Inleiding tot die verbonde van die Bybel

ʼn Gesonde begrip van die verbonde van die Bybel is belangrik in die lewe van elke dissipel van Jesus Christus.

Wat is die verskil tussen ʼn voorwaardelike en ʼn onvoorwaardelike verbond? Hoeveel verbonde beskryf die Bybel? Wat is die bepalings van hierdie verbonde en hoe beïnvloed dit die lewe van Jesus se dissipels vandag?

Gedurende die volgende twee weke vertoef ons by die verbonde van die Bybel.

Vir ‘n uitgebreide bespreking van die verbonde van die Bybel, lees gerus die volledige artikel.

Dit is belangrik om te weet of ʼn mens gered word omdat jy ʼn verbond of verbonde nakom, of omdat jy die evangelie van Christus glo. As iemand in geloof reageer op die evangelie van die enigste Saligmaker, die Here Jesus Christus, dan word so ʼn persoon deur Christus Jesus gered van sy of haar sondeskuld. As hierdie weergebore gelowige in Christus dan vra: “Here, hoe moet ek nou leef?”, dan hang dit af watter verbond of verbonde primêr die verhouding tussen God en mens op daardie stadium reguleer.

Gelowiges leef vandag onder die Nuwe Verbond. Hierdie Nuwe Verbond is verder uitgebrei in die Nuwe Testament en staan as die Wet van Christus bekend. Dit rig vandag die lewe van gelowiges, en gaan saam met heiligmaking en verheerliking (vgl. 1 Korintiërs 1:30-31).

Kennis van die Bybelse verbonde is ook onontbeerlik vir die verstaan van eskatologie (die leer oor die eindtye). As jy wil weet wat God se koninkryksplan vir sy hele skepping is, dan lê die antwoord in die verskillende onvoorwaardelike verbonde en ander beloftes wat God gemaak het.

Wat van ongelowige mense?

In die algemeen (hier is ʼn nuanse wat nie verder in hierdie artikel bespreek word nie) leef ongelowiges onder die onvoorwaardelike verbond van Noag.

Wat is dan die primêre verskil tussen ʼn voorwaardelike en ʼn onvoorwaardelike verbond tussen God en die mens?

ʼn Voorwaardelike verbond kan kortliks opgesom word met die woorde: “God sal, mits jy …”, terwyl ʼn onvoorwaardelike verbond opgesom kan word as: “God sal, ongeag of jy …”

Die Wet van Moses is ʼn voorbeeld van ʼn voorwaardelike verbond.

God het hierdie verbond (die Wet van Moses) met Israeliete gemaak en, mits hulle gehoorsaam aan God was, het God hulle geseën; as die Israeliete ongehoorsaam was, is hulle gestraf. Israel het soms geleef soos hulle moes en God was getrou om hulle te seën in terme van die Wet van Moses, maar Israel het ook gefaal. Dit was ʼn situasie van staan-en-val, begin-en-eindig, weer-probeer-en-val.

Was daar dan fout met die Mosaïese verbond? Nee, beslis nie, want die Wet van Moses is heilig en regverdig en goed (Romeine 7:12). Die fout lê nooit by God nie. Maar waar lê die fout dan? Die fout lê by ongelowigheid, by ongehoorsaamheid en by die mens se gevalle, sondige natuur.

Daar is egter hoop, want God het ʼn oplossing gegee.

By die onvoorwaardelike verbonde werk God anders, want God koppel sy eie Naam en integriteit aan die vervulling van beloftes wat Hy in sy eie soewereiniteit besluit het om te maak.

Onvoorwaardelike verbonde is op sigself onvoorwaardelik maar hierdie onvoorwaardelike verbonde kan wel voorwaardelike seëninge bevat.

Hoe werk dit?

