‘n Uiteensetting van Psalm 90

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind. – Sagaría 12:10

INLEIDING
Ter inleiding moet ons noem dat die voetnota onder die psalmnommer van Psalm 90 lees: ’n Gebed van Moses, die man van God.

A. Die uniekheid van die psalm
Psalm 90 is ’n baie unieke psalm. Daar is byvoorbeeld geen stelling in hierdie psalm wat uit enige ander psalm kom nie. As ’n mens die boek van Psalms bestudeer, kom jy agter dat die psalms hulleself herhaal. Sekere gedagtes wat in een psalm voorkom, kom byna woord vir woord in ander psalms voor. Psalm 90 toon ook geen verwantskap met enige van die ander psalms nie, dit wil sê dit handel nie oor soortgelyke omstandighede nie.

Dit het egter wel ’n ooreenkoms en ’n verwantskap met ’n hoofstuk wat Moses elders geskryf het, naamlik Deuteronómium 33, ’n ander poëtiese lied. As jy Deuteronómium 33 met Psalm 90 vergelyk sal jy verskeie elemente vind wat ooreenkomste toon en verwant is. Deuteronómium 33:1 begin byvoorbeeld met die frase Moses, die man van God, wat ook die voetnota van Psalm 90 is. Moses is die skrywer van hierdie psalm sowel as die vyf boeke van Moses. Omdat hy die skrywer van hierdie psalm is, weet ons dat dit die oudste van die 150 psalms is. Die ander is geskryf deur mense wat veel later as Moses geleef het.

B. Die tydstip en geskiedkundige agtergrond
Die konteks van hierdie psalm is dat Moses dit aan die einde van die veertig jaar lange swerftog in die woestyn geskryf het. Teen die tyd toe hy hierdie psalm geskryf het, het die Exodusgenerasie al gesterf. Die oordeel wat oor die mense gekom het as gevolg van die sonde by Kades-Barnéa was voltrek, en die woestyngenerasie sou binnekort die Beloofde Land binnegaan. Hierdie psalm is dus teen die agtergrond van die sonde van Kades-Barnéa geskryf.

Wat was die sonde van Kades-Barnéa? Ons vind besonderhede daaroor in die boek van Númeri. In hoofstukke 13-14 van Númeri het die Joodse mense uiteindelik by die oasis van Kades-Barnéa aangekom. Dit was op die grens van die Beloofde Land geleë. Om in die Beloofde Land te kom, moes hulle dus net verby Kades loop. Toe hulle by Kades-Barnéa was, het Moses twaalf mans gestuur om die land te verken. Toe hulle veertig dae later terugkom, het hulle almal oor een ding saamgestem: Die land was presies wat God gesê het – ’n land wat oorloop van melk en heuning. Daar was egter ook ’n baie belangrike ding waaroor hulle nie saamgestem het nie: Tien van die verkenners het gesê die Land se inwoners is só getalryk en militêr bewese dat dit vir hulle onmoontlik sou wees om die Land in te neem. Slegs twee van die mans, Joshua en Kaleb, het vir die mense gesê hulle glo hulle sou wel die beloofde land kon verower, omdat God by hulle (sy volk) staan. In Númeri 13:30 het hulle dus gesê: Ons kan dit sekerlik oorweldig.

Soos wat vandag dikwels gebeur, het die mense eenvoudig aanvaar dat die meerderheid reg was. Daar was ’n reuse-opstand teen Moses en Aäron se leierskap. Dié twee het tydens die oproerigheid byna hul lewens verloor, maar God het tussenbeide getree en hulle gered. Op daardie punt het God toe ’n besondere oordeel oor die Exodusgenerasie uitgespreek. Die oordeel was dat almal wat uit Egipte kom vir nog veertig jaar lank in die woestyn sou moes rondswerf – veertig jaar vir die veertig dae wat die verkenners in die Beloofde Land was. Gedurende daardie veertig jaar sou almal wat uit Egipte kom, sterf, behalwe Joshua en Kaleb, die twee getroue verkenners, en almal wat jonger as twintig jaar was. Die Exodusgenerasie het dus die voorreg verbeur om die land van Israel te betree. Slegs die volgende generasie, die woestyngenerasie, sou toegelaat word om die Beloofde Land onder aanvoering van Joshua binne te gaan.

