Drie en dertig sake van posisionele waarheid

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. – Efésiërs 1:6

Wat volg, is ’n studie oor die drie en dertig dinge wat met elke gelowige gebeur sodra hy gered word. Daar word partykeer na hierdie sake as posisionele waarheid verwys: dít wat vir die gelowige geld danksy sy posisie in Christus of in die Messias. Dit staan ook bekend as die gelowige se identifikasie met die Messias; die gelowige word danksy sy redding in ’n staat van eenheid met die Messias geïdentifiseer.

INLEIDING
B. Die definisie van die term “In Christus”
’n Mens vind – byna eksklusief – in baie van Paulus se geskrifte uitdrukkings soos: in Christus, in Jesus, in Jesus Christus, in Christus Jesus, in Hom, en in wie. Vir Paulus is hierdie uitdrukkings tegniese terme. Elke keer as Paulus een van hierdie uitdrukkings gebruik, openbaar hy die een of ander iets wat waar is danksy die gelowige se posisie in die Messias. Paulus se leerstelling oor die gelowige se stand in Christus verwys na die gelowige se eenheid met die Messias. Dit verwys na die geredde mens se nuwe posisie in die sfeer van die opstandingslewe.

A. Posisie en praktyk
Dit is dalk raadsaam om op hierdie tydstip te onderskei tussen die gelowige se posisie en die praktyk.

Posisie verwys na die drie en dertig sake wat hieronder volg. Die gelowige se posisie is die manier waarop God hom sien: nie soos hy optree nie, maar wie hy in die Messias is.

Wat die praktyk betref, moet die gelowige probeer om sy optrede met sy posisie te laat strook. Die Heilige Gees se hele taak, sy heiligmakingswerk, is daarop gemik om die gelowige se lewe, sy alledaagse optrede, te laat strook met wie die gelowige reeds posisioneel in die Messias is.

C. Die sleutel om die nuwe posisie te betree
Die middel om hierdie nuwe posisie te betree, is deur die Heilige Gees se dopingswerk. Dit is waaroor 1 Korinthiërs 12:13 handel: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Doping deur die Gees is die manier waarop ’n gelowige in die Messias geplaas word. Dit is hoekom doping deur die Gees eie is aan die Kerk. Dit was nie voor die gebeure in Handelinge 2 een van die Heilige Gees se bedienings nie, en Hy sal nie hierdie bediening voortsit ná die Wegraping van die Kerk nie. Dit is ’n bediening wat uitsluitlik op die Kerk, die Liggaam van die Messias, gemik is. Die manier waarop ’n gelowige hierdie nuwe posisie deelagtig word, is deur die Heilige Gees se dopingswerk.

D. Twee kernwaarhede oor posisionele waarheid
1. Die bron
In die eerste plek is God se genade die bron van posisionele waarheid. Die oorsprong van hierdie drie en dertig sake, die bron van die gelowige se posisie in die Messias, is die genade van God. Dit word in Efésiërs 1:6 uitgelig: … tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.

Die uitdrukking in die Geliefde is net ’n ander manier om te sê “in die Messias”. Die gelowige se posisie in die Messias, sy posisie van waarheid, die drie en dertig sake – alles is te danke aan God se genade.

Paulus skryf later in Efésiërs 2:7: … sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

Paulus wys met die gebruik van die posisionele stelling in Christus Jesus dat die gelowige se posisie te danke is aan die uitnemende rykdom van sy genade.

Die eerste ding wat ’n mens dus uit hierdie teksgedeeltes leer, is dat God se genade die bron van posisionele waarheid is.

2. Die grondslag van die gelowige se gesag
Die tweede sleutelwaarheid wat ’n mens uit die Skrif oor posisionele waarheid leer, is dat dit die grondslag vorm van die gelowige se gesag. Die gesag van die geestelike lewe rus op die gelowige se posisie in die Messias. Efésiërs 1:17-19 stel dit soos volg: … dat die God van onse Here Jesus Christus … aan julle … mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte.

Die gelowige se posisie gaan met gesag gepaard. Die grondslag van die gelowige se gesag is sy posisie. Die gelowige se posisie in die Messias het inherent gesag, net soos wat die rang van ’n sersant of ’n luitenant of ’n kolonel of ’n generaal met ’n sekere mate van gesag gepaard gaan. As ’n sersant bevorder word tot ’n luitenant en nie weet wat die posisie van luitenant alles behels nie, sal hy steeds op die vlak van ’n sersant funksioneer. Dít is hoekom baie gelowiges nie die gesag uitoefen waaroor hulle beskik nie: Hulle weet nie watter gesag by hul nuwe posisie ingesluit is nie. Een van die belangrikste redes om hierdie drie en dertig sake te bestudeer, is om uit te vind wat presies ons posisie in die Messias vir ons lewe inhou.

E. Verweer teen Satan
Posisionele waarheid is die beste verweer teen die sataniese front in geestelike oorlogvoering. Dit tree in drie teksgedeeltes na vore. Die eerste is Kolossense 2:14-15: … en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

Die gelowige is, danksy sy posisie in die Messias, saam met die Messias gekruisig. Hierdie feit beteken dat die gelowige Satan oorwin het. Die gelowige se beste verweer teen die sataniese front in geestelike oorlogvoering is dus sy posisie in die Messias, en om te weet watter gesag daarmee gepaard gaan.

’n Tweede teksgedeelte wat dieselfde waarheid beklemtoon, is Hebreërs 2:14-15: Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Die skrywer van die Hebreërbrief benadruk dieselfde punt: dat die gelowige die sleutel tot oorwinning het uit hoofde van die Messias se dood en Opstanding, en uit hoofde van die gelowige se posisie in die Messias – wat beteken dat hy saam gekruisig is en opgestaan het. Dit is waarop sy verweer teen die sataniese front rus.

