Ewige sekerheid

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

… en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. – Romeine 4:21

Hierdie studie handel oor die vraag of ’n gelowige sy redding kan verbeur of nie, hetsy deur ’n sondige daad of deur op te hou glo. Hierdie onderwerp oor ewige sekerheid sal in vier hoofkategorieë verdeel word.

I. DIE BETEKENIS VAN EWIGE SEKERHEID
Die eerste kategorie is die betekenis van ewige sekerheid. Een belydenis omskryf ewige sekerheid soos volg:

“Diegene wat in die Geliefde deur God aanvaar is, en wat genoegsaam geroepe en geheilig is deur sy Gees, kan nooit heeltemal of finaal aan hierdie genadetoestand ontkom nie, maar sal vir seker tot die einde volhard en ewig gered word.”

Hierdie definisie is ietwat gedetailleerd en teologies. ’n Eenvoudiger definisie lui soos volg: “Ewige sekerheid is die volgehoue werk van die Heilige Gees in die gelowige, waardeur die werk van goddelike genade wat in die mens se hart begin is, voortgesit en voltooi word.”

Ewige sekerheid beteken dat ’n persoon nie sy redding kan verbeur as hy ’n ware reddingservaring gehad het en werklik wedergeboorte ervaar het nie, al begaan hy ’n spesifieke sonde of hou hy op met glo. Dit is die Heilige Gees en God se werk namens die gelowige wat hom veilig hou, nie sy eie werke nie. Dít is die basiese betekenis van ewige sekerheid.

II. DIE BEGINSELS VAN EWIGE SEKERHEID
Die tweede hoofkategorie is die beginsels van ewige sekerheid. Daar is tien beginsels wat bepalend is vir die konsep van ewige sekerheid.

Redding is nie herhaalbaar nie
Hierdie beginsel word veral benadruk deur die feit dat die werkwoord “om gered te word” dikwels in die aoristos-tydvorm, wat gewoonlik op ’n enkele handeling dui, gebruik word (Joh 3:14-15; 4:13-14; 6:35, 51). Die punt is dat redding nie iets is wat herhaal word nie. Daar is nie ’n enkele geval in die Skrif wat sê dat iemand gered was, toe sy redding kwyt geraak het, en later weer gered is nie. Daardie konsep verskyn nêrens in die Skrif nie; daar is ook nie ’n enkele geval in die Bybel opgeteken van iemand wat gered was, verlore gegaan het en toe weer gered is nie.

Ware redding lei tot dade van geregtigheid
Die tweede beginsel is dat ware redding ware dade van geregtigheid in iemand se lewe sal voortbring. Enigiemand wat werklik gered is, se lewe sal dit in ’n mate wys, hoe gering ook al. Ware redding sal ware dade van geregtigheid in ’n mens se lewe voortbring. As ’n mens waarlik gered is, moet daar êrens in die gang van sake die een of ander bewys daarvan opduik. ’n Mens word alleen deur geloof gered, maar die geloof wat red, is nie alleen nie; dit sal die een of ander bewys, die een of ander soort gedrag, voortbring. Redding geskied deur geloof en nie deur verdienste nie, maar ware redding spruit uit ’n geloof wat in dade uiting vind; ’n gelowige tree anders op omdat hy gered is (Matt 7:17-20; Titus 2:11-12; Jak 2:14-24; 2 Pet 1:5-10).

Leerstellige konsekwentheid: Die toets van ware geloof
Die derde beginsel van ewige sekerheid is leerstellige konsekwentheid. Leerstellige konsekwentheid is ’n bewys van ware geloof (Kol 1:22-23; 2 Joh 2). Wanneer iemand gered word, weet hy nie noodwendig dat Jesus uit ’n maagd gebore is nie. Wanneer hy dit wel te hore kom, sal hy dit geredelik aanvaar. As hy hierdie waarheid ontken of verwerp, was hy dalk nooit waarlik gered in die eerste plek nie. Leerstellige konsekwentheid is ’n maatstaf vir ware geloof.

Die beloning vir die gelowige se dade
Die vierde beginsel is dat die gelowige se dade beloon word (Heb 6:10). Die gelowige verkry nie sy redding deur verdienste nie, maar ware redding en ware geloof sal lei tot dade, en hierdie dade sal op hul beurt beloon word. Redding self is nie ’n beloning nie; dit is ’n genadegawe wat deur geloof verkry word.

Die grondslag van die oproep tot ’n godvrugtige lewenstyl
Die vyfde beginsel van ewige sekerheid is dat God se verdienste die grondslag vorm van die opdragte wat ons in die Skrif vind om godvrugtig te lewe. Die oproep om godvrugtig te lewe hou nooit verband met die vrees om ’n mens se redding te verbeur nie. Elke keer wanneer die Bybel ’n oproep doen op gelowiges om godvrugtig te lewe, is hierdie oproep gegrond op dít wat God namens hulle gedoen het, nie op ’n dreigement of vrees dat hulle hul redding sal verbeur nie.

Ons lees byvoorbeeld in Romeine 12:1-2: EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Paulus behandel die teologie van redding breedvoerig en wys daarop dat gelowiges vir ewig gered is. Dan sê hy: “Daarom, op grond van God se genade, is dít wat gelowiges moet doen, en is dít die soort lewe wat hulle moet lei.” Die oproep tot ’n godvrugtige lewenstyl in Romeine 12 spruit uit alles wat God in Romeine 1-11 gedoen het. Dit spruit nie uit ’n dreigement om jou redding te verbeur nie.

Ons sien dieselfde in 2 Korinthiërs 5:15: Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
Die oproep hier is om nie uit selfsug te lewe nie, maar vir God, op grond van dít wat God gedoen het. Hierdie oproep is gegrond op God se genade, nie op die gevaar om jou redding te verloor nie.

Efésiërs 4:1 sê: EK vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.

In Efésiërs 1-3 lewer Paulus ’n teologiese verhandeling oor die reddingswerk wat God om die gelowige se onthalwe gedoen het; hier, in hoofstuk 4, begin hy die praktiese implikasies daarvan behandel. Hy skryf as’t ware: “Daarom, op grond van wat God in hoofstukke 1-3 gedoen het, vertel ek in hoofstuk 4-6 vir julle hoe om op grond daarvan te leef.” Hierdie oproep is weer eens gegrond op dít wat God gedoen het, nie op die vrees of dreigement dat ons ons redding sal verbeur nie.

Die resultate van sonde in die gelowige se lewe
Die sesde beginsel van ewige sekerheid is om uit te wys wat sonde in die gelowige se lewe doen: sonde onderbreek ’n mens se gemeenskap met God (1 Joh 1:6-7, 9). Sodra ’n mens glo, tree ’n mens in ’n “gesinsverhouding” met God. Wanneer iemand fisies gebore word, word hy deel van ’n gesin en bly hy altyd deel van daardie gesin. Vyandiggesindheid tussen gesinslede kan soms lei tot spanning in verhoudings en onderlinge gemeenskap, en dit kan selfs verwydering bring. Dieselfde geld in God se gesin. ’n Mens kan dalk omgang met die ander gesinslede staak, maar ’n mens sal nietemin altyd deel van die gesin bly. Sonde veroorsaak dat ’n mens gemeenskap verbeur, nie redding nie.

Hardnekkige sonde toon ’n gebrek aan bekering
Die sewende beginsel van ewige sekerheid wat ’n mens in gedagte moet hou, is dat hardnekkige sonde ’n gebrek aan bekering toon. Ons sien dit in 1 Johannes 3:6-10, waar die teenswoordige tyd gebruik word. Hardnekkige sonde wys nie dat ’n mens jou redding verbeur het nie. Dit wys eerder dat iemand nooit gered was in die eerste plek nie. Mense praat dikwels van individue wat tydens ’n byeenkoms vorentoe gegaan het en hul “geloof in Jesus” bely het, maar wie se lewe dit in geen stadium daarna weerspieël het nie. Om vorentoe te gaan tydens ’n byeenkoms bewys egter nie dat iemand oor ware, saligmakende geloof beskik het nie. Om te sê dat ’n mens glo beteken ook nie dat ’n mens ware, saligmakende geloof het nie. Die vraag is: “Was hy ooit waarlik gered in die eerste plek? Het hy hom ooit bekeer in die ware sin van die woord?” Hardnekkige sonde wys moontlik ’n gebrek aan bekering.

Volmaaktheid word nie in hierdie lewe bereik nie
Die agtste beginsel van ewige sekerheid is dat volmaaktheid nie in hierdie lewe bereik word nie. Gelowiges sal nog die res van hul lewe sonde doen. Niemand bereik volmaaktheid in hierdie lewe nie. As ’n mens volmaaktheid moet bereik om jou redding te behou, is elke gelowige kniediep in die moeilikheid. As enigiemand ooit ’n kans gehad het om ’n perfekte lewe te lei, was dit die apostel Paulus. Tog skryf hy: “Nie dat ek al volmaak is nie” (Fil 3:12-14). Paulus skryf in 1 Timótheüs 1:15, toe hy al oud was: Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Hy het nie die verlede tyd, “ek was”, gebruik nie, maar die teenswoordige tyd, “ek is”.

Die verskil tussen posisie en praktyk
Die negende beginsel van ewige sekerheid is dat daar ’n verskil is tussen posisie en praktyk. Iets mag dalk geldig wees vanuit ’n posisie-oogpunt, hoewel die praktyk dit nie altyd mag wys nie. Die beste voorbeeld hiervan is waarskynlik die gemeente in Korinthe. Paulus het vanuit ’n posisie-oogpunt na die gemeente in Korinthe verwys as die geheiligdes (1 Kor 1:2). Te oordeel aan hul optrede, was hulle egter een van die ergste gemeentes in die Nuwe Testament. Daar is ’n verskil tussen posisie en praktyk; swak praktyk beteken nie noodwendig dat die posisie verbeur is nie.

Die verhouding tussen werke en redding
Die tiende beginsel wat ’n mens in gedagte moet hou, is dat jy eintlik sê dat redding deur werke geskied as jy beweer dat werke nodig is om ’n mens se redding in stand te hou. Paulus sê in Romeine 4:4-6: Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke.

