Josua

Die Boek van Josua dra die naam van die hoofkarakter in die boek. In Grieks is die naam Josua die ekwivalent van die naam Jesus, wat beteken ‘die Here red/verlos’, so dit is nie sommer net enige naam nie. Ons hoor die eerste keer van Josua in Eksodus 17:9-13 waar ons hom aantref as militêre bevelvoerder, maar in die Boek van Josua leer ons dat Josua Israel gelei het om die Beloofde Land in te neem – maar altyd as onderdaan van die Bevelvoerder van die HERE se leer (Josua 5:13-15). In die Pentateug word Josua 28 keer genoem. Hy het as Moses se persoonlike kneg gedien voordat hy aangestel is om Israel in die Beloofde Land in te lei (Numeri 11:28; 27:12-23; Deuteronomium 31:1-8). Die Bybel getuig dat Josua ʼn man was in wie die Gees van God was, ʼn man wat die HERE in alles gevolg het (Numeri 27:18; Deuteronomium 32:12).

. . .

Die outeurskap en datum van Josua

Volgens die Talmoed en ander Joodse kommentators van die Middeleeuse tydperk, het Josua hierdie boek geskryf (Rooker 2011:278). Josua kon meeste van die boek self geskryf het, soos die gebruik van die eerste persoon meervoud in hoofstuk 5:1 suggereer (Vreeland 2014:313). Dit is egter onwaarskynlik dat Josua sy eie dood sou dokumenteer (24:29-33) – maar die Heilige Gees kon wel ʼn ander persoon geïnspireer het om hierdie en ʼn paar ander verse in die boek te skryf. Die boek is nie net saamgestel kort na die gebeure wat daarin beskryf word nie (sien Josua 19:47; 24; Rooker 2011:278), maar ʼn groot gedeelte van die boek is deur hom self geskryf. Aangesien Moses omtrent 1406 of 1405 vC dood is en die gebeure wat Josua beskryf omtrent oor 31 jaar strek, is die boek iewers tussen 1406-1370 vC geskryf (Vreeland 2014:313).

Die struktuur van Josua

Die boek kan in vier hoofdele verdeel word, naamlik die binnegaan van Kanaän (1:1-5:12), die verowering van Kanaän (5:13-12:24), die verdeling van Kanaän (13:1-21:45) en die volk se gehoorsaamheid in Kanaän (22:1-24:33). Wat treffend is van die bostaande verdeling is dat die eerste drie dele telkens begin met ʼn ontmoeting tussen die HERE en Josua. Verder word elke gedeelte gekenmerk deur ʼn prominente werkwoord, soos Rooker (2011:280) aantoon: Die werkwoord ‘oorsteek/kruis’ in die eerste gedeelte waar Israel die Jordaan oorsteek, die werkwoord ‘neem’ wanneer Israel die land inneem, die werkwoord ‘verdeel’ wanneer die verowerde land verdeel word en die werkwoord ‘dien’ in die vierde afdeling van die boek. Alhoewel die bogenoemde volkome sin maak, word Dorsey (1999:93-94) se strukture met die tweevoudige fokus op verowering en verdeling van grond verkies:

A Inleiding tot die eerste deel van die verowering 1:1-18
B Gelowige Kanaäniete word gespaar: Ragab 2:1-24
    C Wonderwerk van die Jordaanrivier wat stop 3:1-4:24
      D Seremonies by Gilgal nadat die Jordaan gestop is 5:1-15
        E Verowering en verbranding van Jerigo 6:1-27
          F Ongelowige Israeliet (Akan) doodgemaak 7:1-8:29
            G Gevolgtrekking: Samestelling van 12 stamme 8:30-35
A’ Inleiding tot die tweede deel van die verowering 9:1-2
B’ Gelowige Kanaäniete word gespaar: Gibeoniete 9:3-27
    C’ Wonderwerk van die son wat stop 10:1-15
      D’ Seremonie by Makkeda nadat son gestop is en oorwinning 10:16-31
        E’ Verowering en verbranding van Hasor 11:1-15
          F’ Geharde Kanaäniete word doodgemaak 11:16-23
            G’ Gevolgtrekking: Lys van 31 oorwonne konings 12:1-24

Dorsey (1999:94) se tweede struktuur fokus op Josua 13-24:

A Inleiding 13:1-7
B Trans-Jordaaniese volke 13:8-33
    C Leviete 14:1-5
      D Persoonlike toedeling aan die held van Kades: Kaleb 14:6-15
        E Stamme, nie uit Ragel nie, se toedeling: Juda 15:1-63
          F Ragelitiese stamme se toedeling: Josef 16:1-17:18
            G Toedeling by Silo aan die 7 stamme 18:1-10
          F’ Ragelitiese stamme se toedeling: Benjamin 18:11-28
        E’ Stamme, nie uit Ragel, se toedeling: Simeon & andere 19:1-48
      D’ Persoonlike toedeling aan die held van Kades: Josua 19:49-50
    C’ Leviete 20:1-21:45
B’ Trans-Jordaaniese volke 22:1-34
A’ Gevolgtrekking 23:1-24:33