Efésiërs 6:10-18 is waarskynlik een van die omvattendste teksgedeeltes oor hierdie onderwerp: EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.

Paulus sê drie keer in hierdie teksgedeelte dat die gelowige die duiwel moet weerstaan. Die beste manier om Satan te weerstaan, is om kragtig [te word] in die Here (Ef 6:10). In die Here is ’n tegniese term wat die gelowige se posisie in die Messias beskryf. Om kragtig te word in die Here moet ’n mens jou posisie én die gesag wat met daardie posisie gepaard gaan, erken. Die bestudering van hierdie drie en dertig dinge sal ’n mens help om presies te weet watter gesag ’n mens in die Messias het. Gewapen met hierdie kennis, kan ’n mens werklik geestelike oorlogvoering aanknoop en ook die oorwinning behaal.

F. Implikasies
Die posisionele waarheid oor die gelowige se posisie in die Messias het ’n paar spesifieke implikasies. Hierdie implikasies het almal te doen met verskeie fasette van die gelowige se identifikasie met die Messias in sy versoeningswerk. Daar is altesaam agt sulke implikasies.

In die eerste plek is die gelowige saam met die Messias gekruisig (Gal 2:20).

Tweedens het die gelowige saam met die Messias gesterf (Kol 2:20).

Derdens is die gelowige saam met die Messias begrawe (Rom 6:4).

Vierdens is die gelowige saam met die Messias lewend gemaak (Ef 2:5).

Vyfdens is die gelowige saam met die Messias opgewek (Kol 3:1).

In die sesde plek ly die gelowige saam met die Messias (Rom 8:17).

In die sewende plek sal die gelowige ook saam met die Messias verheerlik word (Rom 8:17).

En in die agtste plek gaan gelowiges mede-erfgename van die Messias wees (Rom 8:17).

I. REDDING
Redding is die eerste posisionele waarheid oor die gelowige. Die skrifgedeeltes wat redding as deel van posisionele waarheid beskryf, is Romeine 3:24; 1 Korinthiërs 1:30; Efésiërs 1:7 en Kolossense 1:14.

Die prys van ons redding was die Messias se bloed. Die konsep van redding beteken in wese “om los te koop uit”. In die geestelike sfeer beteken dit “om los te koop uit die slawemark van sonde”. Om iets te koop, kos altyd ’n prys. Die koopprys was die Messias se bloed (1 Kor 6:19-20; 1 Pet 1:18-19).

Daar is drie verskillende Griekse woorde wat beteken “om te red”. Elkeen het ’n ander betekenisnuanse. Die eerste woord is agorazo, wat beteken “om te koop”, of “om die tol wat sonde eis te betaal sodat ’n mens gered kan word” (2 Pet 2:1; Openb 5:9). Die tweede woord is exagorazio, wat beteken “om uit die mark te koop”. In die geestelike sfeer beteken dit “om los te koop uit die slawemark van sonde” (Gal 3:13; 4:5). Die derde Griekse woord is lutroo, en dit beteken “om vry te stel en te bevry” (Matt 20:28; 1 Tim 2:6; Tit 2:14).

As ’n mens hierdie drie Griekse woorde kombineer, beteken redding dat die geredde persoon losgekoop word deur die betaling van ’n prys, die Messias se bloed; die persoon word uit die mark, die slawemark van sonde, verwyder, en vrygestel om die Here te dien.

II. VERSOENING
Die gelowige se tweede posisie is versoening. Versoening beteken dat die posisie van die wêreld, wat van God vervreemd was, deur die Messias se dood verander is, sodat alle mense nou gered kan word. Versoening het alle mense “redbaar” gemaak. Dit beteken nie dat alle mense gered sál word nie, want die element van persoonlike geloof moet steeds daar wees; dit het egter daartoe gelei dat alle mense gered kan word (Rom 5:10-11; 2 Kor 5:18-19; Kol 1:20-22).

Uit ’n Bybelse oogpunt beteken versoening nie dat twee partye wat te na gekom is, met mekaar versoen word nie. Nee, dit beteken dat die mensdom wat oortree het, versoen word met God, teen Wie daar oortree is.

III. SOENOFFER
Die soenoffer is die gelowige se derde posisie. Die soenoffer beteken per definisie dat God se toorn geabsorbeer is deur dít wat die Messias se dood volgens Romeine 1:18a bereik het: WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense.

Dít wat deur die Messias se dood bereik is, het deur die werking van die soenoffer God se toorn geabsorbeer; God is dus nie meer toornig teenoor die gelowige nie (Rom 3:25; 1 Joh 2:2; 4:10).

IV. VERGIFNIS
Die gelowige se vierde posisie is vergifnis. Vergifnis beteken dat al die gelowige se sondes – in die verlede, hede en toekoms – heeltemal vergewe is (Ef 1:7; Kol 1:14; 2:13). Dit beteken dat ’n gelowige geen sonde kan doen wat sal veroorsaak dat hy sy redding verbeur nie. Die Messias het gesterf lank voordat enigiemand wat tans lewe ’n enkele sonde gepleeg het. Hy het vir alle toekomstige sondes gesterf, insluitend dié van mense wat tans lewe. Alle sondes – histories, teenswoordig en toekomstig – is heeltemal vergewe. Dit is waarom daar geen sonde is wat die gelowige kan pleeg wat kan veroorsaak dat hy sy redding verbeur nie.

Ons vind hierdie waarheid toegepas in Efésiërs 4:32: Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Let wel op die term in Christus. Dit is die tegniese term wat die gelowige se posisie beskryf. Paulus benadruk die posisie van vergifnis: soos God ook in Christus julle vergewe het. Die toepassing is dat die gelowige sy medegelowiges wat hom te na gekom het, moet vergewe, aangesien hy self vergewe is.

