Jesaja

Naas Johannes die Doper (vgl. Matthéüs 11:9-11), was Jesaja waarskynlik die grootste Ou-Testamentiese profeet. Die openingsvers van die boek verklaar dat Jesaja opgetree het tydens die regerings van vier konings van Juda, naamlik koning Ussía (wat gesterf het in 740/739 vC; vgl. Jesaja 6:1), Jotam, Agas, met sy bediening wat iewers ná die dood van koning Hiskía (in omtrent 687 vC) geëindig het. Dit is moontlik dat Jesaja ʼn martelaardood gesterf het, want volgens ʼn Joodse tradisie het koning Manasse vir Jesaja in ʼn hol boomstam gesit voordat dit en Jesaja in stukke gesaag is, ʼn gebeurtenis waarna daar waarskynlik in Hebreërs 11:37 verwys word. Met bogenoemde data in ag geneem, kon die boek Jesaja iewers in ongeveer 680 vC geskryf gewees het. Jesaja was getroud, ons weet van twee seuns wat hy gehad het (Jesaja 7:3; 8:3), en onder die profete van die Ou Testament was hy stellig die grootste skrywer.

. . .

Outeurskap van Jesaja

Hoewel baie akademici wat ʼn kritiese benadering ten opsigte van die studie van die Ou Testament volg voorstanders is van twee of selfs drie skrywers van hierdie boek (Döderlein, Eichhorn, Gesenius, Duhm, ens.), is Jesaja die een en enigste skrywer van die hele boek wat sy naam dra (1:1; 2:1; 7:3; 13:1; 20:2; 37:2, 6, 21; 38:1, 4, 21; 39:3, 5, 8). Daar is hoegenaamd geen bewys dat Jesaja 40-66 of miskien selfs 40-55 en 56-66 onafhanklik van hoofstukke 1-39 in omloop was nie (Rooker 2011:370-371). Die waarheid is dat die apostel Johannes Jesaja 6:10 aanhaal (in Johannes 12:41) maar drie verse vroeër het hy Jesaja 53:1 aangehaal (Johannes 12:38) – en Johannes het nie ‘Deutero-Jesaja’ aangehaal nie, maar hy het Jesaja aangehaal. Nog ʼn rede hoekom die outeurskap van Jesaja bevraagteken word, is omdat talle voorspellende profesieë in Jesaja 40-66 voorkom en daar gemeen word dat Jesaja onmoontlik gebeurtenisse ná die Babiloniese ballingskap kan behandel. Inteendeel, egter, ses keer in Jesaja (42:8-9; 44:7-8; 45:1-4, 21; 46:10; 48:3-6) sê die Heilige van Israel dat Hy die toekoms voorspel – Hy “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (46:10) – presies die dinge wat sekere verklaarders wil ontken. Kan daar egter wel ʼn geldige argument wees vir meerdere skrywers op grond van skryfstyl, inhoud of teologiese beklemtoning van Jesaja 1-39? Nee, so ʼn redenasie is nie haalbaar nie, en inderwaarheid betoog dit ten gunste van ʼn enkele skrywer wat onder die inspirasie van God die Heilige Gees geskryf het (vgl. Rooker 2011:367-371; Constable 2017:1-5). Die mening dat Jesaja een saamgestelde komposisie geskryf het, word versterk deur die feit dat hoofstukke 1-39 meer verwysings na “Babel” bevat as hoofstukke 40-55 (en dus is die aanname dat 40-55 ‘Babelgebaseerd’ is nie verdedigbaar nie), die naam “die Heilige van Israel” regdeur die boek voorkom, die Jesaja boekrol wat by Qumran gevind is as een saamgestelde geheel bewaar is en, laastens, die Nuwe Testament skryf alle dele van die boek toe aan Jesaja (Rydelnik & Spencer 2014:1005-1006).

Gehoor

Aangesien hy opgetree het tydens die regerings van vier konings van Juda in Jerusalem (Jesaja 1:1), moes Jesaja óf in Jerusalem gewoon het óf hy moes baie dikwels daar gewees het. Verder, aangesien Jesaja se bediening gestrek het oor vier dekades, indien nie vir omtrent 60 jaar nie, moet in gedagte gehou word dat diegene wat Jesaja hoor preek het nie noodwendig dieselfde was as die eerste ontvangers wat die boek Jesaja gelees het nie. Daar word saamgestem met Rydelnik en Spencer (2014:1006), dat Jesaja geskryf is ‘vir die gelowige oorblyfsel van Israel om troos, hoop, en geloof in hulle te wek deur hulle te herinner dat die Heilige van Israel sonde sou oordeel en Israel uiteindelik sou vertroos en herstel volgens sy belofte’. Jesaja se taak was om ‘aan hierdie uitverkore volk te verduidelik dat die ou wêreldorde aan die verbygaan was en dat die nuwe orde – beheer deur heidense wêreldryke wat Juda wou verswelg – ʼn nuwe toewyding van Israel geverg het om Yahweh te vertrou en Hom te gehoorsaam as sy “kneg” volk’ (Constable 2017:7). Hoewel Babel uiteindelik die Suidelike Koninkryk (Juda) oorweldig het, sal ʼn oorblyfsel terugkeer om uiteindelik in te gaan in die Messiaanse koninkryk wat sal oorgaan in die Ewige orde, want die verlossing wat God voorsien is ewig (Jesaja 2:1-5; 4:2-6; 7:3; 9:1-6; 65-66). Die onderstaande tabel help om die skrywerprofete van Israel in hul respektiewelike historiese kontekste te plaas – met datums wat die tyd aandui wanneer hulle begin het met hul bediening en/of skryfwerk.

