Drie tipes gebed

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. — 1 Johannes 2:15-17

I. PRIVAAT GEBED
Matthéüs 6:5-6
Matthéüs 6:5-6 is waarskynlik die beste teksgedeelte wat daar is oor privaat gebed: En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Jesus het twee punte uitgelig toe Hy privaat gebed bespreek het.

1. Geveinsde gebed
Die eerste punt is geveinsde gebed. Jesus sê dat ons nie soos die geveinsdes in vers 5 moet wees as ons bid nie. Wat doen die geveinsdes?

Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid.

En wat is hul doel? Om met God te kommunikeer? Nee, om deur mense gesien te word. Aangesien hul doel was om deur mense gesien te word, het Jesus gesê: Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. Hul beloning is bloot dat die mense hulle raakgesien het. As dit die gesindheid is waarmee hulle bid, is dit al beloning wat hulle gaan kry; dit is die enigste antwoord wat hulle op hul gebed sal kry.

2. Ware gebed
In vers 6 praat Jesus oor die tweede punt, naamlik ware gebed: [Maar jy, wanneer jy bid,] gaan in [jou] binnekamer, sluit [jou] deur en bid [jou] Vader wat in die verborgene is; en [jou] Vader wat [in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.] Soos ons sal sien, is dit nie ’n vermaning teen openbare gebed nie. Waarteen hierdie vers waarsku, is grootdoenerigheid terwyl ons bid; die gebruik van gebed om ons godsdienstigheid te bewys; of die gebruik van gebed om ons welsprekendheid ten toon te stel. Die kwessie hier is motivering, nie metode nie.

Wat ware gebed betref, beklemtoon die woord wanneer gereeldheid. Daar moet gereelde tydperke van gebed wees. Die woorde gaan in beklemtoon ’n enkele handeling van privaat gebed. Die klem val in hierdie teksgedeelte op fisiese afsondering sodat ’n mens werklik in jou gebedslewe op die Here kan fokus.

B. Die grondslag van gebed
Die tweede aspek van privaat gebed is dat gebed op uitdruklike opdragte gegrond is. Ons moet bereid wees om te bid, want gebed is op uitdruklike opdragte en beloftes in die Skrif gegrond (Matt 6:12; Jak 1:15; 1 Joh 1:9). Omdat gebed op uitdruklike bevele en beloftes in die Skrif gegrond is, behoort ons gereeld privaat te bid.

C. Harmonie met die Woord van God
Derdens behoort ons in harmonie met die oorkoepelende doel van God se Woord te bid, maar daar is geen skriftuurlike regverdiging vir spesifieke, gewaarborgde versoeke nie. Ons moet met ander woorde nie bid met die verwagting dat God onder ’n verpligting staan om ons privaat gebede te antwoord presies soos wat ons wil hê Hy moet nie. Dit is in stryd met die Skrif. Matthéüs 6:11, 26-34 waarborg ons daaglikse behoeftes, maar dit spesifiseer niks nie. God sal besluit op watter manier Hy in ons behoeftes voorsien. Ons kan op Hom reken om in daardie behoeftes te voorsien, maar ons moet ruimte laat dat God kan besluit hoe Hy dit doen; dít is ware gebed.

In Romeine 1:9-10 het Paulus geen waarborg gehad dat sy spesifieke versoek om Rome toe te kan gaan, verhoor sou word nie. Later is dit wel verhoor en kon Paulus Rome toe gaan, maar slegs as ’n gevangene, nie as ’n vry man nie.

Jakobus 4:15 sê: In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Omdat God nêrens vir ons belowe dat Hy elke spesifieke versoek wat ons rig, sal antwoord nie, behoort ons Jakobus 4:15 toe te pas en te bid: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. ’n Deel van ware gebed is die vertroue dat God sy doel met wysheid en liefde sal bereik; dit beteken nie dat ons spesifieke versoeke gewaarborg word nie. Ons moet wel ons ware begeertes en gevoelens voor die Here blootlê, soos wat Dawid in Psalm 51 gedoen het. Terselfdertyd moet ons God se grimmigheid (Ps 38:4) voor oë hou. Dit wys dat ons in harmonie met die doel van God se Woord moet bid, sonder om daarop aan te dring dat ons gebed verhoor moet word soos wat ons wil hê dit moet. Laat God gebed tot Hom beantwoord op die manier wat Hy wil. Hy weet die beste.

