Hoekom moes die Messias sterf?

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

DIE geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham. – Matthéüs 1:1

INLEIDING
Aangesien die hele konsep van ’n sterwende Messias so vreemd in moderne Judaïsme is – hoewel dit eens ’n deel van Judaïsme was – is daar ’n vraag wat beantwoord moet word: “Hoekom moes die Messias sterf?” Namate ’n mens hierdie vraag beantwoord, ontstaan daar ’n tweede een: “Deur wat word ’n mens gered?”

As daar nou een tema is wat konsekwent deur die hele Skrif opduik, is dit die tema van redding deur bloed.

VOLGENS DIE OU TESTAMENT
Redding het nodig geword toe sonde deel geword het van die menslike sfeer en skeiding gebring het tussen God en mens. Toe Adam en Eva daardie eerste daad van ongehoorsaamheid gepleeg het, het sonde in die prentjie gekom en hulle van God geskei. Van toe af was bloed die middel waardeur die skeiding tussen God en mens oorbrug is. Hierdie oorbrugging van die gaping word “redding” genoem. In die geskiedenis van God se handeling met sy volk, was bloed altyd die middel wat redding gebring het.

Die reddende aspek van bloed word op dieselfde tydstip as sonde deel van die Skriftema, want voor sonde in die wêreld gekom het, was bloed nie nodig nie.

Ons lees in Génesis 3:21 wat gebeur het direk nadat die mens uit die Tuin van Eden verban is: En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Die velle was dierevelle. Die naaktheid wat op daardie tydstip deur die element van sonde onthul is, moes bedek word. Hierdie bedekking het egter die dood van verskeie diere genoodsaak, en so het dit gebeur dat bloed vir die eerste keer in die geskiedenis vergiet is. Dit is waar die stam van die Hebreeuse woord vir versoening vandaan kom, naamlik “bedekking”.

Die noodsaaklikheid van bloed was ’n les wat die eerste egpaar se kinders vinnig geleer het. Die tyd het aangebreek toe Abel en Kain hul offers aan God moes bring (Gén 4:3-16). Kain het die vrug van sy arbeid op die landerye as offer gebring. Sy offer het uit groente bestaan en was dus sonder bloed. Abel het ’n bloedoffer uit sy kudde gebring. Toe God die twee soorte offers beoordeel het, het Hy Kain s’n verwerp, maar Abel s’n aanvaar. Die les hierin was: ’n Mens kan nie tot God nader op die manier wat jóú pas nie. Dit is die mens wat gesondig het en so die heilige God aanstoot gegee het; God is die Een wat moet vergewe. Die mens kan dus nie die middel tot vergifnis kies nie; slegs God kan dit doen, en het God het besluit dat daardie middel bloed moet wees. Kain het besluit om op sy eie manier tot God te nader, maar Hy is verwerp. Abel het die manier gekies wat God verkies het, en sy offer is aanvaar.

Namate die bybelse geskiedenis in die boek Génesis ontvou, vind ons dat al die mense wat guns in God se oë gevind het, deur middel van bloed tot Hom genader het. Noag het onmiddellik ’n bloedoffer gebring toe hy die ark verlaat het. Ander prominente leiers in die Joodse geskiedenis het in sy voetspore gevolg: Abraham, Isak en Jakob het al drie groot sorg aan die dag gelê om God deur middel van bloed te nader. Toe Moses die Wet by die berg Sinaï ontvang het, het die reddende element van bloed dwarsdeur die hele Wet met sy 613 gebooie geloop.

In die derde boek van Moses, Levítikus 17:11, vind ons ’n knap opsomming van die hele Wet: Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.

’n Mens kan maklik sê dat die hele Wet om hierdie enkele stelling draai. God het deur die Wet gebooie gegee wat gehoorsaam moes word. Ongehoorsaamheid was sonde. As ongehoorsaamheid wel plaasgevind het, was bloed die versoeningsmiddel. Die boek Levítikus begin deur fyn besonderhede oor die verskillende tipe bloedoffers te verskaf. Al hierdie verskillende offers het dieselfde doel gehad: dat die Jood in die regte verhouding tot God kan staan.