Nog ’n teksgedeelte wat ’n toepassing hiervan bevat, is Kolossense 3:13: Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

Aangesien die gelowige vergewe is, moet hy bereid wees om ander te vergewe.

V. REGVERDIGMAKING
Regverdigmaking is die vyfde posisie van die gelowige. Die definisie van regverdigmaking is “om regverdig verklaar te word” (Rom 3:24; 5:19; 8:30). Regverdigmaking beteken dat geloof sal lei tot die toeskrywing van die Messias se geregtigheid. Die feit dat die gelowige in die Messias oor geregtigheid beskik, is die grondslag vir die aankondiging van regverdigmaking of die regverdigverklaring.

VI. VERHEERLIKING
Die gelowige se sesde posisie is verheerliking. Die feit dat die gelowige voor God se aangesig verheerlik word, is die waarborg van die uiteindelike toeskrywing van die Messias se heerlikheid (Rom 8:18, 30; 9:23; Kol 3:4; 1 Joh 3:2). Posisioneel gesproke, beteken verheerliking dat die gelowige prakties en ervaringsgewys verheerlik gaan word wanneer daardie tyd aanbreek.

VII. BEVRYDING
Die gelowige se sewende posisie is bevryding. Hierdie posisie verwys spesifiek daarna om bevry te word uit die mag van die duisternis (Hand 26:18; Ef 2:1-2; Kol 1:13; Heb 2:14-15). Die feit dat die gelowige uit die mag van die duisternis bevry is, beteken dat hy hoegenaamd nie meer ’n verpligting het om Satan te dien nie. Die gelowige is oorgeplaas vanaf die koninkryk van duisternis na die Seun se koninkryk van lig.

VIII. BESNYDENIS
Besnydenis is die gelowige se agtste posisie. Dit verwys nie na fisiese besnydenis – besnydenis van die liggaam – nie, maar na die besnydenis van die hart waarvan ons in Kolossense 2:11 lees. Hierdie posisionele waarheid, besnydenis van die hart, behels die aflegging van vleeslike optrede.

Die praktiese toepassing van besnydenis in die Messias is om vleeslike optrede af te lê, en om regverdig voor die Here te wandel.

IX. OM VIR GOD AANVAARBAAR TE WEES
Die gelowige se negende posisie is om aanvaarbaar te wees vir God. Die gelowige is volgens Efésiërs 1:6 en 1 Petrus 2:5 vir God aanvaarbaar. Hierdie spesifieke posisionele waarheid het vyf fasette.

In die eerste plek beteken dit dat die gelowige regverdig gemaak is deur die toeskrywing van die Messias se geregtigheid aan hom (Rom 5:11-21; 1 Kor 1:30; 2 Kor 5:21).

Die tweede faset daarvan om vir God aanvaarbaar te wees, is dat die gelowige posisioneel gesproke heilig gemaak is. Die gelowige word, uit God se oogpunt gesien, heilig gemaak; dit is hoekom God alle gelowiges “geheiligdes” kan noem (1 Kor 1:2, 30; 6:11).

Die derde faset daarvan om vir God aanvaarbaar te wees, is dat die gelowige vir altyd volmaak word. Uit die oogpunt van posisionele waarheid gesien, word die gelowige reeds as volmaak beskou (Heb 10:14).

Die vierde faset is dat die gelowige aanvaarbaar gemaak is. Die rede waarom die gelowige vir God aanvaarbaar is, is omdat hy aanvaarbaar gemaak is. Hy is aanvaarbaar gemaak deur nie vir sy sondes veroordeel te word nie (Joh 3:18; 5:24; Rom 8:1).

Die vyfde faset daarvan om vir God aanvaarbaar te wees, is dat die gelowige bekwaam gemaak word. Om bekwaam gemaak te word beteken “om te laat kwalifiseer”. Die gelowige is gekwalifiseer, en is derhalwe aanvaarbaar vir God (Kol 1:12).

X. DIE EERSTELINGE VAN DIE HEILIGE GEES
Die tiende posisie is dat gelowiges volgens Romeine 8:23 die eerstelinge van die [Heilige] Gees het. Hierdie posisie het vyf fasette.

Die eerste faset is dat die gelowige wedergebore is (Joh 3:5-6; Tit 3:5).

Die tweede faset is dat die gelowige deur die Heilige Gees gedoop is, ’n daad wat die gelowige inlyf by die Liggaam van die Messias (Rom 6:1-10; 1 Kor 12:13).

Die derde faset daarvan om die eerstelinge van die Heilige Gees te hê, is dat die Heilige Gees in die gelowige woon, wat daartoe lei dat ’n mens se liggaam ’n tempel van God word (Rom 5:5; 8:9; 1 Kor 3:16; 6:19; Gal 4:6; 2 Tim 1:14; 1 Joh 2:27; 3:24).

Die vierde faset is dat die gelowige deur die Heilige Gees verseël word. Om deur die Heilige Gees verseël te word, verseker die gelowige dat hy ewige sekerheid het (2 Kor 1:22; Ef 1:3-14; 4:30).

Die vyfde faset is dat die gelowige met die Heilige Gees vervul word. Hierdie bediening bemagtig die gelowige vir diens (Ef 5:18).

XI. IN GOD SE EWIGE RAADSPLAN
Die elfde posisie waarin die gelowige hom bevind, en waaraan hy deel het, is God se ewige raadsplan waarvan ons lees in 2 Timótheüs 1:9. Dit het ook vyf fasette.

Die eerste faset is dat die gelowige deur God voorbeskik is; hy is uitverkore volgens die voorkennis van God (Rom 8:29; Ef 1:5, 11, 12; 1 Pet 1:1-2).

Die tweede faset is dat die gelowige vantevore deur God verordineer is om gered te word (Joh 6:65; Rom 8:29-30).

