Engelogie: Die leer van die uitverkore engele

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. – Efésiërs 6:11–12

INLEIDING
Hierdie Messiaanse Bybelstudie is ’n studie oor God se engele. Ons gaan kyk wat die Bybel ons leer oor goeie engele, dit wil sê die engele wat nie gevalle is nie. Teologies is hierdie studieterrein bekend as Engelogie of die Leer van Engele. Engelogie bestaan uit drie hoof afdelings. Eerstens is daar Primêre Engelogie, wat die Leer van Heilige Engele is. Tweedens is daar Satanologie, wat die Leer van Satan is. Derdens is daar Demonologie, wat die Leer van Gevalle Engele is. Hierdie studie het nie betrekking op Satanologie of Demonologie nie; dit handel slegs oor Primêre Engelogie of die Leer van Heilige Engele.

Daar is ’n hele paar opvattings rondom engele wat nie korrek is nie. Mense word byvoorbeeld geleer dat engele maar net verbygaande uitstralings van God, of permanente uitstralings van God is. ’n Ander opvatting is dat engele verheerlikte mense is. Dit beteken ’n gelowige wat doodgaan en hemel toe gaan, word ’n engel. Daar is ook ’n opvatting onder gelowiges dat engele eintlik nie bestaan nie. Hulle glo dat Jesus net van engele melding gemaak het om aan te sluit by die denkrigting van daardie tyd, en dat Hyself eintlik van beter geweet het.

Engele wat nie saam met Satan geval het nie word twee spesifieke name in die Skrif gegee.

Die eerste naam is uitverkore engele (I Tim. 5:21), wat beteken hulle is uitverkies om nie gevalle engele te word nie. Dit beteken ook hulle heiligheid is bevestig. Nadat God vir Adam en Eva geskape het, het Hy hulle in die tuin van Eden aan ’n toets onderwerp om te sien of hulle Hom gaan gehoorsaam of nie. Op soortgelyke wyse het God die engele ook aan ’n toets onderwerp toe Hy hulle geskape het. Hy wou sien of hulle gehoorsaam of ongehoorsaam gaan wees. ’n Derde van die engele het gekies om ongehoorsaam te wees aan God en Satan in sy gevallenheid te volg. Daardie engele het demone geword. Tweederdes van die engele het egter gekies om nie vir Satan te volg nie en hulle heiligheid is bevestig. “Bevestigde heiligheid” beteken dat hulle nie meer in staat is om te val nie. Die toets van die proeftydperk is verby en hulle is nie meer in staat om te sondig nie. Wanneer gelowiges hulle opstandingsliggame ontvang, sal hulle heiligheid ook bevestig word, en in hulle opstandingsliggame sal hulle ook nie in staat wees om te sondig nie. God Self se heiligheid was nog altyd bevestig; Hy is nie in staat om te sondig nie. Hierdie engele wat nie saam met Satan geval het nie, is nie meer in staat om te sondig nie en daarom word hulle uitverkore engele genoem.

Die tweede naam vir hierdie engele is heilige engele. Dit beklemtoon die kontras tussen hulle en die gevalle engele wat boos en onheilig is (Mark. 8:38; Luk. 9:26).

I. DIE BESTAAN VAN ENGELE
Leer die Bybel ons werklikwaar dat engele bestaan? Daar word sowat 273 keer na engele verwys in die Skrif, in 33 van die 66 boeke, wat beteken die helfte van die boeke in die Bybel maak melding van engele.

In die Ou Testament word engele 108 keer in 18 boeke genoem: Génesis, Exodus, Númeri, Rigters, I en II Samuel, I en II Konings, I en II Kronieke, Job, Psalms, Prediker, Jesaja, Eségiël, Daniël, Hoséa en Sagaría. Let daarop dat daar in die Ou Testament nie net van engele melding gemaak word in die Boeke van apokaliptiese aard nie, maar ook in die profetiese, historiese en poëtiese Boeke.

In die Nuwe Testament word daar 165 keer in 15 Boeke na engele verwys: Matthéüs, Markus, Lukas, Johannes, Handelinge, Romeine, II Korinthiërs, Galásiërs, Kolossense, II Thessalonicense, I Timótheüs, I en II Petrus, Judas en Openbaring. Soos in die Ou Testament, word daar in al die verskillende soorte Nuwe Testamentiese literatuur melding gemaak van engele. Dit is duidelik dat die Skrif ons wel oor die bestaan van engele leer – vanaf die eerste boek, Génesis, tot by die laaste boek, Openbaring. Engele word nie net in die ouer primitiewe boeke vermeld nie, maar ook in die latere boeke. Daar word regdeur die Skrif van engele melding gemaak. Die vermelding van engele is dus nie beperk tot een skrywer nie, en ook nie net tot visionêre skrywers nie.

Verder het Jesus self ook duidelik oor die bestaan van engele gepraat. Hy verwys in al vier Evangelies na hulle (Matt. 13:39, 41; Mark. 12:25; Luk. 12:8–9; Joh. 1:51). As Jesus ons dan geleer het dat engele bestaan, met watter opsies laat dit gelowiges in die lig van dit wat Hy onderrig het? Daar is vyf opsies.

Die eerste opsie is dat Jesus mislei was. Hoewel daar nie werklik iets soos engele bestaan nie, het Hy in hulle bestaan geglo en die mense in die bestaan van engele onderrig. Dit sou natuurlik beteken dat Hy mislei was. Daar is mense wat glo dat dit die geval is.

Die tweede opsie is dat Jesus ander mense bedrieg het. Dit sou beteken dat Hy nie in engele geglo het nie en dat Hy geweet het engele bestaan nie; en daarom het Hy bedrieglik opgetree deur daaroor te onderrig. Daar is ook mense wat hierdie opsie aanhang.

Die derde opsie is dat Jesus Hom maar net aangepas het by die sieninge van die tyd waarin Hy geleef het. Dit sou beteken dat Hy wel van beter geweet het maar nie regtig probeer het om die mense te bedrieg nie. Hy het maar net aangesluit by die sieninge van die tyd waarin Hy geleef het sodat mense die belangrikste waarhede van wat Hy gesê het, sou verstaan. Dit is dalk ’n ietwat beter opsie as om te sê dat Hy die mense bedrieg het, maar eintlik kom dit op dieselfde neer. Dis maar net ’n poging om dit sagkens te stel.

Die vierde opsie is dat Jesus nooit oor die bestaan van engele gepraat het nie en dus ook nie oor hulle bestaan onderrig het nie. Dit sou beteken dat die skrywers van die Evangelies hierdie woorde in Jesus se mond geplaas het. Hiervolgens is dit dan nie Jesus wat die mense bedrieg het nie, maar die skrywers van die Evangelies. Maar as die Evangelieskrywers nie vertrou kan word as hulle vir Jesus aanhaal oor engele nie, hoe kan hulle dan vertrou word as hulle Hom oor enigiets aanhaal?

Die enigste opsie wat geldig is, is dus die vyfde een: dat Jesus regtig in die bestaan van engele geglo het. Hy het dus oor die bestaan van engele onderrig omdat engele wel bestaan.

II. DIE NAME VAN ENGELE
Die Bybel gebruik verskeie name vir hierdie hemelse wesens.

Die eerste naam is ook die een wat die meeste gebruik word, naamlik engel. Beide die Hebreeuse en die Griekse woorde vir engel het dieselfde betekenis, naamlik “ ’n boodskapper”, en dit word gebruik vir menslike boodskappers (Gen. 32:2) en goddelike boodskappers (Gen. 32:1). Wanneer dit gebruik word om na ’n goddelike boodskapper te verwys, verwys dit na ’n engel. Hierdie naam beklemtoon engele se amp en funksie. Die amp is dié van ’n boodskapper, en die funksie is dié van diens. Die term engel is die algemene term wat gebruik word vir alle hemelse wesens. Dit word vir laer én hoër hemelse wesens gebruik en is ’n beskrywende titel van ’n amp of funksie van diens (Heb. 1:7).

’n Tweede naam is die seuns van God. Hierdie naam is ’n suiwer Ou Testamentiese naam. Die Hebreeus is bnei elohim. In die Ou Testament kom die term seuns van God altyd in die meervoud voor en verwys dit altyd na engele (Gen. 6:2,4: Job 1:6, 2:1, 38:7).

’n Derde naam is die seuns van die magtige of die seuns van die magtige een. Hierdie naam is soortgelyk aan die seuns van God, want God is die magtige een (Ps. 29:1; 89:6).

’n Vierde naam is dié van die heiliges, wat beklemtoon dat hulle heilige engele is in teenstelling met die engele wat gevalle geraak het en demone geword het (Ps. 89:5,7; Dan. 4:13,17; 8:13).

’n Vyfde naam is wag (of bode), wat hulle funksie om waar te neem beklemtoon. Hulle neem waar of God se wil uitgevoer word en maak seker dat dit wel gedoen word (Dan. 4:13,17).

Die sesde naam is wagte wat ook hul funksie om waar te neem beklemtoon. Terwyl die wag of bode se funksie suiwer is om waar te neem of God se wil uitgevoer word, het wagte ook die funksie van beskerming. Hulle is wagte in die sin dat hulle as beskermers oor ’n situasie waak (Jes. 62:6).

