Die wederkoms van die Messias

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?– Matthéüs 12:23

INLEIDING
In die bestudering van die voorwaardes en voorvereistes vir die Wederkoms van die Messias, is dit van wesenlike belang om te onthou dat die Skrifte Sy wederkoms uitbeeld as ’n gebeurtenis apart en afsonderlik van dié van die Wegraping. Anders as vir die Wederkoms van die Messias na die aarde toe, is daar vir die Wegraping van die Kerk geen voorvereistes nie. Uit die Skrifte is dit duidelik dat die Wegraping ’n sekere tyd voor die Verdrukking sal plaasvind, maar dit is nie bekend wanneer nie of hoe lank vooraf nie. En, omdat geen voorvereistes daaraan verbonde is nie, kan die Wegraping enige tyd gebeur. Vir die Wederkoms van die Messias, egter, is daar wel ’n belangrike voorvereiste. ’n Sekere voorwaarde moet nagekom word voordat die Messias sal terugkom om die Koninkryk te vestig.

Die doel van hierdie studie is om die basis vir die Wederkoms van die Messias vas te stel. Hierdie studie sal in twee hoof afdelings behandel word: die verwerping van Sy Messiasskap en die voorvereiste vir Sy Wederkoms.

I. DIE VERWERPING VAN SY MESSIASSKAP
Vir ’n volledige begrip van Sy wederkoms, moet ’n mens eers verstaan wat gebeur het toe Jesus se Messiasskap verwerp is. Volgens die uitleg van die Evangelie van Matthéüs, begin Jesus se bediening in hoofstuk 4. Vanaf hoofstuk 4 tot by hoofstuk 12, word Hy gesien waar Hy deur Israel beweeg en die Koninkryk aankondig en die evangelie van die Koninkryk van die Joodse profete verkondig en baie wonderwerke doen. Die doel van al Sy wonderwerke tussen hoofstukke 4 en 12, was om Sy Persoon en Sy boodskap te bekragtig. Dit was tekens om die volk Israel te dwing om tot ’n besluit te kom omtrent twee dinge: een, Sy Persoon, dat Hy die Messias is; en twee, Sy boodskap, die evangelie van die Koninkryk. Dan, in Matthéüs 12, het die hele doel van Sy wonderwerke en Sy bediening ’n radikale verandering ondergaan. In Matthéüs 12:22-37 is Sy Messiasskap verwerp.

Onder die baie wonderwerke wat Jesus gedoen het, was die uitdrywing van onrein geeste. Volgens vers 27 was daar ook duiwelbesweerders in die Judaïsme. In die Joodse metode van duiwelbeswering moes kommunikasie met die onrein gees eers bewerkstellig word om sy naam uit te vind. Deur dan die onrein gees se naam te gebruik, kon die duiwelbesweerder hom uitdryf. Daar was geleenthede waar Jesus die Joodse metode toegepas het, soos in Lukas 8:30. Wanneer onrein geeste praat, gebruik hulle die stembande van die persoon wat onder hulle beheer is. Maar in die geval van hierdie stom onrein gees was die Joodse duiwelbeswering tevergeefs, want kommunikasie met daardie soort onrein gees was onmoontlik. Die Joodse teologie het egter geleer dat die Messias, wanneer Hy sou kom, dit sou kon regkry om selfs daardie soort onrein gees uit te dryf. Die Joodse waarneming dat stom onrein geeste anders was, is deur die Messias bevestig in Markus 9:17-29, veral verse 17, 25, en 29.

Die Messias was daartoe instaat om daardie soort onrein gees uit te dryf, soos aangetoon word in Matthéüs 12:22: Toe het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.

Dit het daartoe gelei dat die mense in vers 23 begin vrae stel het: En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?