Die Exodusgenerasie was dus ter dood veroordeel in die woestyn, wat beteken dat hulle buite die Beloofde Land sou sterf. As ’n mens kyk na die bevolkingsyfer wat in die boek van Númeri verstrek word, beteken dit dat Moses binne ’n tydperk van 38 jaar die dood van 1 200 000 mense aanskou het. Dit is die héle volwasse bevolking wat Egipte verlaat het, almal wat twintig jaar en ouer was. Die woestyn, wat veronderstel was om net ’n plek te wees waardeur die volk sou loop om by hul nuwe land uit te kom, het dus een groot begraafplaas geword. “Wat is die implikasie as 1 200 000 mense binne ’n tydperk van 38 jaar sterf?” Dit beteken daar het elke jaar 31 580 mense gesterf. Meer spesifiek beteken dit dat daar elke liewe dag 87 mense dood is, dit wil sê 87 begrafnisse per dag – dit alles as gevolg van die sonde wat by Kades-Barnéa gepleeg is.

Moses het Psalm 90 geskryf teen die agtergrond van hierdie geweldige hoë sterftesyfer wat hy beleef het. Om Psalm 90 te verstaan moet ’n mens dus die agtergrond daarvan verstaan: Moses het dit aan die einde van veertig jaar in die woestyn geskryf. Gedurende hierdie tyd het hy ’n hele generasie in die woestyn sien sterf, insluitende lede van sy eie gesin, onder wie Aäron en Mirjam.

C. Die drie segmente van die psalm
Hierdie psalm het drie hoofsegmente. Die eerste segment bestaan uit verse 1-6 en handel oor die verganklike aard van die mens in teenstelling met die ewige aard van God. Die tweede segment bestaan uit verse 7-12 en skryf die mens se verganklike aard toe aan die mens se sonde. Die derde segment bestaan uit verse 13-17 en daarin vra Moses vir God om sy dienaars te kom besoek en sy ewigheid uit te bou deur hul sterflikheid.

I. DIE EWIGHEID VAN GOD EN DIE VERGANKLIKHEID VAN DIE MENS: PSALM 90:1-6
A. Die ewigheid van God: Psalm 90:1-2

Wanneer Moses die ewigheid van God en die verganklikheid van die mens begin beskryf, begin hy met die Goddelike kant van die vergelyking, naamlik die ewige God. Moses maak hier twee stellings oor God.

1. God as toevlug: Psalm 90:1
Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag.

Eerstens is God ons toevlug. God was nog altyd Israel se toevlug, nie net hier en daar of plek-plek nie, maar van altyd af en deur alle generasies. Die woord toevlug beteken “plek van veiligheid”. Van Abraham, die vader van die Joodse volk, se tyd af was God Israel se plek van veiligheid van geslag tot geslag. Hier toon Psalm 90 ’n verwantskap met Deuteronómium 33. In Deuteronómium 33:27 staan: Die ewige God is ’n woning, en onder – ewige arms. Dit bewys dat Moses die skrywer is van albei gedeeltes. In hierdie verse sê Moses dat God nie ontoeganklik is nie, al is Hy verhewe. Hy is bereikbaar en Hy is altyd daar vir diegene wat gewillig is om Hom op sy gronde te nader: die grondslag van geloof.

2. God, die ewige Een: Psalm 90:2
Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.

Die tweede eienskap van God waaroor Moses skryf, is God as die ewige Een. Hy gebruik drie beskrywende woorde om dit te beklemtoon. Die eerste frase is: Voordat die berge gebore was. Die berge is vir baie lank al ’n getuie van God se verbond met Israel. Hier toon Psalm 90 ook ’n verwantskap met Deuteronómium 33. Daar dui vers 15 aan dat die berge van die voortyd getuie is van God se verbondsverhouding met die Joodse volk. Tweedens is God selfs ouer as die berge, soos die tweede frase sê: … en U die aarde en die wêreld voortgebring het. God het met ander woorde nie net voor die berge se ontstaan bestaan nie, Hy het ook voor Genesis 1:1 bestaan, want Hy het die aarde en die wêreld voortgebring. Die Hebreeuse woord vir aarde beteken in hierdie vers “die wêreld in die algemeen”, en die Hebreeuse woord vir “wêreld” beteken “die produktiewe deel van die wêreld wat deur die mens bewoon word”. Moses se derde beskrywende frase van God se ewigheid is: van ewigheid tot ewigheid. Dit beteken vanaf alle ewigheid in die verlede, tot alle ewigheid in die toekoms. Hy sluit af deur te sê dat God God is van voor daar tyd bestaan het tot wanneer daar geen tyd meer sal bestaan nie. Die hoofsaak is dus God se ewigheid, wat Moses kort hierna kontrasteer met die mens se verganklikheid.

