Onsterflikheid

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

…tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. – Efésiërs 1:6

Hierdie messiaanse Bybelstudie oor onsterflikheid word bespreek in vier hoof kategorieë.

I. DEFINISIE
Die eerste hoof kategorie is die definisie van onsterflikheid.

Die betekenis van onsterflikheid is: die ewige, volgehoue, en bewuste bestaan van die siel ná die dood van die liggaam. Fisiese dood is die skeiding wat plaasvind tussen die stoflike deel van die mens en die nie-stoflike deel van die mens. Onsterflikheid beteken “ ’n ewige, volgehoue, en bewuste bestaan van die nie-stoflike deel van die mens ná die dood van die liggaam.” Onsterflikheid beteken “volgehoue bewustheid.”

In hierdie studie word die term “onsterflikheid” gebruik met betrekking tot die teologiese aanwending daarvan. Teologies verwys die term “onsterflikheid” na die liggaam of die stoflike deel van die mens sowel as na die sielegees of die nie-stoflike deel van die mens. Om tegnies te wees egter, is die Bybelse gebruik van die term beperk tot die liggaam alleenlik.

In I Korinthiërs 15:53-54 praat die Bybel van onsterflikheid waarmee ons “beklee” word, en met die wegraping van die Kerk sal ons liggame met onverganklikheid beklee word. Wat met die Wegraping sal gebeur, is dat die gestorwe gelowiges met onsterflikheid beklee sal word deur die opwekking uit die dood, en die lewende gelowiges sal met onsterflikheid beklee word deur verander te word. Bybels gesproke dus, is die term “onsterflikheid” net van toepassing op die liggaam, maar die teologiese gebruik van die term is van toepassing op beide die liggaam en die siel.

Hierdie bespreking oor onsterflikheid handel oor die volgehoue bewustheid van die sielegees of die nie-stoflike deel van die mens ná die dood van die liggaam.

II. DIE BEWYSE VIR DIE LEER VAN ONSTERFLIKHEID
Die tweede hoof kategorie van hierdie studie oor onsterflikheid, handel oor die bewyse van onsterflikheid. “Watter Bybelse bewyse is daar wat die onderrig van onsterflikheid as die waarheid kan staaf?” Daar is sewentien spesifieke bewyse vir die Leer van Onsterflikheid, bewyse dat die Bybel wel volgehoue bewustheid van die siel leer.

A. Versamel by sy Volksgenote
Die eerste bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is ’n stylfiguur in die Ou Testament wat na die dood verwys: versamel by sy volksgenote. Die afgestorwene word gesien as aansluitend by ’n groep wat hom vooruit gegaan het. Génesis 25:8 verklaar byvoorbeeld: Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.

Dieselfde stelling word van Ismael gemaak in Génesis 25:17: En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. Let daarop dat fisiese dood eers plaasvind, Ismael sterf; dan, ná die dood, word hy versamel by sy volksgenote, hy sluit aan by ’n groep wat voor hom daar gekom het of wat vooruit gegaan het.

Nog ’n voorbeeld is Génesis 35:29a: En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote versamel.

Die volgende voorbeeld kom uit die lewe van Jakob, in Génesis 49:29: Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is.

En die laaste voorbeeld is in Génesis 49:33: Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.

In die eerste Boek van die Bybel word daar dus van mense wat liggaamlik gesterf het, gesê dat hulle “versamel is by hulle volksgenote.” Hulle word uitgebeeld as mense wat aansluit by ’n groep van wie hulle bewus is en wat hulle vooruit gegaan het. Daar is ’n mening dat hierdie frase niks meer beteken nie as dat hulle in die familiebegraafplaas ter ruste gelê is. Dit is egter nie moontlik ten opsigte van iemand soos Abraham wie se familie of volksgenote in Haran agtergebly het nie.

B. Na die Vaders Gegaan
Die tweede bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is soortgelyk aan die eerste een, naamlik die uitdrukking “om na die vaders te gaan” wat soms gebruik word. Met sy dood het die afgestorwene by die vaders aangesluit. Een voorbeeld hiervan is in Génesis 15:15: Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.

’n Soortgelyke stelling word gemaak in Génesis 47:30a: Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf.

Die feit dat ’n mens na die vaders gaan en by hulle aansluit, impliseer ook dat bewustheid volgehou word selfs ná die dood van die liggaam.

C. Die Volgehoue Bestaan van Henog
’n Derde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is Henog se volgehoue bestaan; hy het nie gesterf nie, maar is weggeneem om elders aan te hou bestaan. Dit word beskryf in die Ou Testament in Génesis 5:24 en word in die Nuwe Testament bevestig in Hebreërs 11:5.

D. Die Versekerdheid van Job
’n Vierde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, word gevind in die Boek van Job waar Job se versekerdheid opgeteken is, gebaseer op ’n vraag wat hy gestel het en toe self beantwoord het. Byvoorbeeld, in Job 14:14a (OAV) is die vraag: As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? En hierdie vraag wat Job in 14:14a gevra het, word deur homself beantwoord in Job 19:25-26 (NAV): Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Job het die versekerdheid gehad dat, hoewel sy fisiese liggaam uiteindelik fisies sou sterf, hy God desnieteenstaande sou sien, en dit, ook, is ’n bewys van onsterflikheid.

E. Die Leer van die Opstanding
Die vyfde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is gebaseer op die Leer van die Opstanding, want opstanding as sodanig impliseer onsterflikheid. Hoekom anders die moeite doen om die dooies, hetsy gered of ongered, uit die dood uit op te wek? Die implikasie van onsterflikheid is dus wesenlik inbegrepe in die konsep van die opstanding. Mense word opgewek vir geen ander rede nie as om vir ewig te lewe.

In die Ou Testament word die Leer van die Opstanding uiteengesit in Jesaja 26:19; Daniël 12:2-3; en Hoséa 13:14. In die Nuwe Testament word dit duidelik geleer in Johannes 5:25-29, en Openbaring 20:4-6, 11-15.

F. Die Bewustheid van die Siel
Die sesde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is dat die nie-stoflike deel van die mens by afsterwe, volgens die Bybel, by God is en bewussyn het. In albei testamente is daar voorbeelde hiervan.

In die Ou Testament byvoorbeeld, word hierdie waarheid gevind in Psalm 17:15: Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word. Hier druk Dawid ware geloof uit dat die siel selfs ná die dood in die gemeenskap met God bewussyn sal hê.

Dit word ook geleer in Psalm 73:23-25: Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. In hierdie Psalm spreek die skrywer, Asaf, ware geloof uit in onsterflikheid. Hy sien homself selfs in die dood by God en by sy bewussyn.

Dit kom ook voor in Prediker 12:7; Lukas 23:43; Johannes 14:3; II Korinthiërs 5:1-8; en Filippense 1:22-24.

