Hábakuk

Die Nuwe Testament haal Hábakuk 2:4 drie keer aan: ‘… die regverdige sal uit die geloof lewe’ (Romeine 1:17b; Galásiërs 3:11; Hebreërs 10:38). Sonder geloof, stel die skrywer van Hebreërs 11:6 dit onomwonde, ‘is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is, en ʼn beloner is van die wat Hom soek’. Laat ons almal in die nuwe jaar wat begin, ons geloof en vertroue stel in die Here Jesus Christus, want ‘die regverdige sal uit die geloof lewe’.

. . .

Die skrywer van Hábakuk

Daar is min oor Hábakuk bekend, en daar is verskeie menings oor die betekenis van die naam ‘Hábakuk’. Een verklaring is dat dit kan beteken ‘om te omhels’, of ‘een wat omhels’. Wanneer die naam in Hebreeus geskryf word, verdubbel die laaste konsonant wat die betekenis intensiveer na ‘volle omhelsing’ (Fruchtenbaum 2005:4). Waaroor daar geen twyfel bestaan nie, is dat Hábakuk ʼn profeet is (1:1; 3:1). Hy is ʼn buitengewone profeet, want gewoonlik praat ʼn profeet vir God met die mense, maar Hábakuk draai dit om en vra vir God pertinente vrae (Baker 1988:41-42; Feinberg 1990:205).

Wanneer is Hábakuk geskryf?

In 1:5-6 sê God dat Hy ‘iets’ gaan doen wat hulle (Israel) nie sal glo as dit vir hulle vertel word nie: God gaan die Chaldeërs opwek as ʼn instrument van tugtiging en oordeel. Die Babiloniese (Chaldese) ryk het vanaf omtrent 625 vC magtig geword onder Nabopolasser, sterker geword toe hulle die Assiriese hoofstad Ninevé in ongeveer 612 vC vernietig het, en Egipte en sy bondgenote in 605 vC by Karchemis in Sirië oorwin het (Baker 1988:42). As dit wat God sou doen so groot was dat dit nie geglo sou word as dit vertel is nie, moes Hábakuk geskryf gewees het voor of gedurende die opkoms van die Babiloniese ryk. Aan die ander kant beskryf Hábakuk in 1:15-16 aspekte van die Chaldeërs se gedrag, wat beteken dat iets van hul doen en late al reeds aan die profeet bekend moes gewees het. Op grond van 3:19b (‘vir die musiekleier op snaarinstrumente’) kan dit wees dat die Levitiese priesterskap volledig in bedryf was en korrek gefunksioneer het, en dit suggereer dat Hábakuk geskryf kon gewees het tydens die regering van Josía, nadat hierdie goeie koning die tempel deeglik gereinig het (Fruchtenbaum 2005:5). Afhangend van hoe bogenoemde data in berekening gebring word, is Hábakuk waarskynlik iewers tussen die jare 630 en 610 vC geskryf.

Plek of agtergrond

Omdat die Noordelike koninkryk in Israel alreeds die Assiriese inval beleef het, is Hábakuk definitief geskryf in Judéa en waarskynlik in Jerusalem.

Doel en hooftemas

Hábakuk was verontrus deur die geweld, onreg, verwoesting, stryd en twis oral rondom hom en hy het die saak in gebed na die Here geneem (1:1-4). (Dit klink terloops baie soos die hedendaagse omstandighede regoor die wêreld.) Hoekom straf God nie die goddeloses in Israel weens hul verbondsontrou nie? God se antwoord is dat Hy die Chaldeërs opwek om Israel te tugtig (1:5-11). Dit ontstel Hábakuk egter nog meer! Hoekom wil God ʼn nóg goddeloser nasie soos die Babiloniërs gebruik om Israel te straf of tugtig (1:12-2:1)? Hoekom word die regverdiges verdruk terwyl dit lyk of die boosdoeners alles kry wat hulle wil hê? God se antwoord in 2:2-4 bevat die kern vers: ‘… die regverdige sal uit die geloof lewe’ (2:4). Verder, in 2:5-20, antwoord God op Hábakuk se tweede klagte. Die Here se finale antwoord word in ʼn visioen aan Hábakuk gegee in 3:1-15, waarna Hábakuk in geloof besluit om op die Here te wag (3:16-19).

