Die Wet van Moses en die Wet van Christus

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. – Romeine 10:4

INLEIDING
Ons begin ’n nuwe studie, met die opskrif “Die Wet van Moses en die Wet van die Messias.” Dit is ’n baie belangrike onderwerp, want baie gelowiges is onseker oor hoe die Wet van Moses hedendaags op hulle van toepassing is. Dit is veral vir Joodse gelowiges ’n probleem. Die doel van hierdie studie is om die Skrif vanuit sowel ’n Joodse as ’n Christelike oogpunt te behandel. Dit is een van daardie afdelings wat uiters belangrik is in die veld van Joodse sendingwerk en Joodse evangelisasie. Dit is ’n probleem vir die werkers by Ariel Bedieninge en vir werkers by Joodse sendingplekke wat teenoor Jode getuig. Hoe die Wet betrekking het op ons as gelowiges, is ’n baie, baie fundamentele saak.

As daar een onmiddellike probleem is vir die nuwe Joodse gelowige in die Messias, is dit klaarblyklik hierdie verhouding ten opsigte van die Wet van Moses. Vir die Joodse gelowige in Israel is dit ’n groter probleem as vir sy medegelowige in byvoorbeeld Amerika, maar elke Joodse gelowige kom in mindere of meerdere mate daarvoor te staan. As ek ’n bietjie kan veralgemeen, sou ek sê die gemiddelde Amerikaanse gelowige onderhou die Wet gedeeltelik, terwyl die gemiddelde Israeliese gelowige die hele Wet onderhou, met uitsondering van die afdelings ten opsigte van die Tempel en die tempelfunksies. Maar ongeag die omvang van die probleem, die dilemma bly dieselfde: tot watter mate behoort die Messiaanse gelowige die Wet van Moses te onderhou?

Twee faktore wat in die denke en leer van baie gelowiges posgevat het, het bygedra tot die ontstaan van hierdie probleem. Een is die praktyk om die Wet in seremoniële, wetlike en morele gebooie in te deel. Op grond van hierdie indeling het baie tot die slotsom gekom dat die gelowige vry is van die seremoniële en wetlike gebooie, maar steeds onderhewig is aan die morele gebooie. Die tweede faktor is die opvatting dat die Tien Gebooie vandag nog geldig is, terwyl die 603 ander gebooie nie is nie. Wanneer die persoon wat hierdie uitgangspunt huldig deur ’n Sewendedag Adventis gekonfronteer word, ondervind hy probleme met die vierde gebod aangaande die onderhouding van die Sabbat. Op hierdie punt begin hy verward raak en die gevolg is inkonsekwente redenasies.

Daar bestaan werklik ’n groot probleem vir die Messiaanse gelowige ten opsigte van die Wet van Moses, en die oplossing lê in die ontdekking van dit wat die Bybel sê oor die Messiaanse gelowige se verhouding tot die Wet, veral die Tien Gebooie.

Een saak wat uitgewys moet word, is hoe die Wet van Moses gegee is. Almal weet dat Moses die Wet op die berg Sinaï uit die hand van God ontvang het. Tien van daardie gebooie, dié wat op kliptafels geskryf is, was geskryf met die vinger van God. Die ander 603 is neergeskryf soos wat Moses deur God beveel is.

Daar is, egter, ’n Joodse legende en ’n Joodse tradisie wat lui dat Moses die Wet deur die beskikking van engele ontvang het. As jy deur die Ou Testament lees, sal jy dit nooit sien nie; want nêrens in die Ou Testament is dit geskryf dat Moses die Wet deur beskikking van engele ontvang het nie. Tog bly hierdie Joodse en rabbynse leer hardnekkig voortbestaan. Natuurlik is daar baie dinge in die Joodse tradisies, legendes, of rabbynse leringe, wat nie deur die Skrif gestaaf word nie, en wat somtyds teen die Skrif ingaan. Daar is egter ook dinge wat in Joodse legendes en tradisies opgeneem is, wat deur die Nuwe Testament gestaaf word. Een hiervan is daardie spesifieke tradisie wat sê dat Moses die Wet van God ontvang het deur beskikking van engele. Die Nuwe Testament staaf dit op drie verskillende plekke.

