ʼn Gelykenis vir Plato en Augustinus

Augustinus, die vader van amillennialisme, was deur Plato se filosofie beïnvloed. Wat het Plato geleer? Hoe vergelyk hierdie Griekse filosofie met God se Woord, spesifiek wat die lering oor die koninkryk betref? Is die koninkryk van God slegs geestelik?

Die filosofie van Plato

Plato was ʼn Griekse filosoof wat byna 2500 jaar gelede geleef het (427-347 BC). Vlach (2017:563, eie vertaling) som Plato se idees op:

Plato was een van die eerste filosowe wat gesê het dat die werklikheid primêr idealisties of abstrak is. In sy “teorie van vorme” beweer hy dat die uiteindelike werklikheid nie in objekte en konsepte wat ons op die aarde beleef te vinde is nie. Daarom glo hy dat die werklikheid gevind kan word in “vorme” en “idees” wat ons fisiese wêreld transendeer. Hierdie vorme funksioneer as perfekte universele bloudrukke vir alles wat ons in die wêreld ervaar. Een resultaat van Platoniese filosofie is die geloof dat materie ondergeskik aan die geestelike is. Daarom is daar ʼn dualisme tussen die immateriële en die materiële.

Party volgelinge van Plato se filosofie glo dat “God se uiteindelike doelwitte behels die ontvlugting van die “vleeslike” fisiese wêreld na ʼn heerlike geestelike bestaan iewers in die lug” (Vlach 2017:64, eie vertaling). Anti-materiële sieninge is egter verkeerd, die materiële/fisiese is nie sleg nie; trouens, in God se skepping is daar harmonie tussen die immateriële en die materiële (ibid). Tog het Platoniese ontvlugting die Kerk binnegedring deur Augustinus se koninkrykslering. Gevolglik dink baie dat die premillennialistiese lering van ʼn goddelike koninkryk wat op die aarde gevestig gaan word, met politiese en fisiese aspekte, bloot vleeslike materialisme is (McClain 1956:16, eie vertaling).

Augustinus en amillennialisme

Augustinus (354–430) was erg deur Platoniese en Neo-Platoniese filosofieë beïnvloed. Soos Klemens van Aleksandrië en Origines voor hom, het Augustinus ook Griekse filosofie met teologie gemeng. Naby die einde van sy lewe het Augustinus hom van sommige Platoniese denke gedistansieer, maar Augustinus was ongetwyfeld skuldig aan die onkritiese aanvaarding van Platoniese en Neo-Platoniese filosofieë (Geisler 1999:116). Byvoorbeeld, Augustinus het Plato se lering oor herinneringe van idees uit ʼn vorige bestaan nagevolg (ibid). Dit is egter Augustinus se valse lering oor die koninkryk wat steeds verwoesting saai. Viviano (aangehaal in Vlach 2017:566, eie vertaling) sê dat Augustinus Neo-Platoniese filosofie aanvaar het wat “hoogs geestelik en anders-wêrelds was, ʼn filosofie wat op die een en die ewige gefokus het, waar die materiële en die historiese-voorwaardelike geskiedenis as mindere fases beskou is in die opstyging van die siel in haar eenheid met die een.” ʼn Toekomstige koninkryk op die aarde pas natuurlik glad nie in by hierdie eskatologie wat skynbaar na ʼn geestelike sfeer toe wil opstyg nie. Viviano (ibid, eie vertaling) som die impak van Augustinus se Platoniese denke op lering oor die koninkryk van God só op:

Augustinus was aangetrokke tot die geestelike interpretasie van die koninkryk wat reeds in Origines bespeur is. Vir Augustinus bestaan die koninkryk van God uiteindelik in die ewige lewe met God in die hemel. Vir hom is dit die civitas dei, die stad van God — in teenstelling met die civitas terrena.

Die goeie Skepper en sy goeie skepping

Toe God die hemele en die aarde geskep het, beide die immateriële en die materiële, wat het God oor sy skepping gesê? Ses keer, nee sewe maal, sê God dat wat Hy geskep het is goed, ja baie goed (Gen 1:4, 10, 12, 18, 21, 25, 31). “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde [materiële] en in sy neus die asem van die lewe geblaas [immateriële]. So het dan die mens ʼn lewende siel geword” (Gen 2:7). Daar is geen Platoniese split of dualisme tussen immateriële en die materiële nie.

God het aan Adam en Eva die gesag gegee om as God se verteenwoordigers oor die aarde te heers (Gen 1:28) — en dié heerskappy was geestelik/immaterieel sowel as fisies/materieel van aard. Sedert Adam se val is God besig om hierdie gevalle wêreld te herstel, maar so ʼn verlossing gaan nie net oor die geestelike/immateriële nie, dit sluit ook die fisieke/materiële in. Christus het nie net gekom om die sonde van die wêreld weg te neem nie (vgl. Joh 1:29), maar Hy sal vir gelowiges ook verheerlikte liggame gee en die aarde herstel (vgl. Rom 8:19-22).