G. Vereniging met die Dooies
Die sewende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is dat Dawid verwag het om ná sy eie dood by sy gestorwe seun aan te sluit. Dit is ’n stelling wat hy maak in II Samuel 12:23: Maar nou is hy dood – waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie. Let op hoe Dawid dit stel. Hy het die verwagting gehad om ná sy eie dood na die plek toe te gaan waar sy gestorwe seun was, en hy het verwag dat hy hom daar sou sien. Dawid het dus verwag om ná sy eie dood bewustelik met sy gestorwe seun verenig te wees, en in hierdie skrifgedeelte druk hy sy verwagting uit. Ook hierdie skrifgedeelte dui aan dat die Bybel onsterflikheid leer, en dat onsterflikheid die blye hoop van die Ou-Testamentiese gelowiges was.

H. Die Bewustheid van die Siele in die Doderyk
Die agtste bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is dat die siele in die doderyk (Sheol) aangetref word in ’n staat van volgehoue bewustheid.

’n Goeie voorbeeld hiervan in die Ou Testament, is Jesaja 14:9-11: Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ’n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. In hierdie skrifgedeelte gaan die siel van die koning van Babel die helgedeelte van die doderyk self binne, en al die siele wat hom vooruitgegaan het hel toe, staan meteens in verbasing op toe hulle hierdie een ook die gebied van die Hel sien binnekom. Hulle is daartoe in staat om vir hom vrae te vra en in gesprek met hom te tree. Die feit dat hierdie dooies uitgebeeld word as synde by hulle bewussyn, kan dus nie oor die hoof gesien word nie.

In die Nuwe Testament word dit in Lukas 16:19-31 geleer in die verhaal van die ryk man en Lasarus. Dit is nie korrek om dit, soos wat dikwels gedoen word, “Die Gelykenis van die Ryk Man en Lasarus” te noem nie. Lukas sê nie dat dit ’n gelykenis is nie, en Jesus begin ook nie hierdie verhaal met “Leer die gelykenis” soos wat Hy dikwels gedoen het nie. In gelykenisse kom eiename soos Lasarus en Abraham nie voor nie. Hierdie verhaal wat Jesus geleer het, is ’n ware verhaal. Let op dat, nadat die ryk man dood is en nadat Lasarus dood is, albei van hulle by hulle bewussyn was. Verder word nog iemand genoem wat al eeue tevore gesterf het, naamlik Abraham. Abraham en die ryk man kan ’n gesprek voer; dit is duidelik dat hulle by hulle bewussyn is hoewel hulle fisies gesterf het. Die verhaal van die ryk man en Lasarus is dus nog ’n bewys van die korrektheid van die Leer van Onsterflikheid.

I. Ewigheid in die Hart
Die negende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is die stelling wat gemaak word in Prediker 3:11: ook het Hy die eeu [NAV: die onbepaalde tyd; Engels: eternity] in hulle hart gelê. Die woord hart word dikwels in die Bybel gebruik as een van die fasette van die nie-stoflike deel van die mens. Volgens Prediker 3:11, is daar inbegrepe in die nie-stoflike deel van die mens, die feit van die ewigheid (die eeu / die onbepaalde tyd) wat daarin geplaas is. Die element van onsterflikheid is dus inbegrepe in die nie-stoflike deel van die mens.

J. Samuel se Verskyning aan Saul
Die tiende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is die feit dat Samuel ná sy dood gesien is as synde by sy bewussyn. I Samuel 28:8-19 is die verslag van Saul wat na ’n heks toe gegaan het om te sien of sy Samuel se siel uit die doderyk kon oproep. Wel, hekse het nie hierdie mag nie, en hierdie heks het dit ook nie gehad nie. Wat in sulke gevalle gebeur, is dat ’n demoon die afgestorwene personifieer. In hierdie geval, kom die regte Samuel egter tot die verbasing van die heks wel op, wat bewys dat sy niks daarmee te doen gehad het nie. In hierdie geval het God ingegryp en toegelaat dat Samuel se siel opgeroep word. Op hierdie punt was Samuel nie uit die dood uit opgewek nie, dit was slegs Samuel se gees, sy nie-stoflike deel, wat opgeroep is uit die doderyk. Hy kon in gesprek tree met Saul, en het aan hom te kenne gegee dat sy ondergang op hande was en dat hy in die geveg met die Filistyne sou sterf. Wat belangrik is, is dat Samuel by sy volle bewussyn was ná sy eie fisiese dood, en dat hierdie skrifgedeelte ook onsterflikheid bewys.

K. God is ’n God van die Lewendes
Die elfde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is wat Jesus oor God gesê het in Matthéüs 22:29-32. Vers 32 lees: God is nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes. Hoewel hierdie spesifieke lewendes wat Jesus by die naam noem – Abraham, Isak en Jakob – fisies dood was, is God nogtans ’n God vir die lewendes. Die punt wat gemaak word, is dat God ’n volgehoue bewuste, lewende verhouding met die aartsvaders het, een van die redes waarom Hy nie hulle liggame in die dood kan hou nie. Maar hoewel die opwekking van die liggaam nog in die toekoms lê, het God alreeds ’n verhouding met hulle omdat hulle nie-stoflike deel ten volle bewustelik is.

L. Deur die Dood is die Lewe
Die twaalfde bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is Jesus se stelling met betrekking tot Martha en Maria se gestorwe broer Lasarus in Johannes 11:25-26 (NAV): Wie in My glo, sal lewe al sterwe hy ook … sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Let op dat dit nie sê, “sal lewe al het hy ook gesterwe” nie. As “gesterwe het” hier gebruik word, beteken dit bloot dat die dooie persoon uiteindelik opgewek sal word. Johannes gebruik egter die teenwoordige tyd: al is hy nou dood, leef hy ook nou; al sterf ’n mens, dan leef jy steeds. Fisies is hy definitief dood, maar die nie-stoflike deel van die mens het ’n volgehoue, lewende bewustheid, en daarom kan Jesus van ’n gestorwe gelowige sê dat hy lewe al is hy dood.

