voor om sy Bruid te wees (Ef 5:25-27). Die Kerk is inderdaad die Messias s’n, sy persoonlike eiendom.

Die tweede implikasie van hierdie definisie is dat die Kerk uit alle gelowiges bestaan. Die universele, onsigbare kerk bestaan uit alle gelowiges van Handelinge 2 af verder. ’n Mens kry nie twee soorte gelowiges nie. Daar is nie een groep gelowiges wat deel is van die universele kerk en ’n ander wat nie is nie. Alle gelowiges is vandag deel van die universele kerk.

Die derde implikasie is dat die kerk net uit gelowiges bestaan. Daar is geen ongelowiges in die universele of onsigbare kerk nie. In die plaaslike gemeente, die sigbare kerk, is daar gelowiges én ongelowiges wat lede is. Dit geld egter nie vir die universele, onsigbare kerk nie. Laasgenoemde bestaan slegs uit gelowiges.

Die vierde implikasie van hierdie definisie is dat die universele kerk uit dié gelowiges bestaan wat tussen Pinkster in Handelinge 2 en die Wegraping geleef het of sal leef. Die Kerk sluit nie Ou-Testamentiese gelowiges in nie, en dit sal nie die gelowiges van die Verdrukking of die Duisendjarige Vrederyk insluit nie. Die Kerk is ’n Liggaam wat bestaan uit gelowiges vanaf Handelinge 2 tot en met die Wegraping plaasvind. Ons sal later meer hieroor uitwei as ons die vraag behandel oor hoe en wanneer die Kerk ontstaan het. Die bybelse bewyse dat die universele kerk slegs uit gelowiges tussen die eerste Pinkster tot en met die Wegraping bestaan, sal dan voorgehou word.

B. Ontvang in God se gedagtes
Die tweede punt van hierdie definisie is dat die Kerk van alle ewigheid af al in God se gedagtes ontvang is, al het dit op ’n sekere tydstip in die geskiedenis eers begin. Die Kerk moet nie gesien word as iets in hakies wat God noodgedwonge moes indruk tussen die Messias se koms en sy wederkoms, of tussen Israel se aanvanklike verwerping van Jesus se Messiasskap en hul uiteindelike aanvaarding van sy Messiasskap in die toekoms nie. Die Kerk was nog altyd ’n deel van God se raadsplan.

Efésiërs 3:9 leer vir ons dat die Kerk in God se gedagtes ontvang is: en [om] vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het.

Paulus is in hierdie vers besig om die nuwe entiteit, naamlik die “Kerk”, wat uit Joodse én nie-Joodse gelowiges bestaan, te bespreek. Hy wys daarop dat God reeds in sy gedagtes daaraan beslag gegee het. Dit was voorheen in God verborge, maar is in die apostels se tyd geopenbaar.

Kolossense 1:24-26 sê verder: NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges.

Paulus wys hier daarop dat God die universele kerk van alle ewigheid af beplan het en daaraan beslag gegee het, hoewel dit op ’n sekere tydstip in die geskiedenis begin het. Dit was nie ’n haastige nagedagte nie. Hoewel dit van die eeue en geslagte af verborge was, was dit nou geopenbaar … aan sy heiliges.

C. Die gebruik van die enkelvoudige selfstandige naamwoord
Die derde punt oor hierdie definisie is dat die woord ekklesia slegs in die enkelvoud gebruik word om na die universele kerk te verwys, nooit in die meervoud nie. Dit is omdat daar slegs een universele kerk is. Wanneer die Nuwe Testament dus van die universele, onsigbare kerk praat, gebruik dit die enkelvoudige selfstandige naamwoord.

Paulus sê byvoorbeeld dat hy die Kerk (gemeente) vervolg het (Hand 8:3; 1 Kor 15:9; Gal 1:13; Fil 3:6). Hoewel hy baie plaaslike gemeentes vervolg het, word die naamwoord se enkelvoud gebruik wanneer daar geskryf word hoe hy die universele kerk vervolg het. Verder lees ons dat die Messias die Kerk (gemeente) liefhet (Ef 5:25-33), dit heilig (Ef 5:26-27), en dat Hy die Hoof van die Kerk (gemeente) is (Ef 1:22; 5:23; Kol 1:18). Slegs die enkelvoud word in al hierdie gevalle gebruik. Daarby het hy apostels – meervoud – in die Kerk (gemeente) – enkelvoud – gestel (1 Kor 12:28). Die Kerk maak die wysheid van God bekend (Ef 3:10), iets wat nie waar is van baie individuele plaaslike gemeentes nie. Laastens is daar ook die gemeente van eersgeborenes (Heb 12:23).

Wat hierdie voorbeelde ons wys, is dat die woord ekklesia altyd in die enkelvoud gebruik word wanneer dit na die een universele, onsigbare kerk verwys. Die meervoudsvorm word nooit gebruik nie, omdat daar slegs een universele Kerk bestaan.

D. Die Kerk is nie Israel nie
Die vierde en laaste punt van die definisie is dat die woord ekklesia nie na Israel verwys nie. Dit is iets wat apart staan van Israel; die Nuwe Testament skeer nooit die Kerk en Israel oor dieselfde kam nie. Die Kerk is nie ’n voortsetting van God se uitverkore volk nie; dit is ’n afsonderlike element, ’n afsonderlike “volk” en ’n afsonderlike deel van God se raadsplan. Aangesien die Kerk en Israel twee verskillende goed is, moet ’n mens daarteen waak om die twee te verwar as jy die Kerk probeer definieer.

II. DIE ONTSTAAN VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die derde deel van hierdie studie kyk na die vraag: Wanneer het die universele kerk presies begin? Daar is redelik verwarring hieroor. Party mense verkondig dat die universele kerk altyd bestaan het, en dat dit daarom by Adam begin het. Ander voel weer dat die universele kerk by Abraham begin het. Ander mense sê dat die universele kerk eers ná Handelinge 2 begin het, by Handelinge 9 of selfs by Handelinge 28 eers.

A. Die tydsberekening
As ’n mens na die Bybel kyk, wanneer presies het die universele kerk begin? Ons moet verskeie teksgedeeltes in die Skrif ondersoek om ’n antwoord op hierdie vraag te kry. Die eerste gedeelte is Matthéüs 16:18, toe Jesus gesê het: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou.

Hierdie Kerk is die universele kerk. Toe Jesus hierdie stelling gemaak het, het die bou van die Kerk nog voorgelê. Jesus het nie gesê “Ek is besig om my kerk te bou” of “Ek gaan voort om my Kerk te bou” of “Ek het my Kerk gebou” nie. Nee, Hy sê: Ek [sal] my gemeente bou. Die ontstaan van die universele kerk moes dus op ’n tydstip ná Matthéüs 16:18 begin het, want Jesus gebruik die toekomstige tyd. ’n Mens kan nie hierdie tydvorm vertolk deur te sê dit dui op iets wat reeds bestaan nie.

Een van die belangrikste redes hoekom die Kerk eers ná Matthéüs 16:18 kon ontstaan, is omdat daar twee gebeure nodig was vir die stigting en vestiging van die Kerk: eerstens, die Opstanding van die Messias; en tweedens, Jesus se Hemelvaart. Die Kerk kon nie gevestig word voordat hierdie twee gebeure plaasgevind het nie.

Efésiërs 1:19-20 leer vir ons dat Jesus se Opstanding ’n voorvereiste was vir die vestiging van die Kerk: … en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele.
Paulus het die konsep van die universele kerk in vers 2-3 bespreek. Later, in vers 19-20, noem hy ’n voorvereiste vir daardie universele kerk: Jesus se Opstanding uit die dood. Die Kerk kon nie gevestig word voordat daardie gebeurtenis plaasgevind het nie.