Al sewe feeste van Israel – Paasfees, die Fees van die Ongesuurde Brode, die Oesfees, Pinkster, Joodse Nuwejaar, die Groot Versoendag en die Loofhuttefees – het bloedvergieting vereis. Levítikus 16 verskaf fyn besonderhede vir die viering van Joom Kippoer, die Groot Versoendag, en gee sorgvuldige instruksies vir die vergieting van bloed om versoening te bring vir die sonde van die Joodse volk. Die Tabernakel en die Tempel is albei ontwerp om die nodige bloedvergieting vir die versoening van die volk se sondes vinniger en makliker te laat geskied. Die Allerheiligste wat die Shekinah-heerlikheid, die sigbare manifestasie van God se teenwoordigheid, bevat het, kon slegs een keer per jaar deur een persoon, die hoëpriester, betree word. Om in te gaan, moes hy die bloed van die Joom Kippoer-offer by hom hê. Hierdie bloed moes op die Verbondsark gesprinkel word wat die kliptafels met die Wet bevat het.

Hierdie opdrag word in Levítikus 16:15-17 uiteengesit: Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon. En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel.

Hierdie beginsel het vir die res van die Ou-Testamentiese geskiedenis gegeld. Maar dit was ’n groot las vir die individu. Hierdie bloedoffers moes jaar na jaar herhaal word, en dit moes by die Tempel in Jerusalem geskied. Vir die Jode wat elders in die land gewoon het, was dit groot moeite om elke jaar te gaan om hul offers aan die Here te bring vir die versoening van hul sondes. Slegs die paar getroues, dié mense na wie die profete as “die Oorblyfsel” verwys het, was lief genoeg vir God en vir sy Wet om dit te doen ten spyte van die moeite wat dit meegebring het.

Ander mense het hul eie altare op berge en heuwels nader aan die huis opgerig en hul offers daar gebring. Geen versoening is egter by hierdie mededingende altare gebied nie, en God se profete het teen hierdie praktyk uitgevaar en hierdie afwyking van die Wet van God veroordeel. Baie mense het nie Kain se les geleer nie: dat ’n mens nie soos wat jý besluit na God toe kan kom vir vergifnis nie; ’n mens moet kom op die manier wat God Self bepaal het.

Jesaja die Profeet was die eerste persoon wat die hoop voorgehou het dat die dag sou aanbreek wanneer die jaarlikse juk gebreek sou word. In Jesaja 53 het God verklaar dat die Lydende Dienskneg, die Messias, die sonde-offer sou word.

Ons lees in Jesaja 53:10-11: Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.

Jesaja 53 beteken basies dat die Wet van Moses diereoffers tydelik ingestel het; dit was slegs ’n tydelike maatreël. God se plan was dat daar een finale bloedoffer moes kom, en daardie offer sou die Messias Self wees.

Dit is hoekom Jesaja 53 dieselfde tipe bewoording, stylfigure en klem gebruik wat ons in die boek Levítikus aantref. Ons kry byvoorbeeld in vers 10b die uitdrukking: sy siel [as] ’n skuldoffer aangebied het.

Dit is ’n offerande-konsep; hierdie woorde kom uit die Wet van Moses self.

In vers 11b lees ons: deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.

Hierdie offerwoorde word nie net algemeen in die Ou-Testamentiese Wet gebruik nie, maar meer presies: ons lees oor hierdie einste terme in Levítikus 16, die hoofstuk wat die besonderhede oor die offer op Joom Kippoer, die Groot Versoendag, uiteensit en verduidelik.

Dit is met ander woorde hoekom die Messias moes sterwe: om vir eens en vir altyd die bloedoffer vir sonde te bring. Die Jode sou nie meer opgesaal wees met die jaarlikse offerandes nie. Al wat ’n mens hoef te doen, is om die Messias se dood vir sy onthalwe te aanvaar, en sy sondes sal vergewe word. Die Messias moes sterf om daardie versoening te bewerkstellig, want bloed is die middel waardeur redding plaasvind.