Die sewende naam is geeste, want engele is geestelike wesens (Heb. 1:14).

Die agtste naam is sterre. Met die uitsondering van Númeri 24:17, is die woord ster, wanneer dit simbolies gebruik word, altyd die simbool vir engel (Job 38:7, Op. 1:20; 9:1; 12:4).

’n Negende naam is dienaars. Dit beklemtoon die feit dat engele dienaars van God is wat Sy wil uitvoer (Ps. 103:21; 104:4; Heb. 1:7).

’n Tiende naam vir engele is leërskare, die Afrikaanse vertaling van die Hebreeuse woord wat “weermag” beteken. Die leërskare bestaan uit die hemelse weermag van God. Dit is waarom daar gereeld na God verwys word as die HERE van die leërskare of die Here van die leërskare, want Hy is die Here van hierdie engeleweermag (I Kon. 22:19; Ps. 103:20–21; 148:2).

’n Elfde naam vir engele is waens of in sekere gevalle selfs strydwaens. Dit beklemtoon die spoed waarmee hulle die wil van die Here uitvoer (II Kon. 6:16–17; Ps. 68:17; Sag. 6:1–8).

Die twaalfde naam vir engele is elohim, ’n woord wat “god” beteken. Dit word gebruik vir die een ware God en die baie valse gode. Dit word ook gebruik vir engele omdat engele die verteenwoordigers van God is en God hulle die outoriteit gegee het om in Sy Naam te praat. Omdat hulle met outoriteit in God se Naam kan praat, word daar na hulle verwys as elohim. Dit kan gesien word deur Psalm 8:5 met Hebreërs 2:7 te vergelyk.

III. DIE SKEPPING VAN ENGELE
Wat die skepping van engele betref, is daar vier punte waarvan ons hier melding moet maak.

A. Die Feit dat Hulle Geskape Is
Eerstens kyk ons na hulle skepping. Ons word in Kolossense 1:16 geleer van die feit dat engele geskape is en kom ook drie dinge te wete. Eerstens is alle engele op dieselfde oomblik geskape. God het nie ’n groep engele op een tydstip geskape en die res op ’n ander tyd nie. Tweedens, as gevolg hiervan word die getal engele nie meer nie, want God is nie voortdurend besig om nuwe engele te skape nie. Derdens word die getal engele ook nie minder nie. Wanneer engele geskape word, bestaan hulle vir ewig; hulle kan nie vernietig word nie.

B. Die Tyd van Hulle Skepping
Die tweede punt oor die skepping van engele is die tyd wanneer hulle geskape is. Volgens Job 38:4–7 het die engele reeds bestaan toe God die hemel en die aarde geskape het in Génesis 1:1. Engele is dus geskape voordat die materiële heelal geskape is. Die bestaan van engele gaan die heelal dus met ’n onbekende hoeveelheid tyd vooraf. Daarom gaan engele ook die mens met ’n onbekende hoeveelheid tyd vooraf. Dit is nie bekend hoe lank voor Génesis 1:1 hulle geskape is nie, maar dat hulle wel voor hierdie tyd geskape is, is waar.

C. Die Mag van Vrye Keuse
Die derde punt oor die skepping van engele, is die staat waarin hulle verkeer het toe hulle geskape is. Hulle is heilig geskape, maar het beskik oor die mag van vrye keuse (Mark. 8:38; Jud. 6). Die mag van vrye keuse beteken dat hulle die vermoë gehad het om keuses te maak wat teenstrydig is met hulle aard. Hulle het dus die vermoë gehad om ’n onheilige keuse uit te oefen. Eenderde van die engele het dan ook hierdie keuse uitgeoefen en toe demone geword. Die ander tweederdes se heiligheid is later bevestig. Op grond hiervan kon hulle nie meer die keuse uitoefen om te sondig nie en daarom beskik hulle ook nie meer oor die mag van vrye keuse nie.

D. Hulle Posisie
Die vierde punt oor die skepping van engele, is hulle posisie. Daar is twee dinge waarna ons hier moet oplet: eerstens, hulle is minder as die Messias wat Sy goddelikheid betref (Heb. 1:4–2:3) en hulle is ook minder as Hy wat Sy mensheid betref (Heb. 2:5–8). Hulle is minder as die God-Mens, dit wil sê die Here Jesus, die Messias. Tweedens is hulle die gewone mens se meerdere omdat hulle hoër wesens as die mens is (Ps. 8:4–5; Heb. 2:5–7; II Pet. 2:11).

IV. DIE AANTAL ENGELE
Hoeveel engele is daar? Daar is verskeie skrifgedeeltes wat vir ons ’n idee gee van hoeveel engele daar is. Deuteronómium 33:2 praat van tienduisende engele; II Konings 6:17 van ’n berg vol engele; Psalm 68:18: tienduisende en duisend maal duisende; Daniël 7:10: duisend maal duisende en tienduisend maal tienduisende; Matthéüs 26:53: meer as twaalf legioene van engele (’n legioen bestaan uit 3 000 tot 6 000 individue); Lukas 2:13: ’n menigte van die hemelse leërskare; en Openbaring 5:11: tienduisende van tienduisende en duisende van duisende. Hebreërs 12:22 praat ook van tienduisende engele.

Daar is dus ’n ontelbare, ontsaglike hoeveelheid engele. Op grond van die konsep van beskerming (dit wil sê beskermengele) is daar altyd ten minste soveel engele as wat daar mense op die aarde is. Dit kan ook beteken dat daar net soveel engele is as die totale hoeveelheid mense wat ooit sal bestaan of reeds bestaan het.

V. DIE WONING, RYK, EN VERSKYNING VAN ENGELE
Wat hierdie aspek betref, is daar drie dinge wat ons gaan bespreek: die engelewoning, die engeleryk, en die verskyning van engele.

A. Die Engelewoning
Waar woon engele? Die engelewoning is die Hemel. Dis waar hulle volgens die volgende skrifgedeeltes woon: Matthéüs 18:10: engele in die hemele; Matthéüs 24:36: die engele van die hemele; Markus 12:25: engele wat in die hemele is; Markus 13:32: die engele in die hemel; Lukas 22:43: ’n engel uit die hemel; Galásiërs 1:8: ’n engel uit die hemel; II Thessalonicense 1:7: die hemel met sy magtige engele; en Judas 6: die engele het hul eie woning gehad en daardie woning was die Hemel. Dit is dus baie duidelik dat die engelewoning in die Hemel is.

B. Die Engeleryk
Die “engeleryk” verwys na die gebied waarin die engele werk. Hulle woon wel in die Hemel, maar hulle werk in meer as net die ryk van die Hemel – hulle werk ook in twee ander ryke.

Die een ryk is die Hemele (Ef. 3:10). “Hemele” is waarna ons normaalweg verwys as die buitenste ruim of die tweede hemel.

Die tweede ryk waarin hulle werk, is die aarde. Engele is God se gesante op aarde wat help om sy wil op aarde uit te voer. As gevolg hiervan het hulle ’n spesiale bediening en funksie op aarde. Voorbeelde van die spesiale beheer wat hulle op aarde uitoefen, is in Openbaring 8:1–2 waar daar melding gemaak word van die sewe engelewat voor God staan in die hemel. Wanneer hulle ’n trompet blaas, gebeur daar wonderlike, fantastiese fisieke dinge op aarde. In die Engelse vertaling van Openbaring 14:8 word daar gepraat van die engel wat mag het oor vuur. Openbaring 16:5 praat van die engel wat mag het oor die waters. Al hierdie verse wys vir ons dat die tweede ryk van engele op die aarde is. Terwyl hulle dus wel ’n funksie in hulle ryk in die Hemel (die derde hemel) het, is hulle ryk nie tot die Hemel beperk nie. Hulle werk ook in die ryk van die buitenste ruim en in die ryk van die aarde.

C. Die Verskyning van Engele
Die derde area wat ons gaan bespreek, is die verskyning van engele. Die Skrifte bevat verslae van engele wat aan mense verskyn het. Wat die verskyning van engele betref, is daar drie dinge waarvan ons melding moet maak.

1. Hulle Sigbaarheid
Eerstens, hulle sigbaarheid. Daar was hoofsaaklik drie maniere waarop engele verskyn het. Soms het hulle in ’n droom verskyn soos in Jakob se geval toe hy engele op ’n leer gesien het wat daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het (Gen. 28:12). Die tweede manier waarop engele aan mense verskyn het, was in visioene. Wanneer ’n visioen geopenbaar is, kon sekere mense engele in hierdie visioene sien. Mense met wie dit gebeur het, is o.a. Daniël, Sagaría, en die apostel Johannes in Openbaring. Die derde en meer algemene manier waarop engele verskyn het, was deur net gewoonweg te verskyn deur hulleself skielik sigbaar of openbaar te maak. ’n Voorbeeld hiervan is die engele wat by Jesus se graf verskyn het.