M. Die Belofte van Toekomstige Heerlikheid
Die dertiende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is die belofte van toekomstige heerlikheid. Die waarborg vir die gelowige se toekomstige heerlikheid, word gevind in Romeine 8:18, en die feit dat die gelowige voorbestem is tot verheerliking, impliseer ook onsterflikheid, want die feit dat verheerliking sal plaasvind, impliseer wesenlik volgehoue ewige bestaan. Romeine 8:18 verklaar: WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

N. Die Belofte van ’n Toekomstige Lewe
Die veertiende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, word gevind in I Korinthiërs 15:19, wat verklaar dat as daar nie ’n toekomstige lewe was nie, ons die ellendigste van alle mense sou gewees het. Die afwesigheid van ’n toekomstige lewe vir die gelowige, sou van hulle die ellendigste mense gemaak het, omdat gelowiges hulle lewens aan God oorgegee het op grond van Sy belofte van onsterflikheid. Gelowiges onderhou ’n baie eng leefstyl en dissiplineer hulleself om te lewe in ooreenstemming met Sy reëls en Sy regulasies, en as daar dan geen lewe na die dood is nie, as daar geen onsterflikheid is nie, dan was dit alles tevergeefs, dan was hulle geloof gegrond op niks. Dit sou definitief van die gelowige die ellendigste van alle mense gemaak het. Onsterflikheid moet dus ’n werklikheid wees, en dit is waarom ’n sekere soort leefstyl hier op aarde van ons verwag word.

O. Die Siel word Vernuwe
Die vyftiende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is die stelling wat in II Korinthiërs 4:16-18 gemaak word dat, hoewel die liggaam vergaan, die siel dag ná dag vernuwe word. Al vergaan die liggaam uiteindelik in die dood, word die siel nogtans dag ná dag vernuwe. Die enigste rede waarom die siel vernuwe word, is omdat dit onsterflik is.

P. Onsterflikheid deur die Evangelie
Die sestiende bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is in II Timóthéüs 1:10, waar Paulus verklaar dat beide die lewe en die onverderflikheid (of: onverganklikheid / onsterflikheid) aan die lig gebring [is] deur die evangelie. Die blote feit dat hy onsterflikheid verbind met die evangelie, toon dat een van die redes vir die evangelie die redding is van die siel ter wille van die volgehoue bestaan daarvan.

Q. Toekomstige Loon en Straf
Die laaste bewys vir die Leer van Onsterflikheid, is die feit dat toekomstige loon en toekomstige straf onsterflikheid impliseer; tensy onsterflikheid die waarheid is, sou hierdie dinge ná die dood geen betekenis kon hê nie. Hierdie feit word gestel in Matthéüs 11:20-24; 13:49-50; 25:34, 41, 46; Romeine 2:5-11; en II Timótheüs 4:7-8.

III. DIE VOORDELE VAN DIE LEER VAN ONSTERFLIKHEID
In die derde hoof kategorie word die voordele van die Leer van Onsterflikheid kortliks bespreek. “Watter voordele het hierdie leerstelling? Is daar enige praktiese waarde in die onderrig van die Leer van Onsterflikheid?”

Daar is drie voordele verbonde aan die Leer van Onsterflikheid.

A. Ons Hoop op Toekomsvreugde
Onsterflikheid gee vir ons die hoop op ’n vreugdevolle toekoms, volgens Filippense 1:23-24: Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. In hierdie skrifgedeelte word Paulus gekonfronteer met die moontlikheid van sy fisiese dood, maar dit het hom hoop gegee op ’n vreugdevolle toekoms, omdat hy geweet het dat skeiding van sy liggaam ’n bewuste, volgehoue gemeenskap met die Here sou beteken.

B. Ons Tydelike Verblyf in Hierdie Lewe
Die tweede voordeel van die Leer van Onsterflikheid, is die wete dat gelowiges net tydelike burgers van hierdie wêreld is, volgens Filippense 3:20: Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus. Die gelowige se burgerskap is in die hemele. Die feit dat onsterflikheid die waarheid is, kweek die bewustheid dat gelowiges tydelike burgers van hierdie lewe is, want hulle burgerskap is nou in die hemele. Wat dit prakties beteken, is dat dit nie nodig is om al die swaarkry en beproewinge van hierdie lewe toe te laat om ons onder te kry of verslae te laat of depressief te maak nie. Gelowiges kan na hierdie dinge kyk en sê, “Ook dit sal verbygaan, ek is net ’n tydelike burger van hierdie wêreld, van hierdie land. Dit alles sal verbygaan. My burgerskap is in die hemele. Eendag sal ek die volle vreugde van die Here ervaar.” Dit is die tweede voordeel van die Leer van Onsterflikheid, naamlik die wete van tydelike verblyf in hierdie lewe, en ná die dood die bestemming van ewige, volgehoue, bewustheid in die Hemel self.

C. Ons Motivering vir ’n Lewe van Geregtigheid
Die derde voordeel van die Leer van Onsterflikheid, is dat onsterflikheid vir ons die motivering is om regskape, Geesvervulde, geheiligde lewens te lei. Iemand wat nie die ware, lewende hoop op onsterflikheid het nie, voer ’n stryd om so veel as moontlik uit die aardse lewe te probeer kry. Die ongereddenes stry en streef gedurig om hoër lewenstandaarde te handhaaf omdat hulle nie die hoop van ewige onsterflikheid in hulle harte het nie. Hulle glo nie in onsterflikheid nie, en omdat hulle nie in onsterflikheid glo nie, probeer hulle om alles wat hulle kan uit hierdie lewe te haal. Hulle voer ’n voortdurende stryd vir materiële gewin.

IV. WANOPVATTINGS
Die vierde hoof kategorie van hierdie studie oor onsterflikheid, is die bespreking van ’n paar algemene verkeerde sienings of algemene wanopvattings oor onsterflikheid. Daar is vier kern wanopvattings.

A. Einde van Bestaan
Die eerste wanopvatting is dat daar ’n einde is aan die bestaan. Dit is die leer van absolute sterflikheid. Hierdie lewe is al wat daar is en wanneer hierdie liggaam doodgaan, kom die bestaan tot ’n volstrekte einde; die dood is nie net die einde van die bewussyn nie, maar ook die einde van die bestaan. Dit is die standpunt van die ateïsme. Die mense wat hierdie verkeerde siening huldig, verwerp uiteraard Bybelse openbaring geheel en al, want volgens hierdie siening kan dit nie ánders as dat die duidelike Bybelse leer oor onsterflikheid verwerp moet word nie. Dit is ooglopend nie ’n standpunt wat by Bybelgelowiges tuishoort nie.

B. Sielsverhuising of Reïnkarnasie
’n Tweede verkeerde siening, ook gehuldig deur ongelowiges, is die leer van sielsverhuising. Dit staan ook bekend as reïnkarnasie: wanneer die liggaam sterf, hou die siel aan om te bestaan; dit gaan egter nie óf Hemel óf Hel toe nie, maar dit verhuis net en beset eenvoudig ’n nuwe, lewende liggaam, hetsy dié van ’n ander persoon of selfs ’n dier. Hierdie leer oor sielsverhuising of reïnkarnasie het geen Bybelse grond nie.

