Levitikus

As die derde boek van die Tora, beweeg Levitikus byna soomloos van Eksodus na die verdere openbaring van God. God het die inhoud van die Boek van Levitikus geopenbaar gedurende ʼn 30-dae periode tussen die tyd wat die tabernakel opgerig is (Eksodus 40:17) en die sensus wat in Numeri 1:1-3 genoem word. Terwyl Moses deur God geïnspireer is om die openbaring neer te skryf (Levitikus 1:1; 4:1; 6:1; 8; 19; 24; 7:22; 8:1), sê Jelinek (2014:175, eie vertaling) die volgende: ‘as daar ʼn rooi-druk uitgawe van die Bybel was waar God se direkte woorde aan ʼn individu of individue in die OT rooi was, sou byna die hele Levitikus rooi gewees het’. Twintig uit 27 hoofstukke van Levitikus begin met die woorde, ‘Die Here het vir Moses gesê…’. As mens kyk na die eerste woord van die boek is die Hebreeuse titel van Levitikus wayyiqrā’. Die Afrikaanse titel is ʼn transliterasie van die Griekse woord Leuitikon, wat in die Septuagint gebruik word met die betekenis ‘aangaande die Leviete’.

. . .

Die omvang en tema van Levitikus

Waar Eksodus eindig met die oprigting van die tabernakel en die Here wat tussen sy mense woon (Eksodus 40:17-38), verduidelik Levitikus hoe die Jode gesamentlik en individueel toegang gehad het tot die teenwoordigheid van God tydens aanbidding. Levitikus is wel verwant aan die stam van Levi en die priesters, maar die boek gaan nie net oor Israel se openbare aanbidding met die Levitiese priesters wat die hele nasie van Israel voor God verteenwoordig nie, aangesien dit ook private aanbidding aanraak. Levitikus leer dat God ʼn manier gee om sonde te bedek sodat mense met God gemeenskap kan hê en Hom kan aanbid. Aangesien Israel ook ʼn koninkryk van priesters moes wees – met die uitverkore volk Israel wat al die volke voor God moet verteenwoordig – is elke Jood in Israel uiteraard veronderstel om heilig en deel van ʼn heilige volk voor God te wees (Eksodus 19:6; Levitikus 19:2). Vir hierdie rede gee Levitikus God se instruksies vir die openbare (hoofstukke 1-16) en die private aanbidding van die Israeliete weer (17-27).

Die relevansie van Levitikus

Levitikus beskryf baie offers wat die Jode individueel (Lev 1:2-6:7) en gesamentlik as ʼn volk (byv.: Lev 16) moes bring by die altaar van die tabernakel. As Jesus egter sy bloed op die altaar van die kruis by Golgota eens en vir altyd uitgestort het, maak dit nie groot dele van Levitikus oorbodig nie? Mens moet Levitikus steeds bestudeer, want die ‘hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid’ (2 Timoteus 3:16). Trouens, heiligheid en toenemende heiligmaking is net soveel deel van Levitikus as wat dit van die Nuwe Testament is (Romeine 6:17-19; Kolossense 1:22). Net soos Levitikus 19:2 gelowiges leer om heilig te wees omdat God heilig is, leer die Nuwe Testament dieselfde (Efesiërs 1:4; 5:27), maar ons uitlewing daarvan kan verskil, soos die onderstaande tabel wys:

Naam van die offerOfferProsedureBetekenisNuwe Testamentiese toepassing
Brandoffer
Lev 1:3-17; 6:8-13.
Beeste, skape, bokke, voëls.Persoon wat die offer bring: Lig die hand en maak die dier dood.
Priester – sprinkel bloed op die kant van die altaar en plaas die offer op die vuur. Totale verbranding.
Boetedoening vir sonde (1:4) en vrywillige, algehele toewyding.Ons moet onsself as lewende offers voor God bring (Rom 12:1-2).
Maaltydoffer
Lev 2:1-16; 6:14-18.
Rou meel, gaargemaakte koekies, nuwe graanMeel: bewerk; olie: salwing; wierook: aangename aroma.Aanvaarbare diens voor God.Ons moet alle diens aan God bied op so ʼn wyse dat dit ʼn aanvaarbare diens is (Kol. 3:17).
Vredesoffer
Lev 3:1-17; 7:11-36; 22;18-30; 23:19.
Beeste, skape, bokke.Bloed aan die kante van die altaar. Vetgedeeltes word verbrand. Vleis word verdeel tussen die persoon wat die offer bring en die priesters.Vieringsmaaltyd (dankbaarheid, vrye wil).Vier die heilige Nagmaal (1 Kor. 10:16-18).
Soenoffer
Lev 1:3-17; 6:8-13.
Beeste, skape, bokke, voëls.Plaasvervanging, identifikasie, dood, uitruil van lewe.Vergifnis deur geloof in ʼn plaasvervangende offer.Ons moet vergifnis in geloof vind in die plaasvervangende offer van Christus.
Skuldoffer
Lev 1:3-17; 7:8-7.
RammeBloed rondom die altaar. Vet word verbrand.Teruggawe aan God (5:15-16) of aan mense (6:4-5).Versoen en maak reg wat verkeerd gedoen is (Mat 5:23-24).

Bron: Jelinek (2014:181).

