Wat die Bybel leer oor sonde

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brode eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. – Exodus 12:15

Hierdie uitgebreide studie oor wat die Bybel aangaande sonde leer, word in elf hoofafdelings behandel.

I. HEBREEUSE, GRIEKSE EN AFRIKAANSE WOORDE
Die eerste hoofafdeling handel oor die verskillende Hebreeuse, Griekse en Afrikaanse woorde wat op een of ander manier die konsep van sonde oordra. Altesame is daar elf Hebreeuse woorde, sewe Griekse woorde, en tien Afrikaanse woorde. In hierdie studie word elkeen van hulle afsonderlik bespreek.

A. Die Hebreeuse Woorde
Die eerste Hebreeuse woord is chata, wat die mees algemene Hebreeuse woord vir sonde is. Hierdie woord word op ses verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal: “sonde”, “gebrek”, “oortree”, “kwaad”, “skuld”, en “misdryf”. Die basiese betekenis van chata is “om die doelwit mis te loop”. Om die doelwit mis te loop, impliseer dat die verkeerde doelwit bereik word. Dit beteken dat die mens te kort skiet en nie die wenpaal bereik wat God vir hom bedoel het nie. Met elke afwyking, elke sonde, skiet die mens te kort aan die doel waarvoor hy geskape is; die wenpaal wat hy moet bereik, word misgeloop terwyl hy die verkeerde doelwit bereik.

Die tweede Hebreeuse woord is pasha, wat op vier verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “rebellie/opstand”, “oortreding”, “sonde”, en “oortree”. Die basiese betekenis is “om te rebelleer”, of “om onderdanigheid aan wettige gesag te weier”. Die primêre gebruik, sin, en betekenis van hierdie woord, word aangetref in I Konings 12:19; Job 34:37; en Jesaja 1:2. Die primêre betekenis van “rebellie” of “ ’n gebrek aan onderdanigheid” kom duidelik na vore in hierdie skrifgedeeltes. ’n Betekenis wat uit die primêre betekenis afgelei word, dui op sonde soos gevind in Psalm 51:15, Spreuke 28:21, en Jesaja 43:27.

Die derde Hebreeuse woord is maal, wat op drie verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “oortree”, “oortreding”, en “leuenagtigheid/bedrog”. Hierdie spesifieke Hebreeuse woord wys op die valsheid of die verraderlikheid van sonde. Dit wys sonde uit as ’n verkeerde daad of troubreuk.

Die vierde Hebreeuse woord is avon, wat op vier verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “verdorwenheid”, “verkeerd”, “krom/onbegaanbaar”, en “boosheid”. Die basiese betekenis is “om gebuig te wees”, “om krom te wees”, of “om uit fatsoen te wees”. Dit beklemtoon die bedrieglikheid of die verdraaidheid van sonde. Voorbeelde van hierdie betekenis is Jesaja 21:3 en Klaagliedere 3:9.

Die vyfde Hebreeuse woord is aven, wat op tien verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “ydelheid”, “onregverdig”, “ongeregtig”, “smart”, “rouklag”, “droefenis”, “boos”, “kwaad”, “sondigheid”, en “boosheid”. Die basiese wortelbetekenis is “niks”, “ ’n sin van niksheid”. Dit handel oor ’n gedragswyse wat op die ou end vir die een wat dit beoefen, as nadelig bewys sal word. Op elke afwyking van die wet van God rus daar ’n stempel van niksheid en leegheid. Dit onderstreep sonde as waanbeelde in die sin dat dit nie in ooreenstemming met die wet van God is nie. Dit verteenwoordig die bose planne van die mens in hulle valse, leë, en dwase aspekte. Omdat ’n afgod deur die profete beskou was as niks, as ’n ydele en leë ding, was hierdie spesifieke Hebreeuse woord dikwels verbind met die sonde van afgodery. Voorbeelde is Hoséa 4:15; 5:8; en Amos 5:5.

Die sesde Hebreeuse woord is rasha, wat op drie verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “goddeloosheid”, “boosheid”, en “bose een”. Oorspronklik het dit die konsep van aktiwiteit beklemtoon. Deur die konsep van aktiwiteit met sonde te verbind, lê hierdie spesifieke Hebreeuse woord klem op die onsekerheid en verwarring waarin die bose mens lewe. Dit onderstreep die onophoudelike onrus van die bose mense, die sondaars, en hoe dit andere beïnvloed. Die konsep kom voor in Job 3:17 en Jesaja 57:20-21.

Die sewende Hebreeuse woord is ra, wat in totaal op negentien verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “boos(heid)”, “onheil/rampspoed”, “nood/benoudheid”, “teenspoed/ongeluk”, “leed”, “droefenis”, “ellende/armoede”, ”droefheid”, “smart”, “moeite”, “seer (of sweer)/wond”, “walglik/stinkend”, “nadeel”, “swaar/donker”, “pla/kwel”, “ellendigheid/armsaligheid”, “skade”, “euwel/sleg/siek”, “kwaad”. Die basiese wortelbetekenis van hierdie woord is “om uitmekaar te breek” of “om te vernietig”. Dit vat die bose daad sowel as die gevolg van daardie bose daad, in een woord saam. Omdat sy daad beide homself en almal rondom hom benadeel, verwys hierdie woord dikwels spesifiek na die bose een. Meestal impliseer hierdie spesifieke woord dit wat nadelig is eerder as dit wat moreel boos is. Dit onderstreep meer die growwe uiterlike aspek van die verkeerde optrede as die innerlike aspek van moraliteit. Hierdie woord beklemtoon dus die sonde as ’n verbreking van die harmonie of die vernietiging van dit wat goed en wenslik in die samelewing is.

Die agtste Hebreeuse woord is amal, wat op ses verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “afmattende arbeid”, “moeisame arbeid”, “moeite/swaarkry”, “kwelling/kommer”, “smart”, “pyn”. Die woord amal beklemtoon die gevolg van sonde, naamlik arbeid, en dan meer spesifiek die moeisame aspek van arbeid. Sonde het die lewe ’n las gemaak en arbeid verander in ’n moeisame geswoeg. Hierdie spesifieke woord beklemtoon die gevolg van die eerste sonde, die sonde van Adam, wat moeisame arbeid was.

Die negende Hebreeuse woord is aval, wat op ses verskillende maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “boosheid”, “onregverdig”, “ongeregtigheid”, “goddeloos”, “verdorwe”, “sondig/boos”. Die basiese wortelbetekenis van aval is “ ’n afwyking van dit wat betroubaar en reg is”. Dit beskou sonde, en wys dit uit, as die gebrek aan integriteit deur die doen van verkeerde dinge. Hierdie konsep word gevind in Maleági 2:6.

Die tiende Hebreeuse woord is avar, wat in die meeste gevalle vertaal word met een Afrikaanse woord: “oortreding”. Dit beklemtoon sonde as ’n oorskryding van die grens van dit wat reg is, en ’n binnegaan van die verbode gebied van dit wat verkeerd is. Oortreding vereis ’n spesifieke grenslyn of grens wat oorgesteek moet word, en daardie grens is ’n spesifieke wet of gebod van God. Wanneer iemand gesondig het, het hy die grens van dit wat reg is oorgesteek, en ingegaan in die verbode gebied van dit wat verkeerd is. Hierdie konsep word gevind in Josua 6:7 en 8:1.

En die elfde Hebreeuse woord is asheim, wat op twee maniere in die Afrikaanse Bybel vertaal word: “skuld” en “oortree”. Dit beklemtoon sonde wat begaan is deur ’n fout, nalatigheid, of onkunde. Die oomblik wanneer hierdie soort sonde aan ’n mens bekend word, is hy skuldig en moet hy homself beskou as ’n oortreder. Die beste beeld hiervan is miskien die asheim offer of die sondoffer, wat in besonderhede beskryf word in Levítikus 4:13-14, 22-23, 27-28, en 5:2-6.

B. Die Griekse Woorde
In totaal is daar sewe verskillende Griekse woorde wat die konsep van sonde oordra.

Die eerste woord is hamartia, wat die primêre Griekse woord is wat as “sonde” vertaal word. Dit kom ooreen met die hoof Hebreeuse woord, chata, en albei het dieselfde basiese betekenis: “om die doelwit mis te loop”. Omgekeerd beteken om die doelwit mis te loop, om die verkeerde doelwit te bereik. Hierdie woord, soos gebruik in die betekenis van die doelwit mis te loop, kom voor in Romeine 3:23, wat leer dat dit diegene wat sondig, aan die geregtigheid van God ontbreek.

Die tweede Griekse woord is parabasis, wat in die meeste gevalle vertaal word as “oortreding”.

Die derde Griekse woord is adikia, wat vertaal word as “ongeregtigheid”. Dit beklemtoon die gebrek aan geregtigheid, wat ’n eienskap is van sonde.

Die vierde woord is asebeia, wat vertaal word as “goddeloosheid”. Dit beklemtoon die gebrek aan heiligheid wat in sonde vervat is. Hierdie spesifieke konsep word gevind in I Timótheüs 1:9; I Petrus 4:18; en Judas 15.