Party mense hou ’n stelling voor wat in Lukas 1:17 gemaak word, dat Johannes die Doper gekom het in die gees en die krag van Elía die profeet. Die argument wat hulle gebruik, is dat aangesien Elía in Johannes die Doper was, dit reïnkarnasie leer, omdat die siel of die gees en die krag van Elía die profeet, werklik die liggaam van Johannes die Doper beset het by óf sy verwekking óf sy geboorte. Dit is egter nie wat in Lukas 1:17 gesê word nie. Wanneer Lukas 1:17 dit stel dat Johannes gekom het in die gees en die krag van Elía, beteken dit dat albei hierdie mans die krag en die teenwoordigheid van dieselfde Heilige Gees gehad het. Die gees in hierdie vers is die Heilige Gees, nie die menslike gees nie. Die krag is die krag van die Heilige Gees. Altwee mans het dus die krag en die teenwoordigheid van die Heilige Gees gehad. Daar is geen manier waarop dit reïnkarnasie kan leer nie.

Verder, die beginsel in Hebreërs 9:27: En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, is ’n baie sterk weerspreking van reïnkarnasie. Hierdie vers bewys die teendeel van die konsep van sielsverhuising. Dit is so dat daar mense is wat twee keer gesterf het aangesien hulle uit die dood teruggekom het en toe weer gesterf het, maar dit is nie reïnkarnasie nie. Dit is dieselfde menslike gees wat voorheen in die persoon was wat weer in hom inwoon. Dieselfde nie-stoflike deel van die mens word in opwekking met dieselfde stoflike deel van die mens verenig. Daar is geen verhuising van die siel nie, daar is geen reïnkarnasie nie; dieselfde sielegees word in dieselfde liggaam teruggebring.

C. Voorwaardelike Onsterflikheid
Die eerste twee verkeerde sienings word gehuldig deur ongelowiges, maar die derde en vierde sienings word deur baie gelowiges gehuldig asook onder baie mense in die kultusse.

Die derde verkeerde siening staan bekend as “voorwaardelike onsterflikheid.” Voorwaardelike onsterflikheid beteken dat die siel nie inherent onsterflik is nie; onsterflikheid is nie deel van die siel se samestelling nie. Onsterflikheid is ’n geskenk wat alleenlik gelowiges ontvang. By die dood hou die ongelowige net eenvoudig op om te bestaan, en dis net die gelowige wie se bestaan nie tot ’n einde kom nie. Hierdie siening word primêr onder die kultusse geleer, maar ongelukkig word die siening ook deur baie gelowiges gehuldig.

Die verskeie argumente wat ingespan word ten gunste van, sowel as teen, voorwaardelike onsterflikheid, is dieselfde argumente vir en teen die vierde verkeerde posisie, naamlik die siening oor uitwissing, en sal dus saam met hierdie siening behandel word.

D. Uitwissing
Die mees algemene verkeerde siening, veral wat die kultusse betref, is die vierde siening: die Leer van Uitwissing. Wat die Uitwissingsleer sê, is dat die ongeredde siel uitgewis word nadat ’n straftydperk verstryk het. Hierdie mense glo dat die ongeredde siel wel Hel toe gaan, maar net tydelik, nie vir ewig nie. Uiteindelik word die ongeredde siel uitgewis nadat dit vir ’n tyd lank straf moes verduur. Hierdie leer word gehuldig deur sekere kultusse soos die Jehovah Getuies en die Sewende Dag Adventiste. Hierdie onderwerp word bespreek in vier afdelings.

1. Die Argumente ten Gunste van Uitwissing
“Watter ondersteunende argumente word graag deur hulle gebruik?” Die steun vir uitwissing kan onderverdeel word in twee kategorieë: teologiese argumente en skriftuurlike argumente.

a. Die Teologiese Argumente
Daar is basies agt teologiese argumente wat deur hulle aangevoer word.

Die eerste teologiese argument is gebaseer op die liefde van God; hulle beweer dat ewige straf nie waar kan wees nie, want dit druis in teen God se liefde.

Die tweede teologiese argument is gebaseer op die regverdigheid van God; daar is geen regverdigheid in ewige straf nie.

Die derde teologiese argument is dat die siel nie onsterflikheid erf nie, dit moet verwerf word. Dit word gebaseer op Génesis 2:7 wat sê: So het dan die mens ’n lewende siel geword, en ook Génesis 3:19 wat sê: stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Deur hierdie twee skrifgedeeltes te kombineer, sê hulle dat die siel nie inherente onsterflikheid het nie, maar dat onsterflikheid verwerf moet word.

Die vierde teologiese argument is dat God sou misluk het as die bestaan van die bose nie opgehef word nie. Aangesien die volgehoue bestaan van die ongereddenes die volgehoue bestaan van die bose beteken, sou God misluk het as die bestaan van die bose nie opgehef word nie, en daarom sal dit opgehef word deur uitwissing.

Die vyfde teologiese argument wat hulle graag gebruik, is om te vra: “Watse geregtigheid is daar in ewige straf vir klein kindertjies wat vroeg gesterf het en vir die onkundige heidene?” Dit is onregverdig teenoor hulle wat klein gesterf het of hulle wat in onkunde gesterf het om in ewige straf te verkeer.

Die sesde teologiese argument is dat straf net voordelig of doelmatig is as dit aangewend word vir rehabilitasie. In ewige straf is daar geen rehabilitasie nie; daarom is daar ook geen doel daarmee nie.

Die sewende teologiese argument is: “Hoekom moet God en die heelal belas word met die volgehoue bestaan van diegene wat ’n nuttige lewe versmaai het?” Hulle sien die volgehoue, ewige bestaan van die ongelowige, as ’n las vir God en die heelal; daarom moet daar weggedoen word met hulle bestaan.

Die agtste teologiese argument is dat die regverdiges nie geluksaligheid sal kan smaak as hulle weet daar is andere wat vir altyd in die Hel is nie. Die mense in die Hemel sal dit nie daar kan geniet in die wete dat daar andere in die Hel is wat voortdurend ly nie.

b. Die Skriftuurlike Argumente
Skriftuurlike argumente word ook deur hulle aangevoer, en in totaal is daar sestien skriftuurlike argumente wat hulle graag gebruik. Hulle steun swaar op die begrip van “vernietiging” of “verderwing” en maak baie gebruik van die woord verderwe/verderf.

Hulle wys op Matthéüs 10:28, wat verwys na God se mag wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

Tweedens gaan hulle na Matthéüs 7:13, wat sê: breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en verderf word geïnterpreteer as “ophou om te bestaan.”

Derdens wend hulle hul tot Romeine 9:22, waar gepraat word van die ongelowiges wat vir die verderf toeberei is.

Vierdens gaan hulle na II Petrus 2:1, waar valse profete en valse leraars ’n vinnige verderf oor hulleself bring.

Die vyfde skriftuurlike argument is Filippense 3:19, wat van die ongelowiges sê: hulle einde is die verderf. Dit word deur hulle uitgewys dat die Griekse woord hier, dieselfde is as die ander woorde wat vertaal is met “om te vernietig.”

