God se bedelings

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. – Génesis 15:6

INLEIDING
Een sleutel om die Skrif te verstaan, is om ‘die woord van die waarheid reg [te] sny’ (2 Tim 2:15). Daar is ’n paar maniere waarop die Bybel ‘gesny’ kan word om die onderskeie dele én die geheel te verstaan. Een van die maniere is met behulp van die bedelings wat ons in die Skrif vind.

A. Omskrywing
Daar is twee belangrike woorde in die Griekse taal waaruit die konsep van bedelings spruit wat ons help om presies te verstaan wat ’n bedeling is. Die eerste Griekse woord is oikonomia, waaruit die Afrikaanse woord ‘ekumenies’ afgelei word; dit beteken ‘om te bestuur’, ‘om te reguleer’, ‘om te administreer’ en ‘om te beplan’. Die tweede Griekse woord, aion, beteken ‘tydvak’, en beklemtoon die tydaspek van bedelings. Die term ‘bedeling’ verwys dus aan die een kant na ’n bepaalde manier waarop God sy program en sy wil in die wêreld bestuur, en aan die ander kant na ’n tydperk wat gedek word.

Wat inhoud en betekenis betref, dui ‘bedeling’ op rentmeesterskap, verantwoordelikheid en administrasie. Wat tyd betref, dui dit op ’n tydvak, want elke bedeling dek ’n tydperk. God bestuur sy ekonomie, sy heerskappy, sy gesag en sy program in elke bedeling op ’n ander manier as in die vorige bedeling.

Bedelings is aparte tydperke waartydens God sy wil op ’n spesifieke en eiesoortige manier uitoefen, op grond van ’n verbond waarop ’n spesifieke bedeling gegrondves is.

B. Die fasette van bedelings
Elke bedeling bevat sewe spesifieke elemente of fasette. Eerstens het elke bedeling een of meer name wat opsommenderwys aandui wat die lewe se grondreël in daardie spesifieke bedeling was. Tweedens het elke bedeling ’n hoofpersoon aan wie ’n spesiale openbaring gegee word. Derdens kry die mens in elke bedeling ’n plig, want elke bedeling begin met ’n nuwe openbaring wat reaksie deur die mens vereis. Vierdens is daar ’n bepaalde toets. Vyfdens, ná die toets, kom ’n bepaalde mislukking. In die sesde plek is daar ’n oordeel wat die bedeling afsluit. En in die sewende plek, is daar in elke bedeling iets wat spreek van goddelike genade.

I. DIE BEDELING VAN ONSKULD OF VRYHEID: GÉNESIS 1:28-3:8
A. Die name

Daar word twee name aan die eerste bedeling gegee: die Bedeling van Onskuld of die Bedeling van Vryheid. Die name word gebruik om verskillende aspekte van hierdie bedeling te beklemtoon. Die eerste naam beklemtoon die feit dat Adam en Eva op hierdie tydstip nie skuldig was aan sonde of ’n sondige natuur nie. Teologies word hulle toestand ‘onbevestigde geskape heiligheid’ genoem, aangesien hulle heilig geskape was. Maar Adam en Eva se heiligheid was nog nie bevestig nie, want hulle was nog nie getoets om te sien of hulle aan die Woord van die Here trou sou bly nie. Die tweede naam beklemtoon hulle vryheid van sonde; hulle was nie slawe van die sonde nie.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon vir die eerste bedeling was Adam. God het sy wil, sy goddelike ekonomie en goddelike administrasie deur Adam openbaar.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die mens se verantwoordelikheid tydens die Bedeling van Onskuld of Vryheid was teenoor die Verbond van Eden, die verbond wat God met Adam en Eva in Eden gesluit het. Die basiese inhoud van die Verbond van Eden het twee aspekte bevat: ’n verantwoordelikheid jeens die aarde en ’n verantwoordelikheid jeens die Tuin van Eden. Wat die aarde betref, was hulle plig om dit te onderwerp, te vermeerder en die aarde te vul, en om in die algemeen daaroor te heers. Wat die tuin betref, moes hulle dit bewerk.

D. Die mens se spesifieke toets
Die spesifieke toets van die Bedeling van Onskuld of Vryheid, was die toets rakende die boom van die kennis van goed en kwaad. Dit was ’n toets om te sien of Adam en Eva die kleinste denkbare opdrag van die goddelike wil sou gehoorsaam. Hulle het absolute mag oor die hele planeet gehad. Wat die Tuin van Eden self betref, het hulle absolute mag daaroor gehad, en die reg om van elke enkele boom in die tuin te eet, insluitende die boom van die lewe. Die toets was dus baie klein.

Indien Adam en Eva die toets geslaag het, sou hulle toestand verander het van onbevestigde geskape heiligheid na bevestigde geskape heiligheid. Dit beteken dat hulle die vermoë om sonde te doen sou verruil het vir die vermoë om nie sonde te doen nie, of beter gestel, dat hulle nie meer die vermoë sou gehad het om sonde te doen nadat hul heiligheid bevestig was nie.