Die vyfde Griekse woord is anomia, wat die betekenis dra van “wetteloosheid”. Hierdie woord beklemtoon sonde as minagting vir die wet. Dit beklemtoon sonde ook as oortreding van die wet; daarom word dit soms vertaal as “boosheid”. Hierdie woord onderstreep sonde as boos. Een voorbeeld van hierdie betekenis kom voor in I Johannes 3:4.

Die sesde Griekse woord is poneiria, wat “verdorwenheid” beteken. Dit dui op “hebsug”, wat die vrugte is van inhaligheid.

Die sewende Griekse woord is epithumia, wat die betekenis het van “begeerte” of “begeerlikheid”. Dit beklemtoon sonde as ’n begeerte, spesifiek ’n begeerte of ’n sug na dit wat verbode is.

C. Die Afrikaanse Woorde
Om die Bybelse leer oor sonde volledig te verstaan, moet tien spesifieke Afrikaanse woorde wat gebaseer is op die elf Hebreeuse en die sewe Griekse woorde, bespreek word.

Die eerste Afrikaanse woord is “oortreding”. Oortreding beklemtoon die oorsteek van ’n grens, die verbreking van ’n spesifieke gebod. Die woord “oortreding” onderstreep ’n spesifieke soort sonde: ’n doelbewuste oortreding teen ’n bekende gebod van God.

Die tweede Afrikaanse woord is “ongeregtigheid”, wat klem lê op iets wat in wese volkome verkeerd is. Sommige dinge is in sigself neutraal; hulle word net deur die manier waarop hulle gebruik word verkeerde dinge. Maar in die geval van boosheid, is dit iets wat wesenlik verkeerd is; daar is geen regte of geregverdigde manier waarop dit uitgevoer kan word nie.

Die derde Afrikaanse woord wat die Bybelse gebruik van sonde opsom, is “dwaling”. Sonde is ’n dwaling in die sin dat dit ’n miskenning is van dit wat reg is. Dit is ’n dwaling in die sin van verkeerd afwyk.

Die vierde Afrikaanse woord is “sonde”. Die woord “sonde” moet altyd in sy breër betekenis verstaan word, terwyl al die ander woorde basies ’n spesifieke soort sonde of konsep van sonde onderstreep. In sy omvattende, algemene betekenis, wat al die gebiede dek, beteken sonde om te kort te skiet; om die doelwit mis te loop en die verkeerde doelwit te bereik.

Die vyfde Afrikaanse woord is “boosheid”. Boosheid beklemtoon die uitdrukking en uitlewing van die menslike wil in sy verdorwe toestand. Wanneer die menslike wil in sy verdorwenheid sy begeerte uitleef, is boosheid die resultaat.

Die sesde Afrikaanse woord is “boos”. Hierdie woord vir sonde beteken, iets is “verkeerd”. Dit is verkeerd in die sin dat dit enigiets, en alles is, wat teenoor God staan. Dit wat God teenstaan, is verkeerd; en dit wat verkeerd is, is sonde.

Die sewende Afrikaanse woord is “goddeloosheid”. Hierdie spesifieke woord beklemtoon sonde as ’n gebrek aan enige vrees vir God. Dit is om ’n goddelose lewe te lei sonder die minste bekommernis dat dit goddelike dissipline en oordeel tot gevolg sal hê.

Die agtste Afrikaanse woord is “ongehoorsaamheid”. Hierdie woord beklemtoon die onwilligheid om gelei of gestuur te word op die pad van die waarheid soos dit geopenbaar is in God se Woord. Die ongehoorsaamheid waarvan hier gepraat word, kan aktiewe ongehoorsaamheid wees, soos ’n doelbewuste oortreding, of dit kan passiewe ongehoorsaamheid wees. In elke geval is dit die gevolg van onwilligheid om gelei of gestuur te word op die pad van die waarheid soos geopenbaar in die Woord van God.

Die negende woord is “ongeloof”, wat sonde beklemtoon as ’n gebrek aan vertroue en geloof in God. Ongeloof is om God nie te vertrou nie, en dit is sonde. Die Skrif leer, dit wat nie uit geloof is nie, is sonde (Rom. 14:23). Die spesifieke soort sonde wat nie uit geloof is nie, is ongeloof.

En die tiende woord is “wetteloosheid”, wat sonde beklemtoon as iets wat teenoor die wet staan, iets wat nie met die wet ooreenstem nie. Dit is die lei van ’n wettelose lewe, ’n lewe wat nie gebind wil wees deur goddelike wette nie (I Joh. 3:4-10).

Hierdie tien Afrikaanse woorde by uitstek, help om die Hebreeuse en Griekse woorde vir sonde te definieer en op te som. Hierdie verskillende woorde toon dat sonde ’n wye spektrum dek. Sonde is nie slegs ’n gebrek aan iets in die besonder nie en kan nie gedefinieer word deur slegs een besondere aspek nie. Baie vals konsepte van sonde is juis gebaseer op die persepsie dat sonde net een aspek dek. Byvoorbeeld, sommige mense sien sonde net as ’n beperking van menswees. Ander sien sonde net as ’n gebrek aan liefde. Party sien sonde net as ’n begeerte na dit wat verkeerd is. Ander sien sonde slegs as ’n beginsel van boosheid. Ander definieer sonde as bloot net selfsug. Party dink sonde is net ’n illusie. En party sien sonde as net ’n oortreding van die wet.

Hoewel al hierdie konsepte sekerlik betrokke is by die Bybelse leer oor sonde, is nie een van hulle op sigself ’n voldoende definisie van sonde nie; al hierdie variasies moet in ag geneem word om die volledige konsep van sonde te verstaan.

II. DIE DEFINISIE VAN SONDE
Die tweede hoofafdeling van hierdie studie handel oor die definisie van sonde. Hoe moet sonde in die lig van die verskillende Hebreeuse, Griekse en Afrikaanse woorde gedefinieer word? Om ’n definisie van die Bybelse leer oor sonde saam te stel, is dit nodig om hierdie afdeling in drie eenhede te bespreek.

A. Die Komponente
Uit die verskeie woorde wat vir sonde gebruik word, moet vyf spesifieke komponente ingesluit word wanneer die definisie van sonde ter sprake is: een, sonde is selfsug; twee, sonde is ’n oortreding van bekende wette; drie, sonde is die verkeerde instelling en die verkeerde begeerte van die wil of die self; vier, sonde is ongeloof; en vyf, sonde is die doelbewuste ongehoorsaamheid aan ’n uitdruklike gebod van God.

B. Die Eenvoudige Definisie
’n Baie eenvoudige definisie wat al die genoemde komponente van sonde insluit, is: “Sonde is enigiets wat teen God se karakter indruis.” Hierdie eenvoudige definisie van sonde dek al die verskillende komponente: selfsug druis in teen die karakter van God; oortreding van bekende wette druis in teen die karakter van God; ’n verkeerde instelling en begeerte van die wil en die self druis in teen die karakter van God; ongeloof druis in teen die karakter van God; en doelbewuste ongehoorsaamheid aan ’n uitdruklike gebod van God druis in teen die karakter van God. Die eenvoudige definisie van sonde as enigiets wat indruis teen die karakter van God, dek dus alle toepassings en konsepte van sonde in die Skrif. Verder omvat dit al elf Hebreeuse woorde, al sewe Griekse woorde, en al tien Afrikaanse woorde.

’n Definisie in effens meer besonderhede sal wees: “Sonde is enige gebrek aan, of onwilligheid tot, ooreenstemming met die karakter van God, of dit nou ’n handeling, ’n ingesteldheid, of ’n toestand is.”

C. Die Wesenlike Aard van Sonde
Die derde eenheid aangaande die definisie van sonde, is die wesenlike aard van sonde. Hier moet daar na tien dinge opgelet word.

Een, sonde is ’n spesifieke soort boosheid.

Twee, sonde is die gebrek aan ooreenstemming met, of die oortreding van, God se wet. Dit is die weiering om te doen wat die wet beveel (Jak. 4:17). Om in een opsig van die wet te faal, is om skuldig te wees aan die verbreking van die hele wet (Gal. 3:10; Jak. 2:10). Onkunde van die wet is nie ’n verskoning nie. Hoewel dit die graad van straf mag verminder, verminder dit nie die duur van straf nie (Luk. 12:47-48). Die onvermoë om te gehoorsaam, bepaal nie die mate van verpligting, of die toets vir wat sonde is nie; sonde is daar of ’n mens nou voel jy kan die wet onderhou of nie. Ook is ’n skuldgevoel nie nodig om die feit van sonde te bewys nie; sonde is teenwoordig of ’n mens skuldig voel of nie. Sonde is enige tekort of gebrek aan ooreenstemming met, of die oortreding van, God se wet.

