Jode, heidene, Christene

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. –Génesis 12:2

INLEIDING
Hierdie studie se titel is “ Jode, Heidene, Christene.” Ons gaan probeer om omsigtig te definieer wat al hierdie terme beteken, en om onderskeide te tref waar die Bybel dit doen en onderskeide uit te wis waar die Bybel dit doen. Die hele kwessie omtrent die definisies van Jode, Heidene, Heidengelowiges, en Joodse gelowiges, is uiters verwarrend.

I. DEFINISIES
Een bron van moontlike verwarring is die term “Joodsheid.” Wat behels Joodsheid wesenlik? Wie is ’n Jood? Beskryf die term ’n godsdiens, ’n ras, ’n etniese groep, of ’n nasionaliteit?

In teenstelling met Jood kry ons die term “Heiden.” Wie is ’n Heiden? Ook hierdie vraag het ’n duidelikomlynde definisie nodig.

Nog ’n verwarrende term is “Christendom.” Is ’n Christen iemand wat gebore is uit Christenouers? Kan ’n mens ’n Christen word deur slegs by ’n kerk aan te sluit of gedoop te word?

Dan is daar die term “Hebreeuse Christendom” of “Messiaanse Joodsheid.” Wie is ’n Hebreeuse Christen, ’n Messiaanse Jood, of iemand in daardie hoedanigheid wat soms ’n “Christenjood” genoem word? Hoe is dit moontlik vir iemand om sowel ’n Jood as ’n Christen te wees? Kan die terme “Hebreër” en “Christen” met mekaar versoen word, of moet diegene wat hulleself met albei terme identifiseer, beskou word as mense met meer as een persoonlikheid?

Hierdie vrae is belangrik, veral vir mense wat betrokke is by Joodse evangelisering. Dit is in werklikheid amper onmoontlik om die inhoud van die evangelie oor te dra voordat die betekenis van hierdie terme nie korrek verduidelik is nie. Wanneer ’n toehoorder iets anders onder die terme verstaan as dit wat die spreker daarmee bedoel, is daar oombliklik verwarring en gebrek aan kommunikasie. Dikwels keer Jode die evangelie die rug toe as gevolg van gebrekkige begrip of verwardheid.

A. Joodsheid: Wie Is ’n Jood?
Ons kom nou by die kwessie van wie ’n Jood is. Baie min onderwerpe in die Joodse wêreld word so druk bespreek soos hierdie een. Tot op hede bestaan daar geen konsekwente definisie nie.

1. ’n Openbare Meningspeiling
’n Openbare meningspeiling is gedoen om te probeer vasstel wat die definisie van ’n Jood is, soos wat Jode dit verstaan. Vyftienhonderd Joodse families is ondervra, met die volgende resultate:

12% het gesê ’n Jood is iemand wat met ’n Jood getroud is, of wie se vader of moeder Joods is.

23% het verklaar ’n Jood is iemand wat homself as ’n Jood beskou.

19% het die mening gehuldig dat ’n man wat uit ’n Joodse moeder gebore is of hom tot die Judaïsme bekeer het, ’n Jood is.

13% het gesê ’n Jood is iemand wat in Israel woon of met die Joodse Staat identifiseer.

13% het verklaar ’n Jood is iemand wat die Joodse godsdienstige gebruike handhaaf.

11% het geantwoord dat ’n Jood iemand is wat as ’n Jood grootgemaak en opgevoed is.

9% het gesê dat hulle dit nie kon definieer nie.

Hierdie resultate is opgeteken in die Jerusalem Post van 25 November 1968. Van al die definisies wat opgenoem is, sluit net een die Messiaanse Jood uit, maar sluit ook terselfdertyd ’n groot aantal ander Jode uit wat nie die Joodse godsdientige gebruike handhaaf nie. Van die ander vyf definisies kan geensins gesê word dat hulle die Messiaanse Jood buite rekening laat nie.

2. Die Definisie Hebreeuse Christen of Messiaanse Jood
Die definisie, Messiaanse Jood, berus op ’n objektiewe standaard; dit gaan terug na die wesenlike bron van Joodsheid, die Skrifte. Hoe verder enige definisie van die Skrifte afwyk, hoe vaer word dit. Die Messiaanse Jood is genoodsaak om Joodsheid in die bybelse sin van die term te definieer, want vir hom is die Skrifte die bron van gesag. Daarom kan die definisie, Messiaanse Jood, ook die bybelse definisie genoem word.

Die bybelse basis vir die definiëring van Joodsheid is geleë in die Abrahamitiese Verbond in Génesis 12:1-3: En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

In twee ander skrifgedeeltes word dit verder beskryf.

Génesis 13:15-16: want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.

Génesis 15:4-5: Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterrre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.

Later word die Abrahamitiese Verbond, deur Isak, bevestig in Génesis 26:2-5: En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. Vers 24 verklaar: En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.

Ná Isak, word dit herbevestig deur Jakob, in Génesis 28:13-15: En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.

’n Eenvoudige definisie van Joodsheid kan van die Abrahamitiese Verbond afgelei word. Dit lê in die herhaaldelike verklaring dat ’n volk deur die geslagslyn van Abraham, Isak en Jakob sou ontstaan, en definieer dus Joodsheid in terme van nasionaliteit. Maar anders as die siening van baie Israeli’s, is hierdie nasionaliteit nie net beperk tot die Staat van Israel nie; dit sluit alle Jode in, ongeag van waar hulle hul bevind. Dit is ’n nasionaliteit wat op afkoms gebaseer is.

Bybels gesproke, is die Jode ’n volk. Vandag is ons ’n verstrooide volk, maar ons is, nogtans, ’n volk. Ons is ’n volk, omdat ons die afstammelinge is van Abraham, Isak, en Jakob. Die implikasie van hierdie definisie is dat, wat ’n Jood ookal doen, hy nooit ’n nie-Jood kan word nie; ongeag van wat die individuele Jood mag glo of nie mag glo nie, hy bly ’n Jood. ’n Neger wat ’n Christengelowige, of Moslem, of Boeddhis is, bly ’n Neger. ’n Sjinees wat ’n Christengelowige word, bly ’n Sjinees; ’n Sjinees wat ’n Boeddhis bly, bly ook ’n Sjinees. Dieselfde geld vir die Jood, of hy Ortodoks of Hervormd, ateïs of kommunis is. As ’n Jood die keuse maak om te glo dat Jesus sy Messias is, bly hy, ook, ’n Jood. Niks, absoluut niks, kan die feit verander nie dat hy ’n afstammeling is van Abraham, Isak en Jakob!

