Regverdigmaking en heiligmaking

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees. – Levítikus 23:15

Wat volg, is ’n messiaanse Bybelstudie oor regverdigmaking en heiligmaking, twee belangrike fasette van die gelowige se redding.

I. REGVERDIGMAKING
Wat leer die Bybel ons oor regverdigmaking, en wat presies is regverdigmaking? Regverdigmaking is ’n uiters belangrike teologiese konsep in die Skrif. Dit is ’n belangrike faset van die gelowige se redding wat nie misgekyk behoort te word nie. Die onderwerp van regverdigmaking sal in agt afsonderlike dele bestudeer word.

A. Die betekenis van regverdigmaking

1. ’n Besliste stelling
Die basiese betekenis van regverdigmaking in al sy gebruiksvorme is bloot “om regverdig te verklaar”. Regverdigmaking beteken nie “om regverdig te wees” of “om regverdig te maak” nie; dit beteken gewoon “om regverdig te verklaar”. Dit is ’n besliste stelling. In die teologiese sin van die woord, is regverdigmaking die daad waardeur God die sondaar regverdig verklaar op grond van die volmaakte regverdigheid van Jesus die Messias. Regverdigmaking is dus God se regspraak waardeur Hy verklaar dat daar aan al die eise van die Wet ten opsigte van die sondaar voldoen is, op grond van die regverdigheid van Jesus die Messias.

2. ’n Oordeelsdaad
Die woord regverdigmaking se betekenis en posisie hou dus verband met die regspraak. Onthou, dit beteken nie “om regverdig gemaak te word nie”, bloot “om regverdig verklaar te word”. Wat dit betref, staan regverdigmaking dus teenoor skuldigverklaring (Deur 25:1; Spr 17:15; Rom 8:33-34). As iemand verhoor word, word hy óf onskuldig verklaar óf hy word skuldig verklaar; dit is die twee uiterstes. As ’n mens nie veroordeel word nie, as jy nie skuldig verklaar word nie, moet ’n mens onskuldig (regverdig) verklaar word. Die daad van regverdigmaking self omsluit dus die konsep van oordeel. Om iemand regverdig te verklaar is om oordeel te spreek (Rom 8:33). Regverdigmaking is dus ’n oordeelsdaad; dit is om te verklaar dat iemand oor ’n sekere hoedanigheid beskik.

3. ’n Instellingsdaad
Regverdigmaking is ook ’n instellingsdaad. Die toeskrywing van Jesus die Messias se gehoorsaamheid en regverdigheid aan die mens maak dit ’n instellingsdaad. Daar is drie groot toeskrywings: die toeskrywing van Adam se sonde aan die nageslag van Adam; die toeskrywing van die mens se sonde aan Jesus die Messias, en die toeskrywing van die Messias se regverdigheid aan die gelowige. Regverdigmaking is ’n instellingsdaad, want dit is slegs op grond van die Messias se regverdigheid dat die gelowige regverdig verklaar kan word.

B. Die Griekse woorde wat die konsep van regverdigmaking oordra
Daar is een Griekse woordstam waaruit die konsep van regverdigmaking afgelei word. Daar is vyf verskillende Griekse woorde wat uit hierdie Griekse stam spruit wat die betekenis van geregtigheid en regverdigmaking dra.

Die eerste woord is dikaios, wat “regverdig” beteken (Rom 5:19).

Die tweede Griekse woord is dikaisunei, wat “regverdigheid” beteken (Rom 5:21; 9:30-32).

Die derde Griekse woord is dikaioo, wat beteken “om regverdig te verklaar” (Matt 12:37; Hand 13:39; Rom 2:13; 3:4).

Die vierde Griekse woord is dikaiomata, wat beteken “dade van geregtigheid” of “regverdige optrede” (Luk 1:6; Rom 2:26; 5:16, 18; Heb 9:1, 10; Openb 15:4; 19:8).

Die vyfde Griekse woord wat van dieselfde stam af kom, is dikaiosis, wat “die daad van regverdigverklaring” beteken (Rom 4:25; 5:18).

Al vyf hierdie Griekse woorde kom van dieselfde woordstam af. Die bybelse leer oor regverdigmaking spruit uit hierdie vyf Griekse afleidings van daardie stam.

C. Die grondslag van regverdigmaking
Wat is die grondslag van regverdigmaking? Daar is twee sye aan die grondslag van regverdigmaking, ’n positiewe een en ’n negatiewe een.