Byvoorbeeld, in Handelinge 7:53 lees ons: julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie! Hier word ons vertel dat die Jodedom die Wet ontvang het, maar dat die Wet verorden is deur die beskikking van engele.

Die tweede plek word gevind in Galasiërs 3:19 waar Paulus skryf: Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg deur die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar. Vir die tweede keer staaf die Nuwe Testament die Joodse tradisie dat die Wet van Moses oorgedra is, aan Moses gegee is, deur die beskikking van engele.

Daar is ’n derde skrifgedeelte wat dit ook leer. Dit word gevind in Hebreërs, ‘n brief wat spesifiek gerig is aan Joodse gelowiges. In Hebreërs 2:2 lees ons hierdie woorde: Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het… In die konteks, praat die skrywer van die Hebreërbrief duidelik van die Wet van Moses. Weer eens, wat ek sê, is dat die Nuwe Testament op drie verskillende plekke die Joodse tradisie staaf dat die Mosaïese Wet inderdaad aan Moses gegee is deur die beskikking van engele. Dit is natuurlik duidelik uit die Ou Testament dat die Tien Gebooie deur die vinger van God geskryf is en nie deur die vinger van ’n engel nie, maar die ander gebooie van die Mosaïese Wet was in ’n ander kategorie. Hulle was oorgedra deur die beskikking van engele.

Sover het ons twee dinge geleer aangaande die Wet van Moses: Een, die Wet van Moses bevat ’n totaal van 613 gebooie, nie net tien nie; en twee, die Wet van Moses is oorgedra deur die beskikking van engele.

I. DIE DOEL VAN DIE WET VAN MOSES
Kom ons beweeg aan na ’n ander afdeling om die vraag te beantwoord: “Wat was die doel van die Mosaïese Wet?” Ek sal verskeie redes aanvoer vir die doel van die Mosaïese Wet.

A. Om die heiligheid van God te openbaar
Die eerste doel was om die heiligheid van God te openbaar; om die standaard van geregtigheid te openbaar wat God vereis het vir ’n regmatige verhouding met Hom. Ek wil beklemtoon dat dit nooit in die Skrif geleer word dat die Wet van Moses die weg tot redding was nie. Dit sou redding moontlik gemaak het deur middel van werke. Redding was altyd uit genade, deur geloof. Die inhoud van geloof kon dalk van eeu tot eeu verander het; presies wat jy moes glo om gered te word, kon dalk van eeu tot eeu verskil het. Die Mosaïese Wet was nooit bedoel om vir die Jood ’n weg tot redding te gee nie.

B. Om gedragsreëls vir Ou Testamentiese heiliges neer te Lê
Die tweede doel van die Wet was om die manier van lewe, of gedragsreëls, vir Ou Testamentiese heiliges neer te lê.

Byvoorbeeld, ons lees in Romeine 3:20: aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

En in Romeine 3:28 lees ons: Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.

Albei hierdie punte maak dit duidelik dat geen mens ooit deur die werke van die Wet geregverdig is nie. Die Wet was nooit, nooit, nooit ’n middel tot redding nie. Inteendeel, die Wet het altyd ander doelstellings gehad; in hierdie geval het dit gedragsreëls vir die Ou Testamentiese gelowige neergelê.

C. Om sonde te openbaar
Die derde doel van die Mosaïese Wet was om sonde te openbaar. Drie gedeeltes in Romeine wys dit uit:

In Romeine 3:19-20 lees ons: Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van die sonde. Paulus beklemtoon hier dat daar geen regverdigmaking deur die Wet is nie; geen Jood sal deur middel van die Wet geregverdig word nie. Wat is die Wet dan, as dit nie ’n weg tot regverdigmaking, nie ’n weg tot redding is nie? Die Wet is daar om vir ons kennis van die sonde te gee, om te openbaar wat sonde in wese is.

