Die wegraping van die Kerk

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. – Matthéüs 24:6-8

Die onsigbare of Universele Kerk bestaan uit alle ware gelowiges, terwyl die sigbare of Plaaslike Kerk uit sowel gelowiges as ongelowiges kan bestaan. Die eskatologie van die onsigbare Kerk hoort paslik by die studie van voorverdrukking gebeure. Die eskatologie van die onsigbare Kerk omvat vyf hoof faktore: die Kerk sal weggeraap word; die Kerk sal geoordeel word en loon ontvang; die Kerk sal die bruid van die Messias word; die Kerk sal saam met die Messias in die Koninkryk regeer; en die Kerk sal by die volle Drie-Enige God woon in die ewige Nuwe Jerusalem.

Net die eerste drie faktore val binne die reikwydte van hierdie Messiaanse Bybelstudie, wat dus in drie hoof afdelings uiteenval: die definisie van die onsigbare Kerk, die Wegraping van die Kerk, en die twee gebeurtenisse wat volg op die Wegraping van die Kerk.

I. DIE DEFINISIE VAN DIE ONSIGBARE KERK
’n Duidelike definisie van die wesenlike samestelling van die onsigbare Kerk kan van vyf skrifgedeeltes in die Bybel afgelei word. Begrip hiervan sal help om presies uit te klaar wie by die Wegraping betrokke is.

Die eerste skrifgedeelte, Kolossense 1:18, verklaar dat die Kerk die Liggaam van Christus is: En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Die tweede skrifgedeelte, Efésiërs 2:11-16, beskryf die samestelling van hierdie Liggaam, die Kerk: Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees wat met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Die samestelling van die Kerk, die Liggaam van Christus, is ’n kombinasie van Jode en Heidene wat verenig is deur geloof in Jesus die Messias. Hierdie skrifgedeelte toon duidelik aan dat daar net so min iets soos ’n Heidenkerk bestaan as wat daar ’n Joodse een bestaan. Totdat die Messias gesterf het, was daar net twee entiteite: die Jode en die Heidene. Nou is daar egter ’n derde entiteit, die een nuwe mens, wat gedefinieer word as een liggaam, die Kerk. Die Kerk is nie Joods of Heidens nie, maar Joods-Heidens, bestaande uit gelowiges vanuit die Jode en gelowiges vanuit die Heidene, wat verenig is in ’n nuwe entiteit: die Kerk. Nogtans behou elkeen van hulle hul eie etniese identiteit. Dit is ware eenheid sonder eendersheid. Dus, die Heidene is mede-erfgename … en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie (Ef. 3:6); hulle is mededeelgenote, hulle is nie “oornemers” nie.

’n Hoof doel van die Kerkbedeling is die roeping van die Heidene deur die evangelie, volgens Handelinge 15:14: Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.

Hierdie roeping van die Heidene sal volgens Romeine 11:25-27 voortduur totdat die volle getal van die Heidene wat God vir die Kerk vasgestel het, bereik is: Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.

Terwyl God dus besig is met ’n werk onder die Heidene, is die doel daarvan nie net gerig op die Heidene nie, maar die doel het ook betrekking op die Jode. Een van die doelwitte van die redding van die Heidene, is juis om die Jode jaloers te maak sodat baie Jode ook gedurende die Kerkbedeling tot geloof kan kom in Jesus die Messias (Rom. 11:11-15). Heidengelowiges geniet die voorregte van die geestelike seëninge van die Joodse verbonde en word in ’n Joodse olyfboom ingeënt (Rom. 11:17-24), want die saligheid is uit die Jode (Joh. 4:22). Die Kerk is dus ’n liggaam wat saamgestel is uit Jodelede wat die natuurlike takke is, en Heidenlede wat die wilde olyftakke is. Hierdie twee entiteite word verenig deur geloof in die Messias.

Hoedat ’n mens die Liggaam binnekom, word verduidelik deur die derde skrifgedeelte, I Korinthiërs 12:13: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Die Kerk is die Liggaam van Christus, en hierdie Liggaam bestaan uit ’n samestelling van Jodegelowiges en Heidengelowiges, en toegang tot die Liggaam geskied deur doping met die Gees. Elke gelowige is ’n lidmaat van die Liggaam op grond van die doping met die Heilige Gees, ’n gebeurtenis wat plaasvind die oomblik wanneer ’n mens glo en gered word. Kennis van hoe ’n mens ’n lidmaat van die Liggaam van Christus word, help om vas te stel wanneer die Kerk begin het. Dit, op sy beurt, is belangrik om te bepaal wie by die Wegraping betrokke is.

In die vierde skrifgedeelte, Handelinge 1:5, word dit deur die gebruik van die toekomende tyd duidelik gemaak dat die doping met die Gees nog in die toekoms was: Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

Die eerste keer dat die term kerk gebruik word, is in Matthéüs 16:18, en daar word die toekomende tyd ook gebruik: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou. Die Kerk het nie in die Ou Testament bestaan nie, en dit het ook nie tydens die geskiedenisperiode van die evangelie bestaan nie.

As die doping met die Gees in Handelinge 1:5 nog in die toekoms was, is die vraag: “Wanneer het dit begin?” Dit word algemeen aanvaar dat die doping met die Gees met Pinkster in Handelinge 2 begin het, maar dit is onmoontlik om dit uit Handelinge 2 te bewys, want hierdie hoofstuk sê niks oor die doping met die Gees nie. Maar dat doping met die Gees wel in Handelinge 2 begin het, word aangetoon deur die vyfde skrifgedeelte, Handelinge 11:15-16: En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.

As Petrus in vers 15 sê: soos ook op ons in die begin, verwys hy na die ondervinding van die Joodse Apostels in Handelinge 2. In vers 16 haal Petrus dan Handelinge 1:5 aan en verklaar dat die profesie van doping met die Gees in vers 5 in die begin vervul is toe die Heilige Gees met Pinkster op die Apostels geval het.

’n Duidelike definisie, dan, is dat die Liggaam van Christus, die Kerk, saamgestel is deur beide Jodegelowiges en Heidengelowiges en toegang tot hierdie Liggaam is alleenlik deur doping met die Gees. Aangesien doping met die Gees nie begin het voor Pinkster in Handelinge 2 nie, kon die Kerk nie voor hierdie tyd bestaan het nie. Toe Jesus in Matthéüs 16:18 gepraat het van Sy Kerk wat gebou sou word, het Hy die toekomende tyd gebruik, wat aandui dat die Kerk toe nog nie begin het nie. ’n Hoof rede is dat sowel Sy opstanding (Ef. 1:19-20) as Sy hemelvaart, en die uitdeling van geestelike gawes wat daarop gevolg het (Ef. 4:7-12), voorvereistes was vir die bou van die Kerk.

