Geesbeheerde gee onder genade

Ons het reeds die Bybelse beginsels ten opsigte van gee bespreek, en vandag vra ons: Hoeveel moet gegee word? Om by ’n Bybelse antwoord uit te kom, moet ons eers vasstel wat ons verantwoordelikhede is ten opsigte van die Nuwe Verbond, waarna ons verder vra watter prosedure hedendaagse gelowiges behoort te volg wanneer hulle gee.

. . .

Die grondliggende saak

Hedendaagse gelowiges is nie onder die Mosaïese Verbond soos uiteengesit in die Wet van Moses nie, maar ons is onder die Nuwe Verbond soos uiteengesit in die Wet van Christus. Dit is die rede waarom hedendaagse gelowiges nie staan onder die Mosaïese Wet en die voorskrifte oor die tiende nie. Hedendaagse gelowiges gee op die basis van die Nuwe-Testamentiese beginsel, naamlik genadegawes of Geesbeheerde gawes.

Die ou stelsel van die tiende onder die Wet van Moses

Die klinkklare lering van die Nuwe Testament is dat die Wet van Moses met die dood van Christus opgehef is. Dit is duidelik uit Romeine 10:4: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo”. Galásiërs 3:19 sê dat die Wet van Moses ʼn byvoeging was tot die Abrahamitiese Verbond, vir die doel om sonde baie duidelik uit te wys sodat almal kan weet dat hulle tekort skiet aan God se standaard vir geregtigheid: “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom”. Die Wet van Moses is tydelik bygevoeg totdat die Saad, dit is die Messias, sou kom; noudat Hy gekom het, is die Wet by die kruis van Christus opgehef omdat Jesus deur sy dood die Wet van Moses vervul het. Dit moet ook genoem word dat nie-Jode nooit onder die Mosaïese Verbond (Wet van Moses) was nie, net Israel was. Die Mosaïese Verbond (Wet van Moses) was dus geldig vanaf Berg Sinai tot met die kruis van Christus.

Hoeveel was Jode in daardie tyd veronderstel om volgens die Wet van Moses te gee?

Die Mosaïese Verbond het die volgende soorte tiendes en offergawes omvat:

  • Jode moes ʼn tiende van al die eerste opbrengste van die land en eersgeborenes van die vee (of die finansiële ekwivalent daarvan) aan die Leviete gee word (Levítikus 27:30-33; Númeri 18:21-24). Op hul beurt moes die Leviete ʼn tiende hiervan aan die priesters afgee (Númeri 18:26-28);
  • Van dit wat oorgebly het (of die finansiële ekwivalent daarvan) moes die Jode ʼn tiende na die tempel in Jerusalem bring (Deuteronómium 12:5-7, 10-19; 14:22-26). Diegene wat ver van Jerusalem af gewoon het, het waarskynlik hierdie tiendes tydens die verpligte feesdae gebring; en
  • Elke derde jaar moes die Jode ʼn tiende gee vir die armes (Deuteronómium 14:28-29).

Die algehele tiendes het dus nie 10% van inkomste beloop soos wat algemeen veronderstel word nie, maar was nader aan 22,33%. Dit word bereken as 10% (die eerstelinge) plus 9% (synde 100 minus die eerste tiende van 10=90*10% = 9%) plus 3,33% (synde 10%/3).

Wat dan van ons vandag?

Hedendaagse gelowiges staan doodeenvoudig nie onder die ‘stelsel’ van die tiende van die Wet van Moses nie. Bring ons geld na Joodse mans van die stam van Levi wat dit dan aan ander Joodse priesters van die stam van Levi gee wat dan verskeie offergawes bring op ʼn altaar op die tempelberg in Jerusalem? Nee. Wat van die skathuis wat in Maleági 3:8-10 genoem word? Weer eens, toe Maleági dit geskryf het, was die Wet van Moses nog geldig en die skathuis was die tempel in Jerusalem. Moet ons vandag ‘tiendes’ (die volle 22,33% daarvan) na die tempel in Jerusalem bring – in ʼn tyd wanneer Christus reeds sy bloed aan die kruis gestort het, wat die Wet van Moses opgehef het? Nee. Wat van Abraham; het hy nie ʼn tiende gegee nie (Génesis 14:17-20)? Ja, hy het, maar hy het dit uit eie vrye wil gegee, want hy was onder geen verpligting om dit te doen nie. Wat meer is, hy het gegee van oorlogsbuit, net een keer, en nie van sy eie besittings nie. Hierdie eenmalige insident kan nie gebruik word om ten gunste van verpligte ‘tiendes’ (wat in elk geval nooit 10% was nie) te argumenteer nie.

Geesbeheerde gee onder genade

Hedendaagse gelowiges staan nie onder die wet nie maar onder die genade, en daarom moet ons deur die Heilige Gees gelei word – en dié leiding sluit wat ons gee in (Romeine 6:14; Galásiërs 5:18). Handelinge 4:32-35 gee ʼn goeie voorbeeld van gelowiges onder genade wat gegee het soos hulle gelei was om te gee: geen spesifieke, verpligte wette is voorgeskryf nie; geen spesifieke persentasies nie. Die beginsel is dat die gelowige nie onder die Wet van Moses is nie maar onder die genade, en daarom gee ons genadegawes of Geesbeheerde gawes.

Die prosedure

Watter prosedure moet hedendaagse gelowiges volg vir Geesbeheerde genadegawes? 1 Korinthiërs 16:1-2 help ons. Een, gee moet sistematies geskied, nie lukraak nie, want ons moet op ʼn gereelde basis geld wegsit om te kan gee (vgl. 1 Korinthiërs 16:1). Twee, volgens hierdie Skrifgedeelte moet ons individueel gee (“elkeen van julle”). Elkeen moet gee. Drie, ons moet “self opsy sit en opspaar” en dit gebeur in privaatheid. Die beeld is dat die geld wat ʼn mens besluit om vir die Here te gee in ʼn spesifieke, persoonlike plek (of rekening) weggesit moet word. Dan kan die opgespaarde geld deur die individuele gelowige uitgedeel word soos die Heilige Gees lei. Vier, gawes moet proporsioneel gegee word na die mate wat die Here ʼn mens voorspoedig maak. Weer eens, Geesbeheerde gawes is nie gebaseer op tiendes nie. In gevalle waar ʼn mens se behoeftes vervul is, kan jy honderd persent gee. Die bedrag of gedeelte wat die gelowige gee sal op verskillende tye verskillend wees.

Ter opsomming: Israel onder die Wet van Moses moes tiendes betaal. As daar nie hieraan voldoen is nie, het toorn en oordeel gevolg. Vandag gee gelowiges onder die genade van die Wet van Christus soos hulle deur die Heilige Gees gelei word. As hedendaagse gelowiges nie gee nie, sal hulle loon verbeur wat hulle andersins sou ontvang het.

———————————

As jy belangstel in meer inligting oor wat die Bybelse sê oor gee aan ander, oorweeg gerus om die artikel, Die Bybelse beginsel om te gee deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']