Dit is dieselfde toets as wat al die engele ondergaan het toe hulle aanvanklik geskape is. Al die engele was geskape in onbevestigde geskape heiligheid. Toe kom die toets. Satan was die eerste om te druip, en hy is gevolg deur een derde van die hele leërskare engele. Die een derde wat die toets gedruip het, is nou heeltemal korrup. Twee derdes van die engele het wel die toets geslaag, en hul toestand het van onbevestigde geskape heiligheid na bevestigde geskape heiligheid verander. Hulle is nou hoegenaamd nie meer in staat om te sondig nie.

Dieselfde sou vir Adam en Eva gegeld het. As hulle die toets geslaag het, sou hulle geskape heiligheid net soos die engele s’n bevestig geword het, en sou hulle nie meer sonde kon doen nie.

E. Die mens se mislukking
Ongelukkig het Adam en Eva wel die toets gedruip. Hulle het van die einste boom geëet waarvan hulle verbied was om te eet. Gevolglik is hul geskape heiligheid nie bevestig nie. Net soos die gevalle engele het hulle ook korrup geword, heeltemal bedorwe in hul natuur. Algehele bedorwenheid impliseer dat sonde elke deel van hul wese en elke terrein van hul menslike lewe aangetas het.

F. Die mens se oordeel
Die oordeel in hierdie bedeling was uitsetting uit die tuin en die vloek op die aarde. Die uitsetting uit die tuin het beteken dat hulle nou uitgeworpe was na ’n plek buite die tuin, en dat die wonderlike omgewing wat hulle in die tuin geniet het, nie meer tot hul beskikking was nie. Hulle was nie meer in staat om vryelik te eet van elke boom wat in die tuin voorgekom het nie; ook sou hulle nie kon eet van die boom van die lewe nie.

In plaas daarvan dat hulle ’n goeie werksverhouding met die aarde gehandhaaf het wat werk maklik en moeitevry gemaak het, het die swaar aspek van arbeid bygekom. Adam sou die aarde voorts in die sweet van sy aanskyn moes bewerk om te kan eet. Daarby het die vloek beteken dat die aarde nie meer sy vriend was nie, maar sy vyand. Elke keer as Adam iets uit die aarde wou voortbring, sou hy ’n voortdurende stryd met dorings en distels moes voer.

G. God se betoning van genade
Die betoning van God se genade kan daarin gesien word dat God, op dieselfde tydstip toe die uitsetting uit die tuin en die vervloeking van die aarde plaasgevind het, ook ’n Redder beloof het. In Genesis 3:15 het God belowe dat ’n Messias eendag sou kom en twee dinge sou doen. In die eerste plek sou Hy Satan, die mens se vyand wat die vloek, die uitsetting en die Sondeval deur versoeking meegebring het, oorwin.

En tweedens sou Hy die Een wees wat die vloek oorwin en dit laat verwyder. Fisiese dood, wat ’n gevolg was van die Sondeval, sou oorwin word deur die Opstanding van die Laaste Adam en deur die uiteindelike opstanding van alle mense.

II. DIE BEDELING VAN GEWETE OF SELFREGERING: GÉNESIS 3:9-8:14
A. Die name

Die tweede bedeling het ook twee name. Dit word die Bedeling van Gewete of die Bedeling van Selfregering genoem. Die eerste naam beklemtoon die beginsel waarvolgens God sy ekonomie toegepas het: God het deur die gewete oor die mens geheers in hierdie bedeling. Die naam kom uit Romeine 2:15, wat sê dat God ’n tyd lank met die mens gehandel het op grond van sy gewete, tot die mens se gewete só verontreinig en toegeskroei geword het dat dit nie meer moontlik was om voort te gaan om op hierdie manier oor God se ekonomie in die wêreld te heers nie.

Die tweede naam beklemtoon die ander kant van die munt van die gewete: die mens het die vryheid ontvang om sy gewete se voorskrifte te volg. Sy plig was om aan sy gewete se eise te voldoen. Indien hy sy gewete gevolg het, sou sy selfregering tot heiligheid gelei het; maar as hy nie sy gewete gevolg het nie, of as sy gewete verontreinig, verdonker of toegeskroei sou word, sou sy selfregering in die teenoorgestelde rigting lei.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon in die tweede bedeling, soos in die vorige een, was Adam. Adam het ’n nuwe openbaring ontvang wat die beginsels en vereistes van hierdie nuwe bedeling uitgestip het.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die verantwoordelikheid vir hierdie bedeling was gehoorsaamheid aan die Verbond van Adam wat in Genesis 3 gevind word. Onder die vereistes van die Verbond van Adam was: die vrou se verantwoordelikheid om onder haar man se heerskappy te staan; die bewerking van die grond in die sweet van hul aanskyn; die konsep van fisiese dood, en ’n aantal ander sake.