2. Hulle Gedaante
Die tweede aspek van hulle verskyning, is hulle gedaante: engele het altyd in die gedaante van jong mans verskyn (Gen. 18:1–2, 16, 22; 19:1–22; Mark. 16:5; Luk. 24:4; Hand. 1:10–11). Nêrens in die Skrif verskyn engele in die gedaante van vroue, kinders (soos kupido’s), of ouer mans nie.

3. Hulle Uitwerking
Die derde aspek van die verskyning van engele, is hulle uitwerking. Die uitwerking wat die verskyning van engele hoofsaaklik veroorsaak het, was vrees (Dan. 10:4–9; Matt. 28:2–6; Luk. 1:11–12; 26–30; 2:9).

VI. DIE PERSOONLIKHEID VAN ENGELE
Daar is mense wat glo dat engele nie persoonlike wesens is nie. Hulle glo engele is slegs uitstralings, magte of strale en dat hulle nie werklike, persoonlike wesens is nie. Die drie hoof kenmerke van persoonlikheid is egter intellek, emosie, en wil. Enigiets wat oor intellek, emosie en wil beskik, is dus ’n persoonlikheid. Mense is persoonlikhede, want mense het al drie hierdie kenmerke. As ons dus kan bewys dat engele oor hierdie drie kenmerke beskik, kan ons bewys dat engele persoonlikhede het.

A. Hulle Intellek
Eerstens het engele intellek. II Samuel 14:20 verwys na die wysheid van ’n engel. Die feit dat iemand oor wysheid beskik, beteken seer sekerlik dat hy intellek het. In Psalm 148:2 het engele die vermoë om te loof, en dis ’n eienskap wat intellek vereis. In Matthéüs 24:36 het engele die vermoë om dinge te weet, en dit vereis ook intellek. En in Matthéüs 28:5 het hulle die vermoë om te kommunikeer, wat beslis ook intellek vereis. In Efésiërs 3:10 leer hulle van God se program vir die Kerk en die feit dat hulle leer, wys ook dat hulle oor intellek beskik. I Petrus 1:12 sê daar is dinge waarna engele begeer om te kyk en hierdie begeerte is, weer eens, ’n gevolg van intellek.

B. Hulle Emosie
Tweedens het engele emosie. Job 38:7 en Lukas 15:10 praat van engele wat oor die emosie van vreugde beskik. As hulle vreugde kan ervaar, moet hulle tog emosie hê.

C. Hulle Kan Keuses Maak
Derdens beskik engele oor die vermoë om keuses te maak. In Lukas 2:13 prys die engele God, wat beteken hulle oefen ’n keuse uit. In Hebreërs 1:6 aanbid hulle God, ook ’n manier waarop hulle hul eie keuse uitoefen. Uiteindelik, in Judas 6, kies van die engele om hul eie woning te verlaat, wat ook ’n manier is waarop hulle hul eie keuse uitoefen.

Ons kan dus met absolute sekerheid sê engele beskik oor intellek, emosie, en die vermoë om keuses te maak. Daarom is hulle persoonlikhede en nie net uitstralings nie.

VII. DIE AARD VAN ENGELE
Die aard van engele word in vier kategorieë bespreek.

A. Die Skepping van Engele
Eerstens is engele as wesens geskape (Kol. 1:16). Omdat engele van nature geskape wesens is, is hulle ook onderworpe aan die beperkings van “geskapenheid”. ’n Wese wat geskape is, is ’n skepsel en ’n skepsel kan nooit al die magte, kragte, eienskappe en vermoëns van die Skepper hê nie. Terwyl hulle dus verreweg die mens se meerdere is, is hulle ver minder as God.

Engele is byvoorbeeld nie alomteenwoordig nie; hulle is beperk tot ’n sekere ruimte (Dan. 9:21–23; 10:10–14; II Pet. 2:11). Om hierdie rede het Mígael die Aartsengel goddelike hulp nodig gehad (Jud. 9). Engele is ook nie alwetend nie. Hulle weet nie alles nie en wat hulle weet, is beperk. In Matthéüs 24:36 weet hulle byvoorbeeld nie wanneer die Messias gaan terugkeer nie. In Efésiërs 3:10 en I Petrus 1:11–12 is daar ’n beperking in wat hulle weet, en dit is hoekom hulle aanhou leer. Iemand wat alwetend is het nie nodig om enigiets te leer nie, omdat hy reeds alles weet.

B. Die Liggame van Engele
Die tweede kategorie omtrent die aard van engele wat ons bespreek, is die engeleliggaam. Volgens Hebreërs 1:14 is engele geestelike wesens en dit beteken dat hulle nie stoflik is nie. Tog het hulle ’n mate van liggaamlikheid. Hulle is immers nie spoke nie. Hulle liggaamlikheid bestaan egter nie uit vlees en bene nie (Luk. 24:39). Die engeleliggaam bestaan uit ’n geestelike liggaam, maar tog kan engele in liggaamlike gedaante verskyn (Gen. 18–19; Matt. 1:20; Luk. 1:11; Joh. 20:12; Heb. 13:2). Omdat engele geestelike wesens is wat nie-stoflik is, is hulle gewoonlik nie sigbaar nie. Maar omdat hulle tog oor ’n mate van liggaamlikheid beskik, is hulle in staat om in ’n liggaamlike gedaante te verskyn. En wanneer hulle wel in liggaamlike gedaante verskyn, verskyn hulle altyd as jong mans.

Iets anders oor engele se liggame is dat dit nie beperk is tot die menslike konsep van ruimte nie. Volgens Lukas 8:30 kan ’n legioen engele se geestesliggame in ’n baie beperkte spasie bestaan, selfs binne die spasie van net een man se liggaam.

Nog iets oor die liggame van engele is dat engele nie soos mense trou en voortplant nie (Mark. 12:25). Omdat engele altyd manlik is en daar geen vroulike engele is nie, is hulle nie in staat om te trou en nog engele voort te bring nie. Dit beteken egter nie dat engele geslagloos is nie. Die Griekse taal het wel ’n onsydige vorm, maar hierdie vorm word nie vir engele gebruik nie. Die manlike selfstandige naamwoord en die manlike voornaamwoord word altyd gebruik. In die geval van Génesis 6 waar daar na gevalle engele verwys word wat met menslike vroue getrou het, was hulle daartoe in staat om ’n wanskapige ras voort te bring. Wat hulle voortgebring het was egter nie engele van hul eie soort nie, omdat die engeleliggaam nie kan voortplant nie.

C. Die Groep van Engele
Die derde kategorie omtrent die aard van engele, is dat hulle ’n “groep” (of “leërskare”) en nie ’n ras is nie. Om ’n ras te wees impliseer die vermoë om volgens die eiesoortige karaktereienskappe van die spesifieke ras te kan voortplant. Soos ons reeds gesien het, kan engele nie afstammelinge volgens hulle eie soort voortbring nie, en daarom word hulle nie as ’n ras beskou nie, maar as ’n groep (Heb. 12:22). As ’n groep is daar drie dinge waarna ons moet oplet: eerstens verskil hulle van mense (Ps. 8:4–5), tweedens is hulle hoër wesens as mense (Heb. 2:7; II Pet. 2:11), en derdens trou goeie of uitverkore engele nie (Luk. 20:34–36).

D. Die Kenmerkende Eienskappe van Engele
Die vierde kategorie omtrent die aard van engele, is hulle kenmerkende eienskappe. Daar is vier hoof kenmerkende eienskappe waarvan ons melding moet maak.

1. Hulle Heiligheid
Eerstens is engele heilig (Luk. 9:26). Heiligheid beteken in engele se geval dat hulle nie langer in staat is om te sondig nie, want sodra hulle heiligheid bevestig is, kan engele nie gevalle word soos wat hulle eens kon nie.

2. Hulle Krag en Mag
’n Tweede kenmerkende eienskap van engele is dat hulle kragtig en magtig is. Wat dit betref is hulle verhewe bo enige mens wat al ooit geleef het. Psalm 103:20 noem engele kragtige helde. In Matthéüs 28:2 was slegs een engel nodig om die klip voor Jesus se graf weg te rol, terwyl ’n mens normaalweg verskeie mans nodig sou hê om so ’n klip weg te rol. So het een engel die deure van die gevangenis oopgemaak in Handelinge 5:19. In Handelinge 12:7 het ’n engel Petrus se boeie in die tronk afgeruk. ’n Engel kon ook vir Herodes met ’n siekte tref wat sy lewe geneem het, in Handelinge 12:23. In Efésiërs 1:21; 3:10 en Kolossense 1:16 word daar na engele verwys met die woorde mag en magte. II Thessalonicense 1:7 praat van die magtige engele en II Petrus 2:11 van die engele se sterkte en krag. Die tweede hoof kenmerkende eienskap van engele is dus dat hulle magtig en kragtig is.

3. Hulle Onsterflikheid
’n Derde kenmerkende eienskap van engele is dat hulle onsterflik is. Anders as mense, is hulle nie in staat om dood te gaan nie. Van die dag van hulle skepping af beskik hulle oor die kenmerk van onsterflikheid (Luk. 20:35–36).