1. Die positiewe sy
Positief gesproke, is die grondslag van regverdigmaking drieledig. In die eerste plek is regverdigmaking gegrond op God se genade wat betoon is in die volmaakte lewe van Jesus die Messias en in sy gehoorsaamheid en offerdood. Tweedens geskied regverdigmaking deur sy bloed (Rom 5:9). Derdens word Jesus se dade van geregtigheid en sy regverdigheid toegeskryf aan die gelowige (1 Kor 1:30; 2 Kor 5:21). Positief gesproke, is die grondslag van regverdigmaking dus God se genade, deur Jesus die Messias, deur sy bloed, wanneer Jesus se regverdigheid aan die gelowige toegeskryf word.

2. Die negatiewe sy
Die negatiewe sy van regverdigmaking is dat regverdigmaking nie op grond van menslike verdienste geskied nie. Niemand sal ooit op grond van sy werke regverdig verklaar word nie. Die Skrif leer dit menigmaal vir ons. As iemand regverdig verklaar word, word hy nooit op grond van sy werke regverdig verklaar nie; goeie werke vorm nooit die grondslag vir bybelse regverdigmaking nie (Rom 3:28; 4:5-6; Gal 2:16).

D. Die middel tot regverdigmaking
Wat die middel tot regverdigmaking betref, is daar vyf sake wat aandag moet geniet.

In die eerste plek is die middel tot regverdigmaking altyd geloof (Rom 3:21-22). Ons moet ’n duidelike onderskeid hier tref. Geloof is altyd die middel tot regverdigmaking; dit is nooit die rede vir regverdigmaking nie. Die Bybel sê nooit dat regverdigmaking danksy geloof plaasvind nie; geloof is nooit die oorsaak van regverdigmaking nie. Die Griekse konstruksie wat altyd gebruik word, wys duidelik dat regverdigmaking altyd deur geloof geskied. Geloof is dus die middel tot regverdigmaking (Hand 13:38-40; Rom 3:26-30; 5:1; 10:10; Gal 2:16; 3:8, 24).

Die tweede saak aangaande die middel tot regverdigmaking is dat regverdigmaking altyd op ’n regverdige basis geskied. God se Wet het ’n aanspraak op die sondaar, en daardie aanspraak moet bevredig word voor regverdigmaking kan geskied. Hoe die aanspraak van God se Wet bevredig word, is deurdat Jesus die Messias se geregtigheid aan die gelowige toegeskryf word, sodat die sondaar vrygespreek kan word; daarom geskied regverdigmaking altyd op ’n regverdige basis.

Die derde saak aangaande die middel tot regverdigmaking waarop ons moet wys, is dat regverdigmaking nooit te danke is aan die mens se regverdigheid of prestasie nie; dit geskied nooit op grond van verdienste nie (Rom 3:20; 4:2; 10:3-4; Gal 2:16; 3:10-11, 24; 5:4; Fil 3:9).

Die vierde saak oor die middel tot regverdigmaking is dat regverdigmaking deur genade geskied (Gen 15:6; Rom 3:24-26; 5:18-21; Tit 3:5-7).

Die vyfde saak aangaande die middel tot regverdigmaking is dat ’n regter die regverdiges moet regverdig en die skuldiges moet veroordeel; dit is ’n ware onpartydige regter se verantwoordelikheid. Tog sê die Skrif vir ons dat God die goddelose regverdig (Rom 3:21-25; 4:5). Hoe is dit moontlik dat ’n regter die regverdiges moet regverdig en die skuldiges moet veroordeel, maar ten spyte daarvan leer die Bybel vir ons dat God die goddelose regverdig? Die Bybel sê verder ook dat God regverdig is wanneer hy die goddelose regverdig maak (Rom 3:26). Dit is moontlik danksy die middel, die toegeskrewe regverdigheid van die Messias (Rom 5:17-19). Wanneer die Messias se regverdigheid aan die gelowige toegeskryf word, word die gelowige regverdig gemaak; omdat hy deur toeskrywing regverdig gemaak is, kan die gelowige dan regverdig verklaar word deur regverdigmaking. Hierdie stand van sake verseker dat God konsekwent kan optree wanneer Hy die goddelose regverdig maak.

E. Die fasette van regverdigmaking
Die Bybel noem sewe fasette van regverdigmaking.

Eerstens word die gelowige deur God regverdig gemaak. Hy is die bron van regverdigmaking; dit is waar regverdigheid vandaan kom (Rom 3:26).

Die tweede faset van regverdigmaking is dat die gelowige deur Jesus se bloed geregverdig word. Dit is die grondslag van regverdigmaking; dit is hoe geregtigheid voorsien word (Rom 3:24-25; 5:9).

Die derde faset van regverdigmaking is dat gelowiges deur die geloof regverdig verklaar word. Dit is die middel tot regverdigmaking; dit is hoe regverdigmaking verkry word (Rom 3:28; 4:5; 5:1).

Die vierde faset van regverdigmaking is dat die gelowige deur genade geregverdig word. Dit is die beginsel waarvolgens regverdigmaking werk. Regverdigmaking werk op die grondslag van genade; dit is die wese van regverdigmaking (Rom 3:24).

