Hebreërs

Die vroegste manuskripte van hierdie wonderlike, majestieuse en soms moeilike preek-brief bevat die titel ‘Aan die Hebreërs’. Die oorspronklike gehoor vir wie hierdie brief geskryf was, was Jode: ‘Dit is moeilik om jou te verbeel dat ʼn terugkeer na ʼn Levitiese en Judaïstiese tempeldiens ʼn versoeking vir nie-Joodse gelowiges was’ (Ger 2009:14, eie vertaling; vgl. Kent 1972:22). Verder, daar word na die oorspronklike Joodse gehoor verwys as ‘deelgenote van die hemelse roeping’ (3:1), ‘heilige broeders’ wat in hulle geloof moes groei en nie vir nog ʼn lydensworsteling moes terugdeins nie (3:1, 12; 5:11-14; 6:9; 10:32-39). Ger (2009:15; eie vertaling) stel dit goed: ‘Die hele argument van Hebreërs is gebaseer op en deurdrenk met Ou-Testamentiese aanhalings, verwysings en perspektiewe, soveel so dat dit beskou kan word as geskryf vir geen gehoor anders as ʼn Joodse een nie’.

Historiese konteks

Waar het hierdie Hebreërs gebly? Dit is onwaarskynlik dat hierdie Jode in Jerusalem gebly het, want geen van hulle het toe al as martelare gesterf nie (Hebreërs 12:4), terwyl die kerk in Jerusalem reeds martelare soos Stéfanus en die apostel Jakobus gehad het (Handelinge 7; 12:2). Verder impliseer Hebreërs 2:3 dat die oorspronklike lesers nie persoonlik Jesus hoor praat het nie, terwyl daar sekerlik gelowiges in die kerk in Jerusalem was wat Hom hoor praat het. Dit is eweneens onwaarskynlik dat hierdie Jode vir wie Hebreërs oorspronklik geskryf was, in Rome gebly het, want ‘hulle het so ver van Jerusalem gebly dat ʼn terugkeer na die offerstelsel van die tempel nouliks vir hulle ʼn versoeking sou kon wees’ (Fruchtenbaum 2005:5). Hebreërs 2:3-4 sê duidelik dat hierdie Joodse gelowiges ge-evangeliseer is deur apostoliese ooggetuies van Jesus, maar die kerk in Rome is nie gestig deur ʼn apostel nie (Romeine 1:1-14; 15:20). Waar het hierdie Hebreërs dan gebly?

Sonder om té dogmaties hieroor te wees, die oorspronklike gehoor kon Joodse gelowiges gewees het wat in Judéa gebly het (Fruchtenbaum 2005:5; Ger 2009:20-21; vgl. Galásiërs 1:22). Hierdie Joodse gelowiges het voorheen ʼn lydensworsteling ondergaan (Hebreërs 10:32-35), moontlik in die tyd ná die gebeure wat in Handelinge 8:1 beskryf word — en het nou verdere vervolging in die gesig gestaar: ‘Die naderende vervolging waarna daar in Hebreërs verwys word (12:4) en die ernstigheid van die skrywer se vyf aanmaninge behoort verbind te word met die eerste Joodse opstand teen Rome (66-73 n.C.)’ (Ger 2009:20, eie vertaling). Dit is hierdie Judeërs wat na die berge toe moes vlug (Lukas 21:21).

