Die voorwaardes van gebed

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. – 1 Johannes 3:22

Met hierdie artikel begin ons ’n studie in twee dele oor “Die voorwaardes van gebed”. Hierdie Messiaanse Bybelstudie handel oor die eerste gedeelte, “Die subjektiewe voorwaardes van gebed”. Ons behandel die tweede gedeelte, “Die objektiewe voorwaarde van gebed”, in MBS149, getiteld “Die samestellende dele en inhoud van gebed”.

INLEIDING
Ter inleiding moet ons noem dat daar nie iets soos onvoorwaardelike gebed is nie. Alle Bybelse gebede is óf uitdruklik óf by implikasie voorwaardelik. Jesus self het mense oor minstens drie voorwaardes van individuele gebed onderrig: die noodsaak van geloof, die noodsaak daarvan om in die Here te bly, en die noodsaak daarvan om in die Naam van die Here te bid. Daarom is daar nie iets soos onvoorwaardelike gebed nie. Jesus het in sy eie gebedslewe volgens die Vader se wil gebid.

I. DIE SUBJEKTIEWE VOORWAARDES VAN GEBED
A. Persoonlike voorvereistes
In die Skrif is daar dertien persoonlike voorvereistes vir gebed.

1. Opregtheid
Die eerste persoonlike voorvereiste is opregtheid. Die Skrif leer dit baie duidelik vir ons.

In Job 16:17 sê Job byvoorbeeld: Alhoewel … my gebed rein is.

Psalm 145:18: Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.

Matthéüs 6:5 sê: En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Dit is ’n teken van iemand wat nie opreg is nie.

In Markus 12:40 staan daar: Hulle wat … vir die skyn lang gebede doen.

Om voor te gee as jy bid, is vals. Om opreg te wees as jy bid, is een van die belangrikste voorvereistes vir gebed.

2. Eerbied
Die tweede persoonlike voorvereiste is eerbied.

In Prediker 5:1 staan daar: Wees nie haastig met jou mond nie.

Oorhaastigheid is ’n teken van ’n gebrek aan eerbied.

Matthéüs 6:9 leer ons om tot God die Vader te nader deur te sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.

Wanneer ons God op daardie manier nader, spreek dit van respek en eerbied.

In Hebreërs 12:28-29 staan: Laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.

3. Nederigheid
Die derde persoonlike voorvereiste is nederigheid.

In Psalm 10:17 staan: Here, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor.

In Lukas 18:9-14 het Jesus die storie van die Fariseër en die tollenaar vertel. Die Fariseër het sy gebedstyd bloot gebruik om vir God te vertel hoe gelukkig Hy kon wees dat die Fariseër aan sy kant was. Die Fariseër het geen behoefte of versoek uitgespreek nie, hy het net sy hoogmoed uitgespreek. In teenstelling daarmee het die tollenaar se gebed van behoefte gespreek. Hy het ’n versoek tot God gerig en dit was baie duidelik dat hy geglo het dat God in staat is om sy gebed te verhoor.

4. Volharding (lastigheid)
Die vierde persoonlike voorvereiste is volharding.

Ons leer hiervan in die gelykenis wat Jesus in Lukas 11:5-13 vertel het. ’n Man het onverwags ’n besoeker ontvang en niks gehad om vir hom voor te sit nie. Hy het toe sy buurman bly lastig val totdat dié uiteindelik opgestaan het en in sy behoeftes voorsien het. Hierdie volharding het uit ’n krisis ontstaan en tot ’n versoek gelei. ’n Mens volhard in gebed omdat jy glo dat dit resultate sal oplewer. Selfs die tydvorm waarin vers nege oorspronklik geskryf is, dui voortdurende aksie aan. Dit is presies wat volharding is: voortdurende aksie.

Volharding het drie vlakke van gebed. Die eerste vlak is om te vra: ’n Mens moet aanhou vra, want dit wys dat jy glo jy sal ontvang, en dit is belangrik (Jak 1:5-6). Die tweede vlak van gebed is om te soek: ’n Mens moet aanhou soek met die doel om ’n antwoord te vind (2 Kor 12:9). Die derde vlak is om te klop: ’n Mens moet aanhou klop met die doel om daardie deure oop te kry (Rom 1:9-12).