Sesdens is daar II Petrus 2:12, waar gepraat word van daardie ongelowiges wat gevang en vernietig moet word.

Die sewende argument is I Thessalonicense 5:3, wat praat van die ongelowige vir wie ’n skielike verderf uiteindelik sal oorval.

Agtstens is daar II Thessalonicense 2:8, wat praat van die ongeregtige een wat bestem is tot verdelging.

In die negende plek is daar Eségiël 18:4, 20, wat wel praat van die siel wat sterwe.

Die tiende skriftuurlike argument word gebaseer op Psalm 146:4, wat sê ’n mens se gees gaan uit (Engels: thoughts perish) wanneer jy doodgaan. As ’n mens se gees uitgaan (of as jou gedagtes vergaan), beteken dit dat die nie-stoflike deel van die mens ophou om te bestaan.

Die elfde argument is Prediker 9:5, wat sê: die dooies weet glad niks nie.

Die twaalfde argument is hulle bewering dat die kombinering van Génesis 2:7 met Génesis 3:19, beteken dat die mens ’n siel is wat met die fisiese dood tot stof terugkeer.

Dertiende noem hulle dat die terme Hades en Sheol (die doderyk) eintlik “vergetelheid en dood” beteken, en daarom, “die ophou van bestaan” beteken.

Hulle veertiende argument word gebaseer op Kolossense 1:20, wat dit stel “dat alle dinge versoen is.” As daar ’n volgehoue bestaan van die ongereddenes in ewige straf is, sal dit beteken dat “alle dinge” nie versoen is nie; maar as “alle dinge” versoen is, beteken dit dat die ongelowige element geëlimineer en uitgewis is.

Die vyftiende skriftuurlike argument wat hulle graag gebruik, word gevind in II Timótheüs 1:10, wat praat van die dood wat uiteindelik tot niet gemaak word.

Die sestiende skriftuurlike argument word gebaseer op I Korinthiërs 15:25-26, wat praat van die dood wat vernietig word.

2. Die Argumente Teen Uitwissing
Die derde afdeling van hierdie segment oor uitwissing, is die antwoorde op die argumente ten gunste van uitwissing. “Hoe reageer ’n mens wanneer jy met hierdie argumente gekonfronteer word?” Die argumente sal een vir een bespreek word, in dieselfde orde as wat dit bo voorkom.

a. Die Teologiese Argumente
Eerstens was daar die argument oor die liefde van God: dat God se liefde nie versoenbaar is met ewige straf nie. Maar as dit in stryd is met God se liefde om die mens ewig te straf, sou dit ook in stryd wees met God se liefde om die mens tydelik in die Hel te straf, of dat die mens in die huidige bestaan aan ellende onderworpe moet wees. God se liefde kan nie as ’n argument gebruik word teen ewige straf nie en ook nie teen tydelike straf nie. As God se liefde nie versoenbaar is met die een nie, dan is dit ook nie versoenbaar met die ander nie. Tog glo hulle in tydelike straf.

Tweedens, wat God se regverdigheid betref, is dit ’n kwessie van menslike opinie dat God se regverdigheid nie ewige straf sal toelaat nie. Die Bybel leer trouens anders: die ware geregtigheid van God vereis ewige straf vir hulle wat die ewige lewe wat Hy vir hulle voorsien het, verwerp het.

Derdens is daar hulle bewering dat die siel volgens Lukas 16:19-31 nie inherent onsterflik is nie; maar let op dat iemand in die doderyk in smarte verkeer; die ryk man verkeer in smarte. Hoewel sy liggaam tot stof teruggekeer het, het sy siel nie.

Die vierde teologiese argument was dat God sou misluk het as die bose nie uitgewis word nie. Dit is egter ’n aanname wat hulle maak sonder om dit te bewys. Die Bybel leer trouens iets anders. As God se voorneme die uitwissing van die ongereddenes sou ingesluit het, en hierdie voorneme sou nie ten volle uitgevoer word nie, dan sou God se plan misluk het. Maar as God se voorneme ewige straf insluit, dan misluk God se plan nie.

Die vyfde argument gaan oor geregtigheid vir gestorwe babas en die onkundige heidene. Hier maak hulle die aanname dat babas Hel toe gaan. Die Bybel spesifiseer nie eenkant toe of anderkant toe nie. Verder is dit ’n menslike konsep van goddelike oordeel wat teenoor die Bybelse konsep staan.

Die sesde argument was dat straf net voordelig is as dit aangewend word vir rehabilitasie. Aangesien die ongeredde dooies nie in die ewigheid gerehabiliteer gaan word nie, sal hulle gevolglik uitgewis word. Dit is egter weer ’n aanname wat hulle maak oor die wettige aanwending van straf. Dit is nie waar dat straf net waarde het vir rehabilitasie nie. Somtyds is straf net daar ter wille van die straf. Die aanname oor die wettige aanwending van straf is dus nie noodwendig waar nie. Ewige straf is nie vir die doel van rehabilitasie nie, maar vir die doel van straf ter wille van die straf self.

Die sewende teologiese argument was: Hoekom moet God en die heelal belas word met die volgehoue bestaan van diegene wat ’n nuttige lewe versmaai het? Die antwoord is eenvoudig omdat dit God so behaag. Wat meer is, dit sal geen las wees nie. Gelowiges gaan in ’n staat van volmaaktheid en heiligheid verkeer, en sal nie dieselfde verhouding met die ongelowiges handhaaf as wat nou die geval is nie. In daardie tyd sal hulle nie hierdie las dra nie. Hulle sal God se denke hê en dit vanuit Sy perspektief sien, en nie vanuit hulle eie nie.

Die agtste teologiese argument was dat die regverdiges slegs geluksaligheid sal smaak as hulle weet dat andere nie ewig ly nie; die regverdiges sal nie gelukkig kan wees as hulle weet dat andere voortdurend in die Hel ly nie. Maar hier is die antwoord dat die regverdiges die geluksaligheid van God se teenwoordigheid sal geniet en nie belas sal wees met die huidige perspektief oor wat toepaslik of ontoepaslik is ten opsigte van Hemelse geluksaligheid nie.

Die agt teologiese argumente wat hulle graag gebruik, het dus almal antwoorde. Daar is geen rede waarom uitwissing op grond van hierdie argumente van hulle geleer moet word nie.

b. Die Skriftuurlike Argumente
Een van hulle hoof skriftuurlike argumente was gebaseer op die gebruik van die Griekse woord apollumi, wat in die Afrikaanse Bybel vertaal word met “verloor/verlore” en “verderwe”. Hiervoor verwys hulle na skrifgedeeltes soos Matthéüs 10:6, 28; 15:24; 16:25; en ook ander skrifgedeeltes.