Die vyfde faset van regverdigmaking is dat die gelowige deur die Gees regverdig gemaak word. Die Heilige Gees is die tussenganger van regverdigmaking; dit is waar die krag van regverdigmaking lê (1 Kor 6:11).

Die sesde faset van regverdigmaking is regverdigmaking uit die werke. Dit dien as bewys van regverdigmaking; dit is hoe ’n mens sien dat regverdigmaking gebeur het (Jak 2:21, 24-25). Die gelowige word nie deur werke geregverdig nie; werke is nie ’n middel tot regverdigmaking nie. Nee, die gelowige word slegs deur werke geregverdig in soverre sy werke wys dat hy reeds geregverdig is.

Die sewende faset van regverdigmaking is regverdigmaking in die Messias. Dit is die posisie van regverdigmaking; dit is die besitname van regverdigmaking (2 Kor 5:21).

F. Die elemente van regverdigmaking
God se Woord noem vyf spesifieke elemente van regverdigmaking.

Die eerste element is die terugtrekking van straf vir sonde; die straf vir sonde word danksy regverdigmaking teruggetrek (Jes 53:5-8; Hand 13:38-39; Rom 4:7; 8:1, 33-34; 2 Kor 5:21; Ef 1:7; 1 Pet 2:24).

Die tweede element van regverdigmaking is die herstel van guns; die gelowige geniet weer God se guns (Gal 2:16; 3:26).

Die derde element van die gelowige se regverdigmaking is die toeskrywing van regverdigheid; die regverdigheid van die Messias word aan die gelowige toegeskryf (1 Kor 1:30; 2 Kor 5:21).

Die vierde element van regverdigmaking is die vergifnis van sondes wat begaan is in die verlede, hede en toekoms; al die gelowige se sondes is vergewe (Ps 103:12; Jes 44:22; Heb 10:14).

Die vyfde element van regverdigmaking is dat dit ook deel vorm van die uitverkiesingsproses (Rom 8:28-32).

G. Die resultate van regverdigmaking
Die Bybel noem sewe resultate van regverdigmaking.

In die eerste plek het die gelowige vrede by God (Rom 5:1). Die rede waarom die gelowige vrede by God het, is omdat sy sondes danksy regverdigmaking vergewe is.

Die tweede resultaat is God se guns; die gelowige staan nou in die genade van God (Rom 4:6).

Paulus maak in Romeine 8:1 melding van die derde resultaat: DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Die vierde resultaat is erfgenaamstatus; die gelowige word ’n erfgenaam van God (Tit 3:7).

Die vyfde resultaat van regverdigmaking is die toeskrywing van die Messias se regverdigheid; die gelowige word op grond van hierdie toeskrywing regverdig verklaar (Rom 4:5). God beskou die gelowige nou as regverdig, want die gelowige beskik oor die Messias se regverdigheid.

Die sesde resultaat van regverdigmaking is dat die gelowige gered word van die toorn van God. Die Bybel praat van twee verskillende tipes toorn. Die eerste tipe is God se algemene toorn wat Hy openbaar teenoor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense (Rom 1:18). Die gelowige word vrygespreek van God se algemene toorn teen sonde (Rom 5:9). Die tweede tipe toorn wat God openbaar, is die toorn van die Groot Verdrukking; die gelowige is ook gered van God se toorn in die Verdrukking (1 Thess 1:10). Dit is een van verskeie redes waarom gelowiges nie die Verdrukking sal beleef nie.

Die sewende resultaat van regverdigmaking is die waarborg van heerlikheid. Die heerlikheid van die gelowige is gewaarborg op grond van sy regverdigmaking, aangesien hulle wat geregverdig is, ook verheerlik sal word (Rom 8:30; Gal 5:5).

H. Die kenmerke van regverdigmaking
Daar is vier kenmerke van regverdigmaking.

Eerstens geskied regverdigmaking in Jesus die Messias; die gelowige se regverdigmakingposisie is in Hom (Hand 13:39; Rom 8:1; 1 Kor 6:11; Gal 2:17).

Die tweede kenmerk van regverdigmaking is dat regverdigmaking deel is van God se reddingswerk; dit was altyd deel van die reddingsplan dat die gelowige geregverdig moet word (Rom 3:24; 5:9; 8:33-34).

Die derde kenmerk van regverdigmaking is dat regverdigmaking geskied danksy die geregtigheid van God. Dit is met ander woorde goddelike geregtigheid (Rom 1:17; 3:21-22; 10:3; Fil 3:9).

Die vierde kenmerk van regverdigmaking is dat die geregtigheid van regverdigmaking uit die geregtigheid en gehoorsaamheid van die Messias spruit (Rom 5:17-19).