Die Kerk word saamgestel uit alle ware gelowiges vanaf Pinkster in Handelinge 2 tot met die Wegraping van die Kerk. Ou-Testamentiese heiliges en heiliges van die Verdrukking word nie by die Wegraping ingesluit nie. Die enigste heiliges wat dus weggeraap sal word, is die Kerkheiliges. Die skrifgedeeltes wat handel oor die Wegraping stel dit duidelik dat net diegene in Christus deel sal hê aan die Wegraping. Regdeur sy geskrifte gebruik Paulus op ’n baie tegniese wyse sulke terme soos in Christus, in Jesus Christus, in Christus Jesus, in hom, in wie, in die Here, verwysend na diegene wat met die Gees ingedoop is in die Liggaam van Christus, die Kerk.

II. DIE WEGRAPING VAN DIE KERK
Daar is twee afsonderlike kwessies ten opsigte van die Wegraping van die Kerk: een, die gebeure van die Wegraping; en twee, die tydsaspek van die Wegraping.

A. Die Gebeure van die Wegraping
Drie kern skrifgedeeltes moet bestudeer word om die Wegraping van die Kerk te verstaan.

1. Johannes 14:1-3
Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Hierdie skrifgedeelte beskryf nie besonderhede van die Wegraping nie, maar dit bevat die belofte van die Wegraping, want die Messias het belowe om terug te kom vir die gelowiges. Niks word geopenbaar ten opsigte van die tyd of die omstandighede nie, net die feit dat daar ’n koms van die Messias vir Sy heiliges sal wees. Hierdie koms spesifiek vir die heiliges, is die onderwerp wat in die ander twee skrifgedeeltes geopenbaar word. Hierdie skrifgedeelte lê klem op een hoof punt: die doel van Jesus se koms vir die gelowiges, is om hulle na die plek toe te neem waarheen Hy op daardie tydstip sou gaan. Aangesien Jesus Hemel toe gegaan het, sal Sy terugkoms vir die heiliges wees om hulle Hemel toe te vat en nie aarde toe nie. Dit is belangrik, want in die Postverdrukkingsleer ontmoet die heiliges die Here in die lug en kom saam met Hom terug aarde toe. Dit is egter nie wat die belofte hier sê nie; wat dit sê, is dat Hy sal kom en die heiliges Hemel toe sal neem. Die skrifgedeelte self sê niks omtrent die tydsaspek van die Wegraping nie, net dat dit sal uitloop op die Kerkheiliges se aankoms in die Hemel. Dit pas goed in by die Voorverdrukkingsleer.

2. I Thessalonicense 4:13-18
Hierdie skrifgedeelte beskryf die program van die Wegraping. Paulus beantwoord in verse 13-15 ’n vraag wat in die gemeente van die Thessalonicense geopper is, “Verbeur gestorwe gelowiges die voorregte van die Wegraping?”: Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.

Hierdie lewende gelowiges het verstaan dat daar ’n Wegraping sou wees, maar hulle het nie verstaan hoe reedsgestorwe heiliges daarby betrokke sou wees nie. Daarom het sommiges geglo dat net lewende gelowiges die voorregte van die Wegraping sou smaak en dat die gestorwe gelowiges nie sou nie. Hierdie vraag het ontstaan omdat daar gelowiges was wat kort tevore gesterf het. Hulle geliefdes wat nog gelewe het, was ontsteld omdat hulle nie kon weet wat die toekoms vir die gestorwenes ingehou het nie. Klaarblyklik het Paulus, toe hy nog by hulle was, sekere feite omtrent die Wegraping van die lewendes verduidelik, maar nie hoe dit die gestorwenes sou raak nie.

Met verwysing na die dood van gelowiges, gebruik Paulus die term “slaap.” Hierdie term, wanneer dit as ’n sinoniem vir die dood gebruik word, het slegs betrekking op gelowiges, nooit op ongelowiges nie. Die Bybel beskou dus die dood van gelowiges as ’n tydelike opskorting van fisiese aktiwiteit totdat die gelowige met die Wegraping wakker word. Net soos wat fisiese slaap ’n tydelike opskorting is van fisiese aktiwiteit totdat ’n mens wakker word – maar sonder dat daar ’n opskorting is van verstandelike aktiwiteit – is die dood ’n tydelike opskorting van fisiese aktiwiteit totdat ’n mens wakker word met die opstanding. Hierdie verse leer nie “sieleslaap” nie, want daar is geen staking van sielegees aktiwiteit nie, net staking van fisiese aktiwiteit.

Nadat Paulus verduidelik het dat gestorwe gelowiges die voorregte van die Wegraping beleef voordat die lewendes dit beleef, staaf hy dan in verse 16-17 sy verklaring met die chronologiese volgorde van die gebeure van die Wegraping wat in sewe stadiums plaasvind: Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

Een, die Here self sal van die hemel neerdaal. Op ’n sekere tyd in die toekoms sal die Messias uit die Hemel van die hemele neerdaal na die lug bo die aarde.

Twee, met ’n geroep. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is die bevel van ’n militêre hoofleier, wat uit sy bevelvoerderstent kom om die bevel te gee. Eendag sal die Hoofbevelvoerder uit Sy hemelse tent kom en roep, ’n bevel gee, dat die opstanding en die verheerliking van gelowiges se liggame moet plaasvind.

Drie, met die stem van ’n aartsengel. Engele word dikwels gebruik om God se plan in werking te stel. Die Aartsengel Mígael sal op so ’n wyse vir die Wegraping gebruik word. Die inhoud van wat die stem sê, word nie gegee nie. Maar as bekende militêre prosedures op hierdie situasie van toepassing gemaak kan word, dan is dit eenvoudig die bevel of die geroep van die hoofbevelvoerder wat deur die onderbevelvoerder herhaal word. Jesus gee die geroep of die bevel vir die program van die Wegraping om te begin, en dit is Mígael se taak om dit in werking te stel deur die bevel te herhaal.

Vier, met geklank van die basuin van God. Die geklank van die basuin was aangewend as die oproep tot óf oorlog óf aanbidding. Wanneer Mígael die bevel herhaal, weerklink die basuin en dit sit die Wegraping in beweging. Hierdie basuin dien dus as die oproep vir die plan om in werking te tree.

Vyf, en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Dit is die opstanding van gestorwe heiliges. Die rede hoekom hulle nie die voorregte van die Wegraping sal verbeur nie, is omdat hulle dit in werklikheid eerste sal ervaar. Die uitdrukking in Christus beperk die opstanding met die Wegraping tot diegene wat deur die Heilige Gees in die Liggaam van Christus, die Kerk, ingedoop is. Hierdie opstanding van gestorwe heiliges is daarom beperk tot Kerkheiliges alleenlik. Ou-Testamentiese heiliges sal op ’n later stadium in God se profetiese program opgewek word.

