Die voorwaarde vir redding

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. – Johannes 1:12

Hierdie studie beantwoord die vraag, “Wat presies moet ’n mens doen om gered te word?” Die onderwerp sal in twee hoof afdelings behandel word. Eerstens sal die voorwaarde vir redding positief bespreek word. Tweedens sal daar dan ingegaan word op die verskillende onwaar byvoegings vir redding deur verskeie groepe regdeur die Christelike geskiedenis.

I. DIE REGTE VOORWAARDE VIR REDDING
“Wat is dit wat ’n mens, volgens die Bybel, moet doen om gered te word?” Ten opsigte van die positiewe voorwaarde vir redding, sal vyf punte behandel word.

A. Geloof
Die eerste punt is dat redding, volgens die Bybel, alleenlik berus op geloof in Jesus Christus die Messias. Redding is deur geloof op grond van genade, en dit is die enigste voorwaarde vir redding. Dit is die uitgangspunt vir die ondersoek van hierdie vraag.

B. Skriftuurlike Bewys
Die tweede punt is dat geloof of vertroue die enigste voorwaarde is wat gegee word in meer as tweehonderd gevalle in die Bybel waar ’n voorwaarde vir redding gestel word. Dit is belangrik om dit te onthou. Daar is meer as tweehonderd gevalle in die Nuwe Testament waar die voorwaarde vir redding uitgeklaar word, en in al hierdie gevalle is geloof of vertroue die een en enigste voorwaarde wat gestel word. As dit die geval is, en as daar “probleem skrifgedeeltes” is, moet die tweehonderd duidelike skrifgedeeltes nie geïnterpreteer word in die lig van die paar mindere probleem skrifgedeeltes nie. ’n Mens moet poog om die paar mindere probleem skrifgedeeltes te interpreteer in die lig van die tweehonderd duidelike skrifgedeeltes. Die probleem skrifgedeeltes sal behandel word onder “Onwaar Byvoegings vir Redding” in die tweede hoof afdeling.

Een duidelike skrifgedeelte is Johannes 1:12: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. Hierdie vers verklaar dat die mense wat God se kinders geword het, die mense is wat Hom aangeneem het. “Wat beteken dit om die Messias aan te neem?” Die tweede deel van die vers verduidelik dat om die Messias aan te neem, beteken om in sy naam [te] glo, om te glo dat Hy waarlik die Joodse Messias is. Deur eenvoudig net te glo, word ’n mens gered. Dit is hoe ’n mens ’n kind van God word, en die enigste voorwaarde wat hier genoem word, is om te glo.

Nog ’n voorbeeld is Handelinge 16:30-31: En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. In vers 30 word die vraag gevra: wat presies moet ek doen om gered te word? Die apostels se antwoord in vers 31 bevat net een voorwaarde en dit is: Glo in die Here Jesus Christus. As hy en sy huisgesin in die Here Jesus glo, dan word hulle gered.

Dit is net twee van meer as tweehonderd voorbeelde waar ’n voorwaarde vir redding gegee word, en die enigste voorwaarde wat gestel word, is dié van geloof en vertroue. Aangesien dit in die meerderheid gevalle die enigste voorwaarde is wat aangedui word, moet ’n mens oppas om te veronderstel dat die Bybel leer daar is bykomende voorwaardes vir redding.