II. HEILIGMAKING
Heiligmaking is die tweede groot faset van die gelowige se redding; ons sal hierdie onderwerp in agt belangrike kategorieë deel.

A. Die betekenis van heiligmaking
Die basiese betekenis van heiligmaking is “om eenkant gesit te word”. Om iets te heilig beteken bloot om dit “eenkant te sit”. Dit het nie noodwendig iets te doen met die konsep van heiligheid nie. Heiligmaking is ’n vanselfsprekende deel van die gelowige se redding, en is in daardie opsig omskryf as: “God se onverdiende genadewerk wat ons hele mens vernuwe na die beeld van God en ons toenemend in staat stel om dood te wees vir die sonde en te lewe vir geregtigheid.”

Heiligmaking self kan dus omskryf word as: “Die Heilige Gees se voortdurende genaderyke werking waardeur Hy die sondaar reinig, sy hele natuur na God se beeld vernuwe, en hom in staat stel om goeie werke te doen.”

Dít is bybelse heiligmaking se betekenis en definisie.

B. Die Griekse woorde wat die konsep van heiligmaking oordra
Daar is een Griekse woordstam waaruit die konsep van heiligmaking afgelei word. Daar is nege verskillende woordvorme uit hierdie Griekse woordstam afgelei wat op die een of ander manier die konsep van heiligmaking bevat.

Die eerste Griekse woord is hagiasmos, wat “heiligmaking” beteken. Dit word altesaam tien kere in die Nuwe Testament gebruik: in Romeine 6:19, 22; 1 Korinthiërs 1:30; 1 Thessalonicense 4:3, 4, 7; 2 Thessalonicense 2:13; 1 Timótheüs 2:15; Hebreërs 12:14, en in 1 Petrus 1:2.

Die tweede Griekse woord is hagiosunei, wat “heiligheid” beteken. Dit word slegs een keer in die Nuwe Testament gebruik: in Romeine 1:4.

Die derde Griekse woord is hagiotes, wat beteken “om heilig te maak”. Dit word slegs twee keer gebruik, in 2 Korinthiërs 1:12 en in Hebreërs 12:10.

Die vierde woordvorm is is hagiazo, wat beteken “om heilig te maak”, “om af te sonder vir God” of “om te suiwer of te reinig”. Dit word altesaam 28 kere in die Nuwe Testament gebruik, waaronder: Matthéüs 6:9; 23:17, 19; Lukas 11:2; Johannes 17:19; Efésiërs 5:26; 1 Thessalonicense 5:23; 2 Timótheüs 2:21; Hebreërs 2:11; 9:13; 13:12 en 1 Petrus 3:15.

Die vyfde Griekse woord is hagios. Hierdie woord is ’n byvoeglike naamwoord wat “heilig” beteken. Dit word altesaam 235 keer gebruik: 94 keer saam met die woord “gees”, om na die Heilige Gees te verwys, en 61 keer met betrekking tot gelowiges, as ’n faset van gelowiges se redding.

Die sesde vorm van die woord is ook hagios, maar dit is ’n ietwat ander soort byvoeglike naamwoord wat agt keer gebruik word. Dit beteken “rein”, “heilig” of “vroom”.

Die sewende vorm van die woord is ook hagios, maar hierdie keer is dit ’n bywoord wat slegs een keer gebruik word: in 1 Thessalonicense 2:10.

Die agtste vorm van die term is hagiotes, wat op dieselfde manier as die derde woord gespel word, maar hierdie vorm is ’n selfstandige naamwoord. Dit word in Lukas 1:75 en Efésiërs 4:24 gebruik.

Die negende vorm van die woord is hiegos, wat “gewyd” beteken. Dit word in 1 Korinthiërs 9:13 en 2 Timótheüs 3:15 gebruik.

Die leerstelling van heiligmaking word uit hierdie nege vorms van dieselfde Griekse woordstam en hul verbuigings in die Nuwe Testament afgelei. Heiligmaking beteken basies “om afgesonder te word”. In die geestelike sin beteken dit “om afgesonder te word vir God”, sodat Hy ons toenemend heilig kan maak, meer en meer gelykvormig aan die beeld van die Seun van God. Die nege Griekse vorme waaruit die konsep van heiligmaking spruit, lê vir ons die verskillende fasette van die woord se betekenis bloot.

C. Die gebruik van die Griekse woorde
Daar is agt wetenswaardighede oor die gebruik van die onderskeie Griekse woorde vir heiligmaking in die Nuwe Testament.