D. Gebed op grond van die Skrif
Die vierde aspek van privaat gebed is dat ’n mens se gebed op die Skrif gegrond moet wees (Jak 4:2-3). Jakobus het in vers 2 geskryf: [julle] het nie, omdat [julle] nie bid nie. Partykeer kry ons nie goed by die Here nie, bloot omdat ons die Here nooit daarvoor gevra het nie. Maar partykeer bid ons wel, en kry ons dit steeds nie, omdat [ons] verkeerd bid (v 3). As jy bid met die verwagting en vereiste dat God jou gebed op ’n spesifieke manier moet antwoord, dan bid jy verkeerd. Partykeer word ons gebede nie verhoor nie, omdat ons in die eerste plek nie gevra het nie; maar partykeer word ons gebede nie verhoor nie, omdat ons op die verkeerde manier gevra het.

E. Gebede vol woede en klagtes
Die vyfde aspek van privaat gebed is dat gebede vol woede en klagtes nie onvanpas is nie. Dit is heeltemal in die haak as jy jou klagtes en jou griewe na die Here toe bring. Job het dit in Job 10:1-7 gedoen.

In Job 21:15 kla Job: En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?

Die Bybel laat dit duidelik toe dat ons met ons klagtes in gebed tot God nader. As ’n mens die boek Jeremia lees, sien ’n mens dat Jeremia ’n paar keer só gebid het. ’n Hele paar van sy gebede is gebede waarin hy sy klagtes en ontevredenheid lug. Hy was nie tevrede met die status quo nie.

F. Voorbeelde van privaat gebed
In die sesde plek is daar ’n paar voorbeelde van privaat gebed. Hulle kom almal in die boek Psalms voor: Psalm 17:1-15; 72:20; 86:1-17; 90:1-17; 102:1-29; 109:4 en 142:1-8. Elkeen van hierdie gedeeltes het ’n nota wat duidelik aandui dat dit privaat, individuele gebede is.

Opsomming: Een tipe gebed is privaat gebed. Die Bybel moedig ons aan om privaat gebed te beoefen; dit vermaan ons om geveinsde gebed te vermy, maar eerder afsondering en stilte op te soek en steurnisse agter te laat, sodat ons onsself aan die Here kan wy in ’n tyd van gebed.

II. OPENBARE GEBED
Die Bybel beklemtoon nie privaat gebed ten koste van openbare gebed nie. Die Bybel leer ook vir ons om in die openbaar te bid. Ons vind sewe spesifieke voorbeelde in die boek Handelinge.

A. Handelinge 1:14
Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.

Ons sien drie aspekte van openbare gebed in hierdie teksgedeelte. Eerstens was daar ’n gesindheid van gemeenskaplikheid; hulle was almal … eendragtig. Hulle het almal saamgestem in gebed en was verenig in hul situasie. Tweedens was daar hul optrede: hulle het ’n paar keer volhard [in gebed]. Derdens was daar die inklusiwiteit: die elf apostels was daar en daar was vroue, so dit was ’n “gemengde” biduur. Maria, die moeder van Jesus, was daar; Jesus se broers was daar – sy vier halfbroers wat êrens tussen sy dood en Handelinge 1 gelowig geword het.

B. Handelinge 4:23-31
Die tweede gedeelte is Handelinge 4:23-31: En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.

Hierdie teksgedeelte wys ook drie dinge uit.

1. Die agtergrond
Vers 23 gee eers vir ons die agtergrond. Dit was nadat hulle uit die tronk vrygelaat is, nadat hulle deur die heersers beveel is om op te hou preek.

2. Die groepsgebed
Tweedens kry ’n mens die groepsgebed in vers 24a. Dit was ’n groeplofprysing in reaksie op die nuus in vers 23. In die gebed het hulle eendragtig die stem tot God verhef; dit was ’n hoorbare groepgebed; hulle het woordeliks hardop gebid. Die gesindheid was een van eendragtigheid; hulle het saamgestem in gebed.

3. Die inhoud
Derdens, in vers 24b-30, vind ons die gebed se inhoud. Ek wil graag verskeie dinge hier uitlig.

In die eerste plek kry ons aan Wie dit gerig word, naamlik God die Vader: Here.

Hulle het tot God die Vader gebid, aan Wie alle gebede gerig behoort te word.