Die vraag was, “Kan Jesus regtig die Messias wees?” Een van die hoof doelwitte van hierdie wonderwerk was juis om hulle te laat sien dat Hy inderdaad die seun van Dawid was. Die mense was egter nie gewillig om self te oordeel oor Sy Persoon nie, maar het verwag dat hulle godsdienstige leiers, die Fariseërs, eenkant toe of anderkant toe met ’n uitspraak omtrent Hom vorendag moes kom. Hulle het vir die Fariseërs gewag om te besluit of Hy die Messias was en of Hy nie die Messias was nie. As Hy nie die Messias was nie, moes die Fariseërs ’n alternatiewe verduideliking aanbied oor hoekom Hy daartoe instaat was om al hierdie wonderwerke te doen, en in die besonder die wonderwerke wat uniek was aan die Messias en wat net Hy alleen veronderstel was om te kon doen.

Die Fariseërs, in vers 24, het verkies om die verduideliking te volg dat Hy nie die Messias was nie: Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.

Hulle het geweier om Jesus as die Messias te erken, omdat Hy nie ingepas het by hulle Fariseïstiese vorm of idee omtrent wat die Messias veronderstel was om te sê en te doen nie. Hulle alternatiewe verduideliking oor hoe Hy Sy wonderwerke gedoen het, was om te sê dat Hy Self deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, besete was. Dit het toe die amptelike basis geword vir die verwerping van die Messiasskap van Jesus. Dit is die suurdeeg van die Fariseërs (Luk. 12:1); die vals leer waarteen die Messias Sy dissipels sou waarsku. Hulle moes oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs: hulle aanspraak dat Jesus nie die Messias was nie, maar dat Hy inteendeel duiwelbesete was. Dit was op grond hiervan dat die Fariseërs die Messiasskap van Jesus verwerp het.

Jesus se reaksie is opgeteken in verse 25-29: Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke huis of stad wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.

Die Messias het op hierdie beskuldiging gereageer deur hulle te vertel dat hulle stelling nie waar kon wees nie, omdat dit sou beteken het dat Satan se koninkryk teen homself verdeeld was.

En in verse 30-37 is oordeel oor die geslag van daardie tyd uitgespreek: Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie. Julle moet óf die boom goed maak en sy vrugte goed, óf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

In vers 31, het daardie geslag die onvergeeflike sonde gepleeg: laster teen die Heilige Gees. Dit moet baie duidelik verstaan word presies wat die laster teen die Heilige Gees is in die enigste konteks waar dit voorkom, en dit moet dienooreenkomstig geïnterpreteer word. Die onvergeeflike sonde is nie ’n individuele sonde nie, maar ’n nasionale sonde. Dit was gepleeg deur daardie geslag van Israel in die tyd van Jesus en kan nie op daaropvolgende Joodse geslagte van toepassing gemaak word nie. Die onvergeeflike sonde was die nasionale verwerping van die Messiasskap van Jesus, terwyl Hy fisies teenwoordig was, op grond van die beskuldiging dat Hy duiwelbesete was. Hierdie sonde was onvergeeflik en oordeel is bevestig. Die oordeel het 40 jaar later in 70 NC gekom met die vernietiging van Jerusalem en die Tempel en die wêreldwye verstrooiing van die Joodse volk. Dit beteken nie dat individuele lede van daardie geslag nie gered kon word nie, want baie is wel gered. Dit het nietemin beteken dat niks wat hulle sou kon doen, die komende vernietiging van Jerusalem sou verhoed nie.

A. Die Teken van die Opstanding: Matthéüs 12:38-40
Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

Die Fariseërs was oorbluf oor hierdie uitspraak van oordeel. Hulle het, in vers 38, probeer om weer die opperhand te kry deur ’n teken te eis, so asof die Messias tot op daardie tydstip niks gedoen het om Sy Messiasskap te staaf nie! Maar in vers 39 verander die beleid ten opsigte van Sy tekens: van toe af sou daar nie meer enige tekens vir die volk wees nie, behalwe een. Hoewel die Messias steeds ná hoofstuk 12 aangehou het om wonderwerke te doen, het die doel van Sy wonderwerke verander. Hulle was nie langer vir die doel om Sy Persoon en Sy boodskap te bekragtig sodat die volk tot ’n besluit omtrent Hom kon kom nie. Daardie besluit was toe reeds geneem. Sy wonderwerke sou nou vir die doel wees om die Apostels op te lei vir die nuwe soort bediening wat hulle as gevolg van Sy verwerping sou moes volg. Dit is hierdie bediening wat die Apostels in die Boek Handelinge beoefen het.