Nie net die Opstanding moes afgehandel word voor die Kerk tot stand kon kom nie; die Hemelvaart moes ook eers plaasvind, aangesien die geestelike gawes volgens Efésiërs 4:7-12 eers daarna gegee sou word: Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus.

Paulus wys in hierdie verse daarop dat die geestelike gawes eers gegee is nadat Jesus na die Hemel toe opgevaar het. Die doel van die geestelike gawes wat Paulus in Efésiërs 4:12-16 uiteensit, is om die Liggaam van die Messias, die Kerk, op te bou. Sonder hierdie geestelike gawes kan daar geen universele kerk wees nie, en die geestelike gawes kon eers ná Jesus se Hemelvaart gegee word. Die rede waarom Jesus in Matthéüs 16:18 in die toekomstige tyd oor die Kerk praat, is omdat die Opstanding én die Hemelvaart die stigting van die Kerk moes voorafgaan. Die Kerk het nie in die Ou Testament of in die tydperk van die Evangelies ontstaan nie; die Kerk is tydens die Pinkster in Handelinge 2 gebore.

B. Die bybelse bewyse
Watter bybelse bewyse is daar dat die Kerk tydens die Pinkster in Handelinge 2 ontstaan het? Die bewyse kom uit vier skrifgedeeltes uit. Die eerste teksgedeelte wat oor die ontstaan van die universele kerk handel, is Kolossense 1:18: En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Hierdie vers wil sê dat die Kerk die Liggaam van die Messias is.

Die tweede gedeelte wat oor die ontstaan van die universele kerk gaan, is 1 Korinthiërs 12:13: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Hierdie vers sê vir ons dat ons deur doping met die Gees toegang kry tot sy Liggaam, die Kerk. Die Heilige Gees se bediening van doping met die Gees maak ’n mens met ander woorde deel van die Liggaam van die Messias. Dit is waarom hierdie vers baie duidelik sê dat elke gelowige deur die Heilige Gees tot een Liggaam gedoop is, nie net party nie. As daar nie iets was soos doping met die Gees nie, was daar nie ’n universele kerk nie. As ’n mens kan vasstel wanneer doping met die Gees begin het, sal ’n mens weet wanneer die Kerk ontstaan het, aangesien doping met die Gees ’n absoluut noodsaaklike element van die Kerk, die Liggaam van die Messias, se bestaan is.

Die derde gedeelte wat oor die ontstaan van die universele kerk handel, is Handelinge 1:5: Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

Volgens hierdie vers moes doping met die Gees nog aanbreek in Handelinge 1 se tyd. Doping met die Gees het nog nie in daardie stadium begin nie. Jesus het weer die toekomstige tydvorm gebruik toe Hy gesê het: “Julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.” Die apostels het dit nog nie ervaar nie, want hoewel Jesus al uit die dood opgewek was, het Hy nog nie opgevaar nie. Die vraag is dus: Presies wanneer het doping met die Gees begin? Die logiese antwoord is dat doping met die Gees in Handelinge 2 begin het. Die probleem is egter dat Handelinge 2:1-4 geen melding maak van doping met die Gees nie. Die feit dat die hulle met die Heilige Gees vervul is, word wel genoem, maar die teks sê nie dat Hy hulle gedoop het nie. Kan dit bewys word dat doping met die Gees – en dus die Kerk daarmee saam – in Handelinge 2 begin het?

Die presiese ontstaan van die universele kerk word deur die vierde teksgedeelte, Handelinge 11:15-16, bewys. Die aanloop van hierdie teksgedeelte begin in Handelinge 10 waar Petrus by ene Cornelius, ’n nie-Jood, tuisgegaan het. Petrus het die evangelie aan hierdie nie-Jode verkondig, en hulle is danksy dit gered en met die Heilige Gees vervul. Petrus het in Handelinge 11 sy optrede – om na ’n nie-Jood se huis te gaan – voor die raad van die gemeente in Jerusalem verdedig. In vers 15-16 staan: En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.

Petrus noem in vers 15 dat die Heilige Gees op hulle [hierdie nie-Jode] geval het, soos op ons [die Jode] in die begin ook. Wanneer was hierdie begin waarna hy verwys? Die begin was tydens die gebeure in Handelinge 2, want Petrus sê in Handelinge 11:16 dat dít wat gebeur het Jesus se woorde (Hand 1:5) in vervulling laat gaan het. Doping met die Gees het dus by Pinkster begin. Aangesien doping met die Gees noodsaaklik is vir die Kerk se bestaan, is dit ook waar die Kerk ontstaan het.

Ter opsomming word die vier bewyse van die universele kerk se ontstaan in die volgende vier teksgedeeltes gevind: eerstens is die Kerk die Liggaam van die Messias (Kol 1:18); tweedens geskied toegang tot hierdie Liggaam deur die doping met die Gees (1 Kor 12:13); derdens was doping met die Gees volgens Handelinge 1:5 iets wat eers daarna sou gebeur; en vierdens het die Kerk tydens Pinkster in Handelinge 2 begin, en dit sal tot en met die Wegraping voortgaan (Hand 11:15-16).

III. DIE SAMESTELLING VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die vierde afdeling van hierdie studie is gemoeid met die samestelling van die universele kerk. Eenvoudig gestel, bestaan dit uit gelowige Jode en gelowige nie-Jode. Ons leer hierdie waarheid uit twee teksgedeeltes: Efésiërs 2:11-16 en Kolossense 1:24-27.

A. Efésiërs 2:11-16
DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Die punt van hierdie teksgedeelte is dat die universele kerk uit Jode én nie-Jode bestaan wat in Jesus geglo het; hierin lê die uniekheid van die universele kerk. Volgens Paulus is dít die “verborgenheid” wat nou in die boeke Efésiërs en Kolossense bekend gemaak word. Party mense reken dat die Kerk as sulks een van hierdie verborgenhede is.

Wanneer die Nuwe Testament die woord “verborgenheid” gebruik, verwys dit na ’n leerstelling wat glad nie in die Ou Testament openbaar gemaak is nie, maar eers in die Nuwe Testament; die Ou Testament het dit glad nie voorsien nie. Party mense verkondig dat daar nie eens ’n sweem van die Kerk se bestaan in die Ou Testament was nie. Dit is egter nie heeltemal waar nie. Paulus het in Romeine 9, 10 en 11 sekere Ou-Testamentiese teksverwysings aangehaal wat na die Kerk heengewys het.

Die verborgenheid was nie die Kerk self nie; die verborgenheid was dat die Kerk uit Jode en nie-Jode sou bestaan wat in een Liggaam verenig word. Dít is die verborgenheid wat hier onthul word. Paulus het twee keer hiervan melding gemaak. Die eerste keer is in Efésiërs 3:1-6: OM hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is – as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle, dat Hy aan my deur ’n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Paulus gebruik die woord “verborgenheid” twee keer en omskryf dan die verborgenheid wat in die huidige Bedeling van Genade geopenbaar word as die feit dat die Kerk uit Joodse en nie-Joodse gelowiges in een Liggaam bestaan, nie as die Kerk self nie.

B. Kolossense 1:24-27
NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

In die tweede gedeelte wat oor die samestelling van die universele kerk handel, gebruik Paulus weer eens die term verborgenheid twee keer. Hy het nie in sy definisie van die woord verborgenheid na die Kerk as sulks of selfs na die Bedeling van Genade verwys nie, maar hy het die woord verborgenheid gebruik om te verwys na die feit dat die Jode en nie-Jode in een Liggaam verenig is. Die verborgenheid het ook Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid ingesluit. Ook dít is nie in die Ou Testament onthul nie. Die Ou Testament het nie onthul dat Jode en nie-Jode saam in een Liggaam sou wees, of dat die Messias in hierdie Jode en nie-Jode sou woon nie.