Ses, Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word. Die opstanding van gestorwe heiliges word gevolg deur die verandering van die liggame van lewende heiliges. Elke gelowige, sonder uitsondering, sal van die aarde af weggeneem word om met die Here verenig te word en altyd by die Here in die hemele te wees. Die Griekse woord hier, harpazo, beteken “om opgegryp te word.” Die bron van die Engelse woord rapture, wat in Afrikaans algemeen as wegraping bekend staan, is afkomstig van ’n Latynse bron gelykstaande aan die Griekse term. Lewende gelowiges sal saam met die opgestane gestorwe gelowiges opgegryp of weggeraap word.

Die sewende stadium is om die Here tegemoet te gaan in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Die finale stap in die gebeure van die Wegraping, is dat sowel die opgestane gestorwe gelowiges as die lewende gelowiges wie se liggame verander is, die Here in die lug sal ontmoet. Dan volg die waarborg dat gelowiges, sodra hulle in die lug met Hom verenig is, permanent by Hom sal bly en saam met Hom na die Hemel toe sal teruggaan, as vervulling van die beloftes in Johannes 14:1-3. Hierdie skrifgedeelte sê ook niks oor die tydsaspek van die Wegraping nie, maar gee net die chronologiese orde waarvolgens dit plaasvind.

Met die frase in vers 18, Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde, vertroos Paulus dan die bedroefde lidmate met die feit dat gestorwe gelowiges nie die voorregte van die Wegraping sal verbeur nie; trouens, hulle sal eerste begin om die voorregte te ontvang.

3. I Korinthiërs 15:50-58
Die derde skrifgedeelte handel oor die verandering in die aard van die liggame. In vers 50 verklaar Paulus die noodsaaklike verwisseling van liggaam vir die weggeraapte lewende en opgestane gestorwe heiliges: Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die agtergrond vir hierdie stelling kom voor in Génesis 2:17: maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Dit word verder ontwikkel in Génesis 3:17-19: En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

As gevolg van die sonde was die mens nou onderworpe aan vervloeking en sterflikheid.

Volgens Romeine 5:12-14 word alle mense deur toerekening gesien as aandadig aan die skuld van Adam se sonde: Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het – want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat ’n voorbeeld is van Hom wat sou kom.

Die mensdom lewe onder die oordeel van die dood, waar die fisiese liggaam onderworpe is aan verderwing en sterflikheid. Die sondenatuur is in die liggaam, en die gevolge van die sonde word gesien in die dood van die liggaam. Hierdie soort liggaam, onderworpe aan sonde, sterflikheid, die dood, en verderwing, kan nie die Ewige Staat binnegaan nie. ’n Verwisseling van liggaam sal daarom nodig wees, hetsy deur opstanding of verandering, voordat die liggame in die ewigheid kan ingaan.

Hierdie nodige verwisseling word beskryf in I Korinthiërs 15:51-53: Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.

Die klem val op die snelheid en vlugheid van die verwisseling. Dit sal in ’n oomblik gebeur. Die Griekse term agter hierdie woord is die oorsprong van die Engelse woord “atom” wat in Afrikaans verstaan word as onder andere ’n “greintjie” of ’n breukdeel of ’n vervlietende moment. Dit word benadruk dat dit so vinnig sal gebeur, dat dit net ’n “greintjie van tyd“ sal neem. Verder sal dit in ’n oogwink wees. Hierdie verwysing dui nie op die knip van ’n oog nie, maar op “ ’n skielike flits van herkenning.” Dit is soos om ’n persoon te sien en dan skielik te besef wie dit is. Dit is hierdie skielike flits van herkenning wat bedoel word met in ’n oogwink. Ook dit lê klem op die snelheid van die verwisseling.

Dit word gesê dat hierdie gebeurtenis sal plaasvind wanneer die laaste basuin sal weerklink (I Kor. 15:52). Die voorstanders van ’n wegraping in die middel van die Verdrukking, sowel as dié van ’n wegraping aan die einde van die Verdrukking, probeer hierdie laaste basuin identifiseer met die sewende basuin van die Boek Openbaring. Dit kan egter nie wees wat Paulus hier bedoel met die laaste basuin nie; want teen die tyd toe hy sy eerste brief aan die Korinthiërs geskryf het, het Johannes nog nie die Boek Openbaring geskryf nie. Die Korinthiërs sou geen kennis gehad het van sewe basuine nie. Nogtans is dit duidelik dat Paulus se gebruik van die bepalende lidwoord, die basuin, daarop dui dat hy van die Korinthiërs verwag het om te weet waarvan hy praat. Die enigste kennis wat hulle van basuine sou gehad het, sou die basuine gewees het waarvan daar in die Ou Testament gepraat word, in die besonder dié van die Fees van die Basuine (ook bekend as die Oesfees). Die laaste basuin verwys na hierdie jaarlikse fees waar dit die Joodse gebruik is om basuine te blaas. Tydens die seremonie word daar ’n reeks kort basuinklanke geblaas, wat eindig met een lang basuinklank wat die tekiah gedolah genoem word, en wat “die groot basuinklank” beteken. Dit is wat Paulus bedoel met die laaste basuin. As sodanig sê dit niks omtrent die tydsaspek van die Wegraping nie; net dat die Wegraping, wanneer dit plaasvind, die Fees van die Basuine, die Oesfees, sal vervul. Hierdie basuin is dieselfde as die basuin van God in I Thessalonicense 4:16. In daardie skrifgedeelte word dit verduidelik dat die gestorwe heiliges met die geklank van die basuin in onverganklike liggame opgewek sal word, en die lewende gelowiges se liggame sal verander word. I Korinthiërs 15:53 verduidelik dus dat die probleem van verganklikheid wat die gestorwe liggaam uit die Hemel hou, opgelos sal wees wanneer dit in onverganklikheid opgewek word. Die sterflikes wat steeds in die lewe is, sal verander word deurdat sterflikheid met onsterflikheid beklee sal word.

Die aard van hierdie nuwe, verheerlikte liggaam word nie in diepte geopenbaar nie, maar ’n paar dinge word tog daaromtrent gesê. In I Korinthiërs 15:35-49 word dit wat omtrent die opgewekte liggaam geopenbaar word, duidelik uiteengesit. In verse 42-49 en 53 word ses punte omtrent die opgewekte liggaam verduidelik.

Verse 42-49 lees: So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie die eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Vers 53 sê: Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflikheid moet met onsterflikheid beklee word.

Eerstens, in vers 42, is dit ’n liggaam wat onverganklik is. Tweedens, in vers 43a, is dit ’n verheerlikte liggaam. Hierdie selfde punt word gemaak in Filippense 3:21. Derdens, in vers 43b, is dit ’n liggaam van opwekkingskrag. Vierdens, in verse 44-46, is dit ’n geestelike liggaam. Vyfdens, in verse 47-49, is dit ’n hemelse liggaam. En sesdens, in vers 53, is dit ook ’n onsterflike liggaam.

