Die lewe van Dawid en die lewe van die Seun van Dawid

Nee, die Messiaanse koninkryk is nog nie gevestig of opgerig nie. Net soos wat Dawid as koning gesalf is maar toe baie jare moes wag voordat hy die troon bestyg het, net so is die Seun van Dawid ook reeds gesalf maar nog nie op die Dawidiese troon nie. Dawid is eers verwerp en het lyding ervaar voordat hy uiteindelik as koning begin heers het — en net so is die Seun van Dawid ook eers verwerp en het hy die doodslyding op die kruis ervaar voordat hy uiteindelik as koning ná sy tweede koms sal begin regeer.

Dawid was ʼn man na God se hart. Net so is Jesus die geliefde Seun in wie die Vader ʼn welbehae het — met seëninge wat oorspoel na ander mense toe. Watter tipologiese ooreenkomste bestaan daar tussen die lewe van Dawid en dié van die Seun van Dawid, spesifiek met betrekking tot die tydperk tussen die gesalfde en later-ingehuldigde-koning?

Die aanbod en verwerping van die Messiaanse koninkryk

Tydens Jesus se eerste koms bied Hy aan om die Messiaanse koninkryk vir Israel op te rig ooreenkomstig onvoorwaardelike Ou Testamentiese profesieë en verbondsbeloftes — en om dit by wyse van die kruis te doen. As Israel vir Jesus as die Messias sou aanvaar het, sou Hy steeds na die kruis gegaan het; die sewe jaar van ‘Jakob se benoudheid’ sou gevolg het, en daarna sou Christus teruggekom het om die Messiaanse koninkryk op te rig (Toussaint 1980:64). Om daardie Joodse generasie in Israel se geskiedenis te oortuig dat Hy inderdaad die Seun van Dawid is, het Christus sy Messiaanse aansprake met woord en daad bevestig (Mat 4–12; vgl 22:41-46). Wat meer is, Jesus doen wonderwerke wat Jode van daardie tyd as ‘Messiaanse wonderwerke’ beskryf het — wonderwerke wat nét die Messias kan doen: die genesing van ʼn Joodse melaatse (Mark 1:40-45), die genesing van ʼn persoon wat blind gebore is (Joh 9:1-412) en die uitdryf van ʼn demoon wat stomheid veroorsaak (Fruchtenbaum 2016:143–155).

Nadat ʼn duiwel uit ʼn blinde en stom persoon gedryf is (Mat 12:22–32, vgl. Mark 3:20–30), het die godsdienstige leiers, wat Israel verteenwoordig het, nie net die Messiasskap van Jesus verwerp nie, maar dit boonop gedoen op grond van ʼn aanklag dat Jesus ʼn onrein gees sou gehad het (Mark 3:30). Hierdie lastering van die Heilige Gees kan nie vergewe word nie (Mark 3:29). Dié onvergeeflike sonde het veroorsaak dat Jesus die aanbod om die Messiaanse koninkryk vir Israel op te rig, vir ʼn tyd lank teruggetrek het. Van toe af is die koninkryk nie meer ‘naby’ nie (Toussaint 1980:164). Nie net vertel Jesus later ʼn gelykenis (Luk 19:11) om te wys dat die koninkryk van God nie onmiddellik sou verskyn nie, maar Hy leer dat die koninkryk eers in die toekoms weer ‘naby’ sal kom met gebeure wat met die komende verdrukkingstydperk verband hou (Vlach 2017:323). Tydens die Verdrukkingstydperk sal die koninkryk aan die Joodse generasie wat dan leef, aangebied word en hierdie keer sal hulle die aanbod aanvaar (Fruchtenbaum 2016:384; Vlach 2017:367–369). Wanneer hulle dit doen (Hos 5:15-6:3; Sag 12:10; Mat 21:43; 23:39), sal Christus terugkeer na die aarde toe om die Messiaanse koninkryk te vestig.

Gedurende die Inter-Advent Tydperk bestaan die Messiaanse koninkryk slegs in die sin dat seuns en dogters van die koninkryk teenwoordig is (Toussaint 1980: 172). Hierdie seuns en dogters van die koninkryk wandel in geloof in Christus. Soos Woods (2016:250; eie vertaling) tereg sê, ʼn interessante ooreenkoms kan tussen die lewe van David en die lewe van die Seun van Dawid gesien word:

Daar was ʼn tussentydse periode tussen Dawid se salwing as koning (1 Sam 16) en sy werklike troonbestyging (2 Sam 2; 5). Gedurende hierdie tussentydse periode het Saul nog steeds as koning geheers. Mense moes kies om óf deur aanskouing vir Saul te volg óf om in geloof vir Dawid te volg … ʼn Soortgelyke tussentydse tydperk bestaan tussen Christus se salwing as die Dawidiese erfgenaam en Sy heerlikheid aan die regterhand van die Vader (Hand 2:33-35) en wanneer Hy uiteindelik vanaf die Dawidiese troon tydens die Millennium sal regeer (Mat 25:31; Open 20:1-10). Gedurende hierdie tussentydse periode regeer ʼn entiteit wat ooreenstem met Saul, naamlik Satan, as koning (Luk 4:5-8; Joh 12:31; 2 Kor 4:4; Ef 2:2; 1 Joh 5:19). Vandag moet mense dus ook kies om óf nalopers van Satan te wees óf om in geloof ʼn Dawid-agtige individu, naamlik Christus, te volg. Hulle doen laasgenoemde deur te vertrou op God se belofte dat die gesalfde Christus eendag sal regeer nadat daar met Satan weggedoen is.

Tipologiese ooreenkomste

Met bogenoemde as agtergrond kan tipologiese ooreenkomste tussen die lewe van Dawid en dié van die groter Seun van Dawid oorweeg word. In die tabel hieronder word baie interessante ooreenkomste opgesom:

Lewe van DawidLewe van die Seun van Dawid
Al was hy nie uit die stam van Juda nie, was Saul die eerste koning van Israel, maar omdat Saul ongehoorsaam was en van God se Woord weggedryf het, het God vir Samuel gesê om na die huis van Isai te gaanSelfs al was hy nie ʼn Jood nie, maar ʼn Edomiet, was Herodus koning in Israel toe God die wyse manne gelei het om die ware koning van die Jode te gaan aanbid (Mat 2:1-12).
Dawid was nog jonk en besig om skape op te pas toe die Here vir Dawid gekies het om as die eerste koning van Israel uit die stam van Juda gesalf te word (1 Sam 16:11-13).Voordat Jesus gebore is uit die stam van Juda, het God hom alreeds gekies om koning oor die hele huis van Jakob te wees (Luk 1:31-33).
Toe Samuel vir Dawid met olie gesalf het, het die Gees van die HERE op Dawid gekom, van dié dag af en verder (1 Sam 16:13).Toe Johannes vir Jesus gedoop het, het die Gees van God soos ʼn duif oor Christus neergedaal en die Vader het sy geliefde Seun geïdentifiseer (Mat 3:16-17).
ʼn Rukkie later het Góliat die leërs van God vir 40 dae uitgedaag (1 Sam 17:16, 26) — en tóé het Dawid teen Goliat geveg.Toe het die Heilige Gees vir Jesus in die woestyn gelei en, ná 40 dae, is Jesus deur die duiwel versoek (Mat 4:1-11).
Dawid het nie Saul se swaard en wapens vir die geveg gebruik nie. Dawid het vyf gladde klippe uit die spruit geneem, verkondig dat die stryd die HERE s’n is, en toe Góliat met ʼn slinger en ʼn klip oorwin (1 Sam 17: 39-40, 47, 50).Jesus het nie sy goddelike eienskappe onafhanklik van die wil van die Vader gebruik nie (byv. om klippe in brood te verander), maar Jesus het die Woord van God getrou en akkuraat gebruik om die duiwel se versoekinge te weerstaan (Mat 4:1-11).
Gedurende die volgende paar jaar het Saul baie kere probeer om Dawid te vermoor (1 Sam 18:9, 11; 19:1, 15; 20:31).Tydens Christus se eerste koms het die duiwel baie kere probeer om Jesus dood te maak op ʼn wyse en op ʼn tyd ánders as wat die Skrif geprofeteer het (Mat 26:51-54; Luk 4:28-30; Joh 8:59).
God het egter oor en oor gewys dat sy guns op die gesalfde koning is (1 Sam 16:18; 18:12-16; 2 Sam 5:10).Die Vader het egter keer op keer gewys dat sy guns op sy geliefde Seun, die gesalfde koning is (Mat 3:17; 9:8; 17:5; Mark 2:12).
In ʼn tyd toe Dawid nog nie as koning ingehuldig is of as koning geheers het nie, het hy by ʼn priester vir hom en sy manne heilige toonbrode geneem, want hulle was honger (1 Sam 21:5-6).In ʼn tyd toe Christus nog nie as koning ingehuldig is nie, trouens dit was reeds duidelik dat daardie geslag Jode hul Messias sou verwerp (Mat 11:16-24), het Jesus se dissipels op ʼn sabbat are gepluk en dit geëet, want hulle was honger (Mat 12:1-8).
Dawid moes aanhoudend weg van Saul trek, selfs uit die land van Israel uit (1 Sam 21:10-14).Toe het die Fariseërs raadgehou om Jesus om te bring, maar Jesus het daarvandaan weggegaan (Mat 12:14-15) en later selfs tydelik uit die land van Israel beweeg (Mat 15:21).
In ʼn tyd toe Dawid nog nie as koning geheers het nie, het sy broers en sy hele familie na hom gegaan — ook elkeen wat in benoudheid was, of in skuld, of dié wat verbitterd was (1 Sam 22:1-2).In ʼn tyd wat Jesus nog nie die Dawidiese troon bestyg het nie, nooi Hy almal om na Hom te kom, almal wat vermoeid en belas is, en Jesus sal rus gee — en sy moeder, broers en susters is diégene wat die wil van die Vader doen (Mat 11:28-30; 12:46-50; Joh 7:37; 1 Kor 1:26).
Dawid het die owerste oor hierdie mense geword en later het nog meer mense by Dawid aangesluit (1 Sam 22: 3; 23:13).Jesus is Here oor hierdie dissipels en een van Sy bevele is om dissipels uit al die nasies te maak sodat nog mense Hom sal volg (vgl. Mat 28:18-20).
Hulle het Dawid gevolg, deur valleie heen, oor berge en dwarsdeur die woestyn.Die dissipels neem hul kruis op en volg Jesus.
Hierdie volgelinge het nie deur aanskouing agter die fisiese groot en sterk Saul aangeloop nie, maar het in die geloof gewandel agter die gesalfde maar nog-nie-ingehuldigde koning. Sommige van hierdie volgelinge staan bekend as die vernaamste helde van Dawid (2 Sam 23:8-39; Woods 2016:250).Hierdie dissipels loop nie aan agter die god van hierdie wêreld en sy wêreldse waardes nie (Luk 4:5-8; 2 Kor 4:4; Ef 2:2), maar hulle wandel in die geloof agter die gesalfde maar nog-nie-ingehuldige koning. Christus sal sommige van hierdie dissipels beloon wanneer die Messiaanse koninkryk gevestig word (vgl. Mat 25:14-30; 1 Kor 3:9b-15; 2 Kor 5:20).
Hulle het saam met Dawid oorlog gevoer, selfs voordat hy die troon bestyg het. Toe die HERE die oorwinning gegee het, het Dawid die buit met hulle almal gedeel (1 Sam 30:23-24).Dissipels van Christus moet kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte wees want die Here gee die oorwinning in geestelike oorlogvoering — en dít in ʼn tydperk vóórdat die Messiaanse koninkryk opgerig is (vgl Ef 6:10-18).
Dawid was jonk toe hy gesalf was en baie jare het verloop voordat hy ingehuldig was en as koning begin regeer het. Hy was eers koning oor die huis van Juda en later ook oor al die stamme van Israel (2 Sam 2:5; 5:1-5).Christus is 2 000 jaar gelede deur die Heilige Gees as koning gesalf, maar Jesus is nog nie as koning ingehuldig nie en hy regeer nog nie as Dawidiese koning nie. Dit sal eers gebeur as ʼn toekomstige Joodse generasie Jesus as die Messias aanroep (Hs 5:15-6:3; Sag 12:10; Mat 23:39).
Toe het Jerusalem die hoofstad van die koning geword (2 Sam 5:6-10).Wanneer hierdie Joodse generasie dit doen, sal Christus na die aarde terugkeer, op die troon van Dawid sit en in die stad van die groot Koning regeer (vgl. Mat 5:35; 19:28; 25:31, 34).