Die mens het ’n verantwoordelikheid gehad onder die Verbond van Adam, en die sleutelelement van hierdie verantwoordelikheid was geloof in die beloofde Redder. Wat ook binne die omvang van hierdie verbond gestaan het, was die belofte in Génesis 3:15, waarin God vir Satan sê: En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.

Hierdie vers het belowe dat daar ’n tyd sou kom wanneer ’n menslike afstammeling van dieselfde vrou wat deur Satan versoek is om die Sondeval mee te bring, Satan eendag sou oorwin en sy kop sou vermorsel.

Die belofte het gelui dat die Messias uit die saad van die vrou sou kom. Dit bots lynreg met die normale bybelse patroon. ’n Man se afstamming is gewoonlik deur die pa se afstamming nagespeur, nie die ma s’n nie. Dit is hoekom al die geslagsregisters in die Bybel altyd die manlike afstamming bevat, en vroue selde daarin genoem word. In die Christus se geval sou dinge egter anders werk. Die Messias sou onder die saad van die vrou getel word.

Génesis 3:15 verduidelik nie hoekom dit so moes wees nie. Trouens, dit word eers in Jesaja 7:14 verduidelik, waar God gesê het dat die Messias uit ’n maagd gebore sou word wanneer sy tyd sou aanbreek. Die ooglopende rede waarom die Messias onder die saad van die vrou getel moes word, is omdat Hy nie ’n menslike vader sou hê nie.

Die mens se verantwoordelikheid was om die belofte te glo, die Belofte van die Saad: die Saad van die vrou, die Christus, sou eendag kom om hulle te verlos van die owerste van hierdie wêreld, Satan. Hoewel God in die vorige bedeling en verbond gesag oor die wêreld aan die mens gegee het, het die mens dit verloor toe Adam gesondig het; Satan het die gesag wederregtelik by die mens afgeneem. Daarom word Satan selfs in die Nuwe Testament die owerste van hierdie wêreld (Joh 12:31) en die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4) genoem.

D. Die mens se spesifieke toets
Die spesifieke toets in die Bedeling van Gewete was tweeledig. Eerstens, gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die gewete met die kennis van goed en kwaad. En tweedens, wanneer hulle tekortgeskiet het, moes hulle ’n behoorlike en aanvaarbare bloedoffer bring. Dit kan gesien word uit Génesis 3:21 en 4:4. Die toets het dus twee dinge behels: die mens se gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die gewete met die kennis van goed en kwaad, en die mens se reaksie op versuim deur ’n behoorlike en aanvaarbare offer.

E. Die mens se mislukking
Die mens se mislukking in die tweede bedeling kan vroeg reeds in Kaïn se geval in Génesis 4:3 gesien word. Kaïn het versuim om ’n behoorlike bloedoffer te bring, en gedink dat hy op sy eie voorwaardes na God toe kan kom, in plaas van die voorwaardes wat God ingestel het. In vers 8 word die mislukking gesien in die eerste moord wanneer Kaïn sy broer Abel vermoor.

Maar die mislukking blyk ook uit Génesis 6:5, wat praat van openlike geweld, korrupsie en wydverspreide boosheid, en volgehoue bose begeertes in die mens se hart en ingesteldheid. Die mens se hart was voortdurend op boosheid gerig.

F. Die mens se oordeel
Die oordeel in hierdie bedeling was die wêreldwye Sondvloed: om die mensdom op een familie na uit te wis. Met die wêreldwye Sondvloed het hierdie bedeling tot ’n einde gekom. Die mensheid het boos geraak tot op die punt waar hulle nie meer hul gewete kon volg nie; hul gewete was só verdonker en verword dat dit hoegenaamd nie meer ’n betroubare rigsnoer was nie.

G. God se betoning van genade
Die element van genade kan in hierdie bedeling gesien word in die redding van Henog. Dit blyk ook uit die redding van Noag en sy familie. Al hierdie mense het genade gevind in die oë van die Here.

III. DIE BEDELING VAN BURGERLIKE REGERING: GÉNESIS 8:15-11:32
A. Die name

Die derde bedeling word die Bedeling van Burgerlike Regering genoem. Dit het hierdie naam te danke aan die feit dat die mens in hierdie spesifieke bedeling die reg op lewe en dood ontvang. Hy ontvang die gesag om oor ander te heers. Die konsep van heerskappy en om die mag te hê om iemand tereg te stel of nie tereg te stel nie, omsluit die konsepte van menslike regering. Hierdie beginsel verskyn in Génesis 9:6: Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word.