Die derde faset is dat die gelowiges God se uitverkorenes is; hulle is deur God uitverkies (Rom 8:33; Kol 3:12; 1 Thess 1:4; Tit 1:1; 1 Pet 1:1-2).

Die vierde faset is dat die gelowige verkies is. Om deel van God se ewige raadsplan te wees beteken dat gelowiges deur God gekies is om gered te word (Ef 1:4; 2 Thess 2:13).

Die vyfde faset daarvan om in die ewige raadsplan van God te wees is dat gelowiges geroepe is. Hulle is deur God geroepe tot ’n geredde toestand (Rom 8:30; 9:24; 1 Thess 5:24; 2 Thess 2:14; 2 Tim 1:9; Heb 3:1).

XII. GEGRONDVES OP DIE ROTS: DIE MESSIAS
Die twaalfde posisie is die grondslag van die gelowige se geloof. Omdat die gelowige op die Messias gegrondves is, het hy ’n vaste fondament waarop hy kan staan. Hy kan sy geloofslewe op ’n fondament van rots bou, en nie ’n fondament van sand nie (Matt 7:24-27; 1 Kor 3:9-15; Ef 2:20-22; 1 Pet 2:4-6).

XIII. NABY GEKOM
Die dertiende posisie is veral op nie-Joodse gelowiges van toepassing, nie so seer op Joodse gelowiges nie. “Om naby te kom” verwys na nie-Joodse gelowiges wat nou in ’n posisie gekom het waar hulle Joodse geestelike seëninge kan ervaar. Die nie-Joodse gelowige kom deur geloof in die Messias nader, nie net om die fisiese, materiële voordele van die Joodse verbonde te geniet nie, maar volgens Efésiërs 2:13 ook die geestelike voordele van die Joodse verbonde.

Die volgende toepassing word in Jakobus 4:8 gemaak: Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!

Aangesien die gelowige posisioneel nader gekom het, moet hy ook wat sy optrede betref, nader aan God beweeg. Op hierdie manier sal hy van sy sondes gereinig word.

XIV. LEDE VAN ’N HEILIGE, KONINKLIKE PRIESTERDOM
Die veertiende posisie is dat gelowiges lede geword het van ’n heilige, koninklike priesterdom; dit lei tot die priesterdom van alle gelowiges. Dit is veral waar van die Joodse gelowiges in 1 Petrus 2:5, 9, maar volgens Openbaring 1:5-6 en 5:9-10 geld dit ook vir die nie-Joodse gelowiges.

Die feit dat gelowiges lede van ’n heilige, koninklike priesterdom is, het ’n aantal implikasies. Ons vind een hiervan in Romeine 12:1-2, waar Paulus die gelowiges vermaan om hul liggame … as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer [te stel]. Om ’n lewende offer te bring, is natuurlik ’n priesterlike daad.

Ons vind nog ’n toepassing hiervan in Filippense 4:18: Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, ’n lieflike geur, ’n welgevallige offer, welbehaaglik by God.

Paulus praat in hierdie konteks oor geld wat aan hom gestuur is om hom in sy bediening te dra. Paulus sê die verlening van finansiële steun was ’n priesterlike daad. Dit was soos ’n reukoffer, ’n lieflike geur, ’n welgevallige offer, welbehaaglik by God. Een van die maniere waarop ’n gelowige sy pligte as ’n priester nakom, is om mense wat in die bediening is finansieel te steun.

In 2 Timótheüs 4:6 word daar nog ’n toepassing gemaak: WANT ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby.

Paulus praat hier van die martelaarskap wat vir hom voorlê. Wanneer ’n gelowige vir sy geloof moet sterwe, word dit ook as ’n offer gesien. ’n Deel van die praktiese aspek daarvan om ’n priestergelowige te wees, is dat ’n mens bereid moet wees om jou lewe vir jou geloof op te offer.

Nog ’n teksgedeelte waar ons ’n toepassing hiervan vind, is Hebreërs 13:15-16: Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.

Die gelowige kan sy pligte as ’n priestergelowige nakom deur aan God ’n lofoffer [te] bring. Gelowiges behoort God voortdurend te prys. Gelowiges behoort ook goeie dinge met ander te deel en goeie dade vir ander te doen, want God het ’n welbehae aan sulke offers.

XV. VERPLAAS NA GOD SE KONINKRYK
Die vyftiende posisie is dat die gelowige nie meer deel van die koninkryk van die duisternis is nie, maar – volgens 2 Petrus 1:11 – deel het aan die Koninkryk van God. Hierdie posisie het twee praktiese implikasies. Die eerste implikasie word in Kolossense 1:13 genoem, waar ons lees dat die gelowige uit die mag van die duisternis bevry is danksy sy verplasing na God se Koninkryk. Die magte van die duisternis het nie meer enige wettige aanspraak op die gelowige nie.

Tweedens vorm die gelowige se verplasing na God se Koninkryk die grondslag om getrou en ordelik op ’n Bybels verordende manier te lewe (1 Thess 2:12).

XVI. ’N UITVERKORE GESLAG, ’N HEILIGE VOLK, ’N EIENDOMSVOLK
Die sestiende posisie geld volgens 1 Petrus 2:9 meer vir Joodse gelowiges as vir nie-Joodse gelowiges. ’n Mens moet in gedagte hou dat Petrus nie vir die Kerk in die geheel skryf nie, maar dat hy spesifiek aan Joodse gelowiges geskryf het. Die Kerk is nie ’n uitverkore geslag nie; dit bestaan uit mense van alle geslagte. Die Kerk is nie ’n heilige volk nie; dit bestaan uit mense van alle volke. Die Kerk is nie God se eiendomsvolk nie; dit bestaan uit mense van alle volke, stamme en tale.

