Hoekom red God vandag heidene?

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit. – Jeremia 31:31

In die afgelope eeue was die kwessie of God vandag Jode red, maar in die eerste-eeuse gemeentes was die wesenlike vraagstuk: Red God Heidene? En indien wel, hoekom?

INLEIDING – DEUTERONÓMIUM 32:8-9
Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.

God het ’n oorhoofse profetiese program en hierdie profetiese program word onderverdeel in drie afsonderlike planne: God het ’n plan vir Israel; Hy het ’n plan vir die Kerk; en Hy het ’n plan vir die Heidennasies. Maar al drie planne van God se oorhoofse profetiese program sentreer tot so ’n mate rondom die Joodse volk dat, soos Moses in hierdie verse skryf, toe God die grense vasgestel het vir elke latere afsonderlike nasie, Hy dit in Sy voorsienigheid op die een of ander wyse gebaseer het op die getal Jode wat ’n rol sou speel in die geskiedenis van daardie nasies.

In vers 8 noem Moses God die Allerhoogste. Volgens Génesis 14:18-20 word God, elke keer as Hy die Allerhoogste genoem word, onderskryf as die Skepper van hemel en aarde. As die Skepper van hierdie aarde kan Hy dit dus onderverdeel soos dit Hom behaag en enige deel van die aarde volgens Sy keuse gee aan enige nasie of stam of volk. Maar toe Hy dit gedoen het, toe Hy voorsienend vasgestel het wat uiteindelik byvoorbeeld van die Verenigde State van Amerika sou word, was dit op die een of ander wyse gebaseer op die getal Jode wat ’n rol sou speel in die Amerikaanse geskiedenis.

Vers 9 verklaar: Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel. As God dus ’n program het vir die redding van die Heidene, moet dit ook op die een of ander wyse verbind wees met Sy program vir die Joodse volk. Daar is twee redes vir die redding van die Heidene en albei van hulle is direk verbonde aan God se plan en program vir die Joodse volk. Een, om ’n volk uit die Heidene vir Sy Naam aan te neem, en tweedens, om die Jode jaloers te maak.

I. OM ’N VOLK UIT DIE HEIDENE VIR SY NAAM AAN TE NEEM – HANDELINGE 15:13-18
Vir die eerste sewe hoofstukke van die Boek Handelinge het die evangelie slegs in die Joodse binnekring gebly, maar met die steniging van Stéfanus het dinge begin verander. In hoofstuk 8 het die evangelie na die Samaritane uitgegaan. Vir die gemeente in Jerusalem was dit ’n redelik onverwagse gebeurlikheid, maar omdat die Samaritane wel Joodse voorsate gehad het, is dit uiteindelik so aanvaar. Dan, in hoofstuk 9, red God vir Paulus en roep hom tot Apostel vir die Heidene. In hoofstuk 10 gebruik Hy eers vir Petrus om die deur van die Liggaam vir die onbesnede Heidene oop te maak. Dit het die eerste twispunt in Jerusalem veroorsaak, maar nadat Petrus in hoofstuk 11 verduidelik het dat hy genoodsaak was om gehoorsaam te wees aan ’n visioen wat hy ontvang het, is die geskil besleg. In hoofstukke 13-14, egter, toe Paulus en Bárnabas uitgestuur is en hoofsaaklik kerke onder die Heidene begin plant het, en dit nogal onbesnede Heidene daarby, het twispunte weer van nuuts af opgevlam.

In hoofstuk 15 dus, kom die heel eerste kerkraad in Jerusalem byeen om die kwessie aangaande die redding van die Heidene te bespreek: Word Heidene gered slegs op grond van genade uit geloof of moet hulle ook besny word en die Wet onderhou? Nadat Petrus en Paulus hulle getuienisse gegee het, het Jakobus, die leier van die gemeente, opgestaan en sy finale uitspraak gelewer, in Handelinge 15:13-18: En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

Die kern frase is in vers 14: om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem, en dit is die eerste rede vir die redding van die Heidene.

