Satanologie: Die leer van Satan

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. – Efésiërs 6:11–12

INLEIDING
Hierdie artikel is ’n studie oor Satan, die “engel van die duisternis”. Die doelwit is om hom in besonderhede te bestudeer ten einde die verkeerde opvattinge wat daar oor hom is, uit die weg te ruim. Die studie word in tien afdelings verdeel.

Daar is drie algemene wanopvattinge. Die eerste is dat Satan nie ’n persoonlikheid of ’n wese is nie, maar slegs ’n bose mag (of beginsel of prinsiep) waarmee almal moet worstel. Die tweede wanopvatting is dat Satan die direkte oorsaak is van elke liewe sonde wat ’n mens pleeg. Wanneer iemand sondig, kan hy dit dus altyd op die duiwel blameer. Die derde wanopvatting is dat Satan of een van sy demone verantwoordelik is vir elke fisieke probleem en geestelike versteuring wat daar is.

I. DIE BESTAAN VAN SATAN
Die Bybel leer ons baie duidelik dat Satan wel bestaan. Dit kan op drie maniere gesien word. Eerstens word daar in sewe van die 39 boeke van die Ou Testament na Satan verwys: Génesis, I Kronieke, Job, Psalms, Jesaja, Eségiël, en Sagaría. Tweedens word daar in 19 van die 27 boeke van die Nuwe Testament na hom verwys: Matthéüs, Markus, Lukas, Johannes, Handelinge, Romeine, I en II Korinthiërs, Efésiërs, I en II Thessalonicense, I en II Timótheüs, Hebreërs, Jakobus, I Petrus, I Johannes, Judas, en Openbaring. Hoewel daar nie in elke Boek van die Nuwe Testament melding gemaak word van Satan nie, verwys elke Nuwe Testamentiese skrywer na hom. Die derde en baie belangrike bewys dat Satan bestaan, is dat Jesus Self oor hom onderrig het. In die vier Evangelies word daar in totaal 29 keer na hom verwys. Die volgende verse is voorbeelde uit elke Evangelie waar Yeshua (Jesus) oor Satan se bestaan onderrig het: Matthéüs 4:10, Markus 3:26, Lukas 13:16, en Johannes 12:31.

Daar is dus geen twyfel dat die Bybel ons wel van Satan se bestaan leer nie. Hy is nie net ’n karakter wat in iemand se verbeelding bestaan of ’n uitstraling nie; hy is meer as net ’n bose mag. Hy is ’n werklike wese en die Bybel leer ons in beide die Ou en die Nuwe Testament van sy bestaan. Hy word boonop nie net in die apokaliptiese of die visioenêre soort Boeke soos Openbaring (wat met simbole te doen het) gemeld nie, hy word ook in die profetiese en geskiedkundige Boeke gemeld. Die Bybel leer ons dus baie duidelik dat Satan bestaan.

II. DIE OORSPRONG VAN SATAN
Eségiël 28:11–15 gee vir ons die beste inligting oor Satan se oorsprong: Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.

Hierdie skrifgedeelte lig vier sake oor Satan se oorsprong uit. Eerstens was Satan die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid (verse 11–12) toe hy geskape is. Die Hebreeuse uitdrukking wat gebruik word om seëlring van eweredigheid te vertaal, beteken “om die spasie tussen die buitelyne in te vul”. Die beeld wat Eségiël skets, is soos volg: Toe God Sy skeppingswerk begin het, het Hy besluit om Homself tot sekere riglyne te beperk en nie verder as dit te gaan nie. Die riglyne is soos ’n vorm met buitelyne. Toe diere geskape is, het hulle net ’n sekere gedeelte van hierdie vorm ingevul, maar toe die mens geskape is, het hulle baie meer van die vorm ingevul. Engele vul selfs nog meer daarvan in. Maar toe God hierdie spesifieke individu (Satan) geskape het, was hy die seëlring van eweredigheid, dit wil sê hy het oor álles wat goed is, beskik – wysheid én skoonheid. Dit beteken dat Satan verreweg die wysste en mooiste is van alle wesens wat ooit geskape is. Al die portrette wat kunstenaars deur die eeue heen van Satan geskilder het, en wat hom as lelik, aaklig en afskuwelik uitbeeld, is dus verkeerd, want presies die teenoorgestelde is waar. Van alle geskape wesens word Satan as die wysste en mooiste gereken.

Tweedens is Satan ’n geskape wese (vers 13). Hy het nie van alle ewigheid af bestaan nie. Hy is nie net ’n “ewigdurende bose mag” wat nog altyd langs die “ewigdurende goeie mag” bestaan het nie. Hy is ’n werklike wese wat deur God geskape is. Toe die skepping plaasgevind het, was daar twee dinge wat waar was van hom. Eerstens was hy met edelgesteentes bedek en daarom is hy die “een wat blink” genoem. Tweedens was hy in beheer van die kassies en groewe, dinge wat met aanbidding te doen het. Toe Satan geskape is, was hý die een wat die hemelse aanbidding van God wat op die troon sit gelei het. Satan word uitgebeeld as die priester wat die aanbidding van God in die hemel lei.

Derdens is Satan as ’n gérub geskape (vers 14). Daar is drie ordes van hemelse wesens: Die laagste orde is die engele, met Mígael wat die hoofengel of aartsengel is. Bo die engele is daar die serafs of serafyne, en bo die serafyne is die gérubs of gérubyne. Toe Satan geskape is, was hy nie ’n engel van die laagste orde nie. Hy was ook nie ’n seraf van die middelste orde nie; hy was ’n gérub; een van die hoogste orde van wesens. Vers 14 lig ons in dat hy boonop die gérub met uitgespreide vlerke wat beskut was. Toe hy oorspronklik geskape is, was hy ’n gérub wat gelyk was aan al die ander gérubs. Maar op ’n sekere tydstip in die ewige verlede het God hierdie spesifieke gérub uitgekies en hom gesalf of “gemessias”, en dit het hom die gesag bo al die ander gérubs gegee. Soos wat Mígael die aartsengel is, die een met gesag oor die ander engele, só het Satan met sy salwing die “aarts-gérub” geword, die een met gesag oor die ander gérubs.

Vierdens was Satan volkome toe hy geskape is (vers 15). God het hom sonder een enkele tekortkoming gemaak. Hy was so volmaak dat hy die unieke vermoë gekry het om “die mag van vrye keuse”, ’n vry wil, te hê. Dit is die vermoë om keuses te maak wat teenstrydig is met jou natuur. God het nie daardie vermoë nie en dis hoekom Hy nie kan sondig nie. Hy kan nie teen Sy goddelike natuur gaan nie. Satan het egter wel die mag van vrye keuse gehad. Hy was heilig en volmaak, maar hy het die vermoë gehad om onvolmaakte en onheilige keuses te maak.

Om saam te vat: Wat Eségiël ons oor die oorsprong van Satan leer, kan in vyf punte opgesom word. Eerstens is Satan ’n geskape wese en daarom bestaan hy nie van ewigheid af nie. Tweedens is hy volmaak geskape, sonder een enkele tekortkoming. Derdens is hy as ’n gérub, die hoogste orde van hemelse wesens, geskape. Vierdens was hy die wysste en die mooiste van alle geskape wesens, want hy was die somtotaal van wysheid en volmaakte skoonheid. Vyfdens was hy die gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, wat beteken hy het die hoogste mag en gesag van alle geskape wesens gehad.

III. DIE VAL VAN SATAN
Die val van Satan word in vier skrifgedeeltes beskryf.

A. Die Eerste Sondaar: Satan
Die eerste skrifgedeelte is I Johannes 3:8, waar Johannes sê dat die duiwel van die begin af sondig. Die punt is hier dat Satan die heel eerste sondaar was.

B. Die Eerste Sonde: Hoogmoed
Die tweede skrifgedeelte is I Timótheüs 3:6. In hierdie konteks noem Paulus ’n lys van vereistes waaraan enigeen wat ’n ouderling in die kerk wil word, moet voldoen. Paulus sê onder andere: Hy moet nie ’n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.

’n Nuwe gelowige moet nooit in ’n posisie van gesag in die kerk geplaas word nie, want elke nuwe gelowige is nog geestelik onvolwasse – bloot as gevolg van die feit dat hy ’n nuwe gelowige is. As hy in ’n posisie van leierskap geplaas word voordat hy geestelik gereed is daarvoor, mag hy dalk met hoogmoed vervul word. Dit kan dan veroorsaak dat hy in dieselfde sonde val as dié wat Satan se val veroorsaak het. Die eerste sonde was dus die sonde van hoogmoed, en die eerste sondaar was Satan.

C. Die Val van Satan: Die Gevolg van Sonde
Die derde skrifgedeelte is Eségiël 28:15–19: Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ’n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ’n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

In hierdie skrifgedeelte verskaf Eségiël sekere besonderhede oor Satan se val. Die stelling in vers 15 is die naaste wat die Bybel ooit daaraan kom om uit te spel wat die oorsprong van sonde is: totdat daar ongeregtigheid in jou [Satan] gevind is. Op een of ander manier is daar ongeregtigheid by ’n volmaakte en heilige wese gevind. Waaruit hierdie ongeregtigheid bestaan het, word in vers 16 gesê: jy het gesondig. Hoe het hy gesondig? Hy het gesondig weens die grootheid van jou [sy] koophandel. Hierdie Hebreeuse uitdrukking beteken “om van mens tot mens of plek tot plek te gaan”. Die prentjie wat geskets word, is: Toe daar ongeregtigheid in Satan gevind is, het hy van engel tot engel gegaan en God by hulle gelaster, want hy wou hulle sy bondgenote maak. Satan het daarin geslaag om ’n derde van die ontelbare hoeveelheid engele te oortuig en hulle het toe by hom aangesluit. Die ander tweederdes van die engele het nie. Die spesifieke sonde wat hy hier gepleeg het, was om God by die engele te laster. Hierdie sondedaad het sy oorsprong gehad in die sonde van hoogmoed. Die sonde van laster het daarna tot geweld gelei, want Satan het geweld in die Hemel veroorsaak deur die opstand wat hy gelei het.

Omdat Satan op hierdie twee maniere gesondig het, is hy volgens vers 16 uit sy eerste twee wonings gewerp. Eerstens is hy van die godeberg afgedrywe. Hy was dus nie langer die bewaker van God se troon en die hoëpriester in die Hemel wat die aanbidding gelei het nie. Tweedens is hy tussen die vurige gesteentes uit vernietig. Die aarde was met kosbare gesteentes bedek toe dit aanvanklik geskape is. Satan was nou nie meer in beheer van die oorspronklike aarde nie.

Die ongeregtigheid wat in Satan gevind is, het te doen gehad met die innerlike verdorwenheid van sy aard. Eerstens het sy volmaakte en heilige aard verdorwe geraak. Tweedens het daardie verdorwenheid tot die daad van sonde gelei. Hierdie sonde het uit twee dinge bestaan: om van engel tot engel te gaan en God te laster, en om geweld in die Hemel te veroorsaak deur ’n opstand te lei. Die wortel van die kwaad was hoogmoed. Dit was hoogmoed wat gelei het tot Satan se ongeregtigheid, en dit het op sy beurt gelei tot die daad van sonde. Sy perfekte skoonheid het veroorsaak dat sy hart hoogmoedig geword het en hy het sy wysheid verderwe weens sy glans. Toe hy nie langer in staat was om koersvas te dink nie, het hy op ’n verkeerde manier oor sy skoonheid, wysheid, mag en gesag begin nadink. Hy is steeds die wysste van alle geskape wesens, maar daardie wysheid het verdorwe geraak, en omdat hoogmoed gelei het tot verdorwe wysheid, is ongeregtigheid in hom gevind. Hy het ’n sondige natuur ontwikkel en dit het tot sy sondedade gelei.

Eségiël sluit sy bespreking af met die finale oordeel oor Satan wat in die toekoms gaan plaasvind (verse 18–19).

D. Die Finale Oordeel Oor Satan
Die vierde skrifgedeelte wat te doen het met Satan se val, is Jesaja 14:12–14: Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!

Vers 12 som sy val op. In sommige vertalings van die Bybel word die naam Lucifer gebruik. Dit sal in afdeling V bespreek word. Daar word in hierdie vers na Satan verwys met die woorde: môrester, seun van die dageraad. Daar word verder gesê dat hy op ’n sekere tydstip geval het.