In Romeine 5:20 lees ons: Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Hier sien ons weer, die Wet is gegee sodat oortredings baie duidelik uitgewys kon word. Hoe weet ’n mens dat jy gesondig het? Jy weet, want die Wet het gesê, “Dit doen ’n mens nie,” maar jy het dit gedoen. Of die Wet het gesê, “Jy moet dit doen,” maar jy het dit nie gedoen nie. Dit is hoe jy weet dat jy gesondig het: die Wet met 613 gebooie het die sonde geopenbaar.

In Romeine 7:7 lees ons: Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Paulus beklemtoon die feit, vir die derde keer, dat die Wet gegee is sodat sonde geopenbaar kon word. Paulus het bewus geword van sy sondige toestand deur na die Wet te kyk en te weet dat, op grond van die Wet wat die regverdige standaarde van God bevat, hy tekort geskiet het. Dit is die eerste en die derde doel van die Wet wat bymekaarkom. Weer eens, die eerste doel was om die geregtigheid van God te openbaar; om die heiligheid van God te openbaar. Derdens, deur presies uit te wys wat sonde is, het Paulus en ander Jode tot die besef gekom dat hulle ver tekort geskiet het aan die regverdige standaarde van die Wet, en het hulle deeglik bewus geword van die feit dat hulle inderdaad sondaars was.

D. Om ’n mens meer te laat sondig
Die vierde doel, en hierdie een is vreemd, maar dit is daar soos ons sal sien, is om ’n mens meer sonde te laat doen. Kom ons lees die gedeeltes in die Brief aan die Romeine waar Paulus hiervan praat.

In Romeine 4:15 sê Paulus byvoorbeeld: Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. In Romeine 5:20 herhaal hy in soortgelyke woorde: Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Laat ek herhaal: In Romeine 4:15: Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. En in Romeine 5:20: Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Die prentjie wat hy skilder, is dat die wet bygekom het om meer sonde te veroorsaak, om ons inderwaarheid meer te laat sondig. Hoe werk dit?

Paulus verduidelik dit in Romeine 7:7-13: Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood. Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.

Voor ek hierdie skrifgedeelte behandel, kom ons lees eers nog een in I Korinthiërs 15:56: Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.

Wat Paulus basies sê in Romeine 7 en I Korinthiërs, is dat ’n sondige natuur ’n basis nodig het vir handeling (aanleiding nodig het om te funksioneer); wat meer is, vir die sondige natuur is die Wet die aanleiding om te funksioneer. Paulus sê, “Waar daar geen wet is nie, is daar geen oortreding nie.” Hy het natuurlik nie bedoel dat daar geen sonde was voordat die Wet gegee is nie. Die term oortreding is ’n spesifieke soort sonde ten opsigte van die verbreking van ’n spesifieke gebod. Mense was sondaars voordat die Wet gegee is, maar totdat die Wet gegee is, was hulle nie oortreders van die Wet nie. Eers toe die Wet gegee is, was dit aanleiding vir die sondige natuur om te funksioneer. Want die oomblik toe die Wet gesê het, “Jy mag nie,” het die sondige natuur gesê, “O ja, ek sal.” Of, die oomblik toe die Wet gesê het, “Jy moet dit doen,” het die sondige natuur gesê, “O nee, ek sal nie.” Die sondige natuur het skielik aanleiding gehad om te funksioneer. Die Wet, met al hierdie nuwe gebooie wat skielik gegee is, was vir die sondige natuur soos die versterkte posisie van ’n vyandelike mag. Dit het die sondige natuur ’n rede gegee om eintlik “oorboord te gaan”, en alles in sy vermoë te begin doen om die individu te beweeg om hierdie gebooie teen te staan, en nog meer sonde te doen.

Dit is die vierde doel van die Wet van Moses.

E. Om ons tot geloof te lei
Dit het gelei tot die vyfde doel, wat gevind word in Galasiërs 3:24, en dit is om ons tot geloof te lei.