A. Die Situasie Voor Handelinge 2
Vandat die Joodse volk begin aanwas het na die tyd van Abraham, Isak en Jakob, was daar altyd twee Israels. Daar was Israel as geheel, naamlik alle Jode, almal wat die afstammelinge was van Abraham, Isak en Jakob. Maar binne die groter Israel was daar die kleiner Israel wat deur die profete die Oorblyfsel van Israel genoem is. In Galásiërs 6:16 noem Paulus hulle die Israel van God. Dit was hierdie segment van die Joodse volk wat geglo het wat God deur Moses en die Profete geopenbaar het. Jesaja 8:14-16 wys uit dat dit wat die Oorblyfsel van die nie-Oorblyfsel onderskei het, hulle ingesteldheid teenoor die Wet en die Profete was: die Oorblyfsel het geglo wat God geopenbaar het, terwyl die nie-Oorblyfsel God se openbaring verwerp het en afgodery en die okkulte nagejaag het. Jesaja het ook voorspel dat Immánuel, wanneer Hy uiteindelik sou kom, die nuwe skeidingspunt sou wees tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel: die Oorblyfsel sal Immánuel aanneem, maar die nie-Oorblyfsel sal Hom verwerp.

Met die Nuwe Testament gaan hierdie program voort, en daarom skryf Paulus in Romeine 11:5-6, daar is selfs vandag ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. En inderdaad, wat vandag die Oorblyfsel afskei van die nie-Oorblyfsel, is dat die Oorblyfsel in die Messiasskap van Jesus glo, terwyl die nie-Oorblyfsel Hom verwerp (Rom. 11:1-14; I Pet. 2:1-10). Daardie program het nie verander nie, maar wat daaraan toegevoeg is, is dat God nou ’n soortgelyke reëling met die Heidene het. Die Oorblyfsel is God se volk vanuit Israel wat vir Hom geestelik ’n volk ter wille van Sy Naam is, en nou sal God ook ’n volk ter wille van Sy Naam vanuit die Heidene hê. Daar sal Jode wees wat glo en Heidene wat glo, almal verenig binne hierdie een Liggaam. Maar Joodse gelowiges het dubbele burgerskap omdat hulle lede is van die Israel van God sowel as lidmate van die Kerk.

B. Die Messiaanse Bediening Volgens die Ou Testament
As die vroeë Joodse gelowiges die messiaanse bediening van die Ou Testament ’n bietjie beter verstaan het, naamlik die feit dat God ’n program sou hê vir die redding van die Heidene wat streng berus op grond van genade deur geloof, sonder besnydenis, sonder die Wet, sou dit hulle nie onverhoeds betrap het nie.

Reeds in Génesis 12:3 toe God Sy verbond met Abraham opgerig het, het Hy gesê: in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Dit is die eerste keer waar die Abrahamitiese Verbond voorkom, en hierin het God ’n belofte gemaak dat die geestelike seëninge van die Abrahamitiese Verbond ook eendag tot die Heidene uitgebrei sou word. Die Abrahamitiese Verbond omvat beide fisiese beloftes en geestelike beloftes. Terwyl die fisiese beloftes alleenlik beperk is tot die Jode, sou die geestelike beloftes uitgebrei word tot die Heidene.

Die Profete het verklaar dat die Messias die bemiddeling sou wees waardeur hierdie geestelike beloftes tot die Heidene uitgebrei sou word.

1. Die Begunstigdes: Jesaja 42:1 en 6
Jesaja se geliefkoosde titel vir die Messias is die Kneg van die HERE. Regdeur hierdie boek van hom vind ons verskeie skrifgedeeltes oor “die Kneg van die HERE.” Een voorbeeld is Jesaja 42:1 en 6.

Vers 1 verklaar: Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.

Vers 6 verklaar: Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat U hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig vir die nasies.

In vers 1 toon Jesaja aan dat ’n deel van die messiaanse bediening insluit: om die reg, geregtigheid, na die nasies uit [te] bring. In vers 6 verklaar hy dat die messiaanse bediening twee verskillende volke sou begunstig. Een, Hy sou ’n verbond van die volk wees in die opsig dat die Messias die Een sou wees wat al God se verbondsbeloftes aan die Joodse volk sou volbring. Die woord volk is ’n enkelvoudige selfstandige naamwoord en verwys na die Joodse volk. Tweedens sou Hy ook ’n lig vir die nasies wees. Wat Jesaja nie hier verklaar nie, is die chronologiese volgorde waarin dit sal gebeur, hy sê net dat altwee dinge sal plaasvind.

