Klaagliedere

Baie rampspoedige voorvalle het met die nasie van Israel op die 9de van die maand Av gebeur. Die Eerste Tempel en Jerusalem is in die jaar 586 v.C. op 9 Av deur die Babiloniërs vernietig. Daaropvolgende gebeure in die geskiedenis, soos toe Jode uit sekere lande verban is, het ook op die 9de van Av plaasgevind. Dit is geen wonder nie dat Klaagliedere, as deel van die Vyf Geskrifte, op die 9de Av gelees word om die gebeure rondom die vernietiging van Jerusalem en die Eerste Tempel in herinnering te roep nie. Hierdie Vyf Geskrifte, ook genoem die Megillot, word op sekere belangrike Joodse dae gelees. Hooglied van Salomo word tydens Paasfees gelees, Rut word op Pinkster gelees, dan kom Klaagliedere aan die beurt (op die 9de Av), dan volg Prediker (gelees tydens die Fees van Tabernakels) en Ester word tydens Purim gelees. Die Megillot staan ook bekend as die Ketuvim, dit is die Vyf Geskrifte. Dyer en Rydelnik (2014:1189) sê dat nadat die laaste vers van Klaagliedere (5:22) gelees is, word 5:21 herhaal, sodat die boek op ʼn hoopvolle noot eindig: “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd”. Eeue ná Klaagliedere het Jesus na Jerusalem gekom en wou haar kinders soos ʼn hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, maar hulle wou nie (Matthéüs 23:37). Toe profeteer Jesus: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matthéüs 23:38). Hierdie Tweede Tempel en Jerusalem is op die 9de Av in 70 n.C. vernietig. Die Boek van Klaagliedere mag moeilik wees om te verteer, want dit vertel in detail die rampspoedige gebeure van die vernietiging van Jerusalem en die Eerste Tempel (en tog bly daar hoop).

Skrywer en datum

Daar is in Klaagliedere geen interne bewyse oor die identiteit van die skrywer nie, maar beide die Joodse- en kerkgeskiedenis getuig dat die profeet Jeremia dit geskryf het (Rooker 2011:556). Wat styl betref, is daar heelwat ooreenkomste tussen Jeremia en Klaagliedere (bv. Klaagliedere 1:2 met Jeremia 30:14; Klaagliedere 1:16 met Jeremia 9:1, 18; Klaagliedere 2:20; 4:10 met Jeremia 19: 9, en Klaagliedere 4:21 met Jeremia 49:12). Daarbenewens dui sommige verse op ʼn ooggetuie weergawe van sommige van hierdie tragiese en hartseer gebeurtenisse (Klaagliedere 2:20; 4:10). Volgens Dyer en Rydelnik (2011: 1189) moes Jeremia kort na die val van Jerusalem geskryf het, voordat hy daarna teen sy wil na Egipte geneem is. Indien so, dan het God die Heilige Gees vir Jeremia geïnspireer om Klaagliedere kort na 586 v.C. te skryf.

Samestelling en struktuur

Die eerste Hebreeuse woord van hierdie boek (en ook die eerste woord van hoofstukke 2 en 4) word die beste vertaal as “ag”, wat ʼn klaaglied van groot verdriet oproep oor wat gebeur het. Klaagliedere bestaan uit vyf gedigte wat begrafnisliedere is, elke gedig is in ʼn eie hoofstuk uiteengesit, en elke hoofstuk is akrosties gestruktureer (die eerste letter van elke vers begin met ʼn opeenvolgende letter van die alfabet). Daarbenewens word dit geredelik erken dat die Boek van Klaagliedere in sy geheel chiasties gestruktureer is. Hoofstukke 1 en 5 is chiastiese pare, so ook hoofstukke 2 en 4, en behalwe dat dit ook die langste hoofstuk is, is hoofstuk 3 ook die chiastiese middelpunt van die boek. Te midde van die groot tragedie en hartseer van Klaagliedere, vind mens Jeremia se hoop op die HERE in die chiastiese middelpunt van die boek: “[D]it is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; U trou is groot” (Klaagliedere 3:22-23). Constable (2017:4) stel die volgende chiastiese struktuur vir Klaagliedere voor:

A Die ellende van Jerusalem se burgers – hoofstuk 1
    B God se straf oor Jerusalem – hoofstuk 2
        C Jeremia se persoonlike reaksies – hoofstuk 3
    B’ God se strengheid teenoor Jerusalem – hoofstuk 4
A’ Die reaksie van die godvresendes – hoofstuk 5

Temas, doel en toepassing

God het Israel belowe dat as die volk Israel die (voorwaardelike) Mosaïese verbond verbreek, Hy hulle sou straf (Levitikus 26; Deuteronomium 28). Soveel van die Boek van Jeremia het daaroor gegaan om Israel te waarsku om hulle te bekeer en om na die HERE te draai. Helaas, na eeue van ongehoorsaamheid, het die Shekinah-glorie van God uit die tempel vertrek (Esegiël 8-11) en die nasie van Israel het haar land, hoofstad en Eerste Tempel verloor. God is nie net getrou om sy onvoorwaardelike beloftes aan Abraham, Isak en Jakob te vervul nie, maar Hy is ook die soewereine God wat die sonde sal oordeel, beide individuele en nasionale sonde. Wat Klaagliedere so moeilik maak om te lees is die ongelooflike tragedie en die hartseer wat ervaar word wanneer God oordeel en dissiplineer. Wat God se soewereiniteit en heerskappy betref, bevestig Klaagliedere 5:19 dit: “U, HERE, sit vir ewig, U troon is van geslag tot geslag”. Wat Sy getrouheid en liefde betref, dit is God wat inisieer en Hy sal Israel herstel en hulle vernuwe soos in die voortyd, want Hy is liefdevol, barmhartig, goedertieren en getrou om alles te vervul wat onvoorwaardelik aan die aartsvaders belowe is (vgl. Klaagliedere 3:22-23; 5:21). Israel se nasionale herstel en vernuwing kon plaasgevind het as “hierdie geslag” (as ʼn kollektiewe eenheid) tydens Jesus se eerste koms hul vertroue en geloof geplaas het in die Woord wat vlees geword het en onder sy eie mense ge-tabernakel het — maar hulle het Hom nie aangeneem nie (Johannes 1:11, 14). Soveel van Jesus se bediening aan die verlore skape van die huis van Israel was dat hulle hul moes bekeer en na Hom toe kom (Matthéüs 4:17; 11:28-30). Ongelukkig het hierdie spesifieke geslag Jode (kollektief beskou) wat tydens die Messias se eerste koms geleef het, nie die profeet soos Moses aanvaar nie — en God het “hierdie geslag” in 70 n.C. geoordeel (vgl. Deuteronomium 30:1-10; Lukas 21:12-24) deurdat Jesus die stad Jerusalem verlaat het en die Tweede Tempel vernietig is.

Dit is egter vir Jode wat Jesus sê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matthéüs 23:39). Wat Matteus 23:39 betref, skryf Fruchtenbaum (1989:307, eie vertaling) die volgende: “Jesus sal nie terugkom na die aarde toe nie totdat die Jode en die Joodse leiers Hom vra om terug te kom. Net soos die Joodse leiers die volk tot die verwerping van die Messiasskap van Jesus gelei het tydens die eerste koms, moet Joodse leiers hulle eendag tot die aanvaarding van die Messiasskap van Jesus lei”. Dit is juis wat naby die einde van die Verdrukkingstydperk gaan gebeur. Die meerderheid van die Jode wat dan nog steeds fisies leef, sal berou hê, hulle bekeer tot die Koning van die Jode en Hom aanroep (Hosea 5:15-6:3; Sagaria 12:10). Die hele Israel sal gered word (Jesaja 59: 20-21; Romeine 11:25-27), die Seun van Dawid sal terugkeer na die aarde toe, Jerusalem sal die stad van die Groot Koning wees en die heerlikheid van die Here sal in die Millennium Tempel wees (vgl. Esegiël 43:5). Die 9de van Av is nie die einde van die verhaal nie; daar is veel hoop in die Messias, Jesus Christus.

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Lamentations, Sonic Light.

Dyer, C. & Rydelnik, E., 2014, ‘Lamentations’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1189-1201, Moody Publishers, Chicago.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Lamentations’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 555-560, B&H Publishing Group, Nashville.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ’n Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']