4. Hulle Mag nie Aanbid Word nie
Vierdens is engele nie goddelik nie. Dit is ’n belangrike kenmerkende eienskap, want omdat hulle nie goddelik is nie, is dit verbode om hulle te aanbid (Kol. 2:18; Op. 19:10; 22:8–9).

VIII. DIE ORGANISASIE VAN ENGELE
Engele is baie goed georganiseerd. Die Bybel gebruik agt verskillende titels wat vir ons wys dat daar ’n ontsaglike hoë vlak van organisasie is in die ryk waar die engele bestaan.

A. Titels wat Vlakke van Organisasie Toon
Hierdie titels toon kategorieë en vlakke van organisasie. Daar is agt sulke titels.

1. Trone
Die eerste titel is trone. Die engele wat op hierdie trone sit, is in die onmiddellike teenwoordigheid van God (Kol. 1:16).

2. Heerskappye
Die tweede titel is heerskappye, wat die konsep van gesag beklemtoon. Hierdie kategorie van engele heers in ’n spesifieke gebied (Ef. 1:21; Kol. 1:16). Dit sluit hoër engele in wat oor laer engele heers.

3. Owerhede
’n Derde titel is dié van owerhede. Dit beklemtoon die konsep van gesag in die kategorie van regering, want owerhede regeer. Die engele wat owerhede is, word gesien as die regeerders van nasies. Terwyl heerskappy blykbaar met hoër engele te doen het wat oor laer engele heers, is owerhede heersers van nasies (Ef. 3:10; Kol.1:16).

4. Magte
’n Vierde titel is dié van magte, wat beteken om oppermag uit te oefen (Ef. 1:21; I Pet. 3:22).

5. Kragte
Die vyfde titel is kragte, wat koninklike verantwoordelikhede beklemtoon (Ef. 1:21; 3:10; Kol. 1:16; I Pet. 3:22).

6.Leërskare
Die sesde titel is leërskare, die Hebreeuse woord vir “weermag”. Hierdie titel beklemtoon hulle militêre organisasie (I Sam. 1:11; I Kon. 22:19).

7. Legioene
’n Sewende titel is legioene. Legioene, soos leërskare, beklemtoon die militêre organisasie van engele. Terwyl die term leërskare die militêre organisasie as geheel beklemtoon, is die legioen een afdeling binne die leërskare. Dit kan uit enige getal van 3 000 tot 6 000 engele bestaan (Matt. 26:53).

8. Vernaamste Vors
Die agtste titel is die vernaamste vors of groot vors. Die vernaamste vors is ’n engel wat aan die hoof van ’n nasie staan en daaroor heers (Dan. 10:13; 12:1).

B. Die Orde van Hemelse Wesens
Daar is drie spesifieke ordes van hemelse wesens: engele, serafs en gérubs.

1. Engele
Die orde wat hoofsaaklik in hierdie studie bespreek word, is die eerste basiese orde van hemelse wesens, die laagste orde, dit wil sê die orde van engele. Die meeste van dit wat ons tot dusver bespreek het, het spesifiek te doen gehad met hierdie besondere orde. Soms word die term engele gebruik vir alle ordes van hemelse wesens omdat alle hemelse wesens engelewesens is. Die term engel het egter meestal te doen met die laagste van die drie ordes. Wat voorkoms betref, lyk hierdie wesens soos jong mans, en anders as wat hulle dikwels uitgebeeld word, het hulle nie vlerke nie.

a. Mígael
Daar is twee engele wat regdeur die Skrifte op hulle name bekend is. Die eerste een is Mígael die aartsengel. Die naam Mígael beteken “die een wat soos God is” en aartsengel beteken “hoofengel”. Dit beteken Mígael is die een wat outoriteit oor die ander het. Hy het nie outoriteit oor die serafs en gérubs nie, maar hy het outoriteit oor die laagste orde, dié van die engele.

Die konsep van aartsengel word gereflekteer in die ander twee name wat vir Mígael gebruik word. Eerstens word hy in Daniël 10:13 een van die vernaamste vorste genoem. Daar is baie vorste, maar hy is een van die vernaamstes, die een met outoriteit oor al die ander. Tweedens word hy in Daniël 12:1 die groot vors genoem. Daar is slegs een groot vors en dit is die aartsengel. Groot vors en een van die vernaamste vorste beteken basies dieselfde en is sy twee Hebreeuse titels. Die Griekse titel is aartsengel, wat beklemtoon dat Mígael die heerser is oor al die gewone engele (Op. 12:7).

Mígael se posisie beteken hy het spesifieke verantwoordelikhede. As die aartsengel het hy al die ander engele onder sy outoriteit (Op. 12:7). Net soos demone onder die outoriteit van Satan staan, val die goeie engele van hierdie kategorie onder die outoriteit van Mígael op grond van sy posisie as aartsengel. As aartsengel is dit sy verantwoordelikheid om oor die ander engele te heers en gesag uit te oefen. Dit is die goeie engele se verantwoordelikheid om aan die gesag van Mígael onderdanig te wees.

Mígael word ook die naam van hoofvors gegee. Die term hoofvors is van toepassing op engele wat outoriteit het oor spesifieke nasies. As hoofvors is Mígael verantwoordelik vir die volk Israel en dis hoekom dit Mígael was wat Moses se liggaam in Judas 9 beskerm het. In Daniël 10:13–21 het Mígael seker gemaak dat Daniël die nodige openbaring ontvang aangaande Israel se toekoms. In Daniël 12:1 word daar gesê Mígael sal Israel beskerm tydens die Groot Verdrukking. Die rede hoekom Israel die Verdrukking sal oorleef is juis as gevolg van Mígael se werk. Ander dinge wat Mígael in die toekoms gaan doen, is die aankondiging van die Wegraping (I Thess. 4:16); en in die helfte van die Verdrukking sal Mígael vir Satan vanuit sy huidige derde woning in die atmosferiese hemel neerwerp in sy vierde ryk op die aarde (Op. 12:7–12).

b. Gabriël
Die tweede engel wie se naam in die Skrif genoem word, is Gabriël. In Hebreeus beteken die woord Gabriël “die magtige een van God”.

Gabriël se belangrikste werk is om ’n boodskapper van openbaring te wees en die openbaring van God na die mens te bring. In Daniël 8:15–27 het hy die openbaring oor Israel in die eindtye bekend gemaak. In Daniël 9:20–27 het hy die Sewentig Sewetalle bekendgemaak, asook die tydsberekening van die Messias se Eerste Koms. In Lukas 1:11–29 het hy aan Sagaría openbaar dat Johannes die Doper gebore gaan word. En in Lukas 1:26–38 het hy vir Maria vertel dat Jesus gebore gaan word.

Soos Mígael het Gabriël ook werk wat hy in die toekoms sal moet doen. Lukas 1:19 sê Gabriël is een van die engele wat voor God gaan staan. Daar is sewe sulke engele in Openbaring 8:2. Dit beteken Gabriël is een van die sewe wat in die teenwoordigheid van God staan en wat die basuin-oordele van Openbaring 8 en 9 gaan uitstort.

c. Ander Engele
Die Bybel maak ook melding van ander individuele engele wie se name nie spesifiek genoem word nie. Daar word wel gesê wat hulle doen. In Openbaring 8:2 is daar byvoorbeeld sewe engele wat voor God staan, en een van hulle is Gabriël. Die ander ses is egter onbekend. Openbaring 15 en 16 maak melding van sewe ander engele wat die sewe skaal-oordele gaan uitstort. Die ander engele waarna verwys word, sluit die vier engele van die vier winde in (Op. 7:1–4), asook die engel van vuur (Op. 14:8), en die engel van die waters (Op. 16:5).

2. Serafs
Die tweede orde van hemelse wesens is die serafs, alhoewel daar nie in die Skrif baie na hulle verwys word nie. Eintlik word daar net in twee Boeke na hulle verwys, naamlik Jesaja en Openbaring. Serafs is die meervoudsvorm van die Hebreeuse woord seraph wat “ ’n brandende een” beteken. Dieselfde woord word elders in die Ou Testament met die woord slang vertaal (Num. 21:8; Jes. 14:29; 30:6).

a. In die Boek Jesaja
Ons leer vier dinge oor die serafs in Jesaja 6:2–3 en 6–7. Eerstens omring hulle die troon van God. Tweedens het hulle ses vlerke. Terwyl engele geen vlerke het nie, het die serafs ses vlerke, dit wil sê drie pare van twee vlerke. Elke paar het ’n ander doel en funksie. Die eerste paar vlerke se doel is om hulle voete te bedek, die tweede paar bedek hulle aangesigte en die derde paar is om mee te vlieg. Derdens prys hulle God voortdurend onder mekaar. Hulle sê oor en oor: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! Die vierde ding wat ons oor die serafs leer, is dat ’n seraf die sonde van Jesaja reinig (versoen). Wanneer die seraf die gloeiende kool van die altaar af neem en Jesaja se lippe daarmee aanraak, word sy sonde versoen (vers 7). Dit is wat ons in die Ou Testament oor die serafs leer.

b.In die Boek Openbaring
Die res van dit wat ons oor die serafs leer, kom in die Nuwe Testament voor. In die Boek Openbaring word daar in agt verskillende gedeeltes van die serafs melding gemaak.

