Geloof wat die verstand lei

Wat sê die Bybel was Abraham se redenasieproses toe God hom beveel het om Isak te offer (Gen 22:1-2; Heb 11:17-19)? Waarom het Jesus sy dissipels berispe as “kleingelowiges” toe hulle nie verstaan het waaroor die suurdeeg van die godsdienstige leiers gaan nie? Wat is die verhouding tussen geloof en verstand?

Die stand van sake

Nie een mens is werklik neutraal nie, want elke mens funksioneer vanuit ʼn hartsoriëntasie, vanuit diepliggende, nie-neutrale oortuiginge. Alle mense is gevalle (Rom 3:23; Ef 2:1-3) en in so ʼn ongeredde toestand is menslike denke in vyandskap met God (Rom 8:7, vgl 12:1-2). Die ongelowige wêreld kyk na Bybelse geloof en sê dit is irrasioneel, feiteloos en ‘onwetenskaplik’. Die skrywer van Hebreërs sê egter dat deur ‘die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie’ (Heb 11:3). As jou wêreldbeskouing slegs die materiële wêreld ‘toelaat’, slegs die fisiese, dan kan die mens nie verstaan dat wat ons kan sien júís nie ontstaan het uit sienlike dinge nie. Weergebore gelowiges se denke moet in lyn met God se geopenbaarde wil gebring word (Rom 12:2), vernuwe tot kennis na die beeld van sy Skepper (Kol 3:10). Christene se hartsoriëntasie, ons uiteindelike oortuiginge, is verander van die sondige self en ander afgode ná God toe, ná ons Skepper en Verlosser. In ʼn lewende verhouding met God, deur Jesus Christus en bemagtig deur die Heilige Gees, behoort ons geloof ons hele lewe te lei, ook ons denkvermoëns, want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb 11:6).

Voorbeelde van geloof wat die verstand lei

Wat was Abraham se redenasieproses toe God hom beveel het om Isak te offer? Hebreërs 11:17-19 stel dit so:

Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.

Hebreërs 11:17 begin met “deur geloof het Abraham”. Dit was Abraham se geloof wat sy redenasieproses en daaropvolgende handelinge gelei het. Abraham het nie onafhanklik van die geopenbaarde woord van God geredeneer nie, maar Abraham se geloof het sy redenasieproses gelei om God se openbaring te gehoorsaam. Wat het Abraham nie gedoen nie? Hy het nie God se Woord probeer weg-geredeneer nie. Hy het nie geredeneer dalk kan hy die opdrag ignoreer omdat dit dalk net ʼn tipe of ʼn simboliese gebaar is nie. Abraham se geloof het sy verstand gelei om ʼn korrekte redenasieproses te volg. God het die opdrag vir Abraham gegee, Abraham se nageslag sal deur Isak genoem word en daarom sal God vir Isak uit die dood moet opwek om die belofte waar te maak. Abraham het duidelik sy verstand gebruik, maar hierdie verstand en denkvermoë was die dienaar van sy geloof in God — en sy geloof is gelei deur God se Woord. Abraham se geloof het God behaag (vgl. Heb 11:6).

Nog ʼn voorbeeld: Jesus waarsku sy dissipels teen die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Mat 16:6). Die dissipels redeneer Jesus verwys na fisiese brood, maar die Here het hulle gewaarsku oor die valse lering van die godsdienstige leiers (Mat 16:7). Hier is Jesus se repliek: “Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie?” (Mat 16:8). Waarom spreek Jesus hulle as kleingelowiges aan? As die dissipels toelaat dat hulle geloof hul verstand en redenasievermoë lei, sal die resultate van hulle denkproses verbeter, in lyn kom met God se geopenbaarde woord. Henebury (2014:11) som dit as volg op:

Clearly the reasoning of the disciples was faulty and brought forth a righteously indignant response from Jesus. They were reasoning this way because faith was not guiding their reason. Notice that Jesus does not explain His meaning to them in verse 11, but simply repeats the warning of verse 6. That was because there was sufficient information in what He said to them for them to gain the right understanding — provided they let faith guide their reason!

Slotopmerkings

Deur die geloof kyk ons terug en verstaan dat God die wêreld deur Sy Woord toeberei het (vgl. Heb 11:3). Wat die hede en die toekoms betref, die geloof is ʼn ‘vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie’ (Heb 11:1). Wat God onvoorwaardelik in die Bybel belowe het, sal gebeur presies soos God gesê het. Daarom ‘laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof’ (Heb 12:1-2).

Bron

Paul Martin Henebury se artikel “Faith and Reason in Christian Perspective” is gebruik as bron.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']