Samevattend kan ons sê dat, wat die samestelling van die Liggaam betref, dit uit gelowige Jode en nie-Jode bestaan. Hierdie eenheid onder Jode en nie-Jode is die verborgenheid wat in die Bedeling van Genade onthul word.

IV. DIE FONDAMENT VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die vyfde afdeling van hierdie studie antwoord die vraag: Wat is die fondament van die universele, onsigbare kerk?

A. Die Rots: Matthéüs 16:18
Die Rooms-Katolieke leer het tradisioneel op grond van Matthéüs 16:18 verkondig dat die apostel Petrus die fondament van die Kerk is. Hulle voer aan dat die woord “rots” na Petrus verwys, sonder om in ag te neem dat daar twee verskillende naamwoorde, ’n manlike en ’n vroulike een, vir daardie woord gebruik word. Die woord wat Jesus gebruik het toe Hy gesê het: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, was die Griekse woord petra, wat “krans” beteken. Dit is ’n vroulike selfstandige naamwoord wat na ’n krans, ’n groot rotslys of ’n groot rots verwys. Die Griekse woord vir Petrus is petros, ’n manlike selfstandige naamwoord wat “ ’n klein klippie” of “ ’n spoelklippie” beteken.

Dit is boonop in stryd met die reëls van Griekse grammatika om te sê dat Petrus die rots is. Een van die reëls van Griekse grammatika is dat ’n vroulike woord nie ’n manlike woord kan beskryf nie; net so kan ’n manlike woord nie ’n vroulike woord omskryf nie. Die woord petra, ’n vroulike woord, kan dus nie na petros, ’n manlike woord, verwys nie. Die Katolieke leer dat die woord “rots” na Petrus verwys, is in stryd met die reëls van Griekse grammatika.

Die woord petra word altesaam sestien keer in die Nuwe Testament gebruik, en wel op twee maniere: letterlik en simbolies. Dit word elf keer letterlik gebruik om na ’n groot rotslys te verwys, en dit word vyf keer simbolies gebruik vir Jesus die Messias: een keer in Matthéüs 16:18; een keer in Romeine 9:33; twee keer in 1 Korinthiërs 10:4, en een keer in 1 Petrus 2:8. Dit word nooit gebruik om na ’n man soos Petrus te verwys nie.

Hoewel die Bybel ryk is aan simbole, is dit altyd konsekwent wat die gebruik van simbole betref. In 95% van die gevalle sal een spesifieke simbool dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament dieselfde ding beteken. Wanneer die woord “rots” of “steen” simbolies gebruik word, is dit altyd ’n simbool van die Messias, die tweede Persoon van die Drie-eenheid, Jesus van Násaret, maar dit word nooit gebruik vir ’n man soos Petrus nie.

B. Die twee soorte fondamente: Matthéüs 7:24-27
Jesus het in Matthéüs 7:24-27 oor twee soorte fondamente gepraat: die fondament van sand en die fondament van rots.
Die fondament van rots was simbolies van Jesus en sy lering. Paulus het dit in 1 Korinthiërs 3:11 baie duidelik gestel dat die Messias hierdie Fondament is: Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

C. Die Hoeksteen: Efésiërs 2:20-22
Die Messias is nie net die Fondament nie, Hy is ook die Hoeksteen van daardie fondament, soos wat ons lees in Efésiërs 2:20-22: gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees.

Die Messias is die hoeksteen én die fondament. Die apostels en profete is die ander stene van die fondament. Petrus het geensins ’n groter rol as die ander apostels gespeel nie. Die fondament van die Kerk is dus Jesus die Messias Self. Hy is die hoeksteen, en die twee lyne van die fondament is die apostels en profete.

V. DIE BESTAANSREDES VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die sesde afdeling handel oor die bestaansredes vir die universele kerk. Daar is altesaam vyf spesifieke bestaansredes wat vir die universele kerk gegee word.

A. ’n Volk vir sy Naam: Handelinge 15:13-18
En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

Die eerste bestaansrede wat vir die universele kerk gegee word, is om ’n volk … vir sy Naam (v 14) uit die nie-Jode te versamel. Die feit dat die Kerk Jode gaan betrek, is vanselfsprekend. Handelinge 15 doen trouens verslag oor die eerste Kerkvergadering in Jerusalem. Die Kerk was in daardie stadium feitlik heeltemal Joods. Die vraag wat ontstaan het weens Paulus se uitreike onder nie-Jode en die feit dat nie-Jode in Jesus begin glo het, was: Kan nie-Jode werklik gered word sonder om eers Judaïsme aan te hang en die Wet van Moses te onderhou? Die Joodse gelowiges het nooit daaraan getwyfel dat daar Jode in die Liggaam van die Messias sal wees nie. Baie van hulle het egter gereken dat daar nét Jode in die Kerk sal wees. Hulle het gedink dat die enigste nie-Jode wat deel van die Liggaam van die Messias gemaak kan word, dié is wat hulle eers tot Judaïsme bekeer. Die punt wat hier gemaak word, is dat die Kerk ’n meer universele doel het: daar sou naamlik nie-Jode geroep word om ’n volk vir sy Naam te word.

Volgens Romeine 11:25-26 sal die Kerk eers volmaak wees wanneer hierdie doel bereik is: Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend.

Vers 25 maak melding van die volheid van die heidene. Israel is ten dele verhard, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Die term “volheid” verwys na “ ’n getal”. God het met ander woorde ’n bepaalde getal nie-Jode wat Hy deel wil maak van die Liggaam van die Messias. Sodra hierdie bepaalde getal nie-Jode bereik is, sal die Kerk volmaak wees.

In vers 26 sê hy dat die gedeeltelike verharding van Israel op hierdie tydstip verwyder sal word. Die hele Israel sal eers gered word nadat die volle getal nie-Jode ingegaan het.

Een bestaansrede vir die universele kerk is om ’n volk vir sy Naam onder die nie-Jode saam te roep; sodra hierdie doel bereik is, sal die Kerk volmaak wees.

B. Om die Jode jaloers te maak: Romeine 11:11-14
Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening – as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

Paulus wys in hierdie teksgedeelte daarop dat sy unieke roeping is om ’n apostel van die heidene te wees; Paulus het met evangelisasie onder nie-Jode begin. Die Kerk is onder meer uit nie-Jode saamgestel, en een van die universele kerk se doelstellings is om ’n volk vir God se Naam onder nie-Jode te versamel.

Die eerste bestaansrede lei tot die tweede een: die rede waarom God ’n volk vir sy Naam onder die nie-Jode wou versamel, was om die Jode jaloers te maak. Die Griekse woord wat Paulus gebruik wat as jaloers kan maak vertaal word, is parazeilao. Dit is ’n kombinasie van twee Griekse woorde: eerstens para, wat beteken “om langsaan te kom”, en tweedens zeilos, wat beteken “om te brand”, “om siedend kwaad te wees”, “om vuur te maak” en “om rooiwarm te maak”. Parazeilao beteken dus dat ’n persoon homself langs iemand anders plaas om hom siedend kwaad te maak, te laat uitbars en van jaloesie te laat brand, sodat hy dít wat die persoon langs hom het, sal begeer. Die nie-Joodse gelowige moet homself dus naas die Joodse persoon plaas en die soort lewe leef wat die Joodse persoon van jaloesie sal laat brand en hom laat sê: “Wat doen hierdie nie-Jood met my Messias?” Dit moet die Joodse persoon begerig maak om ook in Jesus te glo. Dit is jammer dat die Kerk vir die grootste deel van die geskiedenis die Jode eerder kwaad as jaloers gemaak het. Dit is die tweede bestaansrede van die universele kerk in hierdie Bedeling van Genade: om die Jode jaloers te maak sodat hulle deur geloof gered kan word.

