Mense en nasies word mislei

Paulus waarsku: ‘Pas op dat niemand julle as ʼn buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie’ (Kol 2:8). Die Kolossense is spesifiek met ʼn proto-gnostiese filosofie gekonfronteer (Geisler 1999:3), maar hierdie algemene waarskuwing van Paulus om nie deur valse filosofieë weggevoer te word nie, is dwarsdeur die geskiedenis geldig. Valse ideologieë en misleidende denksisteme probeer om mense te mislei en om nasies te oorrompel. Deesdae raak nie net meer en meer mense God en sy Woord afvallig nie, maar dit wil voorkom asof selfs meer nasies deesdae mislei word. Wie is agter die skerms besig om hierdie misleiding te orkestreer? Waarom lyk dit of meer nasies bande met God verbreek? Waarop hoop gelowiges?

Agtergrond

Omdat Adam aan God ongehoorsaam was, is die heerskappy van die mens oor die aarde aan Satan oorgegee — ons sien dit as Satan duisende jare ná die sondeval vir Jesus versoek deur die koninkryke van die wêreld vir Hom aan te bied (Luk 4:5–8). Satan se koninkryk van duisternis kan gedefinieer word as ʼn groot, bose sisteem of wêreldorde waaroor Satan gesag uitoefen. Dit sluit alle ongereddes en die gevalle mensdom in. Dit geniet ook die samewerking van die gevalle engelewesens en is die vereniging van almal wat onafhanklik van God leef en optree. Satan se wêreldorde vind uitdrukking in ʼn valse dogma (of lering), ʼn valse sistematiese teologie, die lering van duiwels (vgl. 1 Tim. 4:1–3; Open 2:24). Satan probeer om mense te indoktrineer sodat hulle deel word van valse geloofsisteme sodat valse leringe hulle tevrede sal stel (I Tim 4:1–3; 1 Joh 4:1–4). Satan se koninkryk van die duisternis bevorder die aantrekking tot leuens deur aan mense ʼn valse leefstyl te leer (vgl. Ef 2:1–3; 1 Joh 2:15–17). Wat indiwidue betref, Satan probeer keer dat ongelowiges die evangelie ontvang en glo. Waar die evangelie ook al verkondig word, Satan (en sy gevalle engele) probeer keer dat mense dit glo deur die saad van die evangelie wat by die hoorder gesaai is, te steel (Mat 13:19; Mark 4:15; Luk 8:13) en om die aanvaarding van die evangelie te verhoed deur die verstand van ongelowiges te verblind, sodat hulle nie verstaan wat die kwessies is wanneer die evangelie aan hulle voorgehou word nie (2 Kor 4:3–4). Satan se koninkryk is dus ʼn geordende wêreldstelsel waarvan hyself die hoof is, wat spesifiek God (probeer) uitsluit — dit is hierdie wêreldstelsel wat nou bestaan (2 Pet 3:5–7), die ‘teenwoordige bose wêreld’ (Gal 1:4) wat in die mag van die Bose lê (vgl. 1 Joh 5:19). Christus het Satan by die kruis verslaan, maar die duiwel se vonnis is nog nie voltrek nie en daarom sê die Nuwe Testament dat Satan nog vir ʼn rukkie die ‘owerste van hierdie wêreld’ (Joh 12:31; 16:11), die ‘god van hierdie wêreld’ (2 Kor 4:4) en die ‘owerste van die mag van die lug’ is (Ef 2:2).

Nasies raak die pad byster

Een van Satan se doelwitte is om nasies te mislei (Open 20:3). In Openbaring is dit duidelik dat Satan, die Antichris en die valse profeet die konings van die aarde en die hele wêreld versamel vir die oorlog teen God aan die einde van die Verdrukkingstydperk, by die slag van Armagéddon (Open 16:12–16; vgl. Sag 12:1–4). Die versameling van menslike regerings om teen God te veg word aangehits deur die geeste van duiwels wat tekens doen (Open 16:14a). Hierdie teks wys duidelik dat Satan se gevalle koninkryk mag het om menslike regerings op die aarde só te mislei dat hulle selfs dink hulle kan teen God veg (vgl. Unger 1994:199). Die Psalmdigter het ook lank tevore hieroor geskryf: ‘Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!’ (Ps 2:2–3). Maar God lag vir hulle en Hy spot met hulle (Ps 2:4).