In die eerste plek moet ’n mens kennis dra van die verskillende vertalings. Dieselfde Griekse stam word op verskillende maniere in die Engelse Bybel vertaal, maar daar is drie hoofvertaalwyses. Die eerste manier is om dit te vertaal met die term “heilig maak” [Engels: sanctify]. Dit word 106 kere in die Ou Testament en 31 keer in die Nuwe Testament aangetref. ’n Tweede hoofvertaalwyse is die woord “heilig” [Engels: holy]. Dit word vierhonderd keer in die Ou Testament so vertaal, maar slegs 12 keer in die Nuwe Testament. Die derde vertaalwyse wat vir hierdie woorde gebruik word, is die term “heiliges” [Engels: saints]. “Heiliges” is trouens die tweede algemeenste benaming vir gelowiges, en word 62 keer ingespan. Die algemeenste term vir gelowiges is “broeders” [Engels: brethren], wat 184 keer gebruik word. Die benaming “christene” word drie keer gebruik. Die drie hoofmaniere waarop die Griekse stam vertaal word, is dus “heilig maak”, “heilig” of “heiliges”.

Die tweede gebruikswyse van heiligmaking verwys na God wat heilig is, want God sonder Homself ook af (Lev 21:8). Selfs die Messias het homself in hierdie opsig geheilig deur Homself af te sonder (Joh 17:19).

Die derde gebruiksvorm van heiligmaking is dat God persone heilig maak. Die Vader heilig byvoorbeeld die Seun (Joh 10:36); God heilig die priesters en Hy heilig Israel (Ex 29:44; 31:13), en God heilig ook gelowiges (1 Thess 4:3).

Die vierde gebruikswyse van heiligmaking is dat God plekke en dinge heilig maak (Gén 2:3; Ex 29:43).

Die vyfde gebruikswyse is dat die mens God kan heilig. Dit is ’n goeie voorbeeld om te wys dat “om te heilig” [Engels: to sanctify] nie noodwendig “om heilig te maak” beteken nie. Geen mens kan God heilig maak nie. Dit is onmoontlik, want God is reeds eenhonderd persent heilig. Om te wy beteken bloot “om eenkant te sit”. Gelowiges kan God eenkant sit in hul lewens en God op daardie manier heilig (Matt 6:9). Die gelowige kan die Messias op hierdie manier heilig (1 Pet 3:15).

Die sesde gebruikswyse van heiligmaking is dat die mens homself kan wy (Rom 12:1; 2 Kor 7:1; 2 Tim 2:21). Die mens het die vermoë om homself eenkant te sit vir die Here se diens.

Die sewende gebruikswyse is dat ’n mens ander persone en voorwerpe kan heilig; jy kan dit afsonder (Ex 19:14; 2 Kron 29:17; 1 Kor 7:14).

Die agtste gebruikswyse is dat een ding moontlik ’n ander kan heilig. Gewyde voorwerpe kan ander voorwerpe heilig (Matt 23:17, 19).

D. Die fasette van heiligmaking
Daar is vyf fasette van heiligmaking.

In die eerste plek word die gelowige in die Messias geheilig (1 Kor 1:2, 30). Dit is die sfeer van heiligmaking; dit is die gelowige se posisie.

Die tweede faset van heiligmaking is dat die gelowige deur die Woord van God heilig gemaak word (Joh 17:17). Dit is die kanaal van heiligmaking in soverre die Woord van God die gelowige heilig maak en reinig.

Die derde faset is heiligmaking deur bloed (Heb 13:12). Dit is die grondslag vir heiligmaking; die gelowige word afgesonder vir heilige diens op grond van die Messias se bloed.

Die vierde faset is dat die gelowige heilig gemaak word deur die liggaam aan die kruis (Heb 10:10). Dit is die plek van heiligmaking; die gelowige word posisioneel gesproke deur die kruis heilig gemaak. Dit was die Messias se dood aan die kruis wat daardie posisionele heiligmaking bewerkstellig het.

Die vyfde faset is dat die gelowige deur die geloof … ’n erfdeel onder die geheiligdes … ontvang (Hand 26:18). Dit is die middel tot heiligmaking; die gelowige word deur geloof gered, deur geloof geregverdig, en deur geloof ook heilig gemaak.

E. Die dryfvere van heiligmaking
Daar is drie verskillende dryfvere van heiligmaking.

1. Die kragtige dryfveer
Die eerste dryfveer is die kragtige, doeltreffende dryfveer. Die kragtige dryfveer van heiligmaking is die Drie-Enige God. Elke Lid van die Drie-Eenheid is ’n kragtige dryfveer van heiligmaking.

Ons lees in die volgende skrifgedeeltes oor die Vader se rol in heiligmaking: Johannes 17:18-19; 1 Korinthiërs 1:30; 1 Thessalonicense 5:23; Hebreërs 13:20-21; 1 Petrus 1:15-16, en 5:10.