C. Die Messias as Plaasvervanger
Die derde punt met betrekking tot die voorwaarde vir redding deur geloof, is dat hierdie geloof gestel moet word in die Messias as ons plaasvervanger vir die straf op ons sonde, en as ons Verlosser van die straf op die sonde. Redding is nie om net te glo dat die Messias geleef het nie. Daar is van die mees goddelose ateïste wat glo dat ’n man met die naam Jesus van Násaret gelewe het. Om net te glo dat Jesus geleef het, om net te glo dat Hy aan die kruis gesterf het, om net te glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het, sal niemand red nie. Inteendeel, die gelowige se geloof moet gestel word in die Messias as sy plaasvervanger vir, en sy Verlosser van, die straf op die sonde. Met ander woorde, ’n mens moet die Messias vertrou vir jou redding. ’n Mens moet glo dat Hy die reddingswerk namens jou volbring het. Om gered te word, moet ’n mens nie net glo dat Hy gesterf het nie, maar dat Hy gesterf het vir jou persoonlike sondes. As ’n mens glo dat Jesus die Messias vir jou sondes gesterf het, voorveronderstel dit dat jy bely het dat jy ’n sondaar is. As Jesus vir iemand se sondes gesterf het, is die voor die hand liggende betekenis dat die persoon ’n sondaar is. ’n Mens moet dus glo dat Jesus as ’n plaasvervanger vir jou sondes gesterf het, dat Hy begrawe is en weer opgestaan het, en daarom redding vir jou verseker het. Só vertrou ’n mens Jesus vir jou redding. Dit is die voorwaarde vir redding: geloof wat gestel moet word in die Messias as ’n mens se plaasvervanger vir, en ’n mens se Verlosser van, die straf op die sonde.

D. Die Griekse Woorde
Die vierde punt wat bespreek word aangaande die regte voorwaarde vir redding, is die drie hoof Griekse woorde wat gebruik word.

1. Pistis
Die eerste hoof Griekse woord is pistis, wat 243 keer in die Nuwe Testament gebruik word. Dit beteken altyd “geloof”, met slegs vier uitsonderings: Handelinge 17:31, waar dit die betekenis het van sekerheid (of versekering); II Thessalonicense 2:13, waar dit oortuiging beteken; Titus 2:10, waar dit die betekenis het van getrouheid; en Hebreërs 10:39, waar dit in die Afrikaanse Bybel as geloof vertaal word in die konteks van oortuig te wees van die ewige lewe. Met uitsondering van hierdie vier kere, het die woord pistis altyd die betekenis van “geloof”.

2. Pisteuo
Die tweede kern Griekse woord is pisteuo, wat in totaal 246 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik word. Dit het altyd die betekenis van “om te glo”, met uitsondering van nege kere: een keer word dit vertaal as gelowiges (Hand. 5:14); en agt keer word dit vertaal met toevertrou of toevertrou het (Luk. 16:11; Joh. 2:24; Rom. 3:2; I Kor. 9:17; Gal. 2:7; I Thess. 2:4; Titus 1:3; I Tim. 1:11).

3.Peitho
Die derde hoof Griekse woord is peitho, wat beteken “om geloof in iets te veroorsaak”. Hierdie woord word 50 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik en word op nege verskillende maniere vertaal. Twee-en-twintig keer word dit vertaal as oorreed; tien keer as vertrou; nege keer as vertroue (sekerheid); sewe keer as gehoorsaam; drie keer as het geglo; een keer as verseker; een keer as oorgee; een keer as vrygemaak het; en een keer as toegang. Ten spyte van hierdie nege verskillende vertalings, bly die grondbetekenis van die woord egter steeds dieselfde: “om geloof in iets te veroorsaak”. Deur hierdie drie Griekse woorde te kombineer, kan ’n mens duidelik vasstel wat is die voorwaarde vir redding ten opsigte van geloof. Een, dit beteken “om te glo”. Twee, dit beteken “om oortuig te wees van”. Drie, dit beteken “om vertroue te stel in”. En vier, dit beteken “om te vertrou in die sin van staat maak op”. Dit is die vier fasette van geloof wanneer ’n mens jou geloof stel in Jesus die Messias.

E. Gebruike van die Woord
Die vyfde punt wat behandel word met betrekking tot die voorwaarde vir redding, is die vyf begrippe waarbinne die woord “geloof” gebruik word. Eerstens, dit word gebruik as “oortuiging dat iets waar is”. Tweedens, geloof word gebruik as “vertroue”. Derdens, geloof word gebruik as “oortuig wees”, en dit is sterker as net ’n mening, maar dit is swakker as voorafkennis. Vierdens, geloof word gebruik as “geloof gebaseer op feitekennis” (Rom. 10:14). En vyfdens, geloof moet ’n objek hê. Die objek van geloof is God, en die inhoud van geloof is dat die Messias vir ons sondes gesterf het, dat Hy begrawe is, en dat Hy opgestaan het.