Baie nie-Jode het dit trouens reggekry. ’n Onlangse opname onder die duisende Joodse gelowiges het gewys dat nie-Joodse gelowiges die meeste van hulle, hierdie skrywer inkluis, na die Messias gelei het. Israel se verharding is net ten dele. Daar is ’n Oorblyfsel in hierdie bedeling, danksy die uitverkiesing deur genade.

Onthou, die samestelling van die universele kerk sluit Jode én nie-Jode wat gelowig is in. Een van die maniere waarop Jode gelowig word en deel word van die Messias se Liggaam, is deur die aansporing van nie-Joodse gelowiges.

C. Om die menigvuldige wysheid van God bekend te maak: Efésiërs 3:10
sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word.

Die derde bestaansrede van die universele kerk is om die menigvuldige wysheid van God bekend te maak, in besonder aan hemelse wesens. Om meer spesifiek te wees, praat Paulus hier van gevalle hemelse wesens, want hy gebruik dieselfde term as wat hy in Efésiërs 6:12 gebruik het, waar hy duidelik na demone verwys het. Danksy dít wat God in sy Kerk doen, leer selfs die gevalle engele dus die menigvuldige wysheid van God ken.

D. Om ’n woning van God te wees: Efésiërs 2:20-22
… gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees.

Die vierde doel van die universele kerk as ’n lewendige organisme is om as kerk self ’n woonplek, ’n woning van God te wees; dit is nie net die individuele gelowige wat ’n woning van God is nie.

E. Om ewig aan God eer te bring: Efésiërs 3:20-21
En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Paulus het gesê dat die vyfde bestaansrede vir die universele kerk is om tot in ewigheid eer aan God te bring. Teen die tyd wat God sy plan vir die Kerk afhandel, sal dit presies wees wat gebeur.

VI. DIE SIMBOLIESE ILLUSTRASIES VAN DIE UNIVERSELE KERK
Die sewende afdeling handel oor die simboliese illustrasies wat in die Nuwe Testament gebruik word om die universele kerk en dié se verhouding met Jesus die Messias uit te beeld. Daar is tien sulke simboliese illustrasies, elk met spesifieke punte en spesifieke toepassings.

A. Die Herder en die kudde
Die belangrikste teksgedeelte vir die eerste illustrasie is Johannes 10:1-39, wat die gesprek oor die Goeie Herder bevat.

1. Tien spesifieke punte
Hierdie gedeelte bevat altesaam tien spesifieke punte. In die eerste plek beklemtoon Johannes in vers 1-2 dat dit die Messias is wat by die deur ingaan: VOORWAAR, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape.

Hierdie verse wys daarop dat Jesus deur die ware deur ingekom het. Enigiemand wat van ’n ander kant af inklim, wys daardeur dat Hy nie ’n herder is nie, maar ’n rower.

Die tweede punt is dat die ware herder altyd deur die ware skape gevolg sal word, soos ons lees in vers 3-5: Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.

Later, in vers 14, sê Jesus: Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.
Die ware herder word gevolg deur dié wat waarlik sy skape is; hulle sal nie na ’n vreemdeling se stem luister nie.

Die derde punt staan in vers 7: Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.

Jesus het nie net by die deur ingekom nie; Hy ís die deur van die skape.

Die vierde punt is dat Hy sy skape liefhet, en die vyfde punt is dat Hy vir sy skape sorg. Dit vorm alles deel van die beeldspraak oor die Goeie Herder in vers 14. Jesus, in sy rol as die Goeie Herder, is lief vir sy skape, en Hy wys sy liefde deur vir hulle te sorg.

Die sesde punt verskyn in vers 8: Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.

Hier sien ons weer dat ander herders van nature vals is, en dat die ware skape, wat die ware Kerk verteenwoordig, nie ’n vals herder sal volg nie.

Die sewende punt word in vers 9-10 gemaak: Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Daar is gemeensaamheid tussen die herder en die skape; hulle het ’n verhouding met mekaar. Danksy hierdie gemeensaamheid sal hulle nie deur indringers geflous word nie.

Die agtste punt van die illustrasie van die verhouding tussen die herder en die skape, is dat die Joodse skape volgens vers 16 saam met die nie-Joodse skape in dieselfde kudde ingebring sal word: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Ons het vroeër daarop gewys dat een van die verborgenhede van die Nuwe Testament wat nie in die Ou Testament vervat is nie, die feit is dat die samestelling van die Kerk sal bestaan uit Joodse én nie-Joodse gelowiges wat saam in een Liggaam verenig is. Hierdie spesifieke teksgedeelte bevat die eerste aanduiding van daardie verborgenheid se openbaarmaking. Die skape waaroor Hy tot in hierdie stadium gepraat het, was Joodse skape. In vers 16 noem Hy egter dat hy ander skape [het] wat nie aan hierdie stal behoort nie. Die skape van hierdie stal was die Joodse gelowiges; die ander skape was die nie-Joodse gelowiges. Hierdie groepe was apart van mekaar toe Jesus die woorde in Johannes 10 gespreek het. Daar sou eers ná sy dood, Opstanding en Hemelvaart eenheid in een kudde onder die Jode en die nie-Jode kom. Die punt wat Jesus hier maak, is dat Jode sowel as nie-Jode in een kudde, die Kerk, saamgevoeg sou word; Hulle sou een kudde onder een herder wees. Daar is dus in Johannes 10 al aanduidings dat daar ’n nuwe entiteit sou ontstaan wat uit Joodse en nie-Joodse gelowiges bestaan.

Die negende punt van die illustrasie is dat Jesus in sy hoedanigheid as die skape se Herder volgens vers 11 en 15 sy lewe vir die ware skape sal aflê.

In vers 11 staan daar: Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

Vers 15 sê: Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.

’n Ware herder sal bereid wees om sy lewe vir sy ware skape af te lê.

Die tiende punt van die illustrasie oor die verhouding tussen die herder en die skape waarop ’n mens moet let, is dat daar sekere tydgleuwe in hierdie verhouding onderskei word: verlede, hede en toekoms. Wat die verlede betref, het Jesus, die Goeie Herder, sy lewe afgelê vir die skape (Joh 10:11). Wat die hede betref, is Hy tans die Goeie Herder van die skape wat besig is om sy skape te volmaak (Heb 13:20-21). En wat die toekoms betref, gaan die Herder sy skape beloon (1 Pet 5:4).

2. Vyf spesifieke toepassings
Die eerste simboliese illustrasie van die herder en die skape het vyf spesifieke toepassings. Die eerste toepassing is die een wat handel oor die Messias se tussentrede: Hy tree namens sy skape tussenbeide.

Die tweede toepassing handel oor voorsiening: Dit is nie die skape se taak om hul eie weiplek te vind nie; dit is die herder se verantwoordelikheid om hulle na weiding en water te lei. Die feit dat ons skape is en dat Hy ons Herder is, beteken dat Hy in ons basiese behoeftes sal voorsien. Hy beloof nie om aan ons wense te voldoen nie; dít hang af van sy wil en kan verskil van gelowige tot gelowige. Maar ons basiese lewensmiddele sal wel voorsien word.