Tabel 1: Skrywerprofete in die Ou Testament
(in waarskynlike chronologiese orde)

TydvakRyk ProfeetDatum vCTuisteAanvanklike teikengehoorKoningsTekste
Voor-ballingskapAssirieseObádja845Juda?EdomJoram
Voor-ballingskapAssirieseJoël835Juda?JudaJoas
Voor-ballingskapAssirieseJona780IsraelNinevé & IsraelJeróbeam II
Voor-ballingskapAssirieseHoséa760IsraelIsraelUssí, Jotam, Agas, Hiskía, Jeróbeam IIHos 1:1
Voor-ballingskapAssirieseAmos760JudaIsraelUssí, Jeróbeam IIAm 1:1
Voor-ballingskapAssirieseJesaja740JudaJuda & JerusalemUssí, Jotam, Agas, HiskíaJes 1:1
Voor-ballingskapAssirieseMiga735JudaJudaJotam, Agas, HiskíaMig 1:1
Voor-ballingskapAssirieseNahum655JudaNinevé & IsraelManasse
Voor-ballingskapBabilonieseSefánja630JudaJudaJosíaSef 1:1
Voor-ballingskapBabilonieseJeremia625JudaJudaJosía, Jóahas, Jójakim, Jójagin, SedekíaJer 1:2-3
Voor-ballingskapBabilonieseHábakuk605JudaChaldéa & JudaJójakim
BallingskapBabilonieseEségiël593BabelBabel (Joods)Sedekía, Nebukadnésar Eseg 1:1-3
BallingskapBabilonieseDaniël535BabelBabel (Heidens)Jójakim, Jójagin, Sedekía, Nebukadnésar, Bélsasar, Daríus, KoresDan 1, 5, 6, 10
Na-ballingskapPersieseHaggai520JudaJudaDaríusHag 1:1
Na-ballingskapPersieseSagaría520JudaJudaDaríusSag 1:1
Na-ballingskapPersieseMaleági432JudaJudaAhasvéros

Bron: Constable (2017:340).

Die struktuur van Jesaja

Verskeie strukture word aangebied vir die boek Jesaja, waarvan ons twee vermeld. Die eerste struktuur word voorgestel deur Rydelnik en Spencer (2014:1007). Ná ʼn inleiding en Jesaja se roeping tot die amp van profeet (hoofstukke 1-6), vind ons die relaas van ʼn teken wat verwerp is (7-12), wat gevolg word deur Godsprake van oordeel (13-35). Dan, in hoofstukke 36-39, vind ons ʼn relaas van ʼn teken wat aangeneem word, gevolg deur Godsprake van seëning (40-66). Die struktuur van Jesaja kan derhalwe soos volg uitgebeeld word:

Inleiding hoofstukke 1-6OORDEEL VAN ISRAEL EN DIE NASIES
Relaas van ʼn “teken” wat verwerp is 7-12Godsprake van Oordeel
Godsprake teen die nasies 13-23Die Klein Apokalips 24-27“Weë” oor die nasies 28-33Opsomming van Oordeel 34-35
SEËNING VAN ISRAEL EN DIE NASIES
Relaas van ʼn “teken” wat aangeneem is 36-39Godsprake van Seëning
Verlossing uit Babel (Teologie oor die Vader en die Drie-eenheid) 40-48Verlossing van sonde (Soteriologie & Christologie) 49-57Verlossing in die Einde (Eskatologie) 58-66

Bron: Rydelnik en Spencer (2014:1007).

Die tweede struktuur vir die boek Jesaja word voorgestel deur Dorsey (1999:234):
A Inleidende boodskappe van veroordeling, smeking, en toekomstige herstel 1:1-12:6
B Godsprake vir nasies: Vernedering van hovaardige koning van Babel 13:1-27:13
    C Ophoping van weë: Moenie op aardse magte vertrou nie! 28:1-35:10
      D MIDDELPUNT: Historiese relase wat Yahweh se oppergesag oor alle aardse en hemelse magte toon 36:1-39:8
    C’ Yahweh se oppergesag oor afgode: Moenie in afgode vertrou nie! 40:1-48:22
B’ Knegboodskappe: Verhoging van die nederige Kneg 49:1-54:17
A’ Afsluitingsboodskappe van veroordeling, smeking, en toekomstige herstel 55:1-66:24