F. Gevolgtrekking
Om die eerste deel van hierdie studie af te sluit: die enigste voorwaarde vir redding is om te glo dat die Messias vir ’n mens se sondes gesterf het, begrawe is, en opgestaan het uit die dood, en om Hom te vertrou vir jou redding.

II. ONWAAR BYVOEGINGS VIR REDDING
Die tweede hoof afdeling aangaande die voorwaarde vir redding, is die onwaar leringe wat regdeur die Kerk se geskiedenis bygevoeg is. Vyf onwaar byvoegings word bespreek.

A. Bekering
Die eerste onwaar byvoeging vir redding, is bekering. Daar is groepe wat leer dat ’n mens nie net in die Messias moet glo en Hom vir jou redding moet vertrou nie, maar ’n mens moet jou ook bekeer. Wat hulle gewoonlik bedoel met bekeer, is dat “ ’n mens waarlik berou moet hê oor jou sondes”.

1.Die Wangebruik van die Woord
Een, die werklike betekenis van bekering is eenvoudig “om ’n mens se denke te verander”. Dit is al wat bybelse bekering beteken. Bekering beteken nie “om berou te hê oor ’n mens se sondes” nie. Die Griekse woord vir “bekering” beteken eenvoudig “om ’n mens se denke te verander”.

Twee, wanneer bekering gebruik word as ’n sinoniem vir glo, dan is dit wel ’n voorwaarde vir redding. ’n Mens moet byvoorbeeld jou denke verander oor wie die Messias is, om gered te word. Ja, as bekering gebruik word as ’n sinoniem vir glo en geloof, dan is bekering nodig vir redding.

’n Derde saak omtrent die woord “bekering”, is dat dit ’n onwaar byvoeging word wanneer dit gesien word in die betekenis van “berou”. As ’n mens “berou” bedoel vir bekering, en ’n mens dus meen dat jy berou moet hê oor jou sondes om gered te word, dan is dit ’n onwaar byvoeging vir redding.

Vier, die rede hoekom dit ’n onwaar byvoeging is, is dat indien bekering, in die sin van berou oor ’n mens se sondes, nodig is, word redding vervolgens twee dinge. Eerstens word redding nou geplaas op die basis van werke, en tweedens word redding geplaas op die basis van emosie en nie op die feite en beloftes van die Skrif nie.

Die vyfde saak omtrent bekering, is dat bekering in redding nooit apart staan van geloof of om te glo nie. Glo as ’n voorwaarde vir redding kom omtrent tweehonderd keer voor; bekering as ’n sinoniem vir glo word omtrent vyf-en-dertig keer gegee. Waar bekering ’n sinoniem is vir glo en slegs ’n sinoniem is vir glo, is dit ’n voorwaarde vir redding. Wanneer ’n mens bekering egter herdefinieer as “berou hê vir ’n mens se sondes”, is dit ’n onwaar byvoeging.

2. Die Nuwe-Testamentiese Gebruike van die Woord
Die Nuwe Testament gebruik die woord “bekering” op vier verskillende maniere.

Een, dit word gebruik as ’n sinoniem vir glo, en beteken niks anders nie as om te glo in Jesus die Messias. ’n Mens verander jou denke en glo in Hom (Luk. 24:47; Hand. 17:30; Rom. 2:4; II Tim. 2:25; II Pet. 3:9).

’n Tweede manier waarop bekering gebruik word, is wanneer ’n mens jou denke oor enigiets verander. Weer eens, die begrip is nooit om berou te voel nie. Berou kan saam met bekering gaan, maar die woord bekering as sodanig, beteken nie “berou” nie. Dit beteken eenvoudig “om ’n mens se denke te verander” (Hand. 8:22; 11:18; 20:21; 26:20; Heb. 6:1, 6; 12:17; Op. 9:20).