Galásiërs 2:21: Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

En 2 Timótheüs 1:9: … wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is.

Indien werke dus nodig is om redding in stand te hou, beteken dit uiteindelik dat redding deur werke geskied. Die Bybel sê egter keer op keer dat redding deur genade geskied, deur geloof, en nie deur werke nie.

III. DIE BEWYSE VAN EWIGE SEKERHEID
Die derde hoofkategorie van ewige sekerheid is: “Wat is die bewyse van ewige sekerheid?” Aangesien daar so baie openbaring oor ewige sekerheid is, sal ons hierdie bewyse in sewentien kategorieë indeel.

God die Vader
Die eerste terrein van bewyse gaan oor ewige sekerheid vir redes wat met God die Vader verband hou. Ewige sekerheid rus op vier pilare in soverre dit God die Vader betref.

God se soewereine plan
Romeine 8:28-30 stip een deel van God se soewereine plan uit waar Paulus sê dat dié wat geregverdig is, ook verheerlik sal word. Hy sê nie dat slegs sommige wat waarlik gered is, tot die einde gaan volhard en dit dan “maak” nie; hy sê ook nie dat slegs sommige van dié wat geregverdig is op die ou end verheerlik sal word nie. Wat hy sê, is dat dit gewaarborg is dat God die Vader dié wat geregverdig is ook sal verheerlik.

Nog ’n vers wat wys dat ewige sekerheid van God die Vader se soewereine plan afhang, is 1 Korinthiërs 1:7-8: Jesus Christus, wat julle ook sal bevestig tot die einde toe. Dit is ’n belofte aan alle gelowiges: Almal sal op die ou end bevestig word.

Efésiërs 1:4, 11-12 sê voorts dat gelowiges uitverkies is om tot lof van God se heerlikheid te lewe. As God geweet het dat iemand sy redding gaan verbeur, sou Hy hom in die eerste plek nie gekies het nie. Die blote feit dat God iemand kies, bewys en waarborg ewige sekerheid.

Efésiërs 2:7 borduur verder voort op die soewereine wil van God: … sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Diegene wat God se reddende genade in hierdie lewe ontvang het, sal selfs groter blyke van God se genade ontvang in die eeue wat kom, in die volgende lewe. Hierdie belofte is ’n waarborg van ons ewige saligheid.
Filippense 2:12-13 sê voorts dat God in gelowiges werk om sy wil te volbring. Dit is nie net die verkryging van redding wat in God se hande is nie; die behoud van ons redding is ook sy werk. Die rede waarom die gelowige nie sy verlossing kan verbeur nie, is omdat dit nie van die gelowige afhang nie; dit hang af van God die Vader en sy soewereine plan.

Nog ’n vers wat gemoeid is met God se soewereine plan, is Hebreërs 2:10, wat praat van God se plan om baie kinders na die heerlikheid [te] bring.

Die Vader se vermoë om te beskerm
Die tweede rede wat van God die Vader afhang, rus op die Vader se vermoë om te beskerm. Die feit dat Hy die vermoë het om te beskerm, beteken dat Hy sál beskerm. Johannes 10:25-29 wys daarop dat God hulle die ewige lewe [sal gee], en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie. Diegene wat gered is, het die ewige lewe. En die woorde “tot in ewigheid” beteken juis dit: tot in ewigheid. As iemand sy redding kan verbeur, het hy nie die ewige lewe gehad nie; hy het net tydelike lewe gehad. Johannes beklemtoon hierdie feit selfs nog meer met die volgende frase. Hy maak nie net die bevestigende stelling dat God aan hulle die ewige lewe gee nie, maar hy versterk dit met ’n ontkennende stelling: hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.

Romeine 4:21 sê: … en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. God sal die gelowige beskerm, want Hy het beloof om dit te doen.

Romeine 8:28-30 sê dat God diegene wat Hy vantevore verordineer of voorafbestem, geroep en geregverdig het, ook verheerlik. Hierdie teksgedeelte maak dit baie duidelik dat almal wat glo, geroep en geregverdig is; hulle sal dus ook verheerlik word.

In Romeine 14:4 staan: Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. Omdat God by magte is om hom staande te hou, sal hy staande bly.

Kolossense praat oor ons lewe wat in God verborge is; dit is so “verborge” dat God se krag ons redding in stand gaan hou.

2 Timótheüs 1:12 sê dat God in staat is om dit wat aan hom toevertrou is te beskerm. Gelowiges het hulleself aan Hom gegee, en Hy is in staat om hulle te beskerm; Hy het die mag om dit te doen.

Volgens 1 Thessalonicense 5:23-24 word die krag van God daarin geopenbaar dat Hy ons bewaar, ons gees, siel en liggaam onberispelik bewaar. Hy wat ons geroep het, God die Vader, sal dit doen. Hierdie vers benadruk ook dat ewige sekerheid gewaarborg is, te danke aan God se vermoë om ons te beskerm.

Hebreërs 7:25 wys daarop dat gelowiges volkome gered is; God se krag red ons volkome. As redding verbeur kan word, was ons nie volkome gered nie, wat beteken dat God se krag beperk is.

Nog ’n voorbeeld van God se krag om ons te beskerm, is in Judas 24, wat duidelik vir ons sê dat God in staat is om die gelowige van struikeling te bewaar en hom sonder gebrek voor die troon te bring.

’n Tweede rede vir ewige sekerheid wat verband hou met God die Vader, buiten sy soewereine plan, is die Vader se vermoë om ons te beskerm.

God se oneindige liefde
’n Derde rede vir ewige sekerheid wat van God die Vader afhang, is God se oneindige liefde. Romeine 5:7-10 sê dat, as God sy Seun gestuur het om vir ons te sterf toe ons nog vyande was, Hy ons des te meer sal beskerm vandat ons met Hom versoen is. God het sy liefde bewys deur sy Seun te stuur om vir ons sonde te sterf toe ons nog vyande was. As God bereid was om redding te voorsien toe ons nog sy vyande was, hoeveel te meer sal Hy ons nie beskerm noudat ons sy vriende is nie.

Efesiërs 1:4 sê verder dat ons in liefde uitverkies is. God het ons deur sy liefde gekies om ons te beskerm.

God se belofte
Die vierde rede vir ewige sekerheid wat van God die Vader afhang, is gegrond op die belofte van God. God het ’n spesifieke belofte ten opsigte van ons ewige sekerheid gemaak, en God se beloftes kan nooit ongedaan gemaak word nie. Johannes 3:16 sê dat die gelowige nie verlore sal gaan nie. As ’n gelowige wel sy redding kan verbeur en in die Hel beland, kan hy uiteraard verlore gaan. Volgens hierdie teksvers kan iemand egter nie verlore gaan as hy Jesus as sy Redder en Messias aangeneem het nie.

Johannes 5:24 leer vir ons dat die gelowige oorgegaan [het] uit die dood in die lewe. Dié belofte sê dat ons reeds die ewige lewe het, want ons het uit geestelike dood oorgegaan in geestelike lewe, en geestelike lewe is die ewige lewe. Die Skrif benadruk altyd dat gelowiges in die hede die ewige lewe het. As dit verlore kan gaan, is dit nie ewig nie, maar bloot tydelik.

In Hebreërs 6:16-19 baseer die skrywer sy argument op God se belofte en op sy eed. Asof God se belofte nie genoeg was nie, voeg God boonop ’n eed by sy belofte. Die inhoud van die belofte en die eed is dat God die gelowiges gaan beskerm.

Bogenoemde is die redes vir ewige sekerheid wat van God die Vader afhang.

God die Seun
Die tweede terrein van bewyse gaan oor ewige sekerheid vir redes wat van God die Seun afhang. Een van die kritieke teksgedeeltes vir hierdie punt, is Romeine 8:34-39: Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Daar word ses redes verstrek waarom ons ewige sekerheid van God die Seun afhang.

Hy het ons oordeel vir altyd op Hom geneem
Die eerste rede waarom ons ewige sekerheid van God die Seun afhang, is omdat die Bybel ons leer dat die Messias gesterf het, en deur sy dood ons oordeel vir altyd op Hom geneem het. Hy het nie net vir sondes van die verlede gesterf nie, want toe Jesus gesterf het, het al ons sonde nog in die toekoms gelê. Hy het ook nie net vir party sondes gesterf nie; Hy het vir al ons sondes gesterf. Die Messias het gesterf en ons oordeel op Hom geneem (Heb 5:8-9; 1 Joh 2:2).

Gelowiges het deel aan sy opstandingslewe
’n Tweede rede waarom ons ewige sekerheid van God die Seun afhang, is omdat die Messias opgestaan het, en omdat gelowiges deel het aan sy opstandingslewe (Rom 4:25; Ef 2:6). Die feit dat ons deel het aan sy opstandingslewe, beklemtoon dat opstandingslewe nie iets is wat verbeur kan word nie.

Die Messias se werk as Voorspraak
Die derde rede waarom ewige sekerheid van God die Seun afhang, is die Messias se werk as ons Voorspraak (1 Joh 1:1-2:2). In sy hoedanigheid as ons Voorspraak, hanteer Jesus sonde in die gelowige se lewe, maar nie deur te dreig dat ons ons redding sal verbeur nie. Omdat Hy namens ons as Voorspraak optree, word sonde in die gelowige se lewe gehanteer, maar nie deur die verbeuring van redding nie.

Die Messias se werk van intersessie
Die vierde rede waarom ewige sekerheid van God die Seun afhang, handel oor sy intersessiewerk. Die Messias tree in sodat niemand verlore moet gaan nie. Hy het vir ons ingetree toe hy nog op aarde was (Joh 17:1-26), en Hy tree steeds vir ons in (Rom 8:34; Heb 7:25).

Die Messias se herdersrol
Die vyfde rede waarom ewige sekerheid van God die Seun afhang, het te doen met die Messias se herdersrol, wat pragtig in Johannes 10:27-29 uitgebeeld word. Jesus het drie sake uitgelig toe Hy oor sy rol as herder gepraat het.

In die eerste plek hét gelowiges die ewige lewe. Weer eens moet ons daarop let dat die woord ewig presies beteken wat dit sê. As daar die lewe ewig is, is dit ewig. As ’n mens dit kan verbeur, is dit nie ewig nie, maar bloot tydelik.