Die mens ontvang dus die gesag om die moordenaar tereg te stel; daarmee saam kry hy die konsep van heerskappy, gesag en regering.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon in hierdie bedeling was Noag. Hy het nuwe en besondere goddelike openbaring ontvang wat presies vir hom gewys het hoe die goddelike ekonomie in hierdie bedeling van God sou werk.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Wat die mens se verantwoordelikheid in hierdie bedeling betref, was dit gehoorsaamheid aan die Verbond van Noag in Génesis 9. Die opdrag om die aarde te vul en te vermeerder teen die agtergrond van die mensdom se vernietiging deur die Sondvloed, is inbegrepe by die strekking van die Verbond van Noag.

Voorts handel dit oor wat die mens geoorloof was om te eet. Voor hierdie gebeurtenis mog die mens slegs groente eet; die mens was skynbaar vegetaries in die twee voorafgaande bedelings. Van hierdie tydstip af is die mens egter toegelaat om enige soort vleis te eet wat hy verkies en homself nie meer tot groente te beperk nie. Hoegenaamd geen dieetkundige beperkings is op die mens geplaas onder die Verbond van Noag nie.

Die Verbond van Noag het daarby menslike regering gevestig; God sou sy ekonomie tot uitvoer bring of daaroor heers deur menslike regering. Die mens moes menslike regering gehoorsaam. Laasgenoemde het die gesag gehad om sy reëls en regulasies af te dwing tot op die vlak van teregstelling.

Die reënboog is gegee as ’n teken of bewys van die Verbond van Noag; daardeur is beloof dat God die aarde nooit weer deur ’n vloed sou uitwis nie.

D. Die mens se spesifieke toets
Die derde bedeling se spesifieke toets was dat die mens behoorlik moes regeer en moes versprei. Maar hulle moes nie op een plek onder een regering staan nie; God het geëis dat hulle oor die hele aarde moet versprei.

E. Die mens se mislukking
Die mislukking blyk uit dit wat die mens deur die Toring van Babel in Génesis 11 probeer doen het: hulle het bymekaar probeer bly deur die Toring van Babel as ’n versamelpunt te gebruik, ’n sentrum van bymekaarkoms. Die Toring van Babel sou op twee maniere gewerk het: letterlik en simbolies.

Op ’n letterlike vlak was die Toring van Babel ’n poging om ’n hoë toring te bou ten einde die sterre te bestudeer. Dit sou tot by die hemel reik. Hulle wou egter nie ’n toring bou wat by God se Hemel sou uitkom nie, maar ‘n toring wat hoog genoeg was om ’n goeie uitsig op die sterre te bied sodat hulle dit kon bestudeer. Dit was nie met die oog op sterrekunde nie, maar op sterrewiggelary. Die bestudering van sterrewiggelary het ’n verwerping van God se beheer as die hoogste en enigste Skepper geïmpliseer. Sterrewiggelary was ’n verwerping van die aanbidding van die Een God, dus het die mens hom aan politeïsme en allerhande ander soort sondes skuldig begin maak. Dit was die fisiese doel van die Toring van Babel.

Agter al hierdie dinge het demonisme gelê, en dit is waar die mislukking duidelik geblyk het. Die simboliese doel was om God se opdrag om oor die hele wêreld te versprei, doelbewus te verontagsaam. Die doel van die Toring van Babel was om te dien as ’n aantrekkingspunt, om die mensdom saam te hou sodat hulle nie sou versprei en met mekaar kontak verloor nie. Hul bedoeling was basies om nie buite die grense van die Babiloniese gebied, wat tussen die Eufraat- en die Tigrisrivier gelê het, te beweeg nie.

F. Die mens se oordeel
As gevolg van hul poging om teen God se opdragte en gesag in opstand te kom, het God ’n oordeel oor hulle gebring: die taalverwarring. Een van die sleutelelemente wat nodig is om bymekaar te kan bly en saam te kan lewe, is om ’n gemeenskaplike taal te hê. Die gemeenskaplike taal neig om ’n sekere segment van die gemeenskap nou gebonde te hou. Sodra daar taalverskille is, ontstaan daar gewoonlik oorloë.

Byvoorbeeld, die rede waarom Duitsers neig om in Duitsland te bly, is omdat die Duitse taal hulle bymekaar hou. Dieselfde verskynsel geld in land ná land. Wanneer daar taalverskille in ’n land is, lei dit dikwels tot burgeroorlog, soos in verskeie state in Europa waar een deel van ’n nasie een taal, en ’n ander deel ’n ander taal praat. Die gebrek aan ’n gemeenskaplike taal skep onrus, verwarring, konflik en oorlog. Deur die taalverwarring het God ’n gedwonge verstrooiing bewerk.

Dit beteken nie dat elke mens op daardie tydstip ’n vreemde taal gepraat het nie. Wat moontlik kon gebeur het, is die volgende: Vyf mense het ontdek dat hulle met mekaar kon kommunikeer, dus het hulle êrens heen migreer om hulleself te skei van die ander mense vir wie hulle nie kon verstaan nie. Gevolglik het hulle na ’n sekere plek in die wêreld getrek en die een of ander taal gepraat. Tien of vyftien ander mense het agtergekom dat hulle dieselfde taal praat, en hulle het ook na ’n ander wêrelddeel getrek om afstand te kry van die ander mense vir wie hulle nie kon verstaan nie. Só het hulle hul eie taalgroep gevestig, en derhalwe hul eie unieke nasionaliteit. Dit is die manier waarop God sy oorspronklike doel bereik het: dat die mens oor die hele aarde moes versprei en dit moes vul.