’n Derde manier waarop die woord “bekering” gebruik word, is met verwysing na Israel wat hulle moet bekeer, dit wil sê, Israel moet hulle denke oor Jesus verander. Hier, weer eens, beteken dit slegs “ ’n verandering van denke oor wie die Messias is” (Hand. 2:38; 3:19; 5:31).

’n Vierde manier waarop die woord “bekering” gebruik word, is as ’n verwysing na die doop van Johannes wat “die doop van bekering” genoem was. In hierdie sin maak dit eenvoudig deel uit van God se verbondsverhouding met Israel (Hand. 13:24; 19:4).

Wat bekering betref, moet daar op twee dinge gelet word. As bekering, slegs op die manier waarop die Bybel dit gebruik, as ’n sinoniem vir geloof in die Messias gebruik word, is dit alleenlik in daardie sin waarlik ’n voorwaarde vir redding. Maar as bekering, soos wat party groepe dit gebruik, beteken “om berou te hê vir ’n mens se sondes”, dan word dit inderdaad ’n onwaar byvoeging vir redding.

B. Om die Messias te Bely
Die tweede onwaar byvoeging staan bekend as “belydenis van die Messias”. Waar dit ’n onwaar byvoeging word, is in die lering in sommige kringe, dat daar ’n openbare belydenis van die Messias moet wees vir ’n mens se redding.

1. Die Basis vir hierdie Leer
Hierdie leer word gebaseer op twee skrifgedeetes.

Die eerste is Matthéüs 10:32: Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.

Die tweede skrifgedeelte is Romeine 10:9-10: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Gebaseer op hierdie twee skrifgedeeltes, het sommige groepe dit ’n onwaar byvoeging vir redding gemaak, deur te leer dat ’n persoon in die openbaar ’n mondelinge belydenis moet doen om gered te word.

Die antwoord op hierdie leer, is dat belydenis in al twee hierdie skrifgedeeltes nie apart staan van geloof nie. In die geval van Matthéüs 10:32, handel dit in konteks met Israel se verwerping van die Messias, en daardie individuele Jode wat gered wil word, moet die Messias bely, wat beteken dat hulle moet bely (erken) dat Jesus die Messias is. In hierdie geval is die woord “bely” egter slegs ’n deel van die daad van geloof; dit is hoegenaamd nie ’n handeling wat afsonderlik staan nie.

Wat betref die Romeine 10:9-10 skrifgedeelte, gebruik Paulus ’n Hebreeuse digvorm wat bekend staan as “inversie” (‘omkering of omdraaiing van die gewone of natuurlike woordorde’ – HAT, bl. 453). Paulus gebruik die terme “belydenis” en “om te glo” afwisselend om te wys dat hierdie terme sinonieme van mekaar is. Byvoorbeeld, in vers 9 praat hy eers van belydenis: dat jy met jou mond die Here Jesus moet bely, en dan tweedens: dat jy in jou hart moet glo dat God Hom uit die dood uit opgewek het. In vers 9 is daar dus eers belydenis, opgevolg deur glo. Dan, in vers 10, draai hy hierdie terme om. In vers 10 praat hy eers van glo: want met die hart glo ons tot geregtigheid, en dan praat hy van belydenis: en met die mond bely ons tot redding. Hierdie omdraaiing van belydenis en glo en die verwisselbaarheid van die twee terme, wys dat hy hulle sinonimies gebruik. In hierdie vers is belydenis dieselfde as om die naam van die Here aan te roep. Om die naam van die Here aan te roep, is eenvoudig om geloof in Hom te demonstreer. Belydenis is nie ’n daad wat apart staan van geloof nie.

2. Die Probleme met hierdie Leer
Daar is drie probleme met hierdie onwaar byvoeging van belydenis vir redding.

Die eerste probleem is dat belydenis as ’n voorwaarde vir redding, met uitsondering van bogenoemde twee voorbeelde, weggelaat word in al die skrifgedeeltes wat handel oor ’n voorwaarde vir redding. In die ander tweehonderd plus gevalle waar die voorwaarde vir redding gestel word, is belydenis nie een van die voorwaardes nie. Selfs in genoemde twee gevalle word belydenis slegs sinonimies gebruik vir geloof in die Messias.