O5. nderwerping
Die vyfde voorvereiste van gebed is onderwerping aan die wil van God. Ons moet ons aan God se wil onderwerp, want dan sal ons bereid wees om die antwoord te aanvaar wat Hy op ons gebed gee – ongeag wat dit is.

Volgens Matthéüs 6:10 moet ons bid: Laat u wil geskied.

In Matthéüs 26:39 het Jesus self gebid: Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

In 2 Korinthiërs 12:8-9 was Paulus self ook gewillig om hom aan die wil van God te onderwerp wat betref die verwydering van die doring in sy vlees.

Volgens 1 Johannes 5:14 moet ons volgens God se wil bid.

6. Gehoorsaamheid
Die sesde voorvereiste van gebed is dié van gehoorsaamheid. In 1 Johannes 3:22 het Johannes geskryf: Wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.

Gebed is nie doeltreffend as dit nie in ooreenstemming met die karakter van God is nie. As ons onsself oriënteer volgens God se karakter, sal ons deur gehoorsaamheid gekenmerk word. Dan sal God ons gebede beantwoord omdat ons sy opdragte gehoorsaam.

7. Erns
Die sewende voorvereiste is dié van erns of ernstigheid. Lukas 22:44 stel dit so: En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid. Die agtergrond hiervan is Jesus se worstelstryd in Getsémané. Hy het drie keer gebid en die worsteling waarmee dit gepaard gegaan het, wys vir ons sy erns en inspanning.

In Handeling 12:5 lees ons: Daar het ’n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom [Petrus] opgegaan.

8. Om in die Messias te bly
Die agtste persoonlike voorvereiste is dat ons in die Messias moet bly. Dit beteken ons moet in gemeenskap met die Here wees. In Johannes 15:7 staan daar: As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Die agtergrond van hierdie vers is Johannes 15:1-8, oftewel die vergelyking van die wynstok en die lote. Die lote bring voort wat die wynstok bepaal het. Die wynstok bepaal dus die soort vrugte wat die loot gaan voorbring. As ons in Hom woon, dit wil sê as ons in gemeenskap met die Here leef, vra ons net wat Hy bepaal. Met ander woorde, dis nie ’n algemeen geldende belofte dat ons enigiets sal kry wat ons vra nie. Maar as ons begeertes sy begeertes is, en as die vrugte wat ons dra die vrugte is wat die loot wil hê ons moet voortbring, dan is ons begeertes sy begeertes. Dit is vanselfsprekend dat God die spesifieke versoek in daardie opsig sal beantwoord.

Die betekenis van die woord bly is “om ’n sekere plek nie [te] verlaat nie” (HAT) of om voortdurend in lewegewende kontak met iemand of iets te bly. Die woord beteken dat jy aan iets gebind is, totaal daaraan onderworpe is of afhanklik is daarvan. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus gesê het: As julle in My bly en my woorde in julle …

Dan sê Hy in vers 10: As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly. Ons kan dus wys dat ons in gemeenskap met die Here verkeer deur sy gebooie te gehoorsaam.

Om in die Messias te bly beteken om só ingestel te wees op Jesus dat jy ononderbreekte gemeenskap met Hom geniet. ’n Gelowige bly in Jesus as hy besluit om bewustelik op Jesus te vertrou as voorwaarde om vrug te dra. Toe Hy gesê het en my woorde in julle [bly] (vers 7) en soos Ek in julle (vers 4) het dit gewys dat Jesus Hom ook aan sy Woord onderwerp (Jak 1:22).

9. Vergifnis
Die negende voorvereiste is om ’n gees van vergifnis te hê. In Matthéüs 6:12, waar ons die modelgebed vind, het Jesus gesê ons kan om vergifnis van ons sonde vra as ons dié wat teen ons sondig, vergewe.

In Markus 11:25 het Jesus gesê: En wanneer julle staan en bid, vergeef…

’n Vergewensgesinde gees is met ander woorde ’n noodsaaklike voorvereiste vir ’n gebedslewe. As ons ’n bitter gees het, spreek ons dalk met ons monde gebede uit, maar daardie gebede is vals en word nie gehoor nie, wat selfs erger is.

10. Berou
Die tiende voorvereiste van gebed is om ware berou te hê. Dit is wat in Lukas 18:12-14 gebeur het toe die tollenaar gebid het: O God, wees my, sondaar, genadig! Hy was besig om ware berou te toon. Om maar net ons sondes te erken sonder om ware berou te hê, help nie.