Op hierdie punt moet die probleem aangespreek word ten opsigte van kinders uit gemengde huwelike. Hierdie kinders word gewoonlik geklassifiseer as half-Joods en half-Heidens. Die teologie van die Judaïsme leer dat Joodsheid deur die moeder bepaal word: as die moeder Joods is, dan is die kinders Joods. Maar weer eens, dit is ’n afwyking van die bybelse norm en word daarom deur Messiaanse Joodsheid verwerp. In die Skrifte is dit nie die moeder wat Joodsheid bepaal nie, maar die vader; gevolglik word die name van die mans en nie die van die vrouens nie, in die genealogieë van sowel die Ou as die Nuwe Testament gegee, behalwe in gevalle waar die moeder ’n belangrike plek in die Joodse geskiedenis beklee het. Bybels gesien dus, as die vader Joods is, is die kinders Joods. Koning Dawid was definitief Joods, hoewel sy oorgrootmoeder, Rut, en sy bet-oorgrootmoeder, Ragab, albei uit die heidene was.

B. Heiden: Wie Is ’n Heiden?
As die Skrifte gebruik word as die objektiewe standaard, is die definisie van ’n Heiden net so maklik. ’n Heiden is eenvoudig iemand wat nie ’n afstammeling is van Abraham, Isak, en Jakob nie. Kortom, ’n Heiden is enigiemand wat nie ’n Jood is nie. Weer is die implikasie dat, wat ’n Heiden ookal mag doen, hy nooit ’n nie-Heiden kan word nie.

Dit bring ons egter by die vraag oor Heidene wat hulle tot die Judaïsme bekeer het: kan hulle na regte Jode genoem word? Gebaseer op die Skrif is die antwoord, “Nee.” Jood is die nasionaliteit van ’n persoon; die godsdiens is Judaïsme. Die aanneming van die Judaïsme maak nie van ’n Heiden ’n Jood nie, maar ’n bekeerling. Ons sien die onderskeid tussen Jode en bekeerlinge in Matthéüs 23:15: Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self. Neem kennis daarvan dat dit nie van hierdie evangeliste vir die Judaïsme gesê word dat hulle probeer om van iemand ’n Jood te maak nie, maar ’n bekeerling.

’n Tweede skrifgedeelte is Handelinge 2:9-11, waar daar ’n lys van plekname voorkom, wat die oorsprong aantoon van die menigtes wat na Jerusalem toe gekom het vir die viering van die Paasfees. Vers 10 eindig met die frase, Jode en Jodegenote. Hier is dus dieselfde onderskeid as dié in Matthéüs 23:15. [Die NAV beskryf Jodegenote as “heidene wat die Joodse geloof aangeneem het” of “mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het”.]

Nog ’n voorbeeld word gevind in Handelinge 6:5: En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ’n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, ’n Jodegenoot uit Antiochië. In hierdie skrifgedeelte word onderskeid getref tussen Nikoláüs en die res. Die ander was almal Jode wat Jesus as die Messias aangeneem het, maar Nikoláüs was ’n Jodegenoot, ’n Heidenbekeerling tot die Judaïsme, wat Hom aangeneem het.

Die laaste voorbeeld kom voor in Handelinge 13:43: En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly. Duidelik word dieselfde onderskeid weer getref; Heidenbekeerlinge tot die Judaïsme word nooit die titel Jood gegee nie.

Die hoof Ou Testamentiese voorbeeld van ’n Heiden wat tot die Judaïsme bekeer geraak het, is Rut. Baie Heidene het al, gebaseer op Rut se storie, vir hulleself Joodsheid probeer opeis op grond van bekering tot die Judaïsme. Rut word egter konsekwent, sowel voor as ná haar aanneming van die God van Israel, “die Moabitiese” genoem. Dit kan nagelees word in Rut 1:22; 2:2, 6, 21; 4:5, 10.

Die slotsom is dat ’n Heiden niks kan doen om ’n nie-Heiden te word nie.

C. Christendom: Wie Is ’n Christen?
Vervolgens probeer ons vasstel wie ’n Christen is. Die Messiaanse gelowige is weer genoodsaak om na die Skrifte te gaan om die ware definisie vas te stel. Die Nuwe Testament verdeel die mensdom in drie verskillende groepe: Jode, Heidene, en Christene, volgens I Korinthiërs 10:32. Dit leer onomwonde dat niemand ooit gebore kan word as ’n Christen nie; elke mens word gebore as ’n Jood of word gebore as ’n Heiden. Maar ’n Christen is iemand wat óf ’n Jood óf ’n Heiden is wat ’n persoonlike besluit geneem het om ’n gelowige te word in Jesus Christus, die Messias. Dit is nie iemand wat net ’n lidmaat van een of ander kerkdenominasie is of gedoop is nie. Hierdie dinge kan volg op die persoonlike besluit, maar dit kan nie die oorsaaklike redes wees vir enige mens se besluit om ’n Christen te word nie.

’n Christen is ’n Jood of ’n Heiden wat tot die besef gekom het dat die mens in ’n staat van sonde gebore word, en om hierdie rede van God vervreem is. Nou moet die straf of die prys vir die sonde eers betaal word as hy God persoonlik wil leer ken. Maar vanweë sy sonde, kan ’n Jood as individu of ’n Heiden as individu, nie self die prys of die straf betaal vir die sonde nie. Dit was die doel van die Messias, die Een wat deur baie Jode en Heidene geken word as Jesus. Met Sy dood het die Messias die plaasvervanger vir sonde geword en op grond daarvan die straf daarvoor betaal. Sowel die Ou as die Nuwe Testament leer dat daar sonder die vergieting van bloed geen vergifnis vir sonde is nie.

In die Ou Testament is Levítikus 17:11 hiervan ’n voorbeeld: Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.

In die Nuwe Testament word daar in Hebreërs 9:22 verklaar: En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Die duidelike leer van beide die Ou en die Nuwe Testamente is: “sonder die vergieting van bloed kan daar geen vergifnis van sondes wees nie.” Onder die Wet was daar ’n tydelike voorsorg getref deur die vergieting van dierebloed. Maar die Messias sou die finale bloedoffer vir die sonde wees. Dit is diegene onder sowel die Jode as onder die Heidene wat glo in die Messiasskap van Jesus, wat bybels geklassifiseer word as Christene, in Handelinge 11:26. Weer eens, dis nie ’n kwessie van gedoop te wees nie en dis nie ’n kwessie van kerklidmaatskap nie. Daar is niks meer wat enigiemand kan of moet doen om ’n Christen te word nie, as net om te glo in Jesus Christus.Die basiese inhoud van geloof, dit wat ’n mens moet glo om ’n Christen te wees, word gevind in I Korinthiërs 15:1-4: Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.