Verse 13–14 gee die rede vir sy val: die vyf Ek wil uitsprake. Toe Satan met hoogmoed vervul was, het daardie hoogmoed gelei tot hierdie vyf Ek wil uitsprake. Elke Ek wil beteken iets spesifieks.

Eerstens: Ek wil opklim in die hemel. Satan was nie tevrede met dit wat God hom alreeds gegee het nie, naamlik ¬¬¬die hoë posisie as bewaker van God se troon en die gesag oor wie toegang het tot God se teenwoordigheid, asook sy posisie as die besitter van die aarde in sy oorspronklike skepping. Hy wou ’n hoër posisie hê as dit wat hy reeds gehad het, en die enigste hoër posisie was God se troon, ’n reg wat slegs aan die Messias behoort (Ef. 1:20–21). Met die eerste Ek wil uitspraak het hy begeer om God se troon wederregtelik vir homself toe te eien en self daarop te sit in die plek van die Messias.

Tweedens sê hy: [Ek wil] my troon verhef bo die sterre van God. Wanneer die woord ster simbolies gebruik word, is dit altyd ’n simbool vir engele, hetsy gevalle of nie-gevalle (Job 38:7; Jud. 13; Op. 1:20, 9:1, 12:4). In vers 12 is die gebruik daarvan ’n verwysing na Satan. Met hierdie Ek wil uitspraak druk hy sy begeerte uit om die alleengesag oor elke individuele engel te hê. Dit beteken dat hy gewens het hy kon vir Mígael uit sy posisie van aartsengel onttroon en self die aartsengel word.

Derdens sê Satan: [Ek wil] sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Hierdie woorde word op ander plekke gebruik om die Millennium Koninkryk te beskryf (Ps. 48:2, Jes. 2:2, 4:5–6). Hy het geweet dit was God se plan dat die Seun van God as die Messias oor Israel moet heers. Met hierdie Ek wil uitspraak het Satan sy begeerte uitgedruk om self die messiaanse heerser oor Israel te word.

In sy vierde uitspraak sê hy: Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke. Wanneer die woord wolk of wolke simbolies gebruik word, is dit altyd ’n simbool van die heerlikheid van God (Ex. 16:10; 40:34–38; I Kon. 8:10–11; Matt. 26:64). Hierdie unieke heerlikheid is ’n heerlikheid wat slegs aan God behoort, en dit is iets wat Satan vir homself begeer het.

In sy vyfde Ek wil uitspraak sê hy: [Hy wil hom] gelykstel met die Allerhoogste. Wanneer daar na God verwys word as die Allerhoogste, benadruk dit God as die eienaar van die hemele en die aarde (Gen. 14:18–19). Met hierdie uitspraak druk Satan sy begeerte uit om die alleeneienaar te word van alles wat God in Génesis 1:1 geskep het. Hy wil dus soos God word wat gesag, mag en beheer betref.

Met hierdie vyf Ek wil uitsprake het hy ’n opstand in die Hemel gelei en geweld in die Hemel veroorsaak. Daarom is hy geoordeel en uitgewerp.

Wat was Satan se beweegrede? Hy wou soos God wees. Hierdie begeerte het tot sy eie val gelei (Jes. 14:13). In ’n ander skrifgedeelte wat oor die oorsprong en val van Satan gaan (Eseg. 28:11–19), is dit interessant dat Eségiël sy bespreking van Satan voorafgaan met sy veroordeling van die vors van Tirus (verse 1–10). Die sonde van die vors van Tirus was sy begeerte om soos God te wees (verse 2, 6–9). Die vors van Tirus se sonde (verse 1–10) is die agtergrond vir die sonde van die koning van Tirus (verse 11–19). Laasgenoemde was soos Satan en het ook begeer om soos God te wees. Satan se begeerte om soos God te wees was sy beweegrede en dit het tot sy val gelei.

Die begeerte om soos God te wees was ook die sonde wat die val van die mens veroorsaak het. Volgens Génesis 3:5 was een van die dinge waarmee Satan vir Eva oortuig het om teen God te sondig, die begeerte om soos God te wees. Op daardie oomblik het sy die begeerte gehad om soos God te wees en het sy Satan se gedagtes weerspieël. Dit wat Satan se gedagtes en beweegrede die beste gaan weerspieël, moet egter nog gebeur. Die antichris se grootste sonde sal daardie selfde begeerte wees om soos God te wees: sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is (II Thess. 2:4). Enige begeerte om soos God te wees, weerspieël Satan se gedagtes.

Daarteenoor is die gedagtes van die Messias om soos ’n dienskneg te wees (Fil. 2:5–11). Die gelowige wat begeer om ’n dienskneg te wees en ’n dienskneg se rol aanneem, weerspieël die gedagtes van die Messias.

IV. DIE PERSOONLIKHEID VAN SATAN
A. Bewys deur die Kenmerke van Persoonlikheid
Daar is baie vals leringe wat Satan as bloot ’n uitstraling of ’n bose mag (of beginsel of prinsiep) uitbeeld en nie as ’n ware persoon nie. As dit bewys kan word dat Satan ’n persoonlikheid het, is hy ook ’n individuele persoon. Die feit dat Satan ’n ware persoon is, is sigbaar in die feit dat hy oor al drie kenmerke van persoonlikheid beskik, naamlik intellek, emosie, en eie wil.

1. Intellek
Eerstens beskik Satan oor intellek. In Job 1 en 2 debatteer hy byvoorbeeld met God oor Job se geregtigheid. Dit toon intellek. In Matthéüs 4:6 is hy in staat om ’n skrifgedeelte aan te haal. In Lukas 4:1–12 kan hy ’n gesprek met Jesus voer. In II Korinthiërs 11:3 word hy beskryf as listig, wat ’n funksie van intellek is. In Efésiërs 6:11 skryf Paulus oor die liste van die duiwel en ook dit is ’n funksie van intellek. Dit maak dit dus baie duidelik dat Satan wel oor intellek, dit wil sê die eerste eienskap van persoonlikheid, beskik.

2. Emosie
Tweedens beskik Satan oor emosie. Volgens I Timótheüs 3:6 het Satan die vermoë om verwaand te word, dit wil sê om met hoogmoed vervul te word. Dit is tog ’n emosie. Verder word daar in Openbaring 12:12 en 17 verwys na Satan se woede, wat ook ’n emosie is. Satan beskik dus wel oor emosie sowel as intellek.

3. Eie Wil
Derdens beskik Satan ook oor eie wil. In Jesaja 14:13–14 verklaar Satan byvoorbeeld vyf keer: Ek wil. Lukas 4:6–7 sê hy het die mag om die koninkryke van die wêreld te gee aan wie [hy] wil. II Timótheüs 2:26 praat van mense wat gevang is om Satan se wil te doen. In I Petrus 5:8 praat Petrus van Satan wat rondloop en soek wie hy kan verslind. Hy is op die uitkyk vir slagoffers en kies hulle uit. Hierdie keuse word gemaak op grond van sy eie wil.

Dít wat persoonlikheid karakteriseer, is die drie kenmerke van intellek, emosie, en eie wil, en Satan beskik oor al drie hierdie kenmerke.

B. Bewys deur die Gebruik van Persoonlike Voornaamwoorde
Dit is egter nie die enigste manier om te bewys dat Satan ’n persoonlikheid het nie. Die tweede manier is deur die gebruik van persoonlike voornaamwoorde. In die Hebreeuse taal is daar nie iets soos onsydigheid nie – alles is dus óf manlik óf vroulik. Selfs dinge wat ons in Afrikaans as onsydig beskou, soos ’n tafel of ’n stoel, kry in Hebreeus ’n manlike of vroulike geslag. Daarom kan ’n mens nie die Hebreeus gebruik om ’n afleiding te maak oor hierdie aspek van Satan nie.

Die Grieks beskik egter oor al drie: manlik, vroulik en onsydig. As Satan maar net ’n “ding” was en nie ’n persoon nie, sou die onsydige vorm vir hom gebruik word. Maar orals waar daar in die Griekse Nuwe Testament na Satan verwys word, word die manlike voornaamwoord altyd gebruik. Daar word altyd na hom verwys as “hy”, “hom” of “syne”, maar nooit na “dit” nie. Die gebruik van die Griekse voornaamwoord, dit wil sê die manlike voornaamwoord, wys vir ons dat Satan ’n persoonlikheid het, want daar word nie na hom verwys as iets wat onsydig is of sommer net ’n ding is nie.

C. Bewys deur die Optrede van ’n Persoon
Die derde manier waarop ons kan bewys dat Satan ’n persoonlikheid het, is dat hy al die dade uitvoer wat ’n persoon uitvoer. Hy tree nie op soos ’n ding nie, hy tree op soos ’n persoon. In I Johannes 3:8 skryf die apostel Johannes byvoorbeeld: Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.

Die feit dat Satan van die begin af sondig, is die optrede van ’n persoon, want dinge pleeg nie sonde nie, net persone pleeg sonde. In I Kronieke 21:1 is Satan in staat om mense aan te hits om iets te doen. Hy staan daar ook vir of teen sekere dinge. In Sagaría 3:1 word hy uitgebeeld as ’n aanklaer, dit wil sê een wat in ’n hof aankla. In Johannes 8:44 is Satan in staat om te begeer, leuens te vertel en te moor. In Hebreërs 2:14 word Satan uitgebeeld as een wat oor mag en gesag beskik. Al hierdie eienskappe wys baie duidelik dat Satan dade van ’n persoon uitvoer. Hierdie bedrywighede is nie die optrede van ’n onsydige ding nie, dis die optrede van ’n persoon. Daarom het Satan ’n persoonlikheid.

D. Bewys deurdat Hy Behandel word soos ’n Moreel Verantwoordelike Individu
Die vierde manier waarop bewys word dat Satan oor ’n persoonlikheid beskik, is dat hy behandel word soos ’n individu met morele verantwoordelikheid. In Matthéüs 25:41 staan daar byvoorbeeld: Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

Satan is bestem vir die Poel van Vuur. Onsydige dinge word nie in die Poel van Vuur gegooi nie, net persone word daarin gegooi. Die feit dat Satan bestem is vir die Poel van Vuur wys vir ons hy word behandel as ’n wese met ’n morele verantwoordelikheid. Dit beteken hy het ’n persoonlikheid.

Johannes 16:11 sê verder: omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. Dit bewys ook dat hy as ’n moreel verantwoordelike individu behandel word, soos wat persone behandel word.

V. DIE BENAMINGE VIR SATAN
Daar is baie benaminge vir Satan wat regdeur die Skrif aangetref word. Hulle word in vier groepe verdeel.

A. Die Name van Satan
1. Satan
Die Bybel gee altesaam vier name vir Satan. Die eerste naam is die mees algemene een: Satan. Dit word negentien keer in die Hebreeuse Ou Testament gebruik. Een voorbeeld hiervan is in Sagaría 3:1. Die Griekse vorm van die naam is Satanas. Dit word 36 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik. ’n Voorbeeld daarvan kom in Openbaring 12:9 voor. Die naam beteken “teenstander” of “die een wat weerstand bied”. Hierdie naam benadruk Satan as leier van die koninkryk wat die teenstander van God se Koninkryk is.

2. Duiwel
Die tweede naam is Duiwel. Die Griekse woord is diabolos, wat 35 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik word (Op. 12:9). Die woord beteken “aanklaer”, “een wat laster” of “een wat laat struikel”. Hierdie naam beeld Satan uit as een wat vir beide God en die gelowige belaster.

3. Bélial
Die derde naam is Bélial, soos dit in II Korinthiërs 6:15 staan. Hierdie naam beteken “waardeloosheid” en weerspieël God se siening van hom noudat hy gesondig het.

4. Baäl-Sebub
Die vierde naam is Baäl-Sebub. Hierdie naam kry sy ontstaan van die Hebreeuse Baal Zvuv, wat letterlik “Heer van die vlieë” beteken. Hy was die god van Ekron, ’n god van die Filistyne (volgens II Konings 1:2, 3, 6, 16). In die Nuwe Testament word die naam Baäl-Sebub gevind in Matthéüs 10:25; 12:24; 27; Markus 3:22; en Lukas 11:15, 18, 19. Die Griekse vorm is Baäl-Sebul en het ’n klein verskil in betekenis. Dit beteken “Heer van die koninklike paleis”. Dit was die oorspronklike Filistynse naam vir hierdie god. Die rabbi’s het egter nooit vir Baäl-Sebul as die Heer van die koninklike paleis aanvaar nie. Daarom het hulle sy naam na Baäl-Sebub verander om met hom te spot: “Hy’s nie die Heer van die koninklike paleis nie; hy’s die Heer van die vlieë.” In die Nuwe-Testamentiese tyd het dit ’n naam vir Satan geword.