Die eerste gedeelte is Openbaring 4:6–11. In hierdie skrifgedeelte leer ons sewe dinge oor die serafs.

Eerstens is hulle reg rondom God se troon.

Tweedens is hulle vol oë van voor en van agter (vers 6), wat simboliseer dat hulle ver anderkant die menslike ryk kan sien sodat hulle God se voorsienigheid kan uitdra.

Derdens het die serafs ses vlerke (vers 8).

Vierdens lyk alle serafs nie presies dieselfde nie (vers 7). Almal van hulle het ses vlerke, maar die hoof kenmerk wat hulle met mekaar in gemeen het, is dat hulle aangesigte verskillend lyk. Daar is vier kategorieë van serafs, gebaseer op hoe die voorkoms van hulle aangesigte verskil: dié wat soos ’n leeu lyk, dié wat soos ’n kalf lyk, dié wat soos ’n mens lyk, en dié wat soos ’n arend lyk.

Vyfdens is hulle rondom en van binne vol oë (vers 8). Vroeër is daar genoem dat hulle voor en agter vol oë is, nou word daar gesê hulle is reg rondom, aan die kante en ook van binne vol oë.

Sesdens prys hulle God voortdurend en sê hulle byna dieselfde woorde as wat in Jesaja gesê is. Verse 8 en 9 sê hulle prys God sonder ophou. In vers 8 sê hulle: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!

Sewende, wanneer die engele sê: Heilig, heilig, heilig, is dit ’n teken vir die 24 ouderlinge dat hulle ook die Een moet aanbid wat op die troon sit (verse 10–11). In hierdie konteks is die Een wat op die troon sit God die Vader.

Die tweede skrifgedeelte waarin ons van serafs leer, is Openbaring 5:6. Hier lees ons dat hulle ook die Lam, oftewel God die Seun, omring. Serafs omring aan die een kant vir God die Vader, maar aan die ander kant ook vir God die Seun.

Die derde skrifgedeelte waarin ons van serafs leer, is Openbaring 5:8–10 en 14. Die serafs sal die Lam in die toekoms aanbid wanneer die Lam die boek met die sewe seëls neem. Met die breek van die seëls begin die tyd van die Verdrukking. As die Lam die boek met die sewe seëls neem, sal die serafs die Lam aanbid.

Die vierde skrifgedeelte is Openbaring 6:1, 3, 5 en 7. ’n Seraf kondig ’n spesifieke seël-oordeel aan. Die eerste seraf kondig die eerste seël aan; die tweede seraf die tweede seël; die derde seraf die derde seël; en die vierde seraf die vierde seël. Van die sewe seël-oordele word die eerste vier deur die serafs aangekondig.

Die vyfde skrifgedeelte is Openbaring 7:11–12. In dié gedeelte gaan die serafs God prys vir diegene wat gered word tydens die Groot Verdrukking. In hierdie hoofstuk sal die 144 000 Jode gered word asook ’n ontsaglike hoeveelheid heidene. Serafs sal God daarvoor prys.

Die sesde skrifgedeelte is Openbaring 14:3. Die serafs gaan die lied van die 144 000 Jode in die Messiaanse Koninkryk aanhoor.

Die sewende skrifgedeelte is Openbaring 15:7. ’n Seraf sal die sewe goue skale aan die sewe engele gee. Die skaal-oordele van Openbaring 15 en 16 is verreweg die ergste van al die oordele tydens die Verdrukking, en dit sal ’n seraf wees wat hierdie sewe skaal-oordele aan die sewe engele gee sodat hierdie oordele oor die aarde uitgestort kan word.

Die agtste skrifgedeelte is Openbaring 19:4–5 waar serafs die aanbidding van God lei.

c. Afleidings
Daar is agt belangrike waarhede wat ons vanuit die genoemde gedeeltes in Jesaja en Openbaring kan aflei oor die tweede orde van engele.

Eerstens word hulle gekenmerk deur hul onophoudelike aanbidding van God. Hulle aanbid beide God die Vader en God die Seun.

Tweedens word hulle deur nederigheid gekenmerk. Dit is duidelik sigbaar in die feit dat twee vlerke gebruik word om hulle voete te bedek en twee om hulle aangesig te bedek. Hulle is immers in God se teenwoordigheid en omring die troon van God die Vader.

Derdens het hulle ’n bediening waarin hulle God se dienaars se sonde reinig (versoen) sodat hulle ook die Here kan aanbid en dien. Dit word in Jesaja 6:6–7 uitgebeeld waar die seraf die lippe van die profeet Jesaja gereinig en sy sonde versoen het.

Vierdens lei hulle die aanbidding in die Hemel. Wanneer hulle sê: Heilig, heilig, heilig, begin al die ander bewoners van die Hemel (soos die 24 ouderlinge) ook om God te aanbid.

Vyfdens is hulle hoofsaaklik gemoeid met die beklemtoning van God se heiligheid en die aanbidding van God.

Sesdens prys en verklaar hulle die heiligheid van God. Hulle doen dit elke keer op ’n drievoudige manier deur die woord heilig drie keer te herhaal. Dit is heel moontlik gebaseer op die Drie-Eenheid: Heilig, heilig, heilig, omdat die Vader, die Seun én die Heilige Gees almal heilig is.

Sewende verklaar hulle dat alle mense gereinig moet word. Hierdie reiniging vind plaas deur medium van die altaar waar die bloedvloeiing plaasgevind het. Omdat reiniging altyd deur middel van bloed plaasvind, gebeur dit vandag deur middel van die bloed van die Messias.

Agtstens sal die serafs gebruik word vir baie van die oordele in die tyd van die Verdrukking. God gaan die serafs gebruik om sy toorn op die aarde uit te stort.

3. Gérubs
Die derde en hoogste orde van hemelse wesens is die gérub of gérubs. Die stam van die Hebreeuse woord vir gérub beteken “om te beskerm” of “om te bedek”. Dit word in totaal 91 keer gebruik; 27 keer in enkelvoudvorm en 64 keer in meervoudsvorm. Van hierdie 91 keer kom 90 in die Ou Testament voor. Dit word slegs een keer in die Nuwe Testament gebruik – in Hebreërs 9:5.

a. Die Skrifgedeeltes
In Génesis 3:24 het die gérubs die ingang tot die tuin van Eden bewaak sodat Adam en Eva nie weer kon inkom nie. In Exodus 25:18–22 was daar twee gérubs op die versoendeksel. In Exodus 26:1 is daar afbeeldings van gérubs in die gordyne van die tabernakel ingeborduur. In Exodus 37:7–9 was daar ook gérubs bo-op die versoendeksel. In I Samuel 4:4 en II Samuel 6:2 word daar van God gesê dat Hy op die gérubs troon (op Sy troon bo die gérubs sit). Volgens II Samuel 22:11 gaan Jesus, die Messias, op ’n gérub ry met Sy Wederkoms. In I Konings 6:23–28; 7:29 en 36, is die gérubs gemaak vir die Allerheiligste Vertrek van Salomo se Tempel. II Konings 19:15 en I Kronieke 13:6 sê ook dat God op die gérubs troon. In I Kronieke 28:18 beskut die gérubs die verbondsark. In II Kronieke 3:7 is gérubs op die mure van die tempel uitgesny. In II Kronieke 3:10–14 leer ons drie dinge: eerstens dat daar beelde van gérubs in die Allerheiligste Vertrek was, tweedens dat elkeen twee vlerke gehad het, en derdens dat hulle ook op die voorhangsel ingeborduur was. Hierdie voorhangsel het die Allerheiligste Vertrek van die Heilige geskei. In II Kronieke 5:7–8 het hulle die verbondsark bedek. In Psalm 18:11 word daar gesê Jesus, die Messias, gaan op ’n gérub vlieg met Sy Wederkoms. In Psalm 80:1; Psalm 99:1 en in Jesaja 37:16, troon God oor die gérubs.

Die Boek wat die meeste besonderhede oor gérubs gee, is Eségiël, wat verduidelik presies hoe God bo die gérubs sit (troon). Eségiël 1:5–28 gee ’n uitgebreide beskrywing van gérubs. Eerstens het hulle die gestalte van ’n mens (vers 5). Tweedens het elkeen vier verskillende aangesigte (vers 6): dié van ’n mens, ’n leeu, ’n bees en ’n arend (vers 10). In hierdie opsig laat hulle ’n mens dink aan die serafs. Derdens het elkeen vier vlerke (vers 6), twee aan elke kant van die liggaam. Vierdens is hulle bene reguit (vers 7). Vyfdens is die sole van hulle voete soos ’n kalfspoot (vers 7). Sesdens glinster hulle soos blink geskuurde koper (vers 7). Sewende is daar mensehande onder hulle vlerke aan hulle vier kante (vers 8). Agtstens het hulle vier verskillende voorkomste: eerstens soos blink geskuurde koper (vers 7), tweedens soos gloeiende vuurkole, derdens soos fakkels, en vierdens met vuur wat heen en weer tussen hulle beweeg (vers 13). Negende het hulle heen en weer gesnel, in aansien soos ’n bliksemstraal (vers 14). Tiendens is die geruis van hulle vlerke soos die geruis van baie waters, soos die stem van God (die Almagtige), soos die gedreun van ’n leër (vers 24). Elfdens word hulle verbind aan of geassosieer met die heerlikheid van die HERE (verse 26–28).