Drie, sonde is ’n beginsel of ’n ingesteldheid, sowel as ’n handeling (Matt. 15:19). Sonde as ’n handeling, veroorsaak skuld; sonde as ’n beginsel, veroorsaak besoedeling (Jer. 17:9; Luk. 6:45). Omdat sonde beide ’n ingesteldheid of beginsel en ’n handeling is, lewer dit ’n sesvoudige resultaat. Eerstens, dit verduister die mens se verstand (Rom. 1:31; I Kor. 2:14; Ef. 4:18). Tweedens, dit bring dwase en onverstandige versinsels voort (Gen. 6:5, 12; Rom. 1:21). Derdens, dit lei tot skandelike emosies en hartstogte (Rom. 1:26-27). Vierdens, dit veroorsaak vuil taal (Ef. 4:29). Vyfdens, dit lei tot ’n besoedelde verstand en gewete (Tit. 1:15). En sesdens, dit veroorsaak ’n verslaafde en ontaarde wil (Rom. 7:18-19).

Die vierde wesenlike aard van sonde is selfsug, want sonde maak uiteindelik die sondaar die belangrikste in sy eie oë, en God geniet nie voorrang in sy lewe nie.

Die vyfde ding omtrent die wesenlike aard van sonde is dat sonde ook wetteloosheid is (I Joh. 3:4). Dit is wetteloosheid deurdat sonde die aspek bevat van ’n lewenswyse wat nie in ooreenstemming is met God se wet en gebooie nie.

Ses, sonde het ’n definitiewe karakter; dit is nie sommer net ’n vae invloed nie (Matt. 10:32-33; 12:30; Luk. 11:13; Jak. 2:10).

Sewe, sonde staan altyd in verhouding tot God en Sy wil (Rom. 1:32: 2:12-14; 4:15; 5:13; Jak. 2:9-10).

Agt, sonde sluit beide skuld en besoedeling in. Wat skuld betref, die mens se skuld maak hom aanspreeklik vir straf (Rom. 3:19; 5:18; Ef. 2:3). Wat besoedeling betref, alle mense is skuldig aan morele besoedeling in Adam omdat hulle gebore is met ’n verdorwe natuur. Morele besoedeling beteken die mens het ’n ingebore disposisie tot onreinheid (Job 14:4; Jes. 6:5; Jer. 17:9; Rom. 8:5-8; Ef. 4:17-19).

Nege, sonde se oorsprong is in die hart. Sonde beïnvloed die intellek, die emosie, en die wil, en dit vind uitdrukking deur die liggaam (Spr. 4:23; Jer. 17:9; Matt. 15:19-20; Luk. 6:45; Heb. 3:12).

En tien, sonde bestaan nie net uit uiterlike optrede nie. Sondige dade verloop in drie stadia: eerstens, sonde bestaan as gevolg van ’n sondige toestand (Matt. 5:22, 28); tweedens, die sondige toestand word die basis vir sondige gewoontes (Rom. 7:7); en derdens, hierdie sondige gewoontes gaan oor in sondige dade (Rom. 7:17, 24).

III. DIE OORSPRONG VAN SONDE
Die derde hoofafdeling van hierdie studie handel oor die Bybelse leer aangaande die oorsprong van sonde. Om hierdie konsep volledig te verstaan, is dit nodig om dit in vier kategorieë te bespreek.

A. In Verhouding tot God
Een ding wat die Bybel sonder enige twyfel leer, is dat God nie kan sondig nie. God is nie in staat om te sondig nie; Hy het nie eens die vermoë om te sondig nie. Nogtans het God in Sy voorkennis die sonde verwag en sonde is ingesluit in God se plan. Dit is duidelik, omdat God in Sy plan ’n Verlosser ingesluit het van voor die grondlegging van die wêreld af (Op. 13:8). Hoewel God nie die outeur van sonde is nie, is Hy die Skepper van die een wat wel die outeur van sonde is.

B. In Verhouding tot Satan
Die naaste wat die Bybel aan die openbaring van die werklike oorsprong van sonde kom, is in verhouding tot Satan. Met verwysing na Satan, verklaar Eségiël 28:15: ongeregtigheid [is] in jou gevind. Op ’n sekere stadium is daar ongeregtigheid of sonde in Satan gevind. Die eerste wese wat gesondig het, was Satan. Die aard van daardie eerste sonde was Satan se begeerte om soos God te wees (Jes. 14:14). Jesus het gesê Satan is nie in die waarheid nie (Joh. 8:44). Die eerste sondaar, dus, was Satan; en die eerste sonde was die sonde van eiewaan (trots), uitgedruk in Satan se begeerte om soos God te wees. Dit is die werklike oorsprong van sonde. Weer eens, God is nie die ontwerper of outeur van sonde nie, maar Hy is die Skepper van die een wat die outeur van sonde is: Satan.

C. In Verhouding tot Engele
Die oorsprong van sonde in verhouding tot engele word gevind in Openbaring 12:3-4, wat leer dat een derde van die engele saam met Satan geval het toe hulle deelgeneem het aan die sataniese opstand teen die gesag van God. Dus, sonde het by Satan ontstaan, en toe het een derde van die engelemag saam met hom geval (vgl. ook Openbaring 12:9).

D. In Verhouding tot die Mens
By die mens het sonde begin in die Tuin van Eden met Adam se val (Rom. 5:12). Die aard van die eerste menslike sonde is dieselfde as dié van die eerste sonde van die engele: die begeerte om soos God te wees (Gen. 3:5). Die werklike daad van sonde was die mens se ongehoorsaamheid aan ’n spesifieke gebod (Gen. 2:16-17; 3:6).

IV. DIE ALLESOMVATTENDHEID VAN SONDE
Die vierde hoofafdeling handel oor die duidelike Bybelse leer dat sonde allesomvattend (of universeel/ algemeen) is.
Die Bybel leer duidelik dat, met die uitsondering van Jesus van Nasaret, is almal wat uit Adam en Eva gebore is, skuldig aan sonde. Hierdie feit kan op twee maniere gesien word: deur direkte verklarings, en deur ander implikasies.

Eerstens, daar is duidelike, direkte verklarings in sowel die Ou as die Nuwe Testament, wat aantoon dat elkeen skuldig is aan sonde (I Kon. 8:46; Ps. 143:2; Spr. 20:9; Pred. 7:20; Rom. 3:9, 19, 20, 23; Gal. 3:22; Jak. 3:2; I Joh. 1:8).

Tweedens, die allesomvattendheid van sonde is duidelik uit drie implikasies. Die eerste implikasie is die Bybelse leer dat die mens vanaf geboorte ’n sondaar is (Job 14:4; Ps. 51:5; Joh. 3:6). Die tweede implikasie is die Bybelse leer dat selfs babas sondig is, en dat hulle daarom ook soms sterf, al is hulle nog net babas (Rom. 5:12-14). En die derde implikasie is dat alle mense, kinders ingesluit, onder die toorn van God staan (Joh. 3:3; Ef. 2:3).

Die uitwerking van die allesomvattendheid van sonde is vyfvoudig. Eerstens, die mens is onderworpe aan die dood in al sy vorme: fisiese dood, geestelike dood, en ewige dood. Tweedens, dit beteken dat die mens gebore word in ’n staat van verdorwenheid; hy word geestelik dood gebore. Derdens, die mens is skuldig aan persoonlike sonde. Vierdens, die mens lewe in ’n staat van sonde. En vyfdens beteken dit dat die mens onder die voortdurende invloed van Satan is.

V. DIE MENS SE TOESTAND IN ’N DOMEIN ONDER SONDE
Die vyfde hoofafdeling handel oor die Bybelse leer aangaande die mens se toestand onder sonde. Die mens se toestand is dat hy onder die domein van die sonde lewe. Dit word geleer in Romeine 3:9; 7:14; en Galasiërs 3:22. Hierdie afdeling sal in twee dele bespreek word.

A. Wat dit Beteken om Onder Sonde te Lewe
Die Griekse woord wat as “onder” vertaal word, verwys na ’n stelsel wat mag oor ’n persoon uitoefen. Dit is ’n goddelike vergelding en dit is die werklikheid en dit moet so aanvaar word. Die mens is deur goddelike verordening in ’n domein onder sonde geplaas. Hy bevind hom in ’n stelsel waar sonde heerskappy voer oor elke mens. Alle Jode en nie-Jode is deur goddelike verordening in ’n domein geplaas waar menslike verdienstes waardeloos is en mense niks kan doen om hulleself te red nie. Elke menslike verdienste word verwerp sodat die suiwer, reddende genade van God uitgeoefen kan word oor almal wat glo. Die lewe in ’n domein onder sonde, plaas die mens in ’n unieke verhouding tot Satan. Volgens II Korinthiërs 4:3-4, verblind Satan die verstand van die ongelowiges wat in die domein onder sonde lewe. In Efésiërs 2:1-2 is dit Satan wat nou “in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.” Volgens Kolossense 1:13 beteken die domein onder sonde, om te lewe in Satan se “mag van die duisternis”. Volgens I Johannes 5:19 weet ons dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” omdat die wêreld in ’n domein onder sonde verkeer.

B. Die Geneesmiddel vir die Mens se Toestand
Die geneesmiddel vir die mens se toestand in ’n domein onder sonde, is nie om staat te maak op eie verdienste nie, maar om staat te maak op die verdienste van die Messias. Soos reeds uitgewys, beteken die mens se domein onder sonde dat elke menslike poging om gered te word, wegwerplik en waardeloos is. Wanneer ’n mens egter op die Messias se verdienste staat maak, verruil hy sy domein. Met ander woorde, hy trek weg uit sy ou domein onder sonde, en trek in by die nuwe adres van ’n domein onder genade (Rom. 6:14).

