Godheid van die Eniggeborene

Sommige kultiese groepe gebruik Johannes 1:1 om te ontken dat die Woord, Jesus Christus, God is. Verder, die Evangelie van Johannes verwys na die Woord, Jesus Christus, as die ‘eniggeborene’ (sien Joh 1:14, 18; 3:16, 18). Was daar ʼn tyd toe die Woord nie was nie? Kan jy die goddelikheid van die Seun ontken omdat jy dink dat God op ʼn sekere tydstip die Seun geskep het? Ons ondersoek dié vrae met behulp van Johannes 1:1-18.

Kontekstuele inleiding

Johannes 1:1-18 is ʼn opsomming van alles wat in die res van hierdie Evangelie volg. In die eerste 18 verse van Johannes kry jy temas soos die Woord, lewe, lig, duisternis, getuie(s), waarheid, genade, wedergeboorte en die openbaring van God die Vader deur die Seun (Constable 2017:14; Guzik n.d.). Carson (1991:111; eie vertaling) sê die volgende oor die inleiding van Johannes:

In die eerste plek som die inleiding op hoe die ‘Woord’ wat in die heel begin by God was, in die sfeer van tyd, geskiedenis en tasbaarheid gekom het — met ander woorde, hoe die Seun van God in die wêreld gestuur is om die Jesus van die geskiedenis te word, sodat die heerlikheid en genade van God uniek en volkome openbaar kan word. Die res van die boek is niks anders as ʼn uitbreiding op hierdie tema nie.

Vir verdere kontekstuele agtergrond, met die literêre struktuur van Johannes 1:18 is dit makliker om die vloei van Johannes se argument te volg. Culpepper (1981) het die volgende chiastiese struktuur vir Johannes 1:1-18 geïdentifiseer:

A Die ewige Woord met God vv. 1-2
B Wat deur die Woord gekom het: skepping v. 3
    C Wat ons van die Woord ontvang het: lewe vv. 4-5
      D Johannes se doel: om te getuig vv. 6-8
        E Die vleeswording en die wêreld se reaksie vv. 9-10
          F Die Woord en sy eie (Israel) v. 11
            G Dié wat die Woord aanvaar het v. 12a
              H Hy gee mag om kinders van God te word v. 12b
            G’ Dié wat in die Woord geglo het v. 12c
          F’ Die Woord en Sy eie (Christene) v. 13
        E’ Die vleeswording en die Kerk se reaksie v. 14
      D’ Johannes se getuienis v. 15
    C’ Wat ons van die Woord ontvang het: genade v. 16
B’ Wat deur die Woord gekom het: genade en waarheid v. 17
A’ Die ewige Woord van God v. 18

Let op hoe die chiastiese draaipunt (vers 12b, afdeling ‘H’) oor weergeboorte gaan. Dit stem ooreen met die doel waarom hierdie Evangelie in die eerste plek geskryf is (vgl. Joh 20:31).

Om te probeer om hierdie diepgaande inleiding op te som: Die Woord (Logos), wat ewig bestaan het, was by God van alle ewigheid af. Die Woord is God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In die Woord is lewe en lig — en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Johannes die Doper het oor hierdie lig getuig. Net soos alles deur die vóór-vleesgeworde Woord ontstaan het, sal almal wat die Woord aanvaar en glo, weergebore word en die mag gegee word om kinders van God genoem te word. Johannes die Doper het hiervan getuig. Lewe en lig het deur die Woord gekom, maar so ook kom die genade en waarheid deur Jesus Christus. Die openbaarder en verklaarder van God die Vader is die Seun, Jesus Christus.

Die Godheid van die Woord

Volgens byna alle vertalings lees Johannes 1:1 só: ‘In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God’. Die vertaling van die Jehova Getuies (of ‘JG’) lui egter: ‘In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ʼn god’. JG gebruik Johannes 1:1 om te leer dat die Woord nie God is nie, maar dat hy die hoogste geskape wese is. Hoe moet hierdie vers vertaal word?

In die Grieks is daar geen lidwoord voor ‘God’ nie, nie “die” of “ʼn” nie. JG beweer dat die vertaling “ʼn god” moet wees en nie ‘God’ nie. Soos Guzik (n.d.) dit verduidelik, JG verdedig hul siening deur te sê dat die tweede keer wat ‘God’ in vers 1 voorkom, die bepaalde lidwoord nie verskyn nie (daar staan geskryf ‘God’ en nie “die God” nie). As daar geen lidwoord in die Griekse teks is nie, sê Constable (2017:15) dat dit grammatikaal moontlik is om die onbepaalde lidwoord (“ʼn”) te verskaf — maar dit is beslis verkeerd om dit hier te doen. Net die volgende vers, Johannes 1:2, bevestig dat die Woord God is. Fruchtenbaum (2016:283; eie vertaling) verduidelik:

Die gebrek aan die bepaalde lidwoord beteken nie “ʼn god” nie. Dit beklemtoon bloot die aard van dit wat beskryf word. Die aard van die Vader is dat Hy goddelik is. Die aard van die Seun, of die Woord, is dat Hy goddelik is.