Hulle eerste skriftuurlike verwysing is gebaseer op Matthéüs 10:28. Die woord apollumi hier, beteken nie “totale vernietiging totdat dit die einde van die bestaan is” nie; dit is duidelik uit die gebruik van die woord op ander plekke. Dit beteken net “om in ’n verlore toestand te wees.” Dit word nie gebruik vir die totale vernietiging van beide die liggaam en die siel nie, want dieselfde woord wat as “verloor/verlore” vertaal word, word selfs gebruik van mense wat steeds lewe. Hierdie woord word byvoorbeeld vir die lewendes gebruik in Matthéüs 10:6, waar dit vertaal word as die verlore skape; in Matthéüs 15:24 weer eens as die verlore skape; in Matthéüs 16:25 as elkeen wat verloor; en in Lukas 19:10 as dit wat verlore was. Die woord apollumi beteken dus nie “vernietiging in die sin van ophou bestaan nie,” maar dit beteken net “om in ’n toestand van verlorenheid te verkeer.” Diegene wat vir ewig in die Hel is, sal nie vernietig word tot op die punt waar hulle ophou bestaan nie; dit is meer korrek om te sê dat diegene wat in die ewige Poel van Vuur is, diegene is wat in ’n ewige toestand van verlorenheid sal verkeer.

Die tweede, derde, vierde, en vyfde skriftuurlike argumente was gebaseer op Matthéüs 7:13; Romeine 9:22; II Petrus 2:1; en Filippense 3:19, wat almal die term “verderf” gebruik. Die antwoord hier is dat die stellings wat in hierdie skrifgedeeltes gemaak word, die Griekse woord apuleia gebruik, wat nie “die einde van bestaan” beteken nie. Elders waar dit gebruik word, beteken dit net “om in ’n verderflike toestand te verkeer.” Dit leer nie uitwissing nie; dit is nie die uitwissing van die stoflike nie, maar die verlorenheid of nutteloosheid van dit wat beskryf word. Dieselfde woord word gebruik in Matthéüs 26:8 en Markus 14:4, waar dit net vertaal word as “om in ’n toestand van verkwisting te wees.” Weer eens, hierdie verse beteken nie “uitwissing van die stoflike” nie, maar benadruk net die verlorenheid of nutteloosheid daarvan. Hierdie verse leer dus nie uitwissing nie.

Sesdens gebuik hulle II Petrus 2:12 wat lees: om gevang en vernietig te word. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is egter phthora, wat “verdorwenheid” beteken. Die slagoffers word gesien as synde in ’n toestand van verdorwenheid; omdat hulle in die Poel van Vuur sal wees, sal hulle heeltemal verdorwe wees; verdorwe, maar hulle hou nie op om te bestaan nie.

’n Sewende skrifgedeelte wat deur hulle gebruik word, is I Thessalonicense 5:3, wat van die ongelowiges sê dat ’n skielike verderf hulle sal oorval. Maar die Griekse woord wat hier gebruik word, is holephros, wat nie “vernietiging” in die sin van uitwissing beteken nie, maar wat handel oor die fisiese vernietiging tydens die Groot Verdrukking. Hierdie vers is geskryf in die konteks van die Groot Verdrukking en praat van die vernietiging van die fisiese wêreld, nie die uitwissing van die ongelowige se siel nie.

’n Agtste skriftuurlike argument wat hulle ook gebruik, is II Thesalonicense 2:8, waar dit praat van die onregverdige wat verdelg sal word. Maar die Griekse woord hier is katargeo, wat net beteken “om buite werking gestel te word.” Dit beteken nie “om uit te wis” nie, maar “om buite werking te stel.” In hierdie skrifgedeelte word dit gebruik van die Antichris, en al wat dit sê, is dat die Antichris se mag en outoriteit uiteindelik buite werking gestel sal word. Die betekenis hiervan word trouens in ander skrifgedeeltes uiteengesit. Byvoorbeeld, Openbaring 19:20 verklaar dat die Antichris en die valse profeet lewendgewerp [is] in die vuurpoel wat met swawel brand, en met hierdie aksie word die Antichris dan buite werking gestel soos wat dit geprofeteer is in II Thessalonicense 2:8. Wat meer is, Openbaring 20:10 wys daarop dat die Antichris selfs na 1,000 jaar in die Poel van Vuur, steeds daarbinne lewend sal wees. II Thessalonicense 2:8 beteken dus nie “om verdelg te word in die sin van ophou om te bestaan nie,” maar “om verdelg te word in die sin van buite werking gestel te wees.”

’n Negende skrifgedeelte wat hulle ook graag gebruik, is Eségiël 18:4 en 20, waar dit van die siel praat wat sterwe. Die woord “dood” beteken nogtans nooit uitwissing nie, soos dit duidelik blyk uit Efésiërs 2:1-3 en 9. Die dood is net “ ’n skeiding.” In hierdie geval (Esegiël 18) is die dooie siel van God afgeskei. ’n Siel wat dood is, is ’n siel wat geen geestelike lewe het nie, die ongelowige het ’n geestelik dooie siel, maar dit is nie sonder bestaan nie. Die siel wat in ’n ongelowige toestand van die liggaam skei, gaan uiteindelik oor tot ’n tweede dood, maar die tweede dood is nie uitwissing nie; dit beteken net om vir ewig van God geskei te wees.

Tiendens, is ’n ander Ou-Testamentiese skrifgedeelte wat hulle gebruik, Psalm 146:4, wat sê ’n mens se gees gaan uit wanneer jy sterf. Wanneer vers 3 egter in konteks saam met vers 4 gelees word, beteken dit net dat die mens se skemas, die mens se planne, en die mens se gedagtes nie op die aarde uitgevoer kan word ná sy liggaamlike dood nie. Hy het nou geen geleentheid meer om sy planne te laat realiseer nie, en dit is al wat dit beteken; dit leer nie die einde van bestaan nie.

’n Elfde skrifgedeelte wat hulle ook gebruik, is Prediker 9:5, waar dit sê, die dooies weet glad niks nie. Die konteks van Prediker 9:5 is egter net die gevolgtrekkings van menslike filosofieë. Dit is inderdaad hoe dit onder die son lyk vanuit die standpunt van menslike filosofie (vs 6). Maar weer eens, Prediker 9:5 lig net uit wat ervaar word deur menslike filosofie onder die son. Dit is nie ’n goddelike uitvaardiging nie; dit is nie die positiewe leringe van die Woord van God nie.