As ’n mens in gedagte hou dat Petrus spesifiek aan Joodse gelowiges geskryf het, beteken hierdie spesifieke posisie dat Joodse gelowiges die uitverkore geslag, die heilige volk, God se eiendomsvolk is. Die punt wat Petrus in hierdie konteks maak, is dat die Oorblyfsel van Israel – die Joodse gelowiges onder die volk, wat ook as God se Israel bekend staan – hul roeping vervul het, hoewel die nasie Israel in die geheel nie aan hul roeping in Exodus 19 gehoor gegee het nie. Hierdie Oorblyfsel is dus die uitverkore geslag, die heilige volk, God se eiendomsvolk.

Wat die toepassing daarvan betref, is hierdie posisie daarop gemik om goeie werke te doen (Tit 2:14).

XVII. HEMELBURGERS
Die sewentiende posisie is dat die gelowige se burgerskap nou in die Hemel is (Luk 10:20; 2 Kor 5:1-2; Ef 2:19; Fil 3:20; Heb 12:22-24; 1 Pet 2:11-12).

’n Praktiese gevolg daarvan om jou burgerskap in die Hemel te hê, is dat dit daartoe behoort te lei dat ’n mens se gedagtes op hemelse dinge gerig is, nie op aardse dinge nie. Op hierdie aarde is die gelowige bloot ’n pelgrim, ’n vreemdeling, ’n inwoner uit ’n verre land wat tydelik vertoef. Hoewel gelowiges ten volle aangemoedig word om aan aardse aktwiteite deel te neem waaraan gelowiges kan en behoort deel te neem, moet ’n mens altyd onthou dat ons “mede-burgerskap” van die Hemel baie belangriker is as ons Amerikaanse, Kanadese, Belgiese, Duitse of Suid-Afrikaanse burgerskap.

XVIII. IN GOD SE FAMILIE
Die agtiende posisie is dat die gelowiges nou huisgenote is van God, ’n deel van God se gebou (1 Kor 3:9; Gal 6:10; Ef 2:19-20; 1 Pet 2:5).

XIX. AANNEMING
Die negentiende posisie is aanneming; die gelowige is aangeneem as ’n kind van God (Rom 8:15, 23; Gal 4:5; Ef 1:4-5). Die voordeel daarvan om ’n aanneemkind te wees, is dat aanneemkinders gekies word om liefgehê te word, teenoor natuurlike kinders wat bloot in die familie is omdat hulle daarin gebore is. Die feit dat ons God se aanneemkinders is, beteken dat God gekies het om elke gelowige lief te hê.

XX. GOD SE KINDERS
Die twintigste posisie volg op die vorige een.

Aangesien die gelowige aangeneem is, is hy nou God se kind (Joh 1:12; Rom 8:16; 1 Joh 3:1-2). Hierdie posisie het vier fasette.

In die eerste plek beteken dit dat die gelowige uit God gebore is (1 Joh 5:1; 1 Pet 1:23).

Die tweede faset van ons kindskap van God is dat gelowiges wat eens dood was deur die misdade en sondes, deur God opgewek of lewend gemaak is. Hulle is nie meer geestelik dood nie, maar is opgewek om kinders van God te word. Hulle is geestelik lewend gemaak (2 Kor 5:14-15; Ef 2:5; Kol 2:13).

Die derde faset is dat gelowiges nou “seuns” van God is. Die Joodse woord vir “seuns” beteken uiteraard “volgelinge”, net soos B’nai B’rith beteken “die seuns van die verbond” of “die volgelinge van die verbond”. Noudat ons kinders van God geword het, is gelowiges seuns van God; hulle is God se volgelinge (Rom 8:14; 2 Kor 6:18; Gal 3:26; 4:6-7; 1 Joh 3:2).

Die vierde faset daarvan om ’n kind van God te word, is dat die gelowige nou ’n nuwe skepsel, ’n nuwe wese is. Die gelowige is nuut geskep om ’n kind van God te word (2 Kor 5:17; Gal 6:15; Ef 2:10; 4:24; Kol 3:10).

XXI. DEEL VAN DIE GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES
Die een en twintigste posisie is dat alle gelowiges deel is van die gemeenskap van gelowiges (Joh 17:11, 21-23; 1 Joh 1:3, 7).

Die praktiese toepassing van hierdie posisie is dat dit die grondslag vorm van eenheid onder gelowiges. Gelowiges kan één wees omdat hulle almal deel is van die gemeenskap van gelowiges.

XXII. LIG IN DIE HERE
Die twee en twintigste posisie is dat die gelowige nie net die lig van die wêreld is nie; volgens Efésiërs 5:8 is hy ook lig in die Here. Gelowiges is kinders van die lig, en as kinders van die lig moet hulle in die lig wandel. Hier moet die gelowige se praktyk weer eens aan sy posisie gelykvormig word. Posisioneel gesproke, is gelowiges kinders van die lig; daarom moet hulle in die praktyk ook in die lig wandel.

In 1 Thessalonicense 5:4-9 word daar ’n toepassing van hierdie posisie gemaak: Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.

Die toepassing wat Paulus maak, is dat die Kerk se gelowiges nooit deur die Verdrukking sal hoef te gaan nie, aangesien hulle kinders van die lig, van die dag is, en die Groot Verdrukking – die Oordeelsdag of die toorn waarvan vers 9 praat – ’n tyd van duisternis is. Een van die baie redes waarom die Kerk nie deur die Verdrukking sal gaan nie, is omdat die Verdrukking ’n tyd van duisternis sal wees, en gelowiges daarenteen kinders van die lig is. Danksy hierdie posisie van lig in die Here sal gelowiges nie deur die Verdrukking gaan nie.

XXIII. HEMELSE VERBINTENISSE
Die drie en twintigste posisie is dat die gelowige nou sekere spesifieke hemelse verbintenisse het. Hierdie posisie het sewe fasette.