Die inhoud van geloof is die evangelie, wat die plaasvervangende dood, begrafnis, en Opstanding van die Messias omvat. Wat is die evangelie? Die evangelie is drie baie basiese en eenvoudige punte: een, Jesus het vir ons sondes gesterf; twee, Hy is begrawe; en drie, Hy het op die derde dag opgestaan. Daar is niks meer aan die evangelie as net dit nie. Dit wat bepaal of iemand ’n Christen is of nie, is sy gewilligheid om te glo, of sy geloof te plaas, in Jesus as die plaasvervanger vir sonde.

Wat hy moet doen, word beskryf in Johannes 1:12: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy naam glo. Iemand wat persoonlik, op ’n sekere stadium van sy lewe, die Messias aangeneem het as die Een wat versoening vir sonde bewerk het, het ondervind wat dit is om ’n Christen te word. As iemand dus sê dat hy as ’n Christen gebore is, is dit, volgens die Nuwe Testament, ’n duidelike bewys daarvan dat hy nie ’n Christen is nie. Om ’n Christen te word, is ’n belewenis waardeur iemand God leer ken deur Jesus die Messias en waardeur die sonde verwyder word wat die individu van God vervreem het. Christene word gemaak, nie gebore nie.

Opsommend: die Nuwe Testament leer dat almal gebore word as óf ’n Jood óf ’n Heiden; en Christene is Jode of Heidene wat glo in die Messiasskap van Jesus.

D. Hebreeuse Christendom of Messiaanse Joodsheid: Wie Is ’n Hebreeuse Christen of Messiaanse Jood?
Ons kom nou ten slotte by die punt waarnatoe ons gewerk het: die definiëring van Hebreeuse Christendom of Messiaanse Joodsheid. In die algemeen word die term “Hebreeuse Christendom” as ’n teenstelling beskou. ’n Mens kan óf ’n Jood wees óf ’n Messiaanse gelowige; maar om albei gelyktydig te wees, is volgens hierdie siening ’n onmoontlikheid.

Een Joodse skrywer verklaar dat die term “Joodse Christen” onlogies is. Nog ’n skrywer beperk die naam tot Joodse gelowiges in die Messias tydens die eerste eeu maar nie daarna nie. Dit was die siening van sommige van my vorige professore by die American Institute of Holy Land Studies. Hulle het die term “Joodse Christene” gebruik met betrekking tot Joodse gelowiges in die eerste eeu maar nie die term as geldig erken vir Joodse gelowiges in vandag se tyd nie. Hulle het egter nooit verduidelik wat hulle as die verskil beskou het tussen die eerste-eeuse Joodse gelowiges en dié van die een-en-twintigste eeu nie.

Wat is ’n Hebreeuse Christen dan nou eintlik? As ’n Jood ’n afstammeling is van Abraham, Isak, en Jakob, wat ons glo die korrekte bybelse definisie van ’n Jood is; en as ’n Christen iemand is wat persoonlik, volgens sy eie besluit, vir Jesus van Nasaret as die Messias aangeneem het; dan is ’n Hebreeuse Christen ’n Jood wat glo dat Jesus die Messias is. Deur geloof skaar Joodse gelowiges hulle by ander gelowiges in die Messias, hetsy Jode of Heidene, maar nasionaal identifiseer hulle hulself met die Joodse volk.

’n Messiaanse Jood moet dus erken dat hy sowel ’n Jood as ’n gelowige in die Messiasskap van Jesus is. As ’n Jood gedoop word slegs om sy identiteit as Jood te verloor, kan hy geensins beskou word as ’n Messiaanse Jood nie; hy is ’n oorloper, ’n verraaier, en ’n afvallige.

’n Messiaanse gelowige is trots op sy Joodsheid. Hy is ook trots op sy geloof in die Messiasskap van Jesus. Die belewenis waardeur ’n Jood ’n gelowige word, is net so ’n groot misterie as die belewenis waardeur ’n Heiden ’n gelowige word. Die gebeurtenis kan beskryf word, maar dit kan nie verduidelik word nie. Die sentrum van hierdie belewenis is Jesus Christus die Messias, maar die oorsake wat hierdie belewenis bewerkstellig het, kan verskillend wees. Miskien was dit die getuienis van ’n ander Messiaanse Jood, die geskrewe woord, prediking, of die lees van die Nuwe Testament. Die oorsake verskil, maar die resultaat is altyd dieselfde: Jesus Christus, die Messias, word die objek van geloof en vertroue.

E. Slotsom aangaande Definisies
Dit is duidelik uit die Skrifte dat Messiaanse gelowiges nooit hulle Joodsheid verloor nie. Joodsheid en Messiaanse Joodsheid is nie terme wat mekaar weerspreek nie; wedersyds komplementeer en voltooi die een die ander. Dit is een van die redes waarom Jode dikwels verkies om hulleself “voltooide Jode” te noem eerder as “bekeerde Jode.” Die term “bekeerd” beteken “jy was dit, maar jy is dit nie meer nie.” As ons die term “bekeerde Katoliek” gebruik, beteken dit gewoonlik die persoon was voorheen Katoliek, maar hy is nie nou meer Katoliek nie. Of ons sê iemand is ’n “bekeerde alkoholis” en bedoel daarmee dat hy voorheen ’n dronklap was, maar hy is nie nou meer ’n dronklap nie. Die term “bekeerde Jood” kan egter nie as korrek beskou word nie. Dit impliseer dat die gelowige voorheen ’n Jood was, maar dat hy nie nou meer ’n Jood is nie. Joodse gelowiges bly altyd sonder uitsondering steeds Jode. Joodse gelowiges verwys nie na hulleself as bekeerde Jode nie; ons is bekeerde sondaars. Ons is voltooide Jode omdat geloof in die Messiasskap van Jesus ons Joodsheid voltooi; dit ontken nie ons Joodsheid nie.

Die beste bewys hiervan is die groot apostel, Paulus, wat beide sy Joodsheid en sy geloof in die Messiasskap van Jesus verklaar het. Kom ons kyk na drie voorbeelde in verband hiermee uit sy eie geskrifte.