VI.DIE SONDENATUUR: ERFSONDE
Die sesde hoofafdeling handel oor die Bybelse leer aangaande die aard van die sondenatuur (sondige natuur) of die erfsonde. Die hoof, in-diepte skrifgedeelte wat oor hierdie onderwerp handel, is Romeine 1:18-3:20. In hierdie afdeling word vyf sake behandel.

A. Die Betekenis van Erfsonde
Wat beteken erfsonde? Die term “erfsonde” het eintlik twee betekenisse en kan op twee verskillende maniere toegepas word. Soms verwys die term “erfsonde” na die eerste sonde wat gepleeg is deur ’n mens, Adam; dit word uitgewys in Romeine 5:19. In hierdie sin beteken erfsonde dat Adam se sonde erfskuld en erfbesoedeling vir almal meegebring het. Die oorgeërfde besoedeling het totale verdorwenheid en onvermoë veroorsaak sodat selfs die mens se beste werke altyd radikaal te kort skiet. Die term “erfsonde” kan verwys na Adam se sonde.

Die tweede en meer algemene gebruik van die term “erfsonde” verwys na die sondenatuur, om twee redes. Eerstens, die sondenatuur word erfsonde genoem, omdat dit by Adam ontstaan het en vanaf die eerste ouers, Adam en Eva, deurwerk sodat almal hierdie sondige natuur oorerf. Tweedens, die sondenatuur word soms erfsonde genoem omdat dit die oorsprong is van alle ander sondes, dit wil sê, alle mense pleeg sondige dade as gevolg van hulle sondenatuur.

’n Goeie definisie van die sondenatuur is: “Die sondenatuur is die hoedanigheid dat niks wat die mens doen, hetsy goed of kwaad, hom op enige manier voor God verdienstelik maak nie.” Dit beteken dat elke mens die menslike geslag inkom as ’n sondaar en sondige dade pleeg omdat hy ’n sondaar is. Adam en Eva is die enigste twee mense wat ooit sondaars geword het deur te sondig. Al hulle afstammelinge sondig omdat hulle sondaars is. Net Adam en Eva het geestelik gesterf deur te sondig; hulle afstammelinge word geestelik dood gebore. Omdat hulle met ’n sondenatuur gebore word, pleeg hulle sondige dade.

Verder, die sondenatuur is verdorwenheid van die essensie van die siel. Die sondenatuur is nie ’n wesenlike komponent van die nie-stoflike deel van die mens nie. Adam en Eva het vir ’n tyd lank sonder ’n sondenatuur gelewe. Jesus het dwarsdeur Sy lewe op aarde sonder ’n sondenatuur gelewe. Die sondenatuur is die hoedanigheid dat niks wat die mens doen, hetsy goed of kwaad, hom op enige manier vir God aanvaarbaar maak nie.

B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
Die konsep van die sondenatuur word grootliks geleer, regdeur die Ou sowel as die Nuwe Testament. In die Ou Testament word daar van die sondenatuur gepraat in Génesis 6:5; 8:21; Job 15:14, 16; Psalm 58:1-5; 94:11; 130:3; 143:2; Prediker 7:20; 9:3; Jesaja 64:6; Jeremia 13:23; 16:12; en 17:9. In die Nuwe Testament word daar van die sondenatuur gepraat in Matthéüs 7:11; 12:34; 15:19; Romeine 6:20; I Korinthiërs 2:14; Efesiërs 4:18; Kolossense 2:13; I Petrus 4:2; I Johannes 1:8; en 2:16. Uit hierdie voorbeelde in sowel die Ou as die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Bybel uitdruklik die konsep van die sondenatuur en die erfsonde leer.

C. Die Oordrag van die Sondenatuur
Die sondenatuur word oorgedra deur wat “onregstreekse oordrag” genoem word. Dit beteken dat dit van Adam af deur die ouers na al sy afstammelinge gaan. Dit gaan nie direk van Adam af na elke individu nie. Dit kom van Adam af, kom deur al sy afstammelinge, kom deur ons ouers, kom tot ons. Omgekeerd, kinders erf hulle sondenatuur van hulle ouers, en hulle ouers van húlle ouers, en so die hele lyn terug tot by Adam (Ps. 51:7; Ef. 2:3).

D. Die Straf vir die Sondenatuur
Die straf vir die sondenatuur en die erfsonde omvat twee dinge.

Die eerste straf is totale verdorwenheid. Die definisie van totale verdorwenheid is nie dat elke mens so slegs is as wat hy of sy kan wees nie. Totale verdorwenheid beteken “die onverdienstelike toestand van die mens voor God.” Nie een van die mens se werke het enige verdienstelikheid voor God nie.

Die tweede straf vir die sondenatuur is geestelike dood. Omdat die mens die sondenatuur erf by sy verwekking, word hy geestelik dood gebore (Gen. 2:17; I Kor. 2:14; Ef. 2:1, 5).

Die twee strawwe vir die sondenatuur omvat vier gevolge. Eerstens, die wesenlike aard van die siel is verdorwe deurdat die siel oorgelewer is aan geestelike dood. Die tweede gevolg is die verlies van aanvanklike geregtigheid. Toe Adam en Eva geskape is, het hulle aanvanklike geregtigheid gehad, maar toe hulle gesondig het, het hulle dit verloor. Van toe af is die mens geneig tot boosheid. Die derde gevolg is skuld en verdorwenheid wat deel is van die aard van sonde. Skuld verwys na die uiterlike aspek van sonde; verdorwenheid verwys na die innerlike aspek van sonde. Die vierde gevolg is dat die sondenatuur selfs in gelowiges sy karakter behou; dit is die rede hoekom gelowiges steeds sondig.

E. Die Geneesmiddel vir die Sondenatuur
Die geneesmiddel vir die sondenatuur behels drie dinge, en elkeen lewer sy eie resultaat.

Eerstens, die geneesmiddel vir die sondenatuur behels vernuwing. Vernuwing, wat beteken “om weer gebore te word”, maak die dooie gees lewendig. Die dooie gees waarmee die mens gebore word, word vernuwe by die oomblik van geloof. Die resultaat van die vernuwing is dat die gelowige geestelik lewend word.

Tweedens, die geneesmiddel vir die sondenatuur behels verlossing. Saam met verlossing kom ’n nuwe natuur of ’n nuwe hoedanigheid om God in geregtigheid te dien. Hoewel die gelowige steeds sy sondenatuur behou, verkry die gelowige as die resultaat van verlossing, ’n nuwe natuur. Nou besit hy ’n nuwe hoedanigheid: om God in geregtigheid te dien.

En derdens, die geneesmiddel vir die sondenatuur behels die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees, wat nou die mag verleen om die veroordeelde sondenatuur te oorwin. Die resultaat is dat die gelowige in die krag van die Heilige Gees, oorwinning kan kry oor die sondenatuur.

Wanneer iemand glo in die Here Jesus Christus, die Messias, word hy vernuwe, is hy verlos, en die Heilige Gees kom woon by hom in. Die oorhoofse gevolg is: geestelike lewe.

VII. PERSOONLIKE SONDE
Die sewende hoofafdeling handel oor die Bybelse leer aangaande die kategorie van persoonlike sonde. In hierdie afdeling word vyf sake bespreek.

A. Die Betekenis van Persoonlike Sonde
Een kern vers wat handel oor die konsep van persoonlike sonde, is Romeine 3:23: want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Persoonlike sonde beteken sondes wat individue gepleeg het voordat hulle in Jesus as hulle Verlosser en Saligmaker geglo het. Terwyl die sondenatuur innerlik is, is persoonlike sonde uiterlik; dit is die daad van sonde. Die sondige dade word gepleeg omdat die mens van nature ’n sondaar is vanweë die sondenatuur wat hy geërf het. Persoonlike sondes, dus, is sondige dade wat deur individue gepleeg is voordat hulle Jesus as hulle Messias aangeneem het. Dit mag doelbewuste dade wees of dit mag dade wees wat gepleeg is uit onkunde, maar dit bly steeds sondige dade. Die kategorie van persoonlike sonde sluit alles in die daaglikse bestaan in wat teen die karakter van God indruis of wat nie ooreenstem met die karakter van God nie.

Persoonlike sonde kan in verskeie groepe ingedeel word. Byvoorbeeld, ten opsigte van goddelike vereistes, kan persoonlike sondes dade wees wat bedryf is of versuim is.

Wat objek betref, kan persoonlike sondes gerig wees teen God, teen byvoorbeeld ’n mens se bure, of teen ’n mens self.

Wat betref omvang of gerigtheid, kan persoonlike sondes innerlike sondes van die siel of uiterlike sondes van die liggaam wees.

Wat verantwoordbaarheid betref, kan ’n mens geheel en al self aanspreeklik wees vir persoonlike sondes of andere kan mede-verantwoordelik gehou word.