Die derde toepassing het te doen met beskerming: die herder het ook ’n verantwoordelikheid om sy skape teen aanvalle van buite – deur leeus, bere of wolwe – te beskerm.

Die vierde toepassing handel oor roeping. Die herder roep sy skape op verskillende tydstippe in die dag op ’n spesiale manier wat net sy skape herken en verstaan. Sy skape gaan dan na hul herder toe sodat hy hulle na water, weiding of die kraal kan lei. Hierdie toepassing behels dat Jesus gelowiges roep om verskeie funksies in die kudde te vervul deur hul verskillende gawes vir die opbou van die Liggaam te gebruik. Die skape se plig is om daardie roepstem te gehoorsaam.

Die vyfde toepassing het te doen met sekerheid. Volgens Johannes 10:27-29 bied hierdie Herder sekerheid: My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

Die belofte oor sekerheid behels dat ons nooit ons status as sy skape kan verloor as ons dit eers was nie. Die ewige sekerheid dat ons verlos is, vorm deel van hierdie verhouding.

B. Die wingerdstok en die lote
Ons tref die tweede simboliese illustrasie van die verhouding tussen die Messias en die universele kerk in Johannes 15:1-16 aan.

1. Sewe spesifieke punte
Ons kan sewe punte uit hierdie illustrasie haal. In die eerste plek leer hierdie illustrasie ons die konsep van één wees met die Messias; net soos die loot in die wingerdstok geënt word, is gelowiges één met Hom.

Tweedens, net soos wat die loot aan die wingerdstok deel het, het ons deel aan die Messias. Die wingerdstok gee die loot lewe, krag en die vermoë om vrugte te dra. Jesus is die Wingerdstok, ons is die lote; die Wingerdstok gee vir ons lewe, die vermoë om te funksioneer en krag om te dien.

Die derde punt is dat die gelowiges voortdurend in gemeenskap met God moet lewe. Net soos wat die lote altyd in die wingerdstok bly, moet gelowiges altyd in voortdurende gemeenskap met hul Wingerdstok, Jesus die Messias, lewe.

Vierdens beteken dit dat daar gesnoei en skoongemaak sal word. Die rede waarom ’n mens takke snoei en skoonmaak, is sodat dit selfs meer vrugte kan dra. Gelowiges gaan ook so gesnoei en skoongemaak word om meer vrug te dra, hetsy deur seëning of deur tug.

Die vyfde punt handel oor gebed met ’n kragtige uitwerking. ’n Sterk, lewende verbinding met die Wingerdstok is ’n voorvereiste vir doeltreffende gebed. As gelowiges in die Wingerdstok bly, sal hul gebede ’n kragtige uitwerking hê.

Die sesde punt is dié van hemelse vreugde. Gelowiges gaan met blydskap vrug dra, danksy hul verbinding met die Wingerdstok.

Die sewende punt is dat daar drie verskillende vlakke van vrugbaarheid gaan wees. Die eerste vlak is basiese vrugte, waarvan ons in Johannes 15:2a lees: Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon.

Die tweede vlak van vrugbaarheid is die element van méér vrug in vers 2b: sodat dit meer vrug kan dra.

Die derde vlak van vrugbaarheid is dié van veel vrug in vers 5: Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

Indien ’n mens basies vrug dra, gaan die Here jou skoonmaak sodat jy meer vrug kan dra; gelowiges wat meer vrug dra en voortdurend in die Here bly, gaan veel vrug dra. Hoe meer gelowiges dus in genade toeneem, hoe meer sal hulle leer om ’n Geesvervulde lewe te lei, en hoe meer vrug sal hulle dra.

2. Vier spesifieke toepassings
Hierdie spesifieke simboliese illustrasie leen homself tot vier toepassings. In die eerste plek het gelowiges deel aan die Messias se heerlikheid; net soos die wingerdstok se sap deur die loot vloei, het gelowiges deel aan sy heerlikheid. Die tweede toepassing is dié van vrugbaarheid; vrugbaarheid hang daarvan af of ’n mens in hierdie Wingerdstok bly. Die derde toepassing handel oor geestelike krag; die vermoë om vrug te dra vloei uit die feit dat die loot in die Wingerdstok bly. Die vierde toepassing is dat Jesus die Kerk se bron van lewe en bron van heiligmaking is.

C. Die Hoeksteen en die stene van die gebou
Die teksgedeelte wat die derde simboliese illustrasie van die verhouding tussen die Messias en die universele kerk die beste beskryf, is Efésiërs 2:19-22.

1. Vier spesifieke punte
Hierdie spesifieke illustrasie leen homself tot vier hoofpunte. In die eerste plek is die Kerk steeds besig om gebou te word. Jesus het in Matthéüs 16:18 gesê: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou. Toe Hy daardie stelling gemaak het, moes die Kerk nog tot stand kom; sedertdien is die Kerk egter gestig en dit word nou gebou, want die hoeksteen is gelê. Jesus is die Hoeksteen; die apostels en die profete was die fondamentstene, en die gelowiges is die stene van die gebou wat op daardie fondament gebou word.

Die tweede punt is dat individuele gelowiges lewende stene is wat op mekaar gebou word namate die gebou opgerig word (1 Pet 2:5).

Die derde punt van hierdie illustrasie is dat Jesus die Fondament én die Hoeksteen is (1 Kor 3:11; Ef 2:20-22; 1 Pet 2:6).

Die vierde punt is dat die gebou, wat uit gelowiges bestaan, die woonplek van die Gees is. Dit is die punt wat in Efésiërs 2:19-20 gemaak word: So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.

Die beeld in hierdie verse is ’n gebou wat opgerig word; daardie gebou is die Kerk. Die eerste ding wat ’n bouer doen, is om ’n hoeksteen te lê: Jesus die Messias is hierdie Hoeksteen. Van die hoeksteen af, loop daar twee rye fondamentstene, een na een kant toe, en een na die ander kant toe. Só word ’n vierkantige basis gevorm. Een ry van die twee rye fondamentstene verteenwoordig die apostels; die ander ry verteenwoordig die Nuwe-Testamentiese profete. Sodra die hoeksteen gelê en die fondamentstene ingemessel is, kan die ander stene daarop gebou word. Gelowiges is die individuele stene wat tans bo-op die fondament gebou word. Sodra hierdie gebou voltooi is, sal die Wegraping plaasvind.

2. Vier spesifieke toepassings
Hierdie spesifieke simboliese illustrasie het vier toepassings. Die eerste toepassing is gelowiges se interafhanklikheid. Net soos wat ’n gebou verskillende groottes stene het wat só geplaas is dat verskeie stene sal val as een steen uitgetrek word, is gelowiges ook onderling van mekaar afhanklik. Trouens, die hele lering oor die werking van geestelike gawes in die Liggaam beklemtoon gelowiges se interafhanklikheid.

Die tweede toepassing het te doen met stabiliteit. Die doel van ’n gebou se fondament is om dit stabiel te maak. Gelowiges se geestelike lewe sal net stabiel wees as hulle op die regte fondament bou.

Die derde toepassing het te doen met leiding. Die rede waarom ’n mens ’n hoeksteen lê, is sodat jy die ander fondamentstene in ’n reguit lyn kan plaas. Die hoeksteen gee rigting aan die ander stene. In hierdie illustrasie lei die Here die lewe van die gelowiges.

Die vierde toepassing is die feit dat die gelowiges se beloning afhang van die manier waarop hulle op die fondament, Jesus die Messias, gebou het (1 Kor 3:10-15).