Eerstens, Romeine 11:1 waar Paulus sê: Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ’n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. In Romeine 11:1 verklaar Paulus homself baie duidelik as synde beide ’n Jood “uit die nageslag van Abraham” en ’n Israeliet “van die stam van Benjamin.” In opeenvolgende verse verklaar hy homself ook duidelik as ’n lid van die Oorblyfsel volgens die uitverkiesing van die genade.

Nog ’n vers waar Paulus beide sy Joodsheid en sy geloof in Jesus die Messias duidelik bevestig, is II Korinthiërs 11:22: Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook. Waar die terme Hebreërs, Israeliete, die nageslag van Abraham, en Jode, in die Ou Testament afsonderlik gehou is, word hierdie terme teen die tyd van die Nuwe Testament sinonimies gebruik. Dit is waarom Paulus homself ’n Jood, ’n Hebreër, en ’n Israeliet noem. Let daarop dat hy, selfs nadat hy ’n gelowige geword het, nie gesê het hy “was” ’n Israeliet; “was” ’n Hebreër; “was” ’n nakomeling van Abraham nie. Hy het die teenwoordige tyd gebruik.

Die derde plek waar hy dit onomwonde herbevestig, is Filippense 3:4-8: alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër; wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry. In hierdie skrifgedeelte, wat meer uitgebreid is as die ander twee, verklaar Paulus homself weer eens duidelik as beide ’n Jood en ’n gelowige in die Messiasskap van Jesus. Wat Paulus gedoen het, moet Joodse gelowiges nog steeds doen. Ons moet beide ons geloof in die Messiasskap van Jesus herbevestig en ook ons Joodsheid bevestig.

Ten slotte kan ons sê dat Joodsheid en Messiaanse Joodsheid ten volle met mekaar in ooreenstemming is. Dit sluit ons bespreking omtrent die definisies van Jode, Heidene, en Christene af. Die onderwerp is nog nie afgehandel nie, want ons moet nog duidelik uitwys dat daar ook ’n konsekwente onderskeid is tussen Joodse gelowiges en Heidense gelowiges.

II. DIE BYBELSE BASIS VIR DIE ONDERSKEIBAARHEID VAN MESSIAANSE JOODSHEID
Christene kan baie omgekrap raak wanneer kwessies wat hulle as die waarheid beskou, aangeval word. Dikwels is dit ’n goeie ding, veral wanneer ’n fundamentele leerstelling oor geloof bevraagteken word. Ander kere kan sulke emosionele reaksies ’n mens dalk verblind vir ’n korrekte Bybelse weerspreking van dit wat jy as die waarheid aanvaar het. Een spesifieke area het te doen met die kwessie van die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid in die Liggaam van Christus. Baiekeer wanneer die idee geopper word dat die Bybel onderskeid tref tussen Joodse en Heidense gelowiges, word verse ter weerspreking daarvan vinnig aangehaal, dikwels buite konteks. Die beskuldiging wat dikwels ingebring word teen die een wat hierdie onderskeid voorstaan, is die van “Galasiërisme” hoewel min van diegene wat hierdie beskuldiging rig, die presiese aard van die Galasiese Dwaalleer verstaan.

Ek onthou nou nog ’n insident in my homiletiek klas tydens my studiejare. Dit was my beurt om te preek. Die preek wat ek voorberei het, het absoluut niks te doen gehad met Messiaanse Joodsheid nie, maar in ’n illustrasie wat ek gegee het, het ek eenmalig in die verbygaan die term “Hebreeuse Christendom” gebruik. Dit was egter genoeg rede vir die professor om opgewerk te raak. Toe ek klaar was, het die professor protes aangeteken teen my gebruik van die term “Hebreeuse Christen”. Hy het sy aanval begin met, “Ek wonder wat Arnold te sê sal hê op …” en hy haal toe aan uit ’n gewilde vers wat daarop wys dat daar geen verskil is tussen Jode en Grieke nie. Toe hy klaar was met sy diskoers het hy oombliklik voortgegaan met sy lesing en my geen kans gegun om op sy “verwondering” te antwoord nie. Maar, soos ons sal sien, leer die Bybel wel dat Messiaanse Joodsheid onderskeibaar is in die Liggaam van Christus.

A. Die Verkeerde Sienings
Emosionaliteit is nie die enigste probleem wat onbegrip oor hierdie leerstelling meebring nie. Daar is twee verkeerde sienings wat onder baie gelowiges die rondte doen en groot verwarring veroorsaak. Een verkeerde siening is dat Heidene, wanneer hulle gelowiges in die Messias word, “geestelike Jode” word. Die tweede siening is dat alle onderskeide tussen ’n Jood en ’n Heiden uitgewis word wanneer hulle gelowiges in die Messias word. Die Heiden verloor, om dit so te stel, sy “Heidensheid” en die Jood sy Joodsheid, want tussen die twee bestaan daar hoegenaamd geen verskil nie. Voordat die basis vir die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid volledig begryp kan word, moet hierdie twee verkeerde sienings eers bespreek word.

1. Heidense Gelowiges Is Geestelike Jode
Die eerste verkeerde siening is dat Heidene “geestelike Jode” word sodra hulle in die Messias glo. Logies gesien behoort daar op Christelike gebied geen onderskeid te wees as gelowige Jode geestelike Jode is en as gelowige Heidene geestelike Jode is nie, aangesien almal geestelike Jode is. Die Bybel hou egter glad nie so ’n beeld voor nie.

a. Die Betekenis van Geestelikheid
Miskien is die grootste probleem met die term geestelike Jood, die gebruik van die woord “geestelik” om ’n soort nasionale of ras transformasie van die Heiden na ’n Jood aan te dui. Die Bybel gebruik egter nooit die woord “geestelik” in hierdie sin nie.

Wat is geestelikheid? Geestelikheid behels drie dinge: een, vernuwing; twee, die Heilige Gees; en drie, tyd. Dit beteken dat geestelikheid net met die gelowige te doen het; dit word voortgebring deur die Heilige Gees wat die gelowige in ’n volwasse verhouding met God bring; en dit, vanselfsprekend, neem tyd. Soos dr. Charles Ryrie dit stel, “Geestelikheid is ’n volwasse verhouding met die Heilige Gees.”

’n Geestelike persoon is ’n gelowige wat onder die beheer van die Heilige Gees is. Dit is niks meer as dit nie. As ’n Heiden dus onder die beheer van die Gees is, is hy ’n “geestelike Heiden.” Net so is ’n Jood wat onder die Gees se beheer is, ’n “geestelike Jood.” Daar is geen oorlopery tussen nasionaliteite nie; ’n Heiden bly ’n Heiden en ’n Jood bly ’n Jood. Hulle geestelikheid berus op hulle verhouding met die Heilige Gees.

b. Skrifgedeeltes
Daar is egter mense wat argumenteer dat dit alles ’n kwessie van betekenisleer is, en dan sekere skrifgedeeltes aanhaal om te wys dat Heidene op ’n manier Jode word, hetsy deur geestelike transformasie of een of ander mistieke handeling.