11. Regverdigheid en Godvresendheid

Die elfde voorvereiste van gebed is regverdigheid en Godvresendheid. In Psalm 32:6 staan: Daarom sal elke vrome U aanbid.

In Psalm 34:16 staan daar: Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.

Psalm 145:19 sê: Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.

In Spreuke 15:8 staan daar: Die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.

1 Petrus 3:12 lui: Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.

12. Vrymoedigheid
Die twaalfde voorvereiste van gebed is vrymoedigheid. Dit is die boodskap van Hebreërs 4:16. Ons moet met vrymoedigheid na sy troon gaan, want ons het ’n hoëpriester wat met ons swakhede medelye kan hê (vers 15).

13. Vurigheid
Die dertiende persoonlike voorvereiste van gebed is vurigheid. Jakobus 5:16 leer ons: Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag.

B. Die belydenis van sondes
As deel van ons gebedslewe moet ons ook ons sondes bely sodat ons “ ’n nuwe blaadjie kan omslaan”.

In Psalm 66:18 staan daar: As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie. Ons monde mag dalk gebede uitspreek, maar as ons ongeregtigheid in ons harte het, word ons gebede nie beantwoord nie.

Spreuke 28:9 leer ons: Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.

Jesaja 59:1-2 sê: Julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

Om jou sonde te bely is ’n belangrike deel van die subjektiewe voorwaardes. Die ideaal is eintlik dat ons ons sonde moet bely die oomblik wanneer ons van hulle bewus word. Maar die Bybel gee ons twee tydsbeperkings wat dit betref. Eerstens lui Efésiërs 4:26: Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie. Dit leer ons dat ons ons sonde saans voor ons gaan slaap moet bely. Tweedens maan 1 Korinthiërs 11:23-33 ons om onsself te ondersoek voordat ons aan die Nagmaal deelneem. Om sonde te bely is van noodsaaklike belang vir ’n mens se gebedslewe.

Wanneer ons sondig, moet ons dus 1 Johannes 1:9 toepas: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

C. Waaksaamheid
Waaksaamheid beteken dat ’n mens wakker en op jou hoede moet wees. Matthéüs 26:41 leer dit vir ons: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Jesus was waaksaam terwyl Hy gebid het.

Markus 14:38-39 predik dieselfde boodskap: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde.
Nadat Jesus vir die dissipels gesê het dat hulle deur waaksaamheid gekenmerk moet word, het Hy vir hulle gewys wat waaksaamheid is deur weer te gaan bid. Waaksaamheid beteken ook om letterlik wakker te wees, want die dissipels was juis aan die slaap toe Jesus hierdie stellings gemaak het.

D. Geloof
Omdat geloof so belangrik is, bespreek ons die verhouding wat dit tot gebed het, in vier dele.

1. Oortuiging
Eerstens moet ons glo. Daarom sê Matthéüs 21:21-22: As julle geloof het en nie twyfel nie … En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
Ons moet geloof in God hê. Die mens wat nie twyfel nie, maar glo dat dít wat God sê, sál gebeur, sal dit ontvang. As jy glo dat jy alles wat jy in gebed vra, sal ontvang, sal jy dit kry.

In Efésiërs 3:12 staan daar: … in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.

Jakobus 1:6-8 sê: Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel. Iemand wat twyfel se gebede sal nie beantwoord nie, want iemand wat twyfel, is ’n dubbelhartige man.

Jakobus 5:15 praat van gebed wat beantwoord word en noem dit die gebed van die geloof.

Die Bybel leer ons dus baie duidelik dat ons moet glo.

2. Die inhoud van geloof
Tweedens is daar ’n vraag wat ons moet vra: Wat is dit wat ons in verband met gebed moet glo? Daar is drie dinge wat ons moet glo. Dit is in hierdie dinge wat ons geloof moet beoefen.

a. God se bestaan
Eerstens moet ons glo dat God bestaan. Dit is belangrik dat ons in sy bestaan moet glo. Hebreërs 11:6 sê: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.

b. God se vermoë om ons gebede te hoor
Die tweede ding wat ons moet glo, is dat God gebed kan hoor en verhoor. Dit word ’n hele paar keer in die boek van Psalms duidelik gemaak.