D. Die Hoëpriester en die koninklike priesterdom

Die vierde simboliese illustrasie van die verhouding tussen die Messias en die universele kerk tree in Hebreërs 3:1; 4:14-5:10; 7:1-10:18; Openb 1:6; 5:10 en 20:6 na vore.

1. wee spesifieke punte
Hierdie illustrasie bestaan uit twee hoofpunte. In die eerste plek het Jesus Hemel toe gegaan nadat Hy sy bloed gestort en die finale offer vir sonde geword het. Jesus is die Offer, maar aangesien Hy Self die Offer gebring het, is Hy in daardie opsig ook die Priester, soos ons lees in Hebreërs 4:14-16: TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Hebreërs 9:24 bevestig hierdie punt: Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.

Hierdie punt kom weer in Hebreërs 10:19-22 aan die orde: TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

Die eerste hoofpunt oor die illustrasie van die hoëpriester en die koninklike priesterdom wat in hierdie teksgedeeltes voorkom, is dat Jesus in sy hoedanigheid as die Hoëpriester die finale offer gebring het en toe Hemel toe gegaan het.

Dit bring ons by die tweede punt, naamlik dat Jesus nou namens sy koninklike priesterdom intree. Romeine 8:34 stel dit duidelik: Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

Hierdie punt word ook in Hebreërs 7:25 gemaak: Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

2. Twee spesifieke toepassings
Hierdie illustrasie bied ruimte vir twee toepassings. In die eerste plek beoefen Jesus tans sy priesterlike bediening. Met sy eerste koms was Hy ’n Profeet; ná sy wederkoms sal Hy ’n Koning wees. Tussen sy eerste koms en sy wederkoms tree Hy op as Priester. Sy hoofrol as priester is dié van intersessor om vir ons in die bres te tree. Een van die redes waarom gelowiges se saligheid tot in ewigheid vasstaan, is omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Dit is hoekom Jesus ons volkome kan red. Omdat Hy weer leef, kan Hy nooit weer sterf nie.

Die tweede toepassing is dat die gelowiges teen hierdie agtergrond ook offers moet bring. Hulle is ’n koninklike priesterdom. Die rol van ’n priester is om offers te bring; gelowiges moet dus offers bring. Hulle moet egter nie brandoffers bring waarby bloed betrokke is nie, maar vier ander soorte offers. Die eerste tipe offer wat gelowiges moet bring, is om hul liggame as ’n lewende offer aan God te stel, met ander woorde om Hom die Here van hul lewe te maak (Rom 12:1-2). Die tweede tipe offer wat gelowiges moet bring, is geestelike offers soos aanbidding, lofprysing en danksegging (Heb 13:15; 1 Pet 2:5, 9). Die derde tipe offer is geldelike steun vir die Here se werk (Heb 13:16). Die vierde tipe offer is goeie werke (Heb 13:16).

E. Die Hoof en die Liggaam
Daar is een hoofteksgedeelte vir die vyfde simboliese illustrasie van die verhouding tussen Jesus en die universele kerk, naamlik 1 Korinthiërs 12:12-27.

1. Sewe spesifieke punte
Daar word sewe punte in hierdie teksgedeelte uitgelig. Die eerste is dat die Kerk ’n Liggaam is wat homself opbou en wat uit individue met geestelike gawes bestaan. Die doel van hierdie geestelike gawes is om die Liggaam op te bou, dit te koester en te versterk (Ef 4:13-16).

Die tweede punt is dat die lede van die Liggaam almal ’n spesifieke plig ontvang het en aan ’n spesifieke deel van die Liggaam behoort wat by hul geestelike gawes pas.

Die derde punt van hierdie illustrasie is dat die Liggaam ’n lewende organisme is wat vir ewig met die Messias verenig is.

Die vierde punt is dat deelwording van die Liggaam deur doping met die Gees geskied, want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge (1 Kor 12:13).

Die vyfde punt is dat die Vader die Messias as Hoof van die Liggaam aangestel het.

Die sesde punt is dat die Hoof voorrang geniet, daarom is Hy verhewe bo die Liggaam, sy Kerk.

En die sewende punt van hierdie illustrasie is dat daar eenheid tussen die Hoof en die Liggaam is.

Ander teksgedeeltes wat hierdie beeld van die Hoof en die Liggaam ondersteun, is Efésiërs 2:16; 4:4, 5, 16; 5:30-32; Kolossense 1:24 en 2:19.

2. Vyf spesifieke toepassings
Hierdie illustrasie laat ruimte vir vyf toepassings. Die eerste toepassing is voeding: Net soos wat die liggaam voeding deur die beheersentrum, die hoof, ontvang, só voed Jesus die gelowiges.

’n Tweede toepassing is koestering: Net soos wat die beheersentrum, die hoof, die liggaam waaroor dit beheer uitoefen koester, só koester Jesus die gelowiges.

Die derde toepassing is krag: Net soos wat die hoof, die brein, aan die liggaam die vermoë gee om te funksioneer, só ontvang gelowiges by Jesus krag om te funksioneer.

Die vierde toepassing is heiligmaking: die Hoof bepaal hoe en wanneer die Liggaam gereinig gaan word.

En die vyfde toepassing is die benutting van geestelike gawes. Elke gelowige het ten minste een geestelike gawe. Elke gelowige het ’n verantwoordelikheid om sy geestelike gawes vir die opbou van die Liggaam te gebruik.

F. Die laaste Adam en die nuwe skepping
Die hoofteksgedeelte vir die sesde simboliese illustrasie van die verhouding tussen die Messias en die universele kerk kan in 1 Korinthiërs 15:20-22 en 45-49 gevind word.

Vers 20-22 sê: Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

In vers 45-49 staan daar: So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

1. Drie spesifieke punte
Hierdie beeld dra drie punte oor. In die eerste plek behoort gelowiges nou aan ’n nuwe bedeling: hulle is nie meer in Adam nie, maar in Christus.

Die tweede punt van hierdie illustrasie is dat gelowiges deel het aan die wedergeboorte, die nuwe natuur, regverdigmaking, heiligmaking en nuwe beloftes.

Die derde punt wat uit al hierdie dinge spruit, is die ewige lewe, aangesien die herskeppingswerk nie ongedaan gemaak kan word nie.

Ander teksgedeeltes wat hierdie beeld illustreer, is Romeine 5:12-21; 2 Korinthiërs 5:17 en Galásiërs 6:15.

2. Een spesifieke toepassing
Die hooftoepassing van hierdie illustrasie is die hoop op opstandingskrag en -lewe.

G. Die Bruidegom en die bruid
Ons tref die sewende simboliese illustrasie van die verhouding tussen Jesus en die universele kerk in 2 Korinthiërs 11:2 en Efésiërs 5:25-33 aan.

1. Twee spesifieke punte
Twee hoofpunte tree in hierdie illustrasie na vore. In die eerste plek word die Kerk uitgebeeld as ’n maagdelike bruid wat nog nie met haar man in die huwelik bevestig is nie, maar wag vir die bruidegom om te kom, soos ons lees in 2 Korinthiërs 11:2: Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel.

Die tweede punt van hierdie illustrasie is hoofteksgedeelte, Efesiërs 5:25-33, se klem op die werk wat die Bruidegom om die Bruid se onthalwe doen.

Hierdie werk van die Bruidegom om die Bruid se onthalwe ontvou in drie tydperke: verlede, hede en toekoms. Die element uit die verlede is dat Hy, volgens vers 25, vir die Bruid gesterf het: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.

Die werk wat die Bruidegom tans vir die Bruid doen, is om die Bruid te heilig, soos wat ons in vers 26 lees: om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.