Die tweede probleem is, as ’n openbare belydenis nodig is vir redding, dan berus redding op die basis van werke. Redding sal op werke gebaseer wees as ’n mens regtig die Messias in die openbaar moet bely.

Die derde probleem is dat die omstandighede vir baie mense wat gered word, ’n openbare belydenis uitsluit. Baie mense word gered deur net ’n evangeliese traktaatjie of die Nuwe Testament te lees. Hulle glo in Jesus die Messias en hulle ervaar waarlik redding sonder die geleentheid om daar en dan ’n openbare belydenis te doen. ’n Openbare belydenis is nie deel van redding nie, en mense wat dit leer, maak dit ’n onwaar byvoeging vir redding.

C. Sondebelydenis
Die derde onwaar byvoeging is sondebelydenis.

1. Die Basis vir hierdie Leer
Die vers wat gebruik word, is I Johannes 1:9: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Soms haal mense hierdie vers aan en maak dit ’n voorwaarde vir redding, deur te sê ’n mens moet jou sondes bely voordat jy gered kan word.

2. Die Probleme met hierdie Leer
In die eerste plek, I Johannes 1:9 is nie ’n vers oor redding nie. Die feit is dat die brief gerig is aan mense wat al reeds gelowiges is; hulle is al reeds gered. Let op die voornaamwoorde: as ons ons sondes bely. Die voornaamwoord “ons” sluit die apostel Johannes en sy lesers in. Sowel Johannes as sy lesers was al reeds gered. Hierdie vers is nie ’n vers oor redding nie, dit is net ’n vers wat handel oor die sondes wat mense wat al reeds gelowiges is, gepleeg het.

Tweedens, as die belydenis van sonde ’n nodige byvoeging tot die voorwaarde vir redding was, hoeveel mense sal elke sonde onthou wat hulle gepleeg het? Dit is letterlik onmoontlik om elke sonde wat ’n mens gepleeg het te onthou. As hierdie voorwaarde gegeld het, sou dit beteken het dat tensy ’n mens elke enkele sonde wat jy ooit gepleeg het bely, jy nie gered kan word nie! Aangesien dit onmoontlik is, sou niemand hoop op redding gehad het nie. Belydenis van sonde is ’n derde onwaar byvoeging tot die voorwaarde vir redding.

D. Om God Aan te Roep vir Redding
Die vierde onwaar byvoeging wat sommiges leer, is dat ’n mens God moet aanroep (smeek) om jou te red anders sal jy nie gered word nie. Die beeld is dat God ietwat onwillig is om mense te red, en daarom moet ’n mens Hom smeek voordat jy redding mag ontvang.

1. Die Basis vir hierdie Leer
Twee hoof skrifgedeeltes word gebruik om dit te leer. Die eerste is Jesaja 55:6: Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die vermaning om die HERE [te] soek, word geïnterpreteer as “om God aan te roep (te smeek) vir redding”. Die vermaning is wel om die Here te soek, maar die voorstanders van die leer vergeet die feit van Romeine 3:11, wat leer dat niemand vanself na God soek nie. As dit ’n voorwaarde vir redding was, sou dit beteken het dat niemand gered sou word nie, omdat niemand ooit vanself na God sal soek nie! ’n Ander skrifgedeelte wat gebruik word, is Lukas 18:13, waar daar om genade gebid word. Wat hier geïgnoreer word, is dat hierdie skrifgedeelte nie regtig sê ’n mens moet God aanroep om gered te word nie, en dit leer ook nie dat ’n mens God moet soek en God moet soek en God moet soek totdat ’n mens Hom vind nie. Hierdie skrifgedeelte handel oor die gelowige se gebedslewe, nie oor redding nie. Lukas 19:10 leer trouens dat dit die Messias is wat verlorenes soek om hulle te red.