Galasiërs 3:24-25 lees: Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie. Die finale doel van die Wet is om ons tot geloof te lei. Dit bou voort op die vierde doel. Al sou ons ook hoe hard probeer om die Wet volmaak te onderhou, sal ons dit as gevolg van ons sondige natuur nooit regkry nie. Soos Paulus in Romeine 7 sê, “Hoe ek ookal probeer om nie te begeer nie, skielik begeer ek almal en alles. En ek vind myself vol van die sonde van begeerte.” Dit het veroorsaak dat hy meer gesondig het, totdat dit hom gedryf het tot volkome geloof.

Daarom, die vyfde doel van die Wet is om ’n mens tot geloof te dryf; spesifiek geloof in Jesus die Messias.

II. DIE EENHEID VAN DIE WET VAN MOSES
Dit moet verstaan word dat die Mosaïese Wet deur die Skrif as ’n eenheid gesien word. Die woord Torah, wat “wet” beteken, is altyd enkelvoud wanneer dit van toepassing is op die Wet van Moses, alhoewel dit 613 gebooie bevat. Dieselfde geld vir die Griekse woord nomos in die Nuwe Testament. Die indeling van die Wet van Moses in seremoniële, wetlike en morele afdelings, is gerieflik vir die studie van verskillende soorte gebooie wat daarin vervat is, maar dit word nooit deur die Skrif self so ingedeel nie. Ook is daar geen skriftuurlike basis daarvoor om die Tien Gebooie van die hele 613 te skei, en net die tien ewigdurend te maak nie. Al 613 gebooie is ’n enkele eenheid en die hele Wet van Moses is daarin vervat.

Dit is hierdie beginsel van die eenheid van die Wet van Moses wat onderliggend is aan die stelling in Jakobus 2:10: Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Die punt is duidelik: ’n Mens hoef net skuldig te wees aan die verbreking van een van die 613 gebooie om skuldig te wees aan die verbreking van die hele Wet van Moses. Dit kan net waar wees as die Mosaïese Wet ’n eenheid is. As dit nie is nie, lê die skuld net in die oortreding van die spesifieke gebod en nie van die hele Wet nie. Met ander woorde, as iemand ’n wetlike gebod verbreek, is hy ook skuldig aan die verbreking van die seremoniële en morele gebooie. Dieselfde geld vir die verbreking van ’n morele of seremoniële gebod. Om die punt nog nader te illustreer, as ’n persoon ham eet, is hy volgens die Wet van Moses skuldig aan die verbreking van die Tien Gebooie, al sê nie een van die tien enigiets oor die eet van ham nie. Die Wet is ’n eenheid, en om een van die 613 gebooie te verbreek, is om hulle almal te verbreek.

Om ’n duidelike begrip te hê van die Wet van Moses met betrekking tot die gelowige, Jood of nie-Jood, is dit nodig om daarna te kyk soos wat die Skrif dit sien: as ’n eenheid wat nie verdeel kan word in afdelings wat opgehef is en afdelings wat nie opgehef is nie. Ook kan sekere gebooie nie afgeskei word deur aan hulle op ’n sekere manier ’n status te gee wat verskil van die ander gebooie nie.

III. DIE WET VAN MOSES IS ONGELDIG GEMAAK
Die ondubbelsinnige leer van die Nuwe Testament is dat die Wet van Moses ongeldig gemaak is met die dood van die Messias. Met ander woorde, die Wet, in totaliteit, het nie meer enige outoriteit oor enige individu nie.

Heel eerste, dit is duidelik uit Romeine 10:4: Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Glashelder, Christus is die einde van die wet, en dit sluit al 613 gebooie in; gevolglik het die Wet opgehou om te funksioneer. Deur die Wet is daar geen regverdigmaking nie.