In die eerste plek beteken dit dat die gelowige nou sy lewe as ’n vennoot van die Messias leef (Gal 2:20; Kol 3:3-4; 1 Joh 5:11-12). Die Messias kan sy lewe déúr die gelowige leef, hoewel die gelowige steeds verantwoordelik is om daardie lewe te leef.

Die tweede faset is dat die gelowige wat posisie betref ’n vennoot van die Messias is (Ef 2:6; Kol 3:1-3).

Die derde faset van hierdie hemelse verbintenisse is dat die gelowige die Messias se vennoot in diens is, en as ’n dienaar saam met Hom dien (Joh 17:18; 20:21).

Vierdens, beteken dit dat die gelowige saam met die Messias deel het aan lyding. Hy het gely en die gelowige sal ook ly. Lyding is nie noodwendig ’n teken van ’n gebrek aan spiritualiteit nie; inteendeel, dit kan heel moontlik ’n teken van ware spiritualiteit wees (Rom 8:17; 2 Kor 1:5; Fil 1:29; 3:10; 2 Tim 2:12).

Die vyfde faset is dat die gelowige die Messias se vennoot in gebed is. Die gelowige bid, en die Messias bid vír hom en sáám met hom (Joh 14:12-14; 16:23-24; 1 Joh 5:14-15). Dit is een van die redes waarom ’n gelowige in die Naam van Jesus moet bid.

Die sesde faset is dat die gelowige ’n vennoot in ’n verlowing is; die Messias is die Bruidegom en gelowiges is die Bruid (2 Kor 11:2; Ef 5:25-27).

In die sewende plek is die gelowige ’n vennoot van die Messias in afwagting op sy terugkeer (Tit 2:13; Heb 9:28).

XXIV. VOLMAAKTHEID
Die vier en twintigste posisie is dat die gelowige volgens Kolossense 2:10 volmaak is in die Messias. Dit beteken dat die gelowige die volheid het. Die gelowige het die volheid in Hom, hoewel daar in die praktyk nog baie dinge in sy lewe mag kortkom. Hy beskik egter wel oor die volheid danksy sy posisie.

XXV. IN BESIT VAN ELKE GEESTELIKE SEËNING
In die vyf en twintigste posisie hoef die gelowige hom nie af te sloof vir geestelike seëninge nie. Hy hoef nie te wag vir geestelike seëninge nie; hy hoef nie die saak “deur te bid” om geestelike seëninge te ontvang nie. Hy besit reeds elke geestelike seëning. Dit is net ’n geval van hoe en wanneer om hierdie geestelike seëninge te geniet, en wanneer om hulle te benut en nie te benut nie (1 Kor 3:23; Ef 1:3).

XXVI. ’N GESKENK VAN GOD DIE VADER AAN GOD DIE SEUN
Die ses en twintigste posisie is dat die gelowige ’n geskenk van God die Vader aan God die Seun is (Joh 6:37-40; 17:2, 6, 9, 24).

Die hooftoepassing van hierdie posisie is die versekering van ewige sekerheid. Die gelowige kan nie uit die Vader se hand of die Seun se hand geruk word nie, omdat hy ’n geskenk van God die Vader aan God die Seun is.

XXVII. DIE MESSIAS SE ERFENIS
Die sewe en twintigste posisie is dat die gelowige aan die Messias bemaak is; volgens Efésiërs 1:18 is die gelowige dus Jesus se erfdeel. Jesus het die gelowige geërf. Gevolglik is die gelowige die private, uitsluitlike eiendom van die Messias.

XXVIII. ERFGENAME
Die agt en twintigste posisie is dat gelowiges nie net ’n erfdeel is nie, maar ook erfgename. Gelowiges is die Messias se “mede-erfgename”. Dit beteken dat gelowiges eendag hul erfdeel sal ontvang (Rom 8:17; Gal 4:7; Ef 1:11, 14; Kol 1:12; 3:24; Tit 3:7; Heb 9:15; 1 Pet 1:4). Hierdie erfdeel sluit die opstandingsliggaam en ’n posisie in die Messiaanse Koninkryk in. Die gelowige gaan dinge in die Messiaanse Koninkryk erf.

XXIX. VRYGEMAAK VAN DIE WET
Die nege en twintigste posisie verklaar dat gelowiges vrygemaak is van die Wet. Hoewel dit in ’n sekere sin op alle gelowiges van toepassing is, geld dit veral vir Joodse gelowiges, eenvoudig omdat nie-Joodse gelowiges nooit onder die Wet van Moses was nie. Slegs Jode was aan die Wet van Moses onderwerp. Dit is dus veral die Joodse gelowiges in die Liggaam van die Messias wat vrygemaak is van die Wet (Rom 6:14; 10:4; 2 Kor 3:2-11; Gal 3:19; Ef 2:11-15; Heb 7:11-12). Posisioneel gesproke, is die Joodse gelowige vrygemaak van die Wet.

XXX. DIE OORDEEL VAN DIE OU MENS TOT ’N NUWE LEWE
Die dertigste posisie is dat die gelowige se ou mens, sy sondige natuur, nou geoordeel is; daarom is hy in staat om ’n nuwe lewe te lewe, en word hy geroep om dit te doen.

Die praktiese toepassing van hierdie posisie is dat dit die krag verleen om, soos Romeine 6:1-11 en Galásiërs 2:20 sê, in ’n nuwe lewe [te] wandel. Die feit dat die ou mens geoordeel is, leer ook vir ons dat die gelowige se ou mens saam met die Messias gekruisig is. Daarom het die ou natuur, die sondige natuur of die ou mens, nie meer enige bindende, wettige aanspraak op die gelowige nie. Die gelowige staan nie meer onder ’n verpligting om die ou, sondige natuur te gehoorsaam nie. Om hierdie rede het hy die vermoë om in ’n nuwe lewe [te] wandel. Hierdie posisie roep die gelowige op tot ’n nuwe lewe.