Dit is moontlik om inligting omtrent die aard van die nuwe liggaam af te lei deur die aard van die opgewekte liggaam van die Messias te bestudeer. Hier moet egter versigtig te werk gegaan word. Hierdie bron van inligting het een hoof nadeel: dit is nie altyd maklik om te bepaal of die feite omtrent die Messias se liggaam toegeskryf kan word aan Sy opstanding of toegeskryf kan word aan Sy goddelikheid nie. Sommige van die volgende waarnemings omtrent Sy liggaam kan dus moontlik waar wees vir alle opgewekte liggame. Maar almal van hulle mag dalk nie waar wees nie, want sommige van hulle geld dalk slegs op grond van Sy goddelikheid. Dit is bekend dat die Messias se stem herken was as dieselfde stem wat Hy gehad het voor Sy dood en opstanding (Joh. 20:16). Ook was Sy fisiese voorkoms herken, hoewel nie altyd onmiddellik nie (Joh. 20:26-29; 21:7). Dit was waarlik ’n liggaam van vlees en been, nie net die liggaam van ’n gees nie, in die opsig dat dit omhels kon word (Joh. 20:17, 27). Die opgestane Messias kon skielik verdwyn (Luk. 24:31) en kon deur mure beweeg (Joh. 20:19). Dit was ’n liggaam wat voedsel kon inneem (Luk. 24:41-43). Weer eens, ’n aantal van hierdie faktore mag waar wees van alle opgestane liggame, maar totdat die Wegraping plaasvind, sal ons nie kan weet of al hierdie dinge waar sal wees van die gelowiges se nuwe liggame nie.

Ten slotte, in verse 54-58, is die gevolg van die verwisseling van verganklikheid af na onverganklikheid en van sterflikheid af na onsterflikheid die finale oorwinning oor die dood: En wanneer hierdie verganklikheid met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

B. Die Tydsaspek van die Wegraping
Die tweede kwessie omtrent die Wegraping is die vraag, “Wanneer sal dit plaasvind?” Die Bybel leer duidelik op grond van verskeie bewyslyne, dat die Wegraping voor die Verdrukking sal plaasvind.

Die eerste bewyslyn is dat die Kerk in geen skrifgedeelte wat oor die Verdrukking handel, genoem word nie. Die feit dat heiliges in die Verdrukking gevind word, bewys net so min dat die Kerk daar is as wat die bestaan van heiliges in die Ou Testament bewys dat die Kerk dáár was. Dit is alreeds aangetoon dat die Kerk by Pinkster begin het met die doopbediening van die Heilige Gees. Ou-Testamentiese heiliges is dus nie deel van die Kerk nie. Net so bewys die bestaan van heiliges in die Verdrukking ook nie dat die Kerk daar is nie; hulle word nie eens een keer “die Kerk” genoem nie. Dat die Kerk, as sodaning, nooit genoem word in enige skrifgedeelte wat handel oor die Verdrukking nie, is veral duidelik en veelseggend in die Boek Openbaring. Die Kerk word sigbaar aangetref in hoofstukke 1-3, wat handel oor die gebeure voor die Verdrukking. Later word die Kerk weer aangetref in hoofstukke 19-22, wat handel oor gebeure ná die Verdrukking. Maar in hoofstukke 6-18, wat handel oor die Verdrukking as sodanig, word die Kerk nie eens een keer genoem nie. Dit is hoogs ongewoon in die lig van die Kerk se prominensie in daardie hoofstukke omtrent die gebeure voor en die gebeure na die Verdrukking. Dit is ook ’n feit dat, buiten vir die Boek Openbaring, die Kerk in geen ander skrifgedeelte genoem word wat handel oor die Verdrukking nie. Hoewel dit ’n argument is wat op stilswye rus, is dit op grond van die struktuur van die Boek Openbaring inderdaad ’n kragtige bewys. Vanuit ’n suiwer eksposionele oogpunt, is dit onmoontlik vir enigiemand om na ’n skrifgedeelte oor die Verdrukking te kyk en aan te toon dat die Kerk daar is.

Die tweede bewyslyn is die vroegste aanduiding van ’n Voorverdrukking Wegraping, en word gevind in Lukas 21:34-37: Maar pasop vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word.

Nadat Jesus die verskriklike gebeure van die Verdrukking beskryf het, verklaar Hy in vers 35 dat dit sal kom oor almal wat op die hele aarde woon. Met ander woorde, geen aardbewoner kan die oordele van die Verdrukking vryspring nie. Die bewoording van die skrifgedeelte laat nie toe vir enige uitsonderings nie: as iemand op die aarde is, kan hy nie die rampe van die Verdrukking ontsnap nie. Daar is egter, soos beskryf in vers 36, ’n ontsnaproete uit al hierdie dinge wat sal gebeur, maar nie deur jouself op die aarde te bevind nie. Om te kan seëvier en al hierdie dinge te kan ontsnap, moet ’n mens ’n gelowige wees. Die ontsnaproete is om voor die Seun van die mens te staan, en dit moet weg van die aarde af gebeur. Dit is presies wat met die Wegraping plaasvind soos aangetoon in Johannes 14:1-3 en I Thessalonicense 4:13-18. Gelowiges word van die aarde af weggeneem en staan voor die Seun van die Mens.

Die derde bewyslyn is nog ’n spesifieke skrifgedeelte wat Voorverdrukking uitredding leer, naamlik I Thessalonicense 1:9-10: Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.

Die slotwoorde van hierdie skrifgedeelte is deurslaggewend. Die Kerk in Thessalonika het gewag op die terugkeer van die Messias wat sou kom om hulle van die toekomstige toorn te verlos. Die woord toorn word gebruik vir God se algemene toorn oor die sonde, soos in Romeine 1:18, en ook vir die toorn van die Groot Verdrukking, soos in Openbaring 6:17; 14:10 en 19; 15:1 en 7; en 16:1. Hier, in I Thessalonicense, is die toorn van God toekomstig; en dit kan dus nie verwys na die algemene toorn van God oor die sonde, wat ’n teenswoordige werklikheid is nie. Hoewel die Hel en die Poel van Vuur ook toekomstig is, kan dit nie hierdie twee dinge wees waarna hierdie skrifgedeelte verwys nie, want op grond van die gelowige se redding, is hy alreeds verlos van die Hel. Jesus kom nie terug om die Kerk uit die Hel of die Poel van Vuur te verlos nie, want dit is alreeds aan die kruis gedoen. Die toorn waarvan die Kerk verlos word, is dus die toorn van die Groot Verdrukking. Jesus kom spesifiek vir die doel om die Kerk te verlos van die toekomstige toorn, naamlik die tyd van die Groot Verdrukking. Die gelowige word redding gewaarborg van sowel God se algemene toorn oor die sonde (Rom. 5:9) as die toorn van die Verdrukking (I Thess. 1:10).