Die doel en hooftemas van Josua

Die Boek van Josua wys dat God getrou is en alle onvoorwaardelike beloftes wat Hy gemaak het, nakom of nog sal nakom. Die land Kanaän is ewiglik belowe nie net aan Abraham, Isak en Jakob nie, maar ook aan die afstammelinge van Israel (sien Josua 1:6). Josua het Israel in die Beloofde Land ingebring onder leiding van die Bevelvoerder van die HERE se weermag. Dit bied rus, maar die Here vereis dat die Mosaïese Verbond onderhou word en dat daar ware aanbidding moet wees. God het die land van Israel onvoorwaardelik aan die Jode gegee, maar die seëninge en genietinge van hierdie land hang af van Israel se geloof in en gehoorsaamheid aan die HERE. Terwyl sommige Joodse geslagte in die geskiedenis ongehoorsaam was aan God en afvallig geraak het, sal die hele Israel uiteindelik gered word en na die land gebring word om deel te neem aan die Messiaanse koninkryk (en nie-Joodse gelowiges sal ook op daardie tydstip op die aarde wees).

Die belangrikheid van Josua

Dit is nie moeilik om soortgelyke tematiese en teologiese oorvleueling tussen Levitikus en Hebreërs en miskien tussen Deuteronomium en Handelinge uit te wys nie. Dieselfde is vir seker waar van Josua en Efesiërs, soos aangetoon word in hierdie tabel:

Tabel 1: Vergelyking tussen die Boek van Josua en Efesiërs

JosuaEfesiërs
Israel gaan die Land wat aan Abraham, Isak, Jakob en sy afstammelinge belowe is, binne (1:1-12:24).Die Kerk ontvang alle geestelike seëninge in Christus in die hemelse plekke (1:3).
ʼn Goddelike aangewese leier, Josua, neem Israel in die land in (1:1-7; 5:13-15).ʼn Goddelike aangewese leier, die Here Jesus Christus, is die hoof van die Kerk (1:18-23).
God laat die waters van die Jordaan opdroog sodat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE magtig is sodat die mens die HERE sy God vir ewig kan vrees (4:23-24).Deur die Kerk sal die veelvuldige wysheid van God bekend gemaak word aan die heersers en magte in die hemelse plekke (3:10).
Die toneel handel oor noemenswaardige konflik, oorlogvoering en stryd (sien 5:13-12:24).Die toneel handel oor noemenswaardige konflik, oorlogvoering en stryd (6:10-20).
Oorwinning in ʼn mens se geestelike lewe vereis geloof in die HERE, gehoorsaamheid en heiligheid (7:1-8:35).Oorwinning in ʼn mens se geestelike lewe vereis geloof in die HERE, gehoorsaamheid en heiligheid (4:1-6:24).

Missler (2002:70) toon aan dat daar parallelle is tussen die Boek van Josua en Openbaring – soos aangetoon in hierdie tabel:

Tabel 2: Vergelyking tussen die Boek van Josua en Openbaring

JosuaOpenbaring
Militêre bevelvoerder onteien indringers in die land van Kanaän (1:1-12:24; sien ook 15:13-15).Die Here Jesus Christus ontvang die koninkryk en onteien alle indringers op aarde (11:15; 19:11-21).
Josua stuur twee spioene (of getuies) om die land te bespied, veral Jerigo (2:1-24).God stuur twee getuies om vir 3,5 jaar te profeteer, in Jerusalem (11:1-12).
Die verowering van die land neem 7 jaar (Jos 14:10; 45 jaar minus 38 jaar in die wildernis = 7 jaar).Die Verdrukkingstyd sal 7 jaar wees, en dan sal Christus oor alles op aarde regeer (hoofstukke 6-19).
Die vyande van God kom onder die koning van Jerusalem saam, ʼn leier wat genoem word Adoni-Sedek, wat beteken ‘heer van regverdigheid’ (10:1-14).Die vyande van God kom onder die Antichris saam, iemand wat aanbidding vereis (13:1-18).
Israel en die ark van die Here het Jerigo omsirkel vir 6 dae met 7 priesters wat 7 trompette blaas. Op die 7de dag het hulle 7 keer om die stad geloop en tydens die 7de keer, toe die priesters die trompette blaas, skree Israel en verwoes die stad (6:1-27). Christus open 6 seëls maar die 7de seël kondig die 7 trompetoordele aan, geblaas deur 7 engele, wat weer lei tot 7 verdere oordele (6:1-10:11; 15:1-16:21).

Bron: Missler (2002:70)

Gevolgtrekking

Ons sluit af met ‘n aanhaling uit Constable (2016:8; eie vertaling): ‘Josua toon aan dat God sonde haat omdat hy mense liefhet. Hy voer ʼn oorlog teen sonde nie net omdat dit Hom aanstoot gee nie, maar ook omdat dit die mense vernietig wat hy geskape het om met Hom in gemeenskap te leef. God gebruik die kragte van die natuur en mense wat lojaal aan Hom is om sonde uit te roei en om vir Sy volk uitkoms te bring. Die mense wat Hy gebruik moet egter Sy standaarde van heiligheid aanvaar. Hulle moet hulleself oorgee aan Sy manier van doen en erken dat die oorwinning is as gevolg van die Here se krag, nie hul eie nie.’

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2016, Notes on Joshua.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Joshua’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 276-287, B&H Publishing Group, Nashville.

Missler, C., 2002, Learn the Bible in 24 hours, Thomas Nelson, Nashville.

Vreeland, G.D., 2014, ‘Joshua’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 313-351, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']