Daar is nog ’n sleutelkwessie in hierdie twee verse uit Jesaja 53. Daar is ’n stelling hier wat effe verwarrend is. Vers 11b lees soos volg: deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak.

’n Meer direkte vertaling van die Hebreeuse teks sal soos volg lees: “die kennis van hom sal my regverdige vele regverdig maak.”

Die woord vir kennis is ’n Hebreeuse woord wat klem plaas op ervaringskennis, nie bloot intellektuele kennis nie. Dit is hartkennis of geloofskennis. Hierdie Dienskneg sal diegene wat geloofskennis van Hom het deur “die kennis van hom” – dat Hy vir ons sonde gesterf het, nie sy kennis nie – regverdig maak. Regverdigmaking beteken “om regverdig verklaar te word”. Ons kan nie regverdig verklaar word tensy daar versoening gedoen is vir ons sondes nie. Daar kan slegs deur bloedvergieting versoening gedoen word vir ons sondes; die Messias se bloed sou die finale bloed wees wat geoffer word.

II. VOLGENS DIE NUWE TESTAMENT
Die boek Hebreërs in die Nuwe Testament is die teenwig van die boek Levítikus in die Ou Testament. Om Hebreërs te verstaan, moet ’n mens eers Levítikus verstaan. Net soos Levítikus 17:11 die sentrale gedeelte is waarom die hele boek en die Wet draai, het die boek Hebreërs ook ’n sentrale vers wat dieselfde punt maak, Hebreërs 9:22: En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Levítikus 17:11 se beginsel was dat die bloed versoening gedoen het vir die siel. Die Nuwe Testament gebruik ander woorde, maar verkondig dieselfde boodskap: dat sonder bloedvergieting daar geen vergifnis plaas[vind] nie. Alles word deur bloed gereinig.

Die Hebreërboek is deur ’n Hebreeuse gelowige aan ’n groep Messiaanse gemeentes in Israel geskryf. Dit borduur voort op die tema van Levítikus en die profesie van Jesaja om te wys dat die Messias se offer by verre die beste is. Dit blyk uit ’n paar teksgedeeltes. Let fyn op hoe die skrywer heeltyd twee dinge in gedagte hou: eerstens, die boek Levítikus met sy diere-offers, en tweedens, Jesaja 53 met die Messias as die finale offer.

In Hebreërs 2:16-18 lees ons die volgende: Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Hierdie gedeelte wys dat die Messias as ’n Jood gekom het, en dat Hy al die probleme wat Jode gehad het, deurgemaak het sodat hy ’n genadige en simpatieke hoëpriester kon word. Die rede hoekom die Messias as ’n Jood gekom het, was sodat Hy ook onder die Wet kon lewe en die las van die Wet op Hom kon neem. Hy kon duidelik meegevoel hê met die Jode se toedrag van sake onder die Wet.

Hebreërs 4:14-15 is ook ’n belangrike gedeelte: TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

Hierdie teksgedeelte borduur voort op dieselfde punt: dat Jesus die simpatieke hoëpriester is wat verstaan wat ’n individu moet deurgaan, omdat Hy Self al hierdie dinge moes deurgaan.

In Hebreërs 7:22-25 kry ons nog ’n gedeelte: … in sover het Jesus van ’n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

Die voordeel van die Messias se Priesterskap word uitgewys deur die ander priesters se sterflikheid. ’n Hoëpriester kon die amp vul, maar hy sou een of ander tyd sterf. Dan moes daar ’n nuwe priester gekies word en het die hele kringloop van voor af begin. Die kringloop van lewe en dood was een van die ou priesterdom se nadele. Die voordeel van die Messias se Priesterskap blyk daaruit dat dit vir ewig staan. Jesus is uit die dood opgewek, en op grond van sy Opstanding bly Hy vir altyd ’n hoëpriester.

Hebreërs 7:26-27 wys nog ’n tekortkoming van die Levitiese priesterdom uit: Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.

Hierdie teksgedeelte wys dat die offers dag na dag en jaar na jaar herhaal moes word. Die Messias sou vir eens en vir altyd die sondeoffer wees. Dit is wat gebeur het toe Jesus gekom en sy eie bloed as versoening vir sonde geoffer het.