B. Die verganklike aard van die mens: Psalm 90:3-6
1. Die broosheid van die mens: Psalm 90:3

U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!

Moses begin soos volg skryf oor die broosheid van die mens: U laat die mens terugkeer tot stof. Die Hebreeuse woord wat hier vir mens gebruik word, beklemtoon die menslike broosheid en swakheid. Die Hebreeuse woord wat gebruik word vir die frase terugkeer tot stof is baie sterk woorde; dit beteken “om iets tot stof fyn te maal”. Dit is ook ’n unieke woord wat slegs op hierdie plek in die Hebreeuse Ou Testament gebruik word. Die punt wat Moses maak, is dat dit die mens se lot is om terug te keer tot fyngemaalde stof. Dit staan in sterk kontras met God se onsterflikheid. Die mens is bestem om terug te keer na dit waaruit hy ontstaan het; hy is bestem om terug te keer tot stof. Die mens se toekoms is dieselfde as sy oorsprong – stof.

Moses wys dan vir ons daarop dat God sê: Keer terug, o mensekinders! Dit is ’n oproep om sondebelydenis, want die doel van goddelike oordeel is altyd om iemand tot sondebelydenis te dring. Hoewel God dus met oordeel dreig, wat die broosheid van die mens beklemtoon, doen Hy ook ’n beroep op die mens om sy sonde te bely, wat die Goddelike dekreet sal afweer.

2. God se tydloosheid: Psalm 90:4
Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak.

Moses fokus weer op God se tydloosheid. Die punt wat hy maak, is dat tyd vir God irrelevant is. Om hierdie punt redelik dramaties uit te beeld, sê hy: Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet. Moses gebruik twee frases om te beskryf hoe lank ’n duisend jaar in God se oë is. Die eerste frase is: … soos die dag van gister as dit verbyskiet. ’n Duisend jaar vir God is met ander woorde soos ’n nag in ’n mens se lewe. Dit is nie eens ’n volle dag van 24 uur nie, slegs ’n nag van twaalf ure. Sy eerste vergelyking is dus dat ’n duisend jaar, ’n baie lang tydperk vanuit die mens se perspektief, net ongeveer twaalf ure vir God is.

Daarna wys Moses daarop dat selfs twaalf ure ’n bietjie te lank is. Die tweede frase wat hy gebruik om sy punt te maak, is: en soos ’n nagwaak. In Moses se tyd is die nag in drie nagwaaksessies van vier ure elk verdeel. In vergelyking met God se ewigheid is die mens se lewe dus slegs een van daardie drie nagwaaksessies, dit wil sê slegs ’n gedeelte van die nag. God se duisend jaar word dus verminder tot slegs vier uur van ’n mens se lewe. “Wat is duisend jaar in God se sig?” Slegs vier ure van ’n mens se lewe.

Moses gaan egter nog verder deur te beklemtoon dat dit nie vier ure van die dag is nie, maar vier ure van die nag. Dit is vier ure van die nag wat die persoon wat slaap nie eens verreken nie, vier ure wat bloot “verdwyn” het as die persoon wakker word. Terwyl hy vas aan die slaap is, is daar trouens geen bewustheid van die minute en ure wat verbytik nie.

3. Die gewisheid van die dood: Psalm 90:5a
Weggespoel het U hulle; hulle word ’n slaap.

Om die sekerheid van die dood te beklemtoon sê Moses dat die dood uiteindelik alles sal wegneem (wegspoel). Boonop word hulle ’n slaap. Die woord wat hier vir slaap gebruik word, beteken die “slaap van die dood”. Nadat hy in vers 4 die kortstondigheid van ’n mens se lewe vergelyk het met God se ewigheid, benadruk Moses nou die gewisheid van die dood.

4. Die kortstondigheid van die lewe se skoonheid: Psalm 90:5b-6
In die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ’n mens dit af, en dit verdor.

Om dit selfs nóg meer pessimisties te maak, skryf Moses dan dat die skoonheid van die lewe korter is as die lewe self. Hy wys drie dinge uit. Eerstens is sy argument gegrond op die feit dat Israel se blomme ’n baie kort lewensduur het. Blomme in Israel loop vanaf middel-Maart uit, maar verdor reeds teen die middel van April. Met ander woorde die skoonheid van die mens se lewe is ook van ’n baie kortstondige aard.