G. God se betoning van genade
God het genade betoon in die derde bedeling deur die manier waarop hy sy Oorblyfsel bewaar het. Die spesifieke Oorblyfsel wat God ná die Sondvloed bewaar het, is die mense wie se name ná die Toring van Babel-insident gelys word. Hierdie name in Génesis 11 spoor die afstamming van Noag en Sem na, al die pad tot by Abraham, met wie God die volgende bedeling sou inlui. God het wel ’n Oorblyfsel bewaar, hulle was die volgelinge van die Een Ware God in hierdie tydperk. God het die Saadlyn bewaar. Die belofte wat Hy gemaak het aangaande die saad van die vrou is steeds bewaar, ten spyte van die Sondvloed en ten spyte van die Toring van Babel. God het die unieke Saadlyn bewaar waardeur die belofte inderdaad vervul sou word.

IV. DIE BEDELING VAN BELOFTE OF PATRIARGALE REGERING: GÉNESIS 12:1-EXODUS 18:27
A. Die name

Die vierde bedeling het ook twee name: die Bedeling van Belofte of die Bedeling van Patriargale Regering. Die eerste naam beklemtoon die openbaringsaspek in soverre God besig was om Homself te openbaar deur ’n spesifieke reeks van baie beloftes te maak. Die Bedeling van Belofte is ’n naam wat afgelei is uit vier dele in die Nuwe Testament: Romeine 4:1-25; Galasiërs 3:15-19; Hebreërs 6:13-15 en 11:9. Die sleutelkenmerk van hierdie vier gedeeltes is die klem op die konsep van belofte in verhouding tot Abraham.

Die tweede naam beklemtoon die regeringsaspek. God het sy heerskappy en sy wil in hierdie bedeling deur sy Patriarge toegepas: Abraham, Isak, Jakob, Josef en ander.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon in hierdie bedeling was Abraham. Abraham staan aan die hoof van hierdie nuwe tydvak; hy ontvang nuwe goddelike openbaring wat dan die grondslag word van ’n nuwe bedeling.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die verantwoordelikheid in hierdie bedeling rus op die Verbond van Abraham: die verantwoordelikheid om God se beloftes te glo. Selfs al was die beloftes nog nie vervul nie, moes die mense God se beloftes glo. Abraham het natuurlik hierdie plig nagekom, want ons lees in Génesis 15:6: En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.

D. Die mens se spesifieke toets
Die spesifieke toets in die vierde bedeling was om in die Land te bly waarnatoe God hulle gebring het.

E. Die mens se mislukking
Die mislukking in hierdie bedeling word gesien in die geneigdheid om die Land te verlaat. Abraham het die Land byvoorbeeld in Génesis 12 verlaat en homself in baie moeilikheid laat beland. Isak het in Génesis 26 oorweeg om die Land te verlaat, maar die Here het hom daarteen gewaarsku. Later het Jakob ook die Land verlaat en sy nageslag in baie moeilikheid gedompel. Josef se broers het hom aan iemand verkoop wat ’n slaaf van hom sou maak, nie in dié Land nie, maar eerder in Egipte. Die Israeliete se mislukking het dus gelê in hul konstante geneigdheid om die Land te verlaat.

F. Die mens se oordeel
Die oordeel vir hul mislukking was uiteindelik slawerny in Egipte.

G. God se betoning van genade
Die faset van genade het geblyk uit die bewaring van Israel. Israel is bewaar, ongeag of hulle in die Land of daarbuite was. God het voortgegaan om die saad van die vrou te bewaar, wat nou ook die saad van Abraham, Isak en Jakob sou word.

V. DIE BEDELING VAN DIE WET: EXODUS 19:1-HANDELINGE 1:26
A. Die name

Die vyfde bedeling is ’n lang een, en dit word die Bedeling van die Wet genoem. Dit het hierdie naam gekry omdat God se ekonomie deur die Wet van Moses, wat altesaam 613 spesifieke bevele bevat, uitgevoer is.

Hierdie bedeling dek ’n tydperk van Exodus 19:1 waar God die Wet gegee het tot by Handelinge 1:26. Die Bedeling van die Wet het oor die hele tydvak van Exodus 19:1 dwarsdeur die res van die Ou Testament, die tussen-testamentêre tydperk en die evangeliegebeure tot by Handelinge 1:26 gestrek, toe die bedeling uiteindelik gewissel het.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon in die vyfde bedeling was Moses. God het baie openbaring aan Moses gegee, wat die grondslag van hierdie bedeling vorm.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die mens was in hierdie bedeling verantwoordelik jeens die Verbond van Moses. Die verbond het twee belangrike areas gedek. Die eerste was die verantwoordelikheid om die 613 gebooie van die Wet van Moses na te kom.

