Hoekom red God vandag heidene?

Daar is verskeie redes waarom baie gelowiges vandag vra of God steeds Jode red. Die presiese teenoorgestelde vraag is egter in die eerste eeu (vgl. Handelinge 15) deur Joodse gelowiges gevra: “Red God vandag heidene?” Hoekom het God gedurende die afgelope 2 000 jaar so baie heidene gered – en hoekom red Hy steeds vandag heidene (en Jode)?

. . .

Agtergrond

Hierdie artikel volg op ʼn ander, onlangse artikel (Jode, heidene, Christene). Ons beveel aan dat jy eers daardie artikel lees om deeglik te verstaan wat met hierdie terme bedoel word. Dit sal jou help om te weet waarom daar iets soos ʼn heidengelowige kan wees, iets wat moontlik vreemd en dalk selfs onmoontlik klink!

God se oorhoofse profetiese program kan onderverdeel word in drie pertinente planne: God het ʼn plan vir die nasie Israel; Hy het ʼn plan vir die Kerk; en God het ʼn plan vir die heidennasies. Al drie God se planne neem egter tot ʼn sekere mate die Joodse volk in ag, soos Deuteronómium 32:8-9 aantoon: “Toe die Allerhoogste aan die nasies ʼn erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel” (OAV). Nie alleen het God ʼn plan vir die redding van heidene nie, maar dié redding moet op een of ander manier verbind word met sy plan vir die Joodse volk. Daar is twee redes vir die redding van heidene en albei redes hou direk verband met God se program en plan vir die Joodse volk. Een, om uit die heidene ʼn volk vir sy Naam aan te neem (Handelinge 15:14). Twee, om die Jode jaloers te maak (Romeine 11:11).

Om uit die heidene ʼn volk vir sy Naam aan te neem (Handelinge 15:13-18)

Toe God die verbond met Abraham gesluit het, het Hy gesê, “… in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Génesis 12:3). Die Abrahamitiese verbond bevat sowel fisiese as geestelike beloftes. Terwyl die fisiese beloftes net tot die Joodse volk beperk is (soos byvoorbeeld die land Israel), sluit die geestelike beloftes ook die heidene in (soos wat Génesis 12:3 dit duidelik stel). In Ou-Testamentiese tye is baie heidene gered: dink aan Rut (1:16; 4:10), die manne van Ninevé en die koningin van die Suide [Skeba] (Matthéüs 12:40-42), om net ʼn paar te noem. Meer heidene word egter tydens die Kerkbedeling gered.

Die opgestane Here het vir die 11 apostels gesê om sy getuies te wees in Jerusalem, Judéa, Samaría en tot aan die uiterste van die aarde (Handelinge 1:8). Van Handelinge 2 tot Handelinge 7 is die evangelie van Christus na die Jode geneem, maar toe Stéfanus gestenig is en gesterf het, het baie Joodse gelowiges uit Jerusalem gevlug en die evangelie versprei daar waar hulle heen gegaan het, definitief in Judéa (van Handelinge 8 af en verder) maar ook in Samaría. Die Samaritane het ʼn fisiese verwantskap met Jode, en toe Samaritane gelowiges begin word het (Handelinge 8), het dit nie ʼn noemenswaardige beroering onder Joodse gelowiges veroorsaak nie. In Handelinge 10-11 maak Petrus egter die deur vir heidengelowiges ook oop. Toe Petrus terug was in Jerusalem, moes hy aan sy mede-Jodegenote verduidelik wat gebeur het (vgl. Handelinge 11:15-17). As gevolg van Paulus en Bárnabas se eerste sendingreis wat in Handelinge 13-14 beskryf word, het daar egter baie meer heidene gelowig geword en dit het ʼn strydvraag onder Joodse gelowiges veroorsaak: Red God vandag heidene?

Die heel eerste Kerksinode wat ooit plaasgevind het, word in Handelinge 15 beskryf. Word heidene gered op grond van genade deur geloof of moet hulle ook besny word en die Wet van Moses onderhou? Handelinge 15 maak dit duidelik dat die antwoord op die eerste vraag ‘Ja’ is en die antwoord op die tweede vraag ‘Nee’ is. Wat is dan die rede vir die groter aantal heidene wat gered word? Handelinge 15:14 verklaar dat God “uitgesien het om ʼn volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem”.

Dit laat vanselfsprekend verdere vrae ontstaan. Een, wat is die posisie van die heidengelowiges ten opsigte van veral onvoorwaardelike en ewige Joodse verbonde (Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde)? Twee, as God (fisies onbesnede) heidene red wat hul geloof gestel het in die dood, begrafnis en opstanding van Christus ter wille van hul sondes, wat is die posisie van heidengelowiges ten opsigte van die Joodse volk?

Wat die eerste vraag betref, is die antwoord NIE dat heidengelowiges die plek van die Jode in God se plan oorgeneem het nie. Hierdie teologie van vervanging is verkeerd. Nie die Kerk of die heidene is ‘oornemers’ van die onvoorwaardelike en ewige verbonde wat God aan Jode en hul verteenwoordigers gegee het nie. Heidengelowiges het deel aan die geestelike seëninge wat in die Joodse verbonde vervat is. Efésiërs 3:6 stel dit duidelik “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie”. Let op die woorde ‘mededeelgenote aan sy belofte’; dit sê nie dat heidengelowiges die belofte oorneem nie. Wat is dié belofte? Die kern geestelike seëning is die belofte van redding op grond van God se genade deur geloof in die Persoon van die Here Jesus Christus deur die evangelie. Die posisie van heidengelowiges is dié van deelgenote aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde – nie die fisiese seëninge nie, want dit behoort aan die Jode soos wat God dit aan die Jode in die Joodse verbonde belowe het – maar soos God lank tevore in Génesis 12:3 belowe het, sou heidene ook deel hê aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde, en het hulle wel deel daaraan.

Om die Jode jaloers te maak

Wat is die posisie van heidengelowiges in die Kerkbedeling ten opsigte van die Joodse volk? Die tweede rede vir die redding van heidene is om Jode jaloers te maak (Romeine 11:11-14). Ongelukkig maak sommige heidengelowiges Jode kwaad. Wat moet gebeur, is dit: Heidengelowiges moet tussen Joodse ongelowiges beweeg en hul lewens so lei en sulke konsekwente mondelinge getuies wees dat die Joodse mense van jaloesie sal begin brand totdat hulle uiteindelik sal sê, “Wat doen hierdie heiden met my Messias?” Heidengelowiges moet die evangelie op so ʼn manier uitdra dat die Joodse mense sal weet wat hulle moet glo om redding van God te ontvang.

Samevatting

Redding van heidene is verbind met God se program en plan vir die Joodse volk. Die eerste rede is om onder die heidene vir Hom ʼn volk vir sy Naam aan te neem. Die tweede rede is sodat heidengelowiges Jode jaloers sal maak. Daar is meer te sê oor hierdie onderwerp en jy word aangemoedig om die volledige artikel van dr. Arnold Fruchtenbaum van Ariel Bedieninge te lees.

———————————

Wil jy meer lees oor hoekom God vandag heidene red? Lees gerus die volledige artikel, Hoekom red God vandag heidene?, geskryf deur dr. Arnold Fruchtenbaum, wat hierdie onderwerp in veel meer detail toelig.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']