Tweedens is ’n mens se produktiwiteit nie eens die spreekwoordelike “vier ure” lank nie. Dit maak nie saak hoe lank ’n mens lewe nie, nie al jou jare is ten volle produktief nie. ’n Mens se eerste paar jaar word aan ontwikkeling gewy: Jy word gebore; jy drink aan jou ma se bors; jy leer stadigaan om te loop en jy leer geleidelik hoe om te dink, besluite te neem, te lees, te skryf en in die regte wêreld te leef. Só word die mens se vroegste jare aan ontwikkeling gewy. Later verswak ’n mens se fisiese krag en jou verstandelike skerpsinnigheid. Om volwassenheid te bereik beteken ook nie noodwendig dat ons eenhonderd persent produktief gaan wees vir die res van ons lewens nie. Daar is mense wie se verstand en fisiese vermoëns tot aan die einde van hul lewens sterk bly, maar ons sien dikwels dat mense agteruitgaan. ’n Mens se werkvermoë word belemmer deur die ontwikkeling van fisieke swakhede en verstandelike probleme, soos vergeetagtigheid, Alzheimer se siekte en ander kwale. Mense is in die algemeen nie bewus van die kortstondigheid van die mens se lewe totdat hulle ouer raak nie. Gewoonlik het ’n tiener geen idee van hoe kort die lewe regtig is nie. Hy weet hy gaan eendag doodgaan, maar in sy gedagtes is daardie dag baie, baie ver weg. ’n Ouer, wyser persoon raak wel daarvan bewus, maar waarskynlik eers wanneer baie van sy fisiese en verstandelike krag reeds opgebruik is. Al wat op die ou end oorbly, is die middeljare van ons lewens. Dit is die enigste tyd waarin ons waarlik produktief kan wees vir die Here. Dit verminder dus daardie “vier uur” van ’n mens se lewe tot slegs twee of drie werklik produktiewe ure.

Derdens is die menslike lewe broos en kort in vergelyking met God se ewigheid. Omdat die mens se lewe so kort is, moet ons seker maak dat ons dit vir die Here laat tel. In die volgende segment raak Moses hierdie kwessie aan, al maak hy reeds hier die toepassing: Dit is belangrik dat ons ons lewens versigtig beplan om seker te maak dat dit produktief kan wees vir die Here.

II. DIE BRON VAN DIE PROBLEEM: DIE MENS SE SONDE: PSALM 90:7-12
Hierna behandel Moses die rede vir die mens se verganklikheid. Die bron van die probleem is die mens se sonde. Daar is drie onderafdelings in hierdie spesifieke segment. Die eerste onderafdeling bestaan uit verse 7-9 en handel oor die dood van die mens. Die tweede onderafdeling bestaan uit verse 10-11 en handel oor die mens se lewensduur en die toorn van God. Die derde onderafdeling, vers 12, bevat die toepassing.

A. Die dood van die mens: Psalm 90:7-9
Hierdie onderafdeling beskryf die wese van die mens se dood en begin deur die ontydigheid daarvan aan te raak.

1. Die rede vir die mens se ontydige dood: Psalm 90:7
Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.

Die woord want verduidelik vir ons hoekom die dood hierdie mense tref. Die rede is: Ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. Die woord verskrik in hierdie konteks beteken “om skielik deur ’n ontydige dood weggeruk te word”. Moses erken hier wat die gevolg was van die sonde wat by Kades-Barnéa gepleeg is: Baie van hierdie mense kon baie langer geleef het, maar 1 200 000 van hulle het oor ’n tydperk van 38 jaar as gevolg van God se oordeel gesterf. Baie is aan natuurlike oorsake dood, maar in Exodus, Levítikus en Númeri se woestyn-annale is dit duidelik dat mense dikwels weens direkte Goddelike oordeel as gevolg van sonde gesterf het. Moses sê dus: Deur u grimmigheid word ons verskrik, oftewel weggeruk deur ontydige dood. Dit is Moses se eie gevolgtrekking in sy waarneming van die sonde van Kades-Barnéa.2. Die rede vir die oordeel oor die mens: Psalm 90:8
U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.

Moses bespreek die rede vir die oordeel, naamlik sonde. Hy skilder ’n beeld van die mens se sonde wat voor God geplaas word sodat Hy dit kan oordeel. Dan sê hy: … ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Hierdie verborge sondes mag dalk verborge wees vir die mens, maar dit is beslis nie verborge vir God nie. Hy bring dit aan die lig sodat die mens daarvoor gestraf kan word.

3. Die mens se hele lewe is onder God se toorn: Psalm 90:9
Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ’n gedagte.