Tweedens moes hulle die profete gehoorsaam wat deur God gestuur is om die Wet aan te vul, dit te omskryf, betekenis daaraan te gee en dit te verduidelik.

D. Die mens se spesifieke toets
Die spesifieke toets van hierdie bedeling het twee belangrike elemente behels. Eerstens was hulle verantwoordelik om die hele Wet, met al sy 613 gebooie, te gehoorsaam. Die verbreking van een van hierdie gebooie het die oortreder blootgestel aan skuld vir die oortreding van almal (Jak 2:10).

Die tweede deel van die toets was om die Profeet wat verwek sou word te aanvaar en te glo, die Een wat soos Moses sou wees (Deut 18:15-18). Met ander woorde, hulle moes die Messias aanvaar wanneer Hy kom, want Hy is die Profeet wat soos Moses sou wees.

E. Die mens se mislukking
Die mens het in albei opsigte van die toets misluk. Eerstens het hulle versuim om die hele Wet te onderhou (Rom 10:1-3). Trouens, hulle het nie net versuim om die Wet te onderhou nie, maar hulle het die Wet probeer omseil deur hul eie geregtigheid op te rig. Dít het hulle gedoen deur hul eie wette te skep en te sê dat hulle nie die Here se wette hoef te onderhou nie, omdat hulle hul eie wette onderhou.

Tweedens het hulle ook versuim om die Messias te aanvaar (Matt 23:1-39). Jesus het die Skrifgeleerdes en Fariseërs, Israel se leiers op daardie tydstip, veroordeel; hulle het nie net sy messiaanse aansprake verwerp nie, maar ook die volk gelei om dieselfde messiaanse aansprake te verwerp.

F. Die mens se oordeel
Die oordeel van hierdie bedeling het in 70 n.C. gekom en twee dinge behels: die eerste was die vernieting van Jerusalem en die Tempel; die tweede was die wêreldwye verstrooiing van die Joodse volk toe hulle uit die land geban is.

G. God se betoning van genade
Die faset van genade word deurgaans in die Bedeling van die Wet op twee maniere gesien. Eerstens is die offergawestelsel voorsien, omdat die Jode nie in staat was om al 613 gebooie na te kom nie. Wanneer ’n individuele Jood gesondig het, kon dit deur die offergawestelsel gedek word om die sondaar te herstel. Die offergawestelsel sou nie hul sonde wegneem nie, en geen Jood is ooit gered bloot omdat hy ’n offer na die Tabernakel of die Tempel toe gebring het nie. Soos die geval is in elke tydvak, is die Jood uit genade gered, deur geloof. Sy geloof was die element wat hom gered het, maar sy geloof moes inhoud gehad het. In hierdie geval was die inhoud van sy geloof die offergawestelsel. As hy die offer na die Tabernakel of na die Tempel toe gebring het, het hy geglo dat sy sonde deur middel van die bloedstorting gedek sou word, en dat gemeenskap herstel sou word.

Die tweede manier waarop genade in hierdie bedeling betoon is, is deur God se voorsiening van rigters, konings en profete. Rigters is gegee om die Jode van onderdrukking deur verskeie volke te bevry. Regverdige konings is voorsien om aan hulle ’n koninkryk van regverdigheid en geregtigheid te gee. Profete is gestuur om die Wet uit te lê, om die mense opnuut tot gehoorsaamheid te roep, om hulle te herinner waar hulle tekortgeskiet het en om hulle aan te moedig om berou te toon.

VI. DIE BEDELING VAN GENADE: HANDELINGE 2:1-OPENBARING 19:21
A. Die name

Die sesde bedeling word die Bedeling van Genade genoem. Hoewel genade te vind was in al die ander bedelings, het ’n baie unieke betoning van genade in hierdie bedeling gemanifesteer wat verskil het van alle genadebetoning wat dit voorafgegaan het. Johannes 1:17 sê oor hierdie bedeling: Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

God was vir seker genadig vóór die koms van Jesus, want daar is baie bewyse van God se genade in die bladsye van die Ou Testament. Met die koms van Jesus was daar egter ’n heeltemal unieke betoning van genade. Dit is waarom dit die Bedeling van Genade genoem word. Dit is die bedeling wat in die hede nog van krag is.

Hierdie bedeling strek van Handelinge 2:1, aan die begin van die Heilige Gees se inwonende bediening, tydens Pinkster, tot by Openbaring 19:21. Dit dek die hele tydvak van die Kerk, en sluit ook die sewe jaar van die Groot Verdrukking in.