Die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid, die Seun, is ook ’n kragtige dryfveer in heiligmaking. Die Seun se rol in heiligmaking word onder meer in Efésiërs 5:25-26; Titus 2:13-14; Hebreërs 2:11; 9:14 en 13:12 aangeroer.

Die Derde Persoon van die Drie-Eenheid, die Heilige Gees, is ook ’n kragtige dryfveer. Die Gees se rol word in Romeine 15:16; 2 Korinthiërs 3:17-18; 2 Thessalonicense 2:13 en 1 Petrus 1:2 beskryf.

Die kragtige dryfveer van heiligmaking is dus die hele Drie-Enige God, met die Vader, Seun en Heilige Gees wat Elk ’n rol daarin speel.

2. Die dryfveer wat ons dring
Die tweede dryfveer is die dryfveer wat ons dring. Die dryfveer wat ons dring is die wil van God (1 Thess 4:3). Die gelowige word deur die wil van God gedring tot heiligmaking.

3. Die instrumentele dryfveer
Die derde dryfveer van heiligmaking is die instrumentele dryfveer, naamlik die Woord van God (Joh 17:17). Die gelowige word deur middel van God se Woord heilig gemaak. Die gelowige word gereinig met die waterbad deur die Woord van God.

F. Die noodsaaklikheid van heiligmaking
Hoekom is heiligmaking hoegenaamd nodig? Waarom is heiligmaking noodsaaklik?

In die eerste plek is elke sonde in die gelowige ’n weerspreking van God se heiligheid. Elke keer wanneer ’n gelowige sondig, weerspreek hy God se heiligheid. Heiligmaking het ten doel om die gelowige aan God se geregtigheid gelykvormig te maak.

Tweedens, oral waar daar sonde is, is daar konflik. Romeine 7:15-25 is ’n goeie voorbeeld van hierdie konflik. Heiligmaking se doel is om die gelowige te help om hierdie konflik te oorwin.

Derdens moet ’n mens heeltyd toenemend in gedagte hou dat, hoewel die sonde bly, dit nie meer die botoon voer nie. Dit is een ding vir sonde om in die gelowige te lewe, maar ’n ander vir die gelowige om in sonde te lewe. Die doel van heiligmaking is om te voorkom dat die gelowige in sonde lewe, hoewel daar altyd sonde sal wees wat in die gelowige lewe, tot hy die Hemel beërwe.

G. Soorte heiligmaking
Die Bybel noem vier soorte heiligmaking.

1. Voorbereidende heiligmaking
Die eerste soort heiligmaking word “voorbereidende heiligmaking” genoem. Dit kom in 2 Thessalonicense 2:13 aan die orde. Dit handel oor die afsondering wat redding voorafgaan. Die uitverkose persoon word op hierdie tydstip, nog vóór hy gered word, deur God eenkant gehou om seker te maak dat hy wel die evangelie hoor. Voorbereidende heiligmaking verseker dat ’n mens die evangelie hoor en dit aanvaar.

2. Posisionele heiligmaking
Die tweede soort heiligmaking word “posisionele heiligmaking” genoem. Posisionele heiligmaking beteken dat daar redding is van die straf vir sonde. Dit is die soort heiligmaking waarin God die gelowige sien uit hoofde van sy posisie in die Messias. God beskou die gelowige alreeds as volmaak vanuit sy oogpunt, omdat die gelowige se posisie in die Messias is. Daarom word dit “posisionele heiligmaking” genoem. Posisionele heiligmaking is altyd geldig, ongeag watter mate van onheiligheid daar in ’n gelowige se lewe skuil. Sodra ’n gelowige gered word, is hy outomaties in ’n staat van posisionele heiligmaking, waar God hom sien as volkome heilig gemaak (Hand 20:32; Rom 6:1-10; 1 Kor 1:2; 6:11; Heb 10:10, 14).

Die teksgedeeltes in Korinthiërs is veral uniek, omdat ’n mens – namate jy deur die boek Korinthiërs lees – agterkom dat die gemeente in Korinthe by verre een van die sondigste gemeentes in die Nuwe Testament was. Daar was verdeeldheid onder hulle, hulle was geestelik onvolwasse, gelowiges het mekaar hof toe gesleep, party het selfs in sonde gelewe, hulle het dronk geword tydens Nagmaal; tog sê Paulus vir hulle dat hulle, ten spyte van daardie mate van onheiligheid en onsedelikheid, heilig gemaak is. Hulle was volkome heilig gemaak, want posisionele heiligmaking is iets wat altyd geld – nie as gevolg van wie die gelowige self is nie, maar danksy die gelowige se identiteit in die Messias.3. Toenemende heiligmaking
Die derde soort heiligmaking word “toenemende heiligmaking” of “belewenisgerigte heiligmaking” genoem. Daar is tien wetenswaardighede oor hierdie soort heiligmaking.