In die ou priesterorde moes die hoëpriester eers vir sy eie sondes bloed vergiet en ’n offer bring voor hy bloed kon vergiet en ’n offer kon bring vir die sondes van die volk. Aangesien Jesus sonder sonde is, het Hy nie nodig gehad om eers vir sy eie sondes versoening te doen nie; Hy het met sy eie bloed versoening bewerkstellig vir almal wat dit aanvaar. Hy het natuurlik vir die hele wêreld versoening bewerkstellig, maar die versoening geld net vir hulle wat glo.

Die eerste nadeel van die Levitiese Priesterorde was dat die priesters uiteindelik sou sterwe. Die tweede nadeel van die ou stelsel was dat die offers jaar na jaar herhaal moes word. Die derde nadeel was dat die aardse priester vir sy eie sondes versoening moes vra voor hy versoening vir enigiemand anders se sondes kon bewerkstellig. Die priesterskap wat Jesus die Messias ons bied, het al drie hierdie nadele uitgeskakel.

Eerstens, aangesien Jesus uit hoofde van sy Opstanding nou vir ewig lewe, sal sy priesterskap nooit onderbreek word nie.

Tweedens, aangesien die Messias onskuldig was, was die vergieting van sy bloed eenmalig. Jesus sal nooit weer sy bloed hoef te stort nie. Dit is nog ’n duidelike voordeel bo die Wet van Moses: die Messias se offer hoef nooit herhaal te word nie. Dit was eenmalig en vir altyd.

Die derde situasie is dat, hoewel die aardse priester in die Ou-Testamentiese stelsel eers vir sy eie sondes versoening moes doen, ons Messias ’n sondelose Messias is wat nie nodig het om dit te doen nie. Jesus hoef nie ’n offer vir sy eie sonde te bring voor Hy ’n offer vir ander se sonde bring nie. Ons Hoëpriester is met ander woorde ’n sondelose priester, teenoor die Levitiese Priesterdom wat ’n sondige priesterorde was.

Die Hebreërboek hanteer die vraag oor hoekom die Messias moes sterwe streng volgens die eise van die boek Levítikus en die hoop van Jesaja 53. Die dinge waarop die Ou Testament gehoop het, is in die Nuwe Testament heeltemal tot vervulling gebring deur die Messias se dood.

Die wyse waarop die Messias bo alle ander offerandes uittroon, word in Hebreërs 9:11-15 uitgewys: Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ’n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. En daarom is Hy Middelaar van ’n nuwe testament, sodat, terwyl daar ’n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.

Anders as die diereoffers, het Jesus se offer ewige redding eerder as tydelike versoening gebring. Dit is die vierde verskil tussen die twee bedelings.

Boonop het die Jood bewus gebly van sy sonde, selfs ná die diereoffer. Geloof in die offer wat Jesus gebring het, bring egter volkome reiniging van die bewustheid van sonde. Dit is die vyfde teenstelling.

Ons vind nog ’n teksgedeelte in Hebreërs 9:28: … so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.

Hier word die tweeledige aspek van die Messias se werk aan ons voorgehou. Jesus het aanvanklik gekom om die volk se sonde-offer te wees, net soos die Lydende Dienskneg van Jesaja 53 veronderstel was om te doen. Net soos die Lydende Dienskneg die Een was wat die sondes van baie moes wegneem, het Jesus dit deur sy dood gedoen. Die vers sê verder dat Jesus ’n tweede keer met ’n ander doel sal kom. Die doel van die Eerste Koms was om vir ons sonde te sterf. Die doel van die Wederkoms sal wees om die Messiaanse Koninkryk te vestig.

Daar word weer eens ’n kontras gestel tussen die diereoffers en die bloedoffers van Jesus in Hebreërs 10:1-4: WANT die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. Maar in dié offers is daar jaar na jaar ’n herinnering aan die sondes; want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.