Die vierde bewyslyn is nog ’n skrifgedeelte wat handel oor die tydsaspek van die Wegraping, naamlik I Thessalonicense 5:1-10: Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duistenis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

In vers 9 vertel Paulus aan die Kerk in Thessalonika dat hulle nie bestem was tot toorn nie. Dit wat die woord toorn voorafgaan, word gevind in vers 2: die dag van die Here, ’n term wat altyd na die Verdrukking verwys. Dus, die Kerk was nie vir daardie dag van die toorn van God of die dag van die Here of die Verdrukking bestem nie. Hierdie bespreking omtrent die dag van die Here of die Verdrukking, volg onmiddellik op die bespreking van die Wegraping in hoofstuk 4:13-18. Die woord bemoedig in vers 18 het dus te doen met die feit dat hierdie Kerkgelowiges nie nodig sou hê om deur die periode van die Dag van die Here te gaan nie.

Van die verskillende Griekse woorde wat as “maar” vertaal word, is die term wat hier gevind word eintlik twee Griekse woorde, peri de. Hierdie frase is ’n Griekse kontrasstelling. Dit beteken dat hy tot nou toe oor een saak gepraat het, en nou stel hy ’n nuwe onderwerp bekend. In I Thessalonicense 4:13-18 het Paulus oor die Wegraping gepraat. Met die peri de in 5:1 lei hy nou ’n nuwe onderwerp in, wat in vers 2 die dag van die Here is, naamlik die tydperk van toorn in vers 9. Vers 9 verklaar dat die Kerk, wat nie bestem is tot toorn nie, wel bestem is om die saligheid te verkry. In vers 8 word daarna verwys as die hoop op die saligheid. Die saligheid waarvan hier gepraat word, is in die toekoms, en dit kan dus nie soteriologies wees nie, want dít is ’n teenswoordige werklikheid. Die saligheid hier is eskatologies, verwysend na die verlossing van die liggaam wat met die Wegraping sal plaasvind. Dit is vir hierdie saligheid waarvoor die Kerk bestem is, nie vir die toorn van die dag van die Here nie. Nog ’n punt waarvan daar kennis geneem moet word in hierdie skrifgedeelte, kom voor in verse 4-8, waar daar kontrasterend gewys word hoekom die Kerk, wat die kinders van die lig is, nie die komende Dag van die Here hoef te vrees nie. In Sefánja 1:14-18, en Joël 2:1-2 en 10-11, word daar na die Dag van die Here verwys as ’n periode van duisternis en nag. Die Dag van die Here, gekenmerk deur duisternis, sal die seuns van die nag oorval, die ongelowiges. Maar omdat die gelowige van die dag is, sal die Dag van die Here hom nie oorval nie.

Die vyfde bewyslyn, Openbaring 3:10, is nog ’n kern vers wat handel oor die tydsaspek van die Wegraping: Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

In hierdie skrifgedeelte word die Kerk belowe dat hulle bewaar sal word van die uur van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom. In die konteks van die Boek Openbaring is hierdie tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom, die Verdrukking van hoofstukke 6-19. Dit is hierdie beproewingstyd waarvan die Kerk bewaar sal word. Hierdie vers sê nie dat die Kerk slegs veilig bewaar sal word in die beproewing nie, maar dat dit bewaar sal word van die werklike uur van beproewing, dit wil sê, spesifiek van hierdie tydsperiode. Dit vereis ’n wegname nog voordat die Verdrukking plaasvind. As Openbaring 3:10 net beteken dat die Kerk veilig gehou sal word tydens die Verdrukking, loop iets verskriklik skeef, want regdeur die Verdrukking word heiliges op groot skaal doodgemaak (Op. 6:9-11; 11:7; 12:11; 13:7, 15; 14:13; 17:6; 18:24). As hierdie heiliges Kerkheiliges is, word hulle nie veilig bewaar nie en Openbaring 3:10 is betekenisloos. Slegs as Kerkheiliges en Verdrukkingheiliges van mekaar onderskei word, maak die belofte van Openbaring 3:10 enige sin.

Hierdie skrifgedeeltes verklaar almal dat die Kerk weggeneem sal word voordat die toorn of die dag van die Here of die Verdrukking kom. Die wyse waarop die Kerk weggeneem sal word, is die Wegraping. Daar is nog ’n aantal ander bewyse vir ’n Voorverdrukking Wegraping wat in ’n ander konteks behandel sal word.

Nog ’n vraag wat bespreek moet word, is: “Hoe lank voor die Verdrukking vind die Wegraping plaas?”

Die Bybel leer dat die Messias se koms vir die gelowiges voor die deur (of ophande) is, wat beteken dat Hy enige tyd of enige oomblik kan kom. Dit is byvoorbeeld duidelik uit Johannes 21:20-23 dat die Messias al in die dae van die apostel Johannes sou kon teruggekom het: En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier? Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom? Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?

In Romeine 13:11-12 word die verlossing van die liggaam as baie naby gesien: En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.

Die saligheid hier, moet gesien word as eskatologies eerder as soteriologies, want hierdie saligheid word gesien as ’n toekomstige saligheid. Aan die einde van elke dag is die gelowige een dag nader aan die tyd wanneer die Wegraping kan plaasvind. Op grond van hierdie nadering, is dit tyd vir die gelowiges om wakker te word uit die slaap en ’n lewe te lei wat ooreenstem met hulle posisie as kinders van die lig.

In Jakobus 5:7-9 word dit gestel dat Jesus se koms voor die deur is: Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.

Die koms van die Here is naby en die Regter staan voor die deur. Die Messias se verskyning word definitief beskou as ’n gebeurtenis wat ophande is.

Die slotverklaring van Jesus in Openbaring 22:20 dui ook daarop dat die wederkoms voor die deur is: Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!

Die vroeëre skrifgedeeltes leer almal duidelik dat die Wegraping die Verdrukking sal voorafgaan, en hierdie laaste vier skrifgedeeltes leer dat die Wegraping ophande is; dat Hy enige oomblik kan kom. Slegs as die Wegraping voor die Verdrukking plaasvind, kan dit die geval wees. In die Middelverdrukkingsleer lê die Wegraping minstens 3 ½ jaar vorentoe; in die Postverdrukkingsleer lê dit minstens sewe jaar vorentoe. Gevolglik is dit nooit ophande nie.

Dus, wat die vraag betref oor wanneer die Wegraping plaasvind, moet daar op twee sake gelet word. Een, die Wegraping kom beslis voor die Verdrukking. Aangesien die Verdrukking begin met die ondertekening van die Sewejaarverdrag, kan die tyd van die ondertekening van die Sewejaarverdrag die heel laaste punt wees wanneer die Wegraping kan plaasvind. Twee, die Wegraping is ophande. Dit kan enige oomblik plaasvind, en dit hoef nie te wag tot met die ondertekening van die Sewejaarverdrag nie. Dit moet duidelik verstaan word dat ophande wees nie “binnekort” beteken nie. Dit beteken net dat niks anders die Wegraping moet voorafgaan nie en dat dit op enige tyd en enige oomblik kan gebeur.