Twaalfdens, is nog ’n skriftuurlike argument wat hulle gebruik, om Génesis 2:7 te kombineer met Génesis 3:19, en dan uit te wys dat die mens ’n siel is wat sal terugkeer tot die aarde. Maar, volgens hierdie skrifgedeeltes, is dit die liggaam, nie die siel nie, wat terugkeer tot die aarde. Dit was Adam se liggaam wat uit die aarde geskape is, nie Adam se siel nie. Die siel het van die asem van God gekom, nie van die aarde nie, daarom is dit die liggaam en nie die siel nie, wat terugkeer tot die aarde. Lukas 16:19-31 toon duidelik aan wat werklik by die dood met die siel gebeur.

’n Dertiende skriftuurlike argument wat hulle ook graag gebruik, is om te sê dat Sheol en Hades “vergetelheid en dood” beteken, maar enigiemand wat Hebreeus en Grieks ken, kan getuig dat dit nie is wat hierdie twee woorde beteken nie. Weer eens, Lukas 16:19-31 wys dat die ryk man baie definitief by sy bewussyn is daar in Sheol (die doderyk), en dat die term dus onmoontlik “vergetelheid” kan beteken.

Veertiende gebruik hulle ook Kolossense 1:20, wat sê dat “alle dinge versoen sal word.” In die konteks egter, beteken “alle dinge” nie “alle dinge sonder uitsondering” nie, maar dit beteken “alle dinge sonder onderskeid.” Alle soorte dinge sal versoen word, maar nie alle dinge as sodanig nie.

Vyftiende en sestiende gebruik hulle I Timótheüs 1:10 en I Korinthiërs 15:25-26, waar dit gesê word dat die dood tot niet gemaak/vernietig is. Hierdie twee verse handel egter net oor die uitwerking van die natuurlike dood op die liggaam. Dit is die eerste dood, liggaamlike dood, wat vernietig is; die tweede dood, ewige geestelike dood, is nie vernietig nie. Dit is die vernietiging van die eerste dood wat die opwekking moontlik maak, maar die tweede dood gaan ewig wees.

3. Addisionele Argumente Teen Uitwissing
Om mee af te sluit: daar is elf addisionele argumente wat toon dat die Bybel nie uitwissing leer nie. Dit leer wel die onsterflikheid van die siel van sowel die gelowige as die ongelowige.

a. Die Profesieë van Daniël
Die eerste bewys word gevind in Daniël 12:2, waar daar van ’n opwekking gepraat word. Daniël het geprofeteer dat sommiges opgewek sal word tot die ewige lewe, en dat andere opgewek sal word tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. Dit is inkonsekwente eksegese of inkonsekwente interpretasie om te beweer dat dit onsterflikheid beteken wanneer daar gepraat word van die ewige lewe vir die gelowige; maar wanneer daar gepraat word van smaadheid, vir ewig afgryslik, vir die ongelowige, beteken dit nie onsterflikheid of vir ewig nie. Dieselfde woord in dieselfde vers word egter gebruik met betrekking tot die gelowige en die ongelowige. Die Bybel moet nooit geïnterpreteer word op so ’n manier dat dieselfde woord in dieselfde vers twee heeltemal verskillende dinge beteken nie, tensy dit deur een of ander aanduiding bewys kan word, en in hierdie vers is daar geen aanduiding van so ’n aard nie.

b. Ewige Lewe en Ewige Smaad
Twee, Matthéüs 25:46 dui aan dat sommiges sal weggaan in die ewige lewe terwyl andere sal weggaan in die ewige straf. Weer eens, as die gelowiges die ewige lewe ontvang en dit vir hulle onsterflikheid beteken, en Jesus dieselfde uitdrukking vir die ongelowiges gebruik wanneer Hy praat van die ewige straf, dan moet dit ook vir húlle onsterflikheid beteken. Net soos Daniël 12:2, gebruik Matthéüs 25:46 dieselfde terminologie vir die gelowiges en die ongelowiges, en daarom moet dit dieselfde betekenis vir albei groepe hê. Weer eens, dit is net eenvoudig inkonsekwente eksegese om vir dieselfde woord in dieselfde vers twee teenoorgestelde betekenisse te gee.

c. Die Helse Vuur
Die derde addisionele argument is gebaseer op Markus 9:47-48, waar daar gepraat word van die plek waar die ongelowiges ly, naamlik die helse vuur van smarte: waar die vuur nie uitgeblus word nie. Dit is ook ’n lering teen uitwissing.

d. Gevalle Engele
Die vierde addisionele argument word gevind in Hebreërs 2:16, wat aantoon dat God nie redding voorsien het vir gevalle engele nie. Hoe is dit relevant? Deel van die leer van die voorstanders van uitwissing, is gebaseer op die teologiese argument en die skriftuurlike argument van die Bybelse belofte dat “alle dinge (alles) met God versoen sal word” (Kol. 1:20). Die feit is egter dat “alles” in hierdie skrifgedeelte nie “alles sonder uitsondering” beteken nie, maar dit beteken dat alle soorte dinge versoen sal word, hoewel nie elke ding van elke soort nie. Volgens Hebreërs 2:16 is redding nie voorsien vir gevalle engele nie, en gevalle engele sal dus nooit met God versoen word nie, maar tog bly hulle bestaan as ewige wesens. Die feit dus, dat daar geen versoening vir gevalle engele is nie, wys dat die skrifgedeelte in Kolossense nie gebruik kan word om te leer dat alles sonder uitsondering versoen sal word deur middel van die uitwissing van alles en almal wat boos is nie. Dit kan eenvoudig nie daardie betekenis hê nie.

e. Ewige Oordeel
Die vyfde argument word gevind in Hebreërs 6:2, waar daar gepraat word van die ewige oordeel. Weer eens, hier is die woord ewige dieselfde woord wat gebruik word wanneer daar verwys word na ewige lewe. As die woord ewige “onsterflikheid” vir die gelowige beteken, moet daardie selfde woord met verwysing na die ongelowige, ook “onsterflikheid” beteken.

f. Ewige Straf
Die sesde argument word gevind in Judas 7, waar daar gepraat word van die straf van die ewige vuur. Dit word gesê die vuur in sigself is ewig, en dit word gesê die straf in sigself is ewig. Dit is nie net die vuur wat ewig is nie, maar dit is die straf in die vuur wat ewig is. As die straf net tydelik sou wees soos wat die voorstanders van uitwissing leer, dan sou dit vanselfsprekend nie ewig kon wees nie.