2. Die Chronologiese Volgorde: Jesaja 49:1-13
Verse 1-4 beskryf die Messias in die stadium van ontmoediging weens Israel se verwerping van Sy aansprake op Messiasskap. Die beste plek waar hierdie verse inpas, is as deel van Sy foltering in Getsémané. Terwyl die Evangelieskrywers een faset van Sy worsteling benadruk, openbaar Jesaja ’n ander faset: Hy het geworstel oor Israel se verwerping van Sy aansprake op Messiasskap. Vanuit ’n menslike perspektief gesien, sou dit impliseer dat Sy messiaanse bediening in mislukking geëindig het. Volgens Lukas se weergawe van die worsteling in Getsémané in Lukas 22:39-46, kom daar op hierdie tydstip, deur ’n engel, ’n boodskap van God die Vader tot die Messias.

Die boodskap is in Jesaja 49:5-6: En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word – en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte – en Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

Die boodskap van die engel aan die Messias is: Hoewel dit Sy doel was om Israel se finale herstel te bewerkstellig, was dit nie die somtotaal van die messiaanse bediening nie. Om net alleenlik die Oprigter van Israel te wees, sou te gering of ’n te eenvoudige bediening vir die Messias wees. Op hierdie weg sou die Messias God se heil … wees tot aan die einde van die aarde. Die beeldspraak, “die einde van die aarde,” verwys na die groter Heidenwêreld en word ook gebruik in Handelinge 1:8. God het ’n wyer bediening vir die Messias gehad, een wat sou insluit dat Hy ’n lig van die nasies sou wees. In die program van God sou die Messias dus kom en deur Sy eie mense verwerp word, maar as die uitvloeisel van daardie verwerping sou Hy dan ’n lig van die nasies word. Dit sal die eerste deel van die messiaanse bediening volgens Jesaja 42:6 vervul.

Uiteindelik sal die tydperk van Hom as ’n lig van die nasies eindig, en die profesieë van vers 8 sal voortgaan: So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe.

Op ’n sekere tyd sal die program van Hom as ’n lig van die nasies voltooi wees en dan sal Hy weer met Israel begin handel, totdat Israel as volk Hom sal aanneem. Dan sal Hy ’n verbond van die volk wees; Hy sal die hele volk in die Land herstel en Hy sal die hele Land vir die volk gee. Wat die chronologiese volgorde betref, sal hy eers ’n lig van die nasies wees, en dan sal hy ’n verbond van die volk wees. Die chronologiese volgorde wat hier in Jesaja 49 gegee word, is dieselfde as dié in Romeine 9-11.

Die redding van Heidene was altyd deel van die messiaanse bediening van die Ou Testament, en as die Joodse gelowiges dit maar net besef het, sou hulle nie onverhoeds betrap gewees het nie. Wat die Ou Testament gesê het sou gebeur, is in die Nuwe Testament bevestig dat dit gebeur het.

C. Die Roeping van die Heidene: Romeine 9:1-24
In verse 1-23 bevestig Paulus dat dit wat Jesaja geprofeteer het, nou bewaarheid is. Hy toon aan dat Israel se verwerping van die Messias nie vir God ’n verrassing was nie; dit was deel van die goddelike plan. Hoewel, soos vers 6 aandui, die meerderheid van Israel Hom verwerp, is daar steeds ’n Oorblyfsel van Israel wat Hom aanneem, en hulle is die ware Israel.

Die verwerping was egter deel van die hele goddelike plan, want hierdeur het die evangelieboodskap na die Heidene uitgegaan soos wat Paulus in vers 24 sê: ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?

In Paulus se ontwikkeling van die relaas, wys hy daarop dat God nie net die God van die Jode is nie, Hy is ook die God van die Heidene. As die God van die Jode, het Hy ’n program van redding vir die Jode; maar om dieselfde rede, as die God van die Heidene, het Hy ook ’n program van redding vir die Heidene. Paulus verklaar dat hierdie program van redding vir die Heidene nou in alle erns begin het, en inderdaad was die aantal Heidengelowiges, teen die tyd dat hy hierdie brief geskryf het, reeds meer as die aantal Joodse gelowiges.