In Galasiërs 2:16 lees ons: terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons [die Jode] het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

Wat meer is, volgens Hebreërs 7:19, is daar geen heiligmaking of volmaaktheid deur die Wet nie: (omdat die wet niks volkome gemaak het nie); maar aan die ander kant is daar die invoering van ’n beter hoop waardeur ons tot God nader. Dit behoort dus baie duidelik te wees dat die Wet in die Messias tot ’n einde gekom het en geen funksie het in regverdigmaking of heiligmaking nie. Vir die gelowige spesifiek, is dit ongeldig gemaak. Die oorblywende verse, egter, toon dat die Wet opgehou het om enigsins te funksioneer.

Tweedens, die Wet was nooit bedoel om permanent van toepassing te wees nie, maar was slegs tydelik, soos ons in Galasiërs 3:19 lees: Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom. In die konteks verwys Paulus na die Wet van Moses as ’n byvoeging tot die Verbond met Abraham. Dit is bygevoeg met die doel om sonde baie duidelik uit te wys sodat almal kan weet dat hulle nie voldoen aan God se standaarde vir geregtigheid nie. Dit was ’n tydelike byvoeging totdat die Saad; dit is, die Messias, sou kom; en noudat Hy gekom het, is die Wet verby. Die byvoeging het met die kruis opgehou om te funksioneer.

Derdens, met die Messias is daar ’n Nuwe Priesterorde volgens die Orde van Melgisédek, nie volgens die Orde van Aäron nie. Die Wet van Moses het die basis voorsien vir die Levitiese Priesterorde. Dus, ’n Nuwe Priesterorde het ’n nuwe Wet vereis waaronder dit kon funksioneer.

Dit is duidelik uit Hebreërs 7:11-12 en 18. Verse 11-12 verklaar: As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was – want met die oog daarop het die volk die wet ontvang – waarom was dit nog nodig dat ’n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Vers 18 verklaar: Want aan die een kant is daar die opheffing van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan.

Die punt wat in Hebreërs 7:11-12 gemaak word, is dat net een priesterorde toegelaat is en dit was die Levitiese Priesterorde. Die Levitiese Priesterorde kon nie volmaaktheid bring nie. Dit word verduidelik in Hebreërs 9 en 10 waar dit baie duidelik gestel word dat dierebloed nie volmaaktheid kon bring nie; net die Messias se bloed kon dit doen. Die Wet van Moses was die basis vir die Levitiese Priesterorde. Die skrywer van die Hebreërbrief sê, vir die Levitiese Priesterorde om op te hou funksioneer, en deur ’n nuwe priesterorde vervang te word, die Priesterorde van Melgisédek, sou die Wet verander moes word. So lank as wat die Wet van Moses geldig was, was geen ander priesterorde behalwe die Aäronitiese en die Levitiese Priesterorde geldig nie.

Was daar ’n verandering van die Wet? Hebreërs 7:18 verklaar dat die Wet van Moses “opgehef” is. En omdat dit nie langer geldig was nie, kon daar nou ’n Nuwe Priesterorde wees, volgens die Orde van Melgisédek. As die Wet van Moses steeds geldig was, sou Jesus nie as ’n priester kon optree nie. Omdat die Wet van Moses nie langer geldig is nie, kan Jesus ’n priester wees volgens die Orde van Melgisédek.

Gevolglik is die Wet van Moses “opgehef” ten gunste van ’n Nuwe Wet, wat die basis is vir die priesterorde volgens die Orde van Melgisédek.

Die vierde bewys wat aangevoer word vir die opheffing van die Mosaïese Wet, fokus direk op die deel van die Wet wat die meeste mense wil behou, die Tien Gebooie.

Kom ons lees ’n baie veelseggende skrifgedeelte uit II Korinthiërs 3:2-11: Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. So ’n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ’n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid.

Heel eerste moet daar gekyk word na wat Paulus sê aangaande die Wet van Moses. In vers 7, word dit genoem: die bediening van die dood. In vers 9, word dit genoem: die bediening wat veroordeel. Hierdie beskrywings is negatief, maar geldig. In verse 3 en 7 is die fokus op die Tien Gebooie, want dit is hierdie gebooie wat met letters op klippe gegraveer is. Die hoofgedagte dan, is dat die Wet van Moses, veral soos verteenwoordig deur die Tien Gebooie, ’n bediening van die dood is en ’n bediening wat veroordeel. As die Tien Gebooie vandag steeds geldend was, sou dit steeds die geval gewees het.

