Ewige sekerheid (Deel 1)

Kan ʼn gelowige sy of haar redding verbeur, hetsy deur ʼn sondige daad of deur op te hou om te glo? In hierdie artikel bespreek ons die beginsels wat geld ten opsigte van die konsep van ewige sekerheid. Omdat ewige sekerheid ʼn belangrike onderwerp is, en daar baie daaroor gesê kan word, bespreek ons die saak in drie dele.

. . .

Wat word met “ewige sekerheid” bedoel?

Ewige sekerheid beteken dat iemand, sodra hy of sy waarlik gered is, nie sy of haar redding kan verbeur nie — nie deur ʼn spesifieke sonde te pleeg nie en ook nie deur op te hou om te glo nie. Dit wat die gelowige veilig en seker hou, is die werk van die Heilige Gees en die werk van God namens hom of haar – en nie ons eie werke nie.

Die volgende tien beginsels geld ten opsigte van die konsep van ewige sekerheid.

Redding is nie herhaalbaar nie

Redding is nie iets wat herhaal word nie. Die Bybel noem nie ʼn enkele geval van iemand wat gered is, sy of haar redding verbeur het, en toe op ʼn later stadium weer gered is nie. Net soos wat jy nie liggaamlik ongebore kan word nie, kan jy ook nie geestelik ongebore word nie

Die verhouding tussen redding en werke

As werke nodig is om redding te behou, is redding deur werke (vgl. Romeine 4:4-6; Galásiërs 2:21; 2 Timótheüs 1:9). Die Bybel leer egter konsekwent dat redding op grond van God se genade deur geloof sonder werke is.

Ware redding bring werke van geregtigheid voort

Redding is nie deur geloof plus werke nie, maar ʼn gelowige doen werke omdat hy of sy gered is (Matthéüs 7:17-20; Titus 2:11-12; Jakobus 2:14-24; 2 Petrus 1:5-10). Ware redding sal ʼn sekere mate van opregte werke van geregtigheid in ʼn mens se lewe voortbring.

Gelowiges se werke word beloon

Omdat redding ʼn gratis geskenk van God is (Romeine 6:23), verkry die gelowige nie sy of haar redding deur werke nie. Redding moet egter lei tot werke, en sodanige werke sal beloon word (1 Korinthiërs 3:10-15; Hebreërs 6:10).

Die basis van die vermanings om ʼn godvrugtige lewe te lei

Elke keer wanneer die Bybel gelowiges tot ʼn godvrugtige lewe vermaan, berus hierdie vermanings op dit wat God vir ons gedoen het en nie op die vrees/dreigement dat ons ons redding sal verbeur nie. Byvoorbeeld, Romeine 12:1-2 leer dat ons, op grond van “die ontferminge van God”, ons liggame as ʼn welgevallige offer aan God moet stel. Soortgelyk vermaan 2 Korinthiërs 5:15 die gelowige om nie uit selfsug te lewe nie – weer eens op grond van wat God vir ons gedoen het (en nie uit vrees om ons redding te verbeur nie). ʼn Laaste voorbeeld: Efésiërs 4-6 vermaan die gelowige – op grond van wat God vir ons gedoen het soos getoon in Efésiërs 1-3 – om waardig te wandel ten opsigte van die roeping waarmee ons geroep is.

Die verskil tussen posisie en praktyk

Hoewel die kerk in Korinthe posisioneel ʼn geheiligde kerk was (1 Korinthiërs 1:2), het hulle optrede in die praktyk dit nie dikwels weerspieël nie. Wanneer daar oor ewige sekerheid besin word, moet dit in gedagte gehou word dat daar ʼn verskil is tussen posisie en praktyk.

Volmaaktheid word nie in hierdie lewe bereik nie

As ons in hierdie lewe volmaaktheid moet bereik om redding te behou, is elke gelowige in die moeilikheid. Gelowiges sal nie in hierdie lewe ʼn staat van volmaaktheid bereik nie. Ons sondig steeds (vgl. 1 Johannes 1:8-10). Teen die einde van sy lewe het Paulus, in die teenwoordige tyd, verklaar dat hy ʼn sondaar is (1 Timótheüs 1:15). Aan die Filippense het Paulus geskryf dat hy nog nie volmaak is nie (3:12-14). Ons word nie gered omdat ons ʼn volmaakte lewe het (of sal hê) nie; ons word gered omdat Christus ʼn volmaakte lewe het. Ons sal volmaak wees wanneer ons ons verheerlikte liggame ontvang.

Die gevolge van sonde in die gelowige se lewe

Wat doen sonde in die gelowige se lewe? Dit verbreek ons gemeenskap met God (1 Johannes 1:6, 8, 10). Sodra ʼn mens glo, verkeer jy in ʼn ‘familieverhouding’ met God. Wanneer ʼn mens liggaamlik gebore word, word jy in ʼn familieverband gebore en sal jy altyd deel wees van daardie familie, selfs al raak verhoudings binne die familiekring soms gespanne of kom daar verwydering. In God se familie is dit ook so. Die gelowige kan samehorigheid en gemeenskap verbreek as gevolg van sonde, maar so ʼn gelowige bly deel van God se familie. Sonde verbreek dus gemeenskap maar nie redding nie.

Hardnekkige sonde toon ʼn gebrek aan bekering

ʼn Verdere beginsel van ewige sekerheid is dat hardnekkige en volgehoue sonde in ʼn mens se lewe ʼn aanduiding kan wees dat so iemand in die eerste plek nooit gered was nie, en nie dat so iemand sy of haar redding verbeur het nie (vgl. 1 Johannes 3:6-10). Weer eens, hardnekkige sonde kan ʼn aanduiding wees dat iemand nie gered is nie.

Leerstellige konsekwentheid

Leerstellige konsekwentheid is ʼn bewys van ware geloof (Kolossense 1:22-23; 2 Johannes 2). Wanneer iemand gered word, kan die persoon dalk nie weet dat Jesus uit ʼn maagd gebore is nie. Wanneer so ʼn gelowige dit egter wel leer, sal hy of sy dit geredelik aanvaar. As dit ontken word, kan dit dalk ʼn bewys wees dat die persoon in die eerste plek nie gered was nie. Leerstellige konsekwentheid is ʼn maatstaf vir ware geloof.

In die tweede deel van ons bespreking oor Ewige Sekerheid sal ons verskeie Bybelse bewyse vir ewige sekerheid bespreek.

———————————

As jy belangstel om meer oor hierdie onderwerp van ewige sekerheid te lees, oorweeg gerus om die volledige artikel, Ewige sekerheid deur dr. Fruchtenbaum te lees.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']