D. Mededeelgenote: Die Posisie van die Heidene
Dit lei natuurlikerwys tot die volgende vraag, “Noudat God onbesnede Heidene red omdat hulle hul geloof geplaas het in die dood en opstanding van die Messias as versoening vir hulle sondes, wat is die posisie van die Heidene met betrekking tot die Jode, en wat is spesifiek die posisie van die Heidene met betrekking tot die Joodse verbonde?”

Sedert die tyd van Augustinus, een van die vroeë kerkvaders, was die algemene leer omtrent die posisie van die Heidene, dat die Kerk Israel se verbonde oorgeneem het. Hierdie lering word op twee maniere gestel. Een manier waarop dit gestel word, is dat God, toe Israel die Messias verwerp het, al die verbondsbeloftes oorgedra het na die Kerk; dit is dus ’n oordragsteologie. ’n Meer algemene manier waarop dit vandag gestel word, is dat die Kerk Israel vervang het ten opsigte van God se verbonde, en dus is dit ’n vervangingsteologie. Dit wil sê, die verbonde word in, deur, of deur middel van die Kerk volbring, en daarom is daar geen besondere etniese toekoms vir die Joodse volk nie. Selfs hulle besef egter dat die Kerk nie hierdie verbondsbeloftes en profesieë letterlik vervul nie, en daarom maak hulle daarop aanspraak dat hierdie beloftes en profesieë allegories geïnterpreteer moet word. Hulle beweer dat wanneer die Bybel van die versameling van die Jode in die Land praat, dit nie ’n letterlike herstel van die Joodse volk terug in die Land Israel beteken nie, maar dit moet allegories verklaar word as God se insameling van Sy uitverkorenes binne die Kerk. Dit is hoe hulle baie van hierdie “herversameling” profesieë interpreteer. Vanuit hulle perspektief dus, het die Kerk Israel se verbonde oorgeneem.

1. Met Betrekking tot die Middelmuur van Skeiding
Die apostel beskryf die posisie van die Heidene as mededeelgenote ten opsigte van die middelmuur van skeiding in Efésiërs 2:11-16: Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees wat met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Paulus toon aan dat God sekere verbondsbeloftes aan die Joodse volk gemaak het. In vers 12 is die woord verbonde in die meervoud, want dit gaan oor die vier onvoorwaardelike, ewige verbonde wat God met die Joodse volk opgerig het: Die Abrahamitiese Verbond, die Landverbond, die Dawidiese Verbond, en die Nuwe Verbond. God se seëninge word deur hierdie vier verbonde bemiddel. Paulus wys ook daarop dat God ’n vyfde verbond met die Joodse volk gesluit het, maar anders as die ander vier, was die Mosaïese Verbond, wat die Wet van Moses omvat het, voorwaardelik en tydelik. Hy bespreek hier een van die doelwitte van die Mosaïese Wet, naamlik dat dit moes dien as die middelmuur van skeiding om Heidene in hulle hoedanigheid as Heidene, weg te hou van die voorregte van die geestelike seëninge van die Joodse verbonde. Solank as wat die Mosaïese Wet van krag was, moes ’n Heiden, as hy die voorregte van die Joodse beloftes en seëninge deelagtig wou wees, homself bekeer tot die Mosaïese Judaïsme, hom laat besny, die verpligtinge van die Wet nakom, en lewe soos ’n Jood moes leef wat onder die Wet was. Heidene wat bekeerlinge tot die Mosaïese Judaïsme was, kon dus deel in die voorregte, maar Heidene as Heidene, kon nie. Een van die dinge wat die dood van die Messias tot stand gebring het, was dat hierdie middelmuur van skeiding … die wet van gebooie wat in insettinge bestaan, afgebreek is. Soos Paulus dit elders stel, “die Wet is ongeldig verklaar.”

Die gevolg hiervan word duidelik gemaak in Efésiërs 3:5-6: wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Die kern woord vir die posisie van die Heidene is die woord deelgenoot. Wat Paulus nie sê nie, is dat die Heidene – soos wat die vervangingsteologie leer – “oornemers” van die belofte geword het nie, maar wat hy sê, is dat hulle mededeelgenote aan sy belofte geword het. Die woord belofte is enkelvoud, want hy onderstreep die hoof geestelike belofte van redding op grond van genade deur geloof in die persoon van die Messias. Die posisie van die Heidene, dus, is dié van deelneming aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde. Hulle deel nie in die fisiese seëninge nie, maar hulle deel wel in die geestelike seëninge.