Vir daardie geslag sou daar geen teken wees nie, behalwe een, “die teken van Jona,” die teken van opstanding. Dit is ’n teken wat op drie geleenthede tot Israel sou kom: by die opwekking van Lasarus (Joh. 11:1-46); by Jesus se eie opstanding (Matt. 16:1-4); en by die opstanding van die Twee Getuies in die Verdrukking (Op. 11:3-13). Die eerste twee tekens was verwerp. Die derde sal aangeneem word, want die opstanding van die Twee Getuies sal lei tot die redding van die Jode van Jerusalem.

B. Uitgevee, Versier, en Leeg: Matthéüs 12:41-45
Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier! Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en – meer as Salomo is hier! En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.

Hierdie skrifgedeelte sluit af met nog woorde van oordeel deur Jesus vir daardie geslag. Let op hoe dikwels die frase “hierdie geslag” in hierdie skrifgedeelte voorkom. In vers 41 vergelyk Hy hulle met Ninevé en toon aan hoekom Ninevé hierdie geslag sal veroordeel. Dieselfde geld in vers 42 vir die koningin van Skeba. In albei hierdie gevalle is die mense Heidene. Met baie minder openbaring waarvolgens hulle kon besluit, het hulle selfs sonder wonderwerke gereageer. Maar daardie geslag het nie.

In verse 43-45 word die oordeelswoorde dan afgesluit met ’n verhaal van ’n onrein gees om te illustreer wat die finale uiteinde van daardie geslag sou wees. Jesus het die verhaal vertel van ’n onrein gees wat uit sy eie vrye wil die persoon wat hy beset het, verlaat het. Maar toe hy nie daarin kon slaag om ’n nuwe liggaam te vind waar hy kon inwoon en wat hy kon beheer nie, het hy na sy oorspronklike woonplek teruggekeer. Hoewel hy dit uitgevee en versier aangetref het, het hy ook gevind dat dit steeds leeg was. Die individu het nooit die moeite gedoen om sy lewe met die Heilige Gees te vul nie. ’n Ander onrein gees het ook nie by hom ingetrek nie. Toe het die onrein gees weer ingetrek by die man wat hy voorheen beset het, en sewe ander onrein geeste wat nog slegter as hyself was, genooi om saam met hom daar te kom woon. Die gevolg was dat die man se laaste situasie erger was as die eerste. Aanvanklik was hy slegs deur een onrein gees beset. Nadat die onrein gees hom verlaat het, het hy die geleentheid gehad om sy lewe met die Gees van God te vul, maar hy het nagelaat om dit te doen. Nou was die man se laaste situasie erger as die eerste, want nou was hy beset deur agt onrein geeste.

Die punt van hierdie verhaal word dikwels nie verstaan nie. Jesus het die verhaal afgesluit deur uit te wys dat dit wat vir daardie man gegeld het, ook gegeld het vir daardie spesifieke bose geslag. Toe daardie geslag begin het, het dit begin met die prediking van Johannes die Doper. Johannes se bediening was om die mense voor te berei vir die ontvangs van die Messias. Deur die prediking van Johannes is daardie geslag skoongevee en versier. Maar noudat die Messias gekom het, het hulle Hom op grond van ’n beskuldiging van duiwelbesetenheid verwerp. Die volk wat skoongevee en versier was, het nou leeg gebly op grond van hulle verwerping van die Messiasskap van Jesus. En omdat daardie geslag leeg gebly het, sou hulle laaste situasie erger wees as die eerste.