B. Die Titels van Satan
Die Bybel gee altesaam tien spesifieke titels vir Satan.

1. Môrester, Seun van die Dageraad
Die eerste titel is: môrester, seun van die dageraad (Jes. 14:12). Dit is uiters jammer dat die King James-vertaling dit met die naam “Lucifer” vertaal het. Lucifer is die Latynse vertaling van die Hebreeuse woord wat môrester beteken. Die korrekte woord in Engels moenie Lucifer wees nie, want dit is nooit ’n Bybelse naam vir Satan of ’n Bybelse titel nie. Die korrekte titel is môrester, seun van die dageraad. Die Hebreeus beklemtoon dat hy die “skitterende een” is. Dit benadruk hoe hy was toe hy geskape is: volgens Eségiël 28 was hy die skitterende een wat bedek was met edelgesteentes en volgens II Korinthiërs 11:14 kan hy steeds as ’n engel van die lig verskyn.

2. Die Vernietiger
Die tweede titel is: die vernietiger. Hierdie titel word in Openbaring 9:11 gevind, waar beide die Hebreeuse en Griekse vorme gegee word. Die Hebreeuse vorm is Abáddon en die Griekse vorm is Apóllion. Beide die Hebreeuse en die Griekse betekenis is “vernietiger”, want hy is die vernietiger van beide fisieke en geestelike lewe. Daar is ’n moontlikheid dat Openbaring 9:11 eintlik van ’n hoofdemoon praat eerder as van Satan. Maar as dit wel na Satan eerder as ’n hoofdemoon verwys, beeld dit Satan as ’n vernietiger uit.

3. Die Owerste van Hierdie Wêreld
Die derde titel is: die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31; 14:30; 16:11). Die Griekse woord vir die woord “wêreld” is kosmos en die kosmos is Satan se teenvoeter vir God se Koninkryk en heerskappy. Hy is die owerste van die kosmos, net soos wat die Messias die owerste van die Koninkryk van God is. Hierdie titel is tiperend van Satan se vyfde Ek wil uitspraak, naamlik om soos God te wil wees. Dit is ’n verwysing na die uitvoer van sy vals plan.

4. Die Owerste van die Mag van die Lug
Die vierde titel is: die owerste van die mag van die lug (Ef. 2:2) en hierdie titel benadruk twee dinge. Eerstens benadruk dit Satan in sy derde en teenswoordige woning, naamlik die atmosferiese hemele. Tweedens benadruk dit hom as die gesag oor die ander engele wat saam met hom geval het. Hy is die owerste van die magte, die ander magte of die gevalle engele.

5. Die God van Hierdie Wêreld
Die vyfde titel is: die god van hierdie wêreld (II Kor. 4:4). Die Griekse woord wat hier gebruik word is nie kosmos nie, maar aion, wat “wêreld” beteken. Dit beklemtoon die sisteem van die filosofie wat teenstrydig is met God. Hierdie sisteem van die filosofie is die gees van hierdie wêreld en hierdie kosmos. Wanneer Efésiërs 2:2 praat van die loop van hierdie wêreld, is die Grieks: die aion van hierdie kosmos. Satan is die owerste van hierdie kosmos. Hy staan ’n sekere filosofie in die kosmos voor en dis die karaktereienskap van hierdie wêreld. Volgens Galásiërs 1:4 is gelowiges gered uit die teenswoordige bose wêreld, dit wil sê uit die sisteem van die filosofie wat die gees van hierdie wêreld is. Hierdie titel benadruk Satan se filosofie in die uitoefening van sy beheer van die kosmos.

6. Die Bose
Die sesde titel is: die bose (Matt. 6:13; Joh. 17:15; II Thess 3:3; I Joh. 5:18–19). Die Griekse woord is poneiros, wat sy verdorwe natuur benadruk. In sy natuur is hy die bose een; die een wat elders die bron van boosheid is.

7. ’n Gérub met Uitgespreide Vlerke wat Beskut
Die sewende titel is: ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut (Eseg. 28:14). Hierdie titel beklemtoon twee dinge. Eerstens maak dit bekend aan watter orde van hemelse wesens hy behoort: Hy is ’n gérub. Tweedens beklemtoon dit sy unieke posisie: Hy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut. Ander gérubs hou die troon van God vas, dus is hulle posisie onder die troon. Dis hoekom God soms beskryf word as die Een wat bo die gérubs sit (troon). Maar Satan was eens op ’n tyd die gérub wat beskutting gegee het. Hy was die een wat as die baldakyn oor die troon van God gedien het. Al die ander gérubs se posisie was onder die troon, maar Satan, die gérub met uitgespreide vlerke, se posisie was bo-oor God se troon.

8. Die Owerste van die Duiwels
Die agtste titel is: die owerste van die duiwels (Matt. 12:24; Luk. 11:15). Hierdie titel benadruk sy gesag oor die derde van die engele wat saam met hom geval het.

9. Die Koning van Tirus
Die negende titel is: die koning van Tirus (Eseg. 28:11–12). Die beeld wat hier geskep word, is dat hy in beheer is van die aardse koninkryke van hierdie wêreld.

10. Die Koning van Babel
Die tiende titel is: die koning van Babel (Jes. 14:4 asook verse 12–14), wat ook sy beheer oor die nasies benadruk.

C. Beskrywings van Satan
Die derde kategorie van benaminge vir Satan is die verskillende maniere waarop Satan beskryf word. Daar is vyf beskrywings.

1. Die Aanklaer van Ons Broeders
Eerstens word hy as die aanklaer van ons broeders beskryf (Op. 12:10). Wanneer ’n gelowige sondig en dit nie bely nie, sal Satan vroeër of later voor die troon van God verskyn en daardie gelowige van ’n spesifieke sonde beskuldig of aankla. Dis hoekom gelowiges steeds die bediening van Jesus as ons advokaat nodig het. Wanneer Satan enige gronde het om ’n gelowige aan te kla, kan die Messias dan sê: “Laai daardie sonde op My rekening; Ek het alreeds daarvoor betaal toe Ek vir daardie persoon aan die kruis gesterf het.” Satan is die aanklaer van ons broeders; hy is die aanklaer van die heiliges.

Twee voorbeelde waar Satan die aanklaer van ons broeders is, kan in die Boek Job gevind word. Eerstens kla hy Job in Job 1:9–11 aan dat hy God net vrees omdat God hom geseën het – hy kla Job dus aan van verkeerde beweegredes. Hy maak weer so in Job 2:4–5, waar hy verklaar dat ’n mens, dit wil sê Job, enigiets sal doen om sy lewe te red. Satan beskuldig nie net individuele heiliges nie, hy kla ook vir Israel aan as ’n nasie voor God. ’n Voorbeeld hiervan is te vinde in Sagaría 3:1–2.

2. ’n Engel van die Lig
Tweedens word hy as ’n engel van die lig beskryf (II Kor. 11:14). Hierdie beskrywing benadruk sy bedrieglike karakter. Dit hou ook verband met die voltooiing van die vyfde Ek wil uitspraak: [Hy wil hom] gelykstel met die Allerhoogste. Satan het ’n vals plan opgestel en verskyn as ’n vals engel van die lig. In werklikheid is Satan die “engel van die duisternis”. Hy verander homself egter só dat hy as ’n engel van die lig voorkom, want hy wil bedrieg. Dit is die manier waarop Satan die beste kan bedrieg.

3. Die Versoeker
Derdens word hy as die versoeker beskryf (Matt. 4:3; I Thess. 3:5). Die Griekse woord is peirazon. Dit is ’n teenwoordige deelwoord en beeld hom in sy huidige bedrywigheid uit – hy gaan rond en lei mense in die versoeking. Hierdie titel benadruk Satan as die een wat in versoeking bring en wat die mens in die morele stryd toets. Hy versoek mense om sondige dade te pleeg en in besonder die sonde van onsedelikheid.

4. Die Verleier
Vierdens word hy beskryf as die een wat die hele wêreld verlei (Op. 12:9). Die Griekse woord is planon. Dit is ook die Griekse teenwoordige deelvorm en benadruk waarmee hy voortdurend besig is: Hy is gedurig besig om te verlei. Dit voer sy vyfde Ek wil uitspraak uit, naamlik: [Hy wil hom] gelykstel met die Allerhoogste.

5. Die Gees wat Nou in die Kinders van die Ongehoorsaamheid Werk
Vyfdens word hy as die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk beskryf (Ef. 2:2). Hierdie spesifieke beskrywing benadruk twee dinge: eerstens is Satan ’n geestelike wese. Tweedens werk hy as ’n geestelike wese onder die kinders van die mens. Hy werk in die besonder onder ’n sekere segment van die kinders van die mens, naamlik die kinders van die ongehoorsaamheid, dit wil sê onder ongelowiges. Op ’n tyd het almal in daardie kategorie geval. Nou is gelowiges egter verlos van die koninkryk van die duisternis en is hulle in die koninkryk van die lig van die Seun van God. Satan werk dus nie meer in ons nie, maar hy werk steeds teen ons.

D. Die Dierlike Uitbeeldings van Satan
Die vierde kategorie van benaminge vir Satan is dierlike uitbeeldings, waarvan daar drie is.

1. Die Slang
Eerstens word hy as ’n slang uitgebeeld (Gen. 3:1, 2, 4, 13, 14; II Kor. 11:3; Op. 12:9, 15; 20:2). Hierdie uitbeelding benadruk twee dinge. Eerstens benadruk dit die eerste verwysing wat ooit in die Skrif na Satan gemaak is (Gen. 3). Dis hier waar Satan as ’n slang verskyn het, oftewel ’n slang “ingewoon” het om Eva te kan bedrieg. Tweedens benadruk hierdie uitbeelding sy geslepenheid. Die slang is die listigste van alle wesens wat God geskape het. Net so is Satan die mees geslepe een van alle persoonlikhede wat in ’n toestand van sonde is.

2. Die Draak
Tweedens word hy as ’n groot vuurrooi draak uitgebeeld (Op. 12:3, 4, 7, 9, 13, 17). Die Griekse vorm is drakon, wat baie na aan die Afrikaanse woord “draak” is. In Engels word die k-klank met ’n “g” vervang (dragon), maar in Afrikaans behou dit die k-klank. Wanneer Satan die groot vuurrooi draak genoem word, benadruk dit Satan se krag en wreedheid. Baie Bybeluitleggers sê die gewilde voorstelling van Satan in ’n rooi pak en ’n stert is nie waar nie. Tog steek daar waarheid in, want in hierdie skrifgedeelte is hy rooi en het hy wel ’n stert, al is daar nie ’n hooivurk in hierdie prentjie nie. Natuurlik is dit nie hoe hy in werklikheid lyk nie; dis maar net ’n uitbeelding wat sy mag en wreedheid beklemtoon.

3. ’n Brullende Leeu
Derdens word hy as ’n brullende leeu uitgebeeld (I Pet. 5:8). As ’n brullende leeu loop hy rond en soek wie hy kan verslind. Die klem lê hier op sy vernielsug, want hy is daarop uit om te vernietig.

VI. SATAN SE AARD
Daar is sewe sake aangaande Satan se aard wat ons moet bespreek.

A. Satan Is Geskape
Eerstens is Satan ’n skepsel. Hy is nie ’n skepper nie, hy is ’n geskape wese (Eseg. 28:15; Kol. 1:16). Dit beteken Satan het nie van ewigheid af bestaan nie. Daar was ’n beginpunt van sy bestaan.

B. Satan Is ’n Gérub
Tweedens is Satan ’n gérub (Eseg. 28:14, 16). Die Bybel praat van drie verskillende ordes of range van hemelse wesens. Eerstens is daar die gewone engele. Bo hulle is die serafs of serafyne, en bo die serafyne is die hoogste orde van hemelse wesens, naamlik die gérubs of gérubyne. Satan is ’n gérub, dus behoort hy tot die hoogste orde. Hy is van nature van ’n hoër orde as die serafyne en die engele.