Psalm 4:2: Hoor my gebed!

Psalm 6:10: Die Here het my smeking gehoor; die Here neem my gebed aan.

Psalm 17:1: Luister tog na my gebed.

Psalm 39:13: Hoor, Here, my gebed.

Psalm 54:4: O God, hoor my gebed.

Psalm 55:2: O God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie.

Psalm 61:2: Luister na my gebed!

Psalm 88:3: Laat my gebed voor u aangesig kom.

Psalm 102:2: O Here, hoor my gebed.

Psalm 143:1: O Here, hoor my gebed; luister tog na my smekinge.

Let op hoe gereeld daar in die boek van Psalms klem gelê word op die feit dat God ons gebede hoor. Die psalmdigter wat in hierdie gebede tot God nader, het duidelik nie net geglo dat God bestaan nie, maar ook dat Hy in staat is om te hoor én dat Hy daarom hul gebede kan verhoor.

c. God se gewilligheid om ons gebede te beantwoord
Die derde ding wat ons moet glo, is dat God gewillig is om ons gebede te beantwoord, met ander woorde dat Hy ons gebede wíl beantwoord.

Psalm 66:19 lui: Hy het geluister na die stem van my gebed.

In Psalm 66:20 staan: Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys … het nie!

Matthéüs 7:9-11 sê: Hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! (vers 11)

Hebreërs 11:6 lui: Hy is … ’n beloner … van die wat Hom soek.

In Jakobus 1:5-6 staan daar: Laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee.

Die beloftes van God
Derdens moet ons geloof gebaseer wees op die beloftes van God. Filippense 4:19 benadruk dat dit as gevolg van God se beloftes is dat ons bid.

4. Die vereiste subjektiewe voorwaarde van gebed
Vierdens is geloof ’n vereiste subjektiewe voorwaarde van gebed. Dit kom op twee plekke in die Skrif na vore.

a. Onvoldoende geloof
Die eerste keer waar ’n mens dit sien, is in die geval van die magtelose dissipels wat dit nie kon regkry om ’n demoon uit te dryf nie (Matthéüs 17:19-20 en Lukas 9:37-42). Daar is agt dinge wat ons uit hierdie twee skrifgedeeltes kan aflei. Eerstens is daar hulle ongeloof, want hulle het nie genoeg geloof vir hierdie situasie gehad nie. Tweedens was dit nie eens nodig om ’n massiewe hoeveelheid geloof te hê nie, want selfs geloof wat so groot is soos ’n mosterdsaad sou genoeg gewees het. Derdens is dit belangrik om ’n volgehoue geloof te hê. Vierdens is die saad klein, maar dit het die vermoë om in ’n groot plant te ontwikkel. Op dieselfde manier is geloof iets klein met groot potensiaal. Vyfdens kan ’n bietjie geloof wat deurlopend toegepas word, ontkiem en groot dinge bereik. Sesdens is korrekte gebed onmoontlik sonder geloof. As ons nie geloof het nie, bid ons nie reg nie (Jak 1:6). Sewende sal ’n gebrek aan geloof gebed ondoeltreffend maak. En agtste benodig hierdie situasie waarin ’n stom demoon uitgedryf moet word, die gebed van geloof.

b. Voldoende geloof
Die tweede keer waar dit duidelik gemaak word, is in Matthéüs 21:18-22 en Markus 11:20-24. Die gelowige moet voortdurend glo dat dít waarvoor hy vra, besig is om te gebeur. Geloof moet dus voortdurend beoefen word. Hierdie stelling beteken daar is ’n mate van verwagting. Om te vra is om te bid, en om te bid is om te vra. In Grieks vind die aksie van die werkwoord “ontvang” plaas vóór die aksie wat deur die werkwoord “glo” beskryf word. Wat dit grammatikaal gesproke beteken is: Hou aan glo dat jy dit ontvang het, en vra met verwagting. Ons moet aanhou glo selfs terwyl ons nog besig is om te vra, in die wete dat God ons versoek reeds gehoor en verhoor het; dalk nie op die manier waarop ons dit wou hê nie, en dalk nie met die antwoord wat ons wou gehad het nie, maar Hy hét geantwoord en dit moet ons glo.

c. Die volgorde
Hierdie punt bring ’n teologiese vraag na vore. Wat is die volgorde waarin geloof en gebed moet plaasvind? Is dit eers gebed en dan geloof, of eers geloof en dan gebed? Markus 11:22 leer ons dat dit nie vertroue in geloof of vertroue in gebed is nie, maar jou geloof in God. Dit is onmoontlik om geloof in jou gebedsversoek te hê sonder om terselfdertyd ook geloof in God, van wie die antwoord gaan kom, te hê. Geloof in God kom dus eerste, voor enige gebed.