In Eségiël 10:1–22 was die gérubs betrokke by die weggaan van God se heerlikheid.

In Eségiël 28:14–16 staan daar Satan was ’n gérub toe hy geskape is. Hy was eintlik ’n gesalfde gérub. Net soos wat Mígael die aartsengel was, die een wat outoriteit het oor al die ander engele, so was Satan die aartsgérub, die een wat outoriteit het oor al die ander gérubs. Omdat die gérubs die hoogste orde is, en omdat Satan die aartsgérub was, plaas dit hom in ’n hoër kategorie as dié van Mígael.

Die laaste plek in die Ou Testament waar daar na gérubs verwys word, is in Eségiël 41:18–20, 25. Hierdie gedeelte verwys na die toekoms. Daar is drie dinge wat oor die gérubs gesê word wat die toekoms betref. Eerstens sal uitbeeldings van die gérubs op die mure van die Millenniumtempel aangebring word. Tweedens sal hierdie gérubs twee aangesigte hê – aan die een kant dié van ’n mens en aan die ander kant dié van ’n jong leeu. Derdens gaan uitbeeldings ook op die deur van die Millenniumtempel ingegraveer word.

In die Nuwe Testament word daar net een keer na gérubs verwys en dis in Hebreërs 9:5. Dit stem ooreen met dit wat ons in die Ou Testament geleer het omdat dit ook praat van die gérubs wat die versoendeksel van die tabernakel oorskadu het.

b. Afleidings
Vanuit hierdie skrifgedeeltes kan ons sewe waarhede omtrent die gérubs aflei.

Die eerste waarheid is dat daar drie verskillende tipes of kategorieë van gérubs is. Die eerste is dié wat slegs een aangesig en twee vlerke het, die tweede soort is dié wat twee aangesigte en twee vlerke het, en die derde is dié wat vier aangesigte en vier vlerke het. Daar word nooit presies gesê watter soort gérub Satan is nie, maar ons weet hy val in een van hierdie drie kategorieë.

Die tweede waarheid is dat hierdie wesens baie na aan die troon van God is omdat dit hulle is wat die troon dra (volgens Eségiël 1). Terwyl die serafs rondom die troon is, dra die gérubs in der waarheid die troon en bedek hulle die troon ook van bo af. Omdat die gérubs die troon van God dra, word daar gesê God is die Een wat bo die gérubs troon. Die gérubs is dus na aan die troon van God en hierdie nabyheid aan die troon self, is die rede waarom hulle van ’n hoër orde as die serafs is.

Die derde waarheid is dat hulle baie na aan God se heerlikheid is. Tot ’n groot mate weerspieël hulle God se heerlikheid. Hulle was betrokke by die weggaan van God se heerlikheid uit Israel in 586 VC voor die Tempel deur die Babiloniërs vernietig is.

Vierdens word die gérubs ten nouste verbind met God se teenwoordigheid. Hierdie verbintenis is nou verwant aan die heerlikheid van God, dit wil sê, die heerlikheid wat die sigbare openbaarmaking van God se teenwoordigheid is. Gérubs het ’n baie noue verbintenis met die teenwoordigheid van God.

Vyfdens is hulle gemoeid met God se geregtigheid en mag. Terwyl die serafs gemoeid is met die aanbidding en heiligheid van God, is die gérubs gemoeid met die geregtigheid, krag en mag van God.

Sesdens verdedig hulle God se heilige karakter en teenwoordigheid. Dit is die rede waarom hulle hul mag nodig het.

Sewende het hulle die vermoë om God se wil vinnig onder die nasies uit te voer.

IX. DIE WERKE VAN ENGELE
Wat die werk van engele betref, is daar sewe verskillende kategorieë wat ons hier bespreek.

A. Die Werk van Engele met betrekking tot God
Die eerste kategorie van die werk van engele, is hulle werk met betrekking tot God. In hierdie kategorie is daar vier spesifieke bedieninge. Eerstens is hulle werksaam in die aanbidding van God en aanbid hulle Hom aktief (Ps. 29:1–2; 103:20; 148:2; Jes. 6:3; Heb. 1:6; Op. 4:8–11; 5:8–13). Tweedens voer hulle God se wil uit – Sy wil word gereeld deur middel van engele uitgevoer (Ps. 103:20, Heb. 1:7). Derdens verbly engele hulle in die werk van God – toe God die hemel en aarde geskape het, het die engele gejuig (Job 38:7), en wanneer ’n sondaar hom bekeer is daar blydskap voor die engele (Luk. 15:10). Vierdens voer hulle God se oordeel uit – engele is byvoorbeeld gebruik om Sodom en Gomorra te vernietig (Gen. 19:1–22); hulle is in die tiende plaag in Egipte gebruik (Ex. 12:23); en hulle is ook tydens die pes in Israel gebruik (I Kron. 21:15).

B. Die Werk van Engele as Agente van Openbaring
’n Tweede kategorie van die werk van engele, is dat hulle agente van openbaring is. Die Wet van Moses is nie direk aan Moses gebring nie, maar is aan hom oorgedra deur middel van engele. In Deuterónomium 33:2 word daar gesuggereer dat dit die geval is en in Handelinge 7:53, Galásiërs 3:19 en Hebreërs 2:2 word dit duidelik gestel dat dit so was. Al het Daniël baie van sy openbaringe direk van God gekry, was daar van sy openbaringe wat hy deur middel van engele gekry het (sien Daniël 8:1–12:13). Dieselfde is waar van Sagaría. Die Boek Sagaría is veertien hoofstukke lank, maar die eerste ses van hierdie hoofstukke (Sag. 1:7–6:15) het deur middel van engele tot stand gekom. Die Boek Openbaring, wat deur die apostel Johannes geskryf is, is ook aan hom geopenbaar deur middel van ’n engel (Op. 1:1; 10:1–11; 17:1; 19:9–10; 21:9; 22:16).

C. Die Werk van Engele in die Lewe van die Messias
’n Derde kategorie van die werk van engele het te doen met hoe engele in die lewe van die Messias gewerk het. Hulle is gebruik in vyf spesifieke periodes in die Messias se lewe.

1.Gedurende die Tyd van die Messias se Geboorte
Die eerste periode was gedurende die tyd van Sy geboorte. Dit was ’n engel wat die Messias se geboorte aan Maria (Luk. 1:26–38) én aan Josef (Matt. 1:20–21) voorspel het. Engele is ook gebruik om die geboorte van die Messias aan die Joodse skaapwagters buite Betlehem aan te kondig (Luk. 2:8–15). Verder was dit ’n engel wat Josef gewaarsku het om uit Betlehem te vlug (Matt. 2:13), en ’n engel wat vir Josef gesê het hulle moet Egipte verlaat en terugkeer na Israel (Matt. 2:19–20).

2. Gedurende die Messias se Bediening
Die tweede periode was gedurende Jesus se bediening. Psalm 91:1–12 het voorspel dat engele regdeur die bediening van die Messias gebruik sou word. Paulus het dit in ’n algemene stelling in I Timótheüs 3:16 bevestig toe hy gesê het die Messias het regdeur Sy bediening verskyn aan engele. Toe Jesus versoek is, was daar engele wat Hom in Sy versoeking gedien het (Matt. 4:11; Mark. 1:13). Regdeur sy bediening het engele op[ge]klim en neer[ge]daal op die Seun van die mens (Joh. 1:51). Hulle het Jesus ook tydens sy uur van nood in die tuin van Getsémané bygestaan (Luk. 22:43). Uiteindelik was daar volgens Matthéüs 26:53 meer as twaalf legioene van engele wat gereed was om Hom tydens Sy verhoor te verdedig as Hy hulle vir enigiets sou nodig kry; maar natuurlik was dit nie vir Hom nodig nie.

3. Gedurende die Messias se Opstanding
Die derde periode van Jesus se lewe waarin daar engele gebruik is, was gedurende Sy Opstanding. Dit was ’n engel wat die steen van die opening [van die graf] weggerol het (Matt. 28:2). Engele is ook gebruik om die nuus van Jesus se Opstanding oor te dra aan die vroue wat na die graf toe gekom het (Matt. 28:1–7; Mark. 16:5–7; Luk. 24:4–7; Joh. 20:12–13).

4. Gedurende die Messias se Hemelvaart
Die vierde periode van die Messias se lewe waarin daar engele gebruik is, was die Hemelvaart. Nadat Hy opgevaar het na die Hemel, het engele aangekondig dat hierdie selfde Jesus, wat toe weggevaar het, net so sou terugkom (Hand. 1:10–11). Die woorde “net so” beteken dat Hy, soos wat Hy deur die wolke in die hemel opgeneem is, eendag presies net so met die wolke gaan terugkeer na die aarde.