2. Met Betrekking tot die Olyfboom
In Romeine 11:16-24 gee Paulus sy befaamde illustrasie van die olyfboom, wat dieselfde leer as dit wat hy in Efésiërs 2-3 tuisbring. Die olyfboom is nie verteenwoodigend van Israel nie; Israel word verteenwoordig deur die natuurlike takke. Israel is die eienaar van die olyfboom en kan om daardie rede nie die boom self wees nie, want die eienaar en dit wat die eienaar besit, is twee verskillende dinge. Die olyfboom verteenwoordig nie die Kerk of die Heidene nie; die Heidene word verteenwoordig deur die wilde olyftakke. Die olyfboom verteenwoordig die plek van geestelike seëninge, gewortel in die Patriarge en die Abrahamitiese Verbond.

Volgens vers 17 is daar twee soorte takke wat deel in die seëninge van die boom: En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ’n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom.

Weer gebruik Paulus die term “deel”, om aan te toon waar die Heidene staan met betrekking tot die geestelike seëninge van die Joodse Verbonde: Joodse gelowiges en Heidengelowiges deel nou in die vettigheid, die sap, of die seëninge, van die olyfboom.

Weer eens, die olyfboom is nie Israel nie, maar Israel is die eienaar van die boom, volgens vers 24: Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?

Deur te sê hul eie olyfboom, wys Paulus dat die boom self nie Israel is nie, maar Israel is die eienaar van die boom. Die posisie van die Heidene is dié van deelneming aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde.

E. Die Verantwoordelikheid van die Heidene – Romeine 15:25-27
Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.

Dit is hier die derde keer wat Paulus die term deel gebruik, maar nou maak hy ’n duidelike onderskeid tussen die geestelike en die fisiese seëninge. Nou het Heidengelowiges deel gekry … aan hulle [Joodse] geestelike voorregte. Sodra ’n Heiden ’n gelowige word, is hy in die skuld. Gelukkig verduidelik Paulus ook hoe hierdie skuldlas afbetaal kan word, naamlik deur materieel tot Joodse bedieninge by te dra.

Die verantwoordelikheid van die Heiden is hier sowel individueel as korporatief van toepassing. Korporatief behoort gemeentes soos wat hulle groei, in hulle begroting vir sendingaksies eerste te dink aan ’n Joodse bediening wat hulle kan ondersteun. Individueel behoort Heidene wat hulle bydraes vir sendingaksies beplan, ook ’n Joodse bediening wat hulle kan ondersteun, eerste te stel. Deur materieel met Joodse bedieninge te deel, kan Heidengelowiges hulle skuld afbetaal. Tot watter Joodse bediening ’n mens moet bydra, is ’n persoonlike saak tussen die gewer en die Here, maar die verpligting om een te ondersteun, word hier duidelik geleer: Heidene het deelgenote geword aan die Joodse geestelike seëninge, en het daarom die verantwoordelikheid om materieel tot Joodse bedieninge by te dra.

F. Die Tydsaspek van die Roeping van die Heidene – Romeine 11:25-27
Soos reeds aangedui is in Jesaja 49, sal die program waar die Messias vir ’n tydlank die lig van die Heidennasies is, tot ‘n einde kom en dan sal God Hom na die Jode keer en hulle almal tot reddende geloof bring. Paulus borduur voort op hierdie selfde tema in Romeine 11:25-26: Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend.

Paulus sê daar is twee sake waaroor Heidengelowiges nie onkundig moet wees nie. Eerstens is die verharding van Israel gedeeltelik, want daar is steeds Jode wat tot geloof kom in die Messiasskap van Jesus. Tweedens is hierdie verharding van Israel tydelik, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Die Griekse woord vir volheid beteken ’n “vasgestelde getal.” God het ’n vasgestelde hoeveelheid Heidene wat Hy in die Liggaam wil inbring. Hy het nie geopenbaar wat daardie vasgestelde hoeveelheid is nie, daarom moet die Kerk aanhou om te getuig en om te deel totdat daardie vasgestelde getal bereik is. Op daardie punt eindig die program, en dit is wesenlik wanneer die Wegraping plaasvind. Op daardie tydstip sal God weer begin om met Israel te handel totdat die hele Israel gered [sal] word. Jesaja 49 het al reeds geprofeteer dat Hy in daardie tyd al die mense in die Land sal herstel en dat Hy die hele Land vir die mense sal herstel.