Maar hulle is nie langer geldend nie, want in verse 7 en 11 word dit verklaar dat die Wet “moes vergaan”. Die Griekse woord wat gebruik word, is katargeo, wat beteken “om ongeldig te verklaar”. Aangesien die fokus in hierdie skrifgedeelte op die Tien Gebooie is, beteken dit dat die Tien Gebooie “vergaan” het. Die redenasie is baie duidelik; die Wet van Moses, en veral die Tien Gebooie, is nie langer geldend nie. Inderdaad word die hoër gesag van die Wet van die Messias daarin gesien dat dit nooit ongeldig verklaar sal word nie.

In Efesiërs 2:11-16 skryf Paulus: DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees wat met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van die gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

In Efesiërs 3:6 lees ons: dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Wat Paulus basies in hierdie verse sê, is dit: God het sekere verbonde met die Jodedom gesluit. Daar is inderwaarheid vier onvoorwaardelike, ewige verbonde wat God met Israel gesluit het, en daar word na hierdie verbonde verwys as die Abrahamitiese Verbond, die sogenaamde Palestynse (of Kanaänitiese) Verbond, die Dawidiese Verbond en die Nuwe Verbond. Ander studies behandel hierdie verskillende verbonde in meer besonderhede. Al God se seëninge, sowel materieel as geestelik, word bemiddel deur hierdie vier Joodse verbonde wat ewig en onvoorwaardelik is.

Terselfdertyd wys Paulus daarop dat God ’n vyfde verbond bygevoeg het wat tydelik en voorwaardelik was. Dit is die Mosaïese Verbond wat die Mosaïese Wet bevat het. Volgens Efesiërs 2:14 het die Wet van Moses gedien as ‘n middelmuur van skeiding. Dit is ’n ander doel van die Wet wat ons nog nie behandel het nie: om te dien as ’n middelmuur van skeiding om die heidennasies as heidennasies te behou, uitgesluit van die genieting van Joodse geestelike seëninge. In die Ou Testament, as ’n heiden die Joodse geestelike seëninge wou ontvang, moes hy al die verpligtinge van die Wet aanvaar; besny word; en lewe soos enige ander Jood moes lewe. Slegs heidene wat hulle tot die Judaïsme bekeer het, kon die seëninge van die Joodse verbonde geniet; heidene as heidene, kon nie. As die Mosaïese Wet steeds geldend sou wees, sou daar steeds vandag ’n middelmuur van skeiding gewees het wat die heidene buite sou hou. Maar die middelmuur van skeiding is afgebreek met die dood van die Messias. Weer eens, die middelmuur van skeiding was die Mosaïese Wet, en dit beteken die Wet van Moses het verval. Heidene as heidene, kan op grond van geloof Joodse geestelike seëninge geniet, en geniet dit ook wel, deur mededeelgenote aan sy belofte in Christus te word. Hoewel gelowiges uit die heidendom nie deel in die fisieke seëninge nie, deel hulle wel in die geestelike seëninge.

Om op te som: Die Wet is ’n eenheid bestaande uit 613 gebooie, en almal van hulle is ongeldig verklaar. Daar is geen gebod wat ná die kruis van die Messias aanhou geld het nie. Die Wet is daar en kan as ’n leermeester (of tugmeester) gebruik word om God se standaard van geregtigheid en die mens se sondigheid en behoefte aan plaasvervangende versoening uit te wys. Dit kan gebruik word om mense na die Messias toe te wys (Gal. 3:23-25). Desnieteenstaande, dit het geheel en al opgehou om as ’n outoriteit oor individue te funksioneer.

