Is die wegraping ʼn nuwe lering?

ʼn Gewilde argument téén die wegraping is dat dit ʼn nuwe lering sou wees en, so gaan die argument verder, omdat dit nuut is kan dit nie waar wees nie (vgl. Ladd 1956:31). Du Rand (2007:317) skryf byvoorbeeld dat die wegraping “eers ná 1830 werklik momentum gekry het toe die drome van ʼn sekere Margaret MacDonald openbaar gemaak is”. Maar is lering oor die wegraping nuut — of is dit dalk oud? En is iets waar of vals omdat dit oud of nuut is?

Pseudo-Efraim

Iewers tussen die jare 374 en 627 het Pseudo-Efraim ʼn preek gelewer wat vandag as die Sermon on the End of the World of ook On the Last Times, the Antichrist, and the End of the World bekendstaan. In hierdie preek sê Pseudo-Efraim onder andere die volgende: “Why therefore do we not reject every care of earthly actions and prepare ourselves for the meeting of the Lord Christ, so that He may draw us from the confusion, which overwhelms the world?” Almal wat hierdie pleidooi afkeur is dwaas, sê Pseudo-Efraim, en bring op hulleself die oordeel waarvan Amos 5:18 profeteer:

Woe to those who wish to see the day of the Lord! Because all the saints and elect of God are gathered together before the tribulation, which is to come, and are taken to the Lord, in order that they may not see at any time the confusion which overwhelms the world because of our sins.

Pseudo-Efraim het geglo dat die verdrukkingstydperk slegs 3,5 jaar lank sal wees en dat gelowiges vóór hierdie 3,5 jaar weggeraap sal word. (FaithEquip glo dat die verdrukkingstydperk 7 jaar lank sal duur.) Demy en Ice (2005:317) sê dat Pseudo-Efraim se vroeë geskrif drie aspekte van die leer oor die vóór-verdrukkingswegraping ondersteun:

  1. Daar is twee fases van Christus se weerkoms, eers om sy gelowiges weg te raap, en later wanneer Christus na die aarde toe terugkeer.
  2. Daar is ʼn tydsverloop tussen die wegraping en die weerkoms van Christus na die aarde toe – in Pseudo-Efraim se geval glo hy dat ten minste 3,5 jaar se tyd sal verloop.
  3. ʼn Duidelike stelling dat Christus die Kerk vóór die verdrukking uit die wêreld sal neem.

Die wegraping is dus nie ʼn nuwe lering nie, want Pseudo-Efraim het dit ongeveer 1500 gelede al geleer.

Dolcino

Hitchcock (2012:178-180) gee dié inligting: In 1260 het Gerard Sagarello in Noord-Italië ʼn groep met die naam van Apostoliese Broeders gestig. Omdat dit op daardie stadium onwettig was om ʼn nuwe kerkgemeenskap te vorm, was die Apostoliese Broeders erg deur die Roomse Kerk vervolg. In 1300 sterf Sagarello op die brandstapel. Broeder Dolcino het toe die leierskap van die groep oorgeneem. Die Apostoliese Broeders se getalle het aansienlik toegeneem en hierdie beweging het vir nog 200 jaar bestaan.

Profesieë oor die eindtyd was ongetwyfeld deel van die Apostoliese Broeders se lering. In 1307 sterf Dolcino, maar nege jaar later, in 1316, word die dade en leringe van die Apostoliese Broeders neergeskryf — en dít staan as Die geskiedenis van Broeder Dolcino bekend. Uit hierdie teks is dit duidelik dat dié groep aan ʼn voor-verdrukkingswegraping geglo het en dat daar ʼn tydsverloop tussen die wegraping en Christus se weerkoms na die aarde toe gaan wees.

Die wegraping is nie ʼn nuwe lering nie. Dolcino se lering oor die wegraping is omtrent 760 jaar oud en is ten spyte van groot vervolging verkondig.

Morgan Edwards

Brown Universiteit is deur Edwards gestig, ʼn baptis wat in die jare 1722-1795 geleef het. Dit wil voorkom asof Edwards ook geglo het dat die verdrukkingstydperk slegs 3,5 jaar lank sal wees en dat gelowiges vóór hierdie 3,5 jaar weggeraap sal word. Edwards het geglo dat die wegraping 3,5 jaar voor die begin van die millennium sal plaasvind. Hierdie lering het hy in 1742 neergeskryf en dit is in 1788 gepubliseer. Hy skryf onder andere die volgende (Edwards se spelling is na moderne Engels verander):

The distance between the first and second resurrection will be somewhat more than a thousand years. I say, somewhat more, because the dead saints will be raised, and the living changed at Christ’s “appearing in the air” (I Thes. iv. 17); and this will be about three years and a half before the millennium, as we shall see hereafter: but will he and they abide in the air all that time? No: they will ascend to paradise, or to some one of those many “mansions in the father’s house” (John xiv. 2), and disappear during the foresaid period of time. The design of this retreat and disappearing will be to judge the risen and changed saints; for “now the time is come that judgment must begin,” and that will be “at the house of God” (I Pet. iv. 17).

