Jeremia

Die woord van die HERE het tot Jeremia gekom in die 13de jaar van koning Josía, wat die laaste goeie koning van Juda was voor die Babiloniese ballingskap (Jeremia 1:1-2). Jeremia se bediening as ʼn profeet vir Juda en in Jerusalem het tot die 11de jaar van die koningskap van Sedekía geduur (1:3). Jeremia se bediening het dus begin in 627 vC en geduur totdat al drie wegvoerings van ballinge na Babel plaasgevind het (605, 597 en 586 vC), tot omtrent 580 vC. Die samestelling van die boek is waarskynlik afgehandel in omtrent 585-580 vC (vgl. Dyer & Rydelnik 2014:1104).

. . .

Outeurskap van Jeremia

Jeremia was die skrywer van die boek wat sy naam dra. Die boek begin deur te sê dat dit die “woorde van Jeremia” is (1:1) en eindig met, “Tot sover die woorde van Jeremia” (51:64). Dit is duidelik dat Barug, Jeremia se sekretaris, van tyd tot tyd opdrag gekry het om te skryf wat Jeremia aan hom dikteer het (36:4, 17-18, 32; 45:1-5). Die meeste sal saamstem dat hoofstuk 52 later bygevoeg is as ʼn historiese aanhangsel deur iemand wat deur die Heilige Gees geïnspireer moes gewees het om dit te doen. Ons leer regdeur hierdie boek baie van Jeremia en sy verhouding met die HERE, want Jeremia verskaf dikwels outobiografiese besonderhede (10:23-25; 11:18-12:6; 15:10-14; 20:7-18; Constable 2017:1-2).

Jeremia was ʼn Leviet, wat deur God beveel is om nooit te trou en kinders te hê nie (16:1-4), en wat gewoon het in Ánatot, ongeveer drie myl noord van Jerusalem in die land van die stam Benjamin. Toe die Here Jeremia geroep het, was hy nog ʼn jong man, waarskynlik tussen 20 en 25 jaar oud (1:6). Die naam ‘Jeremia’ kan beteken ‘die Here gooi’ of ‘die Here vestig’ (Dyer & Rydelnik 2014:1103).

Historiese agtergrond

Dit is belangrik om die historiese konteks van Jeremia se bediening te verstaan. Soos reeds vermeld, Jeremia het sy bediening begin in 627 vC, in die 13de jaar van koning Josía. Voordat Josía in 640 vC, op die tere ouderdom van 8 koning geword het, was die Suidelike Koninkryk (Juda) vir 55 jaar onder die heerskappy van die bose koning Manasse (tot 642 vC), gevolg deur nog ʼn bose koning, Amon, vir 2 jaar (642-640 vC). Op grond van die gruwels wat Manasse gedoen het, het God verklaar dat Jerusalem en Juda sulke onheil sou ervaar dat wie ook al daarvan te hore sou kom se ore sou tuit (2 Konings 21:11-15; vgl. Hábakuk 1:5-6). Vandat God hierdie woorde gespreek het, kon niks die verwoesting van Jerusalem keer nie, maar ʼn herlewing kon dit uitstel (vgl. 2 Kronieke 34:21-28).

So ʼn herlewing – hoewel meer uitwendig as inwendig – het inderdaad plaasgevind onder die goeie koning Josía: God se oordeel oor Jerusalem en Juda is uitgestel. Toe Josía in 609 vC tydens ʼn geveg by Megíddo gesterf het, het die geestelike toestand van die Suidelike Koninkryk egter vinnig agteruitgegaan. Juda het weer verval in afgodery: die hemelkoningin en die Baäls is aanbid en offers is aan Molog gebring (Jeremia 2:23; 7:16-20, 31-32; 32:35; 44:18; 49:1). Om hierdie redes is dit duidelik hoekom Jeremia herhaaldelik vir Juda en Jerusalem opgeroep het om hulle te bekeer, om terug te keer tot God … of om oordeel te verwag.

Jeremia het dus die moeilike taak gehad om ʼn profeet te wees tydens die laaste jare van die Suidelike Koninkryk (Juda), sowel voor, gedurende en ná die Babiloniese ballingskap. Omdat Jeremia oordeel oor Juda en Jerusalem geprofeteer het, was hy ongewild, verwerp, gevange geneem en uiteindelik teen sy wil na Egipte geneem. Jeremia het Israel en sy volk liefgehad, maar die wenende profeet was ʼn man van smarte wat droefheid geken het (9:1). As ʼn tipe, is Jeremia ʼn voorafskaduwing van die antitipe, die Here Jesus Christus: albei het oor Jerusalem geween (Jeremia 9:1; Matthéüs 23:37), albei het verwerping deur hul familielede ervaar (Jeremia 12:6; Johannes 1:11), en tog het albei Israel en sy mense innig liefgehad (vgl. Matthéüs 9:36-38).

