Efesiërs

Strategies geleë ‘op die weskus van Klein-Asië, het Efese een van die min wêreldklas hawens besit wat in die Romeinse Ryk bestaan het, en dit stel Efese in staat om as ʼn interkontinentale poort tussen Europa en Asië te dien’ (Ger 2004:246; eie vertaling). Efese was die hoofstad van Klein-Asië en het ʼn groot bevolking van 500 000 gehad.

Hoewel hy Efese kortliks aan die einde van sy tweede sendingreis besoek het (Handelinge 18:19-21), was Paulus tydens sy derde sendingreis (53-56 n.C.) drie jaar lank in Efese (Handelinge 20:31). Na sy derde sendingreis is Paulus vir vier jaar onder huisarres geplaas, eers in Caesarea in 57-58 n.C. (Handelinge 24:26-27) en later weer in 60-61 n.C. in Rome (Handelinge 28:30). Gegewe die verwysings na die keiserlike wag en die keiserlike huis (Filippense 1:13; 4:22), asook die feit dat Paulus in ʼn stad was waar reis en reisigers aan die orde van die dag was (Tenney 1985:316), is die vier “gevangenis briewe” waarskynlik tydens Paulus se eerste gevangenskap in Rome geskryf en nie terwyl hy in Caesarea was nie. Paulus skryf hierdie briewe as ʼn gevangene van Christus Jesus, ʼn gesant van die Here in kettings (Efesiërs 3:1; 4:1; 6:20; Filippense 1:13; Kolossense 1:24; 4:10; Filemon 1, 9-10). Toe die slaaf Onésimus in Rome tot bekering gekom het, was dit nodig om vir sy meester Filemon te skryf — en dus was Efesiërs, Kolossense en Filemon waarskynlik op dieselfde tyd deur Tíchikus en Onésimus afgelewer (Efesiërs 6:21-22; Kolossense 4:7- 9; Filemon 12). Paulus skryf die brief aan die Efesiërs in 60-61 n.C.

Oorspronklike gehoor

Toe Paulus in Efese aangekom het, het hy ʼn paar dissipels van Johannes gedoop (Handelinge 19:1-7) en toe met die Jode vir drie maande lank geredeneer oor die koninkryk van God (Handelinge 19:9-10). Daarna gee Paulus lering vir twee jaar in die skool van Tiránnus sodat ‘al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke’ (Handelinge 19:10; vgl. v 20). Aangesien die evangelie van Christus eksklusiewe eise stel, was dit net ʼn kwessie van tyd voordat daar ‘geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan het nie’ (Handelinge 19:23). Die stad Efese was immers bekend vir okkultiese bedrywighede en daar was ʼn groot tempel wat ‘later geïdentifiseer is met Artemis van die Grieke en met Diana van die Romeine’ (Tenney 1985:293; eie vertaling). God het egter in Efese ‘buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen’ (Handelinge 19:11). Daardeur wys God sy gesag en soewereine mag oor siektes, bose geeste, afgode en towerye (vgl. Handelinge 19:12-19). Hoewel hulle die standbeelde maak wat hulle daarna aanbid, wou Demétrius en ander silwersmede hulle eie ‘weg’ en besighede beskerm deur ʼn groot oproer te veroorsaak (Handelinge 19:23-20:1). Paulus vertrek na Macedónië en Griekeland, maar oppad terug roep hy die ouderlinge van die kerk in Efese om hom by Miléte te ontmoet. Daar op die strand het Paulus ʼn lang en roerende afskeidsboodskap gelewer (Handelinge 20:15-38).

Struktuur en inhoud

Efesiërs 1-3 handel oor teologie en leerstellinge, terwyl Efesiërs 4-6 oor etiek of die toepassing van die leerstellinge gaan. Die doel van Efesiërs is om ‘die verborgenheid van die Kerk (1:9; 3:3-4, 9; 5:32; 6:19)’ te verduidelik (Bailey & Constable 1999:396; eie vertaling). Die tema van liefde word ook beklemtoon: die woord vir liefde (die werkwoord en die naamwoord) kom 19 keer in Efesiërs voor (Hoehner 1983:614). Liefde is beslis nodig om die eenheid tussen Jode en heidene in die liggaam van Christus te bewaar. Later herinner die Here die Efesiërs aan hul eerste liefde (Openbaring 2:4).

Hoehner (2002:61-62; eie vertaling) gee ʼn goeie uiteensetting van Efesiërs 1-3: ‘Na die inleiding (1:1-2) word uitgebreide lof aan God gebring vir al die geestelike seëninge wat in Christus ontvang is (1:3-14), onmiddellik opgevolg deur lesers te prys vir hulle geloof en liefde asook ʼn petisie vir wysheid en openbaring (1:15-23). Lesers word herinner aan hul verhouding met God vóór en ná hulle bekering (2:1-10) asook die nuwe eenheid van Joodse en nie-Joodse gelowiges wat albei tot een nuwe mens gemaak is, die Kerk (2:11-22). Gevolglik is daar nie net versoening van die mens tot God nie, maar ook tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges. Na hierdie verduideliking beskryf Paulus die verborgenheid van die eenheid van Joodse en nie-Joodse gelowiges in Christus asook Paulus se bediening om hierdie verborgenheid aan die nie-Jode bekend te maak (3:1-13). Hy sluit die eerste deel van Efésiërs [1-3] af deur te bid dat gelowiges in liefde versterk sal word sodat die eenheid van Joodse en nie-Joodse gelowiges in God se krag (3:14-21) behou kan word’.

Efesiërs 4-6 gefokus op die toepassing van die leerstellige waarhede. Hierdie gedeelte kan in ses afdelings onderverdeel word waarvan vyf die woord “wandel” bevat:

(1) Wandel in die eenheid (4:1-16).
(2) Wandel in heiligheid en nie soos die heidene nie (4:17-32).
(3) Wandel in liefde deur God na te volg en bose praktyke te vermy (5:1-6).
(4) Wandel in die lig deur nie betrokke te raak by kwaaddoeners en hul werke nie (5:7-14).
(5) Wandel in wysheid onder die beheer van die Heilige Gees in jou huishoudelike en openbare lewe (5:15-6:9).

Dit brief begin met geestelike seëninge (1:3-14) maar fokus laastens op geestelike oorlogvoering (6:10-20), gevolg deur die slot (6:21-24).

Verborgenheid en slot

ʼn Nuwe-Testamentiese verborgenheid is nie ʼn onverklaarbare raaisel of ʼn ingewikkelde probleem nie, maar is iets wat God nou direk geopenbaar het (3:3-6). Op die oomblik is God besig om Joodse en nie-Joodse gelowiges in een liggaam, die bruid van Christus (3:3-7; 5:32), te verenig. In die toekoms, soos die ander gevangenis briewe ook duidelik maak, sal elke knie voor Christus buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is (Filippense 2:9-10; vgl. Kolossense 1:20). Uiteindelik sal God alle dinge in die hemele en op die aarde in Christus verenig (1:9-10).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Ger, S., 2004, The Book of Acts: Witnesses to the World, AMG Publishers, Chattanooga.

Hoehner, H.W., 1983, ‘Ephesians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 613-645, David C Cook, Colorado Springs.

Hoehner, H.W., 2002, Ephesians: An Exegetical Commentary, Baker Academic, Grand Rapids.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, Revised Edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']