In Johannes 1:18 is die vertaalde frase ‘niemand het ooit God gesien nie’, maar JG vertaal hierdie teks nie ‘niemand het ʼn god gesien nie’. Dit is inkonsekwent (vgl. Fruchtenbaum 2016:283). Trouens, die Nuwe Testament verwys gereeld na ‘God’ sonder om die bepaalde lidwoord te gebruik. Guzik (n.d.; eie vertaling) redeneer só:

Wat hierdie benadering tot Griekse grammatika en vertaling betref, kan ons net verwys na die baie kere kere in die Nuwe Testament waar “God” sonder die lidwoord verskyn. As JG eerlik en konsekwent was, sou hulle elke keer waar “God” sonder die bepaalde lidwoord voorkom, met “ ʼn god” moes vertaal het. Maar dit blyk dat hierdie grammatiese reël slegs toegepas word wanneer dit by die lering van JG pas.

Die literêre struktuur wys dat vers 1 chiasties met vers 18 gepaar kan word — en beide verse beklemtoon baie duidelik die Godheid van die Woord, die Seun. Latere Nuwe-Testamentiese tekste bevestig ongetwyfeld Jesus se Godheid (byv. Fil 2:6; Kol. 1:17; Heb 1:3).

Wat sê Griekse geleerdes? Guzik (n.d.; eie vertaling) gee erkende geleerdes van Griek se mening oor die vertaling van Johannes 1:1:

  • ‘Dit is nie geleerd of redelik om Johannes 1:1 te vertaal as ‘Die Woord was ʼn god’ nie. Van al die geleerdes in die wêreld het niemand, so ver my kennis strek, hierdie vers vertaal soos wat die Jehova Getuies dit doen nie’ (Dr. Julius R. Mantey);
  • ‘Ek kan jou verseker dat Jehova Getuies se vertaling van Johannes 1:1 nie deur enige erkende geleerde van Grieks ondersteun word nie’ (Dr. Charles L. Feinberg);
  • ‘Met hul verkeerde vertaling van Johannes 1:1 toon Jehova Getuies ʼn groot onkunde oor die basiese beginsels van Griekse grammatika’ (Dr. Paul L. Kaufman).

Eniggeborene

Sommige kultus-groepe ontken die goddelikheid van die Seun omdat hulle sê dat die vertaalde woorde ‘eniggeborene’ of ‘eniggebore’ (monogenous) in die Evangelie van Johannes (sien 1:14, 18; 3:16, 18) na oorsprong verwys. Hulle sê die Woord is geskep, maar sonder enige twyfel verwys ‘eniggeborene’ hier na uniekheid. Fruchtenbaum (2016:282) herinner almal daaraan dat Abraham beveel is om sy ‘enigste seun’ te offer. Toe hierdie bevel gegee is, het Abraham reeds ʼn ouer seun (Ismael) gehad — waarom is Isak dan die ‘enigste seun’ genoem? Omdat dit verwys na uniekheid: die verbond met Abraham is bevestig deur Isak, die unieke verbondseun van Abraham. Verder, in die Bybel word engele ‘seuns van God’ genoem (Job 1:6), Israel word die ‘seun van God’ genoem (Eks 4:22) en gelowiges word ‘seuns van God’ genoem (Rom 8:14; Gal 4:6) — maar die Woord, die Seun van God, Jesus Christus, is die unieke (eniggeborene) Seun van God as gevolg van sy ewige voor-bestaan (Fruchtenbaum 2016:282). Dit is verkeerd om ‘eniggebore’ te gebruik om te leer dat die Woord, die Seun van God, ʼn oorsprong gehad het. Die Woord is ewig en van altyd af God.

Slot

Die Woord, die Seun van God, is ewig en van dieselfde essensie as die ander twee Persone in die Drie-eenheid. Op ʼn sekere tydstip in die geskiedenis het die Tweede Persoon in die Drie-eenheid die menslike natuur aangeneem (Joh 1:14, Fil 2:5-9) — en tog behou Hy ten volle sy volle Godheid. Dit is as gevolg van die unieke verhouding wat tussen God die Vader en God die Seun bestaan, dat die Seun die Vader kan openbaar en verklaar: ‘Niemand het ooit God gesien nie, die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, het Hom verklaar’ (Joh 1:18).

Bronne

Carson, D.A., 1991, The Gospel According to John, IVP/Eerdmans, Leicester/Grand Rapids.

Constable, T.L., 2017, Notes on John (2017 Edition). Beskikbaar by: https://planobiblechapel.org/tcon/notes/pdf/john.pdf

Culpepper, R.A., 1981, ‘The Pivot of John’s Prologue’, New Testament Studies 27:1-31.

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The Life of Messiah from a Messianic Jewish Perspective, Vol 1, Ariel Ministries, San Antonio.

Guzik, D., N.d., Study Guide for John 1. Beskikbaar by: www.blueletterbible.org/Comm/guzik_david/StudyGuide2017-Jhn/Jhn-1.cfm?a=998014

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']