Een van hierdie skrifgedeeltes is Galásiërs 3:6-9: Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. As Heidense gelowiges “uit geloof” die “kinders van Abraham” word, maak dit dan nie daarom van hulle geestelike Jode nie? Glad nie! Selfs op fisiese gebied is al die kinders van Abraham nie Jode nie. Arabiere is net sulke kinders van Abraham soos wat Jode is, maar in geen opsig kan hulle as Jode geklassifiseer word nie. Wat waar is op fisiese gebied is ook waar op geestelike gebied; om deur geloof kinders van Abraham te wees, is nie genoeg om van iemand ’n Jood te maak nie.

Wat is die betekenis van hierdie skrifgedeelte dan? Om mee te begin, moet daarop gelet word dat dit kontekstueel gaan oor die vraag of redding deur werke of deur geloof geskied. Die Hebreeuse term vir “kinders” (of seuns) het dikwels die betekenis van “volgelinge.” Die punt is dat Abraham regverdig verklaar is op die basis van geloof en nie die basis van werke nie. Die ware volgelinge van Abraham, dus, is die wat as geregverdig beskou word op grond van dieselfde basis as die regverdigheid van Abraham, wat geloof beoefen het om redding te verwerf, nie werke nie. Dit is nooit van die Heidense Galasiërs gesê dat hulle Jode geword het nie, maar kinders van Abraham. Om ’n kind van Abraham te wees, is nie genoeg om van ’n mens ’n Jood te maak nie.

Nog ’n vers wat dikwels gebruik word, is Galásiërs 3:29: En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. Aangesien Heidene deel word van “die nageslag van Abraham,” maak dit nie op een of ander manier van hulle geestelike Jode nie? Weer eens is die antwoord negatief; daar is lede van die fisiese nageslag van Abraham wat nie Jode is nie. Dieselfde geld op geestelike gebied.

Die betekenis van hierdie vers kan die beste begryp word deur dit te vergelyk met Efésiërs 2:11-13: Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees wat met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. En Efésiërs 3:6: dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Hierdie skrifgedeeltes in Efésiërs verduidelik wat bedoel word met die stelling in Galásiërs omtrent Heidene as erfgename van die beloftes. Dit beteken nie dat Heidengelowiges op ’n mistieke manier Jode word nie, maar dat hulle mededeelgenote word in die seëninge van die Joodse verbonde en dat hulle hierdie voorreg deur geloof ontvang. Hierdie handeling maak nie van hulle geestelike Jode nie, maar geestelike Heidene. Selfs deur mededeelgenote te wees deel hulle nie in al die fasette van die verbonde nie, maar slegs in die geestelike seëninge wat daarin vervat is. Dinge soos byvoorbeeld onder andere die beërwing van die Land en besnydenis, is nie op gelowige Heidene van toepassing nie. Hierdie elemente is eksklusief vir die Jode.

Die derde skrifgedeelte vir hierdie idee is Romeine 2:28-29: Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydens is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God. Aangesien ’n “ware Jood” iemand is wat dit in die verborgene is, beantwoord die gelowige Heiden dan nie aan hierdie standaard nie en word dusdoende, ten minste in die verborgene, ’n Jood? Maar om dit van Romeine 2:28-29 te sê, is om die hele konstruksie van die Brief aan die Romeine te ignoreer. Die basiese skema van die eerste drie hoofstukke is soos volg:
Aanhef – 1:1-7
Inleiding – 1:8-15
Tema – 1:16-17
Die Wêreld Onder Oordeel – 1:18-3:30
Heidene – 1:18-2:16
Jode – 2:17-3:20
Briefslot – 3:21-30

Die afdeling waarin Romeine 2:28-29 voorkom, is streng Joods in konteks; die Heidene is nêrens in sig nie, want Paulus het in 2:16 met hulle afgehandel. Hierdie vers kan beter verstaan word deur te begryp dat dit ’n gelowige Jood is wat met ongelowige Jode praat. In sy redenasie maak hy gebruik van woordspeling. “Judaïsme” het die grondbetekenis van lofprysing. Wat hierdie Messiaanse Jood aan nie-Messiaanse Jode sê, is dat uiterlike Judaïsme nie genoeg is om ’n mens voor God regverdig te maak nie; regverdigmaking vereis ’n “Judaïsme van God”. Die vers kan so geparafraseer word: “Wie se Judaïsme nie uit die mens is nie, maar uit God is.” Ware Jode is die Jode wat sowel “uiterlik” as “innerlik” Jode is.

2. Geen Onderskeid Tussen Jode en Heidene nie
Die eerste uiterste argumenteer teen alle onderskeid deur te sê dat alle gelowiges Jode is. Hierdie tweede uiterste probeer om alle gelowige Jode in nie-Jode te verander; gewoonlik deur die nie-kontekstuele aanwending van drie of meer skrifgedeeltes waarin die frase “daar is nie Jood of Griek nie” voorkom. ’n Sorgvuldige ontleding van hierdie selfde skrifgedeeltes, binne die konteks waarin hulle staan, toon egter dat die onderskeid tussen Jood en Heiden net in sekere areas uitgewis word en nie op alle gebiede nie. Verder toon ’n bestudering van die teks in die lig van verwante skrifgedeeltes, duidelik aan dat die onderskeid in ander areas beslis steeds van toepassing is, selfs binne die Liggaam van gelowiges.

Die eerste van die drie skrifgedeeltes is I Korinthiërs 12:12-13: Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Die duidelike leer van hierdie skrifgedeelte is dat toetreding tot die Liggaam deur doping van die Gees geskied. Dit is die enigste manier, en dit geld vir almal, Jood sowel as Heiden. Daar is geen verskil nie. Dit is al wat van hierdie skrifgedeelte afgelei kan word, niks meer as dit nie.

Die tweede skrifgedeelte is Galásiërs 3:28: Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. Die konteks van hierdie skrifgedeelte handel oor die kwessie van regverdigmaking deur geloof. Dit is die enigste manier waardeur iemand, hetsy Jood of Heiden, geregverdig kan word. In regverdigmaking is daar dus geen onderskeid tussen die twee nie. Net dit kan van hierdie skrifgedeelte afgelei word, en niks meer as dit nie.