Toe daardie geslag begin het, was hulle onder Romeinse heerskappy. Nogtans het hulle ’n nasionale entiteit besit. In die Sanhedrin het hulle ’n semi-outonome vorm van regering gehad. Jerusalem het daar in al sy Herodiaanse glorie gestaan, en die godsdientige aanbiddingstelsel in die Tempel het onbelemmerd voortgegaan. Maar, later, as gevolg van die verwerping van die Messias en die oordeel in 70 NC, het Israel as ’n nasionale entiteit ophou bestaan. In stede van onderdane te wees, is hulle deur die Romeinse leërs verstrooi. Die Tempel, die sentrum van die Judaïsme, is heeltemal vernietig sodat nie een klip op die ander bly staan het nie. Uiteindelik is die Jode dwarsoor die hele wêreld verstrooi. Inderdaad het die laaste situasie van daardie geslag dus erger geword as die eerste. Vanaf ’n situasie van onderdane te wees, het hulle oorgegaan in ’n situasie van wêreldwye verstrooiing.

C. Die Teken van Jona: Johannes 11:1-57
Selfs ná die gebeure van Matthéüs 12, het die Fariseërs Jesus genader en ’n teken geëis wat Sy Persoon en Sy boodskap sou bekragtig (Matt. 16:1-4). In elke geval het Hy geweier om vir hulle enige ander tekens te gee, maar het wel vir hulle een teken belowe, die teken van Jona, wat die teken van opstanding is.

Die opwekking van Lasarus, wat opgeteken is in Johannes 11:1-44, is die voorstelling van die eerste teken van Jona. Die Messias het ook andere uit die dood uit opgewek, maar al die ander opwekkings word net in ’n paar verse behandel. Hier, egter, gebruik die apostel Johannes 44 verse om Lasarus se opwekking in groot besonderhede weer te gee. Hoekom? Dit is die teken van Jona wat Jesus belowe het. In vers 42 stel Jesus dit baie duidelik ter wille van wie Lasarus opgewek is, naamlik die Joodse menigtes: en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.

Dan volg die reaksie van die Jode in verse 45-46: En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.

In vers 45, het sommige Jode korrek gereageer op hierdie eerste teken van Jona en geglo dat Jesus was wie Hy gesê het Hy is. Maar in vers 46, het andere steeds ’n uitspraak of oordeel van hulle leiers verwag, en daarom het hulle aan die Fariseërs verslag gelewer van dit wat Jesus gedoen het. Aangesien dit die teken was wat die Messias vir hulle belowe het, moes hulle eenkant toe of anderkant toe reageer.

D. Die Sanhedrin se Uitspraak: Johannes 11:47-50 en 51
En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. Vers 53 vervolg: Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.

Die Fariseërs se reaksie was in ooreenstemming met hulle oorspronklike uitspraak van Matthéüs 12. Die Sanhedrin het vergader om ’n besluit te neem oor hoe hulle moes reageer op die teken van Jona wat gegee is met Lasarus se opwekking. Hulle het ’n verklaring van verwerping uitgereik en na ’n geleentheid begin soek om Hom dood te maak. Die verwerping van die Messiasskap van Jesus was nou finaal. Bo en behalwe die verwerping van Sy Messiasskap, het hulle Hom ook nou ter dood veroordeel.

Verse 54-57 beskryf die gebeure wat volg op die Sanhedrin se uitspraak. Eerstens, in vers 54, het die Messias Homself vir ’n kort rukkie verberg, omdat die uur van Sy dood nog nie daar was nie. Tweedens, in verse 55-56, het die mense steeds vrae gestel oor Sy Persoon, ’n logiese handeling vir hulle in die lig van Lasarus se opwekking. En derdens, in vers 57, is die Sanhedrin se uitspraak na die massas afgewentel: En die owerpriesters en die Fariseërs het ook ’n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.

Hulle het ’n geleentheid gesoek om Hom dood te maak. Die verwerping wat in Matthéüs 12 gebeur het, het in Johannes 11 gekulmineer met ’n uitspraak van die doodstraf wat oor die Persoon van die Messias gehang het. Die eerste teken van Jona, die opwekking van Lasarus, is verwerp.