Die organisasie van engele

Die Seun van God, Jesus Christus, is die Here van die leërskare (vgl. Jos 5:13–15; Sag 14:16–21). Hierdie leërskare verwys na die goeie engelewesens wat God gehoorsaam het en wat as ʼn weermag onder Christus se gesag is om God se opdragte uit te voer (vgl. 1 Kon 22:19; Ps 103:20–21). Hierdie engelemag is in legioene verdeel (vgl. Mat 26:53). Daar is verskillende vlakke of range in die engelewêreld. Die Nuwe Testament praat byvoorbeeld van trone, heerskappye, owerhede, magte en wêreldheersers/kosmokrate (sien Rom 8:38; Ef 6:12; Kol 1:16).

Volgens Fruchtenbaum (2005a:14) is die organisasie van gevalle engele/demone ʼn nabootsing van die organisasie van die uitverkore engele, met soortgelyke range en titels. Satan en al die gevalle engele/demone was voor hulle val deel van die Goddelike orde van die skepping, hulle is bewus van die organisasie wat God in die hemel het — en boots dit na. Satan gebruik sy gevalle engele om nasies te mislei, maar is daar voorbeelde in die Bybel hoe dit gedoen word?

Sewentig sewes

Nadat God vir Daniël die profesie oor die 70 sewes gegee het (Dan 9:24–27), ʼn tydperk van 490 jaar, synde 70 maal 7 jare, stuur die Here later ʼn engel om vir Daniël meer inligting te gee oor hierdie profesie van die 70 sewes (vgl. Dan 10). In Daniël 11:1–35 gee die Here meer detail oor wat gedurende die tydperk van die 69 sewes, dit is 483 jaar, van die profesie sal gebeur. Hierdie tydperk (483 jaar) bring jou tot by Christus se eerste koms. In Daniël 11:36–45 gee die Here meer detail oor aspekte van die Antichris se loopbaan, wat in die 70ste sewe gaan afspeel. Die 70ste sewe verwys na die Verdrukkingstydperk, die tyd onmiddellik voor Christus se tweede koms na die aarde toe (vgl. Mat 24:29a). Wat het dit met engele oor nasies te doen?

Dit blyk uit Daniël 10 en 12 dat sekere engele, beide goeie maar ook slegte engele, gesag het om deur hul besluite en handelinge nasies te beïnvloed. In die koninkryk van die duisternis funksioneer sommige demone as vorste oor nasies, soos die vors van die koninkryk van Persië/Iran (Dan 10:13–20) en die vors van Griekeland (Dan 10:20).

Toe die menslike heersers van die Mede en die Perse gesag ontvang het om oor die aarde te heers (Dan 2:32, 39a; 7:5; 8:3–4), moes sekere onvoorwaardelike profesieë van God vervul word. Byvoorbeeld, Israel moes toegelaat word om Jerusalem te herstel en op te bou (Dan 9:25a). Die gevalle engel, die vors oor die koninkryk van die Perse, wou egter hierdie gebeure teëstaan (vgl. Dan 10:13). Hierdie demoon het waarskynlik die menslike konings van die Mede en Perse teen die Israeliete aangehits. Die aartsengel Mígael, een van die vernaamste vorste in die engelewêreld, is spesifiek die groot vors wat oor die kinders van Daniël se volk —Israel — is en vir hulle optree (Dan 10:13, 21; 12:1). Mígael het die goeie engel wat Daniël wou bereik, en wat deur die gevalle vors oor Perse teëgestaan is, egter gaan help. God se goeie engele het in die engelewêreld ʼn oorwinning behaal — en dít het in die menslike geskiedenis op aarde gemanifesteer. In die menslike geskiedenis het die konings van die Mede en Persië die volk Israel toegelaat om die tempel te herbou en om Jerusalem te herstel.

In die 70ste sewe, dit is in die Verdrukkingstydperk, sal Satan en sy gevalle koninkryk die Jode vervolg en probeer om hulle uit te roei (vgl. Dan 12:1). In hierdie tyd sal die aartsengel Mígael Israel weer te hulp snel en help, ooreenkomstig God se wil (vgl. Open 12:7–17).