2. Die Probleem met hierdie Leer
Die probleem is dat in al die tweehonderd plus gevalle waar die voorwaarde vir redding bespreek word, die aanroep van God nie ’n voorwaarde vir redding is nie. Dit staan nêrens geskryf dat ’n mens God moet aanroep, soek, en tot Hom moet bid om jou te red, voordat God dit sal doen nie. Wat meer is, dit is redding wat berus op werke. Redding word in die Bybel onderstreep as deur geloof op grond van genade. Die redding, wat God aanbied, word eenvoudig aangeneem deur geloof; ’n mens hoef God nie te smeek om jou te red nie. God is meer as gewillig om dit te doen. As ’n mens God eers moet aanroep en smeek, dan is redding deur werke en nie deur geloof nie.

E. Oorgawe Aan die Koningskap van die Messias
Die vyfde onwaar byvoeging vir redding, is dat ’n mens jou moet oorgee aan die Koningskap van die Messias voordat jy gered kan word. Volgens hierdie siening moet ’n mens nie net die Here Jesus aanneem as jou Verlosser of Messias nie, maar jy moet Hom ook aanneem as die Here (Koning) van jou lewe; dan eers kan ’n mens waarlik gered word.

1. Die Basis vir hierdie Leer
Skrifgedeeltes soos Romeine 12:1-2 word gebruik vir hierdie argument. Hierdie skrifgedeelte praat egter nie van ’n voorwaarde vir redding nie, maar van iets wat op redding volg. Romeine 12:1-2 is trouens ’n goeie argument téén die konsep wat as “Koningskapredding” bekend staan. Paulus skryf vir mense wat al reeds gered is. In die lig van die feit van hulle redding, doen Paulus ’n beroep op hulle om die Messias die Here van hulle lewens te maak deur die toewyding van hulle liggame as ’n welgevallige offer. Dit is eers nadat ’n mens gelowig geword het, dat jy die Messias die Here van elke aspek van jou lewe moet maak. Dit is nie ’n voorwaarde vir redding nie; dit is ’n voorwaarde vir dissipelskap.

’n Ander skrifgedeelte wat vir hierdie argument gebruik word, is Romeine 10:9, wat sê dat Jesus as Here bely moet word. In hierdie konteks handel Paulus nie met die feit dat die Messias “Here van elke aspek van ’n mens se lewe” moet word nie. Hier word die woord Here gebruik in die betekenis van God (Jahweh of Jehovah) van die Ou Testament. Net God kan red, en die aspek van Jesus se Koningskap wat ’n mens nodig het vir redding, is Sy reddende Koningskap. ’n Mens hoef Hom nie aan te neem as die Here van jou lewe om gered te word nie, maar Jesus moet die Here wees om te kan red. Die Messias moet Here wees in die sin van God (Jahweh/Jehovah) om te kwalifiseer as Redder.

Romeine 10:9 leer nie dat ’n mens die Messias die Here van jou lewe moet maak om gered te word nie. Inteendeel, dit leer dat die Messias die Here moet wees om die Redder te wees. Om gered te word, moet ’n mens net glo dat die Here Jesus vir jou sondes gesterf het, begrawe is, en opgestaan het uit die dood. ’n Mens moet Hom vertrou vir jou redding, maar om enigiemand te kan red, moet Hy die HERE (Jahweh/Jehovah) wees. In teenstelling met hierdie onwaar byvoeging vir redding, word die Messias die Here van ons lewens nádat ons gered is, wanneer die gelowige sy liggaam as offer aan die Messias stel vir permanente gebruik deur Hom (Rom. 12:1-2).

2. Die Probleem met hierdie Leer
Wanneer die Bybel praat van die Messias wat Here moet wees om te kan red, word daarmee nie Sy persoonlike Koningskap in die lewe van die gelowige bedoel nie. Byvoorbeeld, Handelinge 10:14 verklaar: En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. In hierdie vers spreek Petrus vir Jesus aan as Here, maar tog sê hy vir die Here, Nooit nie, Here. Petrus het Jesus as die Here erken en Hom toe vervolgens bestraf. ’n Mens kan inderdaad die Koningskap van die Messias aanneem, soos Petrus, maar dan onmiddellik teen hierdie Here se bevele ingaan. Hierdie selfde punt word geïllustreer in Handelinge 19:8-19. Ons sien dus dat die vyfde onwaar byvoeging, naamlik oorgawe aan die Koningskap van die Messias of Koningskapredding, nie bybels gestaaf kan word nie.