Ten spyte daarvan dat Hábakuk nie God se weë kan begryp nie en hoewel Hábakuk dit bevraagteken dat God ʼn sondiger volk gebruik om Israel te straf, leer Hábakuk dat die regverdige uit die geloof sal lewe. Uiteindelik sal God se geregtigheid seëvier. Tydens die weerkoms sal die Here Jesus Christus in toorn teen God se vyande optree, maar die getroue oorblyfsel in Israel sal gered en deur God verdedig word.

Die struktuur van Hábakuk

Die volgende chiastiese struktuur wat Dorsey voorstel (1999:308; vgl. ook Merrill, Rooker & Grisanti 2011:467) word ondersteun, aangesien die struktuur die argument en boodskap van Hábakuk goed weergee.

A Hábakuk se 1ste klagte: Hoe lank moet ek wag vir u geregtigheid? 1:1-4
B Die HERE se 1ste antwoord: Koms van die magtige Babiloniese leërmag 1:5-11
    C Hábakuk se 2de klagte: Hoe kan U toelaat dat goddeloses ander volke vernietig wat regverdiger as hulle is? 1:12-2:1
      D Kern: Wag, want uiteindelik sal die goddelose gestraf word, maar die regverdige sal uit die geloof lewe 2:2-4
    C’ Die HERE se antwoord op die 2de klagte: Wee die goddelose; hy/hulle sal gestraf word; alle onreg sal opgehef word 2:5-20
B’ Die HERE se finale antwoord: Koms van die selfs magtiger leërmag van die HERE, wat Israel se vyande sal verdelg en Israel sal red 3:1-15
A’ Hábakuk se finale besluit oor sy eerste klagte: Ek sal op God se hulp wag vir solank as dit nodig is, ten spyte van alles; Hy is my bron van vreugde 3:16-19

Hábakuk 2:5-3:15

Uiteindelik is dit God wat wis en seker ‘wen’; al sy soewereine planne sal beslis uitgevoer word. Hábakuk 3 is ʼn welbekende beeld van God se finale geregtigheid, maar dalk verstaan die meeste mense hierdie hoofstuk verkeerd. Een rede hiervoor is dat die werkwoorde van Hábakuk 3:3-15 in baie vertalings foutief vertaal is, soos wat Feinberg (1990:217) aanvoer: ‘Die eerste werkwoord van 3:3 [nl. “came”] (en so ook al die werkwoorde tot by v. 15) moet nie vertaal wees as verlede tyd, so asof Hábakuk homself terugverplaas na die tyd van die gebeure tydens Israel se verlossing uit Egipte nie. Die werkwoord [“came”] moet weergegee word as “cometh” in die sin van ʼn tyd in die toekoms … .’ [LW: In die Ou Afrikaanse Bybelvertaling is geeneen van hierdie werkwoorde vanaf 3:3 tot 3:15 in die verlede tyd vertaal nie; almal kom voor in die teenwoordige tyd en kan kontekstueel inderdaad ‘in die sin van ʼn tyd in die toekoms’ verstaan word.]

Unger (2002:1911) sê dat ‘net soos die HERE verskyn het toe Hy sy volk uit Egipte verlos het, en hulle as sy volk by Sinai gevestig het (Ex. 19), Hy weer sal verskyn om die oorblyfsel van sy volk te red en hul vyande te oordeel soos wat Hy Egipte geoordeel het’. Unger beskryf hierdie gebeure as deel van die finale vernietiging van Israel se vyande by die weerkoms van die Messias. Soortgelyk redeneer Fruchtenbaum (2005:14) dat die profeet in Hábakuk 3:1-19 homself as deel sien van die gebeure wat tydens die weerkoms plaasvind en dat Hábakuk ‘homself sien as ʼn lid van die getroue [Joodse] Oorblyfsel in die Verdrukking’. Ander relevante Skrifverwysings sluit in Jesaja 34:1-6 en 63:1-6; Miga 2:12-13, Matthéüs 24:29-31 en Openbaring 19:11-16.