Die derde skrifgedeelte is Kolossense 3:11: waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. Weer eens is die konteks die sleutel om hierdie skrifgedeelte te verstaan. Verse 5-11 handel oor die “aflê van die ou natuur en die opneem van die nuwe natuur.” Dit is die ware en enigste weg tot volwassenheid en geestelikheid vir enige gelowige, hetsy Jood of Heiden. Weer eens, niks meer as dit kan van hierdie skrifgedeelte afgelei word nie.

Die slotsom waartoe ons kom, is voor die hand liggend. Op die gebiede van regverdigmaking, lidmaatskap van die Liggaam, en groei tot volwassenheid, is die proses sonder uitsondering dieselfde vir Jood en Heiden. Dit beteken egter nie dat die onderskeide tussen die twee vir altyd op elke gebied uitgewis is nie.

B. Die Bewys vir Onderskeid
Soos vroeër gestel, sal die bestudering van hierdie presiese selfde skrifgedeeltes in die lig van verwante skrifgedeeltes aantoon dat, in plaas van te leer teen alle onderskeid, die teenoorgestelde die geval is. Wanneer kritici van die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid na die bogenoemde drie skrifgedeeltes verwys, word dikwels net die “Jood en Griek” stelling aangehaal, en die res word geïgnoreer. My professor in homiletiek het hierdie tegniek toegepas. Maar hierdie verse sê nie net dat daar geen verskil is tussen Jode en Grieke nie, hulle sê verder dat daar geen verskil is tussen ’n slaaf en ’n vrypersoon, tussen manlik en vroulik nie. Die gebruik is nietemin dikwels om die aanhaling van die laaste gedeelte te vermy, vir redes wat duidelik sal word soos wat ons vorder met die studie. Kom ons kyk dus wat sê die Bybel oor die laaste twee groepe sodat ons kan uitvind of die drie skrifgedeeltes wel leer dat alle onderskeide uitgewis is.

1. Slaaf en Vrypersoon
Daar is vyf skrifgedeeltes wat handel oor die kwessie van “slaaf en vrypersoon.”

Die eerste skrifgedeelte is Efésiërs 6:5-9: Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ’n slaaf is of ’n vryman. En here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.

Die tweede skrifgedeelte is Kolossense 3:22-4:1, wat lees: Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees. En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus. Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie. Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ’n Here in die hemele het.

Die derde skrifgedeelte is I Timothéüs 6:1-2: Almal wat diensknegte is onder ’n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie. En die wat gelowige here het, moet hulle nie verag omdat hulle broeders is nie, maar moet hulle des te meer dien, omdat hulle wat die weldade ontvang, gelowiges en geliefdes is. Leer hierdie dinge en wek daartoe op.

Die vierde skrifgedeelte is Titus 2:9-10: Die diensknegte moet onderdanig wees aan hulle eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.

Die vyfde skrifgedeelte is I Petrus 2:18: Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.

In al vyf hierdie skrifgedeeltes moet die gelowige slaaf onderdanig wees aan sy baas, ook wanneer die baas self ’n gelowige is. Die gelowige baas word nooit beveel om sy gelowige slawe vry te maak nie, wat die praktiese uitvloeisel sou wees indien alle onderskeide regtig uitgewis was. Maar die gelowige vryman is steeds ’n vryman, en die gelowige slaaf is steeds ’n slaaf. Hoe kom hierdie skrifgedeeltes nou ooreen met die drie verse wat vroeër aangehaal is? Ooreenstemming is geen probleem nie. Wat lidmaatskap van die Liggaam, regverdigmaking, en geestelikheid betref, is die weg dieselfde vir die vryman en die slaaf. Maar eenmaal binne die Liggaam, bestaan hierdie onderskeide steeds.

2. Manlik en Vroulik
Sewe skrifgedeeltes toon aan dat alle onderskeide tussen mans en vrouens vir seker nie uitgewis is nie. Die hoofsaak in elke skrifdeel gaan oor onderdanigheid, ten aansien van posisie en funksie.

I Korinthiërs 11:3-10 wys uit dat die vrou haar hoof in die gemeentelike samekoms moet bedek: Maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van elke vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is. Want as ’n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir ’n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek. Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

In I Korinthiërs 14:34-35 word vrouens verbied om in die kerk te praat. Selfs as sy enige vrae het, moet sy die antwoorde tuis by haar man soek: Julle vroue moet in die gemeente swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.

Efésiërs 5:22-25 wys die hoofbeginsel uit in verband met onderdanigheid: Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.

Ook in Kolossense 3:18-19 gaan dit oor onderdanigheid. Die man word vermaan om sy vrou lief te hê, en dat sy op grond daarvan, onderdanig moet wees: Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.

In I Timótheüs 2:11-12 word vrouens verbied om mans te leer, want daardeur oefen hulle gesag uit en oorskrei die grense van hulle onderdanigheid: Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.

In Titus 2:1 en 3-5 word die lering dat jonger vrouens aan hulle mans onderdanig moet wees, as deel van die ware leer gegee, en oortreding van hierdie leerstelling lei tot die belastering van God se woord. Vers 1 verklaar: Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas. En verse 3-5 sê: Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.

Ook I Petrus 3:1 wys op onderdanigheid: Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word. Vers 7 sê: Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

As alle onderskeide tussen mans en vrouens uitgewis was, sou daar tog geen rede gewees het vir al hierdie aparte reëls en opdragte nie. Weerspreek hierdie skrifgedeeltes dan die ander skrifgedeeltes wat aandui dat daar geen onderskeid tussen mans en vrouens is nie? Glad nie. Weer eens: op die gebiede van lidmaatskap van die Liggaam van Christus, regverdigmaking, en geestelike volwassenheid, is die formule dieselfde vir mans en vrouens. Daar is nie een manier van redding vir die man en ’n ander manier van redding vir die vrou nie. Geestelike volwassenheid funksioneer nie deur een stelsel vir die man en ’n verskillende stelsel vir die vrou nie. Albei van hulle het die Liggaam op dieselfde manier binnegegaan. Maar sodra hulle in die Liggaam opgeneem is, is die man steeds ’n man, en die vrou is steeds ’n vrou; en daar is ’n verskil in hulle posisie en funksie.

C. Slotsom
Opsommend sien ons dat die Bybel nie die idee ondersteun dat Heidene “geestelike Jode” word wanneer hulle gelowiges word nie. Nee, hulle is “geestelike Heidene” wanneer hulle deur die Heilige Gees beheer word. Geestelike Jode is Jode wat gelowig is en in die regte verhouding met die Heilige Gees verkeer.