In die tweede plek lees ons hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie. Ongeag wat die skape doen, hulle sal nie verlore gaan nie.

In die derde plek staan daar niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Niemand het die krag of die vermoë om hulle uit God se hand te ruk nie.

Die doel van die Messias se reddingswerk
Die vyfde rede waarom ewige sekerheid van God die Seun afhang, is gegrond op die doel van die Messias se verlossingswerk. “Wat is die doel van sy reddingswerk?” Efésiërs 5:25-27 sê dat die Messias gesterf het om sy Kerk te reinig sodat dit sonder vlek of rimpel sal wees. Dít is presies wat Hy van plan is om te doen: om die Kerk te reinig sodat dit sonder vlek of rimpel sal wees. Dit sal inderdaad ’n vlek of rimpel op die Liggaam wees as enige deel daarvan sy saligheid kon verbeur

Hebreërs 5:9 leer vir ons dat God die Messias ’n bewerker van ewige saligheid gemaak het. Gelowiges beskik reeds oor hierdie saligheid, en as dit ewig is, kan dit nie skielik tydelik word nie.

1 Petrus 3:18 leer ons dat Jesus eenmalig vir sonde gely het om ons tot God te bring. As ’n mens sy redding kon verbeur en weer gered word, sou die Messias meer as een keer moes gely het. Maar Hy het net een keer vir ons sonde gely om ons na God toe te bring, wat Hy dan ook permanent gedoen het.

God die Heilige Gees
Die derde terrein van bewyse oor ewige sekerheid is redes wat van God die Heilige Gees afhang. Daar is vyf redes.

Die Heilige Gees se werk van wedergeboorte
Die eerste rede waarom ewige sekerheid van die Heilige Gees afhang, handel oor die werk van wedergeboorte wat hy doen. 2 Korinthiërs 5:17 sê dat alles nuut geword het; Galásiërs 6:15 sê dat die gelowige ’n nuwe skepsel is; Efésiërs 2:10 leer vir ons dat gelowiges geskape is in Christus. Die werk van wedergeboorte maak ’n mens ’n nuwe skepsel, ’n nuwe wese.

Die werk van wedergeboorte is nie iets wat ongedaan gemaak kan word nie. Die mens betree die natuurlike sfeer deur fisiese geboorte. Wanneer hy eers in die natuurlike sfeer gebore is, kan daardie geboorte nie ongedaan gemaak word nie. Hy kan nie weer ’n fetus word en terugkruip in sy ma se baarmoeder nie. Sodra hy uit die baarmoeder is, is hy permanent uit, want die werk van natuurlike geboorte is iets wat nie ongedaan gemaak word nie. Net so kan die werk van wedergeboorte, om geestelike weer gebore te word, nie ongedaan gemaak word nie.

Die Heilige Gees se bediening van inwoning
Die tweede rede waarom ewige sekerheid van die Heilige Gees afhang, het te doen met sy bediening van inwoning. Wanneer die Bybel praat oor die Heilige Gees wat in die gelowige bly, benadruk dit dat die Heilige Gees permanent, vir altyd en tot in ewigheid in hom bly (Joh 14:16-17; 1 Kor 6:19; Ef 2:22; 1 Joh 2:27). Die Heilige Gees woon tot in ewigheid in die gelowige. As Hy nie tot in ewigheid daar gewoon het nie, was dit net tydelik, maar nou woon Hy tot in ewigheid daar.

Die Heilige Gees se bediening van doping deur die Gees
Die derde rede waarom ewige sekerheid van die Heilige Gees afhang, is die Gees se bediening van doping deur die Gees. Die gelowige kry deur doping deur die Gees deel aan die Messias (1 Kor 12:13) en word deel van sy Liggaam. Daar is geen melding dat dit ooit moontlik is om weg te val uit die Liggaam nie.

Die Heilige Gees se bediening van verseëling
Die vierde rede waarom ewige sekerheid van die Heilige Gees afhang, is sy bediening van verseëling. Die Heilige Gees verseël die gelowige, en die doel daarvan is om die gelowige in Christus te verseël sodat hy nooit kan los raak nie. Die klem lê duidelik op die feit dat die gelowige verseël is, hy is verseël tot die dag van verlossing, nie net tydelik of totdat hy ophou glo nie. As ’n mens verseël is, is die finale redding gewaarborg. Die bediening van verseëling is bes moontlik die Gees se belangrikste bediening, want dit benadruk ewige sekerheid (2 Kor 1:21-22; Ef 1:13-14; 4:30).

Die krag van die Heilige Gees
Die krag van die Heilige Gees is die vyfde rede waarom ewige sekerheid van die Heilige Gees afhang. Filippense 1:6 wys daarop dat die Heilige Gees die werk wat Hy in ons begin het, sal voleindig. Hy het die werk van redding in ons begin, en Hy sal dit voleindig.

Opsommend is hierdie die redes waarom ewige sekerheid van God die Heilige Gees afhang. Al drie Lede van die Drie-eenheid speel dus ’n rol in die sfeer van ewige sekerheid.

Ewige sekerheid in Romeine 8:1-39
Die vierde terrein van bewyse oor ewige sekerheid is gegrond op die lang teksgedeelte in Romeine 8:1-39. Ons sal kortliks na die hooftrekke hieruit kyk met die klem op wat dit ons leer oor ewige sekerheid:

Vers 1: DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie

beteken dat die gelowige nie meer onder enige oordeel staan nie, ongeag hoe dikwels hy moontlik self sondig.

Vers 2-8: Die gelowige is vrygemaak van die Wet, en die Wet kan hom nie meer veroordeel nie.

Vers 9-13: Die Gees van God woon in die gelowige, en hierdie Gees kan nie geestelik sterwe nie.

Vers 14-17: Die gelowige is ’n erfgenaam van God; hy sal nie sy erfenis as ’n erfgenaam verbeur nie.

Vers 28-30: God se plan is dat diegene wat geregverdig is – en dit sluit elke gelowige in – eendag ook verheerlik sal word.

Vers 31-33: Paulus benadruk die uitvoering van God se plan – en die feit dat God vir seker dié wat Hy geregverdig het, sal verheerlik – aangesien Hy nie enige beskuldiging teen sy uitverkorenes sal duld nie.

Vers 34: Die gelowige se sekerheid word ewig gewaarborg, danksy die Messias se optrede.

Vers 35-39: Paulus wys op die onvermoë van hemelse en aardse verskynsels om ’n mens tot in ewigheid te dra. Gelowiges kan hulleself nie beskerm nie, dus is God die Een wat hulle dra. Aan die ander kant, benadruk hierdie verse ook dat daar nou niks, absoluut niks is wat ons sal kan skei van die liefde van God nie. Niks buite ons, binne ons, nie eens onsself kan [ons] skei van die liefde van God nie.

Die betekenis van die woord “ewig”
Die vyfde terrein van bewyse oor ewige sekerheid is gegrond op die betekenis van die woord “ewig”. Die intrinsieke betekenis van die woord “ewig” maak dit onmoontlik dat ’n mens jou redding kan verbeur, want “ewig” beteken tog duidelik “vir altyd”. As iemand sy redding kan verbeur, is dit nie ewig nie, maar tydelik. Ons redding behels tien dinge wat ewig is:

In die eerste plek het God ’n ewige voorneme of plan vir ons lewe (Ef 3:10-11).

Tweedens het ons ewige saligheid (Heb 5:9) danksy dit wat die Messias vir ons gedoen het.

Derdens het ons ’n ewige verlossing (Heb 9:12).

Vierdens beskik gelowiges oor ’n ewige erfenis (Heb 9:15).

In die vyfde plek is hulle wat hierdie ewige verlossing, erfenis en saligheid ontvang het, bestem vir die ewige heerlikheid (2 Tim 2:10; 1 Pet 5:10).

In die sesde plek is daar ewige hoop, want ons het die waarborg van ewige heerlikheid (Tit 3:7; Heb 6:17-19).

In die sewende plek verskaf ewige hoop op sy beurt ’n ewige troos (2 Thess 2:16).

In die agtste plek het God die ewige testament of verbond met ons gesluit; aangesien Hy die getroue Verbondsgod is, sal Hy ons redding in stand hou (Heb 13:20).

In die negende plek is ons bestem vir die ewige koninkryk (2 Pet 1:11).

In die tiende plek, het ons inderdaad reeds ewige lewe; ons het dit al klaar. Dit is nie iets wat ons later gaan ontvang as ons doodgaan nie, maar ons het nou reeds die ewige lewe (Joh 3:14-16, 36; 6:47; 10:28; Tit 3:7).

Ons kan nie genoeg beklemtoon dat ewige lewe presies beteken wat dit sê nie: as dit nie ewig is nie, as iemand dit kan verloor, is dit slegs tydelike lewe.

Die Messias se voltooide werk
Die sesde terrein van bewyse vir ewige sekerheid is die voltooide werk van die Messias, in soverre ons sonde nog in die toekoms gelê het toe Jesus daarvoor gesterf het. Toe Jesus vir die sonde van die wêreld gesterf het, het hy vir al die sonde van die wêreld gesterf, nie net totdat die volgende sonde gepleeg is nie. Juis die feit dat Jesus se werk voltooi is, die feit dat Hy nie nodig het om weer te kom om te sterf nie, wys dat diegene wat die vrug van sy werk pluk, dit nooit kan verbeur nie. Diegene wat redding ontvang het, kan dit dus nie verbeur nie, want dit sal impliseer dat die Messias sy werk van voor af moet doen (Heb 10:12-18).

God beskerm die gelowiges
Die sewende terrein van bewyse vir ewige sekerheid is gegrond op 1 Petrus 1:4-5. Die klem val hier op die woord beskerm of “bewaar”. Gelowiges is deur die geloof bewaar, en word beskerm tot die finale voltrekking. God is die Een wat beskerm. Trouens, as die behoud van redding van die gelowige afgehang het, sou almal dit verloor het. Gelukkig hang ewige sekerheid van God se optrede af, en Hy sal ons beskerm.