Daarna het hulle God se Naam verheerlik deur te sê: U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

Deur God se Naam te verheerlik het hulle die majesteit en die krag van God tot Wie hulle gebid het, voor oë gehou. Omdat God die Skepping gemaak het, kon hy vir seker hul gebedsversoeke verhoor. Hulle erken dus God se soewereiniteit.

In vers 25a handel die gebed oor die Heilige Gees se rol in die profetiese Woord wat Dawid in die Ou Testament gespreek het.

Dan haal hulle Psalm 2:1-2 aan in vers 25b-26. Hulle haal dit nie aan om te sê dat dit reeds vervul is nie, want dit het nie in Handelinge 4 gebeur nie, maar pas dit toe in vers 27-28.

Aangesien hulle reeds God se soewereiniteit erken het, rig hulle ’n paar spesifieke versoeke. In vers 29a herinner hulle God aan die agtergrond: En nou, Here, let op hulle dreigemente.

Deur dit te sê, identifiseer hulle die probleem.

Nadat hulle die probleem genoem het, rig hulle die versoek in vers 29b: … gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.

Die versoek wat hulle in hierdie openbare gebed rig, is vir geestelike vrymoedigheid om die evangelie te verkondig ten spyte van owerheidsteenkanting.

In vers 30 bid hulle vir middele wat nodig is saam met die vrymoedigheid: deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.

Hulle het hul gebed afgesluit in die Naam van Jesus.

4. Die gebed verhoor
Die gebed word in vers 31 verhoor en bevestig met bonatuurlike kragvertoon. Daar staan: … die plek [is] geskud waar hulle saam was.

Die spesifieke antwoord was dat hulle … almal [weer eens] vervul [is] met die Heilige Gees. Die vervulling met die Gees het hulle, as antwoord op hul gebed, hierdie keer die vrymoedigheid gegee om die woord van God [te verkondig].

C. Handelinge 12:5, 12-17
Die derde teksgedeelte oor openbare gebed is Handelinge 12:5, 12-17.

Vers 5 sê wat die doel van hierdie groepsgebed was: So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ’n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.

Die doel van hierdie groepsbiduur was om vir Petrus te bid wat in die gevangenis was en wat met teregstelling gedreig word. Die kerk het gevra dat die gelowiges ernstig voor God vir hom moes intree. Die groep wat gebid het, was die kerk in Jerusalem. Hulle wou graag hul solidariteit met Petrus verklaar. Hulle het ook hul gebede aan God die Vader gerig.

Die antwoord op hul gebed verskyn in vers 12-17. Die biduur was in ’n privaat woning: … die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, die skrywer van die Markus-evangelie (v 12). Petrus het juis op daardie tydstip daar aangekom. Sy aankoms het gewys dat hul gebed verhoor is (v 13-17). Hulle het gebid met die verwagting dat hul gebed verhoor sou word, maar dit is nie verhoor op die manier wat hulle verwag het dit sou gebeur nie.

D. Handelinge 16:25
Die vierde voorbeeld van openbare gebed is in Handelinge 16:25: En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.

Paulus en Silas was omtrent middernag besig om te bid. ’n Deel van hul gebed het die sing van lofliedere tot eer van God ingesluit, en [hul medegevangenes] het na hulle geluister. Die gebedsgroep het hier net uit twee mense bestaan: Paulus en Silas. Dit was hardop, want al die ander gevangenes kon hulle hoor bid en sing. Die rede vir hierdie groepsgebed was dat hulle weens hul geloof vervolg is. Hulle het hul gebede aan God die Vader gerig. In hierdie geval was die openbare gehoor voor wie hulle gebid het almal ongelowiges.

E. Handelinge 20:36
Die vyfde voorbeeld van openbare gebed is in Handelinge 20:36: … het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid.

Die groep het hierdie keer uit Paulus en ouderlinge van die kerk van Efese bestaan. Hulle het in die verlede op Paulus se vermanings en waarskuwings ag geslaan, en nou bid hy dat hulle ook in die toekoms daarin sal volhard.

F. Handelinge 21:5
Die sesde voorbeeld van openbare gebed is in Handelinge 21:5: … terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid.

Die groep het in hierdie geval uit gesinne bestaan. Dit was ’n afskeidsgebed. Die gebed het oor Paulus se veiligheid op sy reis na Jerusalem gehandel.