Edwards skei die wegraping en Christus se weerkoms aarde met ten minste 3,5 jaar. Hy gebruik Bybeltekste soos Johannes 14:2 en 1 Tessalonisense 4:17 om sy lering te staaf (soos wat voorstanders van die voor-verdrukkingswegraping dit vandag ook doen). Edwards het geglo dat gelowiges voor Christus se regterstoel in die hemel sal verskyn terwyl die verdrukkingstydperk dan op die aarde woed.

Die werk van William Watson

Gedurende die afgelope paar dekades het Early English Book Online (EEBO) meer as 100 000 boeke wat in Engels gepubliseer is gedurende die 15de tot die 18de eeu, aanlyn vir die publiek beskikbaar gemaak. In 2007 het William Watson, ʼn professor in geskiedenis by die Colorado Christelike Universteit, en wat in 17de- en 18de-eeuse Engelse geskiedenis spesialiseer, besluit om die EEBO boeke te bestudeer. Die resultate van sy navorsing is in 2015 gepubliseer. Watson sê (2017:1):

My primary motivation for beginning the research culminating in this book came from a colleague at Colorado Christian University, Dr. Johann Kim, professor of New Testament studies. We debated the issue of Christian Zionism and Dispensationalism before a large audience in the spring of 2007, where he declared that these ideas began only 150 years ago in the mind of John Nelson Darby. Having spent decades digging through archives and data bases of pre-Victorian English published material, I had regularly encountered Apocalyptic material which seemed similar to Darby, and decided after that debate to dedicate my time to studying them.

In die eerste vier jaar van Watson se ondersoek het hy slegs die primêre bronne bestudeer. Daarna het hy ander historici en teoloë se werk bestudeer. Watson skryf:

I have used more than 350 primary sources, most of which have not been read (much less cited) for centuries. This is largely due to the fact that the writings are either unfamiliar or previously inaccessible to many researchers.

Watson (2015:145) se gevolgtrekking is: “An expectation that the saints would be taken out of tribulation and protected from the wrath of the Antichrist was common in the seventeenth century.” Watson sê (my beklemtoning): “In spite of the claims that Premillennial Dispensationalism is of recent origin, very little of what John Nelson Darby wrote in the mid-nineteenth century was new. … Those who insist Premillennialism is of recent origin need only study the Dead Sea Scrolls, or the earliest of church fathers (pre-Augustine, except for the Alexandrine metaphorical school), or the many millennial movements for the past two millennia.

Die ontwikkeling van die bewoording/konsep van die wegraping (rapt, rapture, left behind) wat in 17de- en 18de-eeuse Engelse literatuur opgemerk kan word, som Watson (2017:55) só op: Die woord “rapt” is in die geskrifte van Vernon Manuscript (1320s?), John Lydgate (1420), William Bond (1531), Thomas Draxe (1613), Barton Holyday (1626), George Walker (1638), William Sherwin (1665) en Joseph Hall (1708) gevind. Die woord “rapture” is in die werke van Joseph Mede (1627), Nathaniel Homes (1653), Capt. John Browne (1654), William Sherwin (1665-1700), Increase Mather (1709), Cotton Mather (1726), John Norris (1738) en Philip Doddridge (1739) gevind. Interessant genoeg kom die woorde “left behind” voor in die werk van Robert Maton (1642), Thomas Vincent (1667), Author of Theopolis (1672), Oliver Heywood (1700), Thomas Pyle (1715) en Grantham Killingworth (1761).

Watson (2017:55) verskaf ook ʼn lang lys van mense wat geglo het dat gelowiges na die hemel vir bewaring geneem sal word om verdrukking (“troubles” of “conflagaration”) vry te spring: Robert Maton (1642), Jeremiah Burroughs (1643), Ephraim Huit (Hewitt) (1643), Samuel Hutchinson (1646), Elizabeth Avery (1647), Peter Sterry (1648), Nathaniel Homes (1653), John Aspinwall (1653), Capt. John Brown (1654), Archbishop Ussher (1655), John Birchensha (1660), William Sherwin (1665), Praisegod Barebones (1675), James Floyer (1721), Nathaniel Markwick (1728), Sayer Rudd (1734), Moses Lowman (1737), Morgan Edwards (ca. 1742), Robert Hort (1747), Ebenezer Erskine (1761), Grantham Killingworth (1761).

Laastens lys Watson (2017:55) die name van mense wat waarskynlik volledige voorstanders van die voor-verdrukkingswegraping was: Joseph Mede (1627), Praisegod Barebones (1675), William Hooke (1673), Increase Mather (1709), Cotton Mather (1729), John Gill (1748) en Thomas Reader (1785).