B. Die hoofpersoon
Die sleutelpersoon in die sesde bedeling was die apostel Paulus. Dit was slegs Paulus wat die openbaring oor die Bedeling van Genade ontvang het. Dit is nie toevallig dat hy meer openbaring as enige ander apostel ontvang het nie. Die meeste van die briewe of Epistels in die Nuwe Testament is deur die apostel Paulus geskryf. Soos hy dit duidelik in Efesiërs 3 stel, was dit hý wat ’n spesiale openbaring van die bediening van die genade van God (v 2) ontvang het. Hy, eerder as enige ander apostel, is die sleutelpersoon van hierdie bedeling.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die mens se verantwoordelikheid in die Bedeling van Genade is gehoorsaamheid aan die Nuwe Verbond. Gehoorsaamheid aan die Nuwe Verbond beteken om die gawes van geregtigheid te aanvaar wat God deur Jesus die Christus aan alle mense bied. Die punt van Romeine 5:15-18 is dat die mens verantwoordelik is om die gawe van die geregtigheid te aanvaar wat God aan alle mense deur die Messias van Israel bied.

D. Die mens se spesifieke toets
Die spesifieke toets van hierdie bedeling is eenvoudig dít: Sal die mens die gawe aanvaar? Sal die mensdom, in die geheel, God se aanbod van gratis redding deur die eenvoudige handeling van geloof in die persoon van Jesus die Messias aanvaar? Hierdie gratis geskenk word op grond van geloof gegee.

E. Die mens se mislukking
Soos met al die vorige bedelings, sal die huidige een ook in mislukking eindig. Dit blyk op twee maniere. In die eerste plek sal die meeste mense die gawe van die hand wys. Die meerderheid van die mensdom sal nie tot ’n reddende kennis van Jesus die Messias in ons tyd kom nie, net soos dit nie voor ons tyd gebeur het nie, en waarskynlik nie in die toekoms sal gebeur nie.

Die tweede manier waarop die onvermoë sal blyk, is dat die einste organisme wat kennis van die waarheid het, die Kerk, afvallig sal word, en selfs sal wegdraai van die waarheid af. Dit is reeds ’n skande dat die mens in die algemeen die waarheid verwerp, maar wanneer die Kerk self die waarheid verwerp waarvolgens dit geroep is, is dit nóg hartseerder.

F. Die mens se oordeel
Hierdie tydvak, die Tydvak van Genade, sal ook eindig met die faset van oordeel: die Groot Verdrukking. Die Groot Verdrukking sal oor die hele wêreld in die algemeen kom, want die mensdom het in die algemeen versuim om die gratis gawe van redding deur Jesus die Messias te aanvaar. Die ongelowige, sigbare kerk sal ook in die Verdrukking beland en die toorn van God beleef. Maar die gelowige, onsigbare Kerk, die ware gelowiges in die Kerk, sal van hierdie aarde af geneem word nog voor die Verdrukking begin.

Wat die vraag betref of die Kerk deur die Verdrukking sal gaan, is die antwoord ‘ja’ en ‘nee’. Die onsigbare Kerk, die Kerk wat werklik glo, sal weggeneem word vóór die Verdrukking. Maar daar is ongelowiges in die sigbare, afvallige kerk wat inderdaad deur die Groot Verdrukking sal gaan.

G. God se betoning van genade
Dit is hierin wat ons ook die faset van genade sien. Genade sal blyk uit die Wegraping van die Kerk in soverre die onsigbare Kerk, die ware Liggaam van Christus, wat bestaan uit alle ware gelowiges, weggeraap sal word van die aarde af. Selfs dié wat dood is se liggame sal opgewek word, sodat selfs nie eens hul liggame op die aarde sal wees tydens die sewe jaar van die Groot Verdrukking nie. Die Wegraping sal ’n unieke betoning van genade in die Bedeling van Genade wees.

VII. DIE BEDELING VAN DIE KONINKRYK OF MILLENNIUM: OPENBARING 20:1-10
A. Die name

Die sewende en laaste bedeling het ook twee name. Dit word die Bedeling van die Koninkryk of die Bedeling van die Millennium genoem. Die eerste naam beklemtoon die Messias se heerskappy oor hierdie spesifieke planeet. Die tweede naam beklemtoon hoe lank hierdie heerskappy sal duur: 1 000 jaar.

Hierdie bedeling dek die tydperk van Openbaring 20:1-10. Hoewel dit slegs tien verse lank is, dek dit ’n tydperk van 1 000 jaar.

B. Die hoofpersoon
Die hoofpersoon in hierdie geval sal die Messias wees, want direkte, nuwe openbaring sal van die Messias Self af uitgaan (Jes 2:2-4). Die nuwe bedeling sal op hierdie nuwe openbaring geskoei wees.