En die toekomstige werk van die Bruidegom om die Bruid se onthalwe, is dat Hy die verheerlikte Kerk sonder vlek of rimpel, heilig en sonder gebrek sal voorhou, soos vers 27 sê: sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

Drie spesifieke toepassings
Hierdie illustrasie laat ruimte vir drie toepassings. Die eerste toepassing is die ooglopende een – liefde. Net soos daar ’n liefdesverhouding tussen ’n man en vrou is, is daar ’n liefdesverhouding tussen die Messias en die Kerk.

Die tweede toepassing handel oor intimiteit. Net soos ’n man en vrou ’n sekere intimiteit deel wat hulle nie buite die huweliksverhouding deel nie, só deel gelowiges ’n intimiteit met die Messias wat mense nie ervaar as hulle buite die Liggaam van gelowiges staan nie.

Die derde toepassing is dat die verhouding tussen man en vrou ’n weerspieëling moet wees van die verhouding tussen die Messias en die Kerk. ’n Gelowige man en ’n gelowige vrou moet die soort verhouding hê wat die Messias se verhouding met die Kerk eggo.

H. Die Erfgenaam en die Mede-erfgename
Die agtste simboliese illustrasie van die verhouding tussen Jesus en die universele kerk, word in twee hoofteksgedeeltes uitgelig: Romeine 8:17 en Hebreërs 1b-2a.

1. Twee spesifieke punte
Hierdie illustrasie het twee hoofpunte. Die eerste hiervan vind ons in Romeine 8:17: en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Gelowiges is erfgename van God en mede-erfgename van Christus. Die Messias is die Seun van God; as die Vader se eniggebore Seun, is Hy die Erfgenaam. Aangesien gelowiges aangenome kinders geword het, het hulle sy mede-erfgename geword.

Ons tref die tweede punt in Hebreërs 1:1b-2a aan: … het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het.

Die Seun is die erfgenaam van alles; Hy gaan alles erf. Danksy die gelowiges se verhouding met die Seun, gaan hulle sy mede-erfgename word en aan hierdie dinge deel hê.

2. Drie spesifieke toepassings
Hierdie illustrasie leen homself tot drie toepassings. Die eerste toepassing is dat ontbering in hierdie lewe tot verheerliking sal lei.

Die tweede toepassing is dat gelowiges bestem is om saam met die Messias te regeer; dit is hulle erfdeel, en hulle sal hierdie gesag in die Messiaanse Koninkryk uitoefen.

Die derde toepassing is dat die erfdeel beloning insluit. Trouens, die mate van gesag in die Koninkryk sal afhang van die beloning wat ontvang word.

I. Die eerstelinge van die oes en die oes self
Ons vind die hoofteksgedeelte van die negende simboliese illustrasie van die verhouding tussen Jesus en die universele kerk in 1 Korinthiërs 15:23: maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.

1. Twee spesifieke punte
Die illustrasie van die eerstelinge van die oes, verteenwoordigend van die Messias, en die oes self, wat die gelowiges simboliseer, voer twee punte aan. Die eerste punt is dat Jesus uit die dood opgewek is.

Die tweede punt is dat gelowiges danksy Jesus se opstanding ook uit die dood opgewek sal word.

2. Een spesifieke toepassing
Die toepassing van hierdie illustrasie is die opstandingshoop waaruit ons ons troos put.

J. Die Meester en sy dienaars
Die twee belangrikste teksgedeeltes waar ons lees oor die tiende simboliese illustrasie van die verhouding tussen Jesus en die universele kerk, is 1 Korinthiërs 7:20-24 en Kolossense 4:1.

1. Drie spesifieke punte
Hierdie illustrasie het drie hoofpunte. In die eerste plek beteken vrymaking deur die Messias om ’n slaaf van die Messias te word.

Die tweede punt van hierdie illustrasie is dat die gelowige met ’n prys gekoop is, naamlik die bloed van die Messias.

Die derde punt van hierdie illustrasie is dat mense in gesagsposisies as gevolg hiervan self onder gesag staan. ’n Dienskneg kan in ’n huishouding in ’n gesagsposisie aangestel word, maar synde ’n dienskneg, staan hy self steeds onder gesag.

T2. wee spesifieke toepassings
Hierdie illustrasie leen homself tot twee toepassings. Die eerste toepassing is dié van gehoorsaamheid. Dit is ’n dienskneg se werk om aan sy meester gehoorsaam te wees. Die Messias is die Meester, gelowiges is die diensknegte, en hulle moet Hom gehoorsaam.

Die tweede toepassing is die oproep om ’n lyfkneg te word. ’n Gewone slaaf was iemand wat in slawerny beland het sonder dat hy in die saak geken is, maar ’n lyfkneg was iemand wat besluit het om lewenslank ’n spesifieke meester se slaaf te word. Gelowiges is vrygekoop uit die slawemark van sonde. Hul roeping is dus om die Messias se lyfknegte te word.

VII. DIE UNIVERSELE KERK SE TOEKOMSTIGE LOTSBESTEMMING
Die agtste afdeling handel oor die vraag: Wat is die universele kerk se toekomstige lotsbestemming? Wel, daar is een ding waarvoor die Kerk nie bestem is nie, naamlik om die wêreld met die evangelie te oorwin. Dit was eeue lank ’n algemene wanopvatting: dat die Koninkryk gevestig sal word sodra die wêreld met die evangelie bereik is, en dat Jesus eers sal terugkeer sodra die Koninkryk gevestig is.

Hierdie siening het dié Skrifgedeeltes geïgnoreer wat sê dat die Kerk in die laaste dae terugslae sal beleef en toenemend afvallig sal word. Die Kerk was nie bestem om die wêreld met die evangelie te verower nie. Trouens, die Skrif sê nêrens dat die Kerk in hierdie era moet heers nie. Nee, die Bybel leer ons juis die teenoorgestelde: die funksie van die Kerk is om aan die “Keiser”, die regering, onderdanig te wees, nie om oor die Keiser te heers nie. Gelowiges moet aan die Keiser gehoorsaam wees, mits die regering nie van hulle verwag om iets te doen wat duidelik in stryd is met die Skrif se lering nie. Wat die lotsbestemming van die Kerk dus ook al is, sal dit nié regkry om die wêreld met die evangelie te verower nie. Die toekomstige lotsbestemming van die Kerk behels vyf dinge.

A. Weggeraap
Die eerste aspek van die Kerk se toekomstige lotsbestemming is dat die Kerk weggeraap sal word (1 Thess 4:13-18). Een van die bestaansredes van die universele kerk is om uit die nie-Jode ’n volk vir sy Naam te versamel. Hierdie proses sal voortgaan totdat die volheid van die heidene ingegaan het, met ander woorde die presiese getal gelowiges wat God bepaal het daar in die Liggaam moet wees. Sodra die volheid van die heidene ingegaan het, gaan die Kerk weggeraap word. Dié wat weggeraap gaan word, is dié wat in Christus is. Hierdie term wat Paulus gebruik is ’n tegniese term wat slegs verwys na dié wat in die Liggaam van die Messias is. Die Kerk sluit nie Ou-Testamentiese gelowiges, gelowiges uit die Verdrukking of gelowiges uit die Duisendjarige Ryk nie; die Kerk sluit slegs diegene in wat tussen Handelinge 2 en die Wegraping gered is. Die Wegraping sal dus net die Kerk insluit.

B. Beloon
Die tweede aspek wat ter sprake is by die Kerk se toekomstige lotsbestemming, is dat dit beloon sal word, aldus 2 Korinthiërs 5:10: Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Die oordeel waartydens die belonings uitgedeel gaan word, is die Regterstoel van die Messias. Die grondslag van hierdie oordeel sal ons dade wees. Die oordeel is nie om te bepaal of iemand gered is of nie, want dit word klaar bepaal wanneer die persoon glo. Maar dié wat glo, sal geoordeel word op grond van die manier waarop hulle hul geestelike lewe gelei het.