Gelowiges is nuwe skepsels
Die agtste terrein van bewyse ten gunste van ewige sekerheid is dat die gelowige ’n nuwe skepsel of maaksel is (2 Kor 5:17). Die feit dat hy ’n nuwe skepsel is, wys dat hy nie nou skielik vir altyd kan ophou bestaan nie. Hy is ’n nuwe maaksel, ’n nuwe skepsel.

Redding geskied deur genade
Die negende terrein van bewyse vir ewige sekerheid is gegrond op Efésiërs 2:8-9: Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem [spog] nie.

Net soos niemand redding deur werke kan verkry nie, maar slegs deur die geloof, so kan niemand sy redding deur werke behou nie.

Die Messias se gehoorsaamheid
Die tiende terrein van bewyse is die Messias se gehoorsaamheid. Johannes 6:37-40 sê die gelowige is God die Vader se geskenk aan die Seun omdat die Seun die Vader se wil gedoen het. En omdat die gelowige God se geskenk aan die Seun is, gaan Hy hom altyd beskerm.

Die saad van die evangelie bly
Die elfde terrein van bewyse van ewige sekerheid kom uit 1 Johannes 3:9, wat vir ons leer dat die saad in elkeen wat uit God gebore is, bly. Die saad is die saad van die evangelie wat ewige lewe voortbring. Hierdie ewige lewe geld altyd; dit verstryk nie op enige tydstip nie.

Redding is ’n genadegawe
Die twaalfde terrein van bewyse van ewige sekerheid is die feit dat redding ’n genadegawe is (Rom 11:29). ’n Genadegawe is nie regtig ’n genadegawe as dit teruggevra kan word nie. Wanneer God aan ons ’n gawe skenk, is dit onverdiend en uit genade; dit is nie iets wat Hy gaan terugvat van iemand aan wie Hy dit geskenk het nie. Redding is inderdaad ’n genadegawe.

Redding is ’n geboorte
Die dertiende terrein van bewyse vir ewige sekerheid is dat redding ook ’n geboorte, ’n nuwe geboorte is (Joh 1:12; 3:3; Jak 1:18; 1 Pet 1:3, 23). Die feit dat redding ’n geboorte is, maak dit finaal en onveranderbaar. Net soos ’n kind se geboorte finaal en onveranderbaar is, en hy nie teruggesit kan word in die moederskoot en oor begin nie, so is gelowiges se wedergeboorte ook finaal. Hulle is wedergebore. Dit is wat redding beteken, en hierdie wedergeboorte is finaal en onveranderbaar.

Die gelowige kan nie sy saligheid self behou nie
Die veertiende terrein van bewyse oor ewige sekerheid is dat ’n gelowige net so min in staat is om self sy saligheid te behou as wat hy in staat is om dit in die eerste plek self te verdien (Gal 3:3). God wat ons saligheid bewerk, is ook die Een wat ons saligheid in stand hou.

God het die hoogste prys betaal
Die vyftiende bewys van ewige redding is dat God die hoogste prys vir gelowiges betaal het: sy Seun se bloed. Daardie offer was te groot om die gelowiges nou prys te gee.

Sonde gestraf sonder dat redding verbeur word
Die sestiende terrein van bewyse vir ewige sekerheid is die waarheid wat ons vind in die Skrif dat ernstige sondes gestraf is, maar nooit ten koste van iemand se redding nie. 1 Korinthiërs 5:1-5 beskryf byvoorbeeld ’n geval waar ’n ware gelowige saam met sy stiefma bly en seksuele omgang met haar het. Paulus het hierdie gedrag veroordeel en die kerk aangesê om kerklike tug toe te pas om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees. Let wel dat hy sê die vlees eerder as die gees; die teks sê verder dat die gees gered [sal] word. Hierdie ernstige sonde is gestraf deur skorsing uit die gemeente, maar nie deur die verbeuring van redding nie.

’n Tweede voorbeeld is 1 Korinthiërs 11:29-32, wat handel oor lede van die gemeente in Korinthe wat hulle wangedra het tydens die Nagmaal. God het hulle op verskeie maniere gestraf: swakheid, siekte en selfs die dood. Hy het hulle egter op geen tydstip hoegenaamd gedreig dat hulle hul redding sou verbeur nie. Die voorbeelde in die Bybel wys dus vir ons dat ernstige sonde inderdaad gestraf word, maar nooit deur die verbeuring van ’n mens se redding nie.

Die doel van die waarskuwings en aanmanings
Die sewentiende bewys van ewige sekerheid het te doen met die doel van waarskuwings en vermanings. As dit dan nie bedoel is om mense bang te maak dat hulle hul redding sal verbeur nie, waarvoor is die waarskuwings en vermanings dan bedoel? Hierdie bybelse waarskuwings en vermanings is nooit gegrond op die verbeuring van ’n mens se redding nie. Hulle is wel daar om te wys dat God reeds aan die werk is en dat Hy wil hê die mens moet saam met hom werk en volhard. Die Here beskerm die mens, maar die mens moet ’n lewe van geregtigheid lei. Die oproep tot ’n lewe van geregtigheid is gekoppel aan die belofte van voldoende genade. As ’n mens op God vertrou, sal God hom deurhelp.

Die doel van hierdie waarskuwings en vermanings was om meer geloof en gebed in die hand te werk. Hierdie waarskuwings en vermanings getuig van plig, nie vermoë nie. Hulle dien wel as grense, en is opgeteken om te wys wat gedoen kan word en wat nie, en wat gedoen behoort te word en wat nie. Die waarskuwings en vermanings is egter nie opgeteken om mense te waarsku dat hulle hul redding sal verbeur as hulle ongehoorsaam is daaraan nie.

IV. PROBLEMATIESE TEKSGEDEELTES OOR EWIGE SEKERHEID
Die vierde hoofkategorie is ’n vinnige studie oor problematiese teksgedeeltes. Verskillende groepe gebruik sekere verse om te probeer bewys dat ’n mens wel jou redding kan verbeur. Hulle gebruik nie almal dieselfde teksverse nie. Ons sal hierdie teksgedeeltes dus in sestien afdelings indeel om verskeie bronne en groepe se argumente te bespreek.

Aangaande verkeerde toepassing van bedelingsleer
Die eerste reeks teksgedeeltes wat mense probeer gebruik om te bewys dat dit moontlik is om ’n mens se redding te verbeur, is skrifgedeeltes wat op die verkeerde bedeling toegepas word. Hierdie teksgedeeltes handel nie oor die gelowige se redding in die Bedeling van Genade nie, maar met Israel se redding as ’n volk op ’n ander tydstip.

Teksgedeeltes in Eségiël
Een van hierdie teksgedeeltes is Eségiël 8:20-26: Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees. Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe. Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen — sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe. Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Hoor tog, o huis van Israel! Is mý weg nie reg nie? Is júlle weë nie onreg nie? As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy.

Esegiël 33:7-9 pas skynbaar hierby: En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: O Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. Party groepe gebruik hierdie verse om te sê dat ’n gelowige sy redding kan verbeur. Die geestelike redding van individue is egter nie in hierdie teksgedeelte ter sprake nie. Nee, dit het te doen met Israel se lot as volk onder die Wet van Moses, individuele aanspreeklikheid, fisiese lewe en fisiese dood. As iemand onder die Wet van Moses gehoorsaam was aan die Wet, sou hy fisies lewe; as ’n mens die Wet verag het, sou hy fisies sterwe. Indien geestelike redding in hierdie teksgedeelte ter sprake was, sou dit beteken dat geestelike redding deur verdienste verkry word. Die teksgedeelte sê immers: “As jy al hierdie dinge doen, as jy al hierdie gebooie nakom, sal jy lewe.” As die woord “lewe” verwys na die geestelike lewe, beteken dit dat geestelike redding verkry kan word deur die Wet na te kom!

Die Bybel leer ons egter presies die teenoorgestelde: geen mens is ooit deur wetsonderhouding gered nie. Redding geskied altyd uit genade, deur geloof, sonder enige verskuilde voorwaardes. Redding vind nooit plaas op grond van verdienste nie. Die genieting van die alledaagse lewe en die genieting van ’n lang lewe onder die Wet van Moses het egter afgehang van wetsonderhouding. Indien ’n mens gehoorsaam was aan die Wet en dit jou tot geregtigheid gereken is, maar later in jou lewe ongehoorsaam daaraan was, was jou ongehoorsaamheid strafbaar ingevolge die Wet, partykeer selfs met die dood.

Kyk byvoorbeeld na Moses se geval. Hy het die grootste deel van sy lewe aan God se standaarde vir geregtigheid voldoen, en het nederig voor die Here gelewe. Eendag was hy egter aan God ongehoorsaam, en as sy straf het God gesê dat Hy ook in die wildernis sou omkom. Hy sou wel die Beloofde Land kon sien, maar hy sou dit nie kon betree nie. Het Moses dus sy redding verbeur? Nee, hy het nie. Maar hy het die voorreg verbeur om in die Beloofde Land te sterwe, en moes as straf buite daardie grense omkom. Hierdie verse verwys dus nie na individuele redding nie, maar na Israel onder die Wet. Hulle het te doen met aanspreeklikheid. Hulle het te doen met fisiese lewe en fisiese dood, soos dit verband hou met die nakoming van die Wet van Moses.

Teksgedeeltes in Matthéüs
Die volgende teksgedeelte wat op die verkeerde bedeling van toepassing gemaak word, is Matthéüs 18:21-35, waarin Jesus praat oor die kwessie van vergifnis jeens jou broer, en die verhaal van die onvergewensgesinde dienskneg vertel. Jesus maak dan die punt, dat ’n gelowige nie moet verwag om vergifnis te ontvang as hy nie self bereid is om te vergewe nie (Matt 18:35). As dít beteken dat ’n mens jou redding kan verbeur deur te versuim om jou broer te vergewe, beteken dit weer eens dat redding deur werke verkry kan word.

