Gesprek met die skrywer

FaithEquip het pas ’n nuwe boek vrygestel: God se raadsplan in Christus. Ons het met Jaco Scholtz, die skrywer van die boek, gaan gesels.

FaithEquip (FE): Waaroor gaan die boek?

Jaco Scholtz (JS): Die boek beskryf die A tot Z van God se raadsplan in Christus. God werk alles “volgens die raad van sy wil”, sy ewige voorneme wat Hy in Christus Jesus uitvoer (Ef 1:9; 3:9-11). God se plan met sy skepping behels nie net die verlossing van mense in Christus nie, maar ook die vestiging van God se koninkryk op aarde. Verskeie onderwerpe word in die boek aangeraak: die evangelie van genade, die komende koninkryk, God se plan met Israel en die nasies, die rol en plek van die Kerk, asook baie aspekte van die eindtyd. Dit in breë trekke.

Om meer spesifiek te wees: God se raadsplan bereik sy hoogtepunt in die koninkryk van God wat op aarde opgerig sal word, met Christus as koning. Die manier waarop God sy raadsplan tot verwesenliking gaan bring, word in die onvoorwaardelike Bybelse verbonde en profesieë uitgespel. ’n Begrip van die Bybelse verbonde — nie die sogenaamde teologiese verbonde wat deur teoloë uitgedink is nie — is dus onontbeerlik om God se raadsplan in Christus te kan verstaan. Op sigself het hierdie Bybelse verbonde en profesieë nie die krag of vermoë om die beloftes wat daarin vervat is, in vervulling te laat gaan of waar te maak nie. Daarvoor is Jesus Christus nodig: Hy sal toesien dat alle onvoorwaardelike beloftes in vervulling gaan, nie net tydens sy eerste koms nie, maar ook met sy tweede koms en daarna. In die volheid van die tyd sal God se raadsplan ’n hoogtepunt bereik, wanneer alles onder Christus verenig is en Hy oor die hele skepping heers. Die onvoorwaardelike Bybelse verbonde en profesieë is primêre boublokke waarmee God sy koninkryksprogram sal vervul. Die hooftema van die Bybel is die koninkryk van God, en die Bybelse verbonde en profesieë wys hóé God sy raadsplan in Christus tot uitvoering gaan bring. God se raadsplan word dus in en deur Christus vervul: hoeveel beloftes van God daar ook mag wees — of dit nou fisiese, nasionale, internasionale of geestelike beloftes mag wees — in Christus is hulle ‘ja’ en in Hom ‘amen’, tot heerlikheid van God (vgl. 2 Kor 1:20).

FE: Wat wil jy met die boek bereik?

JS: Mense wat God se raadsplan in Christus lees sal ontdek hoe alles in en deur Christus tot vervulling gebring sal word. Die boek beskryf dus in breë trekke God se raadsplan — en as jy die geheelbeeld het, kan die boek jou help om te sien waar jy in God se raadsplan pas.

Verder, ek skat meer as 60% van die boek gaan oor die eindtye, oor eskatologie. Verskeie prosesse is vandag reeds aan die gang om die tafel te dek vir die vervulling van Bybelse eindtyd-profesieë. Gelowiges moet dit raaksien. Lesers moet gereed wees vir die Dag van die HERE en Christus se weerkoms.

FE: Is ons oppad na die einde toe — en hoe raak dit my?

JS: Ons nader die einde van die Kerk-era — en die wêreld stoom voort na die komende verdrukkingstydperk. Skaduwees van wat in die toekoms gaan gebeur val nou reeds op die wêreldtoneel. Die Bybel praat ongetwyfeld oor die tye waarin ons leef. Ek wil hê dat mense moet ontdek wat God nou doen, wat aangaan, en wat God nog gaan doen. Dan kan jy sien hoe dit jou raak, selfs vandag al, en wat volgens God se Woord in die toekoms gaan gebeur. Hoofstukke 13 en 14 van die boek bespreek byvoorbeeld hierdie aspekte in meer detail.

FE: Watter boek of boeke in Afrikaans is soos God se raadsplan in Christus?

JS: Daar bestaan nie in Afrikaans ʼn boek soos dié oor God se wonderlike raadsplan in Christus nie, en daar sal waarskynlik ook nie binnekort nog so ’n boek verskyn nie. Die rede hiervoor is eenvoudig: in Suid-Afrika het Bybelkennis oor die eindtye (eskatologie) ongelukkig verlore gegaan. Premillennialisme word nie by enige Suid-Afrikaanse universiteit geleer nie, en in sommige denominasies is hierdie leer verban. Een tragiese gevolg hiervan is dat baie Afrikaanssprekendes basies ongeletterd is as dit by die Bybelse profesieë kom. Ek probeer om die saak reg te stel.

FE: Ken mense jou werk?

JS: Ek en my vrou Veronica bedryf FaithEquip al vir 10 jaar lank. FaithEquip se Facebook-blad is gewild en die FaithEquip-webwerwe (Afrikaans en Engels) word gereeld besoek. Meer as ’n tiental geakkrediteerde akademiese artikels van my is al in SA gepubliseer — en ’n paar artikels het in die VSA verskyn.

Tabel 1: Facebook statistieke *

Christelike organisasie Aantal likes
Bybel-Media1 574
Lux Verbi4 640
Struik Christian Media8 830
JUIG Tydskrif19 118
LIG Tydskrif20 475
FaithEquip65 141
CUM Boeke71 960
Finesse Voelgoed Tydskrif112 457
Leef Tydskrif138 443

* Soos op 16 Augustus 2019

FE: Wat kos die boek?

JS: Die boek kos R250, koerierkoste ingesluit. Die boek is 284 bladsye lank en bevat 18 hoofstukke. Besoek gerus die boek se pragtige webwerf: https://faithequip.co.za/godseraadsplan. Op die webwerf kan jy die Vooraf-gedeelte lees, ’n hoofstuk gratis aflaai en die 18 hoofstukke word ook gelys.

FE: ’n Laaste woord van jou kant af?

JS: Ek het die boek in my moedertaal geskryf want ek wil hê dat almal wat Afrikaans magtig is, moet sien hoe God se raadsplan in Christus tot vervulling gebring sal word. Dit is hoog tyd dat Afrikaanse gelowiges sal ontdek hoe God eindtyd-profesieë in vervulling (sal) bring.

FE: Besoek gerus die boek se webblad: https://faithequip.co.za/godseraadsplan/

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.