E. In ooreenstemming met die wil van God
1. Die beginsels
Daar is vyf beginsels met betrekking tot gebed in ooreenstemming met die wil van God.

Eerstens sal God elke gebed wat met sy doel en ons beswil ooreenstem, positief beantwoord. God sê met ander woorde “ja” vir elke gebed wat in ooreenstemming met sy doel en ons beswil is. As dit nie vir ons eie beswil is nie, of as dit nie in ooreenstemming met sy doel is nie, sal God “nee” sê.

Die tweede beginsel is dat God se wil gelyk is aan sy doel en sy plan. As ons gebedsversoek dus ooreenstem met sy doel en sy plan, sal hy “ja” sê. As dit strydig is daarmee, sal Hy “nee” sê.

Die derde beginsel is dat God Homself daartoe verbind om elke gebed te beantwoord wat binne die grense van sy wil lê.

Die vierde beginsel is dat gebed ’n manier is om ons begeertes met God se wil te laat strook. Dit is die manier waarop ons sensitief raak vir God se wil en wat ons in staat stel om ons eie begeertes in ooreenstemming met sy wil te bring.

Die vyfde beginsel is dat ons met volle vrymoedigheid kan vra as God se wil duidelik is.

2. Die skrifgedeeltes
Daar is agt spesifieke skrifgedeeltes waar hierdie beginsels gevind word.

a. Matthéüs 21:21-22
Die eerste een kom voor in Matthéüs 21:21-22. Vers 21 sê: As julle geloof het en nie twyfel nie … sal dit gebeur.

Ware geloof bring ’n mens se persoonlike begeertes in ooreenstemming met God se wil. Sulke versoeke word gewaarborg. Wanneer ons iets vra wat in ooreenstemming is met God se wil, kan ons verseker wees dat ons ’n positiewe antwoord sal kry. In die Skrif is versoeke dikwels gebaseer op God se beloftes, en waar ’n belofte gemaak word, is daar ’n gewaarborgde antwoord op gebed. As God egter nie ’n belofte in ’n spesifieke kategorie gemaak het nie, is daar geen waarborg dat Hy die gebed positief gaan beantwoord nie.

Vers 22 sê: En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

Die glo van vers 22 is vers 21 se geloof, en die alles in vers 22 is die persoonlike begeertes wat met die wil van God ooreenstem.

b. Matthéüs 26:39 en 42
Die tweede gedeelte is Matthéüs 26:39 en 42, met ’n parallelle weergawe daarvan in Lukas 22:42, wat ’n rekord van die gebed sowel as die antwoord bevat. Eers is daar die gebed. Die versoek was: Laat hierdie beker by My verbygaan. Die voorwaarde was: Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. Daarna het die antwoord gekom. Hierdie versoek was nie in ooreenstemming met God se wil nie. Die gevolg is dat hierdie versoek geweier is. God die Vader het Jesus se gebed beantwoord, maar dit was nie die antwoord waarop Jesus gehoop het nie, want dit was nie in ooreenstemming met God se wil, plan of doel nie.

c. Markus 11:22-24
Die derde gedeelte is Markus 11:22-24. Vers 22 vermaan: Julle moet geloof in God hê.

Geloof is die manier waarop jy antwoorde op jou gebede kan kry. Ware geloof bring altyd ’n mens se persoonlike begeertes in ooreenstemming met God se wil.

Vers 23 voeg hierby: Elkeen … [wat] nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.

Negatief gestel, moet ’n mens nie twyfel nie. Jy moenie twyfel in dit wat God belowe het nie, want daar moet geen twyfel in jou hart wees oor iets wat God belowe het nie. Ons kan twyfel of iets God se wil is as God nie spesifiek daaroor gepraat of spesifiek daaroor ’n belofte gemaak het nie. Maar wat daardie dinge betref waaroor God wel ’n belofte gemaak het, behoort daar geen twyfel te wees nie. Sulke gebede het gewaarborgde antwoorde.

