Ewige sekerheid (Deel 3)

In hierdie derde en laaste artikel oor Ewige sekerheid besin ons oor die sogenaamde “problematiese Skrifgedeeltes” wat dikwels aangehaal word wanneer hierdie saak bespreek word.

. . .

Verkeerde toepassing van dispensasies

In sommige gevalle praat die Bybelse teks nie van individuele gelowiges en hul redding nie, maar van (1) liggaamlike lewe en liggaamlike dood onder die Wet van Moses, of (2) oor familievergifnis en nie reddingvergifnis nie, of (3) oor Israel as ʼn volk. Onder die Wet van Moses (die Mosaïese verbond), het die genieting van liggaamlike lewe en die genieting van ʼn lang lewe berus op onderhouding van die Wet. Byvoorbeeld, Moses het die grootste deel van sy lewe aan God se standaarde vir geregtigheid voldoen. Een dag, egter, was hy ongehoorsaam aan God, en is gestraf met liggaamlike dood buite die Beloofde Land. Het Moses sy redding verbeur? Nee, hy het nie. Redding is altyd op grond van genade deur geloof plus niks meer nie. Redding is nooit deur middel van werke nie. Onder die Wet van Moses was sekere dade strafbaar met liggaamlike dood, maar dit beteken nie noodwendig dat daardie mens sy of haar redding verbeur het nie.

Direk nadat Jesus ʼn gelykenis oor vergifnis vertel het, sê hy in Matthéüs 18:35, “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortreding vergewe nie”. Die kwessie hier is familievergifnis, nie reddingvergifnis nie. Die manier waarop ʼn mens in God se familie kom, is deur reddingvergifnis. Sodra die gelowige egter in die familie opgeneem is, kan sonde in sy/haar lewe onmin veroorsaak in die verhoudings van God se familie. Die gelowige kan deur middel van belydenis familievergifnis ontvang (1 Johannes 1:9). Die punt in Matthéüs 18:21-35 is egter dat ʼn mens nie familievergifnis sal ontvang deur sondebelydenis as jy nie bereid is om jou broer en suster te vergewe wat jou leed aangedoen of jou aanstoot gegee het nie. Matthéüs 18:21-35 handel dus oor familievergifnis, nie oor reddingvergifnis nie. Dit gaan nie oor verbeuring van ʼn mens se redding nie.

Vals apostels, vals profete, vals leraars

Bybelgedeeltes oor ongeredde mense word soms verkeerdelik toegepas op gelowiges, met die gevolg dat verkeerde afleidings gemaak word. Byvoorbeeld, die einde van vals apostels sal volgens hul werke wees (2 Korinthiërs 11:13-15). Sulke vals apostels was in die eerste plek nooit gered nie en hulle einde sal in die poel van vuur wees. Hierdie teksgedeelte leer egter nie dat gelowiges hul redding sal verbeur nie. Vals leraars sal na jou toe kom in skaapsklere, maar van binne is hulle roofsugtige wolwe (Matthéüs 7:15). Weer eens, hierdie wolwe was in die eerste plek nooit skape nie (hulle is ongered), en hul einde moet dus nie toegepas word op Christus se skape nie. Dieselfde kan gesê word van vals leraars wat ongered bly (vgl. 1 Timótheüs 4:1-2). Die feit dat vals leraars nooit redding gehad het nie, beteken nie dat gelowiges hul redding kan verbeur nie.

Skrifgedeeltes aangaande die vrug van redding

ʼn Ander kategorie van Skrifgedeeltes wat mense soms gebruik om te probeer wys dat dit moontlik is vir ʼn mens om sy/haar redding te verbeur, is teksgedeeltes wat handel oor die bewyse van redding. Byvoorbeeld, in Johannes 8:31, sê Jesus vir “die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels”. Hierdie vers handel oor dissipelskap. ʼn Mens word gered deur geloof maar word ʼn dissipel deur gehoorsaamheid. Hierdie Jode het geloof gehad, en het dus persoonlike redding gehad, maar as hulle waarlik en ten volle dissipels wou word, moes hulle Christus se gebooie onderhou. Nog ʼn voorbeeld is Johannes 15:6 waar Jesus nie praat oor die verbeuring van redding nie, maar oor die dra van vrugte. Diegene wat vrug dra, sal beloon word; diegene wat nie vrug dra nie, sal nie beloon word nie.

Aangaande die ‘as’-sinsnedes in die boek Hebreërs

Daar is mense wat die ‘as’-sinsnedes in Hebreërs (2:3; 3:6, 14; 6:3; 10:26, 38) gebruik om te leer dit is moontlik dat gelowiges hul redding kan verbeur. Hierdie ‘as’-sinsnedes handel egter oor die nastreef van geestelike volwassenheid en Goddelike dissiplinering van gelowiges, nie oor verbeuring van ʼn mens se redding nie. Om nie geestelike volwassenheid te bekom en nie ag te slaan op hierdie waarskuwings in Hebreërs nie, sal nie uitloop op geestelike dood nie, maar kan uitloop op liggaamlike dood.

Aangaande verbeurde belonings

Gelowiges van die Kerkbedeling sal voor Christus se Regterstoel (bema-troon) verskyn. Aangesien daar geen veroordeling is vir diegene wat in Christus is nie (Romeine 8:1), is die kwessie voor die Regterstoel van Christus nie redding nie, maar belonings. Die werke van sommige gelowiges sal verbrand word en hy (of sy) sal verlies ly; maar hy (of sy) self sal gered word; maar soos deur vuur heen (1 Korinthiërs 3:15). Ander werke mag beloon word. Hierdie spesifieke vers wat deur sommige gebruik word om te leer dat ʼn mens jou redding kan verbeur, leer inderwaarheid presies die teenoorgestelde. Sommige werke van sommige gelowiges sal verbrand word en hulle sal belonings verbeur, maar nie hul redding nie.

Wanneer ʼn gelowige gered word op grond van God se genade deur geloof (plus niks meer nie), kan jy nie jou redding verbeur nie, want ons word deur die mag van God bewaar.

———————————

As jy belangstel om meer oor hierdie onderwerp van ewige sekerheid asook sogenaamde “problematiese Skrifgedeeltes” te lees, oorweeg gerus om die volledige artikel, Ewige sekerheid deur dr. Fruchtenbaum te lees.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']