Ten opsigte van bedoeling, kan persoonlike sondes onopsetlik of opsetlik wees; dit wil sê, gedoen uit onkunde of gepleeg uit drif.

Wat sondigheid betref, leer die Bybel die konsep van groter en kleiner sondes, en persoonlike sondes kan dus in groter of kleiner maat gepleeg word.

Met betrekking tot persone, kan persoonlike sondes gepleeg word deur gelowiges en ongelowiges, of aan gelowiges en ongelowiges, of teen gelowiges en ongelowiges.

Wat betref God se geregtigheid, kan persoonlike sondes deur God hanteer word óf op grond van Sy toorn óf op grond van Sy lankmoedigheid.

Wat vergifnis betref, word persoonlike sondes vergewe of nie vergewe nie.

Wat oorsaak betref, kan persoonlike sondes veroorsaak word deur onkunde, astrantheid, kwaadwilligheid, swakheid, of gepleeg word met voorbedagte rade.

Wat straf betref, word persoonlike sondes deels in hierdie lewe gestraf of sal gestraf word in die lewe wat kom.

B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
Daar is ’n aantal skrifgedeeltes wat die konsep van persoonlike sonde leer. Byvoorbeeld, in I Konings 8:50 is persoonlike sondes oortredinge teen God se wet; in Psalm 19:12-13 kan persoonlike sondes moedswillige sondes wees; Psalm 51:6 leer persoonlike sondes is sondes teen God; Psalm 90:8 praat van verborge sondes, wat persoonlike sondes is; Lukas 12:47-48 praat van sondes wat spruit uit beide onkunde en kennis; Lukas 15:21 leer dat persoonlike sondes teen die hemel is; Lukas 23:24 leer ook persoonlike sondes kan sondes uit onkunde wees; Johannes 19:11 praat van groter en kleiner persoonlike sondes; Handelinge 3:17-19 praat ook van sondes wat uit onkunde gepleeg is; I Korinthiërs 6:9-10 wys op sondige dade; Galasiërs 5:19-20 noem ook sondige dade by die naam; en I Timótheüs 1:13 praat ook weer van persoonlike sondes wat uit onkunde gepleeg is. Die duidelike leer van die Skrif is die feitelike waarheid van persoonlike sondes wat voortspruit uit die mens se sondenatuur.

C. Die Oordrag van Persoonlike Sonde
Weer eens, persoonlike sonde ontstaan uit die sondenatuur; dit is omdat die mens ’n sondenatuur het, dat hy sondige dade pleeg. Die sondenatuur word vanaf Adam deur die ouers oorgedra. Die sondenatuur word by verwekking van die ouers geërf, en dan word sondige dade gepleeg as gevolg van die sondenatuur. Die gevolge van persoonlike sonde kan ’n mens se afstammelinge beïnvloed tot in die vierde geslag, want volgens Exodus 34:6-7, vereis die geregtigheid van God dat die sonde van die vaders besoek moet word aan die kinders en die kindskinders, tot op die derde en vierde geslag.

D. Die Straf vir Persoonlike Sonde
Die twee fasette betreffende die straf vir persoonlike sonde is: skuld en die graad van straf. Eerstens, as gevolg van persoonlike sonde, staan die ongeredde sondaar skuldig voor ’n regverdige en heilige God. Die tweede faset van die straf vir persoonlike sonde, is dat sondes bydra tot die graad van die straf. Die feit dat daar grade van straf in die Poel van Vuur sal wees, word geleer in Lukas 12:47-48. Hierdie straf sal vir ewig duur. Die resultaat van die straf vir persoonlike sonde sal ’n toestand van verlorenheid wees. As iemand nie in hierdie lewe in Jesus as die Messias glo nie, is hy vir ewig verlore.

E. Die Geneesmiddel vir Persoonlike Sonde
Die geneesmiddel vir persoonlike sonde, behels twee fasette: vergifnis en regverdigmaking.

Die eerste geneesmiddel vir persoonlike sonde is vergifnis. Wanneer iemand Jesus as Verlosser aanneem, is sy sondes vergewe. Dit beteken dat God die sondes wegneem van die persoon wat geloof het in die plaasvervangende dood, begrafnis, en opstanding van die Messias. Die eerste straf, skuld, word weggeneem deur vergifnis.

Die tweede geneesmiddel vir persoonlike sonde is regverdigmaking. Regverdigmaking beteken “om regverdig verklaar te word”. Die een wat glo in die Here Jesus as die Messias, word regverdig verklaar. Regverdigmaking behels ook ’n verklaring van geen skuld. Dit is ’n verklaring van die toerekening van die Messias se geregtigheid aan die gelowige sondaar sodat hy nie langer in gevaar verkeer van die Poel van Vuur nie. Die resultaat van die geneesmiddel vir persoonlike sonde is persoonlike verlossing.

VIII. TOEGEREKENDE SONDE
Die agtste hoofafdeling van hierdie studie handel oor die Bybelse leer aangaande die kategorie van sonde wat bekend staan as toegerekende sonde. In hierdie afdeling word vyf sake behandel.

A. Die Betekenis van Toegerekende Sonde
Die woord “toereken” beteken “om op iemand se rekening te plaas”. Dit beteken om iets aan iemand toe te skryf of toe te reken. Die Bybel praat van drie groot toerekenings. Die eerste toerekening is Adam se sonde wat aan die mensheid toegereken is. Die tweede toerekening is die sonde van die mense teenoor die Messias; dit het by die kruis gebeur. Die derde toerekening is die Messias se geregtigheid wat toegereken word aan die een wat glo; dit gebeur die oomblik wanneer iemand glo. Hierdie studie fokus op die eerste groot toerekening, wat die basis is vir die ander twee.

Die eerste groot toerekening het gebeur toe Adam se sonde aan die mensdom toegereken is. Alle mense word beskou as aandadig aan Adam se ongehoorsaamheid en daarom dra die hele mensdom dieselfde skuld. Die mens is nie net skuldig vanweë sy eie persoonlike sondes as gevolg van sy sondenatuur nie, maar die mens is ook skuldig omdat hy gesien word as aandadig aan Adam se sonde. Die beste beeld hiervan is die konsep van volmag. As iemand volmag van jou ontvang het, het hy die volste reg om namens jou op te tree. Sy optrede namens jou word beskou asof dit jou eie optrede is. As hy iets onwettigs doen, is jy mede-verantwoordelik; die prokureur se skuld sal tot ’n sekere mate aan jou toegereken word omdat jy hom volmag gegee het. Adam het die volmag namens die mensdom ontvang; daarom het die hele mensdom gesondig toe hy gesondig het. Vanuit die Bybelse perspektief sien God die hele mensdom as synde “in Adam”. Daarom word alle mense as skuldig gereken, nie net ten opsigte van hulle eie sonde nie, maar ook ten opsigte van Adam se sonde.

B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
Die een skrifgedeelte wat die konsep van toegerekende sonde leer, is Romeine 5:12-21. Die kern vers in hierdie gedeelte is vers 12: DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Die manier waarop dit gefraseer word, dui aan dat die alle mense wat gesondig het, verbind word met Adam se sonde. Dit is deur een man wat sonde in die wêreld ingekom het, en deur die sonde die dood. Die rede hoekom die dood na alle mense deurgegee is, is omdat almal “in Adam” as sondig beskou word. Dit is as gevolg van hierdie toerekening dat selfs klein babas soms sterf, selfs al het hulle nog geen geleentheid gehad om te sondig nie.

C. Die Oordrag van Toegerekende Sonde
Naas die konsep van volmagtiging, is nog ’n manier om te verduidelik hoe toegerekende sonde oorgedra word, deur die teologiese term “Natuurlike Hoofskap”. Natuurlike Hoofskap beteken dat toegerekende sonde regstreeks vanaf Adam na die individu oorgedra word. Die sondenatuur word onregstreeks oorgedra deur vanaf Adam, deur die ouers, na die individu toe te gaan. Toegerekende sonde, egter, geskied deur regstreekse oordrag, waar dit nie deur die ouers nie, maar direk vanaf Adam na elke individu in die menslike geslag gaan. Die oordrag van toegerekende sonde geskied regstreeks vanaf Adam na die individu.

Op grond van die organiese eenheid van die menslike geslag in Adam, word Adam se sonde regstreeks toegereken aan sy hele nageslag. In die Skrif staan hierdie konsep bekend as “saadverwantskap”. Een voorbeeld van saadverwantskap is in Hebreërs 7:9-10: En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.

Die agtergrond tot hierdie skrifgedeelte is Génesis 14, waar Abraham tiendes gegee het aan Melgisédek. Die skrywer van die Brief aan die Hebreërs verduidelik dat toe Abraham tiendes aan Melgisédek betaal het, is ook Levi – wat ’n afstammeling van Abraham was – deur toerekening op grond van ’n saadverwantskap, geag asof hy tiendes aan Melgisédek betaal het. Levi was nog nie eers gebore toe daardie gebeurtenis plaasgevind het nie. Nogtans, omdat hy in die lendene was van sy vader, Abraham, is Levi ook geag as een wat tiendes aan Melgisédek betaal het.