Watson (2015) se werk toon dat lering oor die wegraping bekend in die 17de- en 18de eeuse Engels-sprekende wêreld was. Die bewering dat niemand voor Darby aan die wegraping geglo het nie kan eens en vir altyd as vals afgeskryf word. Verder, Darby het ʼn weergawe van lering oor die voor-verdrukkingswegraping reeds in Januarie 1827 gehad – drie jaar vóór MacDonald se beweerde profesie. Verder, as MacDonald se 1830-“profesie” gelees word, is dit glad nie eers seker dat hierdie vrou in ʼn wegraping geglo het nie (Hitchcock 2012:184). Laastens, niemand het al enige konkrete bewyse gebring wat bewys dat Darby sy lering oor die wegraping by MacDonald gekry het nie. Gegewe die navorsing wat in hierdie artikel bespreek is, is dit in elk geval duidelik dat die wegraping glad nie ʼn lering is wat by Darby begin het nie.

Watson is tans besig om Engelse geskrifte van die 15de en 16de eeu te bestudeer en ek is nuuskierig om te sien wat dié ondersoek gaan oplewer.

Slotopmerkings

Navorsing weerlê die kritiek téén die wegraping as synde dit ʼn historiese nuwigheid sou wees. Lering oor die wegraping is nie nuut nie, dit het trouens ʼn baie ouer geskiedenis as wat algemeen erken word.

Almal stem saam (of behoort saam te stem) dat die waarheid van ʼn lering alleen deur God se Woord bepaal word. Amen.

Die vroeë Kerk (ongeveer 32 tot 320 n.C.) het die “Skool van Antiochië” se hermeneutiek gevolg: die grammaties-historiese metode van Skrifuitleg wat in ooreenstemming met die beginsel van normale, letterlike interpretasie (sensus literalis) is. Hierdie beginsel sluit die gebruik van beide letterlike en figuurlike taalgebruik in. Die oorgrote meerderheid van die vroeë Kerk-gelowiges was chiliaste, of premillennialiste, gewees (en daar is geen historiese onduidelikheid hieroor nie).

Die allegoriese en vergeestelikingshermeneutiek van die “Skool van Alexandrieë”, onder leiding van Origenes en daarna Augustinus, het egter mettertyd in die Kerk gekom. Teen die vyfde eeu ná Christus was amillennialisme dominant; Augustinus het byvoorbeeld gesê dat Openbaring slegs simbolies geïnterpreteer mag word, en nie letterlik nie. Mense wat die hermeneutiek van die Skool van Antiochië gevolg het, se leringe is onderdruk en nie toegelaat nie.

Die Protestantse Hervormers het egter die normale, letterlike beginsel van interpretasie “herontdek”. Een uiters belangrike gevolg van hierdie belangrike beweging is dat die leer oor verlossing weer vanuit die Skrif na vore gebring is (vgl. byvoorbeeld Luther se opmerkings oor Galasiërs 2:20-21). Ongelukkig het hulle hierdie hermeneutiek nie konsekwent gebruik nie, veral nie as dit by die ekklesiologie (die leer van die Kerk), die Israelologie (die leer van Israel) of die eskatologie (die leer van die laaste dinge) kom nie.

Christus se eerste koms het verskeie fases gehad: Jesus is goddelik verwek, dan volg sy maagdelike geboorte, perfekte lewe, dood aan die kruis, opstanding, verskyning aan mense vir 40 dae ná sy opstanding voordat Hy na die hemel opgevaar het (weggeraap is).

Die Nuwe Testament gee duidelikheid dat Christus se tweede koms ook fases sal hê: eers die wegraping van sy Kerk en dan, meer as sewe jaar later, sal Christus na die aarde toe terugkeer. Wat die wegraping van die Kerk betref, dit word in die hemel gevolg deur die regterstoel oordeel en die bruilofseremonie (nie die bruilofsmaal nie). Soos wat Openbaring uitwys (19:11-21:2), Christus se weerkoms na die aarde sluit in die Slag van Armageddon, die gebeure gedurende die 75-dae interval (sien Scholtz 2019:239-247), die millenniale koninkryk en die groot wit troon oordeel. Die lang dag van die Here eindig as God die nuwe hemel en die nuwe aarde skep.

Bronne

Demy, T.J. & Ice, T.D., 1995, ‘The Rapture and an Early Medieval Citation’, Bibliotheca Sacra 152(607), 306-317. Beskikbaar by https://core.ac.uk/download/pdf/58822290.pdf

Du Rand, J., 2007, Die A-Z van Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Hitchcock, M., 2012, The End, Tyndale House Publishers, Carol Stream.

Ladd, G.E., 1956, The Blessed Hope, Eerdmans, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2019, God se raadsplan in Christus, FaithEquip, Amsterdam. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/godseraadsplan/

Watson, W.C., 2015, Dispensationalism Before Darby: Seventeenth-Century and Eighteenth-Century English Apocalypticism, Lampion Press, Silverton.

Watson, W.C., 2017, ‘Pre-Tribulational Rapture in 17th and 18th Century England’, Pre-Trib Centre. Beskikbaar by: www.pre-trib.org/articles/dr-william-watson/message/pretribulational-rapture-in-17th-and-18th-century-england/read

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.