Jeremia se tydgenote

Profete wat op een of ander tydstip tydgenote van Jeremia was, sluit in Nahum, Hábakuk, Sefánja, ʼn jong Daniël en ook Eségiël. Constable (2017:7-8) gee histories belangrike datums vir Jeremia:

Tabel 1: Belangrike datums vir Jeremia

Jare vCGebeurtenisseVerwysings
643Waarskynlike datum van Jeremia se geboorte
640Josía word koning van Juda op 8-jarige ouderdom2 Kron 34:1
628Josía begin sy hervormings2 Kron 34:3
627Jeremia begin sy bediening Jer 1:2; 25:3
626Nabopolasser vestig die Neo-Babiloniese Ryk
622Die Wetboek in die tempel ontdek2 Kron 34:8, 14
612Die val van Assirië se hoofstad Ninevé
609Josía deur Egiptenaars gedood in geveg by Megíddo. Jóahas regeer oor Juda vir 3 maande. Jójakim word deur Farao Nego koning gemaak oor Juda 2 Kron 35:20-25; 36:1-3, 4
605Nebukadrésar oorwin die Egiptenaars by Kárkemis. Die eerste wegvoering van ballinge (insluitend Daniël) na BabelJer 46:2; Dan 1:1-7
604Jójakim verbrand Jeremia se eerste boekrolJer 36
601Jójakim rebelleer teen Babel2 Kon 24:1
598Jójakim word onttroon en sterf. Jójagin regeer oor Juda vir 3 maande2 Kon 24:8; 2 Kron 36:3
597Die tweede wegvoering van ballinge (insluitend Jójagin [en Eségiël]) na Babel; Sedekía word deur Nebukadnésar koning gemaak oor Juda 2 Kon 24:12- 1 7
593Sedekía na Babel ontbiedJer 51:59
588Sedekía word weens verraad in Jerusalem beleërJer 52:3-4
586Val van Jerusalem. Gedálja deur Nebukadrésar aangestel as goewerneur van Juda. Gedálja vermoor deur Ismael. Judése uitgewekenes vlug na Egipte en neem Jeremia saam met hulleJer 39; 40:5-6; 41:2; 42-43
581Die derde wegvoering van ballinge na BabelJer 52:30
568Nebukadnésar val Egipte inJer 43:8-13; 46:13-26
561Jójagin uit die tronk in Babel vrygelaatJer 52:31-34
539Babel val deur Kores die Pers (deur sommige verklaarders beskou as dieselfde heerser as Daríus die Meder)Dan 5:30-31
538Kores vaardig sy dekreet uit wat die Jode toelaat om na Israel terug te keer Esra 1:1

Bron: Constable (2017:7-8)

Jeremia se gehoor en tema

Die gehoor tydens Jeremia se bediening was Juda en Jerusalem, die inwoners (2:2; 3:17; 7:2; 18:11), die konings van Juda (13:18; 21:3, 11; 22:1-24), priesters, (20:3-6) en sy (dikwels vals) profete (23:9; 28:15). Jeremia is ook geroep om ʼn profeet vir die nasies te wees (1:5; 46:1-51:65). Die tema van Jeremia is die naderende oordeel van Juda en Jerusalem. Die boek Jeremia bied egter ook vir die oorblyfsel van Israel vertroosting en herstel, want die Babiloniese ballingskap sou 70 jaar duur (25:11; 29:10) en Israel se uiteindelike herstel word ook geprofeteer (23:3-6; 31:27-40; 33:14-15).

Die struktuur van Jeremia

Jesaja, Jeremia en Eségiël het nie ʼn ‘Inhoud’ bladsy wat moderne lesers help om die boeke se orde en indeling te kan eien nie. Boonop, omdat hierdie profetiese boeke nie noodwendig lineêr of chronologies gestruktureer is nie, moet ʼn mens fyn oplet na hul literêre strukture, patrone, en parallelle as jy die boeke akkuraat wil verstaan en vertolk (Yates 2005:281). In die geval van Jeremia kan die onreëlmatige aard van die Godsprake selfs doelbewus wees, aangesien die boek se struktuur kan reflekteer hoe die onstuimige tye waartydens Jeremia opgetree het die skrywer beïnvloed het (Rooker 2011:385). Terwyl dit goed bekend is dat dit baie moeilik is om die boek Jeremia te skematiseer, moet ʼn mens, totdat die ‘finale oplossing’ gevind word, aanhou soek vir die algehele literêr-teologiese struktuur van die boek Jeremia.

Die eenvoudigste oplossing is dikwels die beste: Jeremia kan ingedeel word in ʼn inleidende hoofstuk (1), gevolg deur diskoerse en profesieë aangaande Juda (2-45), profesieë aangaande nasies (46-51), voordat dit afsluit met ʼn historiese naskrif (52) (Dyer & Rydelnik 2014:1108-1111).