C. Satan Behoort tot die Eerste Orde van Engele
Derdens behoort Satan tot die eerste orde. Dit kan op drie maniere gesien word.

Eerstens was hy nie net ’n gérub nie, hy was die gérub met uitgespreide vlerke wat beskut (Eseg. 28:14). Dit beteken hy was bo diegene van sy eie gérub-orde wat gesag betref. Net soos Mígael die aartsengel gesag oor elke individuele engel gehad het, so het Satan die aarts-gérub geword – die een wat gesag oor al die ander gérubs het.

Tweedens moes selfs Mígael hom volgens Judas 8–9 respekteer. Toe Mígael en Satan oor die liggaam van Moses gestry het, het Mígael geen oordeel van lastering durf uitspreek teenoor Satan nie. Die rede hiervoor was dat Mígael Satan erken het as ’n gérub wat tot ’n hoër orde behoort. Hy het die saak dus gewoon aan die Here oorgelaat, want die Here is Satan se meerdere. Maar die feit dat selfs die goeie aartsengel respek getoon het vir die gevalle gérub, wys vir ons dat Satan tot die die eerste orde (of rang) behoort.

Derdens is Satan die leier van alle gevalle engele. Daar is nie een enkele gevalle engel wat op gelyke vlak is met Satan nie. Alle gevalle engele staan onder hom (Matt. 12:24; Op. 12:4, 7).

D. Satan Is ’n Geestelike Wese
Vierdens is Satan ’n geestelike wese; hy het ’n hemelse gedaante; hy is ’n engelewese (Jes. 14:12; II Kor. 11:14). Hy word konsekwent geassosieer met hemelse wesens (Matt. 12:24; Op. 12:9). Hy is ’n geestelike wese, nes alle engelewesens of hemelse wesens.

E. Satan Is Bevestig as ’n Sondaar
Vyfdens is Satan bevestig as ’n sondaar. Die Bybelvers waarin ons dit die beste kan sien, is I Johannes 3:8: Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.

Die feit dat hy ’n bevestigde sondaar is, maak dit baie duidelik presies hoekom hy op ’n sekere manier in die Bybel uitgebeeld word. Sy status as bevestigde sondaar word op vier maniere in die Skrif benadruk.

1. Deur Hoogmoed
Eerstens word Satan gekenmerk deur hoogmoed (Eseg. 28:17; I Tim. 3:6). Die aard van sy hoogmoed is tweevoudig: Satan het ’n begeerte gehad om soos God te wees en hy was gewillig om daarvoor ’n opstand in die hemel te lei.

2. Deur Onwaarhede
Tweedens word hy gekenmerk deur onwaarhede. Volgens Johannes 8:44 is Satan die vader van leuens omdat hy die eerste een ooit was om ’n leuen te vertel. Daarom is hy die vader van leuens en word hyself geken as ’n leuenaar.

3. Deur Geslepenheid
Derdens word hy gekenmerk deur geslepenheid. Hierdie geslepenheid is ’n gevolg van sy skelm aard (II Kor. 2:11; 11:3–4; Ef. 6:11). Dis in sy wesenlike aard om ’n sondaar te wees, want alles wat hy is, is verdorwe.

4. Deur Bedrieglikheid
Vierdens word hy gekenmerk deur bedrieglikheid, wat ’n gevolg is van sy geslepenheid. Die woord “geslepenheid” het te doen met sy karakter en die bedrieglikheid het te doen met sy dade, wat ’n gevolg is van sy geslepenheid. Hy is gevul met bedrieglikheid (II Kor. 11:14; II Thess. 2:9–10).

F. Satan Kan Wonderwerke Doen
Die sesde aspek van Satan se aard, is die feit dat hy oor die vermoë beskik om wonderwerke te doen (II Thess. 2:9, Op. 13:11–15). Hy beskik oor geweldige kragte om wonderwerke te doen, en kan selfs lewe skep. Daarom moet ’n mens baie versigtig wees om nie oortuig te word iets is die waarheid net omdat daar uiterlike verskynsels bestaan nie. Satan kan ’n groot hoeveelheid wonderwerke dupliseer, en van die wonderwerke wat hy dupliseer word in Matthéüs 7:22–23 gevind. Hy het groot kragte om wonderwerke te doen en dis gevaarlik om sy vermoëns te onderskat.

G. Satan het Beperkte Magte
Die sewende aspek van Satan se aard, is die feit dat hy ’n beperkte wese is. Omdat hy ’n geskape wese is, het hy beperkings, en dit kan op drie maniere gesien word.

Eerstens het hy nie die “al”-eienskappe wat God het nie, al lyk dit soms asof hy daaroor beskik. Hy is nie alwetend, alomteenwoordig óf almagtig nie. Hy het ’n wydverspreide netwerk van demone wat hom laat lyk asof hy alomteenwoordig is. Hy het baie generasies se menslike reaksies noukeurig waargeneem en dit laat hom lyk asof hy alwetend is. Sy krag om wonderwerke te doen laat hom ook almagtig lyk. Maar hy is nie alwetend, alomteenwoordig of almagtig nie. Hy beskik nie oor hierdie kenmerkende eienskappe nie.

Tweedens plaas God beperkings op wat hy kan doen. Die beste illustrasie hiervan is Job 1-2, waar God vir Satan perke stel en aan hom sê hoe ver hy kan gaan en niks verder nie.

Derdens kan Satan weerstaan word (Ef. 6:10–18; Jak. 4:7; I Pet. 5:8–9). Die feit dat gelowiges hom kan weerstaan, bewys dat Satan ’n beperkte wese is.

VII. DIE SES WONINGS VAN SATAN
Die beste manier om Satan se biografie of loopbaan te ondersoek, is om na sy ses wonings te kyk. Dit is ses plekke waar Satan gewoon het, steeds woon, of in die toekoms gaan woon. Die ses wonings word in chronologiese volgorde bespreek. Twee daarvan is in die verlede, die derde een is sy huidige woning, en die laaste drie is in die toekoms.

A. Die Troon van God
Satan se eerste woning was die troon van God (Eseg. 28:14). Eségiël beskryf Satan se posisie by die troon van God op twee maniere.

Eerstens was Satan die “gérub met uitgespreide vlerke wat beskut”. Hy was soos ’n baldakyn oor die troon van God. Volgens Eségiël 1 hou gérubs die troon van God regop en ondersteun hulle dit. Eségiël het ’n visioen gehad van gérubs wat onder die troon was en dit gedra het. Omdat gérubs die troon ondersteun, word daar gereeld na God verwys as die een wat bo die gérubs sit (troon). Maar terwyl ander gérubs onder die troon is en dit vashou en ondersteun, het Satan die troon bedek omdat hy die gérub met uitgespreide vlerke was. Hy was oor die troon soos ’n baldakyn.

Tweedens was hy ook die beskermer of bewaker van God se troon, die een wat beheer uitgeoefen het oor wie van die ander engelewesens toegang mag hê tot God, en wie nie.

Hierdie twee plekke was Satan se posisies in sy eerste woning. Hoe lank hy in hierdie woning gebly het, is nie bekend nie.

B. Die Tuin van Eden
Satan se tweede woning was die Tuin van Eden (Eseg. 28:13). Die Tuin van Eden in Eségiël 28:13 moet egter nie verwar word met die Tuin van Eden in Génesis 2–3 nie. Volgens Job 38:7 het die engelewesens reeds bestaan toe God die hemele en die aarde geskape het. Satan was in daardie stadium in sy eerste woning, die troon van God. Chronologies gesproke het Génesis 1 toe, na ’n onbekende verloop van tyd, gevolg toe God die hemel en die aarde geskape het. Toe God die hemel en die aarde geskape het, het Hy verskillende dele van die heelal onder gesag van verskillende hemelse wesens geplaas. Toe God hierdie spesifieke planeet geskape het, het Hy die gesag daaroor aan Satan gegee. Dit is wat in Eségiël 28:13 beskryf word wanneer daar na Eden, die tuin van God, verwys word. Die beskrywing van Eden, die tuin van God in Eségiël 28:13, is egter iets anders as die tuin waarvan daar in Génesis 2–3 gepraat word. Génesis se Eden was ’n plantetuin, maar Eségiël se Eden is ’n tuin vol edelgesteentes. Eségiël 28:13 beskryf hoe hierdie planeet oorspronklik gelyk het toe dit geskape is. Daar was geen oseane nie en geen see nie. Dit was eerder ’n pragtige tuin vol edelgesteentes, bedek deur die stene wat in hierdie vers opgenoem word. In Satan se tweede woning het hy gewandel tussen die vurige gesteentes.

Satan het op hierdie tydstip ’n dubbele posisie gehad. Hy was steeds die gérub met uitgespreide vlerke en die beskermer van God se troon, maar nou het hy ook ’n tweede woning gehad, naamlik die edelgesteente-tuin van Eden.

Dit was in die tweede woning waar die val van Satan wat ons vroeër bespreek het, plaasgevind het. As gevolg van Satan se val het hy beide sy posisie by die troon van God asook sy gesag oor hierdie planeet verloor.

C. Die Atmosferiese Hemel
Tans verkeer Satan in sy derde woning, die atmosferiese hemel. Efésiërs 2:2 beskryf Satan as die owerste van die mag van die lug en Efésiërs 6:12 praat van die bose geeste in die lug. Satan se huidige woning is dus die atmosferiese hemel, die lug.

Al dien die atmosferiese hemel as Satan se derde woning, het hy ook toegang tot twee ander plekke.

1. Toegang tot die Hemel
Eerstens het Satan toegang tot die Hemel. Tot vandag toe kan hy toegang kry tot die Hemel wanneer hy ook al wil en in God se teenwoordigheid gaan staan (Job 1–2). Wanneer Satan in die Hemel ingaan, is dit net vir een rede: as ’n aanklaer – ’n aanklaer van Israel (Sag. 3:1) en ’n aanklaer van ons broeders (Op. 12:10).

2. Toegang tot die Aarde
Tweedens het Satan ook toegang tot die aarde. God het die nuwe gesag oor die aarde aan Adam gegee, maar as gevolg van Adam se val, het Satan Adam se gesag wederregtelik toegeëien. As gevolg van Adam se val en Satan se wederregtelike toe-eiening, is Satan nou weer die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31) en die god van hierdie wêreld (II Kor. 4:4). Wanneer hy neerkom aarde toe, kom hy in een van twee gedaantes: soms is hy ’n brullende leeu wat ten doel het om te verslind en ander kere is hy ’n engel van die lig wat ten doel het om te bedrieg (II Kor. 11:1–13).

D. Die Aarde
Satan se laaste drie wonings is almal in die toekoms. Satan sal in sy huidige woning (wat iewers tussen Génesis 1:1 en 1:2 begin het) bly tot in die middel van die Verdrukking. Daarna sal Satan in sy vierde woning inbeweeg, wat sal wees om tot die aarde beperk te wees (Op. 12:7–17). In die middel van die Verdrukking sal daar ’n engele-oorlog uitbreek in Satan se derde woning, die atmosferiese hemel. Mígael die aartsengel en die goeie engele sal teen Satan en die gevalle engele veg. In die verloop van hierdie oorlog tussen die engele sal God vir Mígael die oorwinning gee. Satan sal dan uit sy huidige derde woning gegooi word tot in sy vierde woning, die aarde. Hy sal vir die tweede helfte van die Verdrukking beperk word tot die aarde en vir drie-en-’n-half jaar daar woon.

Wanneer Satan sy vierde woning binnegaan, sal dit twee gevolge hê: Die eerste hou verband met die Hemel, waar daar vreugde sal wees. Die heiliges in die Hemel sal verheug wees omdat Satan nie langer toegang tot die Hemel sal hê om die broeders aan te kla nie. Die tweede gevolg is rampspoedig vir die aarde as gevolg van Satan se woede, want die toorn van Satan sal op die aarde uitgestort word.

In sy vierde woning gaan Satan se hoofbedrywigheid wees om te probeer om die volk Israel te vernietig.