Om nie te twyfel nie, is die negatiewe manier om dit te stel. Die positiewe manier om dit te stel is om te sê jy moet glo. As God dit belowe het, moet ons glo dat Hy dit sal doen wanneer ons bid. Die gevolg daarvan is dat ons dit sal kry. In Jakobus 1:5 het God byvoorbeeld ’n belofte gemaak: dat dié wat om wysheid sal bid, dit sal kry. Wanneer ons dus tot God nader en Hom om wysheid vra, is dit nodig dat ons moet glo dat God dit vir ons sal gee omdat dit ’n belofte is. Wanneer ons ons gebede baseer op ’n duidelik belofte van God, het ons ’n gewaarborgde antwoord.

Vers 24 sê dan: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

As die versoek in ooreenstemming is met die wil van God, sal ’n mens nadat jy gebid het, met selfvertroue glo dat jy dit gaan ontvang. As jy dit met volle selfvertroue glo, sal jy dit ontvang, omdat dit ’n belofte is wat God gemaak het.

d. Johannes 14:13-14
Die vierde skrifgedeelte is Johannes 14:13-14: En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Weer eens word wat julle ook al … vra beperk tot dít wat aan God eer gaan bring. As dit nie aan God eer gaan bring nie, gaan Hy dalk nie positief antwoord nie. Maar as dit wel aan God eer gaan bring, sal Hy antwoord. As dit groter eer aan God gaan bring as Hy “nee” sê, sal die antwoord “nee” wees. God kan die eer kry as die antwoord “ja” óf “nee” is. Die antwoord op daardie gebed sal die antwoord wees wat gaan sorg dat God die eer gaan kry.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Paulus se doring in die vlees in 2 Korinthiërs 12:7-10. Sou God groter eer kry as Hy “ja” of “nee” geantwoord het? Uit die situasie kan ons die volgende aflei: As God “ja” geantwoord het, sou Paulus heel waarskynlik die eer gekry het eerder as God. Maar deur Paulus se versoek te weier en “nee” te sê het God groter eer gekry, aangesien Paulus sou leer dat God se genade vir hom genoeg is. In hierdie geval het ’n “nee”-antwoord dus aan God groter eer gegee.

e. Johannes 15:7
Die vyfde skrifgedeelte is Johannes 15:7: As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Die agtergrond van hierdie vers is dat ons in die Messias moet “bly”. Dit beteken dat ’n mens “in gemeenskap met Hom moet bly”. Dit gaan in hierdie geval nie oor redding nie, maar oor die feit dat ons vrug moet dra. As iemand in die Messias bly, sal hy vir niks vra wat buite die wil van God val nie. As ons in gemeenskap met God is, sal ons nie vir dinge vra wat buite sy wil is nie. Die deel van die vers wat lui net wat julle wil hê word dus hierdeur beperk, en verwys na die vrug wat ons moet dra. Wat ons ook al vir God vra wat te doen het met vrug dra, sal beantwoord word, want dit is God se wil dat ons vrug moet dra. Hy wil sien dat elke gelowige vrug dra en daarom sal elke gebed wat in hierdie verband gerig word, beslis beantwoord word.

f. Johannes 15:16
Die sesde gedeelte is Johannes 15:16: … sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Hier gaan dit ook daaroor dat ons as gelowiges vrug moet dra, en word gebed met produktiwiteit geassosieer. Die deel wat lui wat julle … ook al … vra word teen hierdie agtergrond beperk tot vrug dra. Omdat dit God se wil is dat gelowiges vrug moet dra, sal God elke gebed wat hiermee verband hou, beantwoord. Johannes 15:16 beaam dus wat Johannes 15:7 ons geleer het. Gelowiges word om twee redes deur God gekies: Eerstens sodat hulle kan uitgaan om vrug te gaan dra en tweedens sodat wat [hulle] … ook al … vra deur God beantwoord sal word. In hierdie situasie beantwoord Hy dus gelowiges se gebede dat hulle vrug moet dra. Gelowiges wat vrug dra is beslis deel van God se wil.

g. Johannes 16:23-24
Die sewende gedeelte is Johannes 16:23-24: Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.