G. Handelinge 27:35
Die sewende voorbeeld van openbare gebed is in Handelinge 27:35: Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet.

Die openbare gebed was in hierdie geval iemand wat die seën gevra het oor ’n maaltyd. Dit was aan God die Vader gerig, en die gehoor het gelowiges sowel as ongelowiges ingesluit.

Hierdie gebede is die sewe voorbeelde van openbare gebed in die boek Handelinge. Dit wys dat God albei tipes gebed goedkeur: private én openbare gebed.

H. “Die tien mees ongewenste openbare gebede”
Ek het ’n artikel gelees getiteld “Die tien mees ongewenste openbare gebede” deur Leroy Patterson (Eternity). Ek wil graag hierdie tien dinge deel, want ek dink dit is belangrik in openbare gebed, en ek dink Leroy Patterson slaan die spyker op die kop.

Eerstens, vermy die Plegtige Vergadering-gebed waar mense hul stem doelbewus dieper maak en “O, God” op ’n ander manier uitspreek as gewoonlik.

Tweedens, vermy die gebruik van cliché-kamoeflering, naamlik die gebruik van clichés om ’n gebrek aan voorbereiding te probeer wegsteek. Hieronder tel “ons buig ons harte voor U neer”, “seën elkeen hier teenwoordig”, “verberg u dienaar agter die kruis”, “verheerlik u Naam”, “steek ’n vlam aan in ons hart”, ens. Hierdie is clichés wat eintlik niksseggend is.

’n Derde ding om te vermy, is die “Tog-gebed”, waarin ’n mens die woord “tog” oormatig gebruik, byvoorbeeld “seën ons tog vandag”, “wees tog vandag by ons”, “ons wil u tog aanbid”, “seën tog die siekes”.

’n Vierde slaggat om te vermy, is die Heilige Bemarkingsgebed: ’n gebed wat gebruik word om steun vir ’n gunstelingprojek te werf, bv. “Wanneer ons rondkyk, dink ons aan die behoefte om ons geriewe uit te brei.” Dit kan ook ’n gebed wees wat ’n geleentheid voor hande adverteer: “Here, help ons om ons ongeredde vriende te bring wanneer ons gasprediker vanaand met die herlewingsreeks begin.”

Die vyfde gewoonte wat ’n mens liefs moet vermy, is die Lesinggebed, waar die pastor nie net bid nie, maar die gebed gebruik om ’n lesing aan sy gemeente oor te dra.

Die sesde ding wat ’n mens moet vermy, is die “Vader”-gebed, waarin die term “Vader” holrug gery word.

Die sewende gewoonte wat ’n mens moet vermy, is die “U weet”-sindroom. In hierdie gebed herinner mense God heeltyd aan al die dinge wat Hy weet: “U weet wat in ons harte aangaan”, “U weet wat die situasie is op die sendingveld”, “U weet wat ons sendelinge se behoeftes is”, “U weet broer So-en-so is in die hospitaal”. Ons hoef God nie heeltyd te herinner dat Hy hierdie dinge weet nie.

Die agtste ding om te vermy as ’n mens in die openbaar bid, is die Om-die-wêreld-gebed, waar die persoon skynbaar verplig voel om vir alles te bid wanneer hy gevra word om slegs vir een ding te bid. As jy gevra word om die seën te vra by ’n ete, bid net vir die ete. Moenie “om die wêreld” begin bid omdat jy dink dit is jou enigste geleentheid om te bid nie.

Die negende gebed om te vermy, is die Betaal-op-Aanvraag-gebed, wat elke belofte in die Bybel opeis, ongeag aan wie dit gemaak was, en wat daarop aandring dat God dit presies vervul soos wat dit gevra word, sonder om enige beweegruimte vir God te laat.

Die tiende ding wat ’n mens moet vermy tydens openbare gebed, is die “Ten slotte”-gebed, ook bekend as die “opsommingsgebed”, waar die prediker die hele boodskap wat hy pas vantevore gepreek het, herhaal – met die drie hoofpunte en al.

III. ESKATOLOGIESE GEBEDE
Hierdie gebede handel oor toekomstige dinge wat beloof is. Ons sal eskatologiese gebed in vier spesifieke afdelings bespreek.