In die eerste plek red toenemende heiligmaking ’n mens van die mag van sonde. Toenemende heiligmaking beteken dat die gelowige vry kan wees van die mag van sonde (Romeine 6:1-14).

Tweedens is die doel van toenemende heiligmaking om die gelowige se belewenis gelykvormig aan sy posisie te maak. Die gelowige is immers posisioneel gesproke volkome heilig gemaak.

Derdens bestry toenemende heiligmaking wêreldsgesindheid (Rom 6:22; 12:1-2).

Vierdens bevorder toenemende heiligmaking geestelike groei (2 Kor 3:18; 2 Pet 3:18).

Die vyfde saak is dat toenemende heiligmaking beteken dat die gelowige aan die beeld van die Seun van God gelykvormig gemaak word, sodat hy meer en meer soos die Messias kan wees (Fil 1:9-11; 2 Pet 1:5-8).

Die sesde saak oor toenemende heiligmaking handel oor die twee middels tot heiligmaking: In die eerste plek moet die gelowige sy lede as werktuie van geregtigheid beskikbaar stel, wat beteken dat ’n mens jou liggaam in diens van God moet stel (Rom 6:13). ’n Tweede middel is deur reiniging met die waterbad van die Woord van God (Ef 5:26).

Die sewende kenmerk van toenemende heiligmaking is dat dit nog steeds God se werk is (Ef 2:10; 2 Tim 3:17; Tit 2:14).

In die agtste plek sal toenemende heiligmaking ons nie in hierdie bedeling volmaak maak nie. Die gelowige sal meer en meer regverdig word, meer en meer gelykvormig aan die beeld van die Seun van God, maar hy sal nooit in hierdie lewe volmaaktheid bereik nie.

In die negende plek moedig die Skrif gelowiges aan om op grond van posisionele heiligmaking heilige lewens te lei. Toenemende heiligmaking is die rede vir die Skrif se vermanings om heilig te lewe (1 Thess 4:3; 1 Pet 1:15-16).

Die tiende kwessie oor toenemende heiligmaking is dat dit uit twee prosesse bestaan. In die eerste plek is daar die geleidelike verwydering van besmetting en bedorwenheid van die gelowige se menslike natuur (Rom 6:6; Gal 5:14). En tweedens is daar ’n geleidelike ontwikkeling van die nuwe lewe wat aan God gewy is (Rom 6:4-5; Gal 2:19; Kol 2:12; 3:1-2).

4. Uiteindelike heiligmaking
Die vierde soort heiligmaking staan bekend as “uiteindelike heiligmaking”. Uiteindelike heiligmaking is redding uit die aanwesigheid van sonde, en dít sal slegs plaasvind wanneer Jesus terugkom. As Jesus terugkeer, sal die gelowige die uiteindelike heiligmaking ontvang: redding van die aanwesigheid van alle sonde (Ef 5:27; 1 Thess 3:13; 5:22-23; Heb 9:28; 10:14; 1 Joh 3:2; Jud 23, 25).

H. Die leerstelling van volmaaktheid
Party mense sê dat die gelowige in hierdie lewe volmaaktheid kan bereik. Ons sal twee terreine van hierdie leerstelling bespreek.

1. Die grondslag van die leerstelling
Wat is die grondslag waarop volmaaktheid geleer word? Volmaaktheid word op grond van sekere skrifgedeeltes aan ander geleer. Daar is basies elf teksgedeeltes wat die voorstanders van volmaaktheid gebruik om hul lering te staaf.

Eerstens gebruik hulle Génesis 6:9, wat Noag beskryf as: ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote [Engels: perfect in his generations].

Tweedens is daar 1 Konings 15:14 wat sê: Asa se hart was volkome met die HERE al sy dae.

Derdens gebruik hulle Matthéüs 5:48, waar Jesus gesê het: Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Vierdens haal hulle 2 Korinthiërs 5:17 aan wat die gelowige ’n nuwe skepsel noem.

Die vyfde teksgedeelte is Efésiërs 5:27, waar die gelowige “sonder vlek of rimpel … heilig en sonder gebrek” gemaak word.

Die sesde teksgedeelte is Filippense 3:15 waar daar staan: Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees.

In die sewende plek gebruik hulle Filippense 4:13, waar daar staan: Ek is tot alles in staat deur Christus.

In die agtste plek is daar Kolossense 2:10 wat sê: julle het die volheid in Hom.

In die negende plek kom Jakobus 1:4 wat vermaan: sodat julle volmaak … kan wees.

In die tiende plek is 1 Petrus 1:16 wat opdrag gee: Wees heilig.

En in die elfde plek kry ’n mens 1 Johannes 3:6, 8-9 wat sê: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie.”

