Eksodus

Deur te begin met die woorde ‘Hier volg die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte toe gekom het’ (Eksodus 1:1), verbind Eksodus naatloos met Genesis en sy verskillende ‘tôledôts’ (‘hierdie is die afstammelinge of geslagte van…’). Verder eindig Genesis met die dood van Jakob en Josef, maar Eksodus gaan voort met die kinders van Israel (Genesis 50; Eksodus 1:1-7). Die Hebreeuse titel van Eksodus is w’elleh semot, gebaseer op die eerste paar woorde van die boek, terwyl die Afrikaanse titel ʼn transliterasie van die Griekse woord exodus is. Dit word in die Septuagint gebruik en beteken ‘uittog’, ‘die weg uit’ of ‘vertrek’. Die kinders van Israel was in Egipte vir 430 jaar (Eksodus 12:40), maar soos God voorheen aan Abraham belowe het (Genesis 15:13), het hy hulle uit Egipte verlos deur ʼn weg uit te bied. Teen die einde van Eksodus het God nie net die volk uit Egipte gered nie, maar het Hy ook ʼn voorwaardelike verbond met Israel gesluit (hoofstukke 19-24) en saam met hulle gewoon, want die ‘…wolk van die Here was bedags oor die tabernakel en snags het dit ʼn vuur daarbo-oor geword’ (Eksodus 40:38).

. . .

Die struktuur van Eksodus

Eksodus kan na gelang van hetsy ʼn geografiese of tematiese verdeling gestruktureer word. Volgens Merrill, Rooker en Grisanti (2011:192), kan ʼn uiteensetting volgens die geografiese progressie van God se betrokkenheid by Israel soos volg lyk: Israel in Egipte (hoofstukke 1:1-13:16), Israel se reis uit Egipte na die Sinaiberg (13:17-18:27), gevolg deur God se openbaring aan Israel by Sinai (19-40). ʼn Tematiese uiteensetting kan fokus op ʼn inleiding (1:1-2:14), die verlossing van Israel uit Egipte (hoofstukke 2:15-18:27), gevolg deur God se aanneem van Israel as sy volkseun (19-40). Constable (2016:5) lig die werk van Ted Grove uit, wat die volgende oorkruisstrukture (ook bekend as chiastiese strukture) in Eksodus identifiseer:

Inleiding 1:1-2:14
Die bevryding van Israel 2:15-18:27
A Midian: Moses se roeping 2:15-4:28
    B Die vyand: Egipte word verslaan 4:29-15:21
      C Water: Van bitter tot soet & 12 fonteine 15:22-27
        D Kos: manna en kwartels 16:1-36
      C’ Water: Uit ʼn klip 17:1-7
    B’ Vyand: Amalek verslaan 17:8-16
A’ Midian: Moses luister na wyse raad 18:1-27

God neem Israel aan as volkseun 19:1-40:38
A Verbond word gesluit 19:1-24:11
    B Tabernakel word beplan 24:12—27:21
      C Priesterlike instruksies 28:1-30:38
        D Vakmanne se instruksies 31:1-11
          E Sabbatsinstruksies 31:12-18
            F Die verbond word verbreek 32:1-35
            F’ Die verbond word hernu 33:1-34:35
          E’ Herinnering aan die Sabbat 35:1-3
        D’ Vakmanne en konstruksie 35:4-38:31
      C’ Priesters word voorberei 39:1-43
    B’ Die tabernakel word voltooi 40:1-33
A’ Die verbond word beseël 40:34-38

Die skrywer, datum en plek van Eksodus

Moses het van ongeveer 1525 tot 1405 vC geleef (Constable 2016:1; sien ook Zuber 2014:112). Hy het Eksodus moontlik geskryf gedurende die tyd wat Israel by die Sinaiberg kamp opgeslaan het, of hy kon dit gedurende hulle omswerwinge in die woestyn geskryf het, of op die vlaktes van Moab net voor sy dood. Wanneer ook al Moses die boek geskryf het (Eks 17:14; 24:4; 34:4, 27-29), hy het dit gedoen onder die inspirasie van God die Heilige Gees.

Die doel en hooftemas van Eksodus

Eksodus is die Ou Testament se ‘Bewysstuk A’ van die soewereiniteit en genade van God, wat sy verbondsbeloftes hou. ‘In ooreenstemming met die eerste deel van die boek, is die tema van bevryding uit slawerny – redding – sentraal in die teologie en geskiedenis van die OT’ (Zuber 2014:113, eie vertaling). Eksodus leer ons, soos min ander boeke dit doen, van die Persoon, karaktereienskappe en perfektheid van God. In die tweede deel van Eksodus sluit God ʼn verbond met Israel (as ʼn volk) en wys Hy nie net vir Israel hoe om Hom te dien nie, maar ook Sy begeerte om onder sy volk te woon. Dit is dieselfde EK IS wat vlees geword het en onder Israel kom woon en tabernakel het, wie se heerlikheid hulle gesien het, die heerlikheid soos van die Vader ontvang, vol genade en waarheid (Joh 1:14) – dieselfde God wat na die aarde sal terugkeer wanneer ʼn toekomstige Joodse geslag sê, “Geseënd is hy wat in die Naam van die Here kom!” (Matt 23:39; sien Hos 5:15-6:1; Sag 12:10).

———————————

Indien u meer oor hierdie onderwerp wil weet, oorweeg gerus om die volgende bronne te lees:

Constable, T.L., 2016, Notes on Exodus, 2016 edition.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Zuber, K.D., 2014, ‘Exodus’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 111-174, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']