Dit beteken nie dat alle Jode van alle tye gered sal word nie, maar alle Jode van ’n spesifieke tydsperiode, die tyd wat volg op die volheid van die heidene, sal gered word. Volgens Sagaría 13:5-8 sal tweederdes van die Joodse volk in die Verdrukking sterf, en eenderde sal oorleef. Die hele eenderde wat oorleef, sal almal tot reddende geloof kom; dit is die hele Israel wat gered sal word. Dus, die eerste rede vir die redding van die Heidene, naamlik om uit die Heidene ’n volk vir Homself ter wille van Sy Naam uit te roep, sal uiteindelik lei tot Israel se nasionale redding sodra die volheid van die Heidene ingekom het.

II. OM DIE JODE JALOERS TE MAAK – ROMEINE 11:11-14
Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening – as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

Die tweede rede vir die redding van die Heidene, is om Jode jaloers te maak. In vers 11 begin Paulus met die vraag: Het hulle miskien gestruikel om te val? Die Griekse woord vir val beteken “om onomkeerbaar te val,” só te val dat opstaan nooit weer moontlik sal wees nie. Vroeër, in Romeine 9:30-33, het Paulus gesê dat Israel wel geval het. Nou is die vraag of “hulle gestruikel het vir die doel van ’n “onomkeerbare val”? Die antwoord kom vinnig: Nee, stellig nie! In die Grieks is dit die sterkste manier om “Nee” te sê. Dit is die sterkste Griekse ontkenning. Letterlik beteken dit, “Mag dit nooit wees nie!” Maar deur Israel se struikeling het die saligheid tot die heidene gekom, en die redding van die Heidene het die doel om Israel jaloers te maak.

A. Die Etimologie
Die hele frase, “om jaloers te maak,” omvat slegs een Griekse woord, parazeilao, wat ’n kombinasie is van twee Griekse woorde. Die eerste deel van die woord is para, wat beteken “om langs te kom”. Die tweede deel van die woord is zeilos, wat die bron is vir die Afrikaanse woord “ywer”. Die grondbetekenis van zeilos is “om te vlam”, “om te veroorsaak om te brand”, “om te kook’, “om rooiwarm te maak”. Uit die grondbetekenis word drie betekenisse afgelei: “om ywerig te wees”, “om afgunstig te wees”, of soos dit hier gebruik word, “om jaloers te wees”.

B. Die Betekenis
As hierdie twee woorde saamgevoeg word, leer dit dat ’n Heidengelowige langs, para, ’n Joodse ongelowige moet kom, en so moet lewe en so ’n volgehoue verbale getuie moet wees, dat die Jood uiteindelik sal begin vlamvat en van jaloesie sal brand, zeilos, totdat hy oplaas moet sê, “Wat is hierdie Heiden besig om met my Messias te doen?” en self ’n gelowige sal word. Dit is jammer dat die Kerk meer gedoen het om die Jode tot woede te beweeg in plaas van tot jaloesie. Hoewel die Kerk gefaal het in hierdie roeping, het individuele Heidene nie gefaal nie. Meer as een opname is onder Joodse gelowiges gedoen, spesifiek in Noord-Amerika. Op die vraag, “Is jy na die Here toe gelei deur ’n Heidengelowige of ’n Joodse gelowige?” het nie net ’n klein meerderheid nie, maar ’n groot meerderheid gesê hulle is na die Here toe gelei deur ’n Heidengelowige wat hulle jaloers gemaak het.

Dit moet onthou word dat niemand gered word deur hoe iemand anders lewe nie. Mense probeer dikwels “geestelik” wees oor hulle ongehoorsaamheid om teenoor Jode te getuig deur te sê, “Wel, ek leef net ’n christelike lewe voor hulle en uiteindelik sal hulle my vra wat my anders maak en dan kan ek hulle vertel.” Ongelukkig kom hulle Joodse bure nooit sover om hulle te vra hoekom hulle anders is nie. Soos Paulus vroeër in Romeine 10:17 skryf: Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. Hoewel ’n mens se lewe moet getuig van dit wat jy glo en predik en leer, moet die evangelie per slot van rekening verduidelik word sodat die Joodse persoon presies kan weet wat hy moet glo om gered te word.