Die koninkryk se aard is nie ʼn Platoniese dualisme waar nét die geestelike of nét die fisiese bestaan nie. Die koninkryk wat Christus gaan kom vestig sal beide geestelik/immaterieël en materieel/fisies wees. Wat toegang tot die koninkryk betref: óf jy glo in Christus in welke geval jy die koninkryk sal beërwe en binnegaan by Jesus se weerkoms aarde toe, óf jy glo nie die evangelie van Christus nie en sal nie die koninkryk binnegaan nie.

Wanneer iemand ʼn gelowige in Jesus Christus word, word daardie mens juridies verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun (vgl. Kol 1:13) — en dié koninkryk sal Christus vestig met sy weerkoms aarde toe (Woods 2016:301-302). Gelowiges is juridies gekwalifiseer om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig (vgl. Kol 1:12). Gelowiges het reeds hierdie erfenis (de jure), maar sal dit slegs ervaar (de facto) wanneer Christus die koninkryk kom vestig as deel van sy weerkoms aarde toe (Woods 2016:301-302).

Geestelik

Die Griekse byvoeglike naamwoord pneumatikos (‘geestelik’) kom 26 keer in die Nuwe Testament voor. Die term beteken nie noodwendig iets goeds nie. In Efesiërs 6:12 word die demoniese leërskare byvoorbeeld pneumatika genoem (bose geeste in die lug). Die term sluit ook nie noodwendig die idee van liggaamlikheid uit nie, want in 1 Korintiërs 15:44 is die opstandingsliggaam van die Christen soma pneumatikon, ʼn geestelike liggaam (vgl. McClain 1956:22). Met verwysing na die dinge van God, wat die algemene konnotasie van die term is, is die betekenis van ‘geestelike’ (pneumatikos) iets wat uit die Gees van God voortkom, of die uitwerking en die karakter daarvan vertoon: dit wil sê, iets wat alleen deur die krag van God geproduseer kan word en dus bonatuurlik is (Thayer, aangehaal in McClain 1956:22).

Die geestelikheid van die millenniale koninkryk

Volgens McClain (1956:17, eie vertaling) is die “koninkryk van God hoofsaaklik en altyd ʼn geestelike koninkryk, waar dit ook al bestaan. Maar ʼn geestelike koninkryk, in Bybelse taal, kan manifesteer en tasbare gevolge in ʼn fisiese wêreld lewer, of, om meer presies te wees, in die wêreld van sintuiglike ervaring.” Hierby voeg ek Psalm 115:16: “Die hemel is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” God het die mens beide geestelik/immaterieel en liggaamlik/materieel geskape — en God het die mensdom op die aarde geplaas. Die sfeer waar die mensdom veronderstel is om te regeer, altyd onder Christus, sal die aarde wees. Die woonplek van geredde mense tydens die millennium sal op hierdie aarde wees en in die ewige bestel sal dit op die nuwe aarde wees. Ons ewige woning en bestemming is nie in die hemel, soos wat Augustinus verkeerdelik geleer het nie, maar dit sal by God op die nuwe aarde wees. In die ewige bestel sal die stad van God na die nuwe aarde neerdaal (Op 21:2-3, 10).

Wanneer Christus die millenniale koninkryk kom vestig, sal slegs geestelik weergebore mense toegelaat word om die koninkryk binne te gaan (vgl. Joh 3:3-5). Maar weereens, dit beteken nie dat die koninkryk slegs geestelik sal wees nie. Die duisendjaar-koninkryk sal ook fisiese/materiële aspekte op hierdie aarde insluit, soos landbou-aktiwiteite, die drink van wyn en die eet van ʼn maaltyd by ʼn banket, ensovoorts. Die koninkryk sal ook sosiale, ekonomiese, estetiese, geregtelike en politieke aspekte insluit, hier op die aarde. “Die koninkryk kan geestelike vereistes en eienskappe hê (kyk Rom 14:17) en tog is dit fisiek van aard, insluitend sosiale, politieke, ekonomiese en landboukundige elemente (kyk Jes 65: 17-25). Die idee van ʼn suiwer ‘geestelike’ koninkryk is maar bloot Platoniese denke met die verheffing van die geestelike bo die fisiese” (Vlach 2017:46, eie vertaling). Ek stem saam met McClain (1956:19):

Die gedagte dat ʼn geestelike koninkryk geen verband kan hou met die fisieke nie is een van die vreemdste afgode wat ooit in die grot van die menslike verstand gebou is. God is gees en oral waar sy mag bonatuurlik in die stelsel van die natuur inbreek, kan die oorsaak geestelik genoem word, wat ook al die gevolge van hierdie inbreek mag wees, of dit nou die genesing van ʼn siekte is, die opwekking van ʼn dooie liggaam, die weergeboorte van ʼn sondaar, of die oprigting van ʼn politieke staat op die aarde is.