E. Die Triomf Intog: Lukas 19:41-44
En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.

Verdere lig word gewerp op die aard van die onvergeeflike sonde in die verwerping van die Messiasskap van Jesus. Hierdie skrifgedeelte val in die konteks van Jesus se Triomf Intog in Jerusalem. In vers 38 roep duisende Jode uit: “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here,” wat in die Joodse verwysingsraamwerk ’n amptelike messiaanse groet is, gebaseer op die messiaanse konteks van Psalm 118:26. Die Joodse menigtes het Sy Messiasskap verklaar toe Hy Jerusalem genader het. Die Joodse leiers het egter reeds die onvergeeflike sonde gepleeg. Oordeel was alreeds oor daardie geslag vasgestel. Aangesien die sonde onvergeeflik was, was daar geen manier waarop daardie oordeel versag kon word nie. Ten spyte dus van die menigtes wat Hom as die Messias uitgeroep het, het Jesus oordeelswoorde oor die Stad Jerusalem uitgespreek.

F. Die Fariseërs Veroordeel: Matthéüs 23:1-36
Hierdie hele hoofstuk word gewy aan ’n veroordeling en verdoeming van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs, die leiers van Israel, vir verskeie sondes. In verse 1-12 word hulle verdoem vir hulle skynheiligheid. In verse 13-14 word hulle verdoem omdat hulle die volk gelei het in die verwerping van die Messiasskap van Jesus. In vers 15 word hulle verdoem vir die verdorwing van die bekeerlinge tot die Judaïsme. In verse 16-22 word hulle verdoem omdat hulle die Mosaïese Wet ondoeltreffend gemaak het deur hulle fariseïstiese tradisies. In verse 23-24 word hulle verdoem vir hulle verheffing van nietighede. In verse 25-28 word hulle verdoem omdat hulle groot klem lê op slegs die uiterlikhede. En in verse 29-36 word hulle verdoem vir hulle verwerping van die profete. Daar is twee kern gedeeltes omtrent hierdie veroordeling wat relevant is vir hierdie studie.

1. Matthéüs 23:13
Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.

Die Fariseërs word nie net aanspreeklik gehou vir hulle verwerping van die Messiasskap van Jesus nie, maar ook omdat hulle die hele volk gelei het om Sy Messiasskap te verwerp. Dit is ’n belangrike faktor hierdie wat in ag geneem moet word vir die begrip van wat die basis sal wees vir die Wederkoms van die Messias.

2. Matthéüs 23:29-36
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in julle sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.

Hierdie verse lê klem op die felheid van die oordeel oor daardie geslag. Die oordeel is primêr oor die leiers, maar dit is ook oor die volk wat deur die leiers voorgegaan is in die verwerping van die Messiasskap van Jesus. Jesus het verklaar dat hulle nie net aanspreeklik gehou sou word vir die verwerping van Sy Messiasskap nie, maar hulle sou ook aanspreeklik gehou word vir die bloed van al die Ou Testamentiese profete. In die Joodse orde van die Ou-Testamentiese boeke, wat Jesus gebruik het, is Génesis die eerste boek, en hier word Abel genoem. Die laaste boek is II Kronieke, en hier word Sagaría genoem. Jesus het verklaar dat hulle skuldig was aan al die bloed van Génesis tot II Kronieke, soos wat ons vandag sou sê, “van Génesis tot Openbaring.” Daardie geslag was dus skuldig aan die bloed van al die profete. Die rede was dat alles wat God bedoel het om oor die Messias te sê, alreeds deur die Joodse profete gesê was. Daardie geslag het die hele Ou-Testamentiese kanon besit, in hulle hande. Verder het hulle die prediking gehad van Johannes die Doper wat die nabye koms van die Here verkondig het. Ten slotte het hulle die fisiese manifestasie en teenwoordigheid van Jesus die Messias gehad, wat gekom het met al die stawende tekens. Desnieteenstaande het hulle Sy Messiasskap in navolging van hulle leiers verwerp. Om hierdie rede sou hulle aanspreeklik gehou word vir die bloed van al die profete wat oor die Messias geprofeteer het. Dit is iets wat uniek was aan daardie geslag, soos uitgewys word in vers 36, “Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.” Dit is die oordeel oor die onvergeeflike sonde.