Die ware kwessie in hierdie konteks is nie vergifnis met betrekking tot redding nie, maar familievergifnis. Reddingsvergifnis is die manier hoe ’n mens deel word van God se gesin; die enigste manier om reddingsvergifnis te ontvang is uit genade, deur geloof, sonder werke. Maar sodra ’n mens deel is van God se gesin, kan sonde in die gelowige se lewe, soos om ’n wrok teen sy broer te koester, onmin in die gesinsverhoudings van God se huishouding skep. Dit kan ook ’n mens se gemeenskap met God die Vader onderbreek. ’n Gelowige wat gesondig het, ontvang familievergifnis deur middel van sondebelydenis (1 Joh 1:9). Die punt van hierdie verhaal in Matthéüs is dat sondebelydenis nie aan die gelowige familievergifnis gaan besorg solank hy nie bereid is om diegene te vergewe wat verkeerd teenoor hóm opgetree het of vir hóm aanstoot gegee het nie. Die gedeelte in Matthéüs 18:21-35 handel dus oor familievergifnis en nie soseer oor reddingsvergifnis nie. Hierdie leesstuk is met ander woorde ook verkeerd vertolk.

Nóg ’n teksgedeelte wat gereeld verkeerd toegepas word, is Matthéüs 24:13: Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

“Slegs dié wat tot die einde toe volhard, sal gered word.” Hierdie vers word gebruik om te wys dat ’n mens tot die einde toe in geregtigheid moet volhard om seker te wees dat jy gered is. Jesus praat egter nie in hierdie konteks oor individuele gelowiges se redding nie. Hy was besig om oor die volk Israel in die Groot Verdrukking te praat. Al die Jode wat teen die einde van die Verdrukking nog lewe, se gees sal gered word. Nie al die Jode wat tydens die aanbreek van die Verdrukking lewe, sal egter die Verdrukking oorleef nie. Slegs dié Jode wat die Verdrukking fisies oorlewe, diegene wat tot die einde toe volhard, sal teen die einde van die Verdrukking gered word. “Volhard” verwys hier na fisiese volharding: diegene wat fisies volhard en lewe wanneer die einde van die Verdrukking aanbreek, sal beslis gered word. Daar is baie skrifgedeeltes wat sê dat alle Jode wat teen die einde van die Verdrukking lewe, gered gaan word. Hierdie teksgedeelte is ook telkens op die verkeerde bedeling toegepas.

Samevatting: Nie een van hierdie teksgedeeltes wat mense aanhaal en op die verkeerde bedeling toepas, leer vir ons wat sulke mense wil hê dit moet nie: dat ’n individuele gelowige wat uit genade, deur geloof, gered is, sy redding kan verbeur. Die skrywer skryf in elk van hierdie teksgedeeltes oor iets anders as individuele redding. Hy praat óf oor Israel as ’n volk, óf hy verwys na fisiese lewe en fisiese dood onder die Wet, óf hy behandel familievergfinis eerder as reddingsvergifnis.

Aangaande vals leraars
’n Tweede kategorie teksgedeeltes wat mense gebruik om te probeer wys dat ’n mens jou redding kan verloor, is dié wat inderwaarheid verwys na valse leraars, wat nooit gered was in die eerste plek nie; dit verwys nie na gelowiges nie.

Ons vind een van hierdie gedeeltes in Matthéüs 7:15: Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Party mense gebruik hierdie teksgedeelte om te wys dat ’n mens sy redding kan verbeur as daardie persoon homself in skaapsklere vermom. Jesus praat egter nie van mense wat eers gelowiges was, en toe vals leraars geraak het nie; nee, Hy praat van mense wat nooit gered was in die eerste plek nie. Hulle was nog nooit “skape” nie, maar “wolwe” wat voorgee dat hulle skape is. Dit is mense wat nog nooit gered was nie, en wat dus nie enige redding het wat hulle kan verbeur nie.

’n Tweede teksgedeelte is Handelinge 20:29-30: Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.

Hierdie boodskap handel eweneens oor valse leraars: óf valse leraars wat van buite af sal inkom, óf valse leraars wat uit eie geledere sal opstaan. Hierdie mense was egter nie een gered in die eerste plek nie. Albei groepe word onderskei van die dissipels, wat gelowiges is. Hierdie teksgedeelte is die tweede een wat bloot van valse leraars praat; hierdie mense sal aanspreeklik gehou word vir hul dade. Hierdie mense was nooit gered in die eerste plek nie; derhalwe kan ’n mens nie uit hierdie gedeelte aflei dat mense hul redding kan verbeur nie.

’n Derde teksgedeelte in dieselfde kategorie is Romeine 16:17-18: En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

Hierdie twee verse praat ook van valse leraars wat die kerk ondergrawe, maar dit sê nie dat hierdie valse leraars mense is wat gered was en toe hul redding verbeur het nie. Hierdie gedeelte handel ook oor valse leraars, nie redding wat verbeur word nie.

’n Vierde teksgedeelte is 2 Korinthiërs 11:13-15: Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke. Hier het ons weer eens ’n teksgedeelte wat te doen het met valse leraars, en nie met mense wat hul redding verbeur het nie. Vers 13 sê hierdie mense is valse apostels, en in vers 15 word hulle dienaars van Satan genoem, nie dienaars van die Messias nie. Daar word boonop nêrens gesê dat hulle apostels van Christus was nie, bloot dat hulle probeer voorgee dat hulle apostels van Christus is. Vers 15 sê nie dat hulle “voorheen dienaars van geregtigheid was” nie, maar dat hulle hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid. Hulle tree dus op soos ware gelowiges, en hulle probeer ware gelowiges naboots, maar hulle ís nie ware gelowiges nie. Hulle was van die begin af valse leraars, valse apostels. Hierdie mense was van meet af dienaars en apostels van Satan, nie van die Here Jesus die Messias nie. Hierdie teksgedeelte handel met ander woorde ook oor valse leraars wat nooit gered was in die eerste plek nie; dit praat nie van mense wat gered was en toe hul redding verbeur het nie.

’n Vyfde teksgedeelte in hierdie kategorie is 1 Timótheüs 4:1-2: MAAR die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete. Hierdie teksgedeelte handel ook oor die kwessie van valse leraars wat nie gered was in die eerste plek nie. Ons het hier te doen met geloofsversaking, of apostasie. Die basiese betekenis van geloofsversaking is “om die geloof te versaak wat ’n mens eens bely het, maar nooit werklik aangehang het nie”. Dit het te doen met mense wat voorgee dat hulle glo en daarop aanspraak maak dat hulle gelowiges is, maar dan – bietjie vir bietjie – geswig het voor misleidende, demoniese geeste en valse lering. Hulle het uiteindelik die geloof heeltemal versaak. Hierdie is eweneens ’n voorbeeld van mense wat nooit werklik gered was nie; hulle is onder die gelowiges getel, hoewel hulle nooit persoonlik gered was nie.

’n Sesde teksgedeelte wat dikwels gebruik word, is 2 Petrus 2:1-22, veral vers 19-22: Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol. Hierdie hele gedeelte bevat Petrus se bespreking oor mense wat valse leraars was, en wat nooit gered was in die eerste plek nie.

Vers 1 sê byvoorbeeld: MAAR daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring. Vers 1 laat blyk duidelik na wie Petrus verwys: nie mense wat gered was en hul redding verbeur het nie, maar valse leraars wat die Liggaam probeer binnedring het met verderflike ketterye, en selfs die Here wat hulle gekoop het, verloën het. Petrus noem hulle ook slawe van die verdorwenheid (2 Petrus 2:19); hulle is nie die Messias se diensknegte wat hul redding verbeur het nie. Hulle was mense wat die weg van die geregtigheid geken het (2 Petrus 2:21); hulle het die waarheid goed geken en het al die evangelie gehoor. Hulle het egter die evangelie verwerp en ’n veldtog van stapel gestuur om waarhede oor Jesus die Messias te ontken. Hierdie teksgedeelte praat ook van valse leraars; dit praat nie van mense wat hul redding verbeur het nie.

’n Sewende teksgedeelte in hierdie kategorie is 1 Johannes 2:19: Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. Hierdie vers praat op sy beurt van mense wat deel was van die plaaslike gemeente wat hul lidmaatskap betref, maar wat nie self waarlik gered was nie. Soos wat Johannes benadruk, as hulle werklik gered was, sou hulle by ons gebly het. Johannes sê nie: “Hulle was altyd werklik deel van ons, maar toe verbeur hulle hul redding en verlaat ons” nie. Hy sê: “Hulle het ons verlaat, omdat hulle in die eerste plek nie van ons [was] nie. As hulle regtig gelowiges was, sou hulle voortgegaan het. Maar ook hierdie vers verwys na valse leraars, vals broers, mense wat nooit werklik gered was nie, hoewel hulle as gelowiges gereken was.

Daar is nog een teksgedeelte in hierdie kategorie: Judas 3-19. Hierdie teksgedeelte se inhoud is soortgelyk aan 2 Petrus 2 s’n. Dit verwys na dieselfde groep mense: mense wat die waarheid geken het, wat die evangelie gehoor het, maar wat dit verwerp het en toe doelbewus begin het om leerstellings te versprei wat strydig was met die waarheid oor die Messias. Judas skryf in hierdie gedeelte oor dieselfde soort groep as waaroor Petrus geskryf het. Hierdie mense was ook nie gered in die eerste plek nie.

Hierdie teksgedeeltes handel almal oor valse leraars; dit praat nie van mense wat waarlik gered was en toe hulle redding verbeur het nie. Hierdie mense was nooit gered in die eerste plek nie; hulle het die waarheid geken, maar het dit verwerp en doelbewus begin om leringe te versprei wat in stryd daarmee was.

Aangaande die verskil tussen hervorming en ware geloofsoortuiging
Die derde soort teksgedeeltes wat mense probeer gebruik om te wys dat ’n mens jou redding kan verbeur, is skrifgedeeltes wat handel oor blote hervorming of uiterlike belydenis, maar nie oor ware redding nie.