ʼn Voorbeeld hiervan is die onvoorwaardelike verbond wat God met Abra(ha)m gesluit het. Wat God belowe het, sal uiteindelik alles vervul word soos wat dit aanvanklik belowe is. Maar daar is voorwaardelike seëninge ter sprake. As Abraham sondig deur byvoorbeeld uit die land te gaan en in Egipte boonop oor sy vrou jok, dan lei sy sonde (en ongehoorsaamheid) daartoe dat Abraham tydelik nie in die voorwaardelike seëninge van hierdie verbond deel nie. Maar, en dit is belangrik, Abraham se tydelike ongehoorsaamheid kan nie veroorsaak dat hy nie uiteindelik die volle land (en al die ander beloftes ook) sal ontvang wat aan hom belowe is nie. Hoekom dan nie? God se Naam is op die spel. God sal hierdie onvoorwaardelike verbondsbeloftes vervul selfs al was Abraham by tye in sy lewe aan die Here ongehoorsaam. Nou hang alles af van die getrouheid van God en van God se natuur en sy karakter. God is getrou en sal doen wat Hy in sy soewereiniteit besluit het: “God sal, ongeag of jy …”

Maar hoe werk die onvoorwaardelike Nuwe verbond dan?

Selfs al is ons weergebore en het ons reeds ʼn nuwe natuur ontvang, is daar steeds sonde in ons lewens (1 Johannes 1:8). Tot die mate waartoe ons nie ons sondige natuur afsterwe nie, tot daardie mate is ons lewe ook ʼn staan-en-val situasie. Die verskil is egter dat die Nuwe verbond onvoorwaardelik is; selfs al faal gelowiges, sal ons steeds uiteindelik in Christus geheilig word en verheerlikte liggame ontvang. God sal dit doen, nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat God so wonderlik is. Die wat roem, moet in die Here roem. Die beloftes sal deur die geloof in Jesus Christus aan gelowiges gegee word (Galasiërs 3:22). As ons sondig en dit nie bely nie, dan ly die verhouding met ons Vader skade, maar as gelowiges gesondig het en dit bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Johannes 1:9).

Wat eskatologie (die leer oor die eindtye) betref, moet ons vra met wie God die onvoorwaardelike verbonde gemaak het.

Die onvoorwaardelike Abrahamitiese, Dawidiese, Land en Nuwe verbonde is met Israel en hul Joodse verteenwoordigers gemaak. (Sien byvoorbeeld die verwysing oor die Nuwe verbond in Hebreërs 8.) Het Abraham alreeds alles ontvang wat God aan hom belowe het? Nee, nog nie. En Dawid – het hy reeds alles ontvang wat aan hom en sy huis belowe is? Nee nog nie. Wat nou van al die onvervulde beloftes wat God in onvoorwaardelike verbonde gemaak het — dink u God sal hierdie onvoorwaardelike verbondsbeloftes nog vervul? Die antwoord is vir seker ja!

Nou sê iemand: Maar die Kerk het die Nuwe verbond deelagtig geword. Dit is so, die Kerk het in Christus die geestelike seëninge van die Nuwe verbond deelagtig geword, ons is “mede-erfgename en mededeelgenote” van hierdie seëninge (Efesiërs 2:11-3:7).

Maar het die Kerk die verbond oorgeneem en Israel sodoende permanent vervang?

Die antwoord op hierdie vraag het selfs ʼn effek op die polemiek oor beskouinge oor die eindtyd. En dit weer hang saam met begrippe oor verbonde.

Wat kan die ware Kerk, die bruid van Christus, skei van die liefde van Christus? Dank God, want niks, maar absoluut niks, kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here is nie (Romeine 8:35-39). Waarop berus hierdie belofte van God? Dit berus op God, op sy karakter en op die feit dat die Kerk in Christus ʼn mededeelgenoot van die onvoorwaardelike Nuwe verbond is. Maar nou, as niks die Kerk van God se liefde kan skei nie, selfs al doen ons individueel en kollektief sonde, wat nou van Israel? Sal iets wat Israel doen veroorsaak dat God sy onvervulde, onvoorwaardelike verbondsbeloftes teenoor hulle nie nakom nie? Nee, beslis nie (Romeine 9-11)!

Daar is ʼn duidelike rol vir die bruid van Christus en daar is ook ʼn duidelike rol vir Israel in God se plan. As u meer oor die eindtye wil weet, spits u daarop toe om insig oor die verbonde van die Bybel te verkry.

—————–
Wil jy meer oor verbonde lees?

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Scholtz, J.J., 2014, ‘Die wisselwerking tussen die verbonde van die Bybel’, FaithEquip, Bellville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']