Moses wys daarop dat die mens se hele lewe onder God se toorn, of grimmigheid, staan. Dit is so erg dat al ons dae verbygaan. Die punt hier is dat die dagligure skynbaar korter word weens die toorn van God wat dit oorskadu.

Dan kom die einde: Ons bring ons jare deur soos ’n gedagte. In die Engels staan daar: We bring our years to an end as a sigh. Dit beskryf dus hoe die mens sy laaste asem uitblaas, wat ’n gevoel van moegheid oordra, maar op die ou end na die dood verwys. Dit is dus hoe die mens sterf: ontydig, ’n oordeel te wyte aan sonde. Hierdie oordeel voor hande bring op die ou end ’n einde aan lewens wat onder die toorn van God deurgeloop het.

B. Die lewensduur van die mens en die toorn van God: Psalm 90:10-11
In die tweede onderafdeling bespreek Moses die lewensduur van die mens en die toorn van God. Sy fokus val op die jare van die mens.

1. Die jare van die mens: Psalm 90:10
Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.

“Wat is die mens se lewensduur?” In antwoord op hierdie vraag, sê Moses: Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar. Alhoewel baie mense nie so lank leef nie, word sewentig hier as die basiese minimum ouderdom beskou. Dan sê hy ook: Of as ons baie sterk is, tagtig jaar. Alhoewel party mense langer as dit leef, word tagtig hier as die basiese maksimum beskou. Moses gee dus met ander woorde vir die mens ’n gemiddelde lewensverwagting van tussen sewentig en tagtig jaar. Die meeste mense kan verwag om sewentig jaar oud te word, hoewel party nie so lank leef nie. Ander kan verwag om tagtig jaar oud te word, maar party leef wel langer as dit.

Volgens Moses maak dit nie saak of ’n mens die basiese minimum of die basiese maksimum ouderdom bereik nie, want eintlik is dit alles verniet. Die waardeloosheid daarvan word as moeite en verdriet beskryf. Wat hy probeer sê, is dat al hierdie jare dikwels met ’n waardelose geswoeg en ’n gesukkel verbygaan: Dit gaan gou verby, en ons vlieg daarheen. Wat dit beteken, is dat ’n tyd wat aanvanklik vir mense lank lyk, op die ou end eintlik kort is. Die lewe vlieg dus weg soos ’n voël in verbyvlug. Jongmense dink hulle dood eendag is baie ver weg, en hulle het geen benul van hul sterflikheid nie. Ouer mense kyk terug oor hul lewens en vra: “Waar is die jare heen?” Vir jongmense is tyd iets wat stadig verbygaan. Dit lyk vir hulle asof een jaar van hoërskool of universiteit vir ewig aanhou. Daarteenoor kan ouer mense nie verstaan hoe die jare so vinnig verbygegaan het nie. Dit is die verskil tussen die perspektief vanaf die beginpunt en vanaf die eindpunt. Die les van hierdie vers is dat iets wat aanvanklik vir ons lank voorkom, op die ou end vir ons kort lyk, want die lewe vlieg weg soos ’n voël in verbyvlug.

Die toorn van God: Psalm 90:11
Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?

“Hoekom gebeur dit?” Hierdie vers skryf dit toe aan God se toorn. Moses vra twee vrae. Eerstens: Wie ken die sterkte van u toorn? Tweedens: … en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? Die les wat Moses by gelowiges wil tuisbring, is eerstens dat min mense waarlik besef hoe intens die goddelike toorn is wat deur hul sondigheid veroorsaak word. Min mense besef dat baie van hul lyding te wyte is aan God se toorn. Tweedens is daar min mense wat God se toorn só vrees dat hulle ophou sondig. Selfs al vind daar ’n tragedie plaas, is dit die minderheid wat hulle in geloof na God toe wend. Die oorgrote meerderheid versuim altyd om hul geloof in Hom te plaas.

C. Die toepassing: Psalm 90:12
In die derde onderafdeling gee Moses die toepassing van die les van Kades-Barnéa: Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!

Die les wat hy ons wil leer is om ons dae (so) te tel. Ons moet besef hoe min ons dae werklik is, en dat nie al ons dae produktief in God se diens kan wees nie. Ons moet die dae wat ons het, tel in die wete dat vermorste dae ernstige implikasies het.