Die hele menslike geslag was “in die lendene van Adam”. As gevolg van ’n saadverwantskap, word die hele mensdom geag as aandadig aan die sonde toe Adam gesondig het. Adam se sonde word toegereken aan die hele mensdom omdat sy sonde ook as ons sonde gereken word. Romeine 5:12 beteken dat die dood na alle mense gekom het omdat almal gesondig het “in Adam”, wat op grond van ’n saadverwantskap die natuurlike hoof van die hele menslike geslag was. Terwyl die sondenatuur oorgedra word deur onregstreekse oordrag omdat dit vanaf Adam deur ons ouers, na ons toe kom, word toegerekende sonde oorgedra deur regstreekse oordrag omdat dit direk vanaf Adam na ons toe kom.

D. Die Straf vir Toegerekende Sonde
Volgens Romeine 5:12 is die straf vir toegerekende sonde fisiese dood. Dit is alreeds in die Ou Testament geleer in Génesis 3:19. Dit word ook in die Nuwe Testament geleer in Romeine 5:14 en I Korinthiërs 15:20-23, veral die frase in vers 22: Want soos almal in Adam sterwe.

E. Die Geneesmiddel vir Toegerekende Sonde
Die geneesmiddel vir toegerekende sonde is daardie groot toerekening wat vroeër genoem is: die toegerekende geregtigheid van die Messias. Dit word geleer in dieselfde konteks as toegerekende sonde. In die konteks van Romeine 5:12-21, stel vers 21 dit: sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

Nog ’n skrifgedeelte wat leer dat die geneesmiddel vir toegerekende sonde die geregtigheid van die Messias is, is II Korinthiërs 5:21. Die vers begin met die woorde: Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak. Dit handel oor die tweede groot toerekening: die toerekening van die mense se sonde aan die Messias. Dan verklaar die vers: sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Dit verwys na die derde groot toerekening: die toerekening van die geregtigheid van die Messias aan die gelowige. Hierdie waarheid word ook geleer in I Korinthiërs 15: 20-26, 54-56. Vers 22 verklaar: Want soos almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

IX. SONDE IN DIE GELOWIGE SE LEWE
Die negende hoofafdeling handel oor die Bybelse leer aangaande sonde in die gelowige se lewe. Soos met die ander kategorieë van sonde, word daar ook in hierdie afdeling vyf sake bespreek.

A. Die Betekenis van Sonde in die Gelowige se Lewe
Sonde in die gelowige se lewe beteken sondige dade wat deur individuele gelowiges gepleeg word. In hierdie sin kom dit ooreen met persoonlike sondige dade wat deur ongelowiges gepleeg word. Hierdie persoonlike sondige dade wat deur individuele gelowiges gepleeg word, kan doelbewuste dade wees, of dade wat uit onkunde gepleeg word.

B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
Die feit dat gelowiges steeds skuldig is aan sondige dade, word duidelik in die Skrif geleer. In I Timótheüs 1:15 sê Paulus aan Timótheüs dat hy, Paulus, die vernaamste sondaar van almal is. Paulus was ’n apostel, en hy is waarskynlik die vergestalting van die hoogste vorm van geestelikheid wat in hierdie lewe deur die mens bereik kan word. Tog het hy nie die verlede tyd gebruik toe hy aan die einde van sy lewe aan Timótheüs geskryf het nie. Hy het nie gesê, “ek was” of “ek was voorheen” die vernaamste sondaar van almal nie. Met verwysing na sondaars, het Paulus in die teenwoordige tyd gesê: Ek is die vernaamste. Hy het homself steeds beskou as van nature sondig en homself gesien as iemand wat sondige dade pleeg. ’n Kern skrifgedeelte wat handel oor sonde in die gelowige se lewe, is I Johannes 1:8-10: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Die Brief van Johannes is geskryf aan gelowiges en handel oor gelowiges. In vers 8 wys Johannes op die feit dat gelowiges steeds ’n sondenatuur het. In vers 9 meld hy dat gelowiges spesifieke sondes pleeg wat hulle moet bely. In vers 10 noem hy die feit van persoonlike sonde: As ons beweer dat ons nie sonde doen nie, maak ons God tot leuenaar, en Sy woord is nie in ons nie. Deur die voornaamwoord, ons, te gebruik, sluit Johannes homself in by hierdie verklaring. Volgens die Skrif is gelowiges wel skuldig aan persoonlike sondige dade; daar is sonde in die gelowige se lewe.

C. Die Verhouding tot Ander Kategorieë van Sonde
Wat is die verhouding van sonde in die gelowige se lewe met betrekking tot die menslike toestand in die domein onder sonde; die sondenatuur; persoonlike sonde; en toegerekende sonde?

Met betrekking tot die mens se toestand in die domein onder sonde, leef die gelowige nie meer in die domein onder sonde nie; die gelowige verkeer inteendeel nou in die nuwe domein van ’n lewe “onder genade”.

Wat betref die sondenatuur, het die gelowige steeds sy sondenatuur. Net soos die sondenatuur die bron is van persoonlike sondes wat deur ongelowiges gepleeg word, is die sondenatuur die bron van persoonlike sondes wat deur die gelowige gepleeg word. Die verskil tussen die ongelowige en die gelowige is nie dat die een ’n sondenatuur het en die ander een nie. Die verskil is dat die gelowige ook ’n nuwe natuur het. Hy het sy weergebore menslike gees, wat teen die ou sondenatuur oorlog voer. Hierdie oorlog word beskryf in Galásiërs 5:16-17 en Romeine 7:15-25.

Met betrekking tot persoonlike sonde, moet daar na drie dinge opgelet word. Eerstens, die gelowige is verlos van die mag van die sonde. Terwyl die ongelowige ’n slaaf van die sonde is, en nie anders kan as om sondige dade te pleeg nie, is die gelowige verlos van die mag van die sonde; hy hoef nie sondige dade te pleeg nie (Rom. 6:1-8:13; I Joh. 1:1-2:2). Tweedens, die gelowige moet hierdie feit as ’n werklikheid aanvaar en moet daarvolgens lewe (Rom. 6:1-8:13). Derdens, die gelowige moet nou geestelike oorlog voer teen die vlees, die duiwel, en die wêreld.

Wat betref toegerekende sonde, word die gelowige se posisie van “in Adam” te wees, teengewerk deur sy nuwe posisie in Christus. Vir die gelowige is fisiese dood nie langer die straf vir toegerekende sonde nie. Fisiese dood is slegs die manier waarop hierdie wêreld verlaat word en die Hemel ingegaan word. Wat meer is, wanneer die gelowige sterf, is sy toekomstige opstanding gewaarborg (I Kor. 15:50-57).

D. Die Straf vir Sonde in die Gelowige se Lewe
Daar is vier moontlike strawwe vir sonde in die gelowige se lewe.

Die eerste straf is die verlies van gemeenskap met God (I Joh. 1:6). Wanneer die gelowige sondig, verbreek hy, as lid van God se familie, die gemeenskap wat hy met God het. Hierdie gemeenskap moet herstel word deur middel van belydenis (I Joh. 1:9).

’n Tweede straf vir sonde in die gelowige se lewe, is tugtiging. Dit sal plaasvind as hy nie sy sondes bely nie. As hy nie sy sondes bely om as ’n familielid vergifnis daarvoor te kry nie, sal God hom tugtig en dissiplineer (I Kor. 11:32; Heb. 12:4-11).

’n Derde moontlike straf vir sonde in die gelowige se lewe is ekskommunikasie uit die plaaslike kerk. Dit gebeur veral ten opsigte van die grofste soort sondes, die soort persoonlike sondes wat die openbare lewe raak en die plaaslike kerk tot oneer strek. Een voorbeeld hiervan word gevind in I Korinthiërs 5:1-5 waar ’n gemeentelid die openbare sonde gepleeg het om saam met sy stiefmoeder te slaap. Die kerk was bewus hiervan, maar het nie kerklike tug toegepas nie. Dit is hierdie soort openbare sonde wat skande oor ’n plaaslike gemeente bring en tot ekskommunikasie kan lei.

’n Vierde moontlike straf vir sonde in die gelowige se lewe is fisiese dood. Dit is ’n natuurlike gevolg van tugtiging en ekskommunikasie as dit tot die volle konsekwensie deurgevoer word. Vroeër is dit uitgewys dat fisiese dood nie meer ’n straf vir die gelowige is nie, maar net ’n manier om hierdie wêreld te verlaat om Hemel toe te gaan. Daar is egter een uitsondering op die reël. As ’n gelowige weier om sy sonde te bely nadat ’n tugtydperk verloop het, kan die finale vorm van tug fisiese dood wees. Verder, as ’n persoon nie reageer en tot inkeer kom nie, is die natuurlike gevolg van ekskommunikasie fisiese dood wat die gelowige opgelê word deur Satan, nie deur die gemeente nie. Fisiese dood as ’n straf vir ’n gelowige se sonde, word genoem in I Korinthiërs 5:5 en 11:28-32. ’n Mens se redding word egter nie daardeur geaffekteer nie.

E. Die Geneesmiddel vir Sonde in die Gelowige se Lewe
Die geneesmiddel vir sonde in die gelowige se lewe het twee aspekte: voorkomende middels en toegepaste middels.