Hassler (2015) wys veelvuldige ooreenkomste uit tussen die koning wat in Jesaja 14 beskryf word en die trotse, opgeblase een van Hábakuk 2. Volgens Hassler (2015:221) beskryf beide Jesaja 14 en Hábakuk 2 dieselfde eindtydse heerser en, in ‘beide godsprake sing heiliges, wat onlangs bevry is, ʼn spotlied oor hul onlangs gevalle vyand, terwyl hulle dink aan die Verdrukkingstydperk wat hulle pas oorleef het’. As Hassler reg is, versterk dit die idee nog verder dat Hábakuk 3 gelees moet word met die oog op die einde van die Verdrukkingstydperk, tydens die weerkoms van die Here Jesus Christus na die aarde.

Toepassings vir vandag en vir die jaar

Toe Hábakuk hierdie boodskap ontvang het, het dinge erger begin raak, want God was besig om Juda en Israel te oordeel deur die Babiloniese ballingskap oor hulle te begin bring. God het egter nooit vir Israel verwerp nie; Hy het ʼn oorblyfsel na die land teruggebring. Baie jare later, in 70 nC, het God nog ‘n generasie in Israel geoordeel deur hulle hierdie keer oor die hele aarde te verstrooi (Deuteronomium 30:1; Lukas 21:24). God het egter nooit vir Israel verwerp nie; daar is altyd ʼn gelowige Joodse oorblyfsel (Romeine 11:1-15). God is weer besig om Jode na die land terug te bring: Eségiël 20:33-38 en Sefánja 2:1-2 leer dat daar ʼn wêreldwye herversameling van Jode, oorwegend in ongeloof, in hul land sal plaasvind ter voorbereiding vir die oordeel van die sewe jaar Verdrukkingstydperk (Fruchtenbaum 1989:716; White 2014:1401). Die moderne staat van Israel sedert 1948 is daarom geen historiese toevalligheid nie, maar vervul Bybelprofesieë. In God se perfekte tydsberekening sal die gebeure wat in Hábakuk 3 beskryf word plaasvind en ná die Verdrukkingsperiode sal daar ʼn tweede herversameling in Israel plaasvind van Jode, in geloof, ter voorbereiding vir die seën van die Messiaanse koninkryk. Die moderne staat van Israel se (gedeeltelike) beheer oor Jerusalem sedert 1967 is ook geen historiese toevalligheid nie, want Israel moet ʼn mate van beheer oor die Tempelberg hê sodat profesieë vervul kan word (vgl. Daniël 9:27; Matteus 24:15; 2 Thessalonisense 2:3-4; Openbaring 11:1-2). Totdat God hierdie gebeure laat gebeur, moet die Kerk getuies van Christus wees en die evangelie aan ʼn sterwende wêreld verkondig, want die evangelie van Christus is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood maar ook vir die Griek. Net soos God altyd getrou is om Sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob te vervul, net so is Hy getrou teenoor sy Kerk. Die Kerk moet dissipels van Jesus Christus uit al die nasies maak, oor die hele aarde heen. Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus (Efesiërs 1:3). Ons weet nie of dinge hierdie jaar beter of slegter gaan raak nie, maar wat ook al gebeur, God is in beheer en sal doen wat Hy belowe het — intussen leef die regverdige uit die geloof (Hab 2:4; vgl. 3:18-19). Sela.

———————————

Indien u meer oor hierdie onderwerp wil weet, oorweeg gerus om die volgende bronne te lees:

Baker, D.W., 1988, Nahum, Habakkuk and Zephaniah (TOTC), IVP Academic, Downers Grove.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Feinberg, C.L., 1990, The Minor Prophets, Moody Publishers, Chicago.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The Missing Link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Book of Habakkuk, Ariel Ministries, San Antonio.

Hassler, M.A., 2015, ‘Isaiah 14 and Habakkuk 2: Two Taunt Songs against the same Tyrant?’, The Master’s Seminary Journal 26(2), 221-229.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Unger, M.F., 2002, Unger’s Commentary on the Old Testament, AMG Publishers, Chattanooga.

White, W., 2014, ‘Zephaniah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1397–1404, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']