5. Gedurende die Messias se Wederkoms
Die vyfde periode waarby engele betrokke is, is nog in die toekoms. Engele gaan tydens die Wederkoms saam met Hom terugkom in die wolke van die Hemel (Matt. 16:27; 24:31; 25:31; II Thess. 1:7). Daarom gaan engele selfs ook in die toekoms betrokke wees in die lewe van die Messias.

D. Die Werk van Engele Onder die Nasies
Die vierde kategorie van engele se werk het te doen met hul werk onder die nasies. Hier is daar twee dinge waarvan ons melding moet maak.

Eerstens funksioneer engelagtige wesens in die hoedanigheid van “kosmokrate” wat “wêreldheersers” of “heersers oor die nasies” beteken. In Daniël 10:13 was een van die vernaamste vorste die vors van die koninkryk van die Perse. Mígael, die Aartsengel, het nie slegs outoriteit oor die ander engele nie, maar is ook die grootste vors van Israel (Dan. 10:21; 12:1).

Tweedens word engele ook geassosieer met die menslike heersers oor spesifieke nasies. In Jesaja 14:3–20 word daar oor Babel gepraat: verse 3 –11 praat van die menslike koning van Babel; verse 12–14 praat van Satan en verse 15–20 praat weer van die koning van Babel. Dieselfde is waar van Eségiël 28:1–19, wat praat van Tirus: verse 1–10 praat van die menslike vors van Tirus en verse 11–19 spreek Satan aan as die koning van Tirus. Omdat sowel gevalle as nie-gevalle (of heilige) engelewesens gebruik word as “kosmokrate” of wêreldheersers, voer hulle God se wil onder die nasies uit. Baie van die dinge wat onder die nasies gebeur, is te wyte aan hierdie engelewesens. Baie dikwels is die rede waarom nasies met mekaar oorlog voer omdat die “kosmokratiese” engelewesens hulle gelei (of daartoe beweeg) het om dit te doen.

E. Die Werk van Engele Onder Ongelowiges
Die vyfde kategorie van engele se werk is hulle werk onder ongelowiges. Hier is daar drie fasette waarop ons moet let.

1. Engele Kondig Dreigende Oordeel Aan
Eerstens kondig engele dreigende oordeel aan. As ons na die geskiedenis kyk, is dit in Génesis 19:1-23 gedoen toe engele die dreigende verwoesting van Sodom en Gomorra aangekondig het. In die toekoms sal hulle dit weer doen wanneer hulle die skaal-oordele aankondig (Op. 14:6–7).

2. Engele Lê Straf Op
Tweedens lê engele straf op. Engele is in die verlede gebruik om straf op te lê. Dit was byvoorbeeld ’n engel (die verderwer) wat die tiende plaag onder die eersgebore seuns van die Egiptenare ten uitvoer gebring het (Ex. 12:23). ’n Ander voorbeeld hiervan is in Handelinge 12:23 toe ’n engel gebruik is om Herodes met ’n dodelike siekte te tref.

Wat hulle in die verlede gedoen het, sal hulle ook in die toekoms doen. Engele sal dus straf toedien in die tyd van die Verdrukking (Op. 8:1–2, 6; 16:1).

3. Engele Gaan as Maaiers Dien
Derdens gaan engele teen die einde van die Verdrukking as “maaiers” oftewel oesinsamelaars gebruik word vir die taak om die gelowiges van die ongelowiges te skei (Matt. 13:39–42; 49–50).

F. Die Werk van Engele met betrekking tot Gelowiges
Die sesde kategorie is die werk van engele met betrekking tot gelowiges. Die Bybel leer ons baie oor hierdie onderwerp. Heelwat skrifgedeeltes praat oor die werk van engele met betrekking tot gelowiges en daar is tien dinge waarvan ons melding moet maak.

1. Met betrekking tot Gelowiges se Redding
Eerstens verheug engele hulle daarin wanneer ’n mens gered word. Terwyl gevalle engele nie bly is wanneer iemand gered word nie, verheug die uitverkore, heilige engele hulle daarin as ’n sondaar gered word (Luk. 15:10).

2. Met betrekking tot Gelowiges se Beskerming
Tweedens het engele ’n beskermingsfunksie met betrekking tot gelowiges. Psalm 34:7 en Psalm 91:11 leer ons dat niks wat buite God se wil is met ’n gelowige kan gebeur nie, vanweë die algemene beskerming van engele. Hierdie verse leer ons nie dat daar niks slegs met gelowiges kan gebeur nie, maar wel dat niks kan gebeur wat buite God se wil is nie. As slegte dinge met ’n gelowige gebeur is dit dus nie omdat die engele in hul werk misluk nie, maar omdat dit God se wil is.

Matthéüs 18:10 leer ons dat alle kinders beskermengele het. Hebreërs 1:14 sê dat elke gelowige ook ’n beskermengel het. Inderwaarheid word daar ’n beskermengel aan ’n gelowige “toegeken” sodra hy gered word.

3. Met betrekking tot Gelowiges se Veiligheid
Derdens word engele dikwels gebruik om gelowiges uit spesifieke situasies te red. So is engele byvoorbeeld in Génesis 19:1–22 gebruik om Lot te red. In Génesis 32:1–2 is engele ook gebruik om Jakob te help. In I Konings 19:5–6 is ’n engel gebruik om vir die profeet Elía kos te gee en engele het Elía ook in II Konings 6:17 beskerm. In Daniël 3:24–28 het ’n engel Daniël se drie vriende in die vuuroond beskerm. In Daniël 6:22 het ’n engel die bekke van die leeus toegesluit sodat die profeet Daniël geen leed aangedoen is nie. In Handelinge 5:17–20 het ’n engel die apostels gered en laastens het ’n engel ook vir Petrus gered, in Handelinge 12:6–11.

4. Met betrekking tot die Verskaffing van Leiding vir Gelowiges
Die vierde werk wat engele met betrekking tot gelowiges het, is dat hulle gelowiges in waarheid en optrede lei. In Matthéüs 1:20–21 het ’n engel byvoorbeeld vir Josef gesê om Maria te glo toe sy hom vertel het dat sy steeds ’n maagd was ten spyte van haar swangerskap. ’n Engel het Filippus in Handelinge 8:26 in ’n situasie gelei waar hy vir die ontmande Ethiópiër kon getuig. In Handelinge 10:3–8 het ’n engel Cornelius beveel om Petrus te gaan haal sodat die evangelie aan hom verkondig kon word. Dieselfde punt word weer bevestig in Handelinge 11:13–14. En in Handelinge 27:23–24 het ’n engel ook vir Paulus gelei.

5. Met betrekking tot Gelowiges se Gebede
Engele se vyfde werk met betrekking tot gelowiges, is om ’n antwoord op gebed te verskaf, want soms word gebede deur middel van engele beantwoord. In Daniël se geval het dit byvoorbeeld twee keer gebeur – in Daniël 9:20–23 en in 10:12–13 is ’n engel gebruik om die profeet se gebed om meer openbaring te beantwoord.

In die Nuwe Testament het groepe heiliges gebid dat Petrus uit die tronk vrygelaat moes word. In antwoord op hulle gebede is ’n engel gebruik om die apostel te red (Hand. 12:1–19).

6. Met betrekking tot Gelowiges se Bemoediging
Engele se sesde werk met betrekking tot gelowiges, is een van bemoediging (Hand. 5:18–20; 27:23–25).

7. Met betrekking tot Gelowiges se Dood
Engele se sewende werk met betrekking tot gelowiges, is om ’n gelowige wat sterf se siel na sy woonplek in die Hemel te neem (Luk. 16:22).

8. Met betrekking tot die Bediening van Waarneming
Die agtste werk van engele, is om te dien as waarnemers van gelowiges. Engele het die bediening van waarneming van gelowiges, om te sien hoe hulle optree en reageer. In Lukas 12:8–9 word ’n gelowige se geloof byvoorbeeld voor die engele bely. Later toon engele blydskap wanneer ’n sondaar hom bekeer (Luk. 15:10). Engele sien ook die lyding van gelowiges raak (I Kor. 4:9). In I Korinthiërs 11:10 kyk engele of vroue gehoorsaam is en hul hoofde bedek wanneer hulle kerk toe gaan. In I Timótheüs 5:21 is engele teenwoordig wanneer gelowiges ’n oorgawe tot ’n verbintenis teenoor God maak. En volgens I Petrus 1:10–12 neem engele ook God se reddingswerk waar.

9. Met betrekking tot die Plaaslike Kerke
Engele se negende werk met betrekking tot gelowiges, is dat hulle as beskermers van plaaslike kerke dien. Dis nie net individuele gelowiges wat beskermengele het nie, maar ook elke plaaslike kerk. Dit sien ons in Openbaring 2 en 3 waar elke brief geadresseer is aan die engel van die gemeente.