E. Die Afgrond
Die vyfde woning van Satan gaan die afgrond wees (Op. 20:1–3). Die afgrond is daardie gedeelte van Sheol of Hades (die doderyk) wat ’n tydelike plek van inperking vir gevalle engele is. Satan gaan vir ’n periode van 1000 jaar, dit wil sê die periode van die Messiaanse Koninkryk, vasgekluister wees in hierdie vyfde woning van hom. As gevolg daarvan sal hy die nasies nie meer verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Hy sal daar vasgekluister wees vir die hele Millennium. Gedurende hierdie periode sal die demone ook ingeperk word, maar nie in dieselfde plek nie. As gevolg van hierdie vyfde woning sal daar gedurende die Koninkryk Periode geen sataniese of demoniese versoekings wees nie.

F. Die Poel van Vuur
Satan se sesde en finale woning sal die poel van vuur wees (Op. 20:7–10). Aan die einde van die Millennium Koninkryk sal Satan uit die afgrond vrygelaat word. Hy sal dan weer voortgaan met sy bedrieëry en een laaste weermag bymekaarmaak vir een laaste opstand teen God se gesag. Maar wanneer hierdie weermag die land van Israel binnekom, sal God hulle deur vuur uit die hemel vernietig. Op hierdie punt sal Satan sy sesde woning, die poel van vuur, binnegaan. Dit sal sy woning wees tot in alle ewigheid.

VIII. DIE WERK VAN SATAN
Die Bybel maak soveel aan ons bekend oor die werk van Satan dat ons hierdie onderwerp in nege afdelings gaan verdeel.

A. Satan se Werk in die Kosmos
1. Die Griekse Woorde
Die eerste gebied waarin Satan werk, is die kosmos. Om presies te verstaan wat die kosmos in die Skrif is, is daar drie Griekse woorde wat ons moet onderskei. Die eerste woord is kosmos, wat “die wêreldsisteem” beteken. Dit word 187 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik. Die tweede Griekse woord is aion, wat 41 keer gebruik word. Dit word gewoonlik vertaal as “wêreld”, maar ’n meer letterlike weergawe is “tyd”. Aion beteken “ ’n tyd” in die sin van “ ’n tydperk”. Beide kosmos en aion word gereeld in Afrikaans vertaal met die woord “wêreld”. Daar is ’n derde Griekse woord, naamlik oikoumenei, wat ook met “wêreld” vertaal word. Dit word 14 keer in die Griekse Nuwe Testament gebruik, maar hierdie spesifieke woord beteken “die wêreld waarin daar gewoon word”. Dit verwys dus nie na die wêreld in die algemeen nie, maar na daardie gedeeltes van die wêreld waar die mens woon.

Daar is dus drie Griekse woorde wat vertaal word met die Afrikaanse woord “wêreld”: kosmos, aion, en oikoumenei. Die een wat te doen het met die verhouding tot Satan is kosmos, die wêreldsisteem wat onder sataniese beheer staan. Die een persoon wat die meeste hiermee te doen gehad het in die Nuwe Testament, is die apostel Johannes. Uit die 187 keer wat hierdie woord regdeur die Nuwe Testament gebruik word, het Johannes dit 95 keer gebruik: 68 keer in die Evangelie van Johannes, 23 keer in die brief van I Johannes, een keer in II Johannes, en drie keer in Openbaring.

2. Definisie
Die definisie en beskrywing van die woord kosmos kan afgelei word uit die 187 gebruike van die woord. Die kosmos-wêreld is ’n geordende wêreld. Daar is orde, nie chaos nie. Ons kan dus sê dit is: “Die geordende sisteem waarvan Satan die hoof is en waaruit God gelaat word.” Dit is die kosmos-wêreld.

Die woord kosmos het altyd ’n morele waarde. Dit beskik oor die konsep van wêreldsheid, want dit bring God nie in berekening nie. Die kosmos het ’n karakter wat anti-god is. Gelowiges wat leef in die wêreld, dit wil sê die kosmos, kom in voortdurende aanraking met die kosmos-sisteem.

’n Meer omvattende definisie wat die gebruike van die woord regdeur die Nuwe Testament in ag neem, is: “Die kosmos is ’n reuse orde of sisteem wat deur Satan bevorder word en wat in ooreenstemming is met sy ideale, doelwitte en metodes, en wat die owerheid, konflik, strydmagte, jaloesie, onderwys, kultuur, godsdienste van moraliteit, en trots insluit.”

Dit is die wêreld wat nou bestaan, oftewel die “teenswoordige” wêreld (II Pet. 3:5–7). Dit is wat Satan gebruik en dit is die reusegebied waarin hy werk.

3. Die Dogma van die Kosmos
Vanuit die 187 keer wat die term kosmos gebruik word, kan ’n mens ’n dogma van die kosmos saamstel waaruit ’n mens nege dinge kan leer.

a. Satan se Beheer van die Kosmos
Eerstens staan die kosmos onder Satan se beheer. Satan het gesag oor die koninkryke van hierdie wêreld (Luk. 4:5–7). Hy is die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31; 14:30; 16:11). Satan is ook die god van hierdie wêreld (II Kor. 4:4). Verder word hy beskryf as hy wat in die wêreld is (I Joh. 4:4). Volgens die apostel Johannes lê die wêreld in die bose een. Meer letterlik lê die wêreld of die kosmos “in die skoot” van die bose een. Die kosmos is dus onder Satan se beheer.

b. Die Algehele Boosheid van die Kosmos
Tweedens is die kosmos geheel en al boos. Paulus het geskryf dat sonde in die wêreld [of die kosmos] ingekom het (Rom. 5:12). Die kosmos ken nie vir God nie (I Kor. 1:21) en die kosmos ken nie vir Jesus, die Messias nie (I Kor. 2:8). Paulus skryf oor die hoereerders van hierdie wêreld, oftewel hierdie kosmos (I Kor. 5:10). Die kosmos is ’n vyand van God (Jak. 4:4). Petrus praat van die verdorwenheid wat daar in die wêreld, of die kosmos, is (II Pet. 1:4) en die vuile begeerlikheid van hierdie wêreld (II Pet. 2:10). Hierdie wêreld, die kosmos, het die gees van die Antichris (I Joh. 4:3). Daarom kan ons sê die kosmos is geheel en al boos.

c. Die Gebiede van Versoeking in die Kosmos
Derdens het dit te doen met dít wat Satan in die kosmos onderneem, naamlik versoeking op drie gebiede: die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe (I Joh. 2:16).

d. Die Begeertes van die Kosmos
Vierdens het dit te doen met die begeertes van die kosmos, waarvan daar drie is. Eerstens begeer die wêreld rykdom (Mark. 4:19); tweedens begeer die wêreld sekuriteit (I Kor. 7:29–31), maar nie sekuriteit in God nie; en derdens begeer die wêreld materiële dinge (Jak. 2:5), nie geestelike dinge nie.

e. Die Magteloosheid van die Kosmos
Vyfdens gaan dit oor die magteloosheid van die kosmos. Die kosmos is magteloos wat geestelike dinge betref. Die wêreld ken nie die Vader nie (Joh. 17:25) en die kosmos is sonder Christus (Ef. 2:12). Die wêreld ken nie vir God nie en die wêreld hoor Hom ook nie (I Joh. 3:1; 4:5–6).

f. God se Liefde vir die Kosmos
Sesdens is God ten spyte van alles lief vir die kosmos. Hy is immers lief vir die wêreld: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het (Joh. 3:16). Omdat God die kosmos liefgehad het, het Hy Sy seun in die kosmos ingestuur (I Joh. 4:9).

g. Die Seun se Plan vir die Kosmos
Sewende was die Seun se plan egter nie ván die kosmos nie. Hy is daar ingestuur, maar Hy was nie daarván nie. Die Messias het gekom om gelowiges uit die kosmos te red (Joh. 12:46). Die Heilige Gees sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh. 16:8). Die Messiaanse Koninkryk sal nie ván hierdie kosmos wees nie (Joh. 18:36).

h. Die Gelowige se Posisie in die Kosmos
Agtste is gelowiges óók nie van die kosmos nie. Inteendeel, hulle sal deur die wêreld, of die kosmos, gehaat word (Joh. 15:18–19). In hierdie wêreld sal gelowiges verdrukking hê (Joh. 16:33) omdat hulle nie van die wêreld is nie (Joh. 17:14, 16), alhoewel hulle in die wêreld gestuur is (Joh. 17:18). Al is gelowiges in die wêreld, sal hulle vlekkeloos van die wêreld bewaar word (Jak. 1:27). Hulle sal gehaat word deur die wêreld (I Joh. 3:13), maar tog kan hulle die wêreld uit geloof oorwin (I Joh. 5:4).

i. Die Tydelike Aard van die Kosmos
Negende is die kosmos tydelik. Dit is bestem om tot ’n einde te kom. Dis onder die wet van God (Rom. 3:19) en sal verby gaan (I Kor. 7:31). Die wêreld sal veroordeel word (I Kor. 11:32) en daar sal ’n dag kom waarop die kosmos sal verbrand (II Pet. 3:10). Die wêreld, of kosmos, en sy begeerlikheid, sal verbygaan (1 Joh. 2:17).

B. Satan se Werk in die Ou Testament
Die tweede kategorie van Satan se werk, is sy werk in die Ou Testament. Hier is daar agt spesifieke dinge wat vermeld moet word.

1. Satan: die Oorsprong van Sonde
Eerstens het Satan sonde as’t ware ontwerp, want hy was die eerste sondaar.

2. Satan: die Oorsaak van die Mens se Val
Tweedens was dit Satan wat die val van die mens veroorsaak het. Génesis 3:1–8 vertel vir ons hoe Satan vir Eva versoek het, hoe sy gereageer het, en wat Adam se reaksie vervolgens daarop was. In Johannes 8:44 word Satan letterlik ’n mensemoordenaar genoem, want fisieke dood het deel geword van die mens se lewe as gevolg van die versoekings waarmee hy Adam en Eva verlei het. In II Korinthiërs 11:3 sê Paulus Satan het Eva deur sy listigheid bedrieg en in I Timótheüs 2:14 sê hy Eva is verlei. Dit was dus Satan wat die val van die mens in die Ou Testament veroorsaak het.

3. Satan: Die Aanklaer van Job
Derdens het Satan as aanklaer opgetree. Hy het Job daarvan aangekla dat hy God om verkeerde redes liefgehad het (Job 1:6–12; 2:1–6).

4. Satan: Die Teisteraar van Job
Vierdens het Satan vir Job geteister. Hy het Job se besittings en sy gesin geteister (Job 1:13–19) en hy het ook vir Job fisiek geteister (Job 2:7–8).

5. Satan: Die Een wat Gedurig Stry
Vyfdens het Satan ná Moses se dood met Mígael die aartsengel gestry oor Moses se liggaam (Jud. 9). Judas sê nie presies hoekom Satan Moses se liggaam wou gehad het nie. Die vermoede is egter dat Satan deeglik bewus was van Israel se neiging om afgode te hê. Daarom wou hy vir almal laat weet waar Moses begrawe is sodat dit ’n plek van aanbidding kon word. Hy het egter hierdie twisstryd verloor.

6. Satan: Die Aanhitser
Sesdens het Satan vir Dawid aangehits om Israel te tel. Dit het teen God se wet ingegaan (I Kron. 21:1) en as gevolg hiervan het daar oordeel oor die volk gekom.

7. Satan: Die Aanklaer van Israel
Sewende was Satan in die Ou Testament die aanvaller van Israel. Net soos hy vandag gelowiges aankla, het hy Israel in die Ou Testament ook aangekla (Sag. 3:1–2).

8. Satan se Teenwoordigheid by die Oordeel oor ’n Ongelowige
Agtste was Satan teenwoordig by die oordeel oor ’n ongelowige (Ps. 109:6).

C. Satan se Werk met betrekking tot God
Die derde kategorie aangaande Satan se werk in die Skrif, is sy werk met betrekking tot God. Hierdie werk kan op twee maniere gesien word.

1. Teenstand van God se Persoon
Eerstens staan Satan God se persoon teen. In Génesis 3:1–5 het hy God se geloofwaardigheid en God se beweegredes aangeval tydens ’n gesprek met Eva. Volgens I Johannes 3:10–12 staan hy God se geregtigheid teë.

