Esegiël

Die naam ‘Eségiël’ beteken ‘God versterk’ of ‘God sal versterk’. As ʼn Leviet (1:3) sou Eségiël in die tempel begin werk het toe hy 30 jaar oud was. Eségiël was egter omtrent 25 jaar oud toe hy deel was van die tweede wegvoering na Babel in ongeveer 597 vC. Hoewel hy nooit as ʼn priester in die tempel opgetree het nie, is Eségiël op dertigjarige ouderdom geroep om as ʼn profeet van God te dien (1:1). God het vir Eségiël gesê dat Israel nie na hom sou luister nie en het hom daarom nie net versterk nie (3:4-11), maar Hy het Eségiël ook geïnspireer om hierdie boek te skryf, waarskynlik in ongeveer 575-570 vC.

. . .

Historiese agtergrond van Eségiël

Daniël was deel van die eerste wegvoering na Babel in 605 vC, Eségiël was deel van die tweede wegvoering na Babel in 597 vC (saam met 10 000 ander bekwame Jode), en toe Jerusalem in 586 vC geval het, het Jeremia die stad onder dwang verlaat. In Babel is die Joodse ballinge nie soos slawe behandel nie, maar het in ballingskap by die Kebarrivier gewoon (1:3; 3:15), Nebukadnésar se kanaal wat uit die Eufrates gevloei het (Feinberg 2003:11, 18). ʼn Mens kan amper die Joodse volk hoor sing: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween” (vgl. Psalm 137:1). Eségiël het dus oor ʼn tydperk van omtrent 20 tot 22 jaar (ongeveer 597-575 vC) sy profetiese roeping, visioene, simboliese handelinge en verskeie ander openbarings ontvang onderwyl hy buite die land Israel was. Terwyl die meeste van Jeremia se profesieë gelewer is onderwyl hy nog in die land Israel was, het beide Daniël en Eségiël as God se profete opgetree onderwyl hulle buite die land Israel was.

Eségiël se gehoor

Eségiël het opgetree onder Jode buite die land Israel, spesifiek die Jode in Tel-Abib by die Kebarrivier in Babel (2:3; 3:11, 15). Eségiël het sy toehoorders gewaarsku om nie vals profete te glo wat God se oordeel oor Jerusalem ontken het nie en hulle opgeroep om hulle te bekeer en terug te keer na God (Dyer & Rydelnik 2014:1204). God het egter ook deur Eségiël voorspel dat heidennasies geoordeel sou word (25-32) en dat Israel herstel sal word in die millennium koninkryk onder die Messias, in hul land en as ʼn geredde volk (33-48).

Die doel van Eségiël se boodskap

‘As die kern van Jesaja se boodskap die verlossing van die Here, dié van Jeremia die oordeel van die Here, en dié van Daniël die koninkryk van die Here is, dan het dié van Eségiël te doen met die heerlikheid van die Here’ (Feinberg 2003:12). Aanvanklik gaan die boek Eségiël oor oordeel, maar ná die val van Jerusalem in 586 vC en toe die volk in ballingskap was (genoem in 33:21), verander Eségiël se boodskap na ʼn boodskap van hoop (Rooker 2011:398). Die oorblyfsel van Israel is daaraan herinner dat hul enigste hoop in die heerlike karakter van die God van Israel geleë is, en daarom kom verwysings na God se heerlikheid dikwels in Eségiël voor (1:28; 3:12, 23; 8:4; 9:3; 10:4, 18-19; 11:22-23; 39:11, 21; 43:2-5; 44:4). Dit is daarom gepas dat Eségiël in die openingsdeel van die boek in ʼn visioen God se heerlikheid op die troon sien (1:4-2:7), later sien Eségiël in ʼn visioen hoe God se heerlikheid die tempel in Jerusalem verlaat (8-11), maar in die profetiese deel aan die einde van die boek keer die heerlikheid van God terug om die millennium tempel te vervul (43:1-12). Constable (2017:10) skryf, ‘vyftien keer het God gesê dat Hy opgetree het om sy Naam heilig te hou (20:9, 14, 22, 39, 44; 36:20-23; 39:7, 25; 43:7-8)’ en meer as ’60 keer het die Here gesê dat Hy opgetree het sodat die volk moes weet dat Hy Yahweh is’. In die lig van God se konsekwente karakter, is Eségiël opdrag gegee om ʼn boodskap van oordeel te lewer (bv. hoofstukke 2-3) maar later die opdrag gegee om ʼn boodskap van verlossing en hoop te lewer, gegrond op God se getrouheid aan sy verbonde en sy barmhartigheid aan diegene wat hulle na Hom wend (Dyer & Rydelnik 2014:1205). Eségiël se bediening was aan ‘al twaalf stamme en sy doel was tweeledig: (1) om hulle te herinner aan die sondes wat oordeel en ballingskap oor hulle gebring het; (2) om hul geloof op te wek en te versterk deur profesieë van toekomstige herstel en heerlikheid’ (Feinberg 2003:13).