C. Die mens se verantwoordelikheid
Die verantwoordelikheid in die sewende bedeling gaan twee fasette hê. Die eerste faset sal dieselfde wees as dié van die sesde bedeling: verantwoordelikheid jeens die Nuwe Verbond. Gehoorsaamheid aan die Nuwe Verbond beteken om die gawe van geregtigheid te aanvaar wat God in Jesus die Messias aan alle mense bied.

Daar sal ’n tweede faset wees: gehoorsaamheid aan die Koning en die nuwe wette wat Hy in hierdie tydperk sal uitvaardig. In die Bedeling van die Koninkryk sal daar iets ‘ouds’ en iets ‘nuuts’ wees. Die oue is die verantwoordelikheid om te reageer op die eise van die Nuwe Verbond, wat beteken om geloof in Jesus die Messias en sy plaasvervangende Dood, Begrafnis en Opstanding te plaas. Die nuwe verantwoordelikheid is gehoorsaamheid aan die Koning wat dan sigbaar sal wees hier op aarde, en gehoorsaamheid aan die wette wat Hy sal uitvaardig.

D. Die mens se spesifieke toets
Die toets in daardie bedeling vir elkeen wat in die Koninkryk gebore word, sal wees om die Koning as sy persoonlike Here te aanvaar, nie in die evangelie se plek nie, maar as deel daarvan. Om die evangelie te aanvaar beteken dat ’n mens glo dat Jesus vir sonde gesterf het, begrawe is en opgestaan het. Bykomend hiertoe sal die aspek wees om die Koning as ’n mens se Here te aanvaar.

E. Die mens se mislukking
Die faset van mislukking sal ook in daardie toekomstige bedeling aanwesig wees. Die mens sal versuim om die Messias te aanvaar en, aan die einde van die Millennium, sal Satan weer eens in staat wees om die mensdom te mislei. Die Mensdom sal bymekaarkom vir een laaste opstand teen God se gesag deur Israel en die Heilige Stad self binne te val.

F. Die mens se oordeel
Die oordeel in hierdie bedeling sal die vernietiging van al hierdie aanvallende weermagte deur vuur uit die Hemel wees.

G. God se betoning van genade
Genade sal op drie hoofmaniere betoon word in hierdie besondere bedeling. Eerstens sal al die Ou-Testamentiese profesieë tydens die Koninkryk vervul word. Elke profesie wat tot op hierdie tydstip onvervuld gebly het, sal tydens die Messiaanse Koninkryk vervul word.

Die tweede manier waarop genade betoon sal word, is deurdat daar ’n tydperk van voorspoed vir die hele mensdom sal aanbreek, sodat elke mens in staat sal wees om onder sy eie wingerd, onder sy eie vyeboom te sit.

’n Derde manier waarop genade betoon sal word, is dat die gereddes onsterflik sal wees; gelowiges in die Koninkryk sal nie sterf nie; slegs ongelowiges in die Koninkryk sal sterf (Jes 65:20).

Dit is die sewende bedeling, en wanneer hierdie bedeling eindig, sal die geskiedenis van die aspek van tyd na die aspek van die ewigheid beweeg wanneer dit die Ewigheidstoestand betree (Op 21:1-22:5).
[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
     A. Omskrywing
     B. Die fasette van bedelings
I. DIE BEDELING VAN ONSKULD OF VRYHEID: GÉNESIS 1:28-3:8
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
II. DIE BEDELING VAN GEWETE OF SELFREGERING: GÉNESIS 3:9-8:14
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
III. DIE BEDELING VAN BURGERLIKE REGERING: GÉNESIS 8:15-11:32
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
IV. DIE BEDELING VAN BELOFTE OF PATRIARGALE REGERING: GÉNESIS 12:1-EXODUS 18:27
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
V. DIE BEDELING VAN DIE WET: EXODUS 19:1-HANDELINGE 1:26
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
VI. DIE BEDELING VAN GENADE: HANDELINGE 2:1-OPENBARING 19:21
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade
VII. DIE BEDELING VAN DIE KONINKRYK OF MILLENNIUM: OPENBARING 20:1-10
     A. Die name
     B. Die hoofpersoon
     C. Die mens se verantwoordelikheid
     D. Die mens se spesifieke toets
     E. Die mens se mislukking
     F. Die mens se oordeel
     G. God se betoning van genade

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

‘n Studie in die Ou en Nuwe Testamente aangaande die Godheid leer drie groot waarhede: Eerstens, die meervoudigheid van die Godheid: daar bestaan ’n meervoudigheid van persoonlikhede in die Godheid. Tweedens, die eenheid van die Godheid: die meervoudigheid is nie ’n meervoudigheid van gode soos in politeïsme nie, want daar is net een God. Derdens, die Drie-Eenheid van die Godheid: die meervoudigheid van die persoonlikhede van die een God is beperk tot drie: Vader, Seun, en Heilige Gees, nie meer nie, en nie minder nie. In die bespreking word vals leringe oor die Drie-Eenheid weerlê en sekere van God se kenmerkende eienskappe (attribute) word ook aangeraak