Verder leer die Bybel nie dat alle onderskeide tussen Jood en Heiden uitgewis word wanneer hulle gelowiges word nie. Dit is heeltemal waar dat die weg tot geloof vir hulle albei dieselfde is, maar dit beteken net so min dat alle ander onderskeide nou sommer uitgewis word as wat dit beteken dat die verskille tussen slawe en vrymense, mans en vrouens, opgehou het om te bestaan. Die weg tot redding, lidmaatskap van die Liggaam, en geestelike volwassenheid, is dieselfde vir beide Jode en Heidene, maar op alle ander gebiede bly die onderskeide bestaan.

III. DIE KENMERKE VAN MESSIAANSE JOODSHEID
Die vraag wat nou oorbly, is: “Wat is die onderskeibare kenmerke van Messiaanse Joodsheid in die Liggaam van Jesus Christus, die Messias?” Op watter manier, op grond van posisie en funksie, verskil die Joodse gelowige van die Heidense gelowige? Die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid berus op vier skriftuurlike riglyne: die Abrahamitiese Verbond, die Leerstelling van die Oorblyfsel, die Leerstelling van die Olyfboom, en die Leerstelling van die Israel van God.

A. Die Abrahamitiese Verbond
Die Abrahamitiese Verbond kom voor in verskeie gedeeltes van Génesis. In Galásiërs 3:15-18 word ’n unieke onderskeid getref tussen die Abrahamitiese Verbond en die Wet van Moses: Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ’n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie. Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. Want as die erfenis uit die wet is dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ’n belofte genadiglik geskenk.

Die punt wat hier gemaak word, is dat die Wet van Moses nie die Abrahamitiese Verbond opgehef het nie. Die menslike illustrasie wat gebruik word, is die van ’n menslike kontrak in antieke tye. Sodra dit onderteken was, kon dit nie verander word nie. Hoewel byvoegings later gemaak kon word, kon hierdie byvoegings nie enige punt in die oorspronklike kontrak ophef nie. Die Abrahamitiese Verbond is deur God Self onderteken toe Hy in die vorm van vuur verskyn en tussen die diere deurgeloop het wat Abraham voorberei het (Gen. 15:17). Hoewel die Mosaïese Wet wat 430 jaar later gekom het daaraan toegevoeg het, kon die Wet op geen manier die Abrahamitiese Verbond verander nie. Deur die kruis, egter, is die byvoeging, die Wet, ongeldig verklaar, terwyl die oorspronklike, die Abrahamitiese Verbond, steeds wesenlik van krag is.

Dit is die voortgang van die Abrahamitiese Verbond wat die eerste grondslag vorm vir die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid. In die Verbond is vier primêre kenmerke vervat. Eerstens het God belowe om ’n groot nasie van Abraham te maak; dit beteken die Jode as geheel. Die Jode, dus, is ’n volk op grond van hulle oorsprong uit Abraham, Isak, en Jakob. Tweedens het God aan hierdie volk ’n Land belowe, wat eens Kanaän genoem is, dikwels Palestina genoem word, maar nou die Land van Israel is. Dit is heeltemal irrelevant of die Jode in die Land of buite die Land is, en of enigiemand anders dit mag beheer op grond van verowering of enige ander wyse; die Land behoort volgens goddelike reg aan die Jode. Derdens sal diegene wat hierdie volk seën geseënd wees, en diegene wat hierdie volk vervloek sal vervloek wees. ’n Mens sou miskien kon sê dat dit God se buitelandse beleid is vir die Heidene ten opsigte van hulle verhouding met Israel. Vierdens sou die teken van die Verbond vir lede van hierdie volk die besnydenis wees, wat op die agtste dag na geboorte uitgevoer moet word.

Aangesien die Abrahamitiese Verbond steeds geheel en al van krag is, betrek hierdie vier kenmerke ook die Messiaanse gelowige in beide sy posisie en funksie. Eerstens is Messiaanse Jode steeds Jode, want hulle is, net soos ander Jode, afstammelinge van Abraham, Isak, en Jakob. Tweedens is die tuisland vir die Messiaanse gelowige die Land van Israel, en dit is waar sy eerste lojaliteit moet lê, ongeag van waar hy ookal woon. Gelowige Jode is in die Verstrooiing, maar hulle is ook in die Galuth, die Ballingskap. Derdens is die verhouding van die Heidene tot die Jode met betrekking tot die aspekte van die seëning en die vervloeking, dieselfde vir Joodse gelowiges as vir ander Jode. Messiaanse gelowiges wat op grond van hulle Joodsheid geseën of vervloek word, sal vind dat die wat seën geseën word en die wat vervloek, vervloek word. Ten slotte is daar die kwessie van die besnydenis. Aangesien Joodse gelowiges steeds onder die ander voorwaardes van die Abrahamitiese Verbond ingesluit is, word hulle ook in hierdie een ingesluit. Dit is my oortuiging dat Messiaanse Jode hulle seuns op die agtste dag moet laat besny.

Maar argumenteer die Brief aan die Galásiërs dan nie teen die gebruik van die besnydenis nie? Ja en nee. Besnydenis vir Heidene, besnydenis op grond van die Mosaïese Wet, en besnydenis vir regverdigmaking of heiligmaking, is almal verkeerd. Die Brief aan die Galásiërs veroordeel besnydenis as ’n middel tot regverdigmaking. Buiten vir mediese of gesondheidsredes is daar nooit enige rede of vereiste vir die besnydenis van Heidene nie. Verder is Messiaanse gelowiges wat die besnydenis toepas op grond van die Wet van Moses ook verkeerd, want die Wet het geëindig met die Messias. Hierdie selfde Brief verklaar egter dat die Abrahamitiese Verbond steeds heeltemal van krag is ten opsigte van al sy kenmerke, wat ook die besnydenis insluit. Besnydenis op grond van die Abrahamitiese Verbond is dus reg en geoorloof, en dit is my oortuiging dat dit steeds ten volle vir Joodse gelowiges geld. Paulus, wat die Heidene geleer het om nie te besny nie, het nie dieselfde vir die Jode geleer nie, soos duidelik blyk uit Handelinge 21:17-26, en ook uit Handelinge 16:1-3, waar hy Timóthéüs laat besny het. Dit was nie besnydenis as sodanig wat as verkeerd verklaar was nie, maar besnydenis op grond van die Mosaïese Wet.