ʼn Gelykenis

In Jesus se koninkryk op die aarde sal spys geëet en drank gedrink word (vgl. Mat 8:11; 22:4). Weereens, daar is geen Platoniese dualisme tussen gees en materie in Jesus se koninkryk nie. Jesus gaan byvoorbeeld wyn in die koninkryk drink (Mat 26:29). Geestelike eienskappe soos geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees is inderdaad baie belangrik in die koninkryk en Christene moet dit beklemtoon — maar om hierdie dinge te beklemtoon beteken nie dat die koninkryk niks met die fisiese te doen gaan hê nie, asof daar nie geëet of gedrink gaan word nie (Vlach 2017:448).

McClain (1956:17, eie vertaling) se gelykenis is insiggewend:

By ʼn kerk-banket bespreek ʼn groep predikante die aard van die koninkryk van God. Een predikant sê dat hy die premillenniale lering van ʼn letterlike koninkryk op die aarde glo. Hierop reageer ʼn predikant, wat maklik 200 pond weeg, redelik heftig: “Belaglik! So ʼn idee is niks anders as materialisme nie.”

Toe hy gevra word om sy eie standpunt te stel, antwoord hy: “Die koninkryk is ʼn geestelike saak. Die koninkryk van God is reeds gevestig en is binne-in jou. Weet julle nie dat die koninkryk is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees nie?”

Toe reik hierdie predikant oor die tafel heen, neem nog ʼn enorme stuk gebraaide hoender en wurg dit in sy keel af! Niemand het hom probeer antwoord nie. En geen antwoord was nodig nie, want hy het reeds sy eie argument beantwoord. Hy het in sy eie strik getrap.

Laat ek maar die voor die handliggende gevolgtrekking noem: as die [mediatoriale/Messiaanse] koninkryk van God nou reeds op aarde kan bestaan [nie dat dit die geval is nie, maar argumentsonthalwe] in ʼn predikant wat 200 pond weeg, en vol gebraaide hoender is, en daar nie enige verwerplike vleeslike konnotasies is nie, miskien kan dit ook op dieselfde manier bestaan onder mense op aarde wat soms in ʼn toekomstige duisendjarige koninkryk sal eet en drink onder meer perfekte omstandighede. Persoonlik het ek altyd ʼn baie hoë siening oor gebraaide hoender gehad, maar dit was die eerste keer dat ek die apologetiese waarde daarvan gesien het as ʼn argument teen die teenstrydighede van daardie siening van die koninkryk wat op ʼn Platoniese opvatting van geestelikheid gebaseer is.

Slotopmerkings

McClain (19565:19, eie vertaling) doen ʼn beroep op almal om die volgende te verstaan: “Die [teokratiese] koninkryk wat by Sinai gestig is, was nie ʼn aardse koninkryk [in terme van die bron van gesag] nie, hoewel dit op die aarde gevestig is. Dit was ʼn geestelike koninkryk wat histories uit die hemel neergedaal het in die wêreld van fisiese/materiële bestaan deur die bonatuurlike agentskap van God.” Moenie die geestelike gesagsbron van die koninkryk van God verwar met die sfeer of plek waar hierdie koninkryk opgerig gaan word nie. Ek voeg dus by ter beklemtoning: die koninkryk van die hemele wat Jesus tydens sy eerste koms aangebied het om in Israel te vestig (maar hierdie aanbod was verwerp), was nie ʼn aardse koninkryk nie, maar die bedoeling was ongetwyfeld om die koninkryk in Israel hier op die aarde op te rig. God sal die gesagsbron of oorsaak van hierdie koninkryk van die hemele wees, dit sal dus geestelik in die beste sin van die woord wees, maar weereens, Christus sal hierdie koninkryk op die aarde kom oprig ten tyde van sy weerkoms. Om te redeneer dat Christus die millenniale koninkryk nie op die aarde gaan kom vestig nie, is om soos Augustinus in Plato se filosofiese strik te trap. U gaan die strik egter vermy, nie waar nie?

Bronne

FaithEquip, 2019, ‘Die koninkryk is hier by julle’. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/die-koninkryk-is-hier-by-julle/

Geisler, N.L., 1999, Baker Encyclopedia of Christian Apologetics, Baker Books, Grand Rapids.

McClain, A.J., 1956, ‘The Spirituality of the Millennium Kingdom’, Bibliotheca Sacra 113(449), 16-23.

Vlach, M.J., 2017, He Will Reign Forever: A Biblical Theology of the Kingdom of God, Lampion, Silverton.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and How is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.