Die struktuur van Eségiël

As Eségiël gestruktureer is volgens veertien spesifieke datums (vgl. Constable 2017:5-6), kan die boek volgens die volgende veertien gegroepeerde boodskappe ingedeel word: Een 1:1—3:15; Twee 3:16—7:27; Drie 8:1—19:14; Vier 20:1—23:49; Vyf 24:1—25:17; Ses 26:1—28:26; Sewe 29:1-16; Agt 29:17—30:19; Nege 30:20-26; Tien 31:1-18; Elf 32:1-16; Twaalf 32:17—33:20; Dertien 33:21—39:29; en Veertien 40:1—48:35.

Nog ʼn manier om Eségiël te struktureer, is logies-tematies en, as hierdie benadering gevolg word, kan die boek soos volg ingedeel word:

1. Die visioen van God se heerlikheid en Eségiël se roeping

1:1-3:15

2. Profesieë van oordeel oor Juda en Jerusalem

3:16-24:27

3. Profesieë van oordeel oor die heidennasies

25:1-32:32

4. Profesieë van Israel se herstel en seëning

33:1-39:29

5. Die visioen van Israel in die Messiaanse koninkryk

40:1-48:35

Dit is die moeite werd om te kyk na drie chiastiese strukture vir drie visioene wat raak aan die tema van God se heerlikheid. Parunak (1980:62-66) het die volgende chiastiese struktuur vir Eségiël 1:1-3:15 geïdentifiseer:

A Omstandighede van die visioen 1:1-3
B Goddelike ontmoeting: aankoms van die rytuig/“wiele” 1:4-28
    C Inleidende woord 2:1-2
      D Eerste opdrag en gerusstelling 2:3-8a
        E Bevestigende teken 2:8b—3:3
      D’ Tweede opdrag 3:4-11
    C’ Inleidende woord 3:12
B’ Goddelike ontmoeting: vertrek van die rytuig/“wiele” 3:13
A’ Omstandighede van die visioen 3:14-15

ʼn Tweede chiastiese struktuur wat Parunak (180:67-69) identifiseer, is vir Eségiël 8-11, waar die heerlikheid van God stadig wegtrek uit die tempel en uit Jerusalem: A 8:1-4; B 8:5-9:11; C 10:1-7; C’ 10:8-22; B’ 11:1-21; en A’ 11:22-25.

ʼn Derde chiastiese struktuur wat die moeite werd is om uit te lig, is geïdentifiseer deur Dorsey (1999:257), met betrekking tot Eségiël hoofstukke 40-48:

A Afmetings van die tempel 40:1-42:20
B Intrek van God se heerlikheid vanuit die ooste 43:1-12
    C Tempelregulasies 43:13-44:31
      D Afmetings van die land se heilige middelpunt 45:1-12
    C’ Tempelregulasies 45:13-46:24
B’ Uitstroom van rivier na die ooste 47:1-12
A’ Afmetings van die land 47:13-48:35

Die slotboodskap van Eségiël

Geskryf aan Jode buite die land, is Eségiël weliswaar ʼn moeilike boek, met sy vier visioene, tien simboliese handelinge, twee allegorieë (hoofstukke 16 en 23), vier gelykenisse, vier klaagliedere, apokaliptiese beelde, en verskeie persoonlike ervarings waaroor die Here Eségiël geïnspireer het om te skryf. Dit is met hartseer en droefheid dat ʼn mens in Eségiël 8-11 lees hoe God se heerlikheid die tempel in Jerusalem verlaat. Maar dieselfde Eségiël getuig van die loot van die geslagslyn van Dawid (17:22), die toekomstige geregtige Koning (21:27) en die Goeie Herder (34:11-16) wat vanuit die ooste en in heerlikheid na Jerusalem sal terugkeer (43:1-5). Die oomblik toe God se regverdige oordeel oor Jerusalem aan Eségiël gerapporteer is (33:21), het die boodskap in Eségiël verander van oordeel na hoop, van teenswoordige ballingskap na toekomstige herstel en heerlikheid. Baie jare later skryf Petrus aan Jode in verstrooiing buite die land (1 Petrus 1:1; 2 Petrus 3:1) en sê byna dieselfde ding, naamlik dat gelowiges moet ag slaan op die profetiese woord wat soos ʼn lamp in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester in ons harte opgaan (2 Petrus 1:19).

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Ezekiel, 2017 edition.
http://www.soniclight.com/constable/notes/pdf/ezekiel.pdf

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Dyer, C. with Rydelnik, E., 2014, ‘Ezekiel’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1203-1278, Moody Publishers, Chicago.

Feinberg, C.L., 2003, The prophecy of Ezekiel: The glory of God, Wipf & Stock Publishers, Eugene.

Rooker, M.F., 2011, ‘Ezekiel’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 394-404, B&H Publishing Group, Nashville.

Parunak, H. Van Dyke, 1980, “The Literary Architecture of Ezekiel’s mar’ot ‘elohim,” Journal of Biblical Literature 99(1), 61-74.

Illustrasie: http://www.freebibleimages.org/illustrations/ezekiel-calling/

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']