Die punt wat tot dusver in hierdie studie gemaak is, is soos volg: die Messiasskap van Jesus is deur die Joodse leierskap verwerp en hulle het ook die volk gelei om Sy Messiasskap te verwerp op grond van ’n beskuldiging van duiwelbesetenheid.

’n Paar dae nadat hierdie woorde gespreek is, is die tweede teken van Jona gegee, in die opstanding van die Messias. Die tweede teken van Jona is in Handelinge 1-7 verwerp. Die Sanhedrin se steniging van Stéfanus in Handelinge 7 is die aanduiding van die amptelike verwerping van die tweede teken van Jona. Dit is hoekom die evangelie eers in Handelinge 8 vir die eerste keer uitgaan na die nie-Joodse wêreld.

Die Brief aan die Hebreërs is geskryf aan ’n groep Joodse gelowiges wat dit as gevolg van vervolging oorweeg het om tot die Judaïsme terug te keer. Die skrywer van die Hebreërbrief waarsku hulle om hulleself heeltemal af te skei van die Judaïsme wat die Messias verwerp het. As hulle hul nie sou distansieer nie, sou hulle betrek word in die oordeel van 70NC en fisies sterf. Slegs as hulle hulself volledig van die Judaïsme sou afskei, sou hulle die geleentheid kry om te ontsnap uit die oordeel oor daardie geslag. Die afloop hiervan word natuurlik nie in die Hebreërbrief gegee nie, maar dit is wel bekend uit die geskrifte van Josefus en Eusebius wat aanhaal uit Hegisippius, ’n gelowige Joodse historikus van die tweede eeu. Hierdie skrywers het op skrif gestel hoe die Joodse gelowiges in gehoorsaamheid aan die skrywer van die Hebreërbrief, hulleself van die Judaïsme afgeskei het. Toe die opstand teen Rome in 66NC begin het, het die hele Messiaanse Joodse gemeente die land verlaat en in die dorpie Pella op die oosbank van die Jordaan gebly totdat die oorlog verby was. Hoewel 1,100,000 Jode in hierdie opstand teen Rome gesterf het, is nie een gelowige doodgemaak nie. As hulle nie geluister het na die skrywer van die Hebreërbrief nie, sou hulle fisies gesterf het. Maar omdat hulle wel gehoorsaam was, het hulle met hulle lewens ontsnap, en was bevry van die oordeel oor daardie geslag.

II. DIE VOORVEREISTE VIR DIE WEDERKOMS
Om uit te vind wat die voorvereiste vir die Wederkoms is, moet daar gekyk word na ’n verdere vyf skrifgedeeltes.

A. Levitikus 26:40-42
Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen My gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het, sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid, sal Ek dink aan my verbond met Jakob; en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink, en aan die land sal Ek dink.

In Levitikus 26 het Moses voorspel hoe die volk oor die hele wêreld verstrooi sou word as gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil. Volgens die Nuwe Testament het dit gebeur as ’n direkte gevolg van die verwerping van die Messiasskap van Jesus. Teen vers 39 is die wêreldwye verstrooiing ’n feit. Tot op hierdie punt is Levitikus 26 reeds vervul.

In vers 42 sê Moses dat dit God se volle bedoeling is om vir Israel al die seëninge en beloftes van die Abrahamitiese Verbond te gee, veral in soverre die Verbond betrekking het op die Beloofde Land. Maar voordat hulle kan begin om hierdie seëninge tydens die Messiaanse Bedeling te beleef, is dit eers vir hulle nodig om die voorwaarde van vers 40 na te kom, naamlik: “hulle sal hulle ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders.” Let daarop dat die woord “ongeregtigheid” in die enkelvoud is en dat dit spesifiek is. Daar is een spesifieke ongeregtigheid wat Israel moet bely voordat hulle kan begin om al die voorregte van die Abrahamiteise Verbond te ondervind. Hierdie ongeregtigheid is deur hulle vaders of voorsate gepleeg, maar dit moet nou deur ’n volgende geslag bely word.