g. Die Ewige Poel van Vuur
Die sewende argument word gebaseer op Openbaring 14:11, waar daar gepraat word van sommiges wat tot in alle ewigheid in die Poel van Vuur gepynig sal word. “Wat beteken dit om tot in alle ewigheid gepynig te word?” Nou ja, die voorstanders van uitwissing beweer dat die term tot in alle ewigheid nie “ewigheid” beteken nie, maar net “ ’n baie lang tyd,” en na ’n baie lang tyd van pyniging, sal hulle uitgewis word. Die probleem met hierdie siening van Openbaring 14:11, is dat presies dieselfde uitdrukking vir God gebruik word in Openbaring 15:7, waar daar gesê word dat God leef tot in alle ewigheid. So, is God ewig of is God net tydelik? Selfs die voorstanders van uitwissing glo dat God ewig is. Aangesien dieselfde uitdrukking wat vir God gebruik word, ook gebruik word vir die pyniging van die ongelowiges, is dit voor die hand liggend dat die pyniging nie tydelik kan wees nie, maar dat dit ook ewig moet wees.

h. Die Dier en die Valse Profeet
Die agtste argument is die vergelyking van Openbaring 19:20 met Openbaring 20:10, wat toon dat die dier en die valse profeet ná die verloop van 1,000 jaar steeds in die poel van vuur en swawel is. Dus, selfs 1,000 jaar in die poel van vuur is nie genoeg tyd vir hulle om uitgewis te word nie. As uitwissing waar was, sou ’n mens moes aanneem dat hulle na 1,000 jaar nie meer lewendig sou kon wees nie.

i. Die Griekse Woord Aionos
Die negende argument rus op die Griekse woord aionos, die gebruiklike term wat met “ewig” vertaal word. Die voorstanders van uitwissing probeer aanvoer dat die woord aionos nie “ewig” beteken nie, maar “net vir ’n tydperk” beteken. Maar weer eens moet dit uitgewys word dat die Griekse woord aionos vir sowel gelowiges as ongelowiges gebruik word soos in Matthéüs 25:46. Daarom kan ’n mens nie dat aionos “ewigheid” of “onsterflikheid” vir die gelowige beteken, maar dit forseer om vir die ongelowige net “tydelikheid” te beteken nie. As dit ewig is vir die gelowige – en die voorstanders van uitwissing sê wel dit beteken “ewig” vir die gelowige – kan hulle nie nou omdraai en sê vir die ongelowige is dit net ’n tydelike periode nie. ’n Mens kan nie dieselfde woord vat en dit forseer om twee verskillende betekenisse te hê nie. Deur dit te doen, word die Skrif deur jou eie teologiese bril geïnterpreteer in stede daarvan om teologie af te lei van die Skrif, wat die regte manier is om teologie te ontwikkel.

j. God Is Ewig
Die tiende argument teen uitwissing, is dat die woord aionos, wat volgens die voorstanders van uitwissing in sekere gevalle nie “ewig” beteken nie, die presiese woord is wat vir God gebruik word. Dit onderskryf God se ewiglikheid en kom voor in Openbaring 4:9; 10:6; 15:7; en Hebreërs 9:14. Weer is die vraag, is God tydelik of is God ewig? Selfs hulle glo dat God ’n ewige wese is. Daarom kan hulle nie dat dieselfde woord die teenoorgestelde betekenis kry wanneer dit na die ongelowiges verwys nie.

k. Tot in Alle Ewigheid
Die elfde en finale argument teen uitwissing, is ook gebaseer op die uitdrukking “tot in alle ewigheid”. In die Boek Openbaring kom hierdie uitdrukking in totaal dertien keer voor. Nege van die dertien keer word dit gebruik met verwysing na God, en almal stem saam dat wanneer dit vir God gebruik word, onderskryf dit ewiglikheid en onsterflikheid. Een keer word dit gebruik vir die heiliges in die Hemel, en hulle glo definitief dat die heiliges in die Hemel ewige, onsterflike wesens is. Dan word dit een keer gebruik vir Satan in die Poel van Vuur en twee keer vir die ongelowiges in die Poel van Vuur. Maar in hierdie laaste drie gevalle wil hulle dit net tydelik maak. As hulle tien keer saamstem dat dit “ewig” beteken, kan hulle nie nou omdraai en dit die laaste drie keer iets tydeliks laat beteken nie. As dit dus waar is dat dit die onsterflikheid van God en die heiliges in die Hemel leer, moet dit ook die onsterflikheid van Satan en die ongelowiges in die Poel van Vuur leer. Weer eens, ons teologie moet afgelei word van die Skrifte, nie geïnterpreteer word deur ons vooropgestelde idees oor teologie en ons emosionele voorkeure nie.

[end]

Inhoudsopgawe
I. DEFINISIE
II. DIE BEWYSE VIR DIE LEER VAN ONSTERFLIKHEID
     A. Versamel by sy Volksgenote
     B. Na die Vaders Gegaan
     C. Die Volgehoue Bestaan van Henog
     D. Die Versekerdheid van Job
     E. Die Leer van die Opstanding
     F. Die Bewustheid van die Siel
     G. Vereniging met die Dooies
     H. Die Bewustheid van die Siele in die Doderyk
     I. Ewigheid in die Hart
     J. Samuel se Verskyning aan Saul
     K. God is ’n God van die Lewendes
     L. Deur die Dood is die Lewe
     M. Die Belofte van Toekomstige Heerlikheid
     N. Die Belofte van ’n Toekomstige Lewe
     O. Die Siel word Vernuwe
     P. Onsterflikheid deur die Evangelie
     Q. Toekomstige Loon en Straf
III. DIE VOORDELE VAN DIE LEER VAN ONSTERFLIKHEID
     A. Ons Hoop op Toekomsvreugde
     B. Ons Tydelike Verblyf in Hierdie Lewe
     C. Ons Motivering vir ’n Lewe van Geregtigheid
IV. WANOPVATTINGS
     A. Einde van Bestaan
     B. Sielsverhuising of Reïnkarnasie
     C. Voorwaardelike Onsterflikheid
     D. Uitwissing
         1. Die Argumente ten Gunste van Uitwissing
             a. Die Teologiese Argumente
             b. Die Skriftuurlike Argumente
         2. Die Argumente Teen Uitwissing
             a. Die Teologiese Argumente
             b. Die Skriftuurlike Argumente
         3. Addisionele Argumente Teen Uitwissing
             a. Die Profesieë van Daniël
             b. Ewige Lewe en Ewige Smaad
             c. Die Helse Vuur
             d. Gevalle Engele
             e. Ewige Oordeel
             f. Ewige Straf
             g. Die Ewige Poel van Vuur
             h. Die Dier en die Valse Profeet
             i. Die Griekse Woord Aionos
             j. God is Ewig
             k. Tot in Alle Ewigheid

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat gebeur wanneer iemand sterf, en presies waar is daardie persoon? Wat is ‘n gelowige se staat tussen dood en opstanding – en hoe verskil dit met die ongelowige se staat? Het ‘n gelowige een of ander liggaam tussen dood en opstanding? Hierdie en ander vrae word in die artikel behandel. Vals leringe soos ‘n tweede proeftydfperk of sieleslaap word ook aangeroer.