Galásiërs

Die vroeë Kerk het oorwegend uit Joodse gelowiges in Christus bestaan (Handelinge 2-7). Soos wat die groot opdrag vanaf Jerusalem en Judea uitbeweeg het, het Samaritane en heidene ook tot geloof in Jesus Christus gekom (Handelinge 8-11; vgl. 1:8). Nadat die Heilige Gees vir Barnabas en Paulus opsy gesit het vir die eerste sendingreis (Handelinge 13:1-4), het meer en meer nie-Jode tot geloof in die Here Jesus Christus gekom en hulle het ook die Heilige Gees ontvang (vgl. Handelinge 15:8). Maar al agter Paulus en Barnabas het die Judaïseerders gekom en valslik geleer dat niemand gered kan word tensy hulle nie volgens die Wet van Moses besny is nie (Handelinge 13:45, 50; 14:2, 19; 15:1, 5). Indien die groot opdrag na die uiterste van die aarde moes uitbrei, was “gehoorsaamheid aan die wet [van Moses] bykomend tot geloof in Christus nodig vir redding? As die heidene die Wet nie hoef na te kom nie, wat is dan die verhouding tussen verlossing deur geloof en etiese gedrag?” (Tenney 1985:264; eie vertaling).

Tema en inhoud

Judaïseerders probeer om gelowiges se vryheid in Christus Jesus te beperk deur die evangelie te verdraai (1:8; 2:4). Paulus skryf ʼn streng en emosie-belaaide brief. Galásiërs staan bekend as die Manifes van Christelike Vryheid: “Die brief verduidelik dié vryheid: die aard hiervan, haar wette en haar vyande” (Bailey & Constable 1999:376; eie vertaling). Paulus verdedig hierdie vryheid met alles wat hy het (5:1, 13). Ons word gered in genade deur die geloof in Jesus Christus … plus niks. Gelowiges in Christus, hetsy Joodse of nie-Joodse gelowiges, hoef nie volgens die Wet van Moses besny te word nie. Joodse baba-seuntjies behoort egter steeds ingevolge die onvoorwaardelike verbond met Abraham op die 8ste dag besny word.

Jakobus is om en by 45-50 n.C. spesifiek vir Jode geskryf en beantwoord dié vraag: geloof behoort tot werke te lei. Galásiërs 2:16a antwoord die ander vraag, naamlik dat ‘die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus’. Hoewel geloof tot vrug behoort te lei, is dit die aanvaarding en persoonlike vertroue in Christus se plaasvervangende dood, sy begrafnis en opstanding uit die dood, wat verlossing bring, en dit alleen (Fruchtenbaum 2005:5).

Oorspronklike gehoor en datum

Paulus skryf die Galásiërs-brief nie aan ʼn individu of ʼn spesifieke plaaslike kerk nie, maar aan die ‘gemeentes van Galásië’ (Galásiërs 1:2). Paulus en Barnabas het tydens die eerste sendingreis plaaslike kerke in die suidelike provinsie van Galásië in Ikónium, Listre, Derbe en Antiochíë in Pisídië gestig (Handelinge 13:13-14:28; vgl. Campbell 1983:588). Paulus herbesoek hierdie gemeentes in Galásië tydens sy tweede (Handelinge 15:36-18:22) en derde (Handelnge 18:23-20:38) sendingreise. Galásiërs is in 48-49 n.C. net vóór die vergadering in Jerusalem geskryf (vgl. Handelinge 15; Tenney 1985:270).

Struktuur en inhoudelike oorsig

Tenney (1985:272) se uiteensetting van Galásiërs is goed:

   Inleiding (1:1-9)
   Die biografiese argument: ʼn onafhanklike openbaring (1:10-2:21)
   Die teologiese argument: die mislukking van wettisisme (3:1-4:31)
   Die praktiese argument: die effek van vryheid (5:1-6:10)
   Gevolgtrekking (6:11-18)

Paulus wys dadelik wat die basis van vryheid is (1:1-5) asook hoe hierdie vryheid uitgedaag word (1:6-9). Paulus se biografiese argument gaan oor die bron of oorsprong van die evangelie. Paulus het die evangelie en die inhoud daarvan nie van ʼn mens, deur ʼn mens, van die kerke in Judea of van ander apostels ontvang nie, maar hy het die evangelie deur ʼn openbaring van Jesus Christus ontvang (vgl. 1:12). ʼn Oorsig van “Paulus se bekering en vroeë bediening ondersteun die Goddelike oorsprong van sy evangelie en sy bediening, iets wat sy teëstanders in Galásië wou ondermyn” (Bailey & Constable 1999:381; eie vertaling).

Paulus se teologiese argument regverdig die leer van verlossing deur geloof alleen (hoofstuk 3) voordat dit in meer detail verduidelik word (hoofstuk 4). Bailey & Constable (1999:385; eie vertaling) se siening word ondersteun: ‘Christene leef onder ʼn nuwe gedragskode in vergelyking met die Israeliete wat onder die Wet van Moses geleef het. … Ons leef onder die Nuwe Verbond, die Wet van Christus (6:2). Dit bestaan uit alles wat Jesus direk tydens sy aardse bediening geleer het en wat indirek deur sy apostels in die Nuwe Testament bevestig is nadat Hy na die hemel teruggekeer het’.

Paulus se praktiese argument (5:1-6: 10) is die volgende: selfs al leef Christene sonder die Wet van Moses (5:1-12), beteken dit nie ʼn losbandige lewe nie (5:13-15). In stede hiervan leef Christene onder die Wet van Christus en word deur die Heilige Gees gelei (5:18, 25) om vrug van die Gees te dra (5:22-23). Christene het duidelike verantwoordelikhede (6:1-10). Na hierdie praktiese gedeelte volg die slot (6:11-18) waarin die beweegrede van vryheid (die kruis) uitgespel word (6:11-16), die prys van hierdie vryheid (lyding) genoem word (6:17) — asook hierdie vryheid se seën (6:18).

Toepassing vandag en slotopmerking

Vandag is daar steeds Judaïseerders wat agteraf loop en ʼn ander evangelie van ʼn ander aard leer. Wat verlossing betref het hulle altyd ʼn soort van “evangelie plus” lering, waar die “plus” altyd op menslike werke neerkom. Hul resultate is altyd rampspoedig want dit lei nie tot redding nie, maar tot verdere slawerny en duisternis. Maar volgens Bailey & Constable (1999:381; eie vertaling), wanneer ʼn ‘persoon op Christus vertrou, identifiseer God hierdie persoon met Christus nie net in die hede en die toekoms nie, maar ook in die verlede. Die gelowige het gedoen wat Christus gedoen het. So elke Christen kan sê, “Toe Christus gesterf het, het ek gesterf. Toe Christus uit die graf opgestaan het, het ek in ʼn nuwe lewe opgestaan. My ou self-gesentreerde lewe het gesterf toe ek saam met Christus gesterf het. Sy Gees-gerigte lewe het in my begin toe ek met Christus opgestaan het.” Daarom, en in hierdie sin, is die Christen se lewe regtig die lewe van Christus (2:20).”

Die ware evangelie het die groot opdrag na die uiterste van die aarde gelanseer. Dieselfde ware evangelie het die Reformasie gelanseer toe daar weer vir ʼn totaal-afvallige ‘kerk’ geleer is dat verlossing in genade deur die geloof in Christus alleen is. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Galásiërs 5:1).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Campbell, D.K., 1983, ‘Galatians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 587-612, David C Cook, Colorado Springs.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘The Book of Galatians’, MBS126, pp. 1-40, Ariel Ministries.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']