XXXI. VERENIG MET DIE VADER EN DIE SEUN EN DIE HEILIGE GEES
Die een en dertigste posisie is dat die gelowige volgens Handelinge 17:28 en 2 Korinthiërs 6:16 met die Vader, die Seun en die Heilige Gees verenig is. Hierdie posisie het ses fasette.

Die eerste faset is dat die gelowige in God die Vader is (Joh 17:21; 1 Thess 1:1; 2 Thess 1:1).

Die tweede faset is dat die Vader ook in die gelowige is. Aan die een kant is die gelowige in die Vader; aan die ander kant is die Vader in die gelowige (Joh 14:23; Ef 4:6).

Die derde faset van hierdie posisie is dat die gelowige in die Seun is. Die gelowige is nie net in God die Vader nie, hy is ook in God die Seun (Joh 14:20; 17:21; Rom 8:1; 2 Kor 5:17).

Die vierde faset is dat die Seun ook in die gelowige is. God die Seun woon in die gelowige (Joh 14:20, 23; Kol 1:27). Weer eens is die gelowige aan die een kant in God die Seun, en is God die Seun aan die ander kant in die gelowige.

Die vyfde faset is dat die gelowige in die Heilige Gees is (Rom 8:9; Ef 2:22).

Die sesde faset is dat die Heilige Gees in die gelowige is (Joh 14:16-17; Rom 8:9, 11; 1 Kor 2:12; 3:16; 6:19; 2 Tim 1:14). Aan die een kant is die gelowige in die Heilige Gees; aan die ander kant is die Heilige Gees in die gelowige.

’n Mens moet in gedagte hou dat daar met hierdie posisie nie net een faset is nie – die een wat baie gelowiges ken, naamlik dat die Heilige Gees in die gelowige woning maak – maar ses verskillende fasette. Die Drie-Enige God in sy volheid woon in ’n baie tasbare opsig in die gelowige, en die gelowige woon in die volheid van die Drie-Enige God. Die gelowige is met die Vader, die Seun en die Heilige Gees verenig.

XXXII. TOEGANG TOT GOD
Die twee en dertigste posisie is dat die gelowige toegang het tot God. Hierdie posisie het vier fasette.

Eerstens het die gelowige volgens Romeine 5:2 toegang tot God se genade. Die gelowige het altyd onmiddellike toegang tot God se genade. Om dit prakties te maak: die gelowige word danksy hierdie posisie aangemoedig om die genadetroon met oorgawe te nader om die genade te kry wat hy nodig het om hom deur enige soort toets of beproewing wat hy beleef te kry (Heb 4:14-16). Indien enigiemand in die geestelike lewe misluk, weifel of struikel, is dit nie omdat daar nie genoeg genade tot hul beskikking was nie. Die rede waarom gelowiges struikel en val, of in die genade veragter, is omdat hulle nie die genade toegeëien het wat tot hulle beskikking is om enige versoeking, lyding, toets of beproewing die hoof te bied nie. Die gelowige moet in die lig van hierdie posisie die toegang wat hy het, gebruik en die genade wat hy nodig het, toeëien.

Die tweede faset is dat die gelowige toegang het tot God die Vader (Ef 2:18). Dit is waarom die gelowige sy gebede aan God die Vader rig. Die gelowige rig sy gebede aan God die Vader omdat hy toegang tot Hom het.

Die derde faset is dat hierdie toegang sekerheid bied. Een van die redes waarom God aan die gelowige toegang tot Hom gee, is om aan die gelowige sekerheid van sy redding te bied. Die gelowige se besef dat hy toegang het tot God is ’n bron van groot sekerheid (Ef 3:12; Heb 4:16; 10:19, 22).

Die vierde faset is dat hierdie toegang tot God gemeenskap met God fasiliteer. Dit is te danke aan die toegang wat die gelowige tot God het, dat hy met Hom gemeenskap kan hê (1 Kor 1:9; 1 Joh 1:3).

Die voor die hand liggende toepassing van hierdie posisie is dat die gelowige hierdie toegang wat hy het, moet gebruik om gemeenskap met God te geniet.

XXXIII. IN GOD SE “HOEVEEL MEER” SORG
Die drie en dertigste posisie is dat die gelowige volgens Lukas 12:24 die hoeveel meer sorg van God geniet. Hierdie posisie het sewe fasette.

Eerstens is die gelowige aan die ontvangkant van God se goddelike liefde (Joh 17:23; Rom 5:8; 8:35-39; Ef 2:4; 5:2; 2 Thess 2:16; 1 Joh 3:1, 16; 4:10). Die gelowige is aan die ontvangkant van God se liefde omdat hy die hoeveel meer sorg van God geniet.

Tweedens ontvang die gelowige ook God se genade omdat hy die hoeveel meer sorg van God geniet. Die gelowige het nie net toegang tot God se genade nie, hy is ook die bestemming daarvan. Hierdie tweede faset van God se hoeveel meer sorg het vier aspekte. In die eerste plek ontvang die gelowige God se genade wanneer Hy gered word. God red die gelowige deur genade (Joh 5:24; 6:27, 39, 40, 47; Ef 2:7-9; 1 Joh 5:11-13). Tweedens geniet die gelowige ook God se genadige beskerming (Rom 5:2; Fil 1:6). Derdens geniet die gelowige sy genade ten opsigte van diens. Die blote feit dat die gelowige God kan dien, is te danke aan sy genade (Joh 17:18; Ef 4:7). En vierdens geniet die gelowige God se genade in lering; God onderrig die gelowige en leer hom geestelike waarhede (Tit 2:11-13).

Die derde faset daarvan om in die hoeveel meer sorg van God te bly, is dat God sy krag deur die gelowige laat werk in soverre dit in die lewe van gelowiges manifesteer (Ef 1:19).