Patterson (1989) stel nog ʼn manier voor om die boek Jeremia in te deel: Hoofstuk 1 verskaf die historiese agtergrond en roeping van Jeremia as ʼn profeet nie net vir die nasies van die wêreld nie, maar vanselfsprekend ook vir die Suidelike Koninkryk, naamlik Juda. Die res van die boek Jeremia wentel rondom Jeremia se roeping na Juda (hoofstukke 2-25) en na Israel onder die nasies van die wêreld (26-51). Dit word gevolg deur ʼn historiese naskrif wat onder andere die tragiese val van Jerusalem en die verwoesting van Salomo se tempel insluit (hoofstuk 52). Patterson (1989:115) deel die boek Jeremia in soos volg:
  Roeping en opdrag van Jeremia (hoofstuk 1)
    Jeremia en sy volk (2-24)
      Tema 2:1-3:5
      Ontwikkeling 3:6-23:40
      Teken 24
    Jeremia en die nasies (25-51)
      Tema 25
      Ontwikkeling 26:1-51:58
      Teken 51:59-64
  Historiese Aanhangsel 52

Omdat kleiner eenhede binne Jeremia ooglopend bestaan, byvoorbeeld hoofstukke 30-33, 36-45 (Yates 2005:267) en 46:1-51:65 (Patterson 1989:126), is die ‘finale woord’ omtrent die algehele struktuur van Jeremia waarskynlik nog nie gespreek nie. Een beswaar ten opsigte van Patterson se voorstel, is die waarneming dat Jeremia 30-33, die Boek van Vertroosting, ʼn meer prominente posisie in die algehele struktuur van Jeremia kan hê. Rosenberg (1987:192-193) het ʼn chiastiese struktuur vir Jeremia 20-40 geïdentifiseer, met die Boek van Vertroosting as die chiastiese draaipunt. Meer nog, Dorsey (1999:244) lig die Boek van Vertroosting uit as die chiastiese middelpunt van Jeremia:

A Godsprake teen Juda: Naderende inval en onheil vanuit die Noorde 1:1-12:17
B Juda se ballingskap en lyding voorspel 13:1-20:18
    C Gedateerde boodskappe van oordeel m.b.t. spesifieke konings en groepe 21:1-29:32
      D Boodskappe van toekomstige hoop 30:1-33:26
    C’ Gedateerde boodskappe van oordeel m.b.t. spesifieke konings en groepe 34:1-35:19
B’ Juda se val en ballingskap 36:1-45:5
A’ Godsprake teen die nasies: Naderende inval en onheil vanuit die Noorde 46:1-51:64
Aanhangsel: Val van Jerusalem 52:1-34.

Die doel en gevolgtrekking van Jeremia

Vanweë hulle afgodery het Jeremia vir Juda en Jerusalem gewaarsku oor God se oordeel. Jeremia se doel was egter ook om Juda en Jerusalem tot bekering en geloof op te roep ‘deur die bekendmaking van die Here se getrouheid aan sy beloftes om Israel te tugtig sowel as te herstel’ (Dyer & Rydelnik 2014:1104). Soos voorheen uitgewys, is die belofte van herstel nie alleenlik om ná die Babiloniese ballingskap terug te keer nie, maar Israel en Juda sal uiteindelik herstel wees in die Messiaanse koninkryk onder die HERE van geregtigheid ooreenkomstig die Nuwe verbond (23:3-8; 31:27-40). Ons sluit af met ʼn aanhaling van Constable (2017:19): ‘Daar is ten minste drie blywende lesse uit hierdie boek: Een, sonde bring vernietiging. Geen beleid kan God uitoorlê nie. Nasionale opstand is nasionale ondergang. Sonde bring sy eie verwoesting en vergelding mee. Twee, sonde verwond God se hart. Hy ween oor die verdoemenis van ʼn stad en sy mense. Hy geniet dit nie om vernietiging en verwoesting te bring nie, en sy dienaars moet ook nie. Drie, die uiteindelike oorwinning is by God. Hy sal die voorwerp oormaak wat Hy vernietig het vanweë sy tekortkomings: Israel. Die stomp van Dawid se geslagslyn sal weer uitspruit. Hoewel die laaste Dawidiese koning in ballingskap gesterf het, het God belowe dat ʼn ander Dawidiese Koning verwek sou word (23:5; 30:9). Daar was hoop van ʼn nuwe verbond wat sou kom, en bemagtigende genade, wat die ou verbond – wat niemand behalwe Jesus onderhou het nie – sou vervang (31:31-34).’

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2017, Notes on Jeremiah, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Dyer, C. with Rydelnik, E., 2014, ‘Jeremiah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1103-1188, Moody Publishers, Chicago.

Patterson, R.D., 1989, ‘Of bookends, hinges, and hooks: Literary clues to the arrangement of Jeremiah’s prophecies’, Westminster Theological Journal 51(1), 109-131.

Rooker, M.F., 2011, ‘Jeremiah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 380-393, B&H Publishing Group, Nashville.

Rosenberg, J., 1987, ‘Jeremiah and Ezekiel’, in R. Alter & F. Kermode (eds.), The Literary Guide to the Bible, Harvard University Press, Cambridge.

Yates, G.E., 2005, ‘Narrative parallelism and the “Jehoiakim frame”: A Reading strategy for Jeremiah 26-45’, Journal of the Evangelical Theological Society 48(2), 263-281.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']