Volmaaktheid maak ’n saak uit op grond van die opdragte in die Bybel dat gelowiges volmaak moet wees; voorstanders hiervan wys daarop dat gelowiges as volmaak beskryf word. Génesis 6:9 praat van Noag as ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote; Job 1:1 praat van Job as vroom en opreg en godvresend; 1 Konings 5:14 sê Asa se hart was volkome met die HERE al sy dae, en die hele 1 Johannes benadruk heiligheid en volmaaktheid. Daarom, op grond van hierdie skrifgedeeltes en opdragte, voer die volmaaktheidsleer aan dat gelowiges in hierdie lewe volmaaktheid kan bereik.

2. Die weerlegging van die leerstelling
Daar is ses dinge wat teen hierdie lering indruis.

In die eerste plek beteken die feit dat die gelowige na volmaaktheid moet streef nie dat die gelowige reeds volmaak is nie. Om te streef na volmaaktheid impliseer juis dat die gelowige dit nog nie bereik het nie, en die Bybel beeld die strewe na volmaaktheid uit as iets wat ’n mens se lewe lank duur.

In die tweede plek beteken die woord volmaak in die Bybel nie “vryheid van sonde” nie. Hoewel Noag in Génesis 6:9 regverdig en opreg [Engels: perfect] genoem word, het hy in Génesis 9:20-24 gesondig deur dronk te word. Job 1:1 noem Job vroom en opreg en godvresend [Engels: perfect], maar in Job 42:6 lees ’n mens van Job se sondes. Die woord volmaak beteken dus nie “vry van sonde” nie.

Derdens, wat die brief 1 Johannes betref, sê die apostel dat die nuwe mens nie sondig nie, maar dat die ou mens wel sondig. In 1 Johannes 3:8-9 gebruik hy die teenswoordige tyd in die Grieks. Hy praat dus van voortdurende sonde; hy ontken nie dat sonde af en toe sal kop uitsteek nie. ’n Ware gelowige sal hom nie skuldig maak aan voortdurende sonde nie, maar hy kan af en toe sonde begaan.

Vierdens leer die Bybel ons dat daar niemand is wat nie sondig nie, ongeag of dit gelowiges of ongelowiges is (1 Kon 8:46; Spr 20:9; 1 Joh 1:8).

In die vyfde plek sal daar so lank as wat die gelowige leef geestelike oorlogvoering woed. Dit sou nie nodig wees indien ’n mens reeds in hierdie lewe volmaaktheid kon bereik nie (Rom 7:15-25; Gal 5:16-17).

In die sesde plek impliseer die opdrag in 1 Johannes 1:9 dat gelowiges hul sondes moet bely dat enige sprake van volmaaktheid in hierdie lewe onmoontlik is.

Heiligmaking is ’n bybelse lering. Volmaaktheid in hierdie lewe is nie.

[end]

Inhoudsopgawe

I. REGVERDIGMAKING
      A. Die betekenis van regverdigmaking
         1. ’n Besliste stelling
         2. ’n Oordeelsdaad
         3. ’n Instellingsdaad
      B. Die Griekse woorde wat die konsep van regverdigmaking oordra
      C. Die grondslag van regverdigmaking
         1. Die positiewe sy
         2. Die negatiewe sy
      D. Die middel tot regverdigmaking
      E. Die fasette van regverdigmaking
      F. Die elemente van regverdigmaking
      G. Die resultate van regverdigmaking
      H. Die kenmerke van regverdigmaking
II. HEILIGMAKING
      A. Die betekenis van heiligmaking
      B. Die Griekse woorde wat die konsep van heiligmaking oordra
      C. Die gebruik van die Griekse woorde
      D. Die fasette van heiligmaking
      E. Die dryfvere van heiligmaking
         1. Die kragtige dryfveer
         2. Die dryfveer wat ons dring
         3. Die instrumentele dryfveer
      F. Die noodsaaklikheid van heiligmaking
      G. Soorte heiligmaking
         1. Voorbereidende heiligmaking
         2. Posisionele heiligmaking
         3. Toenemende heiligmaking
         4. Uiteindelike heiligmaking
      H. Die leerstelling van volmaaktheid
         1. Die grondslag van die leerstelling
         2. Die weerlegging van die leerstelling

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Drie en dertig dinge gebeur met elke gelowige sodra hy of sy gered word. Daar word partykeer na hierdie drie en dertig sake as posisionele waarheid verwys: dít wat vir die gelowige geld danksy haar of sy posisie in Christus of in die Messias. Dit staan ook bekend as die gelowige se identifikasie met die Messias. Omdat die geredde mens se nuwe posisie in die sfeer van die opstandingslewe in Christus in lyn gebring moet word met die praktyk van die lewe, is dit belangrik vir elke gelowige om goed kennis te dra van ons posisie in Christus.