Die voorkomende middels is daar om die gelowige te keer om sondige dade te pleeg. Daar is vier sulke voorkomende middels. Die eerste middel is bepeinsing van die Skrifte (Ps. 119:11). Die tweede voorkomende middel is die middelaarswerk van die Messias (Joh. 17:15; Rom. 8:34; Heb. 7:25). Die derde voorkomende middel is die inwonende bediening van die Heilige Gees waardeur die gelowige mag verkry om die sonde te weerstaan (Joh. 7:37-39; Rom. 8:9). En die vierde voorkomende middel is om in die lig van God se Woord te wandel (I Joh. 1:7).

Wat toegepaste middels betref, is een middel wat aangewend moet word nadat ’n mens gesondig het, selfondersoek (I Kor. 11:31-32); die gelowige moet homself ondersoek om te sien of daar sonde in sy lewe is. As daar is, moet die tweede middel toegepas word, naamlik belydenis (I Joh. 1:9); hy moet sy sondes bely; hy moet met God saamstem dat dit sonde is; en hy moet erken dat hy daaraan deelgehad het. Die ideaal is dat dit elke keer gedoen moet word as ’n mens bewus word van jou sondes. Die Bybel voorsien twee tydgleuwe met betrekking tot toegepaste middels: Efésiërs 4:26 leer dat belydenis voor bedtyd gedoen moet word; en I Korinthiërs 11:27-32 wys daarop dat belydenis gedoen moet word voordat ’n mens deelneem aan die Heilige Nagmaal.

Die resultaat van die geneesmiddel vir sonde in die gelowige se lewe is tweevoudig: eerstens, vergifnis vir persoonlike sondes in die gelowige se lewe; en tweedens, die herstel van familie verhoudings.

X. DIE FINALE OORWINNING OOR ALLE SONDE
Die tiende hoofafdeling handel oor die finale oorwinning oor alle sonde. Die Bybel leer dat die dag sal kom wanneer gelowiges finale oorwinning oor alle sonde sal hê. Daardie dag sal aanbreek met die opstanding van die liggaam (I Kor. 15:35-49; Rom. 8:23). Die opstanding van die liggaam beteken verlossing van die liggaam van sonde, want die opgestane liggaam sal vry wees van die sondenatuur. Vir die Kerkheiliges sal dit, op ’n stadium voor die Verdrukking, met die Wegraping gebeur. Vir die Ou-Testamentiese heiliges en die heiliges in die Verdrukking, sal dit plaasvind tydens die vyf-en-sewentig dae periode tussen die einde van die Verdrukking en die begin van die Messiaanse Koninkryk.

Wanneer die Bybel die finale woonplek van alle gelowiges van alle tye uitbeeld, word die gelowiges beskryf as geheel en al vry van sonde. Hierdie finale woonplek, waar alle gelowiges finaal oor alle sonde sal triomfeer, word aangetref in Hebreërs 12:2-24; II Petrus 3:7-13; en Openbaring 20:7-22:5. Wanneer al die gelowiges saam in die Nuwe Jerusalem op die nuwe aarde woon, sal hulle in finale oorwinning oor alle sonde lewe. Die Kerkheiliges sal reeds in die Messiaanse Koninkryk finaal oor sonde triomfeer. Daar sal egter ook mense met natuurlike liggame en ’n sondenatuur in die Koninkryk wees. Eers in die Ewige Orde sal almal finaal oor alle sonde triomfeer.

XI. DIE AARD VAN DIE WET
Die elfde hoofadeling sluit af met die Bybelse leer aangaande die aard van die wet. In hierdie afdeling word vyf sake behandel.

A. Die Gebruike van die Woord
In die Skrif is daar ses gebruike van die woord “wet”.

Een, die woord “wet” word soms gebruik om na die Mosaïese Wet te verwys. In die meeste gevalle waar die Bybel hierdie term gebruik, is dit wel met verwysing na die Wet van Moses. Twee voorbeelde hiervan is Romeine 6:14-15 en Galásiërs 4:4.

’n Tweede gebruik is die term “fundamentele wet” of “morele wet”. As sodanig is dit nie ’n spesifieke gebod van Moses nie, maar slegs die morele wet, basiese wet, of fundamentele wet, wat in die samelewing funksioneer. Twee voorbeelde hiervan is Romeine 4:15 en 5:13.

’n Derde gebruik van die term is “siviele wet”. Hierdie gebruik kom voor in Daniël 6:8 en 12.

’n Vierde gebruik van die woord “wet” is die geopenbaarde wil van God; soos byvoorbeeld in Psalm 119:18-19.

’n Vyfde gebruik van die woord “wet” in die Skrif, is as ’n werksbeginsel; dit word gevind in Romeine 7:21 en 8:2.

En ’n sesde manier waarop die woord “wet” gebruik word, is die Wet van die Messias. Soos die Wet van Moses, is die Wet van die Messias ’n beliggaming van spesifieke gebooie; soos dié in I Korinthiërs 9:21 en Galásiërs 6:2.

In die Nuwe Testament kom die woord “wet” in totaal tweehonderd-en-nege keer voor, en die meeste hiervan word gevind in twee boeke: Romeine en Galásiërs. In die Brief aan die Romeine word die woord sewe-en-sewentig keer gebruik; in die Brief aan die Galásiërs word dit dertig keer gebruik. In die res van die Nuwe-Testamentiese boeke word dit ’n verdere eenhonderd-en-twee keer gebruik. Deur net op die Nuwe Testament te fokus, word gevind dat die woord “wet” op dertien verskillende maniere gebruik word: die wet van die werke (Rom. 3:27); die wet van die geloof (Rom. 3:27); die wet van God (Rom. 7:22, 25; 8:7); die wet van die gemoed (Rom. 7:23); die wet van die sonde (Rom. 7:23, 25; 8:2); die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus (Rom. 8:2); die wet van die dood (Rom. 8:2); die wet van die geregtigheid (Rom. 9:31); die wet van Christus (Gal. 6:2); die wet van die Jode (Hand. 25:8); die wet van vryheid (Jak. 1:25; 2:12); die wet van die Here (Luk. 2:23, 24, 39); en die wet van Moses (Luk. 2:22; 24:44; Joh. 7:23; Hand. 13:39; 15:5; 28:23; I Kor. 9:9).

Daar is ’n wye gebruik van die woord “wet” dwarsdeur die Ou en Nuwe Testamente, maar die primêre gebruik daarvan in albei testamente is vir die Wet van Moses. Oortreding van enige wet wat God die mens opgelê het, eindig in sonde, of dit die morele wet, die Wet van Moses, of die Wet van die Messias is.

B. Die Betekenis van die Wet
Die ontdekking van hierdie verskillende gebruike van die woord “wet” in die Skrif, lei tot ’n bespreking van die betekenis van die wet. Die beste en eenvoudigste manier om die term “wet” in die Skrif te definieer, is waarskynlik: “Wet is die uitdrukking van die goddelike wil, afgedwing deur mag.” Hierdie eenvoudige betekenis van die wet hou vier implikasies in.

Die eerste implikasie is dat daar ’n Wetgewer is. Hierdie Wetgewer is God. Die tweede implikasie is dat daar ’n onderdaan is wat die wet ontvang en dit moet gehoorsaam. Die mens is die onderdaan en hy moet enige wet wat deur die Wetgewer aan hom opgedra word, gehoorsaam. Die derde implikasie is dat hierdie wet die uitdrukking is van die goddelike wil. Omdat die Wetgewer God Self is, is dit wat Hy deurgee as wet, die uitdrukking van Sy goddelike wil. Die vierde implikasie is dat Hy daartoe in staat is om Sy wil af te dwing; Hy het die mag om Sy wil af te dwing en Hy kan Sy mag uitoefen soos en wanneer Hy dit goed dink.

Noudat die betekenis en die implikasies van die wet gedefinieer is, moet dit uitgewys word dat daar twee ekstreme is ten opsigte van die wet.

Die eerste ekstreem word Antinomianisme genoem, wat leer dat gelowiges hoegenaamd nie aan enige wet onderworpe is nie. Die meeste Antinomianiste gebruik verse wat leer dat die gelowige nie langer aan die Wet van Moses onderworpe is nie, wat waar is. Nogtans is gelowiges wel onderworpe aan ’n wet, en dit is die Wet van die Messias. Die tweede ekstreem is Wettisisme. Wettisisme is die byvoeging van mensgemaakte wette by die wette wat God gegee het en hierdie mensgemaakte wette word dan ook verpligtend gemaak. Beide Antinomianisme en Wettisisme is verkeerd. Die balans lê daarin dat die gelowige die reëls wat God aan hom opgedra het in hierdie Bedeling, moet gehoorsaam.

C. Soorte Wet
1. Fundamentele Wet
Die eerste hoof soort of kategorie van die wet is fundamentele wet. Fundamentele wet beteken wette wat in die elemente, essensies, en kragte van rasionele en irrasionele geskape dinge ingebed is. Waar fundamentele wet in die samestelling van die fisiese heelal ingebed is, word hierdie fundamentele wet fisiese of natuurlike wette; soos byvoorbeeld die wet van swaartekrag, die drie wette van termodinamika, en andere.