Deur hierdie inligting te kombineer, is die gevolgtrekking dat die Wegraping enige tyd tussen hierdie moment en die ondertekening van die Sewejaarverdrag sal plaasvind. Dit beteken dat die spesifieke tydsperiode waartydens die Wegraping kan gebeur, enige tyd kan wees van nou onmiddellik af tot met die ondertekening van die Sewejaarverdrag. Daarom kan die Kerk nog sekere voorverdrukking gebeurtenisse sien net soos wat dit reeds sekeres gesien het. Maar, afhangend van die presiese punt wanneer die Wegraping gaan plaasvind, mag dit dalk niks meer daarvan sien nie.

Die verband tussen die Wegraping en die Verdrukking moet helder en duidelik begryp word. Die Wegraping gaan die Verdrukking vooraf, maar dit begin nie die Verdrukking nie, ’n feit wat deur baie Voorverdrukking voorstanders verwar word. Dit is nie die Wegraping nie, maar die ondertekening van die Sewejaarverdrag wat die Verdrukking begin. Die Wegraping kan eenvoudig enige tyd voor die ondertekening plaasvind, en dis moontlik dat dit hierdie gebeurtenis met ’n hele aantal jare kan voorafgaan.

III. TWEE GEBEURTENISSE NÁ DIE WEGRAPING VAN DIE KERK
Die twee gebeurtenisse wat volg op die Wegraping van die Kerk is: die Regterstoel van Christus en die Bruilof van die Lam.

A. Die Regterstoel van Christus
Die eerste gebeurtenis sal in twee onderafdelings bespreek word: die oordeel en die loon.

1. Die Oordeel
Die Regterstoel van Christus is ’n oordeel oor die gelowige se werke, nie sy sondes nie. Lukas 21:34-36 dui aan dat die afloop van die Wegraping sal wees om voor die Seun van die mens te staan. Hierdie spesifieke oordeel wat ná die Wegraping in die Hemel sal plaasvind, word in drie skrifgedeeltes aangespreek.

In die eerste skrifgedeelte, Romeine 14:10-12, toon Paulus slegs aan dat so ’n oordeel sal plaasvind: Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Die tweede skrifgedeelte, II Korinthiërs 5:10, verskaf die uitgangspunt vir hierdie oordeel: Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Die uitgangspunt vir hierdie oordeel sal die werke wees wat die gelowige in die liggaam gedoen het vandat hy ’n gelowige geword het. Dit is nie die gelowige se sondes wat geoordeel sal word nie, want daarmee is daar vir altyd aan die kruis afgereken, want: Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1). Dit is nie ’n saak hierdie van die gelowige se sondes nie, maar ’n saak van loon op grond van die gelowige se dade.

Die derde skrifgedeelte wat gaan oor hierdie oordeel, en waarin die meeste besonderhede verstrek word, is I Korinthiërs 3:10-15. In verse 10-11 toon Paulus weer aan dat die uitgangspunt van die oordeel die werke van die gelowige is: Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

Hierdie oordeel word voorgestel as bouwerk wat gedoen word op ’n fondament wat alreeds gelê is, dit is Jesus Christus; die oordeel word gebaseer op grond van hoe ’n mens op hierdie fondament gebou het.

Verder, in vers 12, sal hierdie oordeel van die werke nie berus op kwantiteit nie, maar op kwaliteit: En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels.

Die kwessie sal nie gaan oor hoeveel goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, of stoppels daar was nie; maar of dit goud, silwer, en kosbare stene was en of dit hout, hooi en stoppels was. Weer eens, dit gaan oor kwaliteit, nie oor kwantiteit nie. Waaroor die oordeel gaan, is of die gelowige dit wat God se wil vir hom was, nagevolg het. As ’n gelowige die wil van die Here doen deur Sy insettinge te gehoorsaam en die bediening te vervul waarvoor hy geestelike gawes ontvang het, dan bou hy met goud, silwer, en kosbare stene op hierdie fondament. Maar waar hy tekort skiet aan hierdie dinge, daar bou hy met hout, hooi en stoppels op hierdie fondament. Hoewel die gelowige se sondes as sodanig nie in hierdie oordeel aan die kaak gestel word nie, speel hulle wel ’n indirekte rol. Wanneer ’n gelowige hom in ’n tyd van onbelyde sonde bevind, bou hy met hout, hooi en stoppels en nie met goud, silwer en kosbare stene nie. Daar is dus ernstige gevolge vir ’n gelowige as hy in sonde lewe, gevolge wat vir die duisend jaar van die Koninkrykperiode sal duur.

In vers 13 word vuur aangedui as die middel waardeur die toetsing sal plaasvind: elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

As hout, hooi en stoppels met vuur in aanraking kom, word dit verbrand en al wat oorbly, is as. Maar wanneer goud, silwer en kosbare stene met vuur in aanraking kom, word hierdie elemente verfyn en hulle word suiwerder. Weer eens, die toetsmiddel wys dat dit ’n kwessie is van kwaliteit en nie kwantiteit nie. Ongeag van hoeveel hout, hooi, of stoppels daar mag wees, vuur sal dit alles verbrand. Ongeag van hoeveel goud, silwer, en kosbare stene daar is, vuur sal hulle almal suiwer. Sommige gelowiges se werke sal dus alles verbrand word, terwyl ander gelowiges net sal sien hoe hulle werke gesuiwer word.

Ten slotte word die gevolge van die oordeel gegee in verse 14-15: As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

In vers 14, sal die wat gebou het met goud, silwer, en kosbare stene ondervind dat hulle werke nie net sal bly staan nie, maar dat dit gesuiwer sal wees nadat dit met vuur in aanraking was. Gevolglik sal hulle ’n loon ontvang. In vers 15, stel Paulus die gevolg vir diegene wat gebou het met hout, hooi, en stoppels. Al hulle werke sal verbrand word. Dus sal hy skade ly. Maar die verlies is net aan loon en outoriteit, niks meer as dit nie. Hy sal net so min vir sy sondes gestraf word as wat ’n naelloper gestraf word indien hy nie eerste kom in die wedloop nie, maar hy sal wel sy loon verloor. Vir geval enigiemand sou aflei dat ’n gelowige sy redding verloor, stel die teks dit in geen onseker terme nie, dat hy self gered sal word. Sy werke bepaal nie sy redding nie; sy redding is verseker omdat hy sy vertroue in die Messiasskap van Jesus gestel het; en ’n gelowige se redding is op grond van genade deur geloof ongeag van werke. Maar hy sal die tyd van die Koninkryk deurgaan met niks om vir sy geestelike lewe te wys nie.

2. Die Loon
Bogenoemde skrifgedeelte sê niks oor die aard van die loon nie, maar ander skrifgedeeltes praat van hierdie loon as krone. In die Griekse taal is daar twee betekenisse vir “kroon.” Een is die woord diadem, wat ’n koningskroon is, die kroon van ’n heerser, ’n persoon wat uit hoofde van sy aard en sy posisie koninklik is. Dit is die soort kroon wat Jesus dra. Die tweede Griekse woord wat as “kroon” vertaal word, is stephanos, ’n kroon wat gegee word aan ’n oorwinnaar, ’n wenner, iemand wat ’n wedloop gewen het. Hierdie soort kroon is ter beskikking van gelowiges, omdat hulle oorwinnaars was in die geestelike oorlog en nou gekroon word by die Regterstoel van Christus. In die Bybel word daar vyf sulke krone genoem.