’n Interessante oefening wat ek al self gedoen het en wat ek jou aanmoedig om te doen, is om jou voor te stel dat jy die minimum gestelde tyd het om te leef, ongeveer 70 jaar of 25 600 dae. Dit is die hoeveelheid dae wat jy ongeveer sal leef vanaf die dag waarop jy gebore is. Dit maak nie saak hoe oud jy op die oomblik is nie, werk nou uit hoeveel dae jy oor het tot op jou sewentigste verjaardag. Ek bedoel nie dat jy dit elke liewe dag vir die res van jou lewe moet doen nie; doen dit net elke dag vir ’n paar weke lank. Ek dink dit sal jou lewe verander, soos wat dit myne verander het toe ek besef het hoe kort ’n mens se lewe eintlik is en hoe groot jou verantwoordelikheid is. Werk dus uit hoeveel dae jy oor het voor jou sewentigste verjaardag en trek dan elke oggend ’n dag af.

Soos vroeër genoem, mag jy dalk minder as sewentig jaar leef, of dalk meer as dit. Jou produktiwiteitsvlak sal egter nie altyd dieselfde wees in die dae wat oorbly nie. Maak dus seker die dae wat jy wel oor het, tel vir die ewigheid en moenie net die pas markeer nie. Onthou: Die gevolg van Kades-Barnéa was dat daardie mense 38 jaar moes verwyl met niks positiefs wat hulle daardeur kon bereik nie. Elke dag het dieselfde eentonige verloop gehad: In die oggend staan jy op, eet ’n bietjie manna en dan wag jy vir die wolkkolom of die vuurkolom om te skuif of nie te skuif nie. Al wat die eentonigheid gebreek het, was die oombliklike oordeel waartydens baie mense gesterf het. Ek wil jou dus baie sterk aanraai om vir ’n paar weke te probeer om jou dae te “tel”. As jy onbepaald daarmee aangaan, sal jy dalk later morbied daaroor raak en dink: “Ag, ek het net ’n paar duisend dae oor om te leef!” Tel dus slegs vir ’n kort tydperk hoeveel dae jy oor het om te leef. Trek elke oggend een dag af en besef dan hoe min tyd jy eintlik oor het om waarlik produktief te wees vir God. Sorg dan dat jou dae vir die ewigheid tel, want die doel met die tel van ons dae is, soos Moses sê, sodat ons ’n wyse hart mag bekom. Die Hebreeuse woord vir wysheid beteken “om vaardighede in lewenskuns te bekom”. Ons moet die lewenskuns verfyn deur daagliks regverdigheid en goddelike dade uit te leef. Goddelike dade wat met goddelike wysheid gedoen word, sal tot in ewigheid vrug dra. Moses wou seker maak dat die nuwe generasie nie tyd mors soos die ou generasie nie.

III. GEBED VIR DIE TERUGKEER VAN GOD SE GUNS: PSALM 90:13-17
Die derde hoofafdeling bevat ’n gebed waarin Moses God vra om sy dienaars te besoek en sy ewigheid uit te bou deur hul sterflikheid. Daar is vier onderafdelings in hierdie segment. Die eerste onderafdeling, vers 13, is ’n gebed wat God vra om sy toorn weg te neem. Die tweede onderafdeling, vers 14, is ’n gebed wat God smeek om sy verbond met Israel te onthou. Die derde onderafdeling, vers 15, is ’n gebed wat God vra om gelykmatige herstel te bring. Die vierde onderafdeling, verse 16-17, toon die kontras tussen die werk van God en die werk van die mens.

A. Gebed vir die wegneem van God se toorn: Psalm 90:13
Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.

Moses vra in hierdie gebed dat God sy toorn moet wegneem. Sy versoek, Keer terug, Here!, beteken “neem weg U toorn”. Die vraag Tot hoe lank? beteken “Hoe lank gaan U nog kwaad wees?” Dan sê Moses: En ontferm U oor u knegte. Die woord ontferm in hierdie konteks beteken om jou gedagte oor iemand te verander. Dit beteken natuurlik nie dat God verdraagsaam moet wees teenoor Israel se sonde nie. Moses pleit egter by God om ’n ander plan met die woestyngenerasie te hê as met die Exodusgenerasie. Hy vra dus eintlik: “Moenie U toorn oor die Exodusgenerasie op die woestyngenerasie uitstort nie. Verander van gedagte oor hulle en moenie dat die toorn voortduur oor U huidige knegte nie.” Die woord knegte verwys hier na Israel. Met ander woorde, Moses vra vir God om Israel se hartseer in vreugde te omskep.