Onder die inspirasie van die Heilige Gees het Jesaja nie net die boek as geheel gestruktureer nie, maar kleiner eenhede is ook gestruktureerd. Byvoorbeeld, Motyer (1993:194-195) toon aan hoe Jesaja 24-27 – dikwels ‘Die Klein Apokalips’ genoem omdat dit die 7-jaar Verdrukkingstydperk en die onmiddellike nagevolg beskryf – gestruktureer kan word:

A Die Here se oes van ʼn vernietigde wêreld (24:1-13: vernietiging 1-12; insamelings 13)
B Die lied van die wêreldoorblyfsel (24:14-16a)
    C Die sondige wêreld omvergewerp (24:16b-20)
      D Die wagtende wêreld (24:21-23)
        E Die lied van die verwoeste stad (25:1-5)
          F Berg Sion (25:6-12)
        E’ Die lied van die sterk stad (26:1-6)
      D’ Die wagtende volk van God (26:7-21)
    C’ Geestelike bose magte omvergewerp (27:1)
B’ Die lied van die oorblyfsel van die volk (27:2-6)
A’ Die Here se oes uit ʼn vernietigde volk (27:7-13: vernietiging 7-11; insamelings 12-13)

Die doel van Jesaja

Hoekom is Jesaja geskryf? Al is daar waarskynlik meer redes noem ons net die volgende twee redes hoekom Jesaja deur God geïnspireer is om hierdie boek te skryf. Een, toe Jesaja in ongeveer 740 vC begin optree het, was die Noordelike Koninkryk (Israel) omtrent 18 jaar weg van gevangeneming deur Assirië (in 722 vC). Jesaja het die Suidelike Koninkryk (Juda) gewaarsku dat hulle, tensy hulle hul sou bekeer, ook uiteindelik uit die land ontwortel sou word en in gevangenskap sou gaan – soos dit uiteindelik gebeur het in die Babiloniese ballingskap. Die wending vanaf die Assiriese dreigement tot die toekomstige Babiloniese ballingskap is veral merkbaar in wat Dorsey (1999:224) beskou as Jesaja se chiastiese draaipunt in Jesaja 36-39.

Twee, omdat die Dawidiese verbond onvoorwaardelik en ewig is, sal God sy gesalfde Seun van Dawid op die troon in Jerusalem hê. Verskeie waarskuwings en oordele in Jesaja word dikwels gevolg deur profesieë aangaande die Messiaanse koninkryk. Byvoorbeeld, 1:2-31 (waarskuwing en oordeel) word onmiddellik gevolg deur 2:1-5 (die Messiaanse koninkryk), en 2:6-4:1 (waarskuwing en oordeel) word weer onmiddellik gevolg deur 4:2-6 (Messiaanse koninkryk). God voorsien dus hoop en troos vir die getroues, hetsy hulle die gelowige oorblyfsel van Israel of die gelowiges uit die heidennasies is (vgl. Jesaja 42:1-6). Rydelnik en Spencer (2014:1006) stel dit goed: ‘Die blywende boodskap van Jesaja is dat God se volk sal bly leef in die wete dat Hy die heilige God is wat diegene red wat aan Hom getrou is. Hierdie boodskap is verweef in die verskillende besprekings omtrent die oorblyfsel, die komende Messias, en die uiteindelike herstel van die hele skepping. Die besef dat God die heilige God is wat dié red wat aan Hom getrou is, bemagtig gelowiges van alle geslagte om lewens van gehoorsaamheid en liefde te lei ongeag die omstandighede waarin hulle hulself bevind. Dit herinner voortdurend die getroues om in God te vertrou en Hom te volg selfs wanneer dit irrasioneel, ongerieflik, of gevaarlik voorkom’.

Gevolgtrekking

Die naam ‘Jesaja’ beteken ‘Die HERE red’, ʼn naam soortgelyk aan die naam en betekenis van Jesus, wat beteken ‘Yahweh verlos’ of ‘Yahweh is verlossing’ (vgl. Matthéüs 1:21). Toe Jesaja die Here op ʼn troon sien sit het, was sy reaksie: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ʼn man onrein van lippe en woon onder ʼn volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! (Jesaja 6:5). Jesaja het die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid gesien, want net Christus kan God sien en lewe (vgl. Johannes 1:18; 1 Timótheüs 6:13). Later getuig die apostel Johannes (12:41): “Dit het Jesaja gesê [vgl. Jesaja 6] toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het”. Jesaja was een van die grootste profete van die Ou Testament, en nogtans het hy dringend nodig gehad dat die HERE hom moes red – en so geld dit vir elkeen van ons.

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2017, Notes on Isaiah, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Motyer, J.A., 1993, The Prophecy of Isaiah: An Introduction and Commentary, InterVarsity Press, Downers Grove.

Rooker, M.F., 2011, ‘Isaiah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 367-379, B&H Publishing Group, Nashville.

Rydelnik, M. & Spencer, J., 2014, ‘Isaiah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1005–1102, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']