Die vierde faset van hierdie posisie is dat die gelowige ook die voordeel van God se getrouheid geniet. Die gelowige geniet God se getrouheid, en al is die gelowige soms ontrou, is God nooit ontrou nie. Die gelowige ontvang God se voortdurende getrouheid (1 Kor 1:9; 10:13; Fil 1:6; 1 Thess 5:24; 2 Thess 3:3; Heb 13:5).

Die vyfde faset van die gelowige se posisie binne God se hoeveel meer sorg is dat die gelowige God se vrede ontvang. Danksy die feit dat God se toorn bevredig is, is Hy nie meer toornig teenoor die gelowige nie. Die gelowige geniet die vrede van God wat in hom woon (Joh 14:27; 16:33; Rom 5:1; Fil 4:7; Kol 3:15).

Die sesde faset van hierdie posisie is dat die gelowige die ontvanger van God se vertroosting en bemoediging is. Wanneer ’n gelowige ’n routydperk beleef weens die heengaan van ’n familielid, vriend of ’n goeie kennis, geniet hy God se vertroosting. Sy plek in God se hoeveel meer sorg beteken dat die gelowige altyd aan die ontvangkant van sy vertroosting en sy bemoediging is (2 Kor 1:3-4; 7:6; 2 Thess 2:16-17).

Die sewende faset is dat die gelowige voordeel trek uit God se intersessie. Dit is aan hierdie posisie te danke dat die Messias voortdurend namens die gelowige intree (Rom 8:27, 34; 1 Tim 2:5; Heb 7:25; 1 Joh 2:1).

GEVOLGTREKKING
Hierdie drie en dertig dinge gebeur met elke gelowige sodra hy gered word. Dit gebeur oombliklik; dit is nie ’n proses nie. Dit is baie belangrik dat die gelowige sy posisie in Jesus die Messias verstaan, want die gelowige sal nie ten volle verstaan watter gesag hy uit hoofde van daardie posisie het as hy nie eers sy posisie verstaan nie. As hy nie bewus is van sy gesag nie, sal hy dit nie kan uitoefen nie. Dit is dus baie belangrik dat die gelowige sy posisie verstaan, want dit is sy beste verweer in die stryd teen die sataniese en demoniese front in geestelike oorlogvoering.

Daar is drie fronte in geestelike oorlogvoering: die vlees, die wêreld en die duiwel en sy demoniese magte. Soos wat met enige oorlog die geval is, moet daar op elk van hierdie fronte op verskillende maniere en verskillende style met verskillende wapens geveg word. Wat die front teen Satan en die demoniese magte betref, is die beste verweer om posisionele waarheid te ken – wat die gelowige se posisie in Jesus die Messias is, watter gesag daarmee gepaard gaan en hoe om daardie gesag uit te oefen. Wanneer Satan die gelowige begin aanval en beskuldig, kan die gelowige vasstaan op die Woord van God. Die gelowige staan nooit op sy eie verdienste nie; hy neem nooit standpunt teenoor Satan in op grond van sy eie geregtigheid nie. Die gelowige staan vas op grond van sy posisie in die Messias, en op grond van die feit dat die Messias se geregtigheid aan hom toegeskryf is.

Inhoudsopgawe

INLEIDING
      A.Die definisie van die term “In Christus”
      B. Posisie en praktyk
      C. Die sleutel om die nuwe posisie te betree
      D. Twee kernwaarhede oor posisionele waarheid
         1. Die bron
         2. Die grondslag van die gelowige se gesag
      E. Verweer teen Satan
      F. Implikasies
I. REDDING
II. VERSOENING
III. SOENOFFER
IV. VERGIFNIS
V. REGVERDIGMAKING
VI. VERHEERLIKING
VII. BEVRYDING
VIII. BESNYDENIS
IX. OM VIR GOD AANVAARBAAR TE WEES
X. DIE EERSTELINGE VAN DIE HEILIGE GEES
XI. IN GOD SE EWIGE RAADSPLAN
XII. GEGRONDVES OP DIE ROTS: DIE MESSIAS
XIII. NABY GEKOM
XIV. LEDE VAN ’N HEILIGE, KONINKLIKE PRIESTERDOM
XV. VERPLAAS NA GOD SE KONINKRYK
XVI. ’N UITVERKORE GESLAG, ’N HEILIGE VOLK, ’N EIENDOMSVOLK
XVII. HEMELBURGERS
XVIII. IN GOD SE FAMILIE
XIX. AANNEMING
XX. GOD SE KINDERS
XXI. DEEL VAN DIE GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES
XXII. LIG IN DIE HERE
XXIII. HEMELSE VERBINTENISSE
XXIV. VOLMAAKTHEID
XXV. IN BESIT VAN ELKE GEESTELIKE SEËNING
XXVI. ’N GESKENK VAN GOD DIE VADER AAN GOD DIE SEUN
XXVII. DIE MESSIAS SE ERFENIS
XXVIII. ERFGENAME
XXIX. VRYGEMAAK VAN DIE WET
XXX. DIE OORDEEL VAN DIE OU MENS TOT ’N NUWE LEWE
XXXI. VERENIG MET DIE VADER EN DIE SEUN EN DIE HEILIGE GEES
XXXII. TOEGANG TOT GOD
XXXIII. IN GOD SE “HOEVEEL MEER” SORG
GEVOLGTREKKING

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hoe stem die Joodse bruilofstelsel ooreen met God se raadsplan vir Christus as die Bruidegom en die kerk as die Bruid van Christus? Elke aspek van die Joode bruilofstelsel word kortliks bespreek, naamlik die reëlings, die voorbereiding, die haal van die bruid, die seremonie, die bruilofsfees en die bruid se woonplek.