Genesis

Die heel eerste woord in die Hebreeuse teks is Berē’šît, wat ‘in die begin’ beteken – en Hebreeuse titels van Bybelboeke word dikwels gegee op grond van die eerste of tweede woord van die boek. Génesis is inderdaad ʼn boek van die begin van dinge. Eerstens vertel dit hoe God in die begin die hemele en die aarde gemaak het, dit vertel van die eerste mense wat God geskape het, hul val, wat met hul nakomelinge gebeur het, en wat God in sy genade en barmhartigheid doen om die gevalle mensdom te herstel. Dit vertel ook vir ons hoe 70 nasies ná die sondvloed geval het en hoe God in sy genade en barmhartigheid nasies wil herstel deur ʼn volk wat uitgekies is, naamlik Israel. Die hoof van hierdie volk is Abraham en die verbondsbeloftes is bevestig deur Isak, Jakob en sy twaalf seuns. Génesis verduidelik nie slegs die begin van baie dinge nie, maar dit is ook die begin van die vyf boeke van Moses, waarna gesamentlik verwys word as die Tora, of die ‘Wet van Moses’. Die Engelse titel van die eerste boek in die Bybel, Genesis, kom van Hieronymus (Engels: Jerome) se Vulgaat vertaling (in Latyn: ‘Liber Genesis’) wat weer kom van die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta. [Die spelling van die titel in die 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel kom ooreen met die Engels, naamlik Genesis, en in die 1933/53 Afrikaanse vertaling is die spelling Génesis.] Génesis, soos reeds gesê, beteken ‘in die begin’.

. . .

Die skrywer van Génesis

Onder die inspirasie van die Heilige Gees het Moses nie slegs Génesis geskryf nie, maar ook die ander boeke van die Tora, naamlik Exodus, Levítikus, Númeri en Deuteronómium. Dit word bevestig in Exodus 17:14, Levítikus 1:1-2, Númeri 33:2 en Deuteronómium 1:1 – en Josua 1:7-8 bevestig ook dat Moses die “wetboek” geskryf het. Aangesien die gebeure wat in Génesis beskryf word voor Moses se geboorte plaasgevind het, kon Moses mondelinge of geskrewe tradisies as bronmateriaal gebruik het, maar wat ook al hy sou gebruik het, indien hy dit gedoen het, het die neerskryf van die Tora onder die inspirasie van die Heilige Gees plaasgevind en dus is die oorspronklike geskrifte onfeilbaar en foutloos. Hoewel daar ooreenkomste mag wees tussen die Bybelse en die Antieke Nabye Ooste se verslae van die skepping, vloed, ensovoorts, redeneer sommige dat Génesis inderwaarheid ʼn weerlegging is van baie heidense mites en idees oor oorspronge, die mens, die vloed, ens. (Merrill, Rooker & Grisanti 2011:177). Aangesien die laaste hoofstuk van die Tora, Deuteronómium 34, Moses se dood beskryf, sou dit buitengewoon wees dat Moses dié spesifieke hoofstuk sou geskryf het, maar al is dit deur iemand anders bygevoeg, het ook hierdie skrywe plaasgevind onder die leiding van die Heilige Gees en weer eens is die oorspronklike geskrif dus onfeilbaar en foutloos. Jesus bevestig dat Moses die Tora geskryf het (Matthéüs 8:4; 19:8; Markus 7:10; Lukas 16:29–31; 20:37; 24:27; Johannes 7:19, 22) en Bybelboeke wat ná die Evangelies volg (Handelinge 15:1; 26:22; Romeine 10:19; 2 Korinthiërs 3:15) bevestig dit ook. Wat Moses in Génesis geboekstaaf het, kan beskryf word as ʼn reeks van ‘tôledôts’, dit wil sê, ʼn vertelling wat ineenskakel deur ʼn reeks van “dit is die stamboom van” (in sekere gevalle ook “dit is die geskiedenis van” – bv. Génesis 2:4, 25:19, 36:1), gevolg deur ʼn beskrywing van wat vervolgens plaasgevind het.

Die struktuur van Génesis

As ʼn mens geografie as die organisatoriese beginsel neem om die struktuur van Génesis te bepaal – ʼn siening wat deur ʼn minderheid gehuldig word – kan die boek in drie dele ingedeel word: in Babel (hoofstukke 1-11), in Kanaän (12-36) en dan in Egipte (37-50). Nog ʼn siening is dat Génesis in twee hoof afdelings uiteengesit is: Vanaf die skepping tot met die toring van Babel (hoofstukke 1-11), gevolg deur die geskiedenis van Abraham tot met Josef (12-50). Daar is simmetriese balans in hierdie siening: die eerste afdeling bevat vier hoof gebeurtenisse (skepping, val, vloed, Babel) terwyl die tweede afdeling vier prominente mense beskryf (Abraham, Isak, Jakob en Josef); die eerste afdeling bevat die temas van die oorspronge van die wêreld, die menslike ras en van nasies, terwyl die tweede afdeling die oorspronge behandel van die Joodse volk Israel (soos bespreek deur Fruchtenbaum 2009:5). Die struktuur wat ons verkies is egter om die verskeie ‘tôledôts’ te gebruik as die strukturele sleutel om hierdie boek van die begin van dinge te orden. Elke afdeling van die boek begin met ʼn ‘tôledôt’, gevolg deur ʼn verduideliking van dit ‘wat plaasgevind het met …’ – hetsy die skepping, die hemele en die aarde of verskeie persone en hul nakomelinge of opvolgende geslagte. Elke ‘tôledôt’ toon ʼn saamtrekking in die fokus van God se program, vanaf die hele skepping, tot Adam, tot die seuns van Noag van wie 70 nasies afstam, tot ʼn verdere saamtrekking waardeur God seën wil bring deur Abraham en die volk Israel (Fruchtenbaum 2009:6; Merrill, Rooker & Grisanti 2011:1173). Dit blyk dat Génesis ʼn noukeurige histories gestruktureerde vertelling is, soos die onderstaande tabel aantoon:

 BeskrywingVerwysingTemas
Vier hoof gebeurtenisse: skepping, val, vloed, Babel (1:1–11:26)Skepping1:1–2:3Die hele Skepping
Tôledôt van die hemele & die aarde2:4–4:26Val van Adam & Eva
Tôledôt van Adam5:1–6:8Dood & verderwing; Gen 6:1–4
Tôledôt van Noag6:9–9:29Vloed; Verbond met Noag
Tôledôt van seuns van Noag10:1–11:970 volke verstrooi, Babel
Tôledôt van Sem11:10–11:26God begin ʼn nuwe volk
Vier prominente mans: Abraham, Isak, Jakob & Josef
(11:27–50:26)
Tôledôt van Tera/Abraham11:27–25:11Abraham, Abrahamitiese Verbond
Tôledôt van Ismael25:12–18Geslagslyn en volk nie gekies nie
Tôledôt van Isak 25:19–35:29Isak, Jakob, Israel, seën
Tôledôt van Esau/ Edom36:1–37:1Geslagslyn en volk nie gekies nie
Tôledôt van Josef38:1–50:26Geslagslyn van verkose volk, 12 stamme

Die datum van Génesis

Konserwatiewe ontleders bereken dat die menslike geskiedenis sedert die sesde dag van die skepping ongeveer 6 000 jaar oud is. As Abraham ongeveer 2 000 jaar ná die sesde skeppingsdag gebore is, en Israel 430 jaar later uit Egipte gekom het, dan moes Moses tussen ongeveer 1525-1400 vC die boek Génesis geskryf het.

Die doel en hooftemas van Génesis

Génesis is geskryf om te verklaar dat God die Skepper en Heerser is van die ganse heelal. Engelewesens en mense het egter in dié skepping tot ʼn val gekom – maar, ten spyte van Adam en Eva se val, was dit altyd God se plan om redding te bewerkstellig, nie alleenlik vir menslike individue en nasies nie, maar ook vir die heelal waar sonde en die dood ingekom het (maar nie vir gevalle engelewesens nie). Om sy plan bekend te stel, het God onvoorwaardelike verbonde aangegaan, eers met Noag as ʼn verteenwoordiger van die mensdom in die algemeen en as vader van 70 nasies, en toe met Abraham, spesifiek as die vader van ʼn nuwe Joodse volk deur wie God individue en nasies wil seën. Deur Isak, Jakob en sy nakomelinge, spesifiek die uiteindelike saad van die vrou, die saad van Abraham – dit is Jesus Christus, die Seun van God – sou redding nie net vir die mensdom aanbreek nie, maar ook vir nasies in die koninkryk en uiteindelik vir die heelal in ʼn nuwe hemele en ʼn nuwe aarde. Dit is van die heel begin af baie duidelik dat God die Heerser is van die ganse heelal en niks kan sy planne en doelwitte stuit nie.

Toepassings vir vandag en vir die jaar

Elke mens wat hier lees se biologiese begin is by bevrugting, tipies nege maande voordat jy gebore is. Dit is egter van die allergrootste belang dat jy weer gebore moet word (Johannes 3:3-5). Adam en Eva het gehoor wat aan die slang gesê is, naamlik dat die saad van die vrou nie slegs bevryding van sondes sou bring nie, maar ook enige en alle misleidende (vals) gesag oor God se skepping sou vernietig. Net soos God eens ons eerste menslike ouers geklee het en daar in die proses dierebloed vergiet is om sonde te bedek, moet elke mens geloof uitoefen in Jesus Christus wat sy bloed aan die Kruis gestort het, begrawe is maar op die derde dag uit die dood opgestaan het – en daardeur vir ons nie net klere van geregtigheid voorsien het nie, maar ook ons sondes weggeneem het. Jy het gehoor van God se genadige geskenk van redding deur die goeie nuus van Christus (Romeine 1:16-17; 3:21–26; 6:23). Wat nou wesenlik nodig is, is dat jy God se aanbod van redding sal toeëien deur geloof in Jesus van Násaret (Johannes 3:3-5). Mag vandag jou nuwe begin wees, en mag hierdie jaar geestelik gesproke jou eerste jaar wees – en vir diegene wat al reeds geestelik weer gebore is, mag ons almal groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

———————————

Indien u meer oor hierdie onderwerp wil weet, oorweeg gerus om die volgende bronne te lees:

Fruchtenbaum, A.G., 2009, The Book of Genesis, Ariel Ministries, San Antonio.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']