Uiterlike hervorming of belydenis
Een van hierdie teksgedeeltes is Matthéüs 7:22-23: Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Kyk mooi wat Jesus sê vir dié mense wat selfs wonderwerke in sy Naam gedoen het. Jesus sê nie: “Ek het jou vroeër geken, maar jy het jou redding verbeur, so ek ken jou nie meer nie.” Nee, Hy sê: Ek het julle nooit geken nie. Wonderwerke is moontlik in die naam van ’n valse Jesus, want Satan kan baie van Jesus se wonderwerke naboots. Dit is nie noodwendig waar dat wonderwerke in Jesus se Naam gedoen word net omdat die mense wat daarby betrokke is daarop aanspraak maak nie. Hulle bely dit dalk uiterlik, maar Jesus sê: Ek het julle nooit geken nie, en dit beteken duidelik dat hulle in die eerste plek nooit gered was nie.

Nog ’n teksgedeelte wat mense graag gebruik, is Matthéüs 13:1-8, die gelykenis van die saaier, met die vier verskillende soorte grond en die vier verskillende soort reaksies wat daarmee gepaard gaan. ’n Mens moet in aanmerking neem dat hierdie ’n gelykenis is, en die doel van ’n gelykenis is om ’n punt te illustreer. ’n Mens kan nie leerstellings uit die gelykenisse self aflei nie. Jesus het in elk geval nooit gesê dat party wat geglo het, hul redding verbeur het nie. Hy het daarop gewys dat daar sommige is wat glo, maar wat nooit in die Woord van God geanker raak nie; hulle sal dus nooit volwasse word nie. Ander mense glo, maar die sorge van die lewe keer dat hulle geestelik groei, hulle bly dus baba-gelowiges en verbeur sekere belonings. Maar daar is geen melding daarvan in die gelykenis dat ’n mens jou redding verbeur nie.

Nog ’n teksgedeelte wat dikwels ingespan word, is Lukas 11:24-26: Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

“Praat hierdie teksgedeelte van iemand wat tot geloof gekom het en toe sy redding verbeur het?” Mense wat hierdie teksgedeelte gebruik om so te sê, voer aan dat die persoon gered was toe die demoon hom verlaat het. Die demoon se terugkeer is volgens hulle bewys daarvan dat hy sy redding verbeur het. Die blote uitdrywing van demone is egter nie dieselfde as redding nie. Dit is moontlik om ’n demoon uit iemand te dryf, sonder dat daardie persoon outomaties gered word. Hy word eers gered as hy glo. Dit is heeltemal moontlik dat ’n demoon iemand kan verlaat sonder dat daardie persoon self reddende geloof uitoefen. Die uitdrywing van ’n demoon is dus nie gelykstaande aan redding nie. In hierdie geval is die demoon boonop nie uitgedryf nie; die demoon het die man uit sy eie verlaat. Die demoon het self besluit om vir ’n beter woonplek te gaan soek. Toe hy nie een kon kry nie, het hy teruggekom na die man in wie hy aanvanklik gewoon het. Die persoon was egter nooit gered in die eerste plek nie, want die blote uitdrywing van ’n demoon is nie dieselfde as redding nie.

Nog ’n teksgedeelte wat in hierdie kategorie pas, is 1 Korinthiërs 15:1-4, waar Paulus die kwessie van die evangelie en redding bespreek: BROEDERS, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte. Hierdie teksgedeelte sê nie dat die Korinthiërs verlore was nie. Paulus sê bloot vir hulle dat hy wil hê dat hulle die inhoud van reddende geloof moet ken. Hy sê dat hulle deur hierdie evangelie gered word as hulle dit waarlik glo. As hulle enigiets anders glo, is dit pure verniet en sal hulle nie gered word nie. Paulus praat deur die hele brief 1 Korinthiërs met sy lesers as waarlik geredde mense; in hierdie teksgedeelte verduidelik hy aan hulle die inhoud van die evangelie, sodat hulle presies kan weet wat hulle gered het. Dit is nie hul dade, hul gawes of hul optrede nie, maar bloot hul geloof in die eenvoudige inhoud van die evangelie. Paulus wou eenvoudig vir hulle die inhoud van die reddende evangelie opklaar. Mense gebruik hierdie teksgedeeltes om te sê dat redding verbeur kan word, maar eintlik verwys hierdie teksgedeeltes na blote hervorming of blote lippediens.

Ware geloofsoortuiging
’n Mens moet weet dat die Skrif ’n duidelike onderskeid tref tussen blote belydenis en ware geloofsoortuiging. Een voorbeeld hiervan is 2 Timótheüs 2:19: Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.

Paulus wys in hierdie teksgedeelte daarop dat daar ’n verskil is tussen blote belydenis en ware geloofsoortuiging. Die konteks handel oor twee mans wat vals lering versprei het (2 Tim 2:17). Hulle het ’n “belydenis van geloof” afgelê, maar dit was blote lippediens; hulle het nooit ware geloofsoortuiging geopenbaar soos wat hulle veronderstel was om te doen nie. As hulle oor ware geloofsoortuiging beskik het, sou hulle afstand gedoen het van die ongeregtigheid.

Hierdie gedeelte is soortgelyk aan een wat vroeër aangehaal is, 1 Johannes 2:19, waar daar ook ‘n onderskeid getref word tussen ware geloofsoortuiging en blote belydenis: Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.

Hierdie mense het definitief lippediens aan die geloof bewys, en het vir ’n ruk lank soos gelowiges voorgekom; hul optrede het egter gewys dat hulle die geloof bely het, maar nie werklik besit het nie.

Teksgedeeltes oor die vrug van bekering
’n Vierde soort teksgedeelte wat mense gebruik om te probeer wys dat dit moontlik is vir iemand om sy redding te verbeur, is dié wat inderwaarheid oor die vrug van redding handel, met ander woorde dat ware redding gekenmerk of bewys word deur vrug wat by die bekering pas. Neem byvoorbeeld Johannes 8:31: En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. Hierdie vers het nie met redding as sulks te make nie, maar met dissipelskap. Geloof red ’n mens, maar jy het gehoorsaamheid nodig as jy ’n dissipel wil word. Hierdie Jode het geloof gehad, so hulle was gered. As hulle egter ware volbloeddissipels wou word, moes hulle God se gebooie gehoorsaam.

Johannes 15:6 is ook so ’n teksgedeelte: As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
Jesus praat nie in hierdie konteks oor die verbeuring van redding nie, maar oor die dra van vrugte. Diegene wat vrug dra, sal beloon word, maar dié wat nie vrug dra nie, sal nie beloon word nie. Die teksgedeelte handel nie oor individuele redding nie, maar oor die dra van vrug en die belonings wat dit meebring.

Nog ’n teksgedeelte in dieselfde kategorie is ’n bekende een in Jakobus 2:17-18, 24 en 26. Vers 17-18 sê: Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.

In vers 24 staan: Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

En in vers 26 staan daar: Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood. Die kwessie hier is nie redding deur werke nie; die werke waarvan Jakobus praat, is die vrug wat by die bekering pas. Ware redding lei tot werke, want ’n geloof sonder werke is nie ’n reddende geloof in die eerste plek nie. Hoewel redding sonder werke plaasvind, sal dit tot werke lei. Hierdie werke is ’n bewys van redding, nie van die feit dat dit verbeur is nie.

Nog ’n gedeelte is 2 Petrus 1:10-11: Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Petrus moedig sy lesers in hierdie teksgedeelte aan om vrug te dra wat by die uitverkiesing pas. Dit is nie genoeg om te sê dat ’n mens gered is nie; ’n ware gelowige se dade en sy lewe sal dit wys.

Laastens is daar 1 Johannes 3:10: Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Hierdie teksgedeelte tref ’n onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges, nie tussen gelowiges wat hul redding behou het en gelowiges wat dit verbeur het nie.

Hierdie teksgedeeltes wys dat ware redding uitdrukking vind in vrug wat by die bekering pas; dit handel nie oor die verbeuring van redding nie.

Aangaande die “As”-sinsnedes in die boek Hebreërs
Die vyfde soort teksgedeelte wat gebruik word om mense te leer dat redding verbeur kan word, is die “as”-sinsnedes in die Hebreërboek by plekke soos Hebreërs 2:3; 3:7, 14; 6:3; 10:26, 38. Die boek Hebreërs gebruik verskeie kere die woord “as”: “As jy sus en so doen, sal jy huffels en suffels verkry, of dit behou.” Mense het hierdie “asse” in die boek Hebreërs gebruik om te probeer bewys dat ’n mens jou redding kan verbeur nadat jy gered is.

Hierdie “as”-sinsnedes in Hebreërs is waarskuwings wat te doen het met die nastreef van geestelike volwassenheid. Versuim om geestelike volwassenheid te bereik en om ag te slaan op hierdie waarskuwings sal nie uitloop op geestelike dood nie, maar op fisiese dood. Hierdie gedeeltes handel oor God se tug vir gelowiges. God se tug kan partykeer selfs ’n fisiese doodsvonnis wees; partykeer moet God ’n gelowige deur fisiese dood tug of dissiplineer. Dít is waaroor hierdie teksgedeeltes in die Hebreërboek handel. Om saam te vat, die waarskuwings is gemik op die nastreef van geestelike volwassenheid, en die straf ter sprake is fisiese dood, nie geestelike dood nie.

Aangaande basiese waarskuwings aan alle mense
’n Sesde soort teksgedeelte wat mense gebruik om aan te voer dat redding verbeur kan word, is eintlik waarskuwings aan alle mense. Neem byvoorbeeld 1 Johannes 5:4-5: Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Mense gebruik hierdie teksgedeelte om te bewys dat ‘n gelowige wat nie die wêreld oorwin nie, ook nie gered sal word nie; hy sal nie ’n kind van God wees nie. Hierdie vers sê egter nie dat slegs gelowiges wat die wêreld oorwin hul geloof sal behou nie. Dit is ’n algemene stelling wat sê dat almal, sonder uitsondering, wat uit God gebore word die wêreld juis deur daardie geboorte oorwin. Kyk na die manier waarop dit bewoord is: Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld. Almal wat uit God gebore is, almal wat wedergebore is, sal die wêreld oorwin en die oorwinning behaal danksy daardie geloof. Vers 5 vra: Wie is dit wat die wêreld oorwin? Die antwoord is: hy wat glo dat Jesus die Seun van God is. Ons het die wêreld deur middel van ons reddende geloof oorwin. Johannes beskryf hier ’n basiese waarheid oor die posisie van gelowiges: almal wat uit God gebore is, sonder uitsondering, oorwin die wêreld deur daardie geboorte. Hy sê nie dat slegs gelowiges wat die wêreld oorwin, gered sal word, en dat dié wat nie daarin slaag hul redding sal verbeur nie. Die vers se betekenis kan eenvoudig nie só verdraai word nie.