Die eerste kroon word in I Korinthiërs 9:24-25 die onverwelklike kroon genoem: Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – húlle nogal om ’n verwelklike krans te ontvang, maar ons ’n onverwelklike.

Hierdie kroon word gegee aan hulle wat hulle onthou … in alles, wat dus selfbeheersing uitoefen en gesag en oorwinning in die geestelike lewe behaal. Dit is die kroon vir hulle wat die oorwinning behaal het oor die “ou mens” of die sondenatuur. Dit is vir hulle wat geleer het om ’n Geesbeheerde lewe te lei.

Die tweede kroon word die kroon van blydskap genoem in I Thessalonicense 2:19: Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?

Hierdie kroon word gegee vir hulle wat siele wen vir Jesus die Messias. Dit is ’n kroon vir almal wat evangelisering doen en die vrugte van hulle arbeid is om te sien hoe mense deur hulle toedoen by die Here kom.

Die derde kroon word die kroon van die geregtigheid genoem in II Timótheüs 4:7-8: Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.

Dit is die kroon vir hulle wat die geloof sowel leerstellig as moreel behou het ten spyte van moeilike omstandighede. Dit is ’n kroon wat gegee word aan almal wat sy verskyning liefgehad het, hulle wat verlangend uitsien na die wederkoms van die Messias. Die verlange na Sy wederkoms is die gevolg van die regte leerstellings en die behoud van die geloof. ’n Lewe wat gelei word in ooreenstemming met die Nuwe Testament sal die verwagting op die spoedige terugkoms van die Here insluit. Vir al sulke gelowiges is daar ’n kroon van die geregtigheid.

Die vierde kroon is die kroon wat in twee skrifgedeeltes die kroon van die lewe genoem word.

Eerstens, in Jakobus 1:12, is dit ’n kroon vir hulle wat versoeking verdra en die toets deurstaan: Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

Tweedens, in Openbaring 2:10, word dit aan diegene gegee wat vervolging verduur vir hulle geloof: Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.

Die vyfde kroon, ten slotte, is die kroon van heerlikheid wat genoem word in I Petrus 5:2-4: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.

Hierdie kroon is vir getroue toesig oor die kudde van God. Dit is ter beskikking van daardie leraars, ouderlinge, en andere, wat die skape voed met die “melk” en die “vaste voedsel” van God se Woord.

Daar mag dalk nog ander krone wees, maar hierdie vyf is die enigstes waarna daar in die Bybel verwys word. Minstens hierdie vyf is ter beskikking van hulle wie se werke sal staan; daardie werke wat gebou is van goud, silwer, en kosbare stene.

Die doel van hierdie loon van krone is om die graad van outoriteit in die Messiaanse Koninkryk te bepaal, nie vir die Ewige Orde nie. In die ewigheid sal alle gelowiges gelyk wees, maar dit is nie die geval in die Messiaanse Koninkryk nie, waar gelowiges verskillende posisies van outoriteit sal beklee. Hierdie feit word deur middel van ’n gelykenis uitgedruk in Lukas 19:11-27.

B. Die Bruilof van die Lam
Die tweede gebeurtenis wat volg op die Wegraping van die Kerk, is die Bruilof van die Lam. Om ten volle te begryp wat die Bruilof van die Lam behels, moet ’n mens eers die agtergrond verstaan van die Joodse huwelikstelsel soos dit in Bybelse tye die gebruik was. Vier afsonderlike stappe was betrokke by hierdie gebruik.

Een, die vader van die bruidegom het die reëlings getref en die bruidsprys betaal. Die tydstip wanneer hierdie stap gedoen is, het gevarieer. Soms het dit gebeur wanneer albei kinders nog kein was. Op ander tye was dit sowat ’n jaar voor die huwelik voltrek is. Dikwels het die bruid en bruidegom mekaar nie eens ontmoet tot op die dag van hulle huwelik nie.

Die tweede stap, wat ’n jaar of langer na die eerste stap kon plaasvind, was om die bruid te gaan haal. Die bruidegom het na die bruid se huis toe gegaan om haar na sy huis toe te neem. In verband met hierdie stap moet daar op twee ander sake gelet word. Eerstens was dit die vader van die bruidegom wat die tyd vasgestel het. Tweedens, voordat die bruidegom kon vertrek om die bruid te gaan haal, moes hy reeds ’n plek waar hulle twee sou woon vir haar voorberei het.

Dit is gevolg deur die derde stap, die huwelikseremonie, waarheen ’n paar gaste uitgenooi was. Voor die huwelikseremonie het die bruid ’n rituele onderdompeling ondergaan vir rituele reiniging.

Dan het die vierde stap gevolg, die bruilofsfees, wat kon aanhou vir so lank as sewe dae. Baie meer mense sou vir die fees uitgenooi wees as vir die huwelikseremonie.

In die Bruilof van die Lam is al vier stappe van die Joodse huwelikstelsel teenwoordig.

Een, God die Vader het die reëlings getref vir Sy Seun en die bruidsprys betaal, wat in hierdie geval die bloed van die Messias was. Dit is die agtergrond vir die stelling in Efésiërs 5:25-27: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

Net soos wat ’n lang tydsperiode dikwels verloop het tussen die eerste en die tweede stappe van die Joodse huwelikstelsel, so is dit hier die geval. Omtrent tweeduisend jaar het nou verstryk sedert die eerste stap plaasgevind het. Maar volgens I Thessalonicense 4:13-18, wat bespreek is met betrekking tot die gebeurtenisse van die Wegraping, sal hierdie tweede stap wel plaasvind. Die Wegraping is die tyd wanneer die Bruid gehaal word. Jesus sal in die lug kom om Sy Bruid te kom haal en na Sy woning in die Hemel te neem. Net God die Vader weet op watter tyd hierdie gebeurtenis gaan plaasvind (Matt. 24:36). Verder sal dit net gebeur sodra die woonplek voorberei is (Joh. 14:1-3).

Die derde stap sal in die Hemel plaasvind. Dit is die huwelikseremonie wat in Openbaring 19:6-8 beskryf word: En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! Want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

Die huwelikseremonie vind in die Hemel plaas en het betrekking op die Kerk. Uit vers 8 is dit duidelik dat dit ná die Regterstoel van Christus moet plaasvind, want die Bruid word gesien as geklee in fyn linne, wat die regverdige dade van die heiliges is. Dit beteken dat al die hout, hooi, en stoppels verbrand is en al die goud, silwer en kosbare stene gesuiwer is. Die Regterstoel van Christus kom ooreen met die Joodse gebruik van die rituele reiniging van die Bruid. Dus, ná die Wegraping van die Kerk wanneer die Bruidegom die Bruid saam met Hom na Sy woning in die Hemel neem, en ná die Regterstoel van Christus waar die Bruid die wit linneklere ontvang, vind die huwelikseremonie plaas voor die Wederkoms van die Messias.