Aangesien die tweede rede vir die redding van Heidene is om die Jode jaloers te maak, verklaar Paulus in hoofstuk 11 verse 13-14 dat hy verheug is en die feit verheerlik dat God hom geroep het vir evangelisering van die Heidene. Hoekom is hy so verheug omdat God hom geroep het om die Heidene te evangeliseer? Is dit omdat dit baie makliker is? Dit mag dalk makliker wees, maar dit is nie die rede wat hy aanvoer nie. Paulus was opgelei as ’n Joodse rabbi, iemand wat rabbynse logika toegepas het, en hier is een voorbeeld daarvan. Paulus verheug hom omdat God hom geroep het om Heidene te evangeliseer, want hoe meer Heidene hy na die Here toe bring, hoe meer Heidene sal daar wees om Jode jaloers te maak, en daarom sal daar soveel meer Jode wees wat ook tot geloof sal kom. Dit is goeie Joodse logika.

C. Die Doel
In verse 1-10 maak Paulus die aanspraak dat daar selfs vandag Jode is wat tot geloof kom. Vers 5 verklaar: Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.

Maar die punt van verse 11-14 is die belangrikste manier waardeur God nou, in die teenwoordige tyd, Jode tot geloof in die Messias sal bring: hulle sal jaloers gemaak word deur Heidengelowiges wat vir hulle getuig en ’n lewe lei wat die getuienis staaf.

D. Die Verantwoordelikheid van die Heidene
Die Heidene se verantwoordelikheid is om die Jode jaloers te maak deur hulle lewenswyse, sowel as deur hulle mondelinge getuienis van die evangelie, en nie om die Jode kwaad te maak nie.

SLOTSOM
In ooreenstemming met Deuteronómium 32:8-9, is albei redes vir die redding van die Heidene verbind aan God se plan en program vir die Joodse volk. Die eerste rede is om vir Homself ’n volk ter wille van Sy Naam uit die Heidennasies te roep, wat uiteindelik sal lei tot die nasionale redding van Israel wanneer die volheid van die Heidene ingekom het. Die tweede rede vir die redding van die Heidene, is om die Jode jaloers te maak, wat sal lei tot die redding van die teenwoordige Oorblyfsel, wanneer lede van die Joodse volk gelowig sal word en vandag lede sal word van die Israel van God.
[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING – Deuteronómium 32:8-9
I. OM ’N VOLK UIT DIE HEIDENE VIR SY NAAM AAN TE NEEM – HANDELINGE 15:13-18
     A. Die Situasie Voor Handelinge 2
     B. Die Messiaanse Bediening Volgens die Ou Testament
         1. Die Begunstigdes – Jesaja 42:1 en 6
         2. Die Chronologiese Volgorde – Jesaja 49:1-13
     C. Die Roeping van die Heidene – Romeine 9:1-24
     D. Mededeelgenote: Die Posisie van die Heidene
         1. Met Betrekking tot die Middelmuur van Skeiding
         2. Met Betrekking tot die Olyfboom
     E. Die Verantwoordelikheid van die Heidene – Romeine 15:25-27
     F. Die Tydsaspek van die Roeping van die Heidene – Romeine 11:25-27
II.OM DIE JODE JALOERS TE MAAK – ROMEINE 11:11-14
     A. Die Etimologie
     B. Die Betekenis
     C. Die Doel
     D. Die Verantwoordelikheid van die Heidene
SLOTSOM

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hoe definieer die Bybel onsterflikheid? Watter Bybelse bewyse is daar wat die onderrig van onsterflikheid as die waarheid kan staaf? En watter voordele het hierdie leerstelling van onsterflikheid? Hierdie studie behandel die konsep van onsterflikheid en hoe dit gelowiges en ongelowiges raak. Die eerste hoof kategorie is die definisie van onsterflikheid. Daar word ook ’n paar algemene verkeerde sienings of algemene wanopvattings oor onsterflikheid weerlê.