Is die wegraping ʼn “geheim”?

In Suid-Afrika word lering oor die wegraping soms afgemaak omdat dit skynbaar ʼn “geheim” sou wees. Oor die wegraping vra König (2009:89) byvoorbeeld of daar in die Bybel gronde is “om so ʼn geheime wederkoms vóór die eintlike wederkoms te aanvaar.” Du Rand (2007:316-317) skiet ook die wegraping af: “Daar is niks geheimsinnigs aan sy wederkoms soos die wegraping-voorstanders wil voorstel nie.”

Voorstanders van die lering oor die wegraping sê nie dat die wegraping nou ʼn geheim is of gaan wees nie – asof dit iets is wat slegs ʼn paar ingeligtes van kan weet nie. Die wegraping is ʼn Nuwe-Testamentiese verborgenheid wat God openbaar het. Dit is glad nie ʼn geheim of iets geheimsinnigs of duister nie. Teenstanders van die lering oor die wegraping stel dit as ʼn duistere geheim voor – en skiet dan hierdie strooipop af.

Die Bybel definieer die woord “verborgenheid”. Die Bybel beeld nie verborgenhede as onverklaarbare raaisels, onoplosbare speurverhale of iets geheimsinnigs uit nie. ʼn Verborgenheid is ʼn belangrike nuwe waarheid of aspek van God se raadsplan wat Hy vir die eerste keer openbaarmaak. As God ʼn verborgenheid nie openbaargemaak het nie, sou geen mens dit kon weet nie.

In die Nuwe Testament kom die woord “verborgenheid” (in Grieks: μυστήριον) 27 of 28 keer voor. ʼn Bybelse verborgenheid is iets wat “verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Mat 13:35), iets wat “vir eeue lank verswyg is” (Rom 16:25b), wat “in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie” (Ef 3:5a) en “wat van alle eeue af verborge was in God” (Ef 3:9). Wanneer God egter ʼn verborgenheid openbaar, dan is dit bekend — juis nie ʼn “geheim” nie! Verder, Nuwe-Testamentiese verborgenhede is openbaring van God wat nie reeds in die Ou Testament geopenbaar is nie (vgl. Beacham 1996:232-233; Bailey 1998:176).

Ou-Testamentiese heiliges het geweet dat hulle eendag uit die dood opgewek sou word (Dan 12:1-2; Mat 22:23-33; Joh 11:24). In 1 Korintiërs 15:51-52 (my beklemtoning) skryf Paulus egter die volgende: “Kyk, ek deel julle ʼn verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ʼn oomblik, in ʼn oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” 1 Korintiërs 15:51 leer van ʼn verborgenheid, ʼn aspek van God se raadsplan wat Hy nog nooit voorheen openbaar gemaak het nie. Hierdie nuwe openbaring van God verwys dus nie na die opstanding van Ou-Testamentiese gelowiges nie, omdat die opstanding uit die dood reeds in die Ou Testament bekend was (Scholtz 2019:120). Verder, hierdie verborgenheid leer dat sommige gelowiges wat “in Christus” is, nie sal sterf nie en dat hulle hul verheerlikte liggame sal ontvang in ʼn oomblik, in ʼn oogwink. Ou-Testamentiese gelowiges sal tydens Christus se weerkoms aarde toe uit die dood opgewek word. Die opwekking en wegraping van almal wat in Christus is, is egter ʼn Nuwe-Testamentiese verborgenheid; dit verwys dus na ʼn groep gelowiges anders as Ou-Testamentiese gelowiges. Omdat God dit openbaargemaak het, is dit nie ʼn “geheim” watter groep gelowiges weggeraap gaan word nie.

Die Kerk is ʼn Nuwe-Testamentiese verborgenheid, ʼn aspek van God se raadsplan wat in detail aan die apostel Paulus openbaar is (vgl. Ef 3:1-7). Die Kerk se historiese begin asook voleinding is Nuwe-Testamentiese verborgenhede (1 Kor 15:50-54; Ef 3:1-7; 1 Tess 4:13-18). Die opwekking en wegraping van almal wat “in Christus” is, verwys na die gelowiges van die Kerk-era. Wie sal weggeraap word? Hulle wat “in Christus gesterf het”, oftewel “die wat in Jesus ontslaap het” (1 Kor 15:52; 1 Tess 4:14, 16), tesame met hulle wat “in Christus” is maar ten tyde van die wegraping nog lewe (1 Kor 15:51; 1 Tess 4:15, 17). Regdeur Paulus se geskrifte gebruik hy terme soos “in Christus”, “in Jesus Christus”, “in Christus Jesus”, “in Hom”, “in wie” en “in die Here” om te verwys na gelowiges vir wie die Heilige Gees spesifiek in die liggaam van Christus, dit wil sê die Kerk, gedoop het. Is Ou-Testamentiese gelowiges in die liggaam van Christus gedoop? Nee, want hierdie bediening van die Heilige Gees het eers vanaf Pinkster begin (Hand 2:1-4; 11-15-17; Hitchcock 2012:127). Dit is gelowiges in die Kerk-era wat in Christus is, of hulle reeds gesterf het of nog lewe; dit is gelowiges van Pinkster af tot by die voltooiing van die Kerk wat deur Christus weggeraap sal word.

Die wegraping is nie ʼn geheim of iets geheimsinnigs nie, maar ʼn Nuwe-Testamentiese verborgenheid wat God byna 2000 jaar gelede openbaar het. In Suid-Afrika was lering oor die wegraping vir teoloë soos Snyman (1940:83-87), Oosthuizen (1963) en Malan (2014:251-266) nie ʼn geheim nie. Indien mense egter dink dat die Kerk nou Israel is, of ander Ou-Testamentiese gelowiges is, dan sal lering oor die wegraping ironies genoeg vir baie ʼn raaiselagtige geheim bly.

Bronne

Bailey, M.L., 1998, ‘The Parable of the Sower and the Soils’, Bibliotheca Sacra 155(618), 172-188.

Beacham, R.E., 1996, ‘Universal and Mediatorial Kingdoms’, in Couch, M. (red.), Dictionary of Premillennial Theology, bl. 235-237, Kregel Publications, Grand Rapids.

Du Rand, J., 2007, Die A-Z van Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Hitchcock, M., 2012, The End, Tyndale House Publishers, Carol Stream.

König, A., 2009, ʼn Perspektief op Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Malan, J.S., 2014, Die laaste dae, FaithEquip, Bellville.

Oosthuizen, W.H.M., 1963, Die wegname van die gemeente, NG Kerk-Boekhandel, Pretoria.

Scholtz, J.J., 2019, God se raadsplan in Christus, FaithEquip, Amsterdam.

Snyman, D.R., 1940, Die komende Christus en die komende krisis, Christelike Uitgewers-Maatskappy (Edms.) Beperk, Johannesburg.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.