In die konteks van Openbaring 19 beskryf verse 1-10 gebeure in die Hemel voor die Wederkoms, terwyl verse 11-21 die Wederkoms en daaropvolgende gebeure beskryf. Waarvan baie deeglik kennis geneem moet word, is dat die Kerk reeds in die Hemel is voor die Wederkoms. Verder was die Kerk lank genoeg in die Hemel om die Regterstoel van Christus te beleef het. Hieruit is dit baie duidelik dat die Wegraping en die Wederkoms nie dieselfde gebeurtenis kan wees nie, maar dat hulle deur ’n sekere tydsperiode van mekaar geskei moet wees. Vroeër is skrifgedeeltes aangehaal om te toon dat die Wegraping moet plaasvind voordat die Verdrukking ’n aanvang neem. Openbaring 19:6-8 is ’n verdere bewys hiervan.

Die huwelikseremonie sal in die Hemel plaasvind na die Wegraping en voor die Wederkoms, en het net betrekking op die Kerkheiliges.

Die vierde stap, die bruilofsfees, sal op die aarde plaasvind na die Wederkoms, en met hierdie fees sal die Messiaanse Koninkryk ’n aanvang neem. Dit is die rede waarom sommige van die Messias se gelykenisse oor die Koninkryk verband gehou het met die bruilofsfees (Matt. 22:1-14; 25:1-13). Terwyl die huwelikseremonie net op die Kerk betrekking het, sal die bruilofsfees die Ou-Testamentiese heiliges en die Verdrukkingheiliges insluit. Dit is duidelik uit die Bybel dat die Ou-Testamentiese heiliges nie saam met die Kerkheiliges voor die Verdrukking opgewek word nie, maar hulle word saam met die Verdrukkingheiliges opgewek na die Verdrukking; dit wil sê, na die Wederkoms. Dit word gesien in Daniël 12:2, wat die opwekking van die Ou-Testamentiese heiliges beskryf – en die tydsaspek van Daniël 12:2 is na die gebeure van die Verdrukking, waarvan hy vanaf Daniël 11:36 begin praat het.

Die uitnodiging aan die Ou-Testamentiese heiliges het alreeds uitgegaan in Openbaring 19:9: Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. Die uitvloeisel van die uitnodiging is hulle opwekking en die bruilofsfees, wat vir ten minste sewe dae sal duur, en dalk die tussentyd van die vyf-en-sewentig dae sal afsluit; of miskien is die meer waarskynlike scenario dat dit die aanvang van die eerste sewe dae van die Messiaanse Koninkryk sal inwy, aangesien die gelykenis oor die bruilofsfees op die Koninkryk betrekking gehad het.

Een so ’n gelykenis oor die bruilofsfees kom voor in Matthéüs 22:1-14: En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aanhet nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Die punt van hierdie gelykenis is dat die wat oorspronklik na die bruilofsfees genooi was, die Fariseërs en die Joodse geslag van Jesus se tyd op aarde, nie sal deel hê aan die fees, die Koninkryk nie, op grond van die onvergeeflike sonde wat hulle gepleeg het. Maar die Jode van die Verdrukkingsgeslag sal wel deel hê aan die fees. Dit sal egter net gelowiges insluit; die ongelowiges sal in die buitense duisternis gewerp word en uitgesluit wees van die Messiaanse Koninkryk. Hierdie gelykenis handel oor Jode wat die Koninkryk sal of nie sal ingaan nie.

’n Tweede gelykenis is in Matthéüs 25:1-13: Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

Die teenstelling hier is nie tussen twee soorte gelowiges nie, maar tussen gelowiges en ongelowiges. Die gelowiges is die wyse maagde wat olie het, simbolies van die Heilige Gees, terwyl die ongelowiges die dwase maagde is wat geen olie met hulle saamgeneem [het] nie. Die wat dwaas was is dus uitgesluit van die bruilofsfees, die Messiaanse Koninkryk, want die Here het vir hulle gesê: ek ken julle nie, maar die wyse maagde het saam met hom ingegaan na die bruilof. Toegepas op die inhoud van die gelykenis wat in Matthéüs 25:31-46 gegee word, verteenwoordig hierdie twee stelle maagde gelowige en ongelowige Heidene in die Verdrukking. Hierdie gelykenis handel oor Heidene wat die Koninkryk sal of nie sal ingaan nie.

Ook Jesaja verbind ’n fees met die Koninkryk en met ’n opstanding uit die dood, in Jesaja 25:6-8: En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.

In ’n sekere sin sal daar dus ’n dubbele bruilofsfees wees: een vir die Kerk as die Bruid van Christus, en een vir Israel as die Vrou van God met wie Hy weer in die huwelik tree.

Nog een ding in die Joodse bruilofstelsel waarna opgelet moet word, is dat Johannes die Doper op ’n baie unieke manier na homself verwys het. In Johannes 3:27-30 ontken Johannes dat hy twee dinge is: Eerstens het hy ontken dat hy die bruidegom was, want hy was nie die Messias nie. Tweedens het hy ook ontken om die Bruid of deel van die Bruid te wees. In stede daarvan het Johannes die Doper homself in ’n derde kategorie geplaas, naamlik as die vriend van die bruidegom. As die vriend van die bruidegom het hy homself nie beskou as ’n lid van die Bruid van die Messias, die Kerk, nie. Aangesien Johannes die laaste van die Ou-Testamentiese profete is, kan ons hieruit presies verstaan waar die Ou-Testamentiese heiliges saam met die Verdrukkingheiliges inpas. Hulle is “die vriende van die bruidegom” en hulle is diegene wat almal in Openbaring 19:9 genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.

[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE DEFINISIE VAN DIE ONSIGBARE KERK
II. DIE WEGRAPING VAN DIE KERK
     A. Die Gebeure van die Wegraping
         1. Johannes 14:1-3
         2. I Thessalonicense 4:13-18
         3. I Korinthiërs 15:50-58
     B. Die Tydsaspek van die Wegraping
III. TWEE GEBEURE NÁ DIE WEGRAPING VAN DIE KERK
     A. Die Regterstoel van Christus
         1. Die Oordeel
         2. Die Loon
     B. Die Bruilof van die Lam

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Toe Jesus Christus se Messiasskap tydens sy eerste koms verwerp is, watter gevolge het dit vir Israel gehad? Wat is die onvergeeflike sonde? Wat moet Israel doen voor die wederkoms van Christus? In meegaande artikel oor die wederkoms van die Messias, word die verwerping van Jesus se Messiasaskap behandel asook die voorvereiste vir sy wederkoms.