10. Met betrekking tot die Gelowiges se Gepaste Houding teenoor Engele
Die tiende en finale werk van engele hou verband met dié vraag: Wat behoort die gelowige se verhouding jeens engele te wees in die lig van die vorige nege werke? Hier is vier dinge waarvan ons kennis moet neem. Eerstens word gelowiges toegelaat om die engele se vermoëns en werk te bewonder en verstom te wees daaroor, net soos Daniël (Dan. 8:16–17; 10:1–9). Tweedens kan gelowiges hulle bediening waardeer (Heb. 1:14). Derdens word gelowiges belet om engele te aanbid (Kol. 2:18; Op. 18:10; 22:9). Vierdens sal gelowiges in die toekoms die engele beoordeel (I Kor. 6:3). Gelowiges sal natuurlik nie die goeie engele oordeel nie, maar wel die gevalle engele tydens die Groot Wit Troon Oordeel.

G. Die Werk van Engele in die Toekoms
Die sewende kategorie van engele se werk met betrekking tot gelowiges, is hulle werk in die toekoms. Hierdie werk kan in vier afdelings verdeel word.

1. In die Tyd van die Verdrukking
Die eerste afdeling is hulle werk in die tyd van die Verdrukking wat uit sewe spesifieke werke bestaan.

Die engele se eerste spesifieke werk in die tyd van die Verdrukking sal wees om skade te bewerkstellig nadat die 144 000 Jode volgens Openbaring 7:1–3 verseël is. Dit is belangrik dat die 144 000 Jode verseël word omdat dit hulle teen enige gevaar sal beskerm. Die oomblik wanneer hulle verseël is, gaan die engele gebruik word om die aarde te beskadig as deel van God se goddelike oordeel.

Tweedens gaan sewe engele gebruik word om die sewe basuin-oordele uit te stort (Op. 8:1–9:21; 11:15–19).

Derdens gaan die goeie engele in die middel van die Verdrukking gebruik word om Satan en die gevalle engele uit hulle teenwoordige woonplek in die atmosferiese hemele te werp sodat hulle vir die res van die tyd van die Verdrukking vasgekeer sal wees op die aarde (Op. 12:7–12).

Vierdens gaan engele sekere aankondiginge maak gedurende die tyd van die Verdrukking (Op. 14:6–20).

Vyfdens, soos engele gebruik is om basuin-oordele gedurende die tyd van die Verdrukking uit te stort, gaan hulle ook gebruik word om die skaal-oordele uit te stort (Op. 15:7–16:21).

Sesdens gaan ’n engel gedurende die tyd van die Verdrukking gebruik word om die vonnis van vernietiging oor die stad Babilon te voltrek (Op. 18:1–3; 21–24).

Die engele se sewende spesifieke werk in die tyd van die Verdrukking gaan wees om die nasies na Armagéddon op te roep sodat God Sy oordele oor hierdie nasies kan voltrek (Op. 19:17–18).

2. Gedurende die Wederkoms
Die tweede afdeling van die engele se werk in die toekoms hou verband met die Wederkoms. Daar is twee dinge waarvan ons hier moet kennis neem.

Eerstens gaan die goeie engele saam met Jesus terugkom met die Wederkoms (Matt. 16:27; 24:31; 25:31; II Thess. 1:7).

Tweedens gaan die engele met die Wederkoms die gelowiges van die ongelowiges skei (Matt. 13:39–42; 49–50).

3. In die Messiaanse Koninkryk
Die derde afdeling van die engele se werk in die toekoms, is hulle medewerking ten opsigte van die Messiaanse Koninkryk. Ons word twee belangrike waarhede hieroor geleer.

Eerstens gaan dit ’n gewone engel wees wat die outoriteit gaan kry om Satan vir 1000 jaar lank in die afgrond te werp (Op. 20:1–3). Hierdie magtige “gesalfde gérub” sal verneder word deur die feit dat hy gebind gaan word deur ’n naamlose engel van die laagste orde.

Tweedens gaan die engele gebruik word om die Jode bymekaar te maak en terug te neem na hulle Land toe (Matt. 24:31). Vir die eerste keer in hulle geskiedenis sal die Joodse volk die hele Beloofde Land kan geniet.

4. In die Ewige Orde
Die vierde afdeling van engele se werk in die toekoms hou verband met die Ewige Staat en die Ewige Orde. Volgens Openbaring 21:12 gaan die engele as bewakers by die stadspoorte optree. Die Nuwe Jerusalem sal die ewigdurende woonplek van alle gelowiges van alle tye wees. Dit gaan twaalf poorte hê, drie aan elke kant van die stad. Elke hek gaan gemaak wees van ’n massiewe pêrel en dit gaan bewaak word deur ’n engel.

X. DIE EINDBESTEMMING VAN ENGELE
Die laaste ding wat ons kortliks moet bespreek, is die eindbestemming van engele. Hebreërs 12:22 leer ons dat die eindbestemming van al die goeie engele dieselfde gaan wees as dié van die heiliges van alle tye – die Nuwe Jerusalem. Al die uitverkore, heilige engele, dit wil sê dié wat nie saam met Satan geval het nie, gaan hulle ewige bestemming in die nuwe Jerusalem hê. In Hebreërs 12:22 sê die skrywer dat gelowiges by die stad met tienduisende engele gekom het. Die eindbestemming van alle gelowiges en heilige engele is dus presies dieselfde.

Inhoudsopgawe

I. DIE BESTAAN VAN ENGELE
II. DIE NAME VAN ENGELE
III. DIE SKEPPING VAN ENGELE
     A. Die Feit dat Hulle Geskape Is
     B. Die Tyd van Hulle Skepping
     C. Die Mag van Vrye Keuse
     D. Hulle Posisie
IV. DIE AANTAL ENGELE
V. DIE WONING, RYK, EN VERSKYNING VAN ENGELE
     A. Die Engelewoning
     B. Die Engeleryk
     C. Die Verskyning van Engele
         1. Hulle Sigbaarheid
         2. Hulle Gedaante
         3. Hulle Uitwerking
VI. DIE PERSOONLIKHEID VAN ENGELE
     A. Hulle Intellek
     B. Hulle Emosie
     C. Hulle Kan Keuses Maak
VII. DIE AARD VAN ENGELE
     A. Die Skepping van Engele
     B. Die Liggame van Engele
     C. Die Groep van Engele
     D. Die Kenmerkende Eienskappe van Engele
         1. Hulle Heiligheid
         2. Hulle Krag en Mag
         3. Hulle Onsterflikheid
         4. Hulle Mag nie Aanbid Word nie
VIII. DIE ORGANISASIE VAN ENGELE
     A. Titels wat Vlakke van Organisasie Toon
         1. Trone
         2. Heerskappye
         3. Owerhede
         4. Magte
         5. Kragte
         6. Leërskare
         7. Legioene
         8. Vernaamste Vors
     B. Die Orde van Hemelse Wesens
         1. Engele
             a. Mígael
             b. Gabriël
             c. Ander Engele
         2. Serafs
             a. In die Boek Jesaja
             b. In die Boek Openbaring
             c. Afleidings
         3. Gérubs
             a. Die Skrifgedeeltes
             b. Afleidings
IX. DIE WERKE VAN ENGELE
     A. Die Werk van Engele met betrekking tot God
     B. Die Werk van Engele as Agente van Openbaring
     C. Die Werk van Engele in die Lewe van die Messias
         1. Gedurende die Tyd van die Messias se Geboorte
         2. Gedurende die Messias se Bediening
         3. Gedurende die Messias se Opstanding
         4. Gedurende die Messias se Hemelvaart
         5. Gedurende die Messias se Wederkoms
     D. Die Werk van Engele Onder die Nasies
     E. Die Werk van Engele Onder Ongelowiges
         1. Engele Kondig Dreigende Oordeel Aan
         2. Engele Lê Straf Op
         3. Engele Gaan as Maaiers Dien
     F. Die Werk van Engele met betrekking tot Gelowiges
         1. Met betrekking tot Gelowiges se Redding
         2. Met betrekking tot Gelowiges se Beskerming
         3. Met betrekking tot Gelowiges se Veiligheid
         4. Met betrekking tot die Verskaffing van Leiding vir Gelowiges
         5. Met betrekking tot Gelowiges se Gebede
         6. Met betrekking tot Gelowiges se Bemoediging
         7. Met betrekking tot Gelowiges se Dood
         8. Met betrekking tot die Bediening van Waarneming
         9. Met betrekking tot die Plaaslike Kerke
         10. Met betrekking tot die Gelowiges se Gepaste Houding teenoor Engele
     G. Die Werk van Engele in die Toekoms
         1. Tydens die Verdrukking
         2. Tydens die Wederkoms
         3. In die Messiaanse Koninkryk
         4. In die Ewige Orde
X. DIE EINDBESTEMMING VAN ENGELE

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat leer die Bybel oor Satan? Wie en wat is hy? Is Satan met persoonlikheid geskep of, soos baie valslik leer, slegs ’n bose mag (beginsel/prinsiep) waarmee almal moet worstel? Bybelse lering oor Satan word in meegaande studie aangebied en sluit onder meer die volgende in: die verskillende benaminge vir en titels van Satan; die aard van Satan; die ses wonings van Satan; die werk van Satan (insluitende die dogma van die koninkryk van die duisternis (kosmos-wêreld); sy werk in die Ou en Nuwe Testament; sy teenstand teen Christus; sy werk teen gelowiges); die oordeel oor Satan en gelowiges se verantwoordelikhede.