A. Aangaande die Wegraping
Die eerste afdeling handel oor die Wegraping. Ons moet oor die Wegraping bid soos wat ons in Lukas 21:36 lees: Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

Die enigste manier om aan hierdie verskriklike dinge te ontkom, is deur die Wegraping. Toe Jesus in Lukas 21:36 gesê het al hierdie dinge wat kom, het Hy na die Groot Verdrukking verwys. Ons moet waak en bid sodat ons die verskriklike dinge wat gaan gebeur, kan vryspring; ons moet die Groot Verdrukking deur die Wegraping vryspring en voor die Seun van die Mens gaan staan. Ons gaan ná die Wegraping voor die Seun van die Mens staan by die Messias se Regterstoel. Ons spring dit nie vry deur gebed nie. As jy ’n gelowige is, sal jy outomaties die Verdrukking vryspring. Die gedagte hier is dat ons moet bid dat die Wegraping sal plaasvind, aangesien ons danksy die Wegraping daarin sal slaag om alles wat gaan gebeur, vry te spring en om voor die Seun van die Mens te staan.

B. Aangaande die Groot Verdrukking
’n Tweede eskatologiese gebed handel oor gebed met betrekking tot die Groot Verdrukking, en kan gevind word in Matthéüs 24:20 en Markus 13:18. Dit is ’n gebed aangaande Israel se vlug; Israel sal in die middel van die Verdrukking uit hul Land vlug. Die gelowiges in die eerste helfte van die Verdrukking moet bid dat daar nie van hulle verwag word om op een van twee tye te vlug nie: … bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.

Gelowiges wat hulself in die Verdrukking bevind, sal hierdie eskatologiese gebed bid. Hoewel ons nou al moet bid dat die Wegraping gou moet plaasvind, hoef ons nie te bid dat Israel se vlug nie op ’n sabbat of in die winter sal plaasvind nie. Eers as die Verdrukking begin, moet die gelowiges in die Verdrukking hierdie gebed bid.

C. Aangaande die Wederkoms
Die derde afdeling van eskatologiese gebed handel oor die Wederkoms in Markus 13:33: waak en bid. Die waak en bid in hierdie konteks het spesifiek betrekking op die Wederkoms. Gelowiges sal ook hierdie gebed voor die Wederkoms bid.

D. Aangaande die Koninkryk
Die vierde afdeling van eskatologiese gebed handel oor die Koninkryk. Daar is drie sake wat eskatologiese gebed in verhouding tot die Koninkryk betref. Eerstens sal daar deurentyd tot die Messias gebid word (Ps 72:15). Die Messias sal sigbaar op die aarde teenwoordig wees, en gelowiges sal vir die hele duur van die duisendjarige Koninkryk tot Hom bid. In die tweede plek sal die Duisendjarige Tempel ’n huis van gebed … vir al die volke wees. Waar die Tempel ingevolge die Wet van Moses slegs vir die Jode ’n huis van gebed was, sal die Tempel in die duisend jaar ’n huis van gebed … vir al die volke wees (Jes 56:7; Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46). Derdens sal nie-Jode in die Koninkryk op ’n gereelde grondslag na Jerusalem toe kom om te bid, om die aangesig van die HERE om genade te smeek (Sag 8:21-22).

[end]

Inhoudsopgawe
I. PRIVAAT GEBED
     A. Matthéüs 6:5-6
         1. Geveinsde gebed
         2. Ware gebed
     B. Die grondslag van gebed
     C. Harmonie met die Woord van God
     D. Gebed op grond van die Skrif
     E. Gebede vol woede en klagtes
     F. Voorbeelde van privaat gebed
II. OPENBARE GEBED
     A. Handelinge 1:14
     B. Handelinge 4:23-31
         1. Die agtergrond
         2. Die groepsgebed
         3. Die inhoud
         4. Die gebed verhoor
     C. Handelinge 12:5, 12-17
     D. Handelinge 16:25
     E. Handelinge 20:36
     F. Handelinge 21:5
     G. Handelinge 27:35
     H. “Die tien mees ongewenste openbare gebede”
III. ESKATOLOGIESE GEBEDE
     A. Aangaande die Wegraping
     B. Aangaande die Groot Verdrukking
     C. Aangaande die Wederkoms
     D. Aangaande die Koninkryk

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Alle Bybelse gebede is óf uitdruklik óf by implikasie voorwaardelik. Jesus self het mense oor minstens drie voorwaardes van individuele gebed onderrig. In hierdie artikel word die subjektiewe voorwaardes van gebed uitgelig.