IV. DIE MESSIAANSE GELOWIGE IS ONDER ’N NUWE WET
Die Wet van Moses is ongeldig verklaar en ons is nou onder ’n nuwe wet. Hierdie nuwe wet word genoem: die wet van Christus in Galasiërs 6:2 en die wet van die Gees van die lewe in Romeine 8:2. Dit is ’n splinternuwe wet hierdie, heeltemal afgeskei van die Wet van Moses. Die Wet van die Messias bevat al die gebooie wat op die Nuwe-Testamentiese gelowige van toepassing is.

Die rede hoekom daar soveel verwarring bestaan oor die verhouding van die Wet van Moses en die Wet van die Messias, is dat baie gebooie in die Wet van die Messias ooreenkom met dié wat in die Mosaïese Wet gevind word, en baie gelowiges het daarom tot die slotsom gekom dat sekere afdelings van die Wet behoue gebly het. Maar dit is alreeds uitgewys dat dit nie die geval kan wees nie, en die verduideliking vir die ooreenkoms van die gebooie moet elders gesoek word.

Hierdie verduideliking is die beste verstaanbaar as dit besef word dat daar ’n aantal kodes in die Bybel is; soos die Edeniese, Adamiese, Noagitiese, Mosaïese en Christelike. ’n Nuwe kode sal altyd sekere gebooie bevat wat dieselfde is as dié van die vorige kode, maar dit beteken nie dat die vorige kode steeds geldend is nie. Hoewel sekere gebooie van die Adamiese Kode ook gevind is in die Edeniese Kode, het dit nie beteken dat die Edeniese gebooie steeds gedeeltelik geldend was nie. Die Edeniese Kode het ophou funksioneer met die sondeval. Dieselfde is waar wanneer ons die Wet van die Messias met die Wet van Moses vergelyk. Daar is baie gebooie wat dieselfde is. Byvoorbeeld, nege gebooie van die Tien Gebooie word in die Wet van die Messias gevind, maar dit beteken nie dat die Wet van Moses steeds geldend is nie.

Kom ek illustreer dit deur ’n voorbeeld wat vir baie van ons bekend sal wees. Ek het my eerste bestuurderslisensie in die staat van Kalifornië gekry, en vir solank as wat ek in Kalifornië motor bestuur het, was ek onderworpe aan die verkeerswette van daardie staat. Maar na ’n paar jaar het ek na New York verhuis. Toe ek Kalifornië verlaat het, was ek nie meer onderhewig aan die Kaliforniese verkeerswette nie. Die verkeerswette van daardie staat was nie meer geldend in my geval nie. Ek as motorbestuurder was nou onderhewig aan ’n nuwe wet, die verkeerswette van die Staat van New York. Daar was baie wette van die twee state wat verskil het. In Kalifornië was ek toegelaat om regs te draai by ’n rooi lig nadat ek gestop en gewag het vir ander motors om eerste te ry, maar in New York was geen draai by ’n rooi lig toegelaat nie. Daar was ook baie wette wat ooreengekom het in die twee state; soos byvoorbeeld, die wet wat voorgeskryf het dat ek by ’n rooi lig moes stop. Wanneer ek in New York by ’n rooi lig gestop het, het ek dit nie gedoen in gehoorsaamheid aan die Staat van Kalifornië soos wat ek voorheen gedoen het nie, maar in gehoorsaamheid aan die Staat van New York. By ’n groen lig kon ek ry, nie op grond van die Kaliforniese wet nie, maar op grond van die New Yorkse wet. As ek oor ’n rooi lig gery het sonder om te stop, was ek nie skuldig aan die verbreking van die Kaliforniese wet nie, maar van die New Yorkse wet. Baie wette het ooreengekom, maar hulle was onder twee heeltemal verskillende stelstels.