Die diereoffers moes jaar na jaar herhaal word. Hoewel hierdie offers tydelike versoening gebring het, het dit nooit permanente vergifnis van sonde gebring nie. Die jaarlikse offers het eerder gedien om die Joodse persoon aan sy sonde te herinner; hy het geweet dat hy die volgende jaar ook weer ’n offer sou moes bring. Die sondebesef was nog steeds daar. Maar Jesus se offer was eenmalig en hoef nooit herhaal te word nie. Die aanvaarding van Jesus se offer bring nie tydelike versoening nie, maar permanente vergifnis. ’n Mens word nie voortdurend aan jou sonde herinner as jy Jesus se plaasvervangende dood vir jou sonde aanvaar nie; jy ontvang volkome reiniging. Dit is hoekom Jesus se offer soveel beter as die diereoffers van die ou stelsel is.

Die laaste teksgedeelte is Hebreërs 10:10-14: Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

Hierdie teksgedeelte wys weer eens hoe die hoëpriester dag vir dag offers moes bring, en hoe sy werk nooit einde gekry het nie. Die hoëpriester “staan” om aan te dui dat sy bediening nog nie voltooi is nie. Maar Jesus, wat Homself eenmalig geoffer het, “sit aan die regterhand van God,” wat wys dat sy werk voltooi is. Die diereoffers het jaarlikse versoening gebring, maar nooit sonde permanent weggeneem nie. Maar dié wat Jesus se offer aanneem, word vir altyd volmaak; hul sondes word permanent weggeneem.

Op die vraag “Hoekom moes die Messias sterf?” bied die Nuwe Testament ’n tweeledige antwoord: eerstens, om al die Ou-Testamentiese profesieë en vereistes te vervul, en tweedens, om ’n permanente versoening te bewerkstellig eerder as ’n tydelike een.

GEVOLGTREKKING
Die gevolgtrekking van die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament is dat bloed die middel tot redding was, en dat die permanente bloedoffer die Messias Self sou wees. Volgens die Ou Testament is dit hoekom die Messias moes sterf. Volgens die Nuwe Testament is dit hoekom Jesus wel gesterf het. Die Nuwe Testament het nooit ’n ophef gemaak oor wie verantwoordelik was vir Jesus se dood nie, want Jesus moes sterf. Dit het eers jare later ’n kwessie geword toe anti-Semitiese elemente verskonings gesoek het om Jode te vervolg. Die dringendste kwessie in die Nuwe Testament self is of ’n mens Jesus se plaasvervangende offer vir jouself toeëien of nie.

III. JOODSE BESWARE TEEN JESUS
A. Watter soort God het julle?

Party Joodse besware teen Jesus se Messiasskap is gegrond op hul bevraagtekening van die Maagdelike Geboorte en Jesus se Opstanding uit die dood. Die besware teen hierdie twee gebeure is egter nie die ware kwessie nie. Die ware kwessie gaan oor die soort God waarin ’n mens glo. Die vraag is nie “Is iets soos die Maagdelike Geboorte moontlik?” of “Is iets soos opstanding uit die dood moontlik?” nie. Uit ’n streng menslike oogpunt is dit nie. Die vraag is eintlik: “Kan God sulke dinge doen?” As Hy nie kan nie, is Hy nie juis ’n wafferse God nie. Maar God is God, en uit hoofde van wat daardie titel impliseer, insluit en aandui, kan Hy enigiets doen wat Hy wil. Die enigste perke waaraan God onderwerp kan word, is die perke wat Hy vir Homself stel.

As God almagtig is, is dinge soos die Maagdelike Geboorte en die Opstanding vir Hom maklik om te reël. Dit is ongelooflik inkonsekwent om toe te gee dat God die hemel en die aarde geskape het, en dan sy vermoë om ’n Maagdelike Geboorte te bewerkstellig in twyfel te trek. As Hy die heelal se verstommende uitgestrektheid en die kompleksiteit van die selstruktuur kon skep, is die Maagdelike Geboorte en die Opstanding baie eenvoudige kwessies. Vir ’n Jood wat in God glo, is daar geen rede om die Maagdelike Geboorte te betwyfel nie. Die eintlike vraag is: “Het dit met Jesus se geboorte gebeur?” Die Ou Testament het gesê dat dit met die Messias sou gebeur. Die Nuwe Testament sê dat dit wel met Jesus gebeur het.