Slot

Christus onderskei baie duidelik tussen twee trone: ‘Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het’ (Open 3:21; eie nadruk). Gedurende die Inter-Advent Tydperk sit Christus aan die regterhand van die Vader, vir ʼn tyd, op die Vader se troon (Ps 110:1). Onmiddellik ná die Verdrukkingstydperk sal die Seun van die mens na die aarde terugkeer en dan sal hy op sy heerlike Dawidiese troon gaan sit (Mat 19:28; 24:31; 25:31, 34). Totdat dit gebeur het ons ʼn keuse: wees ʼn wêreld-ling van Satan se koninkryk of volg die komende Koning in geloof. Nee, die Messiaanse koninkryk is nog nie gevestig nie, maar sodra die lang tydperk tussen sy salwing en sy aardse troonbestyging verby is, sal Christus sy Dawidiese troon bestyg en vanaf Jerusalem regeer (vgl. Ps 2; 110:1-2; Mat 25:31, 34).

Bronne

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The Life of Messiah from a Messianic Jewish Perspective, Vol. 1, Ariel Ministries, San Antonio.

Toussaint, S.D., 1980, Behold the King: A Study of Matthew, Kregel Publications, Grand Rapids.

Vlach, M.J., 2017, He will Reign Forever: A Biblical Theology of the Kingdom of God, Lampion Press, Silverton.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and How is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']