2. Teenstand teen God se Plan
Tweedens staan Satan God se plan teen en hy doen dit deur middel van vervalsing. Sy vyfde Ek wil uitspraak, dat hy hom wil gelykstel met die Allerhoogste, wys dat Satan die meestervervalser is. Hy het geweet hy kan nie soos die Allerhoogste wees nie en daarom het hy begeer om soos die Allerhoogste te word. Om dit te doen het hy sy eie vals plan opgestel, en hierdie plan het vyf fasette.

a. Vals Geloof
Eerstens is daar ’n vals geloof (II Kor. 11:13–15; Op. 2:9, 13). Hierdie vals geloof is nie noodwendig die voor die hand liggende vals gelowe nie, maar is dikwels iets wat baie soortgelyk is aan die geloof van die Nuwe Testament.

b. Die Vals Messiasse
Tweedens is daar die vals “Messiasse”. Satan versin op twee maniere vals Messiasse: Eerstens verkondig hy ’n ander Jesus van dieselfde soort, ’n Jesus wat soortgelyk is aan die Jesus van die Nuwe Testament. In II Korinthiërs 11:4 skryf Paulus oor ’n ander Jesus. Die Griekse woord wat hy vir die woord “ander” gebruik, beteken “ ’n ander van dieselfde soort”.

’n Tweede manier waarop Satan die Messias gaan vervals, is die Antichris (I Joh. 2:18, 22; 4:3) wat hy eendag gaan bekendstel.

c. Die Vals Volgelinge
Derdens het Satan vals volgelinge (Matt. 13:38–39). Hierdie vals volgelinge is soos onkruid. Dit lyk baie soos goeie saad en dis moeilik om tussen die twee te onderskei. Op dieselfde manier is sy vals volgelinge nie die voor die hand liggende aanbidders van Satan nie. Hulle is mense wat in die openbaar hulle geloof in die Messias erken, al is daar subtiele ontkenning.

d. Die Vals Teologie
Vierdens het hy ’n vals dogma, oftewel ’n vals sistematiese teologie (I Tim. 4:1–3; Op.2:24).

e. Die Vals Wonderwerke
Vyfdens het hy die vermoë om vals wonderwerke te verrig (Matt. 7:22–23; II Thess. 2:8–11). Hierdie wonderwerke is regte wonderwerke, maar hulle is vals, want daar word verklaar dat hulle in die naam van Jesus gedoen word terwyl dit nie Jesus is wat dit doen nie.

D. Satan se Werk in die Messias se Lewe
Die vierde kategorie van Satan se werk, is die werk wat hy in die Messias se lewe gedoen het. Hier kan ons van ses dinge melding maak.

1. Die Konflik Waaroor daar Geprofeteer is
Eerstens het die heel eerste messiaanse profesie (in Génesis 3:15) die konflik tussen Jesus en Satan voorspel: Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Hierdie konflik tussen die Messias en Satan gedurende die lewe van Jesus is dus vooruit voorspel.

2. Satan Probeer die Messias se Lewe Neem
Tweedens het die konflik in alle erns begin toe Jesus gebore is. Satan het Jesus reeds as baba in Betlehem probeer doodmaak. Die besonderhede hiervan is te vinde in Matthéüs 2:1–18, wat vertel hoe koning Herodes probeer het om die Kindjie dood te maak. Volgens Openbaring 12:4 is dit deur Satan geïnspireer.

3. Satan Versoek die Messias
Derdens het Satan Jesus in die versoeking probeer lei om ’n daad van sonde te pleeg (Matt. 4:1–11; Mark. 1:13; Luk. 4:1–13).

4. Satan Gebruik Mense om die Messias se Werk Teen te Staan
Vierdens het Satan gereeld mense gebruik om die Messias se werk in die wiele te probeer ry. Hy het mense gebruik om Jesus te probeer verhoed om in sy messiaanse doel te slaag, dit wil sê om aan die kruis te sterf. In Matthéüs 2:16 het hy vir Herodes gebruik, in Matthéüs 16:23 vir Petrus, en in Johannes 8:44 en 59 het hy die menigte gebruik.

5. Satan het Petrus se Verloëning Aangemoedig
Vyfdens was dit Satan wat Petrus sover gekry het om Jesus drie keer te verloën (Luk. 22:31).

6. Satan se Aandeel in Judas se Verraad
Sesdens was Satan gedeeltelik verantwoordelik vir die verraad wat Judas teen Jesus gepleeg het. Dit was Satan wat voorgestel het dat Judas Jesus moet verraai (Joh. 13:2) en later het Satan in Judas ingevaar (Joh. 13:27). Judas was nie net besete deur ’n demoon nie, hy was besete deur Satan. Dis hoekom hy die seun van die verderf genoem word (Joh. 17:12). Toe Satan in Judas ingevaar het, was die verraad gewaarborg.

E. Satan se Werk met betrekking tot die Nie-Joodse Nasies
Die vyfde kategorie van Satan se werk, is dit wat hy onder die nie-Joodse nasies doen. Hier kan ons van ses dinge melding maak.

1. Satan Veroorsaak die Val van die Nasies
Eerstens is dit Satan wat die nasies laat val (Jes. 14:12). Soms word nasies met baie mag neergewerp en dan word hulle derde-, vierde- of vyfderangse magte. Dit gebeur as gevolg van die werk van Satan wat die koninkryke van die wêreld beheer.

2. Satan Verlei die Nasies
Tweedens verlei Satan die nasies (Op. 12:9; 20:3).

3. Satan Beïnvloed die Nasies
Derdens het Satan invloed oor die menslike owerhede onder die nie-Joodse nasies (Dan. 10:13, 20; Matt. 4:8–9; Ef. 6:12).

4. Satan Gee die Antichris Gesag
Vierdens gee Satan sy gesag oor die koninkryke van die wêreld aan die antichris. Op ’n tyd het hy hierdie gesag ook vir Jesus aangebied as Hy bereid sou gewees het om Satan net een keer te aanbid, maar Jesus het hierdie aanbod van die hand gewys. Satan sal hierdie aanbod weer maak, en hierdie keer aan die antichris, wat dit sal aanvaar (Op. 13:2, 4).

5. Satan Versamel die Weermagte vir die Finale Oorlog
Vyfdens versamel Satan die weermagte van die nasies vir die finale oorlog, die oorlog van Armagéddon (Op. 16:12–16).

6. Satan Lei die Nie-Joodse Nasies in die Finale Opstand
Sesdens is Satan die een wat die nie-Jode in die Messiaanse Koninkryk sal bedrieg, nadat hy uit sy vyfde woning – die afgrond – vrygelaat is. Hy sal hierdie mense dan in die finale opstand lei (Op. 20:7–10).

F. Satan se Werk met betrekking tot Israel
Die sesde kategorie is Satan se werk met betrekking tot Israel. Eenvoudig gestel is hy Israel se teenstander (I Kron. 21:1; Sag. 3:1–2).

G. Satan se Werk met betrekking tot Ongelowiges
Die sewende kategorie van Satan se werk, is sy werk in en om ongelowiges. Hier is daar agt spesifieke werke wat hy onder ongelowiges verrig waarvan ons melding moet maak.

1. Satan Probeer Geloof in die Evangelie Verhoed
Eerstens probeer hy keer dat ongelowiges die evangelie ontvang en glo. Waar die evangelie ookal verkondig word, Satan en sy agente sal daar wees om te probeer keer dat mense dit glo. Hy doen dit op twee maniere: Eerstens probeer hy om die saad van die evangelie wat by die hoorder gesaai is, te steel (Matt. 13:19; Mark. 4:15; Luk. 8:13). Tweedens probeer Satan om die aanvaarding van die evangelie te verhoed. Hy doen dit deur die verstand van die ongelowiges te verblind, sodat hulle nie verstaan wat die kwessies is wanneer die evangelie aan hulle voorgehou word nie (II Kor. 4:3–4).

2. Satan Bevorder Aantrekking tot Leuens
Tweedens bevorder Satan aantrekking tot leuens. Hy doen dit op twee maniere.

Eerstens indoktrineer hy mense sodat hulle deel word van vals geloofsisteme en leer hy hulle vals dogmas wat hulle tevrede sal stel (I Tim. 4:1–3; I Joh. 4:1–4).

Tweedens bevorder hy aantrekking tot leuens deur hulle ’n vals leefstyl te leer soos wat in Efésiërs 2:1–3 en I Johannes 2:15–17 beskryf word.

3. Satan Het die Mag oor die Dood van Ongelowiges
Derdens het hy die mag oor die dood van ongelowiges. Regdeur die geskiedenis van die Ou Testament het Satan, wat beide gelowiges en ongelowiges betref, die mag van die dood gehad. Maar toe Jesus gesterf en die dood ingegaan het, het Hy deur die dood gegaan en die sleutels van die dood van gelowiges by Satan afgeneem. Satan het dus nie langer die gesag oor die dood van gelowiges nie, afgesien van slegs een geval, wat ons later sal bespreek.

Al het Satan nie meer die gesag oor die dood van gelowiges nie (buiten in een geval), het hy egter steeds die gesag oor die dood van ongelowiges. Hebreërs 2:14 en Openbaring 1:18 leer dit vir ons deur te vertel hoe die vrees vir die dood asook die sleutels van die doderyk en van die dood weggeneem word. In hierdie konteks is dit duidelik dat die sleutels van die doderyk en van die dood en die vrees vir die dood slegs weggeneem is met betrekking tot gelowiges, nie met betrekking tot ongelowiges nie. Satan het steeds die mag van dood oor ongelowiges.

4. Satan Veroorsaak Swaarkry en Verdrukking
Vierdens veroorsaak Satan swaarkry en verdrukking vir ongelowiges. Nie alle swaarkry en verdrukking word deur Satan veroorsaak nie, maar soms is dit wel so (Luk. 13:16; Hand. 10:38).

5. Satan Saai Ongelowiges Onder Gelowiges
Vyfdens saai hy ongelowiges onder gelowiges (Matt. 13:25–39). Hierdie ongelowiges gaan nie duidelik sigbaar wees nie, want in hierdie konteks gaan hulle soos onkruid tussen die saad wees. Hulle is dus baie soortgelyk aan gelowiges wat uiterlike voorkoms betref – hulle gaan lyk soos gelowiges. Maar hulle is onkruid – iets is nie reg met hulle nie en hulle is nie waarlik gered nie. Satan saai dus ongelowiges onder gelowiges.

6. Satan Gebruik Ongelowiges om die Evangelie te Verdraai
Sesdens gebruik Satan ongelowiges om die evangelie te verdraai (Hand. 13:8–10).

7. Satan Versterk Sy Eie Dienaars
Sewende versterk hy sy eie dienaars. Hy het sy eie dienaars wat hy voortbring, vul en beheer. Volgens II Korinthiërs 11:13–15 is hierdie dienaars van Satan nie dié wat voor die hand liggend aan die hoof van Satan se kerk staan nie, maar dienaars wat hulself voordoen as dienaars van geregtigheid. Hierdie dienaars van Satan sorg dat hulle soos ware dienaars van die Messias lyk en klink sodat hulle sy bedrieglike werk kan verrig.

8. Satan Gebruik Ongelowiges om die Evangelie Teen te Staan
Agtste gebruik Satan ongelowiges om die evangelie op verskeie maniere – aktief en passief – teen te staan (Op. 2:9–10, 13).

H. Satan se Werk met betrekking tot Gelowiges
Die agtste kategorie van Satan se werk, is sy werk met betrekking tot gelowiges. Hy is baie aktief in hierdie opsig en die Bybel vertel vir ons twintig dinge oor die werk van Satan met betrekking tot gelowiges.

1. Satan Sif Gelowiges
Eerstens sif Satan gelowiges op dieselfde manier as wat hy vir Petrus gesif het (Luk. 22:31). Die gevolg van hierdie werk van Satan was dat Petrus Jesus verloën het.

2. Satan Verhinder Gelowiges
Tweedens verhinder hy gelowiges om hulle roeping te vervul (I Thess. 2:18).

3. Satan Verkry Voordeel Bo Gelowiges
Derdens verkry Satan voordeel bo sekere gelowiges wat toelaat dat hulle bedrieg word (II Kor. 2:11).

4. Satan Mislei Gelowiges
Vierdens mislei hy sommige gelowiges, soos wat hy met Eva gedoen het (II Kor. 11:3).

5. Satan Slaan Gelowiges
Vyfdens slaan Satan gelowiges soos wat hy met Paulus gedoen het (II Kor. 12:7).

6. Satan Het die Mag van die Dood van Gelowiges wat Uit die Kerk Geban is
Sesdens pas hy fisieke dood toe op ’n gelowige wat uit die Kerk geban is (I Kor. 5:5). Soos vroeër genoem, het die Messias deur middel van Sy dood en opstanding die sleutel van die dood van gelowiges by Satan weggevat. Satan het steeds die mag van die dood van ongelowiges, maar hy het nie die mag van die dood van gelowiges nie, behalwe in een geval.