B. Jeremia 3:11-18
Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE. Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ’n stad en twee uit ’n geslag en sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand. En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie. In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.

In verse 14-18 begin Jeremia om die seëninge te beskryf wat God vir Israel in die Messiaanse Koninkryk voorbestem het. Dit sal ’n tyd van ontsaglike seën en herstel wees vir die Joodse volk wanneer die Koninkryk deur hulle Messias gevestig word. Maar in vers 13 word ’n voorwaarde gestel vir al hierdie seëninge, naamlik dat hulle een spesifieke ongeregtigheid wat hulle teen die HERE hulle God gepleeg het, moet erken of bely.

C. Sagaría 12:10
Sagaría 12, 13, en 14 is een profetiese openbaring, ’n eenheid van denke wat een tema ontwikkel. Hoofstuk 13 gaan oor Israel se nasionale reiniging van hulle sonde. Hoofstruk 14 beskryf die Wederkoms van die Messias en die vestiging van die Koninkryk.

Die reiniging van Israel gevolg deur die Wederkoms van die Messias en die Messiaanse Koninkryk, berus egter alles op die voorwaarde van Sagaría 12:10: Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind.

Voordat Israel die reiniging van hulle sonde sal ontvang en voordat die Messias sal terugkeer om Sy Koninkryk te vestig, moet Israel eers opsien na die Een wat hulle deurboor het en pleit vir Sy terugkeer. Sodra hulle dit gedoen het, dan en alleenlik dan, sal hulle hul reiniging ontvang en begin om die seëninge van die Messiaanse bedeling te ervaar.

D. Hoséa 5:15
Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle my soek.

Die Een wat regdeur hierdie hoofstuk praat, is God Self. Daar is sekere voorveronderstellings met betrekking tot die begrip van hierdie vers. Voordat iemand kan terugkeer na ’n plek toe, moet hy dit eers verlaat. In hierdie skrifgedeelte verklaar God dat Hy terugkeer na Sy woonplek. God se woonplek is die Hemel. Voordat God kan terugkeer Hemel toe, moet Hy dit eers verlaat. Die vraag is, “Wanneer het God ooit die Hemel verlaat?” God het die Hemel verlaat by die Inkarnasie in die Persoon van Jesus van Nasaret. Toe, op grond van een spesifieke sonde wat teen Hom gepleeg is, het Hy met die Hemelvaart vanaf die Olyfberg, na die Hemel teruggekeer. Hierdie vers verklaar verder dat Hy nie sal terugkom aarde toe voordat die oortreding wat Hom genoodsaak het om terug te gaan Hemel toe, nie erken of bely word nie. Wat is daardie Joodse nasionale oortreding wat teen die Persoon van Jesus begaan is? Dit is nie, soos baie glo, dat Hy doodgemaak is nie. Jesus is in werklikheid deur Heidene doodgemaak, nie deur Jode nie. Hy was veroordeel en gevonnis deur ’n Heidenregter. Hy was gekruisig deur Heidensoldate. Dit alles is egter uiteindelik irrelevant, want ongeag van Joodse aanneming of Joodse verwerping, sou Jesus in elk geval moes gesterf het om die offer vir die sonde te word. Die nasionale oortreding van Israel was hulle verwerping van Sy Messiasskap. Volgens hierdie vers sal die Messias terugkeer aarde toe alleenlik wanneer hierdie oortreding erken of bely word.