B. Gebed om God se verbondsliefde te onthou: Psalm 90:14
Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.

Moses vra God om sy verbondsliefde te onthou. Hy vra: Versadig ons in die môre met u goedertierenheid. Die frase in die môre beteken hy wil hê dit moet vinnig gedoen word, sommer reeds in die môre ná die vorige nag se beproewinge. Hy sien nou uit na ’n nuwe era van vreugde vir Israel. Die woord wat hy vir goedertierenheid gebruik, is chesed, wat “verbondsgetrouheid” beteken. Moses vra God om sy guns te herstel op grond van sy verbond met Israel, en meer spesifiek die Verbond met Abraham.

Die rede en die gevolg is: Sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. Die Hebreeuse woord vir jubel beteken “om in luidende tone te sing” en gaan oor sigbare blyke van vreugde. Die Hebreeuse woord vir bly wees verwys weer na innerlike vreugde. Moses wil dus hê Israel moet in al [hul] dae innerlike én uiterlike vreugde ervaar. Sy gebed is dat hulle die lewe met oorgawe moet geniet eerder as om dit verder in droefheid deur te bring. Die punt van die gebed is dat God gesmeek word om dít wat Hy aan die Exodusgenerasie gedoen het, nie aan die woestyngenerasie te doen nie. Moses vra dus namens hierdie nuwe generasie vir ’n nuwe era van vreugde, verlossing en vrede.

C. Gebed vir gelykmatige herstel: Psalm 90:15
Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het.

In hierdie vers tref Moses ’n vergelyking. Dit kom daarop neer dat hy God vra dat Israel se genieting van ’n oorvloedlewe ná die herstel van God se guns ewe veel sal wees as wat hulle lyding was toe God se toorn teen hulle ontvlam het. God se toorn het veertig jaar lank teen hulle gewoed, dus vra Moses dat God se guns veertig jaar lank herstel sal word. Hy vra dus vir herstel wat in verhouding is met die straf wat opgelê is.

D. Die teenstelling tussen die werk van God en die werk van die mens: Psalm 90:16-17
Namate Moses hierdie psalm afsluit, wys hy die teenstelling tussen die werk van God en die werk van die mens uit.

Die werk van God: Psalm 90:16
Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.

Hierdie vers maak melding van twee dinge wat die werk van God benadruk. Eerstens vra Moses: Laat u werk vir u knegte sigbaar word. Die werk van God se voorsiening sal dus sigbaar wees in die werk wat Hy doen met die nuwe generasie, die woestyngenerasie. Net so gaan die werk van God se voorsiening blyk uit die manier waarop Hy gelowiges se lewens self hanteer. Tweedens sê Moses: … en u heerlikheid oor hulle kinders. Die woord heerlikheid is nie die gewone Hebreeuse woord vir heerlikheid nie, maar ’n ander Hebreeuse woord wat “skoonheid” beteken. Dit benadruk die Here se skoonheid. Israel vra met ander woorde ’n demonstrasie van die Here se skoonheid deurdat hulle die goddelike prag aanskou wat in God se reddende krag sigbaar word. Hulle aanskou die skoonheid van die Here, want hulle sien dat Hy nie net straf nie, maar ook seën. Wanneer Moses sê oor hulle kinders, vra hy dit nie net vir die huidige woestyngenerasie nie, maar ook vir al die generasies wat kom, sodat hulle ook die skoonheid van die Here kan ervaar. Dít is die “werk” wat God doen.

2. Die werk van die mens: Psalm 90:17
En laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!

Moses begin sy bespreking van die mens se werk met ’n versoek: En laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees. Die Hebreeuse woord vir lieflikheid beteken “die aangenaamheid van God”. Moses vra God nie net om sy skoonheid te wys nie, hy vra Hom ook om sy aangenaamheid teenoor Israel te wys. Hy vra dat Israel nou die skoonheid en aangenaamheid van God sal geniet, in teenstelling met die toorn en oordeel van God. Meer spesifiek vra hy dat Israel God se skoonheid in plaas van sy toorn sal ervaar, en sy aangenaamheid in plaas van sy oordeel. Die versoek is daarom: Laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees.

Moses sluit dan af deur die manier waarop die lieflikheid van die Here onse God oor ons kom te benadruk. Hy maak twee stellings wat mekaar eintlik eggo, maar wat onmiskenbaar is. Die eerste stelling is: Bevestig die werk van ons hande oor ons. Die frase die werk van ons hande verwys na ons daaglikse take wat ons in gehoorsaamheid en volgens die wil van God doen om Hom te eer. Die werk van God se voorsiening, soos dit in vers 16 beskryf word, word deur mensehande gedoen. Gelowiges moet leer om vaardig te werk, en wysheid en vaardigheid openbaar om daagliks vir die Here se werk te lewe. Moses se tweede stelling is: Ja, die werk van ons hande, bevestig dit! Dit word ter wille van beklemtoning herhaal. Die werk van God moet deur sy dienaars uitgerig word, en daarom sal hulle sukses in hul werk ervaar, selfs al is die lewe kort.