Hierdie een geval is die geval van ’n gelowige wat die vier stappe van kerkdissipline ondergaan het wat in Matthéüs 18:15–20 beskryf word. Die finale stap is wanneer so ’n persoon uit die Kerk geban word. Dit beteken hy word teruggesit in Satan se domein vir die afbreek van die vlees. Satan het dan die mag om die gelowige wat geban is, dood te maak. Die vers leer ons egter voorts dat dit nie die gelowige se redding sal beïnvloed nie, want die gelowige sal steeds gered word. Hy sal wel ’n ontydige dood sterf en dan nie God se roeping vir sy eie lewe volbring nie. Dis ook die sonde tot die dood waarvan Johannes in I Johannes 5:16 praat.

7. Satan Beheer Sommige Gelowiges van Binne
Sewende beheer Satan sommige gelowiges van binne. Die verkeerdste woord wat gebruik kan word om hierdie beheer te beskryf, is “besetting” (soos in “besete”), want die Griekse woord vir “besetting” word in werklikheid nooit gebruik nie. Die Griekse woord wat wel gebruik word, is altyd ’n woord wat beteken “om van binne beheer te word” of “om deur die duiwel beheer te word”. Ja, gelowiges kan van binne beheer word.

In Handelinge 5:3 het Satan byvoorbeeld vir Ananías en Saffíra vervul. Die woorde wat Petrus daar gebruik, is presies dieselfde as dié wat Paulus in Efésiërs 5:18 gebruik het toe hy na vervulling met die Gees verwys het. Om vervul te word beteken dus om beheer te word van binne, en Satan het hulle van binne beheer.

In Efésiërs 4:27 vermaan Paulus: gee aan die duiwel geen plek nie. Die Griekse woord vir “plek” is ’n militêre term met die betekenis van ’n “strandhoof”. [Volgens die HAT, p. 1034, is ’n strandhoof ’n “in die see geboude muur dwars teen die strand tot beskerming daarvan.” Dit is ’n beheerde gebied binne-in ’n vyandige gebied.] Moet dus nie ’n “strandhoof” vir die duiwel gee nie. Wanneer ’n weermag die vyand se gebied aanval, probeer hulle eers om ’n strandhoof of ’n beheerde gebied in te neem. Wanneer ’n strandhoof ingeneem is, kan inkomende versterkings deur vuurgeskut gedek word. As ’n gelowige vir die duiwel ’n strandhoof, ’n plek gee, beteken dit die duiwel kan daardie gelowige van binne beheer. Dit word bevestig deur II Timótheüs 2:26. Satan beheer dus wel sommige gelowiges.

8. Satan Baklei met die Heiliges
Agtste baklei hy met die heiliges (Ef. 6:10–18). Dit is hoekom gelowiges die volle wapenrusting van God moet aantrek.

9. Satan Kla Gelowiges Aan
Negende kla Satan gelowiges aan en praat hy sleg van hulle voor God se troon (Op. 12:10).

10. Satan Plant Ongeloof in Gelowiges se Koppe
Tiende plant hy ongeloof oor die waarheid en die geloofwaardigheid van God in gelowiges se koppe, soos wat hy met Eva gedoen het (Gen. 3:1–5).

11. Satan Moedig Vervolging Aan
Elfde moedig Satan vervolging van gelowiges aan (Op. 2:10)

12. Satan Dring die Kerk Binne
Twaalfde dring hy die Kerk op twee maniere binne. Een manier is met vals dissipels, soos die onkruid van Matthéüs 13:38–39. Tweedens dring hy die kerk binne met vals leermeesters wat ’n soortgelyke dog ander Jesus verkondig (II Kor. 11:13–15; II Pet. 2:1–19).

13. Satan Bevorder Verdeeldheid in die Kerk
Dertiende bevorder Satan verdeeldheid in die Kerk. So vind daar in baie kerke skeuring plaas as gevolg van sataniese invloed (II Kor. 2:1–11).

14. Satan Versoek Gelowiges
Veertiende versoek hy gelowiges (I Thess. 3:5). Dit is een van die grootste werke wat Satan onder gelowiges verrig. Hy versoek hulle op ten minste ses gebiede. Eerstens plaas hy hulle in die versoeking om te jok (Hand. 5:3), en tweedens om seksuele sondes te pleeg (I Kor. 7:5; I Tim. 5:11–15). Paulus verbied ’n man en ’n vrou om vir ’n té lang tyd nie seks te hê nie omdat Satan hulle dan op daardie gebied kan versoek (I Kor. 7:3–5). Derdens plaas Satan gelowiges in die versoeking om spesifieke dade van sonde te pleeg (I Pet. 5:8), en vierdens om in hul gedagtes besig gehou te word met die dinge van die wêreld (I Joh. 2:15–17; 5:19). Vyfdens lei hy hulle in die versoeking om hoogmoed te ontwikkel wat geestelike sake betref, en sodoende swig die gelowige dan vir dieselfde sonde wat tot Satan se val gelei het (I Tim. 3:6). Sesdens lei hy hulle in die versoeking om slegs op menslike wysheid en krag staat te maak in plaas van op goddelike wysheid (I Kron. 21:1–8).

15. Satan Verslind Gelowiges
Vyftiende verslind Satan gelowiges. Dit beteken hy kry dit reg dat gelowiges so diep in sonde verval dat hulle somtyds nie weer daaruit kan kom nie (I Pet. 5:8).

16. Satan Bedrieg Gelowiges
Sestiende bedrieg hy sekere gelowiges deur ’n vals Jesus te verkondig (II Kor. 11:3–4) en deur as ’n engel van die lig te verskyn (II Kor. 11:14).

17. Satan Veroorsaak dat Gelowiges Ophou Glo
Sewentiende vernietig Satan sommige gelowiges se geloof tot so ’n mate dat hulle hul geloof heeltemal verloor (I Tim. 1:19–20). Gelukkig verloor gelowiges selfs dán nie hulle redding nie.

18. Satan Probeer om Gelowiges te Verslaan
Agtiende gebruik hy sy demone om die heiliges te probeer verslaan (Ef. 6:10–12).

19. Satan Misbruik die Skrif
Negentiende gebruik Satan selfs die Skrif. Hy kan skrifgedeeltes akkuraat aanhaal en doen dit dan ook graag. Hy misbruik dit egter in die sin dat hy dit buite konteks aanhaal of ’n verkeerde toepassing daarvoor gee soos wat hy met Jesus probeer doen het (Matt. 4:5–6; Luk. 4:9–11).

20. Satan se Prosedures Teen Gelowiges
Twintigste gebruik Satan vier spesifieke prosedures teen gelowiges. Eerstens gebruik hy planne en spesifieke instrumente om die gelowige in sy nette te vang (II Kor. 2:11). Tweedens gebruik hy liste (Ef. 6:11). Derdens stel hy ’n strik (I Tim. 3:7; II Tim. 2:26). Vierdens gebruik hy wonderwerke as wonders van die leuen (II Thess. 2:9). Hy beskik wel oor die mag van wonderwerke en hy gebruik dit om teen die heiliges te werk.

I. Satan se Werk in die Toekoms
Die negende afdeling van Satan se werk, is dit wat hy in die toekoms gaan doen. Hier is daar vyf dinge waarvan ons kortliks melding kan maak. Eerstens gaan hy in die toekoms oorlog voer teen Israel (Op. 12:13–17). Tweedens sal dit Satan wees wat die antichris krag gaan gee om aan bewind te kom (II Thess. 2:9; Op. 13:1–10). Derdens sal dit Satan wees wat sorg vir die opkoms van die Vals Profeet (Op. 13:11–18). Vierdens sal hy die nasies versamel vir die oorlog van Armagéddon (Op. 16:12–16). Vyfdens sal hy die nasies na afloop van die Millennium bedrieg sodat daar een laaste opstand teen God se gesag sal wees (Op. 20:7–9).

IX. DIE OORDEEL OOR SATAN
Satan ondergaan sewe spesifieke oordele: in die verlede, die hede, en die toekoms.

A. Die Oordeel met Sy Val
Die eerste oordeel oor Satan het plaasgevind toe hy die eerste keer gesondig het, met sy val (Eseg. 28:16). Die gevolg van die eerste oordeel was die verlies van sy eerste twee posisies en wonings. Eerstens het hy sy posisie verloor as die gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, oftewel die een wat God se troon bedek, asook sy posisie as die bewaker van God se troon. Tweedens het hy sy posisie verloor as die heerser oor die planeet toe dit die edelgesteente-tuin van Eden was.

B. Die Oordeel in Eden
Die tweede oordeel het in Eden geskied as gevolg van die feit dat hy Adam en Eva versoek het. Hierdie oordeel kom voor in Génesis 3:15, waar God aan Satan sê: En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.

Die oordeel was dat die vrou, vir wie hy in die versoeking gelei het en sodoende sonde en dood oor die mens gebring het, ’n saad sou voortbring. Deur die loop van baie eeue heen sal ’n Afstammeling van hierdie vrou, Eva, die Een wees wat Satan gaan verslaan. Hierdie Afstammeling sal lewe, herstel en redding aan die mensdom bring. Daar sal dus ’n dag kom wanneer die Saad van die vrou Satan se kop gaan vermorsel.

C. Die Oordeel by die Kruis van die Messias
Die derde oordeel het by die kruis plaasgevind. ’n Spesifieke oordeel is oor Satan gebring die oomblik toe Jesus, die Messias, gesterf het. Satan het geweet dit kom en dis hoekom hy alles in sy vermoë probeer het om die Messias weg te hou van die kruis. Hy het aanhoudend probeer om Jesus te vroeg of op die verkeerde manier te laat sterf, byvoorbeeld deur ’n swaard of deur steniging. Maar al hierdie pogings van hom het misluk, want dit was nog nie Jesus se tyd nie. Toe Jesus se tyd uiteindelik aangebreek het en Hy besig was om aan die kruis te sterf, was Satan nie langer in beheer nie, want die Messias was geheel en al in beheer. Die kruis, wat redding aan die mensdom gebring het, het oordeel oor Satan gebring.

Jesus het in Lukas 10:18 voorspel dat dit gaan gebeur: Ek het die Satan soos ’n bliksem uit die hemel sien val.

In Johannes 12:31 het Jesus gesê: nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word deur middel van Sy (Jesus se) werk.

Later, in Johannes 16:11, het Hy gesê: die owerste van hierdie wêreld [is] geoordeel.

Met verwysing na die ervaring aan die kruis, staan daar in Kolossense 2:14–15 die Messias het die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer. Satan was een van hulle.

Deur middel van sy eie dood en opstanding het Jesus die duiwel se mag oor die dood van die gelowige tot niet gemaak (Heb. 2:14–15).

Deur sy dood het Jesus die werke van die duiwel vernietig (I Joh. 3:8).

Hierdie eerste drie oordele oor Satan het almal in die verlede plaasgevind, maar daar is vier oordele wat nog moet geskied.

D. Die Oordeel in die Middel van die Verdrukking
Die vierde oordeel oor Satan sal in die middel van die Verdrukking plaasvind. Dit sal wees wanneer Satan uit sy huidige derde woning, die atmosferiese hemel, tot binne-in sy vierde woning, die aarde, gegooi gaan word. Hy sal vir die tweede helfte van die Verdrukking vasgekeer word op die aarde (Op. 12:7–9) sodat hy nie langer toegang tot die hemel sal hê nie (Op. 12:10–12a).

E. Die Oordeel aan die Einde van die Verdrukking
Die vyfde oordeel oor Satan sal wees dat hy geoordeel gaan word deur in die afgrond toegesluit te word gedurende die Millennium. Dit is sy vyfde woning (Op. 20:1–3).

F. Die Oordeel by die Groot Wit Troon
Die sesde oordeel oor Satan sal by die Groot Wit Troon Oordeel plaasvind. Dis waar Satan deur die Kerk geoordeel sal word. Paulus het gesê die Kerk gaan die engele oordeel (Rom. 16:20; I Kor. 6:2–3). Die kerk sal nie die goeie engele oordeel nie, want hulle sondig nie en het nie nodig om geoordeel te word nie. Maar die gevalle engele sal wel geoordeel word en Satan gaan een van hulle wees. Hy sal deur die Kerk geoordeel word by die Groot Wit Troon Oordeel.