E. Matthéüs 23:37-39
Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

Soos vroeër aangetoon, bevat hierdie hoofstuk die Messias se veroordeling van die Skrifgeleerdes en Fariseërs, die Joodse leierskap van daardie tyd, omdat hulle die volk voorgegaan het in die verwerping van Sy Messiasskap. Steeds in gesprek met die Joodse leierskap, herhaal Jesus in vers 37 Sy oorspronklike begeerte om hulle bymekaar te maak as hulle Hom net sou wou toelaat. As gevolg van hulle verwerping van Sy Messiasskap, sal hulle verstrooi word in plaas van bymekaar gemaak te word. In vers 38 sal hulle huis, die Joodse Tempel, leeg gelaat en dan vernietig word, met niks wat sou oorbly nie. Maar dan verklaar Hy dat hulle Hom nie weer sou sien nie, totdat hulle sou sê, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Dit is ’n messsiaanse groet hierdie, en dit sal aanduidend wees van hulle aanneming van Sy Messiasskap.

Jesus sal dus nie terugkeer aarde toe voordat die Jode en die Joodse leiers Hom vra om terug te kom nie. Want net soos die Joodse leiers voorheen die volk gelei het in die verwerping van Sy Messiasskap, net so moet hulle eendag die volk lei in die aanneming van Sy Messiasskap.

Dit is hierdie feit in die besonder wat Satan se oorlog teen die Jode, regdeur die geskiedenis in die algemeen en tydens die Verdrukking, verduidelik. Satan weet dat sy vryheid tot ’n einde kom sodra die Messias terugkeer. Satan weet ook dat Jesus nie sal terugkom voordat die Joodse leiers Hom vra om terug te kom nie. As Satan dus daarin kan slaag om die Jode eens en vir altyd te vernietig voordat hulle tot nasionale bekering kan kom, sal Jesus nie terugkom nie en dan is Satan se posisie vir ewig veilig. Dit is waarom Satan, wanneer hy tot sy vierde verblyfplek* beperk is en weet dat sy tyd kort is, al sy sataniese magte inspan om die Jode vir eens en vir altyd te probeer vernietig. Anti-Semitisme in enige vorm, aktief of passief, hetsy rassisties, etnies, nasionaal, ekonomies, polities, godsdienstig, of teologies, is alles deel van die sataniese strategie om die Wederkoms te voorkom.

Dit is dan die tweevoudige basis vir die Wederkoms van die Messias: eerstens moet Israel hulle nasionale sonde bely; en tweedens moet Israel dan smeek dat die Messias moet terugkom, “om oor Hom te rouklaag soos wat ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun.”

[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
I. DIE VERWERPING VAN SY MESSIASSKAP
     A. Die Teken van die Opstanding: Matthéüs 12:38-40
     B. Uitgevee, Versier, en Leeg: Matthéüs 12:41-45
     C. Die Teken van Jona: Johannes 11:1-57
     D. Die Sanhedrin se Uitspraak: Johannes 11:47-50 en 53
     E. Die Triomf Intog: Lukas 19:41-44
     F. Die Fariseërs Veroordeel: Matthéüs 23:1-36
         1. Matthéüs 23:13
         2. Matthéüs 23:29-36
II. DIE VOORVEREISTE VIR DIE WEDERKOMS
     A. Levitikus 26:40-42
     B. Jeremia 3:11-18
     C. Sagaría 12:10
     D. Hoséa 5:15
     E. Matthéüs 23:37-39

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die Kom Kyk Dissipelskapkursus word afgesluit met ‘n uiteensetting van Psalm 90. Hierdie psalm se boodskap en die toepassing vir gelowiges vandag is vierledig. Eerstens moet ons erken dat die lewe kort is as jy uit ’n goddelike perspektief daarna kyk, maak nie saak hoe lank ons leef nie. Tweedens is nie al ons jare produktief nie, ongeag hoe lank ons leef. Trouens, net die middeljare is produktief, en selfs dan kan ons produktiwiteit belemmer word deur tragedie en siekte. Derdens moet ons baie bewus wees van hoeveel tyd ons oor het in hierdie wêreld. Vierdens moet ons ons lewens só beplan dat ons so produktief moontlik vir die Here kan wees en sy werk kan doen.