Die Wet van Moses is ongeldig verklaar en ons is nou onder die Wet van die Messias. Daar is baie gebooie wat verskil. Onder die Wet van Moses sou ons nie toegelaat gewees het om varkvleis te eet nie, maar onder die Wet van die Messias mag ons. Daar is baie gebooie wat ooreenkom, maar hulle is nogtans in twee verskillende stelsels. So, as ons nie doodmaak of steel nie, is dit nie omdat ons onder die Wet van Moses is nie, maar op grond van die Wet van die Messias. Aan die ander kant, as ek wel steel, is ek nie skuldig aan die verbreking van die Wet van Moses nie, maar aan die verbreking van die Wet van die Messias.

Hierdie insig kan help om baie probleme onder fundamentele gelowiges op te los; byvoorbeeld kwessies soos of vrouens mag broek dra, die Sabbat, en die gee van die tiende. As die gebooie ten opsigte van hierdie dinge slegs gebaseer is op die Wet van Moses en nie op die Wet van die Messias nie, het hulle geen geldigheid vir die Nuwe-Testamentiese gelowige nie.

V. DIE BEGINSEL VAN VRYHEID
Soos reeds uitgewys, die gelowige in die Messias is vry van die Wet van Moses. Dit beteken dat hy vry is van die noodwendigheid om enige gebod van daardie stelsel te onderhou. Aan die ander kant is hy egter ook vry om afdelings van die Wet van Moses te onderhou as hy sou wou. Die Bybelse basis vir hierdie vryheid om die Wet te onderhou, kan gesien word in die optrede van Paulus, die grootste pleitbesorger vir vryheid van die Wet. Sy gelofte in Handelinge 18:18 is gebaseer op Númeri 6:2, 5, 8, 9 en 18. Sy begeerte in Handelinge 20:16 om op die Pinksterfees in Jerusalem te wees, is gebaseer op Deuteronómium 16:16. Die sterkste skrifgedeelte is Handelinge 21:17-26, waar ons vir Paulus sien, die apostel vir vryheid van die Wet, wat self die Wet onderhou.

Die gelowige is vry van die Wet van Moses, maar hy is ook vry om afdelings daarvan te onderhou. Dus, as ’n Joodse gelowige die behoefte voel om nie varkvleis te eet nie, is hy vry om dit nie te doen nie. Dieselfde geld vir al die ander gebooie.

Nietemin, daar is twee gevare wat die Messiaanse gelowige wat uit vrye wil die gebooie van die Wet van Moses wil onderhou, moet vermy. Een gevaar is die idee dat hy deur die wet te onderhou, bydra tot sy eie regverdigmaking en heiligmaking. Dit is vals en moet vermy word. Die tweede gevaar is om van ander te verwag om dieselfde gebooie te onderhou wat hy besluit het om te onderhou. Dit is net so verkeerd en grens aan wettisisme. Die een wat vryheid uitoefen om die Wet te onderhou, moet ’n ander se vryheid om dit nie te onderhou nie, erken en respekteer.

Inhoudsopgawe

I. DIE DOEL VAN DIE WET VAN MOSES
     A. Om die heiligheid van God te openbaar
     B. Om gedragsreëls vir Ou-Testamentiese heiliges neer te lê
     C. Om sonde te openbaar
     D. Om ’n mens meer te laat sondig
     E. Om ons tot geloof te lei
II. DIE EENHEID VAN DIE WET VAN MOSES
III. DIE WET VAN MOSES IS ONGELDIG GEMAAK
IV. DIE MESSIAANSE GELOWIGE IS ONDER ’N NUWE WET
V. DIE BEGINSEL VAN VRYHEID

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Waarmee is Jesus (Yeshua) vandag besig? Gewoonlik praat mense oor Christus se werk in die verlede tyd, dit wil sê terwyl Hy op aarde geleef het. Hulle praat ook oor dit wat Jesus in die toekoms nog gaan doen, dit wil sê die wegraping, die wederkoms, die koninkryk en die ewige lewe. Dit is eintlik vreemd om iemand te hoor preek oor dit wat Jesus vandag doen. In hierdie artikel word die huidige werk van die Messias, oftewel die “huidige sessie”, soos teoloë dit noem, bespreek. Dit gaan oor die dinge waarmee Jesus Christus vandag besig is.