Hierdie psalm se boodskap en die toepassing vir gelowiges vandag is vierledig. Eerstens moet ons erken dat die lewe kort is as jy uit ’n goddelike perspektief daarna kyk, maak nie saak hoe lank ons leef nie. Tweedens is nie al ons jare produktief nie, ongeag hoe lank ons leef. Trouens, net die middeljare is produktief, en selfs dan kan ons produktiwiteit belemmer word deur tragedie en siekte. Derdens moet ons baie bewus wees van hoeveel tyd ons oor het in hierdie wêreld. Vierdens moet ons ons lewens só beplan dat ons so produktief moontlik vir die Here kan wees en sy werk kan doen.

GEVOLGTREKKING
Ten slotte is die volgende aanhaling ’n pragtige opsomming van hierdie hele psalm: Wanneer God iemand vir sy sonde bestraf, voel daardie persoon baie broos en verganklik, maar wanneer hy deur God se guns geseën word, voel hy op sy waardevolste. Hy deel dan in die werk van die ewige God. As ’n mens swak word as gevolg van God se tugtiging, word jy baie bewus van jou sterflikheid. Om in God se liefde en deernis te leef maak ’n mens bewus daarvan dat jy met eer en heerlikheid gekroon word (Bible Knowledge Commentary, p 860).

Ons as gelowiges gebruik baie gesegdes en clichés, insluitende party wat nie eens Bybels is nie, soos byvoorbeeld “Gods water oor Gods akker”. Met hierdie spesifieke psalm in gedagte, is daar egter een cliché wat eg Bybels is. Ons moet die boodskap daarvan in ons lewens tuisbring:
Één lewe het ons, snel verby,

Slegs ons diens aan Christus bly.

[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
     A. Die uniekheid van die psalm
     B. Die tydstip en geskiedkundige agtergrond
     C. Die drie segmente van die psalm
I. DIE EWIGHEID VAN GOD EN DIE VERGANKLIKHEID VAN DIE MENS: PSALM 90:1-6
     A. Die ewigheid van God: Psalm 90:1-2
         1. God as toevlug: Psalm 90:1
         2. God, die ewige Een: Psalm 90:2
     B. Die verganklike aard van die mens: Psalm 90:3-6
         1. Die broosheid van die mens: Psalm 90:3
         2. God se tydloosheid: Psalm 90:4
         3. Die gewisheid van die dood: Psalm 90:5a
         4. Die kortstondigheid van die lewe se skoonheid: Psalm 90:5b-6
II. DIE BRON VAN DIE PROBLEEM: DIE MENS SE SONDE: PSALM 90:7-12
     A. Die dood van die mens: Psalm 90:7-9
         1. Die rede vir die mens se ontydige dood: Psalm 90:7
         2. Die rede vir die oordeel oor die mens: Psalm 90:8
         3. Die mens se hele lewe is onder God se toorn: Psalm 90:9
     B. Die lewensduur van die mens en die toorn van God: Psalm 90:10-11
         1. Die jare van die mens: Psalm 90:10
         2. Die toorn van God: Psalm 90:11
     C. Die toepassing: Psalm 90:12
III. GEBED VIR DIE TERUGKEER VAN GOD SE GUNS: PSALM 90:13-17
     A. Gebed vir die wegneem van God se toorn: Psalm 90:13
     B. Gebed om God se verbondsliefde te onthou: Psalm 90:14
     C. Gebed vir gelykmatige herstel: Psalm 90:15
     D. Die teenstelling tussen die werk van God en die werk van die mens: Psalm 90:16-17
         1. Die werk van God: Psalm 90:16
         2. Die werk van die mens: Psalm 90:17
GEVOLGTREKKING

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Hierdie is die laaste artikel in die reeks. U kan miskien oorweeg om ook van ons ander eietydse atikels te lees.

Benewens die meer as vyftig artikels in dr. Fruchtenbaum se Dissipelskapreeks, is daar ook verskeie ander eietydse artikels wat dalk vir jou interessant en stof tot nadenke kan wees.

U is welkom om hierdie artikel met ander te deel of uit te druk as u dit van waarde gevind het:
[apss_share]