G. Die Oordeel in die Poel van Vuur
Die sewende en finale oordeel oor Satan sal wees by die Poel van Vuur, wat sy sesde woning gaan wees (Matt. 25:41; Op. 20:10).

X. DIE GELOWIGES SE VERANTWOORDELIKHEID
In ons bespreking van Satan se werk met betrekking tot gelowiges, het ons uitgewys dat Satan gelowiges op twintig verskillende maniere aanval. Maar dis nie asof gelowiges hulleself nie kan verdedig nie. Daar is ’n hele paar verdedigingsmiddels waarvan ons kennis moet neem.

A. Die Gelowige se Wapenrusting
Eerstens beskik gelowiges oor die wapenrusting van God (Ef. 6:10–18; I Joh. 2:14). “Wat presies is die wapenrusting van God”? Die wapenrusting van God is die Skrif. Hoe meer skrifgedeeltes ’n gelowige bestudeer, memoriseer en oordink, hoe meer gelowiges word verdedig, en hoe meer van hulle is toegerus. Om te weet wat die Skrif oor enigiets spesifieks sê, help ’n mens in die geveg teen Satan. Toe Jesus deur Satan versoek is, kon Hy al drie versoekings weerstaan deur die Skrif aan te haal. Dit was die Messias se wapenrusting van God, en dis ook die wapenrusting vir gelowiges.

B. Die Gelowige se Krag
Tweedens het gelowiges die krag om Satan te weerstaan. Gelowiges word drie keer beveel om dit te doen: in Jakobus 4:7; I Petrus 5:9; en Efésiërs 6:10–18. Gelowiges word nooit beveel om Satan te “bestraf” of te “bind” nie, maar om hom te weerstaan. Weer eens is die beste manier om Satan te weerstaan deur middel van die Skrif. Dit beteken ’n mens moet weet hoe om die regte Skrif, afhangende van die spesifieke versoeking waarmee ’n mens gekonfronteer word, te gebruik.

C. Die Gelowige se Waaksaamheid
Derdens moet gelowiges waaksaam bly. Ons moet waaksaam en oplettend bly deur bewus te wees van hoe Satan werk en reg te wees vir hom (I Pet. 5:8).

D. Die Gelowige se Bemiddelaar
Die gelowige se vierde verdedigingsmiddel is nie aktief nie, maar passief: deurdat die Messias vir ons intree. Hy tree vir gelowiges in teen die Bose (Joh. 17:15; Rom. 8:34; Heb. 7:25).

E. Die Gelowige se Beginsels
Vyfdens is daar drie beginsels wat gelowiges in gedagte moet hou as hulle met Satan en geestelike oorlogvoering te doen het.

Die eerste beginsel is dat gelowiges nie minagtend van Satan moet praat nie (Jud. 8–9). Nie eens die goeie aartsengel Mígael sou in ’n lasterstryd teen Satan betrokke geraak het nie. Hy het gewoon die hele saak aan die Here toevertrou. Niemand moet dus rondgaan en Satan bestraf, hom bind, of sy naam uitroep nie. Gelowiges mag nie lasterlik van hom praat nie.

Die tweede beginsel is dat gelowiges altyd moet onthou dat Satan deur God gebruik of toegelaat word om gelowiges te leer. Satan word dalk toegelaat om sekere fisieke probleme te veroorsaak om iemand ’n les te leer. So is Satan byvoorbeeld toegelaat om Job sekere dinge toe te dien sodat hy meer kon leer oor die oppermagtige natuur van God (Job 1–2). Satan is ook toegelaat om Paulus sekere dinge te laat deurgaan sodat hy kon leer om nederig te wees. Hy moes ook leer dat God se krag en mag nóg groter gemaak kon word deur Paulus se swakheid (II Kor. 12:7–16).

Die derde beginsel wat gelowiges moet onthou, is dat Satan deur God se soewereiniteit beperk word. Satan is nie almagtig nie, en selfs die mag wat hy wel het, kan nie sonder God se toestemming gebruik word nie. God sal Satan deur Sy soewereiniteit beperk. Hy sal nooit toelaat dat Satan te ver gaan nie (Job 1:12; 2:6).

Inhoudsopgawe
INLEIDING
I. DIE BESTAAN VAN SATAN
II. DIE OORSPRONG VAN SATAN
III. DIE VAL VAN SATAN
     A. Die Eerste Sondaar: Satan
     B. Die Eerste Sonde: Hoogmoed
     C. Die Val van Satan: Die Gevolg van Sonde
     D. Die Finale Oordeel Oor Satan
IV. DIE PERSOONLIKHEID VAN SATAN
     A. Bewys deur die Kenmerke van Persoonlikheid
         1. Intellek
         2. Emosie
         3. Eie Wil
     B. Bewys deur die Gebruik van Persoonlike Voornaamwoorde
     C. Bewys deur die Optrede van ’n Persoon
     D. Bewys deurdat Hy Behandel word soos ’n Moreel Verantwoordelike Individu
V. DIE BENAMINGE VIR SATAN
     A. Die Name van Satan
         1. Satan
         2. Duiwel
         3. Bélial
         4. Baäl-Sebub
     B. Die Titels van Satan
         1. Môrester, Seun van die Dageraad
         2. Die Vernietiger
         3. Die Owerste van Hierdie Wêreld
         4. Die Owerste van die Mag van die Lug
         5. Die God van Hierdie Wêreld
         6. Die Bose
         7. ’n Gérub met Uitgespreide Vlerke wat Beskut
         8. Die Owerste van die Duiwels
         9. Die Koning van Tirus
         10. Die Koning van Babel
     C. Beskrywings van Satan
         1. Die Aanklaer van Ons Broeders
         2. ’n Engel van die Lig
         3. Die Versoeker
         4. Die Verleier
         5. Die Gees wat Nou in die Kinders van die Ongehoorsaamheid Werk
     D. Die Dierlike Uitbeeldings van Satan
         1. Die Slang
         2. Die Draak
         3. ’n Brullende Leeu
VI. SATAN SE AARD
     A. Satan Is Geskape
     B. Satan Is ’n Gérub
     C. Satan Behoort tot die Eerste Orde van Engele
     D. Satan Is ’n Geestelike Wese
     E. Satan Is Bevestig as ’n Sondaar
         1. Deur Hoogmoed
         2. Deur Onwaarhede
         3. Deur Geslepenheid
         4. Deur Bedrieglikheid
     F. Satan Kan Wonderwerke Doen
     G. Satan Het Beperkte Magte
VII. DIE SES WONINGS VAN SATAN
     A. Die Troon van God
     B. Die Tuin van Eden
     C. Die Atmosferiese Hemel
         1. Toegang tot die Hemel
         2. Toegang tot die Aarde
     D. Die Aarde
     E. Die Afgrond
     F. Die Poel van Vuur
VIII. DIE WERK VAN SATAN
     A. Satan se Werk in die Kosmos
         1. Die Griekse Woorde
         2. Definisie
         3. Die Dogma van die Kosmos
             a. Satan se Beheer van die Kosmos
             b. Die Algehele Boosheid van die Kosmos
             c. Die Gebiede van Versoeking in die Kosmos
             d. Die Begeertes van die Kosmos
             e. Die Magteloosheid van die Kosmos
             f. God se Liefde vir die Kosmos
             g. Die Seun se Plan vir die Kosmos
             h. Die Gelowige se Posisie in die Kosmos
             i. Die Tydelike Aard van die Kosmos
     B. Satan se Werk in die Ou Testament
         1. Satan: Die Oorsprong van Sonde
         2. Satan: die Oorsaak van die Mens se Val
         3. Satan: Die Aanklaer van Job
         4. Satan: Die Teisteraar van Job
         5. Satan: Die Een wat Gedurig Stry
         6. Satan: Die Aanhitser
         7. Satan: Die Aanklaer van Israel
         8. Satan se Teenwoordigheid by die Oordeel oor ’n Ongelowige
     C. Satan se Werk met betrekking tot God
         1. Teenstand van God se Persoon
         2. Teenstand teen God se Plan
             a. Vals Geloof
             b. Die Vals Messiasse
             c. Die Vals Volgelinge
             d. Die Vals Teologie
             e. Die Vals Wonderwerke
     D. Satan se Werk in die Messias se Lewe
         1. Die Konflik Waaroor daar Geprofeteer Is
         2. Satan Probeer die Messias se Lewe Neem
         3. Satan Versoek die Messias
         4. Satan Gebruik Mense om die Messias se Werk Teen te Staan
         5. Satan het Petrus se Verloëning Aangemoedig
         6. Satan se Aandeel in Judas se Verraad
     E. Satan se Werk met betrekking tot die Nie-Joodse Nasies
         1. Satan Veroorsaak die Val van die Nasies
         2. Satan Verlei die Nasies
         3. Satan Beïnvloed die Nasies
         4. Satan Gee die Antichris Gesag
         5. Satan Versamel die Weermagte vir die Finale Oorlog
         6. Satan Lei die Nie-Joodse Nasies in die Finale Opstand
     F. Satan se Werk met betrekking tot Israel
     G. Satan se Werk met betrekking tot Ongelowiges
         1. Satan Probeer Geloof in die Evangelie Verhoed
         2. Satan Bevorder Aantrekking tot Leuens
         3. Satan Het die Mag oor die Dood van Ongelowiges
         4. Satan Veroorsaak Swaarkry en Verdrukking
         5. Satan Saai Ongelowiges Onder Gelowiges
         6. Satan Gebruik Ongelowiges om die Evangelie te Verdraai
         7. Satan Versterk Sy Eie Dienaars
         8. Satan Gebruik Ongelowiges om die Evangelie Teen te Staan
     H. Satan se Werk met betrekking tot Gelowiges
         1. Satan Sif Gelowiges
         2. Satan Verhinder Gelowiges
         3. Satan Verkry Voordeel Bo Gelowiges
         4. Satan Mislei Gelowiges
         5. Satan Slaan Gelowiges
         6. Satan Het die Mag van die Dood van Gelowiges wat Uit die Kerk Geban is
         7. Satan Beheer Sommige Gelowiges van Binne
         8. Satan Baklei met die Heiliges
         9. Satan Kla Gelowiges Aan
         10. Satan Plant Ongeloof in Gelowiges se Koppe
         11. Satan Moedig Vervolging Aan
         12. Satan Dring die Kerk Binne
         13. Satan Bevorder Verdeeldheid in die Kerk
         14. Satan Versoek Gelowiges
         15. Satan Verslind Gelowiges
         16. Satan Bedrieg Gelowiges
         17. Satan Veroorsaak dat Gelowiges Ophou Glo
         18. Satan Probeer Om Gelowiges te Verslaan
         19. Satan Misbruik die Skrif
         20. Satan se Prosedures Teen Gelowiges
     I. Satan se Werk in die Toekoms
IX. DIE OORDEEL OOR SATAN
     A. Die Oordeel met Sy Val
     B. Die Oordeel in Eden
     C. Die Oordeel by die Kruis van die Messias
     D. Die Oordeel in die Middel van die Verdrukking
     E. Die Oordeel aan die Einde van die Verdrukking
     F. Die Oordeel by die Groot Wit Troon
     G. Die Oordeel in die Poel van Vuur
X. DIE GELOWIGES SE VERANTWOORDELIKHEID
     A. Die Gelowige se Wapenrusting
     B. Die Gelowige se Krag
     C. Die Gelowige se Waaksaamheid
     D. Die Gelowige se Bemiddelaar
     E. Die Gelowige se Beginsels

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Leer die Bybel ons werklikwaar dat demone bestaan? Die antwoord is: “Ja.” Die doel van hierdie studie is om te ondersoek wat die Bybel oor demone (gevalle engele) sê. Die volgende aspekte word behandel: Die bestaan van demone; Die name van demone; Die persoonlikheid van demone (intellek, emosie en wil); Die oorsprong van demone asook die onderskeid tussen tydelik ingeperkte demone en permanent ingeperkte demone; Die aantal demone; Die organisasie van demone; Die karaktereienskappe van demone; Die aktiwiteite van demone; Demoniese beheer (eienaarskap teenoor beheer); Demonisme en die gelowige; Die toekomstige aktiwiteite van demone en Die oordeel oor demone.