1 Korinthiërs 3:10-15 behandel die aspek van die Kerk se beloning in fyner besonderhede. Vers 10-11 sê: Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

Gelowiges gaan geoordeel word op grond van hoe hulle gebou het op die fondament, dit is Jesus Christus. Hy is die fondament van die geestelike lewe.

Volgens vers 12-13 sal hierdie beloning gegee of teruggehou word afhangende van die manier waarop gelowiges hul geestelike lewe gelei het: En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

Elke gelowige se werk gaan geëvalueer en getoets word om te sien of dit die vuurproef kan deurstaan. Hout, hooi en stoppels sal nie die vuurproef kan deurstaan nie, maar sal heeltemal weggebrand word. Goud, silwer en edelstene sal die vuurproef deurstaan, en enige onsuiwerhede in die goud, silwer en edelstene sal weggebrand word.

Ons lees in vers 14-15 wat die uiteinde hiervan sal wees: En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

Dié wat met wysheid op hierdie fondament bou, sal beloon word; dié wat dit nie doen nie, sal verlies ly. Hulle sal nie hul verlossing verloor nie, maar hulle sal hul beloning verloor.

C. Getroud
Die derde aspek wat betrokke is by die Kerk se toekomstige lotsbestemming, is dat dit met Jesus die Messias in die huwelik bevestig sal word, soos wat ons in Openbaring 19:6-9 sien: En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

Nadat die Kerk by die Messias se Regterstoel gesuiwer is en gereinig is, sal sy trou. As ’n mens die eerste deel van hoofstuk 19 met die tweede deel vergelyk, is dit duidelik dat hierdie bruilof van die Lam en die Kerk vóór die Wederkoms in die Hemel sal plaasvind. Die Wederkoms verskyn in vers 11-16. Dit is een van die bewyse dat die Wegraping en die Wederkoms nie dieselfde gebeurtenis is nie, aangesien die Kerk, die Bruid van die Messias reeds in die Hemel is voor die Wederkoms plaasvind. Sy is deur die Wegraping Hemel toe geneem. Volgens hierdie gedeelte dra die Kerk ook rein en blink fyn linne, wat die regverdige dade van die heiliges simboliseer. Die bruilof vind dus duidelik plaas nadat die Kerk die reiniging van die Messias se Regterstoel ondergaan het en haar beloning ontvang het.

Al hierdie gebeure volg ’n logiese volgorde: die Kerk word weggeraap na die Hemel toe; sodra sy in die Hemel is, verskyn sy voor die Regterstoel van die Messias en word gereinig voor sy met Hom trou.

D. Heers saam met die Messias
Die vierde aspek wat deel is van die Kerk se toekomstige lotsbestemming, is dat dit saam met die Messias in die Koninkryk sal heers, soos wat Openbaring 20:4-6 sê: En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die Kerk se gelowiges én die gelowiges uit die Beproewing sal saam met die Messias regeer, maar hierdie dokument is slegs met die Kerk se gelowiges gemoeid. Nadat die bruilof tussen die Messias en die Kerk in die Hemel plaasgevind het, sal die Messias terugkeer en sy Koninkryk oprig. Die Kerk is bestem om saam met die Messias in hierdie Koninkryk te regeer. Die mate van gesag wat elke individuele Kerkgelowige gaan hê, hang af van die beloning wat hy by die Regterstoel van die Messias ontvang het. Hierdie medeheerskappy duur slegs ’n duisend jaar, so dit is nie die Kerk se finale lotsbestemming nie.

E. Woon in die Nuwe Jerusalem
Die vyfde en finale aspek wat betrokke is by die Kerk se toekomstige lotsbestemming, is dat dit by die Drie-enige God in die ewige Nuwe Jerusalem sal woon. Dit word in detail in Openbaring 21:1-22:5 beskryf.

[end]
Inhoudsopgawe

INLEIDING
     A. Die woord ekklesia
     B. Gebruiksgereeldheid
     C. Gebruikskategorieë
I. DIE DEFINISIE VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. Die implikasies
     B. Ontvang in God se gedagtes
     C. Die gebruik van die enkelvoudige selfstandige naamwoord
     D. Die Kerk is nie Israel nie
II. DIE ONTSTAAN VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. Die tydsberekening
     B. Die bybelse bewyse
III. DIE SAMESTELLING VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. Efésiërs 2:11-16
     B. Kolossense 1:24-27
IV. DIE FONDAMENT VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. Die Rots: Matthéüs 16:18
     B. Die twee soorte fondamente: Matthéüs 7:24-27
     C. Die Hoeksteen: Efésiërs 2:20-22
V. DIE BESTAANSREDES VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. ’n Volk vir Hom: Hand 15:13-18
     B. Om die Jode jaloers te maak: Romeine 11:11-14
     C. Om die menigvuldige wysheid van God bekend te maak: Efésiërs 3:10
     D. Om ’n woning van God te wees: Efésiërs 2:20-22
     E. Om ewig aan God eer te bring: Efésiërs 3:20-21
VI. DIE SIMBOLIESE ILLUSTRASIES VAN DIE UNIVERSELE KERK
     A. Die Herder en die kudde
        1. Tien spesifieke punte
        2. Vyf spesifieke toepassings
     B. Die wingerdstok en die lote
        1. Sewe spesifieke punte
        2. Vier spesifieke toepassings
     C. Die Hoeksteen en die stene van die gebou
        1. Vier spesifieke punte
        2. Vier spesifieke toepassings
     D. Die Hoëpriester en die koninklike priesterdom
        1. Twee spesifieke punte
        2. Twee spesifieke toepassings
     E. Die Hoof en die Liggaam
        1. Sewe spesifieke punte
        2. Vyf spesifieke toepassings
     F. Die laaste Adam en die nuwe skepping
        1. Drie spesifieke punte
        2. Een spesifieke toepassing
     G. Die Bruidegom en die bruid
        1. Twee spesifieke punte
        2. Drie spesifieke toepassings
     H. Die Erfgenaam en die mede-erfgename
        1. Twee spesifieke punte
        2. Drie spesifieke toepassings
     I. Die eerstelinge van die oes en die oes self
        1. Twee spesifieke punte
        2. Een spesifieke toepassing
     J. Die Meester en sy dienaars
        1. Drie spesifieke punte
        2. Twee spesifieke toepassings
VII. DIE UNIVERSELE KERK SE TOEKOMSTIGE LOTSBESTEMMING
     A. Weggeraap
     B. Beloon
     C. Getroud
     D. Heers saam met die Messias
     E. Woon in die Nuwe Jerusalem

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die universele kerk se omskrywing sê dit bestaan uit al die gelowiges – slegs gelowiges – tussen Handelinge 2 en die Wegraping; die plaaslike gemeente, daarteenoor, het ’n ander definisie. Hoewel daar nie ’n eksplisiete definisie van die plaaslike gemeente in die Nuwe Testament verskyn nie, is daar genoeg beskrywings en besonderhede in die Bybel oor die normale kenmerke van ’n funksionerende plaaslike gemeente sodat ’n mens ’n omskrywing uit al die beskikbare getuienis kan aflei. Hierdie studie van die plaaslike gemeente word in agt dele verdeel: die definisie, die bestaansredes, kerkregering, organisasie en leierskap, kerklike tug, die Sabbat en Sondag, die samekoms van die gemeente en die rol van vroue in die plaaslike gemeente.