 

Wat meer is, mens moet ʼn basiese begrip van Levitikus hê voor mens Hebreërs kan verstaan. Tabel 2 toon die ooreenkomste en verskille tussen die Levitiese hoë priesters en die bediening van Christus.

Aaron se priesterskapChristus se priesterskap
Ellendige sondaars bied offers vir hulle eie sondes (Lev 4:3-12; 9:1-11; 16:6ev; Heb 8:4).Sondelose, opgewekte Seun het geen offerhande nodig nie, aangesien hy nooit gesondig het nie (Heb 4:15; 7:27).
Offer plaasvervangers om te sterf vir hulle eie sondes en die sondes van ander (Heb 5:1-3).Christus sterf as die Plaasvervanger vir die sondes van ander (Jes 52-53; 2 Kor 5:21; Heb 9:26).
Het herhaalde offers gebring om die gewyde spasie vir gemeenskap met God te skep, te onderhou of te herstel (Num 28-29; Heb 9:6).Bring een offer om toegang te gee tot gemeenskap met God (gaan die heilige ruimte een keer binne) – Heb 9:12; 26; sien Jer 31:34; Heb 10:20.
Het nie versoening bewerk vir rebelse, opsetlike, moedswillige sondes nie (Num 15:31).Bied volkome versoening en ʼn skoon gewete (Hand 13:39; Heb 9:14).
Het wierook gebruik om hulleself te beskerm in die teenwoordigheid van die Here (Lev 16:2, 13).Hy is van aangesig-tot-aangesig met die Vader en sit by sy regterhand nadat hy alle sondes weggewas het (Joh 1:1; Heb 1:3).
Feeste, nuwe maan en Sabbatsdae is maar net skadu’s (Kol 2:17a).Christus is die essensie (of werklikheid) agter die skadu (Kol 2:17b).
Die hoëpriester is die tussenganger om toegang tot God te verstig deur die Wet van Moses (Lev 8-10).Christus is die vervulling en einde (telos) van die Wet van Moses (Heb 3:1-3; 4:14; 7:17-21; 9:15).
Soenoffers het herhaalde dood en offer nodig (Lev 4:1-35).Christus is die finale Soenoffer en daarom die perfekte offer (Rom 3:25; Heb 7:27; 9:26-28).
Die offers wat gebring is, het reiniging gebring vir die hoëpriester en sy gesin, die mense van Israel en die aardse tabernakel (Lev 16:6, 16-17, 20, 33). Christus se offer het die hemelse ‘dinge’ van die hemelse tabernakel (Heb 9:23-25; besmet deur Satan se rebellie?) en die gewetens van die wat in geloof nader, skoongewas. Geen reinigende offers is nodig vir Christus self nie!
Die hoëpriester het nie roem gesoek deur die rol aan te neem nie, maar is verkies (Heb 5:4).Wat gegeld het vir die Levitiese hoë priesters was ook waar van die groter Hoëpriester, Christus, wat deur God verkies is (Heb 5:5-6).
In navolging van Aaron (Heb 5:4; 7:23).In navolging van Melgisedek (Heb 7:17, 23-25).
Het die amp aangeneem sonder ʼn eed (Heb 7:21).Het die priesterlike amp aangeneem met die Here se eed (Heb 7:20-28).

Bron: Jelinek (2014:192,199).

 

Die struktuur van Levitikus

Jelinek (2014:178) toon aan dat die gewildste benadering is om Levitikus in twee hoofdele te verdeel: Die manier om toegang tot God te verkry: offers (hoofstukke 1-10); en (2) die wandel voor God: heiligmaking (hoofstukke 11-27). Constable (2016:4) voer egter aan dat die literêre struktuur van Levitikus effens chiasties is deurdat dit wissel tussen wetlike en narratiewe dele, met ʼn draaipunt in hoofstuk 16: Die Hoëpriester op die Dag van Versoening.

A Wetlik (hoofstukke 1-7)
B Narratief (8-10)
C Wetlik (11-15)
D Wetlik geskryf as narratief (16)
C’ Wetlik (17:1-24:9)
B’ Narratief (24:10-23)
A’ Wetlik (25-27)

Gevolgtrekking

Dit is duidelik uit die bogenoemde dat Levitikus baie meer is as wette en ingewikkelde prosedures. Nadat God Israel uit Egipte bevry het en by die Sinaiberg met hulle in ʼn Mosaïese Verbond getree het, leer Hy hulle hoe om Hom te aanbid en hoe om heilig te wees en te leef. God leer Israel oor die aard van sonde en die aard van versoening (plaasvervanging, toerekening, bloed en dood) – alles dinge wat vooruit wys na die verlossing wat Christus met sy bloed aan die kruis gekoop het (sien Constable 2016:6-10).

———————————

Indien u meer oor Levitikus wil weet, oorweeg gerus om die volgende bronne te lees:

Constable, T.L., 2016, Notes on Leviticus.

Zuber, K.D., 2014, ‘Exodus’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (reds.), The Moody Bible Commentary, pp. 175-214, Moody Publishers, Chicago.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Ross, A.P., 2002, Holiness to the LORD: A Guide to the Exposition of the Book of Leviticus, Baker Academic, Grand Rapids.

Wenham, G.J., 1979, The Book of Leviticus, Eerdmans, Grand Rapids.

Sien gerus Clarence Larkin se uiteensetting van die feeste:

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']