B. Jesus het nie vrede gebring nie
Die algemeenste beswaar wat ’n mens teen Jesus se Messiasskap hoor, is die volgende: “Hy kan nie die Messias wees nie, want Hy het nie vrede bewerkstellig nie.” Wel, te wyte daaraan dat niemand Hom wou aanvaar nie, kon Hy nie juis vrede bewerkstellig nie, of hoe? Buitendien, die doel van die Messias se eerste koms, of soos die vroeë rabbi’s geleer het, die doel van die koms van die eerste Messias – Messias, die Seun van Josef – was nie om vrede te bewerkstellig nie, maar om te ly en te sterwe. Die koms van die tweede Messias – Messias, die Seun van Dawid – of, in Nuwe-Testamentiese terme, die Messias se wederkoms sou vrede bring. Jesus se Messiasskap moet dus eerstens gemeet word aan die vraag of Hy wel vir sonde gely en gesterf het, en tweedens of dié wat in Hom glo, regverdigmaking en vergifnis van sonde ontvang het. Die ooggetuieverslae wat ons in die Nuwe Testament lees, getuig daarvan dat Hy vir Israel se sonde gely en gesterf het. En baie getuig dat Jode vergifnis van sonde ontvang en ervaar deur geloof in die plaasvervangende dood van Jesus. Talmoediese Judaïsme én die Nuwe Testament stem saam dat die koms van ’n Messias wat vrede bring, voorafgegaan sal word deur die koms van ’n Messias wat sal ly en sal sterwe. Die verskil lê by eersgenoemde se aanspraak op twee verskillende Messiasse teenoor laasgenoemde se aanspraak dat dit een en dieselfde persoon is, naamlik Jesus. Hoewel dit dus waar is dat Jesus nie vrede bewerkstellig het nie, was dit nie die doel van die Messias se Eerste Koms nie. Dit is nie ’n geldige argument teen sy Messiasskap nie, want Jesus sál weer kom en dan sál Hy vrede bring.

C. Teologiese besware
Rabbiniese owerhede se teologiese besware teen Jesus het in só ’n mate aanhoudend op dieselfde kwessies gehamer dat dit stereotiep geraak het. Dit draai gewoonlik om drie vrae: eerstens, die Maagdelike Geboorte; tweedens, Jesus se aanspraak dat Hy die Seun van God is, en derdens, die feit dat die Jode nie kan glo dat ’n mens God kan word nie. Ons het reeds die besware teen die Maagdelike geboorte in hierdie studie hanteer. Die kwessie is steeds die soort God waarin ’n mens glo.

Wat Jesus se aanspraak betref dat Hy die Seun van God is, klink een beswaar soos volg: “Die Nuwe Testament beskryf Jesus as die seun van God en as die Messias. Judaïsme erken egter nie ’n seun van God wat geheilig is en bo ander mense verhef is nie. Die Jode glo dat alle mense gelyk is voor God, en dat geen sterflike mens aanspraak kan maak op goddelikheid nie.”

Hier is ’n voorbeeld van hoe Jesus se Messiasskap suiwer op grond van moderne Judaïsme beoordeel word. Die skrywer sê: “Jesus kan nie die Messias wees nie, want Judaïsme erken in die eerste plek nie ’n Seun van God nie.” Die skrywer sou eerliker gewees het as hy gesê het dat die vorm van Judaïsme wat hy ken – wat slegs moderne Judaïsme is – nie ’n Seun van God erken nie. In die geval van Hervormde Judaïsme sal daar hoegenaamd geen Messias wees nie! Die skrywer ignoreer basies eeue se Joodse teologiese diskoers wat vir seker die Messias as die Seun van God beskou. Indien die skrywer moeite gedoen het om na die vroeë rabbiniese vertolkings van Psalm 2 te kyk, sou dit hom geleer het om nie so ’n onverantwoordelike stelling te maak nie. Die Ou Testament, wat die grondslag van Judaïsme vorm, het wel gesê dat God ’n Seun sou hê. Dié Seun is die Messias Self. Die vraag is nie of Judaïsme dit erken of nie. Die vraag is of die Bybel so sê, en die Ou Testament sê dit beslis hard en duidelik!