F. Die Doop
“Is die doop nodig vir redding?” In hierdie studie word daar kortliks in drie afdelings kommentaar gelewer oor die skrifgedeeltes wat mense gebruik om te leer dat die doop nodig is vir redding.

1. Markus 16:15-16
Die eerste skrifgedeelte wat ondersoek word, is Markus 16:15-16. Hierdie skrifgedeelte sê nie dat ’n mens verlore is as jy nie gedoop is nie, en dit leer ook nie dat ’n mens verlore sal gaan as jy glo maar nie gedoop is nie. Die negatiewe word nie gesê nie. Dit sê eenvoudig ’n mens moet glo en gedoop word. In daardie tyd het die doop onmiddellik op redding gevolg. Wat meer is, hierdie vers word nie eens in die beste en oudste Griekse manuskripte van die Evangelie van Markus gevind nie.

2.Handelinge 2:38
Die tweede skrifgedeelte wat gebruik word, is Handelinge 2:38 wat sê: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word … tot vergewing van sondes. Die Griekse woord hier, is eis, wat ook “omrede van” of “op grond van” kan beteken, ooreenkomstig die betekenis in Matthéüs 12:41. Dus, Handelinge 2:28 verklaar eenvoudig: “bekeer julle en word gedoop op die basis van die vergewing van sondes” of “omdat julle gered is, moet julle, daarom, gedoop word”.

3.Handelinge 22:16
Die laaste skrifgedeelte is Handelinge 22:16: Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep. Hierdie vers bevat in die Griekse teks twee bevelvorme en twee verlede deelwoordvorme, en lees letterlik: “Staan op, jy is gedoop, was jou sondes af, jy het die Here aangeroep.” Wat hierdie vers sê, is dat die doop die opstaan volg net soos wat die vergewing van sondes die aanroep van die naam van die Here volg. Die twee dele van die vers moet afsonderlik gehou word. Net soos wat ’n mens ná die aanroep van die naam van die Here, gered is; moet jy, wat gered is, dán opstaan, en gedoop word.

Die doop is ’n onwaar byvoeging tot die voorwaarde vir redding.
[end]

Inhoudsopgawe

I. DIE REGTE VOORWAARDE VIR REDDING
      A. Geloof
      B. Skriftuurlike Bewys
      C. Die Messias as Plaasvervanger
      D. Die Griekse Woorde
          1. Pistis
          2. Pisteuo
          3. Peitho
    E. Gebruike van die Woord
    F. Gevolgtrekking
II. ONWAAR BYVOEGINGS VIR REDDING
    A. Bekering
          1. Die Wangebruik van die Woord
          2. Die Nuwe-Testamentiese Gebruike van die Woord
    B. Om die Messias te Bely
          1. Die Basis vir hierdie Leer
          2. Die Probleme met hierdie Leer
    C. Sondebelydenis
          1. Die Basis vir hierdie Leer
          2. Die Probleme met hierdie Leer
    D. Om God Aan te Roep vir Redding
          1. Die Basis vir hierdie Leer
          2. Die Probleem met hierdie Leer
    E. Oorgawe aan die Koningskap van die Messias
          1. Die Basis vir hierdie Leer
          2. Die Probleem met hierdie Leer
    F. Die Doop
          1. Markus 16:15-16
          2. Handelinge 2:38
          3. Handelinge 22:16

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Daar is ’n aantal terme en beskrywings wat waarhede tuisbring omtrent redding. Sommige hiervan is Bybels en sommige is teologies, maar almal beskryf die verskillende fasette van redding. Dit is goed om hierdie fasette te leer ken om sodoende ’n groter waardering te kry vir die Woord van God, om toe te neem in genade, en om die dinge wat God gedoen het in Sy voorsiening vir ons redding, beter te verstaan. Tien fasette van ons redding wat bespreek word is vernuwing, bekering, geloof, berou, belydenis, vergifnis, toerekening, aanneming, versekerdheid en verheerliking.