Die val van nasies

Satan en sy gevalle engele beïnvloed dus die menslike owerhede van nasies. Verder, dit is Satan wat nasies laat val (vgl. Jes 14:12). Soms word nasies met baie mag neergewerp en dan word hulle derde-, vierde- of vyfderangse magte. Dit gebeur as gevolg van die werk van Satan wat die koninkryke van die wêreld beheer (Fruchtenbaum 2005b:21). Die Nuwe Testament verwys na ‘wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu’ (Ef 6:12b; in Grieks:kosmokrator). Dit is gevalle engele wat as ‘kosmokrate’ probeer om die wêreld te beheer (Showers 1997:37; Unger 1994:196–198). Hierdie gevalle engele gebruik menslike diktators, valse filosofieë en valse denksisteme om beheer oor nasies te verkry en om dan Satan se agenda af te dwing (Showers 1997:37; Unger 1994:193–198). Byvoorbeeld, Hitler, ʼn man wat diep in die okkulte verstrengel geraak het, was ʼn menslike diktator wat ongetwyfeld deur Satan en sy kosmokrate gebruik is om die koninkryk van duisternis se bose agenda te bevorder. Die onsigbare worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar dit is teen Satan se gevalle koninkryk van duisternis (vgl. Ef 6:12).

Die geveg agter die skerms

Pas op dat niemand julle as ʼn buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie (Kol 2:8a). Valse ideologieë en misleidende denksisteme wil nie net mense mislei nie, maar soms val dit selfs halsoorkop nasies binne. Verskeie filosofieë wat deesdae veral gewild is, soos byvoorbeeld sekulêre humanisme, Marxistiese kommunisme en postmodernisme, is ateïstiese denksisteme wat geheel en al teen God en sy Woord is. En tog, meer en meer mense en selfs nasies buig hulle voor hierdie filosofieë neer. Kosmiese humanisme, wat panteïsties, is eweneens ver verwyderd van God en die heelal wat Hy geskep het. Die vrees van die HERE is die beginsel van kennis en van wysheid. As mense en nasies egter verder en verder wegbeweeg van God en van Christus, dan verbaas dit nie dat hierdie gevalle wêreldstelsel onder Satan meer en meer irrasioneel en absurd raak nie. Tesame met hierdie strominge word meer en meer nasies deur menslike diktators regeer, soos byvoorbeeld Sjina (1,4 biljoen mense), Rusland (145 miljoen mense), Iran (81 miljoen mense), Turkye (80 miljoen mense) en Noord-Korea (25 miljoen mense). Hierdie menslike diktators is primêre kandidate om deur Satan en sy kosmokrate — wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu — gebruik te word om die koninkryk van die duisternis se se agenda uit te voer. Hierdie agenda poog om weg te doen met nasies, sodat ʼn eenwêreldregering onder Satan se Antichris opgerig kan word. Die aanvalle op nasies as nasies sal dus toeneem en feller word.

Christene se plig en ons hoop

Niks kan ons skei van die liefde van Christus nie, nie dood of lewe of engele of owerhede of magte nie (vgl. Rom 8:35–38). Christene moet bid vir die menslike owerhede wat oor ons aangestel is (1 Tim 2:2). Gelowiges kan rus in die feit dat God die Heilige Gees boosheid teëhou (vgl. 2 Thes 2:7). Ons bid egter ook dat die koninkryk sal kom en dat God se wil sal geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde (Mat 6:10). Met sy weerkoms aarde toe sal Christus die Messiaanse koninkryk oprig met ʼn regering van reg en geregtigheid oor al die nasies. God het lankal in sy Woord hierdie dae waarin ons leef voorsien (vgl. 1 Tim 4:1–4), gelowiges kan weet dat dit toenemend donkerder in die nasies op die aarde sal word, maar ons verwag die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus (Tit 2:13).

Bronnelys

Fruchtenbaum, A.G., 2005a, ‘Demonologie: Die leer van demone’, FaithEquip. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/dissipelskapkursus/demonologie-die-leer-van-demone/

Fruchtenbaum, A.G., 2005b, ‘Satanologie: Die leer van Satan’, FaithEquip. Beskikbaar by:
https://www.faithequip.co.za/wp-content/uploads/2015/11/Satanologie-Die-leer-van-Satan.pdf

Geisler, N.L., 1999, ‘Beware of Philosophy: A Warning to Biblical Scholars’, Journal of the Evangelical Theological Society 42(1), 3–19. www.etsjets.org/files/JETS-PDFs/42/42-1/42-1-pp003-019_JETS.pdf

Showers, R.E., 1997, Those Invisible Spirits called Angels, The Friends of Israel Gospel Ministry, Bellmawr.

Unger, M.F., 1994, Biblical Demonology: A Study of Spiritual Forces at Work Today, Kregel Publications, Grand Rapids.

Wiersbe, W.W., 1979, The Strategy of Satan, Tyndale House Publishers, Carol Stream.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.