B. Die Leerstelling van die Oorblyfsel
Die tweede grondslag vir die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid word beskryf in Romeine 11:1-7. Die vraag hier is of God Sy volk Israel verwerp het of nie. Paulus antwoord in die negatief. Sy bewys is hyself; hy is ’n Jood wat in Jesus glo. Die kritikus mag beweer dat die gelowige Jode ’n baie klein minderheid is; en beteken dit dan nie dat die volk as geheel wel verwerp is nie? Weer is die antwoord ontkennend. Wat nou gebeur, verduidelik Paulus, is wat nog altyd regdeur die Joodse geskiedenis gebeur het, naamlik dat dit altyd die Oorblyfsel is wat glo. Dit was so in die dae van Elía, en dit is vandag nog so. Die feit dat die meerderheid nie glo nie, is nie genoeg bewys dat die hele volk verwerp is nie. Die punt is dat dit in Israel, verlede, hede, en toekoms, die Oorblyfsel is wat getrou is aan die openbaring van God. Dit geld ook vir hierdie huidige Dispensasie van Genade; vandag is die Messiaanse gelowiges die Oorblyfsel van Israel. Die Oorblyfsel is altyd binne die volk, nie daarbuite nie; die Messiaanse Jode, die hedendaagse Oorblyfsel, is deel van Israel en die Joodse volk. Hulle Joodsheid bly kenmerkend.

Jesaja 1:9 en 65:8 wys uit dat dit die Oorblyfsel is wat Israel as geheel lewend hou. Op grond van die Messiaanse Joodse Oorblyfsel het God nie die baie pogings regdeur hierdie eeu om die Jode uit te wis, toegelaat nie. Weer sien ons posisie en funksie in die basis van die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid.

C. Die Leerstelling van die Olyfboom
Die derde grondslag vir die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid word gevind in Romeine 11:16-21 en 24. In hierdie boom is daar twee soorte takke, verteenwoordigend van Joodse gelowiges en Heidense gelowiges. Die Joodse gelowiges is die natuurlike takke; dit wil sê, ons stem ooreen met die wesenlike natuur van die boom, dit is asof die boom en die natuurlike takke van dieselfde bloedgroep is. Die wilde olyftakke is die Heidense gelowiges. Dit word duidelik verklaar dat die teenwoordigheid van hierdie takke in die boom teen die natuur is, die bloedgroep verskil. Wat samestelling betref, is daar ’n duidelike verskil tussen die twee, wat hulle van mekaar onderskei.

D. Die Leerstelling van die Israel van God
Die vierde basis vir die onderskeibaarheid van Messiaanse Joodsheid word gesien in die eng gebruik van die term Israel. Dis belangrik om uit te wys dat die term Israel nooit vir Heidene gebruik word nie, hetsy hulle gelowiges is of nie, en dit word ook nie vir die Kerk gebruik nie; dit word net vir Jode gebruik. In Romeine 9:6-8 sê Paulus iets belangriks. Om hierdie skrifgedeelte reg te verstaan, is dit belangrik om dit streng binne Joodse konteks te hou. Die punt wat gemaak word, is dat daar twee Israels is: die hele Israel wat bestaan uit alle Jode; en die uitverkore Israel wat bestaan uit alle gelowige Jode, wat die ware “Israel van God” is. Albei groepe is Jode en albei groepe Jode word “Israel” genoem, met die verskil dat die Jode wat deur geloof sowel as in die vlees uit Abraham is, die ware Israel is. Die hele Israel, Israel wat van die vlees is, het gefaal; maar die uitverkore Israel, die Israel van God, het nie gefaal nie. Joodse gelowiges is dus deel van die hele Israel, maar in die besonder is hulle die Israel van God. Heidense gelowiges is nie in hierdie groep nie. Net Messiaanse Jode beklee hierdie posisie.

In Galásiërs 6:16 sê Paulus: En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God! Die Brief aan die Galásiërs handel oor Heidene wat probeer het om redding deur die Wet te verkry. Hulle was mislei deur hulle denke dat hulle op grond van die Wet van Moses besny moes word. Paulus verklaar dat dit wat vir redding noodsaaklik is, geloof is. Dan spreek hy ’n seën uit oor twee groepe wat hierdie reël van redding deur geloof alleen, sou gehoorsaam. Die eerste groep is die hulle, die gelowige Heidene, aan wie en oor wie hy die grootste deel van hierdie brief wy. Die tweede groep is die Israel van God; dit is die gelowige Jode wat die reël van redding deur geloof alleen, gehoorsaam het.

E. Slotsom
Dit is dus duidelik dat die Messiaanse Jood ’n onderskeidende element in die Liggaam van Christus is, en hierdie onderskeidendheid berus op die basis van vier riglyne in die Skrifte. Die onderskeid behels posisie en funksie. Almal is gelyk, en tog onderskeie. Jode en Heidene is almal gelyk voor God, want God sien nie die persoon aan nie. Ons is net verskillend wat posisie en funksie betref.
[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
I. DEFINISIES
     A. Joodsheid: Wie Is ’n Jood?
         1. ’n Openbare Meningspeiling
         2. Die Definisie: Hebreeuse Christen of Messiaanse Jood
     B. Heiden: Wie Is ’n Heiden?
     C. Christendom: Wie Is ’n Christen?
     D. Hebreeuse Christendom of Messiaanse Joodsheid : Wie Is ’n Hebreeuse Christen of Messiaanse Jood?
     E. Slotsom aangaande Definisies
II. DIE BYBELSE BASIS VIR DIE ONDERSKEIBAARHEID VAN MESSIAANSE JOODSHEID
     A. Die Verkeerde Sienings
         1. Heidense Gelowiges is Geestelike Jode
             a. Die Betekenis van Geestelikheid
             b. Skrifgedeeltes
         2. Geen Onderskeid Tussen Jode en Heidene nie
     B. Die Bewys vir Onderskeid
         1. Slaaf en Vrypersoon
         2. Manlik en Vroulik
     C. Slotsom
III. DIE KENMERKE VAN MESSIAANSE JOODSHEID
     A. Die Abrahamitiese Verbond
     B. Die Leerstelling van die Oorblyfsel
     C. Die Leerstelling van die Olyfboom
     D. Die Leerstelling van die Israel van God
     E. Slotsom

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

In die afgelope eeue was die kwessie of God vandag Jode red, maar in die eerste-eeuse gemeentes was die wesenlike vraagstuk: red God heidene? En indien wel, hoekom? Twee bybelse redes hoekom God vandag heidene red word in detail bespreek.