Die Jode kan natuurlik ook nie glo dat enige mens God kan word nie, en dit is waarom die Jode Jesus nie kan aanvaar nie. In die eerste plek is dit heeltemal reg dat ’n mens nie God kan word nie; geen mens kan aanspraak maak op goddelikheid nie. Dit is waar moderne Judaïsme die lering van die Nuwe Testament verkeerd vertolk het. Die Nuwe Testament het nooit aangevoer dat Jesus ’n mens was wat God geword het nie. Dit is kettery. Dit druis loodreg in teen enige vorm van Judaïsme, hetsy bybels, rabbinies of andersins; dit druis ook in teen geloof in die Messias. Nie die Nuwe Testament of Jesus het ons ooit probeer leer dat daar ’n mens was wat God geword het nie.

Die Nuwe Testament voer die teendeel aan: Dit was God wat mens geword het in die persoon van Jesus van Nasaret. Indien God mens geword het, sou hierdie persoon vir seker voortrefliker as ander mense gewees het. Hy sou die God-Mens wees. Judaïsme probeer tog seker nie sê dat God nie ’n mens kan word as Hy dit wou doen nie. Die God van bybelse Judaïsme is almagtig. God kan enigiets doen wat Hy wil. As daar enigiets is wat God nie kan doen nie, is Hy nie volkome God nie. Die eintlike vraag is dus “Het God besluit om mens te word?” en nie “Kan Hy?” nie. Die Nuwe-Testamentiese antwoord is: Ja, God het mens geword. Dit is verstommend hoe baie rabbiniese geskrifte oor Jesus weier om hierdie spesifieke punt onder die loep te neem, maar daarop aandring om te argumenteer oor hoe ’n mens God kon word.

Ander algemene besware tas ook die eintlike punt mis. Een so ’n voorbeeld is die feit dat Jesus sondes vergewe het – iets wat net God kan doen. Dit is inderdaad so, slegs God kan sondes vergewe. Maar as Jesus die God-mens was, God wat mens geword het, sou die vergifnis van sondes deel van die outoriteit van hierdie God-mens gewees het.

Nog ’n beswaar in hierdie trant handel oor die feit dat Jesus sy wonderwerke in sy eie Naam gedoen het. In die eerste plek moet ’n mens sê dat Jesus wel by baie geleenthede gesê het dat Hy sy wonderwerke deur die krag en outoriteit van die Gees van God doen. Dit is waar dat die profete wonderwerke gedoen het en aan God erkenning gegee het daarvoor, maar weer eens: die Messias was nie maar net nog ’n mens of nog ’n profeet nie. Rabbiniese teorieë het gesê dat die Messias dinge in sy eie Naam sou kon doen omdat Hy die Naam van God Self sou hê. Dit is waarom die Messias so ’n prominente rol in rabbiniese teologie bly speel het. Dít is hoekom die Joodse volk voor die koms van moderne liberalisme eeue lank heeltyd uitgesien het na die koms van die Joodse Messias. Die Messias sou soveel outoriteit en soveel krag hê dat Hy hierdie dinge in sy eie Naam sou kon doen. Jesus het daardie dinge in sy eie Naam gedoen. Deur dit in sy eie Naam te doen, het Hy sy aanspraak op Messiasskap versterk eerder as om dit te verswak.
[end]

Inhoudsopgawe
I. VOLGENS DIE OU TESTAMENT
II. VOLGENS DIE NUWE TESTAMENT
GEVOLGTREKKING
III. JOODSE BESWARE TEEN JESUS
     A. Watter soort God het julle?
     B. Jesus het nie vrede gebring nie
     C. Teologiese besware

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Een van die grootste dade van God se genade was die Messias (Christus) se dood. Tien spesifieke resultate wat die Messias se dood tot gevolg gehad het, word bespreek.