Dit is nie ’n blanko tjek wat beteken dat God enigiets wat jy vra vir jou sal gee, ongeag wat jy vra nie. Hierdie deel het te doen met vreugde en droefheid (vers 22). Dit is deel van God se wil dat ’n gelowige vreugde moet ervaar. Omdat daardie soort gebed binne God se wil is, sal die versoek beantwoord word. As ons dus vir God om vreugde vra wat ons redding betref, sal ons dit kry. As ons Hom vra vir vreugde in die uitleef van ons geestelike lewe, sal ons dit kry. God wil hierdie tipe gebed beantwoord.

h. 1 Johannes 5:14-15
Die agtste gedeelte is 1 Johannes 5:14-15. Vers 14 lui: … dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.

Hierdie beginsel is absoluut. As ons Hom vir enigiets vra wat in ooreenstemming met sy wil is, sal Hy ons gebede verhoor. Die enigiets waarvan daar in die vorige gedeeltes gepraat word, word dus deur hierdie gedeelte beperk tot enigiets wat met sy wil ooreenstem. Enigiets wat in ooreenstemming is met sy wil, sal aan ons gegee word. Enigiets wat nie met sy wil ooreenstem nie, sal geweier word. Dit is hoekom dit so belangrik is om in gemeenskap met die Here te lewe en te besef dat ons aan God se beloftes vashou. Dit is ook hoekom dit so belangrik is om te verstaan dat hierdie beloftes beperk word deur spesifieke voorwaardes. Die voorwaarde hier is: in ooreenstemming met sy wil.

Hierna sê vers 15: En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.

Weer eens beperk vers 14 wat ons ook al vra in vers 15. Die beperking is dat die gebed in ooreenstemming met die wil van God moet wees. Indien dit die geval is, sal ons gebede verhoor word. God sal dus gebede beantwoord wat in ooreenstemming met sy wil is.

Hierdie agt gedeeltes verskaf die beginsels van gebed wat vroeër bespreek is. God sal elke gebed wat in ooreenstemming met sy eie doel en vir ons eie beswil is, beantwoord. God se wil is die doel wat Hy vir ons het en beplan. As ons dus iets vra wat in ooreenstemming met sy doel en plan is, sal die antwoord “ja” wees, maar as dit nie die geval is nie, sal die antwoord “nee” wees. God verbind Homself daaraan om elke gebed wat binne die grense van sy wil val, te beantwoord. Gemeenskap is ’n manier om ons begeertes in ooreenstemming met God se wil te bring. As God se wil vir ons duidelik is of wanneer ons ’n duidelike belofte van God het, kan ons met vertroue bid dat die gebed beantwoord sal word.

[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
I. DIE SUBJEKTIEWE VOORWAARDES VAN GEBED
     A. Persoonlike voorvereistes
         1. Opregtheid
         2. Eerbied
         3. Nederigheid
         4. Volharding (lastigheid)
         5. Onderwerping
         6. Gehoorsaamheid
         7. Erns
         8. Om in die Messias te bly
         9. Vergifnis
         10. Berou
         11. Regverdigheid en Godvresendheid
         12. Vrymoedigheid
         13. Vurigheid
     B. Die belydenis van sondes
     C. Waaksaamheid
     D. Geloof
         1. Oortuiging
         2. Die inhoud van geloof
             a. God se bestaan
             b. God se vermoë om ons gebede te hoor
             c. God se gewilligheid om ons gebede te beantwoord
         3. Die beloftes van God
         4. Die vereiste subjektiewe voorwaarde van gebed
             a. Onvoldoende geloof
             b. Voldoende geloof
             c. Die volgorde
     E. In ooreenstemming met die wil van God
         1. Die beginsels
         2. Die skrifgedeeltes
             a. Matthéüs 21:22-22
             b. Matthéüs 26:39 en 42
             c. Markus 11:22-24
             d. Johannes 14:13-14
             e. Johannes 15:7
             f. Johannes 15:16
             g. Johannes 16:23-24
             h. 1 Johannes 5:14-15

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat is die objektiewe voorwaarde van gebed? Die beginsel van die objektiewe voorwaarde is dat gebed gerig moet wees aan die Vader, deur die Seun en deur middel van die Heilige Gees. Elke van die drie Persone in die Drie-Eenehid se rol in gebed word uitgelig.