Openbaring 22:19 is ’n tweede teksgedeelte in hierdie kategorie: En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Die skrywer praat nie in hierdie teksgedeelte oor mense wat gelowiges is nie; ’n gelowige sal nooit die Woord van God wil wegneem en vernietig nie. Openbaring 22:19 het niks te sê oor die moontlikheid om ’n mens se redding te verbeur nie. Dit beloof bloot straf aan diegene wat die waarhede in die boek Openbaring ontken. Daar sal straf wees, maar die skrywer sê niks oor die verbeuring van redding nie. Eintlik tref hy ’n onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges: die gelowige sal sy redding bewys deur die boek te glo; die ongelowige sal sy gebrek aan redding bewys – nie deur dit te verbeur nie – deur die waarhede in daardie boek te ontken.

Aangaande die onderskeid van die olyfboom
’n Sewende terrein waarop mense ander probeer leer dat ’n mens jou redding kan verbeur, is die teksgedeelte in Romeine 11:17-24 waar Paulus die olyfboom bespreek: takke word van die olyfboom afgebreek, en takke word op die olyfboom ingeënt. Mense wat hierdie teksgedeelte gebruik, neem aan dat die olyfboom redding verteenwoordig. Om afgebreek te word, beteken dus om jou redding te verbeur, en om daarop ingeënt te word, beteken om redding te verkry of te herwin. Paulus is egter nie besig om oor redding te praat hier nie; die olyfboom is nie ’n simbool van redding nie.

Die olyfboom in hierdie konteks is gewortel in die stamvaders Abraham, Isak en Jakob, en in die Verbond van Abraham; dit verteenwoordig die plek van seën. Die seën is beskikbaar deur die Joodse verbonde. ’n Mens kan jou in die plek van seën bevind, of ’n mens kan uit die plek van seën verwyder word.

Paulus praat nie hier oor individuele gelowiges nie; nee, hy bespreek twee nasionale elemente: Jode en nie-Jode. Die Jode was in die plek van seën, maar God het hulle daar uitgehaal weens hul ongehoorsaamheid. God het die nie-Jode, wat voorheen buite die plek van seën gestaan het, nou danksy hul gehoorsaamheid in die plek van seën geplaas. Die nie-Jode begin gevolglik party van die seëninge in die Joodse verbonde ervaar. Paulus het die nie-Jode gewaarsku dat hulle moontlik net soos Israel uit die plek van seën gehaal kan word. Die kwessie hier is egter nie ’n onderskeid tussen individuele gelowiges wat hul redding behou en individuele gelowiges wat dit verbeur nie; dit handel eerder oor twee nasionale elemente: Jode en nie-Jode. Dít is die onderskeid in dié teksgedeelte.

Aangaande verbeurde belonings
Die agtste kategorie teksgedeeltes wat mense soms gebruik, praat oor verbeurde belonings, nie verbeurde redding nie. Een so ’n teksgedeelte is 1 Korinthiërs 3:10-15, wat die Regterstoel van die Messias behandel. Hierdie einste teksgedeelte wat sê dat ’n persoon sy beloning kwyt kan raak, ontken ook dat iemand sy redding kan verbeur, want in 1 Korinthiërs 3:15 staan: as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Die vers wat sommige mense juis probeer gebruik om te wys dat ’n gelowige sy redding kan verbeur, sê eintlik presies die teenoorgestelde. Die vers sê dat die gelowige gered sal word; wat hy verbeur, is sy beloning, nie sy redding nie.

Nog ’n teksgedeelte wat in hierdie kategorie val, is 1 Korinthiërs 9:26-27: Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. Mense gebruik hierdie vers om te wys dat Paulus ons hier leer dat daar ’n wesenlike kans is dat ’n gelowige uiteindelik verwerp kan word en sy redding kan verbeur. Die konteks van hierdie teksgedeelte is ’n wedloop of kompetisie waarin die wenner ’n beloning kry. Soos met die gedeelte in 1 Korinthiërs 3:15, praat Paulus nie hier van redding wat verbeur word nie; hy praat oor die verbeuring van belonings wat ’n gelowige kan kry deur ’n volgehoue geestelike lewe te leef.

Hierdie gedeeltes praat met ander woorde oor die verbeuring van belonings, nie verlossing nie.

Aangaande verbeurde gemeenskap en goddelike tug
Die negende kategorie teksgedeeltes wat gebruik word om te sê dat gelowiges hul redding kan verbeur, handel oor die verlies aan gemeenskap of fisiese goddelike tug, nie oor die verbeuring van redding nie.

Ons vind een van hierdie teksgedeeltes in Johannes 13:8: Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Jesus het nie in hierdie konteks oor redding gepraat nie. Hy was besig om te praat oor gemeenskap met God en die noodsaaklikheid van daaglikse sondevergifnis om gemeenskap met God die Vader te herstel. Die metode van daaglikse sondevergifnis is deur die belydenis waarvan 1 Johannes 1:9 praat.

Johannes 15:2 is ’n ander teksgedeelte: Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Waar daar staan “neem Hy weg”, beteken dit nie dat redding van die loot af weggeneem word nie; die loot self word weggeneem. Onproduktiewe gelowiges kan op die ou end vroeg uit hierdie lewe uit geneem word, voor hul natuurlike lewensverwagting bereik word. Hier sien ons weer eens dat Jesus praat oor die fisiese sfeer, nie geestelike redding nie.

Nog ’n teksgedeelte wat in hierdie kategorie val, is 1 Korinthiërs 11:29-32: Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Paulus behandel in hierdie gedeelte goddelike tug en fisiese oordeel soos siekte en dood. Goddelike tug kan partykeer fisiese dood noodsaak, maar diegene wat aan hierdie tipe fisiese tug onderwerp word, saam met die wêreld veroordeel … word nie. Paulus sê onomwonde dat hulle nie hul redding verbeur nie, maar hulle verbeur wel die fisiese voordele van hul redding weens hul ongehoorsaamheid.

’n Laaste teksgedeelte in dieselfde kategorie, is 1 Johannes 5:16: As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Die dood wat hier ter sprake is, is fisiese dood, nie geestelike dood nie. Die situasie hier is dieselfde soort situasie wat in 1 Korinthiërs 5:1-5 voorgekom het, waar Paulus die kwessie van skorsing aanroer. Die skorsingsproses beteken dat ’n persoon moontlik sy fisiese lewe kan verbeur, maar hy sal nie sy redding verbeur nie. Johannes praat van fisiese dood, nie geestelike dood nie.

Hierdie gedeeltes handel dus oor die verbeuring van gemeenskap of fisiese goddelike tug, maar nie oor die verbeuring van redding nie.

Aangaande die verbeuring van genade
Die tiende soort teksgedeelte wat gebruik word om die verbeuring van redding te staaf, is gegrond op Galásiërs 5:4: Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. “Beteken ‘van die genade verval’ nie dieselfde as ‘om redding te verbeur’ nie?” In die konteks is Paulus nie besig om oor redding of die verbeuring daarvan te praat nie, maar met die regte sfeer waarin gelowiges moet wees om heiligmaking na te streef. Hierdie Galásiërs was ware gelowiges wat deur valse leraars geleer is dat hulle die Wet van Moses ter wille van heiligmaking moes onderhou. Hulle het geweet dat hulle deur genade gered is, maar het gevoel dat hulle hul redding moet “behou” deur die Wet te onderhou.

’n Gelowige kan sy lewe in die sfeer van die Wet of in die sfeer van genade leef. As ’n gelowige kies om in die sfeer van die Wet te leef, verval hy van die genade – nie in die opsig dat hy sy redding verbeur nie, maar in dié opsig dat hy die goddelike bemagtiging om ’n lewe van geregtigheid te lewe verbeur. Die Wet verskaf nie die krag wat nodig is om dit te onderhou nie. ’n Geesvervulde lewe gee ’n mens die krag wat nodig is om die Here se standaarde van geregtigheid te handhaaf.

Om “van die genade te verval” beteken om terug te val op werke, om jou te wend na ’n stelsel van verdienste om die geestelike lewe te probeer leef. Diegene wat probeer om die geestelike lewe wetties te leef, het van die genade verval. Hulle verbeur nie hul redding nie; hulle leef eenvoudig nie meer in die sfeer van genade nie, maar in die sfeer van ’n verdienstestelsel.

Aangaande verswakte geestelike toestande
Die elfde soort teksgedeelte wat gebruik word om te leer dat redding verbeur kan word, is ’n teksgedeelte wat ons in 1 Korinthiërs 8:8-12 vind: Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ’n struikelblok word vir die wat swak is nie. Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in ’n afgodstempel, sal sy gewete, as hy ’n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Hierdie teksgedeelte handel nie oor ’n gelowige wat sy redding verbeur nie, maar ’n baba in die geloof wat in ’n verswakte geestelike toestand is. ’n Baba in die geloof neem maklik aanstoot oor die optrede van ander gelowiges; daardie aanstoot is ’n struikelblok vir sy geestelike ontwikkeling. Hy verbeur nie sy redding omdat hy aanstoot neem nie, maar dit wys wel dat hy in ’n verswakte geestelike toestand is. Dít is die hoofsaak van hierdie gedeelte.

Aangaande belydenis
Die twaalde soort teksgedeelte wat gebruik word om te leer dat redding verbeur kan word, is dié waar mense deurmekaar raak tussen daaglikse belydenis, en die aanvanklike belydenis wanneer ’n mens gered word. Matthéüs 10:32-33, wat daarvan praat om die Messias voor ander mense te bely, val in hierdie kategorie; so ook Romeine 10:8-11. Hierdie teksgedeeltes handel egter nie oor mense wat hul redding verbeur nie; dit het te doen daarmee om die Messias daagliks voor ander mense te bely, nie met die aanvanklike belydenis wanneer ’n mens gered word nie.