Fundamentele wet wat in die samestelling van rasionele en vry wesens ingebed is, word morele wet. Alle mense het ’n sekere sin van moraliteit. Selfs in die diepste, donkerste oerwoude waar mense nog nooit aan die goddelike wil van God of die Skrif blootgestel was nie, het hulle wel ’n sekere morele kode. Hulle volg outomaties ’n konsep van wat reg en verkeerd is.

Daar is ook ander aspekte van fundamentele wet. Fundamentele wet is nie arbitrêr nie; dit ontspring uit die natuur self. Fundamentele wet is nie tydelik nie; dit bestaan terwyl die elemente bestaan, hetsy of hulle rasioneel of irrasioneel is. Fundamentele wette kan sowel negatief as positief wees, en vereis onderwerping aan God. Selfs die heiden het ’n sin vir reg en verkeerd, en hy weet wanneer hy nie aan ’n sekere standaard beantwoord nie. Fundamentele wet is universeel; die mens handel oraloor asof daar ’n morele standaard bestaan. Of mense die Skrif het of nie die Skrif het nie, almal van hulle het die konsep van reg en verkeerd (Rom. 2:14-15).

2.Positiewe Verordeninge
Die tweede soort wet is positiewe verordeninge. Positiewe verordeninge is die uitdrukking van God se wil in geskrewe, gepubliseerde ordinansies. Dit is wat in die Skrif opgeneem is. Daar is verskillende uitdrukkings van God se wil vir verskillende tydperke of dispensasies. Maar elke tydperk het ’n gepubliseerde ordinansie van God. Positiewe verordeninge is voorskrifte wat in drie hoof kategorieë uitgedruk word.

Eerstens, daar is morele voorskrifte; soos die Tien Gebooie en die Bergpredikasie.

Tweedens, daar is seremoniële voorskrifte; soos die offerstelsel van die Wet van Moses en die Nagmaaldiens van die Wet van die Messias.

Derdens, daar is wetlike voorskrifte, reëls ten opsigte van reg en verkeerd wat gevolg moet word; soos die voedselreëls van die Wet van Moses en die reëls vir die regte gebruik van die geestelike gawes in die Wet van die Messias.

D.Die Doel van die Wet van God
Daar moet op vyf dinge gelet word ten opsigte van die doel van die wet van God.

Eerstens, die wet van God was nie ’n middel tot redding nie. God het nooit gebooie gegee as ’n manier waarop redding verdien kan word nie. Die doel van die wet van God, ongeag van watter wet of watter dispensasie, was nooit bedoel as ’n middel tot redding nie (Rom. 3:20; 8:3; Gal. 3:21).

Tweedens, die doel van die wet van God was om die mens se kennis van sonde te verdiep (Rom. 3:19-20; 5:13, 20; 7:7, 13; I Kor. 15:56; Gal. 3:19).

Derdens, die doel van die wet van God was om God se heiligheid te openbaar (Rom. 7:12).

Vierdens, hoewel die doel van die wet van God nie ’n middel tot redding was nie, was dit bedoel as ’n rigtingwyser om die mens te lei na die reddingsmiddel, naamlik reddende geloof (Gal. 3:24).

Die vyfde doel van die wet van God is om die lewensreëls vir die gelowige neer te lê. Wanneer ’n gelowige gered word, kan van die volgende vrae by hom opkom: “Hoe moet my lewe nou wees?” “Wat verwag God van die gelowige?” Met ander woorde, “Hoe wil God hê dat ek moet lewe?” Vir die gelowige in die Ou Testament, was die lewensreëls die Wet van Moses. Vir die gelowige, tans, is die lewensreëls vervat in die Wet van die Messias. Maar ongeag van watter wet dit was, die wet van die Adamiese Verbond, die wet van die Abrahamitiese Verbond, die wet van die Mosaïese Verbond, die Wet van die Messias in die Nuwe Verbond, of die toekomstige wet van die Millennium Stelsel, die wet van God was nooit gegee om daardeur redding te bekom nie. Dit was slegs om lewensreëls vir die gelowige neer te lê.

E. Die Gelowige en die Wet van God
Aangaande die gelowige en die wet van God, moet twee eenvoudige punte uitgewys word. Eenvoudig soos hulle is, is mense vandag baie verward hieromtrent en weet dikwels nie watter wet om te volg nie. Soms is hulle ongehoorsaam aan opdragte wat vir hulle bedoel is en gehoorsaam aan opdragte wat nie vir hulle bedoel is nie.

Die eerste punt is dat die gelowige vandag nie onder die Wet van Moses staan nie. Nie-Jode was nooit onder die Wet van Moses nie; die Wet van Moses is gegee vir die Jode alleenlik. Dit beteken dat nie een van die 613 wette vandag vir die gelowige geld nie. Dit word geleer in Romeine 6:14-15; 7:6; Galásiërs 5:18; en Hebreërs 7:18-19.

Die tweede punt aangaande die gelowige en die wet van God, is dat die gelowige vandag onder die Wet van die Messias staan. Net soos wat die Wet van Moses baie verordeninge bevat het, bevat die Wet van die Messias ook baie verordeninge. Baie van die verordeninge in die Wet van die Messias is dieselfde as dié in die Wet van Moses, maar baie ander is verskillend. Dit is hoekom ons goed moet verstaan dat die gelowige nie meer vandag onder die Wet van Moses staan nie; ons het geen verpligting om enige van die 613 gebooie van die Wet van Moses te gehoorsaam nie. Nogtans, die gelowige vandag, is in elke opsig verplig om al die gebooie van die Wet van die Messias te gehoorsaam. Dit word geleer in Romeine 8:4; I Korinthiërs 9:21; Galásiërs 5:18; en 6:2. Gelowiges moet versigtig wees om nie in hulle ywer om wette te gehoorsaam wat nie op hulle van toepassing is nie, op die ou end so te begin lewe dat hulle ongehoorsaam is aan wette en gebooie wat wel op hulle van toepassing is. Om ’n gebod van die Wet van die Messias ongehoorsaam te wees, hetsy passief of aktief, is sonde teen God.
[end]

Inhoudsopgawe
I. HEBREEUSE, GRIEKSE EN AFRIKAANSE WOORDE
    A. Die Hebreeuse Woorde
    B. Die Griekse Woorde
    C. Die Afrikaanse Woorde
II. DIE DEFINISIE VAN SONDE
    A. Die Komponente
    B. Die Eenvoudige Definisie
    C. Die Wesenlike Aard van Sonde
III. DIE OORSPRONG VAN SONDE
    A. In Verhouding tot God
    B. In Verhouding tot Satan
    C. In Verhouding tot Engele
    D. In Verhouding tot die Mens
IV. DIE ALLESOMVATTENDHEID VAN SONDE
V. DIE MENS SE TOESTAND IN ’N DOMEIN ONDER SONDE
    A. Wat dit Beteken om onder Sonde te Lewe
    B. Die Geneesmiddel vir die Mens se Toestand
VI. DIE SONDENATUUR: ERFSONDE
    A. Die Betekenis van Erfsonde
    B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
    C. Die Oordrag van die Sondenatuur
    D. Die Straf vir die Sondenatuur
    E. Die Geneesmiddel vir die Sondenatuur
VII. PERSOONLIKE SONDE
    A. Die Betekenis van Persoonlike Sonde
    B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
    C. Die Oordrag van Persoonlike Sonde
    D. Die Straf vir Persoonlike Sonde
    E. Die Geneesmiddel vir Persoonlike Sonde
VIII. TOEGEREKENDE SONDE
    A. Die Betekenis van Toegerekende Sonde
    B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
    C. Die Oordrag van Toegerekende Sonde
    D. Die Straf vir Toegerekende Sonde
    E. Die Geneesmiddel vir Toegerekende Sonde
IX. SONDE IN DIE GELOWIGE SE LEWE
    A. Die Betekenis van Sonde in die Gelowige se Lewe
    B. Die Konsep soos Geleer in die Skrif
    C. Die Verhouding tot ander Kategorieë van Sonde
    D. Die Straf vir Sonde in die Gelowige se Lewe
    E. Die Geneesmiddel vir Sonde in die Gelowige se Lewe
X. DIE FINALE OORWINNING OOR ALLE SONDE
XI. DIE AARD VAN DIE WET
    A. Die Gebruike van die Woord
    B. Die Betekenis van die Wet
    C. Soorte Wette
         1. Fundamentele Wet
         2. Positiewe Verordeninge
    D. Die Doel van die Wet van God
    E. Die Gelowige en die Wet van God

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Een van God se kenmerkende eienskappe is Sy genade. Die Bybel gebruik verskillende Hebreeuse en Griekse woorde om verskillende fasette van genade uit te lig. Hoe was die genade van God in die Ou Testament en in die Nuwe Testament gedemonstreer? Die betekenis van God se onverdiende guns, algemene genade, besondere genade, soewereine genade, reddende genade asook die gelowige se posisie in genade en lewe onder genade word elk in detail bespreek. Die wet van Christus word ook kortliks aangeroer.