Die onvergeeflike sonde

Tydens Christus se eerste koms het die geslag Jode wat toe in Israel geleef het (gesien as ʼn kollektiewe groep), die onvergeeflike sonde gepleeg deur die werk wat die Heilige Gees deur Christus gedoen het, te verwerp (Matteus 12:22-45; Fruchtenbaum 2005:11). Hierdie nasionale sonde het nie net ernstige konsekwensies tot gevolg gehad vir die aanbod van die koninkryk en daaropvolgende verborgenhede oor die koninkryk van die hemele nie (Scholtz 2015:2-4), maar omdat hierdie sonde nasionaal van aard was, het dit gelei tot die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70 n.C. Ger (2009:20, eie vertaling) skryf: ‘Hierdie goddelike oordeel was sentraal tot die boodskap van Johannes die Doper wat sy gehoor herhaaldelik teen “die toorn wat aan die kom is” gewaarsku het en wat binnekort op Israel sou daal (Matt. 3:7)’. Aangesien die onvergeeflike sonde nie ʼn individuele sonde is nie, kon — en het! — baie Jode hul bekeer oor wie Jesus Christus regtig is en hulle het met Hom geïdentifiseer deur die doop eerder as om steeds met ‘hierdie slegte en owerspelige geslag’ geïdentifiseer te word wat die oordeel in die gesig gestaar het. Wat het dit met Hebreërs te doen?

As in ag geneem word dat Hebreërs waarskynlik in die 60’s n.C. geskryf is (Tenney 1985:359), miskien in die jare 65-66 n.C. (Ger 2009:10), dan word dit duideliker hoekom die ‘hoofargument en uitdaging van die boek is om buitekant die laer na Hom te gaan’ (Kent 1972:9, eie vertaling; vgl. Ger 2009:11). Baie van hierdie Judeërs wat in die Messias geglo het, het gedink dat hulle ‘tydelik hulle verlossing eenkant kan sit en terug kan gaan na Judaïsme toe totdat die vervolging oor was. Sodra die vervolging oor was wou hulle weer gered word. … Die skrywer van hierdie brief dui aan dat hulle glad nie hierdie opsie het nie’ (Fruchtenbaum 2005:12, eie vertaling). As hulle na Judaïsme teruggekeer het, sou hulle fisies in 70 n.C. gesterf het. Hierdie ‘woord van vermaning’ (13:22) moedig daardie lesers aan om ‘in hulle geloof te volhard in plaas daarvan om afstand van hul Christenskap te doen en na Judaïsme terug te keer’ (Bailey & Constable 1999:505, eie vertaling). Die uitbreek van ‘die oorlog met Rome was die gebeurtenis wat finaal Judéa se Joodse gelowiges van hul mede-Jode geskei het’ (Ger 2009:11, eie vertaling).

Hooftema van Hebreërs

Die hooftema van Hebreërs is dat Christus voortrefliker is. ‘As die skrywer die goeie uitbrei na wat die beter is, neem hy die drie pilare van Judaïsme van sy dag — engele, Moses en die Levitiese priesterstelsel — en wys vir sy lesers dat wat hulle in die Messias het voortrefliker is as al drie pilare van Judaïsme’ (Fruchtenbaum 2005:13, eie vertaling). Nie net is Christus voortreflik nie (1:1-4), maar Hy is soveel uitnemender as engele, selfs ook nadat Hy die menslike natuur by sy ewige en goddelike natuur gevoeg het (1:5-2:18). Meer nog, Christus is voortrefliker as Moses (3:1-4:16), as Aäron (5:1-6:20) en, as Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek (7:1-28), is Christus die Middelaar van ʼn beter verbond in ʼn beter tabernakel op grond van ʼn beter offer wat eens en vir altyd gemaak is (8:1-10:18). Gelowiges word praktiese en persoonlike opdragte gegee (10:19-13:25).

Slotopmerkings

Let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus (3:1). Christus is die Seun van God, Hy ‘wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte’ (1:3). Hou die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (12:2).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Messianic Jewish Epistles, Ariel Ministries, Tustin.

Ger, S.C., 2009, The Book of Hebrews: Christ is Greater, AMG Publishers, Chattanooga.

Kent, H.A., 1972, The Epistle to the Hebrews, a Commentary, BMH Books, Winona Lake.

Scholtz, J.J., ‘Reading Matthew 13 as a prophetic discourse: The four parables presented in private’, In die Skriflig 49(1), Art. #1887, 7 bladsye.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']