Aangaande lastering teen die Heilige Gees
’n Dertiende soort teksgedeelte wat gebruik word om die verbeuring van redding te predik, is die gedeelte in Matthéüs 12:22-37, wat praat van die lastering teen die Gees. In die konteks is dit egter ongelowiges wat skuldig is aan lastering teen die Gees, nie gelowiges nie. Dit was die leiers van Israel wat Jesus beskuldig het van duiwelbesetenheid. Hierdie Fariseërs was in die eerste plek nooit gered nie. Dit is nie asof hulle gered was, toe die Heilige Gees gelaster het, en gevolglik hul redding verbeur het nie. Lastering teen die Gees is ’n sonde wat ongelowiges doen, nie gelowiges nie. Daar is nêrens in hierdie gedeelte die geringste aanduiding dat gelowiges hul redding kan verbeur nie. Dit het wel iets te sê oor ongelowiges wat hierdie sonde begaan. In die lig van waaroor hierdie gedeelte gaan, is die beste beskrywing van die sonde van lastering teen die Gees waarskynlik: die nasionale verwerping van Jesus se Messiasskap deur Israel op grond daarvan dat Jesus duiwelbesete is.

Aangaande die gelykenisse
’n Veertiende kategorie teksgedeeltes wat mense gebruik om te verkondig dat redding verbeur kan word, word gebaseer op gelykenisse soos dié in Matthéüs 13:1-23, 24-30 en Lukas 13:22-30. As ’n mens hierdie gelykenisse egter van naderby bestudeer, is dit duidelik dat dit van ongelowiges praat, nie van gelowiges wat hul redding verbeur het nie. Dit is buitendien gevaarlik om so ’n belangrike leerstelling uit ’n gelykenis te formuleer.

Aangaande die boek van die lewe en die boek van die lewe van die Lam
’n Vyftiende kategorie teksgedeeltes wat gebruik word om die verbeuring van redding te staaf, is stellings in die Skrif oor name wat uit die boek van die lewe gewis word. “As dit moontlik is om uit die boek van die lewe gewis te word, wys dit nie dat ’n mens jou redding kan verbeur nie?” Dit is egter nie die geval nie. As ’n mens al die teksgedeeltes oor die boek van die lewe bestudeer, sien ’n mens dat almal wat ooit gebore is se name in die boek van die lewe staan. Indien hulle gered word, bly hulle name in die boek van die lewe; indien hulle ongered is en te sterwe kom, word hulle name uit die boek van die lewe gewis. Die name wat gewis word, is dié van mense wat nooit gered was nie en in ’n ongeredde staat gesterf het. Dit is nie mense wat gered was en toe hul redding verbeur het nie.

Volgens Psalm 139:16 bevat die boek van die lewe die naam van elke persoon wat ooit gebore was: U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Openbaring 3:5 sê dat dié wat in die Messias glo, se name behou word in die boek van die lewe: Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.

In Psalm 69:29 lees ons egter dat die ongeredde mense se name uit die boek van die lewe gewis word: Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie. Indien hulle name dus nie by die Oordeel van die Groot Wit Troon in die boek van die lewe gevind word nie, sal dit blyk dat hulle ongered is en deel van hierdie spesifieke oordeel moet wees.

Nog ’n boek wat in die Skrif genoem word, wat ons apart moet behandel, is die boek van die lewe van die Lam. Hierdie boek bevat die name van elke persoon wat wedergebore is, en slegs dié wat wedergebore is. Volgens Openbaring 13:8 was hulle name al in hierdie boek opgeskryf voor die aarde geskep was: En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

In Openbaring 17:8b is daar nog ’n verwysing hierna: en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.

In Psalm 69:29 staan dit bekend as die boek van die regverdiges: Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.

Danksy God se uitverkiesing en versiendheid, bevat hierdie boek slegs die name van die wedergeborenes. Aangesien redding vir altyd vas staan, is dit onmoontlik om uit hierdie spesifieke boek, die boek van die lewe van die Lam, gewis te word.

Aangaande die lewe van Bybelkarakters
’n Sestiende kategorie waardeur mense probeer te kenne gee dat verlossing verbeur kan word, is deur afleidings te maak oor Bybelkarakters wat skynbaar gered was en tog verlore gegaan het. Vyf voorbeelde word gewoonlik aangehaal.

Lot
“Wat van Lot? Het hy nie sy redding verbeur na aanleiding van wat hy met sy dogters gedoen het nie?” 2 Petrus 2:6-9 sê egter vir ons dat Lot gered was, en dat hy as ’n geredde man gesterf het. Hy het nie sy redding verbeur nie.

Simson
’n Tweede Bybelkarakter is Simson. Maar Hebreërs 11:32 sê vir ons dat Simson as ’n geredde man gesterf het. Hy het nooit sy redding verbeur nie.

Dawid
’n Derde voorbeeld is Dawid. Dit is egter duidelik uit Psalm 51:8-12 dat Dawid se sondes, moord en owerspel, nie gelei het tot die verbeuring van sy redding nie. Dit het wel gelei tot ’n verlies aan persoonlike gemeenskap met God.

Simon die Towenaar
’n Vierde persoon wat mense ophaal, is Simon die Towenaar, wat in Handelinge 8:19-24 verskyn. Hy het egter sy sonde bely, en is nie ’n voorbeeld van iemand wat sy redding verbeur het nie.

Judas Iskáriot
Nog ’n persoon wat baiekeer gebruik word, is Judas Iskáriot. Judas was egter nooit gered in die eerste plek nie. Johannes 13:10 sê dat Judas nie rein is nie. Johannes 17:12 sê dat niemand verlore sal gaan nie, behalwe die seun van die verderf, wat ’n verwysing na Judas is. Judas se berou in Matthéüs 27:3-5 is uit spyt gebore; dit was nie berou met die oog op redding nie. Handelinge 1:24-25 sê dat Judas afgewyk het van apostelskap, nie van redding nie; hy was nooit gered nie, dus kon hy nie daarvan afwyk nie.

SAMEVATTING
Nie een van die teksgedeeltes of voorbeelde wat mense aanhaal, leer vir ons dat ’n gelowige sy redding kan verbeur nie. Inteendeel, ’n gelowige kan nooit sy redding verbeur as hy eers gered is nie, want hy word deur die krag van God beskerm.
[end]

Inhoudsopgawe

I. DIE BETEKENIS VAN EWIGE SEKERHEID
II. DIE BEGINSELS VAN EWIGE SEKERHEID
     A. Redding is nie herhaalbaar nie
     B. Ware redding lei tot dade van geregtigheid
     C. Leerstellige konsekwentheid: Die toets van ware geloof
     D. Die beloning vir die gelowige se dade
     E. Die grondslag van die oproep tot ’n godvrugtige lewenstyl
     F. Die resultate van sonde in die gelowige se lewe
     G. Hardnekkige sonde toon ’n gebrek aan bekering
     H. Volmaaktheid word nie in hierdie lewe bereik nie
     I. Die verskil tussen posisie en praktyk
     J. Die verhouding tussen werke en redding
III. DIE BEWYSE VAN EWIGE SEKERHEID
     A. God die Vader
        1. God se soewereine plan
        2. Die Vader se vermoë om te beskerm
        3. God se oneindige liefde
        4. God se belofte
     B. God die Seun
        1. Hy het ons oordeel vir altyd op Hom geneem
        2. Gelowiges het deel aan sy Opstandingslewe
        3. Die Messias se werk as Voorspraak
        4. Die Messias se werk van intersessie
        5. Die Messias se herdersrol
        6. Die doel van die Messias se reddingswerk
     C. God die Heilige Gees
        1. Die Heilige Gees se werk van wedergeboorte
        2. Die Heilige Gees se bediening van inwoning
        3. Die Heilige Gees se bediening van doping deur die Gees
        4. Die Heilige Gees se bediening van verseëling
        5. Die krag van die Heilige Gees
     D. Ewige sekerheid in Romeine 8:1-39
     E. Die betekenis van die woord “ewig”
     F. Die Messias se voltooide werk
     G. God beskerm die gelowiges
     H. Gelowiges is nuwe skepsels
     I. Redding geskied deur genade
     J. Die Messias se gehoorsaamheid
     K. Die saad van die evangelie bly
     L. Redding is ’n genadegawe
     M. Redding is ’n geboorte
     N. Die gelowige kan nie sy saligheid self behou nie
     O. God het die hoogste prys betaal
     P. Sonde gestraf sonder dat redding verbeur word
     Q. Die doel van die waarskuwings en aanmanings
IV. PROBLEMATIESE TEKSGEDEELTES OOR EWIGE SEKERHEID
     A. Aangaande verkeerde toepassing van bedelingsleer
        1. Teksgedeeltes in Eségiël
        2. Teksgedeeltes in Matthéüs
     B. Aangaande vals leraars
     C. Aangaande die verskil tussen hervorming en ware geloofsoortuiging
        1. Uiterlike hervorming of belydenis
        2. Ware geloofsoortuiging
     D. Teksgedeeltes oor die vrug van bekering
     E. Aangaande die “As”-sinsnedes in die boek Hebreërs
     F. Aangaande basiese waarskuwings aan alle mense
     G. Aangaande die onderskeid van die olyfboom
     H. Aangaande verbeurde belonings
     I. Aangaande verbeurde gemeenskap en goddelike tug
     J. Aangaande die verbeuring van genade
     K. Aangaande verswakte geestelike toestande
     L. Aangaande belydenis
     M. Aangaande lastering teen die Heilige Gees
     N. Aangaande die gelykenisse
     O. Aangaande die boek van die lewe en die boek van die lewe van die Lam
     P. Aangaande die lewe van Bybelkarakters
        1. Lot
        2. Simson
        3. Dawid
        4. Simon die Towenaar
        5. Judas Iskáriot
SAMEVATTING

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Twee belangrike fasette van die gelowige se redding is regverdigmaking en heiligmaking. Wat leer die Bybel ons oor regverdigmaking en heiligmaking, en wat presies is dit? Die onderwerp van regverdigmaking sal in agt afsonderlike dele bestudeer word. Heiligmaking word eweneens in agt belangrike kategorieë verdeel. Die stelling dat die gelowige in hierdie lewe reeds volmaaktheid kan bereik, word weerlê.